Donderdag 19 Oktober 2017

Die Engel en jy wat die HERE dien


Image result for angels of god

As jy die HERE God YAWEH dien, dan slaan sy Engel laer op rondom jou.

            Dawid stel dit so: “Die Engel van die HERE slaan sy laer op rondom dié wat die Here (let op) dien, (om wat te doen?) en red hulle. (Dan die uitnodiging) Kom ondervind en sien dat die HERE goed is (hoekom?)Want dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil." Ps 34-8-9
            Ernest Gordon vertel hoe William Hacquist en die werkers van die Evangelical Alliance Mission, gedurende die Boxeropstand in Sjina, van die moordadige Chinese opstandelinge ontsnap het.
Ses dae lank het hulle voor die bendes uitgevlug, maar toe bereik hulle 'n punt, waar hulle moes kies of hulle sal voortgaan om oor land, tussen die berge deur, te vlug en of hulle met bote met die rivier sal afvaar.
Weens die droogte was die Hanrivier droog. Die vlug oor land het die aangewese roete geblyk te wees, want hulle draers en wagte, wat hulle moes beskerm, het geweier om anders as oor land, tussen die berge deur, te vlug.
Die vlugtendes bevind hulself in ‘n groot krisis. Dit gaan lewe of dood. Die vyand kom al hoe nader en die manne moet vlug om voor te bly.
Dan kom die berusting... ‘n tyd van gebed en op die HERE wag. Dis ‘n moeilike besluit wanneer jou lewe aan ‘n draadjie hang, maar dis veiliger om op die HERE te wag.
Tydens die gebed en wag, het daar in William Hacquist en die ander werkers se harte, 'n bewussyn ontwaak om rivierlangs te vlug. Maar die rivier was droog! Hulle het egter in die geloof twee platboomskuite bekom. Hulle het kos gekoop en dit saam met hul bagasie in die bote geplaas.
Alhoewel hulle gereed maak, bote en al, om rivier langs te vlug, kan hulle nie roer nie... die rivier is droog.
William Hacquist skryf: "Die plek waar ons was, was omring van hoë berge. Terwyl ons bid en wag, het daar so teen die middel van die agtermiddag sterk wolke opgesteek. Ons het die swaarste reën belewe wat ek ooit gesien het. Die rivier het gou afgekom. Hulle het die bote te water gelaat en haastig weggevaar.
Later moes hulle verneem, 'n paar honderd "Boxerbendes", het hulle in 'n bergpas, 'n entjie verder die berge in, ingewag om hulle dood te maak. Hieroor sê William Hacquist: "God het ons langs die veiliger weg laat vlug.”
            Ons omgewing: strate en wonings, sakepersele, plase, paaie, het deesdae onveilige plekke vir ons, en almal wat vir ons kosbaar is, geword.
Die belofte en versekering in Ps 91:1-5  het vir ons kosbare en gerusstellende woorde geword: "Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: 'My toevlug en my bergvesting, my God op Wie ek vertrou'.... Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie..."
Dit is nie 'n beveiliging wat maar sommer net vir almal is nie. Dit is 'n geloofsposisie wat ons moet inneem en deur 'n gehoorsame lewe aan die HERE moet handhaaf.
Die belofte is: Hy wat sit... en vir die HERE sê: My Toevlug en My Bergvesting en My God op Wie ek vertrou. So 'n geloofshouding en gemoedsvertroue kom, wanneer ons God se Woord lees en ter harte neem, en die Heilige Gees dan die Woord gebruik, om in ons harte geloof te laat ontwaak.
Ons weet die Here Jesus Christus gee ons die vrymoedigheid, om God se beskerming en hulp te vra.