Donderdag 15 Januarie 2015

Die geheim van Lewenskrag




1 Sam 1:9-28: "Here, Almagtige, as U…aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee…" (vs. 11)

William Quarrier se vader is oorlede toe hy drie jaar oud was. Hy was net vyf jaar oud toe baie jare gelede kaalvoet, koud en honger in een van Glasgow se strate gestaan het. Hoekom gee niemand vir hom kos nie, het hy gewonder. Hy het 'n dag en half laas iets te ete gehad. Daar in die koue het hy ‘n besluit geneem: Hy sal nie soos hierdie mense optree wanneer hy die dag die vermoë het om ander te kan help nie.

Toe hy ses en 'n half jaar oud was, begin hy in 'n speldefabriek 'n twaalfuurskof werk teen 'n sjieling 'n week. Watter lewenskans het so 'n verwaarloosde, arm kind? Op 17-jarige ouderdom hoor William vir die eerste keer die Evangelie van God se liefde en Christus Jesus se verlossingswerk. Vir so 'n wonderlike boodskap het sy hart oopgegaan en William is wedergebore.

Op 18-jarige ouderdom begin hy skoenewinkel en gou had hy ‘n string skoenwinkels. Sy visie was om armoedige kindertjies te help.

In 1903 is William na die HERE toe. Hy het in sy doel geslaag. Vandag is daar die Orphan  Home of Scotland. William Quarrier het dit opgerig. Dit bestaan uit 34 huise. Altesame 1 500 arm kinders is daar gehuisves. Teen 1890 was daar ook ‘n skool, ‘n kerk (Berg Sion Kerk, waar hy en sy vrou ook begrawe is) en ‘n brandweer. Dit is dieselfde William wat op 5-jarige ouderdom kaalvoet in die straat hom verknies het oor sy lot as arm weeskind op straat. Sy bekering het so 'n groot krag in sy lewe ingebring dat hy so 'n taak kon aanpak en suksesvol uitvoer. Christene het ook skenkings begin bydra.

Die grootste lewensbelegging wat 'n mens kan maak, is om sy lewe vir die Here te gee. Die Here neem 'n waardelose swak mens en bring deur die Heilige Gees krag en rykdom in die innerlike lewe in en die persoon word 'n nuttige, diensbare mens op aarde, wat God verheerlik en sy medemens verryk.

"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het" (Efes 2:8,9).

GEBED: Here, vandag open ek my hart vir die rykdom wat U deur U Gees in 'n mens se lewe inbring sodat ook ek na ander kan uitreik.

Ouers onbevoeg om kinders geestelike te lei





·    Navorsing toon
Ouers onbevoeg om kinders geestelike te lei

In Suid-Afrika is daar huidig ‘n groot geskarrel rondom godsdiens in skole. Die volgende is ‘n verslag van die Barna Navorsingsgroep in Amerika, ‘n peiling wat ook die Suid-Afrikaanse situasie weerspieël.
          Ouers glo en aanvaar dat hulle primêr verantwoordelik is vir hulle kinders se geestelike ontwikkeling, maar min ouers spandeer tyd gedurende ‘n tipiese week in  interaksie met hulle kinders oor godsdiens.
          Dit het nodig geword dat die kerke die ouers onderrig gee oor hoe om na hulle kinders se geestelike heil om te sien.
          Nege uit elke tien ouers van kinders jonger as 13 jaar (85%) glo dat hulle primêr verantwoordelik is om hulle kinders oor godsdiens en geestelike sake te onderrig.
          Net 11% het gesê dit is die kerke se verantwoordelikheid en 1% het gesê dit is die verantwoordelikheid van die kind se skool.
          Feitlik al die ouers van kinders jonger as 13 het gesê dit is ouers se verantwoordelikheid om kinders waardes te leer.  Net 1% het gesê dit is die skool se plig en nog 1% het gesê dit is die kerk se plig.
          Nogtans spandeer die meeste ouers geen tyd hoegenaamd daaraan om hulle geestelike te onderrig nie.
          Daar is darem ‘n effense ligstraaltjie. Twee uit elke drie ouers se kinders woon elke maand kerkdienste by. Alhoewel die meeste ouers dus sê dat die geestelike onderrig van hulle kinders, die ouers se verantwoordelikheid is, is hulle heeltemal tevrede daarmee dat die kerke die kinders onderrig.                    
          Die navorsing het getoon dat alhoewel ouers graag self hulle kinders wil onderrig, die ouers nie weet hoe om dit te doen nie weens ‘n gebrek aan kennis.
          Dit het ook getoon dat die kerke feitlik geen rol daarin speel om ouers van die nodige kundigheid te voorsien om na hulle kinders se geestelike heil om te sien nie. Net een uit elke vyf ouers van kinders jonger as 13 (19%) is deur kerke gekontak om die ouers se rol in die geestelike opvoeding van hulle kinders te bespreek.
          Die navorsing het getoon dat ouers nie weet hoe om die Bybel te bestudeer nie en hoe om Bybelstrofes te memoriseer nie.
          George Barna wat die navorsing gelei het, sê dat miljoene ouers geen idee het van die geestelike nood onder hulle kinders nie.

·       Van die 51miljoen kinders onder die ouderdom van 18 jaar in Amerika, is daar meer as 40 miljoen wat nie Jesus Christus as Saligmaker ken nie. Barna sê dit bewys dat daar ‘n geestelike nood is wat nie aangespreek word nie.

Barna sê: “Hierdie is die mees betekenisvolle en vrugbaarste sendingveld binne die geledere van die nasie, nogtans doen die mense wat glo en erken dat hulle verantwoordelik is vir hierdie kinders se geestelike heil, net mooi niks daaraan nie.
“Kerke sal in toenemende maat betrokke moet raak by die onderrig van die ouers wat betref die geestelike opvoeding van hulle kinders en om hierdie aller belangrike taak met wysheid te hanteer.”
Die navorsing het ook getoon dat in sommige gevalle die ouers nie in staat is om hulle kinders geestelik te lei nie omdat die ouers met hul eie geloofsontwikkeling sukkel.
          Wanneer dit kom by die geestelike opvoeding van kinders is daar miljoene gesinne op wie die spreekwoord van toepassing is wat lui:  Jy kan nie gee wat jy nie self het nie!
          Volgens die navorsing kan ’n kerk egter nie daarin slaag om ‘n kind tot volle geestelike wasdom te lei nie. Dit is en bly die taak van die ouers, veral die moeder aan moedersknie. Hoe meer die kerk hierdie rol vervul, hoe minder sien mens geestelik gesonde gesinne en hoe minder armer word ons aan ‘n nuwe generasie van jongmense wat tot geestelike wasdom kan groei.
          Die kerke daarenteen erken dat dit nie hulle plig is om kinders tot geestelike wasdom te lei nie. Kerke het kinders maar sowat twee ure per week onder hulle vlerk terwyl die ouers die kinders die hele week onderdak het. Ouers het baie meer geleenthede om as geestelike mentors op te tree.
          Die inligting wat tydens hierdie projek ingesamel is, het nou gelei tot ‘n nuwe boek wat binnekort uitgegee sal word getiteld “Transforming Children Into Spirtual Champions.”  Dit sal dien as handboek vir ouers en kerke.
         Die navorsing kon net sowel in SA gedoen gewees het. Die situasie is presies dieselfde. Die ontsettende hoë egskeidingsyfer in SA belemmer ook die geestelike heil van ons kinders. Die kerke se taak kan nie onderskat word nie.
          Ouers mag egter wel die opvoedingstaak van hulle kinders aan ander delegeer, maar hulle mag nooit die verantwoordelikheid delegeer nie.  Die beheer oor die totale onderwys van ‘n kind, moet by die ouer berus en nie by die staat of ‘n ander liggaam nie.
          Die inhoud van alle onderrig moet in die geval van die Christen, op die Bybel gebaseer wees.  “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid…” Ps. 111:8.
          Ouers het geen verskoning in SA waarom hulle nie hulle kinders ook tot geestelike wasdom kan lei nie. Christen-boekwinkels verkoop talle handleidings.  Meeste kerke het handleidings beskikbaar.
          Die belangrikste op die oomblik is vir ouers om hulle verantwoordelikheid te besef en dit daadwerklik na te kom, hulleself geskool te kry in die Woord en na hulle kinders se geestelike heil om te sien. Hierdie is ‘n verpligting wat geen ouer mag of durf systap nie.
Komaan ouers, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat nou kreupel is (want inderdaad is ons ‘n kreupel spul) nie (boonop) uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word, aldus Hebr. 12:12-13. – Sjibbolet

Dankbaarheid teenoor Ondankbaarheid




‘n Meisie was blind weens onontwikkelde korneas in elke oog. Sy het almal gehaat oor haar blindheid. Vir haar kêrel was sy baie lief omdat hy baie vir haar omgegee het en so liefdevol was.

Eendag het sy aan haar kêrel gesê: “As ek maar die wêreld rondom my kon sien, dan sou ek met jou trou.” Sy was op ‘n waglys vir kornea-oorplantings en een dag gebeur dit toe wel dat so ‘n operasie uitgevoer kon word.

Toe die verbande ‘n paar dae later verwyder is, kon sy alles sien, ook haar kêrel. Hy vra toe: “Nou dat jy kan sien, sal jy met my trou?”

Sy het na hom gekyk en was geskok, want hy was blind. Sy wou nie die res van haar lewe in sy twee blinde oë vaskyk nie. Sy weier toe om met hom te trou. Haar kêrel het haar gelos en dae later met groot hartseer aan haar geskryf: “Jy moet jou oë mooi oppas, voordat dit jou oë geword het, was dit my oë.”

Dis hoe die menslike brein soms werk by verandering van status. Baie min mense onthou hoe die lewe voorheen was, hoe ander hulle bygestaan het deur dik en dun.

Die lewe is ‘n geskenk

Voordat jy weer iets negatiefs oor iemand sê, dink aan hulle wat nie kan praat nie.

Voordat jy oor die kos kla, dink aan hulle wat niks het om te eet nie.

Voordat jy kla oor jou maat, dink hoeveel smag na ‘n lewensmaat.
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                             
Voordat jy kla oor die lewe, dink aan hoeveel mense te vroeg die Ewigheid in is.

Voordat jy kla oor jou kinders, dink aan hoeveel moeders nie kinders kan hê nie.

Voordat jy kla oor jou vuilerige huis of motor, dink aan die duisende wat nie huise en motors het nie.

Voordat jy kla oor hoe ver jy iewers heen moet ry, dink aan die mense wat die afstand te voet moet aflê.

Voordat jy kla oor jou werk, dink aan die miljoene wat nie werk het nie.

Voordat jy jou vinger uitsteek of iemand oordeel, dink daaraan dat jyself nie volmaak is nie en dat ons almal verantwoording moet doen aan ons Skepper.

Voordat jy toegee aan depressie, dink daaraan dat God steeds vir jou God is en loof Hom.

Voordat jy toelaat dat enigiets jou ontwrig, tel net jou seëninge, en kyk wat God jou gegee het.

Ons, die Wedergeborenes, is die Nuwe Tempel



God leef nie langer in ‘n tabernakel, sinagoge of geboue wat met menslike hande gebou is nie. God se glorieryke manifesterende teenwoordigheid vind ons nie meer in tempels van graniet, goud en halfedelgesteentes nie, maar liewer in Jesus Christus.
          Die tempel van die Ou Verbond was ‘n tipe voorskou van die komende glorie van Christus. In die tempel van ouds was die Wet van Moses bewaar. Jesus is nou die vervulling daarvan. Nou hoor en sien en ontmoet ons God in Jesus Christus.
          Israel van ouds het God in die tempel aanbid waar God met Sy mense gepraat het. Ons aanbid God in Gees en in Waarheid ongeag die geografiese opset.
          “Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.” Joh 4:20-21
          Ons, die liggaam van Christus, is die nuwe Tempel. Ons aanbid God enige plek, enige tyd, alleen, in paartjies of in groepe. Die heerlikheid van God is nou permanent en kragtiglik inwonend in ons. Paulus praat met die Efesiërs oor die hoeksteen van hierdie nuwe Tempel. Hy stel dit so:
          “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Efes 2:19-22
          Dis hoe eenvoudig dit is. God woon nie meer in ‘n tempel in Jerusalem nie, ook nie net in die Hemel nie, maar in sy liggaam, ek en jy, op aarde. Die liggaam (kerk) van Christus is nie ‘n organisasie nie, maar ‘n organisme.
          Ons, ek en jy, is die lewende boustene van hierdie nuwe Tempel. “En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” 1 Pet 2:5
          Die bou van die nuwe Tempel is ‘n voortdurende proses waar “die Here  daagliks by die gemeente voeg die wat gered is.” Hand 2:47
          Jesus sê hy gaan die aardse tempel afbreek en in drie dae opbou, en die Jode reageer so: “En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.
          “En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.” Joh 2:20-22
          En toe kom Pinsterdag waar Jesus sy dissipels doop met die Heilige Gees en so Sy liggaam bekragtig om voort te gaan en die nuwe Tempel te bou.
          En ons as lewende boustene word met liefde (as bindmiddel) in die Tempel ingemessel: “Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saam verbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” Efes 4:15-16
          ‘n Tempel moet ‘n fondament hê: “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.” 1 Kor 3:11
          Christus is die fondament en ook die hoeksteen: “Terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Efes 2:20.
          Paulus beskryf die nuwe Tempel verder in 1 Kor 3:16-17 “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”
          Ons, ek en jy wat gered is, behoort geheel en al aan Christus: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Kor 6:19-20
          Waar is die Koninkryk van God? “En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” Luk 17:21.
          As kind van God verkeer ons in ‘n baie belangrike posisie: Sy Gees in ons, ons elk ‘n bousteen, deel van Sy koninkryk… dit beteken ons is prinse en prinsesse in die Koninkryk.
          Hierdie nuwe Tempel is reeds in Eseg 11:17; 20:34, 41 en Sam 7:14 voorspel. Eseg 37:26-27 lees: “En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle vir my ‘n volk wees.”
          Al die gepraat en beplanning van ‘n Derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word, het niks met die gelowiges, ek en jy, te doen nie. Ons is lewende boustene in die lewende Nuwe Tempel, Christus Jesus.
          Maar wat dan van die nuwe fisiese derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word? Die antwoord is in Matt 23-24.
          God het die aardse tempel verlaat. “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” Matt 23:38
          Toe Jesus sterf skeur die voorhangsel en die tempel was nie meer God se huis nie. “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur.” Matt 27:51
          God sou nooit weer in ‘n tempel woon wat met fisiese materiale en hande gebou is nie. Wat die aardse gebou betref was dit Ikabod, die Glorie het vertrek.
          Die tempel is vernietig, geen steen het opmekaar gebly nie. Drie dae later staan Hy op en Hy is die nuwe fondament van die nuwe Geestelike Tempel waarvan ons die geestelike boustene is.
          Natuurlik is dit moontlike dat iemand eendag ‘n nuwe aardse tempel in Jerusalem kan bou, maar dit raak nie die Wedegeborenes nie. Die enigste plek op aarde waar God nou woon is in die liggaam van Jesus Christus, ons, ek en jy.
          Die fisiese bou van ‘n tempel in Jerusalem gaan geweldige politieke en militaristiese konflik tot gevolg hê.
          Dis wat Paulus oor die betrokke tempel sê: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (die Antichris) die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
          “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou (die Heilige Gees), sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.” 2: Thes 2 3-6
          In 1980 het die Israelse regering Jerusalem tot hoofstad van Israel,verklaar. Dit het skokgolwe deur die wêreld gestuur en dertien lande het dadelik hul ambassades in Jerusalem gesluit en na Tel Aviv verskuif.
          Geen land erken Jerusalem as hoofstad van Israel nie. Die enigste wat dit wel as hoofstad erken is die gelowiges wat in dieselfde jaar ‘n internasionale Christen ambassade daar gevestig het. Die ambassade floreer.
          As dit gebou gaan word, dan sal dit vir ons as Liggaam van Christus, as Tempel van Christus, geen eskatologiese of Skriftuurlike betekenis hê nie.
          “Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
          “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” 2 Kor 6:16-18    
          Ons lewens moet deurentyd ons geheiligde en glorieryke identiteit weerspieël. – Sjibbolet

Die Krag van ‘n eenvoudige Prisonier se Getuienis



 
IN 2 Konings 5:1-27 vind ons die verhaal van Naaman. Naaman was ‘n groot en vername man. Hy was:
 
·       geëer deur sy meester,
·       geseën deur die Vader, en
·       beskou as ‘n man vol dapperheid
 
`         Een ding het egter teen hom getel. Hy was melaats en melaatsheid is:
 
·       ‘n soort sonde,
·       dit is vuil, afstootlik, grusaam,
·       dit skei mense en ly tot skeiding tussen gelowiges en die Vader, en
·       dit veroorsaak ‘n skeiding in die gemeenskap.
 
Daar is baie mense vandag wat as “goed” bestempel word, terwyl hulle eintlik nog sondaars is. Hulle is:
 
·       getroue kerkgangers,
·       betaal hul tiendes getrou,
·       doen baie vir die minderbevoorregtes,
·       hulle is goed, maar nie goed genoeg nie, en
·       hulle is vol geregtigheid, maar kort God se geregtigheid.
 
Die meisietjie wat gevange geneem was, het persoonlike berading gedoen. Sy:
 
·       kon gesê het “ek kan niks doen nie. Ek is ‘n gevangene”,
·       kon gesê het  “ek wens ek kan vir Jesus werk”,
·       kon gewonder het waarom sy nie ‘n roeping van die Vader ontvang het nie,
·       kon gesê het dat sy in verkeerde geselskap is,
·       kon gemeen het dat sy die verkeerde werk het,
·       kon gemeen het dat sy ‘n mislukking is weens haar omstandighede, en
·       nogtans het sy teenoor haar vyande getuig.
 
En dan vra mens jouself af: waar beweeg ek en wat doen ek in die omstandighede waarin ek myself bevind, want:
 
·       Is ons bereid om vir ‘n vyand te bind,
·       vir ‘n vyand die hande op te lê,
·       gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag om die Evangelie uit te dra,
·       te getuig in die omstandighede waarin ons, ons daagliks bevind, en
·       te getuig ten spyte van kerkverband en kultuurgrense?
 
Die meisietjie het haar taak getrou volvoer, Sy het:
 
·       veroorsaak dat ‘n hoofstuk in ‘n Bybelboek geskryf is,
·       sy het geweier om ontmoedig te word deur haar omstandighede,
·       sy het haar plig gedoen, alhoewel niemand toegekyk het nie,
·       sy het geweier om haarself te bejammer,
·       sy het geglo haar getuienis of taak sou beloon word,
·       sy het nie besef haar getuienis sou die ore van ‘n koning bereik nie,
·       sy het bewys dat ‘n mens se getuienis resultate oplewer, en
·       sy het geglo en ook gesien dat die Vader se Woord nie leeg terugkeer nie.
 
Naaman was die enigste melaatse wat in die land genees is:
 
·       maar, dit was nie die Vader se skuld dat ander nie ook vertel was nie,
·       die Vader se Wil was en is vandag nog, dat elke gelowige die meisietjie se voorbeeld sal navolg,
·       ander het dus nie hul lig laat skyn nie,
·       sommige het toegelaat dat omstandighede hul geestelike lewe oorheers,
·       baie meer mense kon genees gewees het, as meer gelowiges getuig het oor die Vader se wonderwerkende krag, en
·       vir sommiges was gesê dat siekte seëninge is.
 
Ongeestelike metodes is gebruik om genesing te bewerkstellig. Die koning van Sirië:
 
·       het ‘n amptelike brief aan die koning van Israel gestuur,
·       hy wou God aan tradisie vasbind,
·       hy het geld gestuur om Naaman se genesing te koop,
·       hy het boonop die verkeerde man gestuur,
·       hy het nie geweet dat die Geestelike dinge deur die Gees bewerkstellig word nie,
·       Sy hart was nie reg teenoor God nie (Handelinge 8:21), en
·       hy was in ‘n dal van bitterheid en in die bande van ongeregtigheid (Handelinge 8:23).
 
Naaman wou met alle mag sy genesing bekom:
 
·       hy het gedink Elisa sal sy hande op sy kop lê en hom genees,
·       hy het gedink hy kon vir sy genesing betaal,
·       hy wou sy genesing deur geregtigheid verdien, en
·       hy het gemeen sy naam en stand in die lewe verdien ‘n spesiale diens.
 
Naaman was baie teleurgesteld en word toe krities. Hy:
 
·       openbaar  ‘n kritiese gees,
·       dat hy nie die aangename man is wat so baie mense gedink het hy is nie,
·       hy het gemeen dat hy mishandel was, dat daar teen hom gediskrimineer is,
·       hy het heelwaarskynlik ook gemeen Elisa se optrede het hom van kosbare werkstyd beroof, en
·       Naaman was gewoond daaraan om voorkeur te geniet want sy tyd was kosbaar.
 
Naaman sou heelwaarskynlik voor sy tyd gesterf het, as hy nie betyds geleer het:
 
·       dat God nie altyd op die grondslag van tradisie werk nie,
·       dat God bereid was om Hom op ‘n besondere manier te genees, en
·       dat hy eers sy hart met God moes regkry.
 
Naaman het eers sy genesing gekry:
 
·       toe hy besef dit baat nie om op sy eie werke en geregtigheid te steun nie,
·       toe hy besef dat hy op God moet vertrou en nie op sy eie goeie naam nie,
·       toe hy besef dat dit God se krag was wat die werk moes doen en dat hy niks in eie krag kan vermag nie,
·       toe hy besef dat God hom nie om sy goeie werke, reputasie, goeie naam of roem nie, en
·       toe hy besef dat kinderlike geloof hom sou deurdra.
 
Wanneer ons kyk na die maniere waarop mense in Bybelse tye genees is, dan vind ons:
 
·       dat 90% sonder handoplegging genees is,
·       dat 95% sonder aanwending van olie genees is,
·       dat hulle sonder lang gebede genees is, en in die meeste gevalle onmiddellik,
·       dat tradisie en rituele vebreek is,
·       dat genesing gekom het op maniere wat die mense dit hoegenaamd nie verwag het nie, en
·       die Gees van God was nooit deur ‘n besondere metode of patroon gebind nie.
 
Soms moet meer as een gawe in werking tree om genesing te bewerkstellig:
 
·       ‘n bediener van die Woord het soms die gawe van wysheid nodig om die gawe van kennis te kan toepas,
·       die gawe van geloof moet eers in werking wees voordat die gawe van gesondmaking in werking kan tree,
·       Petrus had die gawe van onderskeiding in die geval van die towenaar Simon, wat genesing verlang het,
·       in Naaman se geval het Elisha die woord of gawe van onderskeiding en wysheid openbaar, en
·       Naaman kon ook net genees word as hy gehoorsaam was.
 
Elisha was gehoorsaam aan die Stem van God. Hy het geweet:
 
·       Dat as Naaman ses keer in die rivier sou doop, hy nie sou genees nie. Dit moes sewe keer gedoen word,
·       Dat as Naaman sewe keer in ‘n ander rivier homself gaan doop het, hy ook nie sou genees nie,
·       God se Wil is nie die van die mens nie. Die mens wik, maar inderdaad, God beskik,
·       volle gehoorsaamheid was al wat Naaman kon genees, en
·       Naaman se trots moes eers in nederigheid omskep word voordat hy genees kon word.
 
God kyk in die mens se hart. God het geweet:
 
·       Dat hy wat God is, nie die eer sou kry as Elisha sy hande op Naaman gelê het nie,
·       Baie mense sal sou ewe maklik na ‘n toordokter as na ‘n bedienaar van die Woord gaan,
·       Naaman moes op die genade van God, en nie die genade van die mens vertrou nie,
·       God sal nooit die eer wat Hom toekom met ‘n ander deel nie,
·       Naaman wou genees word soos dit met ander mense gebeur, en
·       dit kos meestal meer as net die vra om gebedsgenesing om genesing te verkry, en
·       God is alwys.
 
Mense wat Naaman se optrede openbaar, beweeg op die vleeslike in plaas van die geestelike vlak:
 
·       met die verstand probeer hulle Goddelike genesing en God se wonderwerkende krag uitwerk,
·       hulle sou redeneer dat as water kan red en genees, dan kan ek dit in my eie kerk laat doen,
·       hulle wil hulself leer hoe om die dinge van God te gebruik,
·       hulle wil hul eie kerk se norme en rituele handhaaf, eerder as die van die Vader,
·       hulle beweer hulle moet in olie, handoplegging, ens. Glo,
·       hulle moet agter genesingsdienste of ‘n genesingsdoekie aangaan, en
·       hulle meen hulle moet hul eie pad  deurwerk op en eie meriete staatmaak.
 
Hoe sal ons dan weet wat die Vader se wil vir ons is?
Wel, dis eintlik maklik. Vertrou op die Vader vir die antwoord en kort voor lank sal mens weet dat jy weet!
Soos ‘n skip wat ‘n hawe in ‘n donker nag moet binnevaar, so sal al die liggies aankom en mens sal weet dat jy weet dat jy in Sy wil is.
Ons eie denke moet ons uit die pad uitkry, ons sake met die Vader en met ons naaste in orde kry en die Vader vertrou. Hy is en bly ‘n waarmaker van Sy Woord.
 
Naaman het sy volmaakte genesing ontvang toe hy ontdek dat:
 
·       hy eers soos ‘n kind moet word,
·       dat hy gehoorsaam moet wees en wel in die betrokke rivier nie meer en nie minder nie as sewe keer homself moes doop,
·       toe hy insien dat hy nie genesing kon koop nie, hy kon dit nie verdien nie, nie daarvoor werk nie, hy kon dit ook nie op meriete bekom nie,
·       toe hy insien dat hy hulpeloos voor God staan,
·       toe hy soos ‘n kind die eenvoudige dinge begin glo en aanvaar,
·       toe hy insien dat God  sy medewerkers gebruik om aan ander opdragte te gee, en
·       dat mens nie God se weë met die verstand beredeneer nie.
 
Mense wat genesing vir hul gees en liggaam verlang, moet besef dat:
 
·       God is almagtig en baie groter as ‘n genesingsdiens,
·       God se hande baie verder ryk as die van ‘n prediker,
·       God kan duisend mense net so maklik soos een mens genees, en
·       Mense moenie wag om elkeen afsonderlik voor gebid te word nie. – Sjibbolet

‘n Tydige Boodskap



 
Ps 62:1-13: "Dit is net van God wat ek werklik rus verwag, dit is net Hy wat my red. Hy beskerm my en red my en bewaar my veilig sodat ek nie sal val nie, al struikel ek ook" (vs. 6-7).
 
In sy boek 'Hou Op Kwel en Begin Lewe'  laat die bekende skrywer, Dale Carnegie,'n vrou haar aangrypende verhaal vertel: "Gedurende die depressie, was my man se inkomste $18 per week. Ons het ons huis kwyt geraak en ons het die kruidenier geld geskuld. Ons het vyf kinders gehad. Ek het vir die bure gewas en gestryk en tweedehandse klere by die Heilsleër gekoop, wat ek vir my kinders reggemaak het. Een dag het die kruidenier, aan wie ons geld geskuld het, my elfjarige seuntjie van diefstal van 'n paar potlode beskuldig. My seuntjie het dit snikkende vir my kom vertel. Ek het geweet hy was onskuldig, maar hy is voor 'n klomp mense tot dief en leuenaar gemaak. Dit het my geknak. Verneder in my ellende en siek van kwelling, met geen hoop wat ek in die toekoms kon sien nie, het ek my vyfjarige dogtertjie na die slaapkamer toe geneem. Ek het al die openinge by die vensters en deur toegestop.
 
Daarna het ek die gasverwarmer oopgedraai, maar nie aangesteek nie. Ek het my dogtertjie geneem en met haar op die bed gaan lê. 'Kom ons twee slaap 'n bietjie voor die ander van die skool af kom,' het ek haar gerusgestel. Ek het my oë toegemaak en geluister hoe die gas uit die verwarmer blaas. Ek sal in my lewe nooit die reuk van daardie gas vergeet nie!
 
Skielik hoor ek musiek. Ek luister. Ek het vergeet om die radio in die voorkamer af te skakel. 'Laat hom maar speel,' dink ek. 'Dit maak tog nie nou meer saak nie'. Die musiek duur voort en teen my sin luister ek. Iemand begin sing: 'Wat 'n Vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan; Wat 'n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan! Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart, Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!'
 
Terwyl ek na die lied luister, besef ek watter tragiese fout ek begaan. Ek probeer my vreeslike stryd alleen stry. Ek moet al my node in Gods Vaderhart uitstort. Ek het opgespring, die gas toegedraai, die deur oopgemaak en die vensters oop geskuif. Die res van die dag het ek gehuil en gebid – nie vir hulp nie, maar om my hart in danksegging uit te stort. Ek het al God se seëninge in my lewe gesien! Ek het vyf lieflike, gesonde kinders. Ek het 'n man wat my en die kinders lief het. Ek is gesond. En ek het Hom geloof dat Hy my so wonderlik in my waansinnige daad gestuit het!
 
Ons het na 'n klein, ou skoolgeboutjie verhuis, wat ons teen $5 per maand kon huur. Ek het God eerlik gedank dat ons droog en warm kon slaap, 'n dak oor ons kop gehad het, elke dag kon eet. Toe begin dinge verbeter. My man het 'n beter werk gekry. Ek het 'n vaste werk gekry. My oudste seun het op 'n plaas werk gekry – hy moes wel soggens en saans 13 koeie met die hand melk! - maar hy het 'n inkomste gehad.
 
Vandag is my kinders groot en getroud. Almal het goeie werk. Ek het drie lieflike kleinkinders. As ek terugdink aan daardie verskriklike dag toe ek die gas oopgedraai het, dank ek God oor en oor dat Hy my betyds gekeer het. Wat sou ek gemis het, watter wonderlike jare sou ek verbeur het!"
 
Volg die lied se raad: Stort jou nood uit in God se vaderhart. Rus in Sy arms. "Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou" (Deut.33:27). Ons hét 'n Vriend in Jesus en deur Hom het ons 'n Almagtige Vader. "Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie" (Ps.56:4).
 
GEBED: Here, vandag stort ek my nood in u Vaderhart uit. – Manie Colyn

Hou die vuur brandend...




2 Tim. 1:3-11: "...(onthou) dat jy die genadegawe wat God jou gegee het...soos 'n vuur weer moet aanblaas" (vs. 6).

Genl. William Booth, stigter en leier van die Heilsleër (beter bekend as die Salvation Army), het vir sy offisiere en manskappe gesê: "Jongmanne, pas die vuur in julle harte op, want dit is geneig om dood te gaan." Toe maak hy 'n paar vergelykings, dat hulle met die geestelike vuur in hulle harte net so moet werk as wat 'n mens 'n vuur op die vuurherd brandend sal hou.

Eerstens moet vuur genoeg lug kry, die vensters moet oop wees, sodat daar 'n trek kan wees. Windstilte laat vuur smoor en doodgaan. "'n Hemelse lug, die werking van die Heilige Gees, moet gedurig deur die venster van gebed invloei." Jesus het die werk van die Heilige Gees vergelyk met die wind wat waai: "Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaankom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met...die Gees..." (Joh.3:8).

In Handelinge word die werk van die Heilige Gees met wind en vuur vergelyk: "Skielik was daar 'n geluid uit die Hemel soos van 'n geweldige stormwind... Hulle het iets soos vuur gesien wat... op elkeen van hulle gekom het." (Hand.2:2,3). Ons weet wind wakker vuur aan, maar die wind kan net deur oop vensters in die huis inkom. Gebed is die vensters vir die inkom van die werk van die Gees in ons harte.

Tweedens moet die ou as gereeld verwyder word, anders smoor die vuur. "Deur selfondersoek en belydenis van sondeskuld moet die vuurherd van die hart skoon gehou word anders sal die vuur doodsmoor." "... as ons, ons sondes bely – Hy is getrou...Hy vergewe ons, ons sondes en (boonop) reinig Hy ons van alle ongeregtigheid" (1 Joh.1:9).

Derdens moet daar gereeld nuwe brandhout op 'n vuur gesit word. "Deur die Woord van God te lees en te oordink word die geestelike vuur in ons harte gevoed en brandend gehou."

GEBED: Here, vandag sorg ek vir U vuur in my lewe...

Saterdag 10 Januarie 2015

Die liefde van ‘n Vader....


 



Fil 4:2–9: "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed...aan God bekend. En die vrede van God sal oor julle...wag hou" (vs. 6,7).

In die Reader's Digest van Julie 1990 word Lewis Grizzard se verhaal in King Features oor 'n dogter se ontdekking van haar pa se liefde aangehaal. Hy begin sy storie so: "I remember the conversation at a party some time ago. 'Tell them about your dad and the muffins,' a friend asked. 'It still makes me cry,' she began." En dit is hoe sy die storie toe vertel het.

Lewis Grizzard. Hy is tydens sy vierde hartoperasie op 46-jarige ouderdom oorlede.

Elke oggend as sy werk toe ry, ry sy by haar pa se huis verby. En elke oggend hou sy eers by hom stil om saam met hom koffie te drink. Elke oggend hou hy vir haar vars gebakte roosterkoekies gereed, sodat sy dogter – of dogtertjie in sy gedagtes – nie met 'n leë maag by haar werk moet aankom nie. Een koue, reënerige oggend verslaap sy haar. Toe sy opspring weet sy sy gaan nie vanoggend tyd hê om by hom stil te hou om koffie te drink en muffins te eet nie.

Sy bel hom en verduidelik. "Jy kom nie vanoggend nie?" vra hy en sy hoor die teleurstelling in sy stem. Sy verduidelik weer hoe sy met haar tyd 'n probleem het. "Maar môre is ek weer daar," beloof sy hartlik. Sy klim in haar motor en ry deur die vallende reën werk toe ry. Toe sy die hoek by haar pa se huis omgaan, staan hy langs die straat. In die koue en in die reën wag hy vir haar. In sy hand hou hy 'n plastieksakkie vas. "He was waiting for me so I would still have my muffins..."

God is nie net ons Skepper nie. Hy is ons Vader. Deur die Here Jesus Christus het ons God se ware kinders geword. Soos ons, ons kinders lief het – nee, dieper, voller, het God ons lief. Van Jesus skryf Johannes in sy eerste hoofstuk: "Hy was in die wêreld... en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense (die Jode) Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God genoem te word... God is hulle Vader" (Joh.1:9-13). En dan sê Jesus: "As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra?" (11).

GEBED: Vader, in Jesus se naam, dankie, U is altyd met my. Ek ontvang alles wat ek nodig het.

Geloof, Waarheid en Gees...




Die God wat ons aanbid is die God van die Ou en die Nuwe Testamente. Hy is ook die God van hierdie dag waarin ons leef en Hy het nog nooit verander nie.

Een van die grootste matematiese wonderwerke in die geskiedenis van die wêreld, gaan oor Moses en die Israeliete in die woestyn. Hulle had geen gebrek hoegenaamd nie. Hulle was meer as drie miljoen mense in getal. Hulle sou baie kos en water benodig.

Volgens ‘n Kwartiermeester-generaal van die Amerikaanse Leër sou Moses daagliks 1 500 ton kos vir sy mense benodig. Om soveel kos te kon voorsien sou mens elke dag twee vragtreine wat elk 1.6km lank is, moes gebruik.

Hulle was in die woestyn, daarom sou hulle ook daagliks brandhout nodig hê om die kos gaar te maak. Nog vragtreine wat elk 8km lank moes wees, sou gebruik moes word om daagliks vier duisend ton hout aan te ry.... en dit vir 40 jaar lank.

Hulle sou ook daagliks 20 000 000 liter water benodig. ‘n Trein met tenkwaens 18.8km lank sou daagliks water moes aanry.

Boonop moes hulle in net een nag deur die Rooi See beweeg. As hulle twee-twee in ‘n lang tou sou beweeg het, sou die tou 1 280km lank gewees het en sou dit hulle sowat 35 dae geneem het om daar deur te beweeg. Toe hulle daardie nag deur die Rooi See beweeg het was hulle is rye van 5 000 langs mekaar, 4.8km wyd. Dis hoe wyd die see moes oopgaan.

God het nog ‘n logistieke probleem opgelos: Elke nag wanneer hulle gekamp het sou hulle 1 200 vierkante km benodig, die grootte van Kaapstad.... 40km wyd en 48km lank.

Moses het beslis nie al hierdie sommer gemaak voordat hulle die woestyn aangedurf het nie. Hulle had ook materiaal nodig om sandale en skoene te maak en ons lees nie dat hulle sulke materiaal gehad het nie. Die sandale en skoene wat hulle in die woestyn mee ingegaan het, moes dus saam met hulle voete “gegroei” het.

Moses het in God geglo en geweet God sou van al hierdie dinge beheer neem.

En dis al wat dit van ons vra: Geloof!

Kom ons skep moed want dis dieselfde God. As ons dink ons probleme is groot, dink dan aan wat God kan doen.

Die pad vorentoe is een van Geloof, Waarheid en Gees!

Hou aan saai, die vrug sal dra




Matt. 13:3–8 en 18-23: "Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die Woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes..." (vs. 23)

Peter J Pell was lid van die bekende Pell familie wat Gospel Folio Press begin het. Peter vertel van ‘n man wat 40 lank die uitbreiding van die Here se Koninkryk behartig het. Hy het  op 'n straathoek gestaan en allerlei Evangeliese leesstof uitgedeel. Peter vertel dat hoe ouer die man geword het, het die straathoekwerk vir hom moeilik geraak en hy het buitendien geen vrug op sy saaiwerk gesien nie. Hy het opgehou.

'n Paar jaar later loop hy een Saterdagaand by daardie straathoek verby en 'n jongman gee vir hom 'n Evangeliese traktaatjie. Hy vra die jongman: "Hoekom is jy vanaand hier en doen jy hierdie werk?"

Die jongman antwoord: "Meneer, sien, hier het gereeld 'n ouerige man Saterdagaande op hierdie straathoek gestaan en traktaatjies uitdeel. Ek het een aand een geneem en dit het my na die Here toe gelei en ek is Wedergebore. Dit is nou al 'n ruk lank dat die ouman nie meer hier is nie. Ek dink hy is seker Hemel toe. Ek het toe in my hart gevoel en wil ook vir die Here werk en ek kom neem nou maar sy plek in."

Die ouman se oë vul met trane en hy gryp die jongman se hand. "Dit is ek wat die traktaatjie vir jou gegee het. En met God se genade gaan ek weer met my werk om traktaatjies uit te deel, begin en aanhou totdat die Here Jesus weer kom."

Dit is Gelowiges se roeping om die Woord te saai. In sommige harte gee God deur sy genade die wasdom en iemand word vir Christus gewen. "Julle is immers Wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige Woord van God... en hierdie Woord is die evangelie wat aan julle verkondig is" (1 Pet. 1:23). Dit is baie ongelukkig as 'n kind van die Here dwarsdeur die lewe gaan sonder om ooit iets te doen om 'n ander vir Christus te wen nie.

MOET EK GAAN MET LEë HANDE,
MOET EK SO MY HEER ONTMOET ?
NIE EEN DAG AAN HOM GEWY NIE,
NIKS TE OFFER AAN SY VOET ?

KOOR:
MOET EK GAAN MET LEë HANDE,
MOET EK SO MY HEER ONTMOET ?
NIE EEN SIEL GELEI NA JESUS,
NIKS TE OFFER AAN SY VOET ?

GEBED: Here, van vandag af soek ek geleentheid om U aan iemand bekend te maak.

Uit die mond van ‘n kind...




Joh 6:1-15: "Hier is 'n seuntjie met vyf garsbode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense … " (vs. 8,10). Het jy al daaraan gedink, dat as die dissipels nie die eerste paar treë geneem het en in die geloof begin uitdeel het nie, het die wonderwerk straks nie plaasgevind nie.
 
Die uitgesproke ongelowige William Hone, skrywer, het op 'n dag 'n seuntjie met groot aandag sy Bybel sien lees. "Hoekom mors jy jou tyd met daardie nuttelose boek?" vra Hone. Die kind het kinderlik, beleefd geantwoord: "Dit is al wat my siek moeder kan troos, Meneer. Ek soek 'n deel wat ek vanaand vir haar kan lees as sy nie kan slaap nie." Diep geraak het William Hone besluit om self die Bybel te lees. Dit het tot sy Wedergeboorte gelei. Voor in sy Bybel het hy geskryf:

The proudest heart that ever beat,
hath been subdued in me;
The wildest will that ever rose,
To scorn thy cause or aid thy foes,
Is quelled, my God, by Thee.

Watter krag het 'n kind teenoor 'n wêreldwyse en geleerde man? Dit is nie 'n mens se eie krag of invloed wat 'n ander mens tot bekering kan bring nie. Dan sou net buitengewone mense vir die Here bruikbaar wees. Dit is Christus se eie krag wat deur sy Heilige Gees, deur die persoon wat Hy as sy instrument gebruik, werk om iemand se hart te bereik.

"Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid of welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees" (1Kor.2:3,4)

GEBED: Here, vandag is ek nie slim of sterk nie, maar ek wil vir U bruikbaar wees sodat U, met U krag deur my, kan werk om iemand te bereik.

God ken ons vir seker...


 


Ps 139:1-6: "U ken my gedagtes...U is met al my paaie goed bekend...Daar is nog nie 'n woord op my tong nie, of U, Here, weet wat dit gaan wees" (vs. 2,3,4).

“Treffend en vermanend,” was dr. Benjamin Jowette, sendeling en Hervormer, se antwoord toe 'n vrou vir hom vra: “Dr. Jowette, wat dink ú van God?” “Dít, liewe dame, dink ek is 'n onbelangrike vraag” het hy geantwoord. “Al wat tel, dink ék, is: Wát dink God van my?”

Dr. Jowette was gedeeltelik reg. Dit maak saak wat ons van God dink, want die mate van ontsag wat ons vir God het, bepaal hoe belangrik ons lewensgedrag vir ons is, omdat God dit sien en ons Hom wil tevrede stel. Wíl ons God behaag? Máák dit vir ons saak wat God van ons dink? As ons min ontsag vir God het, traak dit ons nie eintlik hoe ons voor Hom lewe nie.

Van 'n paar mense in die Bybel lees ons wat God se opinie oor hulle was. Vir die rykman, in Jesus se gelykenis van Lasarus en die Rykman, het God gesê: "Jou dwaas" (Luk. 12:20). Oor Dawid het God gesê: "'n Man na my hart" (Hand. 13:22). Vir Simon van Samaria het Petrus gesê: "Jou hart is nie reg voor God nie" (Hand. 8:22). Oor God se beoordeling van Jesus, skryf Petrus vir ons van sy ervaring op die berg van verheerliking: "...met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: 'Dit is my Seun oor wie Ek My verheug.'" (2 Pet. 1:17). Dit is hierdie behae wat God in Christus gehad het, wat in ons guns tel, want as ons in Jesus as Verlosser vertrou, word Sy verdienste op ons rekening geplaas.

GEBED: Here, vandag wil ek U plesier met my lewe.

Maar ons het ‘n gebedsrol om te vervul




Die HERE kan ‘n koning se gedagtes verander soos water in ‘n leivoor


Nie deur krag of geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare in Sag. 4:6.
          Die God van die Bybel, is presies dieselfde God wat ons vandag aanbid. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Omdat Hy Almagtig is, kan Hy die geskiedenis verander, Hy kan die lewe van enige volk op aarde omskep, ja, Hy kan selfs oorloë laat ophou – in antwoord op gebed!
          Die Here is in beheer van die koning. In Spreuke 21:1 lees ons: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome;  Hy lei dit waarheen Hy wil.”
          Die nuwe vertaling lees: “Die Here kan ‘n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” (Plaas- en dorpskinders sal weet wat ‘n leivoor en leibeurte is en hoe mens dit beheer.)
          Israel pleeg ‘n gruwelike sonde. Die HERE sê aan Moses: “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Maar Moses besluit om 40 dae lank op die berg te gaan bid.
          Dis nie lank nie. Selfs in ons dag bid mense so lank en selfs langer.
          Moses was bang vir die toorn en die grimmigheid van die HERE (Deut. 9:19), maar hy het God nie met rus gelaat nie.
          Dit is wat ons ‘n (magtige) gebedstryd noem, wanneer iemand bid asof sy lewe daarvan afhang.
          Moses het nie nodig gehad om so vir sy volk in te tree nie. Sy saak met God was skoon. Hy het boonop God se belofte gehad: “Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak!”
          Hy is egter deeglik daarvan bewus wat die uiteinde gaan wees as God sy toorn teen die volk sou verhef. Hy tree vir sy volk in die bres, 40 dae lank. Hoeveel van ons bid ‘n uur lank?  En ons kan nie verstaan hoekom niks gebeur nie.
          Aan die Kruis op Golgotha bid Jesus dat Sy moordenaars vergewe moet word.  Op die berg bid Moses: “Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde sou vergewe. En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!” Ex. 32:31,32.
          Moses het oorwin en so is die lot van ‘n volk bepaal. Is jy op oorwinningsgrond? Ons gebede is soveel werd as wat ons werd is. Die maat waarmee ons meet, sal ons mee gemeet word.
          Daar is Dawid se groot gebed toe Absalom in opstand gekom het en die koning in skaamte moes vlug. Dawid se saak het hopeloos gelyk. Daar sit die indringer in die hoofstad Jerusalem op Dawid se troon.
          Psalms sê Dawid was ‘n man van gebed. In Ps. 3 bid hy: “O HERE, hoe het my teenstanders vermenigvuldig! Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie…  Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef.
          “Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my vanaf Sy heilige berg. Ek het gaan lê en aan die slaap geraak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my. Ek sal nie vrees vir tienduisende mense wat rondom teen my gereed staan nie…  Die heil behoort aan die HERE; laat U seën wees oor u volk! Sela.”
          Die oorwinning wat later op die slagveld behaal is, Absalom se tragiese einde en die herbevestiging van Dawid as koning, was reeds in die onsigbare area van gebed besleg.
          Christene sit soms maande by beraders in die hoop om gehelp te word met probleme wat oor hulle pad gekom het. Hulle het nog nie die geheim geleer dat selfs die lot van konings en volkere bepaal kan word deur die knie wat in die teenwoordigheid van God buig nie, tesame met die stem van belydenis en smeking wat die Troon van Genade bereik nie.
          Daniël se gebede het die groot Babiloniese en ook die Medo-Persiese ryke geskud. Hy het nie die koning se bevel gevrees nie en het geweier om die beeld te aanbid.  Daniël kon dit doen,  want hy het met ‘n skoon gewete voor God kon staan.  Dit is ook hoe hy geweet het dat God hom sou red.
          Dit baat nie ons wil ook 40 dae lank bid maar ons saak met God is nie reg nie.  God laat Hom nie bespot nie.
          Daniël se saak met God was reg en daarom kon hy die goddelose politieke kwaaddoeners wat sy ondergang gesoek het, trotseer.
          “En toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal per dag op sy knieë geval en gebid, en lofprysinge teenoor God gespreek.”
          So beland Daniël in die leeukuil. Sy oorwinning in die leeukuil was nie  toe hy heelhuids daar uitklim nie, maar juis toe hy daar ingegaan het. Hy het die leeukuil in oorwinning betree. Hy had ‘n vaste vertroue in sy God.
          Duisende het in afwagting gesit om te sien hoe die leeus Daniël verskeur. En toe gebeur daar niks. ‘n Engel het die leeus se bekke toegestop.
          “Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees!
“Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en Sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en Sy heerskappy duur tot die einde toe.
“Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die Hemel en op die aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.”
Paulus se middernagtelike gebed in die gevangenis van Filippi was een van die beslissingsoomblikke in die verloop van die mensdom. God sou hom daar uit laat stap om die boodskap van die Kruis in die ganse Europa verkondig, sou hy in ‘n gesig die man van Macedonië hoor sê: “Kom oor en help ons!’
“En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing.” Dan skud die fondamente van die gevangenis en die tronkbewaarder roep uit: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Nie ver daarvandaan nie was ‘n getroue groep gelowiges ook in gebed.
Daar is ‘n uitnodiging ook vandag aan die mensdom: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy moet My eer!”
Al verkeer jy nie benoudheid nie is daar ander wat wel in benoudheid is en dit is jou plig, jou roeping om in gebed en moontlik ook fisies, vir hulle in te tree.
In die Tuin van Getsemané vind ons Jesus Christus in gebed en word die ewige lotsbestemming van die ganse mensdom besleg. Die Verlosser had die sleutel in Sy hand.
Hy moes gekruisig word, Sy bloed moes vloei, ‘n lam ter slagting gelei. Nie langer hoef die mens ‘n bokkie te neem, sy sondes daarop af te bid en die bokkie te offer nie. Nee, die Lam van God is vir almal se sondes geslag, ‘n volmaakte werk.
Sy Getsemané-gebed was nie oor vrees vir die dood nie, maar dat Hy wat sonder sonde was, die wêreld se sondes op Hom moes neem. Die Seun van die Mens triomfeer egter ook oor dit.
Die mensdom met sy pyn en skande en dood, sal verlossing vind.
Waar is daar ‘n meer kritieke uur in die lewe van die Kerk as toe Graaf von Zinzendorf in 1714 in Herrnhut, Duitsland die naam van die HERE begin aanroep het.
Hy was diep neergeboë in ‘n siele-angs omdat hy gesien het wat aangaan onder Protestantse gelowiges van die verskillende evangeliese bewegings. Dit was ‘n tydperk van vurige vervolging.
Luther het sy taak voltooi. Calvyn het op ‘n magtige wyse gewerk. Huss was ‘n gewyde nagedagtenis. Zwingli het sy volgelinge gelei, maar daar was verwarring en steeds het die bloed van die Christen-martelare gevloei.
Sedert sy jeug was Graaf von Zinzendorf ‘n ywerige Christen asook ‘n man van aksie. Hy het sy deure van sy reuse landgoed vir die vervolgde Protestante van Europa oopgestel, sodat hulle iewers skuilplek teen die genadelose storm kon vind.
Toe het Von Zinzendorf se barenswee begin. Hy het gehoop op liefde en begrip: wat hy gehoor het was die stem van geskille – en ons hoor dit vandag weer.
Die geskille was oor tientalle sake, alles van minder belang. Von Zinzendorf het verlang om God se kinders verenig te sien, maar eindelose teologiese twispunte het die uitdra van die Evangelie verteer.
Von Zinzendorf het dae en nagte in gebed deurgebring. Ander sluit later by hom aan. Op 14 Augustus 1714 het die antwoord gekom. Von Zinzendorf het ‘n Nagmaalsdiens gehou waarheen almal genooi was.
Die heerlikheid was meer as wat vlees en bloed kon hanteer. Gelowiges het in die HERE se teenwoordigheid neergeval. Die Kruis met sy diepste betekenis is onthul. ‘n Goddelike metamorfose vind onder die aanwesiges plaas. Christus word vir almal alles.
Die Morawiese beweging kom op dreef. Hulle het ‘n 24-uurse gebeds-siklus gevorm en groepe het dag en nag tien jaar lank gebid. Ja, jy lees reg: Tien jaar lank dag en nag.
Die gevolg daarvan was dat oor ‘n tydperk van 25 jaar 100 sendelinge na alle dele van die aardbol uitgereik. Die Morawiërs het ‘n wêreldwye beweging op tou gesit wat uiteindelik Protestantisme van polemiek tot sending laat swaai het.
John Wesley, ‘n spruit van die Morawiërs, het na sy grootse ondervinding in Aldersgate na Herrnhut gegaan om die wonderwerk self te aanskou.
Hy skryf aan die gelowiges tuis: “Ek het ‘n kerk gevind waar mens die atmosfeer van die Hemel self inasem.”
Dit is wat Suid-Afrika nodig het: ‘n Goddelike ingryping! Wat baat dit ons om te verklaar dat ons Christene is en niemand sien God in aksie in ons lewens en in ons land nie.
Reg oor SA skakel Christene by gebedsgroepe in. Ons glo daar is ‘n Goddelike ingryping in wording, ‘n kragtige geestelike herlewing is aan die kom, nie net in SA nie, maar reg oor die wêreld.
Nie deur krag of geweld nie, maar deur Sy Gees. – Sjibbolet

Die saak van die Koning




"Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.

"Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.

"U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak." Dan 2:20-13 

"U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die Hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die Hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het –  ú is die hoof van goud." Dan 2:37-38 

Nebukadnésar kon die Tempel beroof en die plek van die Allerheiligste verontreinig. Hy kon selfs van God steel. God het hom aangestel. God stel konings aan en Hy verwyder hulle. God het Nebukadnésar vir Sy doeleindes aangestel. Nebukadnésar sou koning bly vir solank God hom as koning daar wou hê.