Donderdag 19 Oktober 2017

Die Arend se arende


Image result for arend


Die Arend se arende

Aquila non captat muscas – 'n Arend vang nie vlieë nie


Daar is meer as 25 verwysings na arend in die Bybel.  Talle van die Bybelskrywers was gefassineer deur arende. Onder inspirasie van die Gees van God het hulle aspekte uit die lewe van die arend geneem en vir ons geestelike beginsels daarmee geleer. 
Soms word God met 'n arend vergelyk: Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die HERE, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ander god by hom nie (Deut. 32:11-12)  Dawid skryf in Psalm 103:5: (Die HERE) … wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk, of, soos dit in die Afrikaanse vertaling van 1933-53 staan: wat my jeug weer nut maak soos dié van 'n arend.
            Daar is verskillende aspekte uit die lewe van die arend wat ons op die Christen se lewe kan toepas.
Een basiese fout wat mense deur die geskiedenis gemaak het, is om te probeer om aan elke stukke detail in 'n gelykenis 'n bepaalde geestelike toepassing te gee.  Jesus self het dit nooit gedoen nie. 
Christene is nie arende nie, maar daar is verskillende dinge uit die lewe van die arend wat ons kan leer oor die geestelike lewe en die stryd van elke dag.   Die Woord self focus op 'n aantal aspekte en eienskappe van die arend om ons sekere geestelike beginsels te leer.
            Daar is krag by God. God word nie moeg nie. Om op die HERE te wag gee nuwe energie, nuwe krag. God laat nooit die werk van sy hande vaar nie – en jy is die werk van sy hande. Die profeet Jesaja skryf:
            Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: "Die HERE sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby"? 
Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?  Die HERE is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie. Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.Hy gee die vermoeides krag.
Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die HERE vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (Jes. 40: 27-31).
Wanneer daar in vers 31 staan "nuwe krag", beteken dit letterlik nuwe energie? Die nuwe krag kom vir dié wat op die HERE wag. Hoe dikwels soek ons die krag in nuwe kursusse, nuwe tegnieke, nuwe selfhelptegnieke en probeer dit iewers uit ons binneste opdiep.
Dit is nie daar nie en die bietjie wat daar is, is nie opgewasse vir die uitdagings van die lewe nie.  God voorsien krag. God voorsien krag vir dié wat op Hom wag.   Hy maak hulle so sterk soos die kragtige vlerke wat die arend oplig en laat opstyg tot o die grootste storm.
            Die Christen weet vas en seker: Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit enduit sal voer en dit sal voleindig opdie dag wanneer Christus Jesus kom (Fil. 1:6).
Die HERE maak die werk klaar wat Hy in jou begin het.  Die HERE raak nie moeg en afgemat nie.  Sy krag raak nie op nie. En vir dié wat hulle krag by God soek, vir hulle is daar genoeg om weer te "hardloop".
            God is nie klaar met my as ek moeg is of as die lewe vol probleme is of ek ni emeer weet hoe vorentoe nie. Dawid skryf in Ps 138:8 – Die HERE sal vi rmy alles goed laat afloop. Aan u liefde, HERE, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.
            Arende is in baie opsigte anders as ander voëls. Arende het unieke eienskappe wat ander voëls nie met hulle deel nie. Daar is eienskappe wat hulle met alle ander voëls deel. Arende lyk soos ander voëls, maar by nadere ondersoek sien 'n mens duidelike verskille.
            Net so is die Christen vanuit sy Wedergeboorte anders as die wêreld. Ja Christene is steeds mense, maar Wedergeboorte en bekering maak die Christen anders as ander mense. 
Christene ontvang 'n goddelike natuur, want die Heilige Gees woon in hulle. Hierdie nuwe natuur maak dat hulle anders begin dink en optree as wêreld. As Christen moet jy dit weet, diep in jou gees moet jy dit weet en vanuit daardie wete leef:  God het my nuutgemaak, ek is nie meer dieselfde nie, ek is anders as die wêreld: Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom
(2 Kor. 5:17).
            Arende hou van storms.   Hulle gebruik dit om hoër te vlieg.  Hulle vlieg fisies hoër as ander voëls, en dit is veral in storms dat hulle die windstrome gebruik om baie hoog op te gaan.  Ander voëls soek skuiling wanneer die storms kom; arende soek die hoër hoogtes.  Arende kan tot hoogtes van drie tot vyf kilometre bo die grond vlieg.   Hulle het 'n besonder dik verebedekking wat maak dat hulle hoër hoogtes waar dit kouer is, makliker kan hanteer.  Daar is arendspesies wat tot 1 250 vere op elke vlerk het.  Die vlerke van die arend is aërodinamies beter ontwikkel as dié van ander voëls.  Dit stel hulle in staat om hoër te vlieg.
            So is die lewe van die Christen.   Die Christen leef in die hoogtes saam met God.  Dit is op die bergtop waar Moses en Elia God ontmoet het.   Dit was opdie bergtop waar Jesus van gedagte verander het en Moses en Elia ontmoet het, en waar God die Vader met Hom gepraat het. 
As Christene sit ons saam met Christus in die hemele (Ef. 2:6).  Daar, vanuit ons troonposisie in die hoogte, reageer ons saam met Christus.   Die Christen se lewe is 'n lewe in die hoogtes saam met God.   God he tons vir die hoogtes gemaak.   Ons het geestelike vlerke wat ons tot op die hoogste hoogtes kan laat opstyg.
            Christene word nie deur storms geìntimideer nie.   Al wat die Christen doen, is wat die arend doen.   Hy gebruik die groter krag van die lugstrome in die storms om hoër te vlieg, bo die storm uit te vlieg.
Arende vrees nie storms nie, hulle geniet die storms.  Hulle is gemaak vir storms, toegerus daarvoor.   So is Christene:  toegerus met die krag van God, gevul met die volheid van God en met die Heilige Gees wat in on swoon.  So het God Christene toegerus vir die storms wat dikwels op ons toesak. Wanneer die krisisse kom, moenie vlug en wegkruip nie, vlieg hoër, nader aan God self.
            Arende klap nie hulle vlerke om hoër te vlieg nie.  Hulle gebruik net die krag van die windstrome en sweef daarop.  Indien hulle aanhoudend hulle vlerke sou klap om te probeer hoër vlieg om uit die geweld van die storm te kom, sal hulle in die moeilikheid beland.
So moet Christene leer om in die Gees te leef en te wandel.   Om te gaan waar die Gees van God ons lei.   Ons moet in die windstorme van God se krag inkom en leer om in Hom te rus en saam met Hom te beweeg.  Die lewe in God is nie 'n gefladder en gespook nie, dit is rus in die HERE.
            Arende vlieg alleen.  Hoe hoër jy vlieg, hoe minder ander voëls is daar.   Arende is daarom dikwels alleen in die hoogtes. Aasvoëls kom gewoonlik in trope voor, kalkoene en hoenders ook.   Toegewyde Christene staan dikwels alleen.
            Christene wat in die hoogtes saam met God leef, vind dat hulle dikwels alleen is.   Ons sal alleen wees in ons stryd teen sonde, onreg, armoede, ensovoorts.   Ons sal alleen wees in ons passie vir God en 'n heilige lewe.
            Hoogte gee 'n strategiese uitsig.  Hoe hoër ons kan opgaan, hoe groter en beter is ons uitsig, oorsig en insig.   Hoogte is 'n belangrike element in oorlogvoering.   Die persoon wat die hoogste posisie besit, het 'n strategiese voordeel in die geveg.  So het Christene wat in die hoogte met God beweeg, 'n strategiese voordeel in die geestelike tyd van elke dag.
            Arende het skerper visie as ander voëls.   Arende vlieg dikwels op hoogtes van 3 000 tot 5 000 meter bo die grond.  Van daardie hoogte af kan hy byvoorbeeld maklik 'n haas of ander prooi op die grond raaksien.   Omdat die arend so hoog vlieg, het hy skerper sig en fokus as ander voëls nodig.   In sy duikvlug kan die arend teen tot 300 km per uur op sy prooi afpyl.   Op daardie hoogte het die arend groter utsig, kan hy verder sien.
            Hoewel arende besonder goed kan sien in die dag, is hulle nagsig besonder swak, selfs swakker as dié van 'n mens.  Laat ons daaruit leer dat Christene vir die dag gemaak is, om in die lig – God se lig – te lewe en dat ons uit die duisternis en donker plekke moet wegbly.   Dit is een ding om God se lig in donker plekke te dra, maar iets total anders om ons ontspanning en lewe in die donker plekke te probeer vind.
            Arende eet vars kos.  Arende is roofvoëls, maar hulle eet nooit ou aas nie, hoewel daar enkele spesies is wat dit tog doen.  Arende vlieg daagliks uit en soek vars kos in die vorm van lewendige diere.
            Daar is vir ons as Christene 'n les hierin.  God het vir die volk Israel elke oggend vars manna gegee, genoeg vir die spesifieke dag.   Hyself is ons daaglikse manna en gee vir ons verborge manna om te eet (Op. 2:17).  As Christene moet ons oor ons diet waak.  Moenie enige ding "eet" wat voorkom nie.   Voed jouself met God se manna.   Lees jou Bybel meer as die koerant en lees dit voor jy die koerant lees.
            Arende baken vir hulle 'n grondgebied af.  Arende baken vir hulle 'n geografiese gebied af, gewoonlik ongeveer 35 vierkante kilometer.  Hierdie gebied verdedig hulle teen indringers.  Dit is die gebied waaroor hulle uit die lugruim heers en waaruit hulle leef.
            Vir die Christen gee God ook 'n leefterrein, 'n geestelike grondgebied: die huwelik, die gesin, ons werksomgewing, 'n plek binne die gemeente en die gemeenskap, 'n geestelike werksterrein.  God maak ons daarvoor verantwoordelik.   Dit is ons verantwoordelikheid om dit te verdedig, daaroor te heers.  Dit is ook die terrein waaruit ons ons daaglikse brood sal verdien en verkry.   Daar is nie iemand anders wat dit vir ons sal doen nie.
Daar is te veel Christene wat nie verantwoordelikheid neem vir die geestelike grondgebied wat God aan hulle toevertrou het nie.   God gee vir niemand 'n onbeperkte gebied om te verdedig of in besit te neem nie.  God meet vir ons elkeen 'n eie deel uit.
            Moenie gierig wees en wat aan ander behoort, in besit neem nie.   Jy kan dit nie beheer nie en dit sal tot jou nadeel wees.  God gee jou nie die reg daaroor nie en ook nie die krag daarvoor nie.
            Arende bestee baie tyd aan hulle vlerke.  Hulle gebruik baie tyd om hulle vlerke skoon te maak en uit te stryk, en die hakies van die vere uit te stryk en te belyn.   Enige stukkie vullis of aanpaksel op die vlerk maak 'n groot verskil op hoë hoogtes.  So moet die Christen leer om baie tyd daaraan te bestee om seker maak hy staan in 'n skoon en rein verhouding met God.  Daar moet geen bewuste onbelyde sonde in ons wees nie. 
Ons moet tyd maak om ons lewe in lyn met God se wil te bring en dan binne sy wil leef.   Die tyd wat die arend op die grond deurbring, maak hom gereed om sy tyd in die hoogtes daarbo met groot veiligheid aan te pak.  Vir die Christen is dit net so.
            Arende kan direk in die son in vlieg.  Arende het 'n tweede oogvlies, iets wat ander voëls nie het nie.   Hierdie vlies beskerm hulle oë as die prooi sou spartel en krap.   Maar dit werk ook amper soos 'n "donkerbril".  Wanneer die arend vir 'n aanvaller moet vlug, kan hy direk in die son in vlieg.   Die tweede vlies wat hy dan oor sy oë kan trek, maak dat hy direk in die son kan kyk sonder dat dit hom verblind.  Indien 'n groep aasvoëls hom aanval, vlieg hy direk in die son in, want dan verblind die son sy aanvallers en kan hulle nie sien waar hy is nie.   Arende veg nie, hulle vlieg in die son in.
            Watter les vir die Christen.  Wanneer daar aanvalle op ons gemaak word, moet ons in die son in vlieg.  Ons moet ons fokus op Christus bou, na Hom toe vlug, ons beskerming by Hom vind.  Daar in sy teenwoordigheid is ons veilig, daar is beskerming, daar kan die viand ons nie bykom nie.  Christen, moenie veg nie, vlieg in die son in, gaan direk na God toe.  Hy is jou skuiling, vesting, 'n sterk toring, 'n hoë rots.
            Soort soek soort.  Arende meng nie met ander voëls nie. Hulle kies hulle maats baie noukeurig.  Arende het 'n interessante paringsproses.  Die wyfie sal 'n takkie neem, hoog in die lug opvlieg en dit los.  Die mannetjie moet dan afduik en die takkie vang.  'n Proses begin daarna  waar die wyfie telkens 'n al swaarder tak optel en elke keer van 'n kleiner hoogte af die tak laat val, en die mannetjie moet dit vang voordat dit op die grond val.  Indien die mannetjie dit nie regkry nie, verloor sy belangstelling in hom. 
Heel laaste sal sy 'n groot tak optel, redelik laag vlieg en die tak weer laat val.  Indien die mannetjie die toets slaag, gee sy haar goedkeuring.  Hulle vlieg dan hoog in die lug op, haak hulle kloue in mekaar en bollemakiesie-tuimel in die lug.  Dit is 'n besondere skouspel.  Na hierdie ritueel skei hulle nooit.  Hulle bly bymekaar tot die dood hulle skei.
            Sal ons as Christene nie weer die basiese lesse oor die huwelik leer nie?  Vroue, moenie sommer die eerste die beste man vat wat verbykom nie.  Soek vir jou 'n lewensmaat, iemand wat vir leeftyd by jou kan bly, iemand wat werklik 'n pa vir jou kinders kan wees en 'n man wat jou kan versorg en jou as vrou tot jou volle reg kan laat kom.  Christene, die huwelik is bedoel vir een man en een vrou, tot die dood ons skei.
            Arende het 'n unieke manier om hulle kuikens te leer vlieg. Arende bou hulle neste op hoë kranse op die hoë berge. Hulle is lief vir die hoogste kranse waar geen ondier hulle of hulle kleintjies kan bedreig nie.
Ons lees in Job 39:27: Is dit op jou bevel dat 'n arend hoog opvlieg en sy nes in die hoogste gaan bou? Arende dra soms tot twee ton hout en takke aan om so 'n nest te bou.  Eers takke, dan doringtakke en daarna voer hulle die nes uit met blare, vere en ander sagte material.   As die kuikens uitbroei, het hulle 'n sagte nes.  Maar na 'n tyd, wanneer die kuikens groot genoeg is om te begin vlieg, word die sagte material uit die nes verwyder totdat net die doringtakke oorbly.
            Omdat die dorings die kuikens steek, dwing dit hulle uit die nes uit. Die mannetjie-arend stoot dan die kuiken van die rotswand af en soos die kuiken val, begin hy sy vlerke klap en fladder. Die mannetjie duik dan onder die kuiken in, vang hom op sy vlerke en neem hom terug na die rotswand toe.
            Die proses word herhaal totdat die kuiken kan vlieg.   Die groot arende doen allerhande akrobatiese toertjies in die lug om hulle vreugde te toon wanneer die kleintjie begin om te vlieg.
            Soos ons as Christene geestelik groei, leer die HERE ons en neem Hy ons deur geestelike prosesse.  Sommige is vir ons moeilik om te verstaan, net so min as wat die arendkuiken aanvanklik kan verstaan hoekom sy pa hom oor die afgrond stoot.   Maar die arendkuiken kan nooit vinniger val as wat die arend-pa kan duik om die kuiken weer op sy vlerke te vang nie.  So is dit met ons Hemelse Vader ook.  Lees Deuteronomium 32:10-12 :
Hy het sy volk in die woestyn gevind, in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu.  Die HERE het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog.  Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke at hy oopsprei, soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die HERE, net Hy alleen, sy volk gelei, daar was nie 'n ander god by Hom nie.
            Ons moet God vertrou wanneer daar tye kom dat ons nie verstaan wat Hy doen en hoekom Hy dit nie doen nie. God is altyd groter as ons omstandighede en is altyd besig om ons te leer, toe te rus en sterker te maak vir die werk en die pad wat voorlê.
            Net so min as wat die mannetjie-arend hom steur aan die geskreeu van die kuiken wanneer hy oor die afgrond afval, net so min steur God Hom aan ons geskreeu en selfbejammering wanneer ons nie verstaan waarmee Hy besig is nie. God weet wat Hy doen en waarom Hy dit doen.  Ons kan hom daarmee vertrou.
            Arende het 'n "tweede" lewe. Arende kan tot 120 jaar oud word.  Wanneer arende ongeveer sestig tot sewentig jaar oud is, word hulle vere te dik en te swaar, die naels van hulle kloue en hulle snawels word te lank, en daarom kan hulle nie meer so hoog vlieg nie, en nie meer hulle prooi so maklik vang en eet nie.
Op daardie punt gaan die arend na 'n waterstroom op 'n afgesonderde plek hoog in die berge.  Hy begin al sy vere uitpluk tot niks oorbly nie.  Hy trek al sy kloue of naels uit en kap sy snawel teen 'n rots totdat dit ook afbreek.  Vir baie dae sit die arend daar by die stroom.
            Ander arende sal soms hoog in die lug verbyvlieg en stukkies kos vir hom afgooi. Maar die arend bly in die water sit.  Soos hy in die water sit, kyk hy vir lang tye na die son, totdat daar trane uit sy oë kom en die oliesakkies by sy oë weer begin om olie te produseer.
Stadig begin nuwe vere, nuwe kloue en 'n nuwe snawel uitgroei. Na 'n maand tot veertig dae is die arend weer gereed om te vlieg. Hy duik van die rots af en met nuwe energie, nuwe vere, nuwe kloue, gaan hy weer die hoë hoogtes in.  Dit is 'n vernuwingsproses.
            Daar kom 'n tyd dat ons moeg raak, dat die lewe in ons net op is, dat ons nie meer krag oorhet nie en nie kans sien vir die pad vorentoe nie.
            Dit is die tyd dat ons eenkant, in afsondering, moet gaan sit, ons program moet stop, ons moet losmaak van alles wat verby is en na die "son" moet kyk.  Dit is die tyd dat ons voor God ons Vader moet gaan sit en wag.   Rus en wag en luister.  Totdat Hy ons kom ontmoet en ons met nuwe krag vul, ons lewe weer nuut maak soos dié van 'n arend (Ps. 103:5).
            Evangelis Pat Robinson vertel hoe die HERE hom op 80 aangeraak en nuut gemaak het. Hy was die stigter van TBN (Trinity Broadcasting Network) wat die Evangelie dag en wêreldwyd uitsaai.
            Mag ons uit die lewe van die arend leer hoe om in die hoogtes saam met God te leef. Dit is die ander pad.