Maandag 31 Julie 2017

Leef in die Geloof en Beleef jou Gawe


Image result for geloof

Geloof is die sleutel waarmee ons God se wonderwerkende krag oopsluit, en ook ons eie toekoms! Dink net, deur geloof het die mure van Jerigo ingetuimel.
“Alle dinge is moontlik vir die een wat glo,” sê Markus 9:23.
Het jy geloof? As kind van God het jy beslis geloof. Jy het die gawe van geloof by die Wedergeboorte ontvang.
Al wat jy moet doen is om dit uit te bou!
En aan Hom wat MAG het om te DOEN... ver bo alles(!) wat ons  BID of  DINK... volgens  –   die Krag wat in ons is! Efes. 3:20.
            Heb. 11: 1-33  is die Bybel se  meesterstuk van geloof, en, die mooiste is, dat ek en jy deel daarvan is.
            Strofes 32 en 33: “En wat sal ek nog meer sê (oor al hierdie geloofs-dinamika), want die tyd sal my ontbreek as ek (ook) van Gideon, Barak en Simeon en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal...”
            Hoekom?  Want kyk wat het hulle  – strofe 34 ... wat deur geloof bereik:

·       koninkryke oorweldig het !
·       geregtigheid uitgeoefen het !
·       beloftes verkry het !
·       bekke van leeus toegestop het !
·       die krag van vuur uitgeblus het !
·       die skerpte van die swaard ontvlug het !
·       krag uit swakheid ontvang het !
·       dapper gewees het in die oorlog !
·       leërs van vreemdes op die vlug gedryf het !”

Die tweede laaste reël: DAPPER gewees het in die oorlog! DAPPER beteken:  Vasberade, onverskrokke. Dit beteken ook:  onwankelbaar en onbuigsaam, beginselvas,  dus, ook iemand wat geen kompromie aangaan nie.
            Om deur die geloof te kan lewe moet ons beslis (committed) wees, moet ons gedetermineerd wees, moet ons dapper wees, moet ons weier om kompromieë aan te gaan, moet ons rus (vind) in die HERE. Of ons vertrou God absoluut, of, anders lewe ons in twyfel, ons probeer maar.....
            Let op: “...hy wat twyfel moenie dink dat hy iets van die HERE sal ontvang nie! Dus…  weier om te twyfel.” Jak 1:6-7
            Ons, ek en jy,  is God se magtige manne (en vroue) vol dapperheid, onverskrokkenheid.  Ons weier om te twyfel. Ons staan soos rotse, onwankelbaar.
Onthou, ons is GOD se eiendom. Vat iemand aan ons vat hy aan GOD, want, GOD sê: Vir sovele as wat julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My.
            Dit is ook hoekom ons nie wraak moet uitoefen nie. GOD sê:  Hom kom die wraak toe. Hy sal vergeld. Ons moet net besef dat as iemand ons leed aandoen, speel hy of sy met vuur, want hulle het GOD se eiendom aangetas. En daar staan ook geskrywe: Dit is vreeslik om te val in die hande van die Lewende GOD!
            Ons vrees niks, want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar ‘n gees van Krag (hier sien ons weer die krag), en van Liefde en van Selfbeheersing. Dit is wat ons ontvang het en dit is wat ons elke dag moet bely.
            Let weer op hoe die boodskap begin het:  ... volgens die KRAG wat IN ons is, of dan, volgens die geloofskrag wat in ons is.
            Daar is geloofskrag in ons om ook die dinge te kan doen wat ons voorsate deur die geloof gedoen het..  volgens ...  dui daarop dat ons daardie geloofskrag moet uitbou, soos 'n gewigopteller sy krag ook uitbou. Hoe groter sy krag, hoe groter die gewig wat hy kan baasraak.
            Ons moet dus deur Sy Woord en deur praktiese toepassing daarvan, ons geloofskrag uitbou. Kyk hoe waar is die volgende:
            Om nederig te wees is God se Wil. Om jouself te verkleineer, is nie nederigheid nie en is sonde. In die oë van God is ons baie belangrik. Ons is Sy VOLK. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers. Ons het die geloof van 'n mosterdsaadjie – ons (moet) groei tot 'n reuse Geloofsboom!
            Let op wat gee Hy ons nog: “Hy aan julle mag gee na die rykdom van Sy heerlikheid (hoekom?) om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens (hoekom?) sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is (hoekom?) en julle in staat kan wees om saam met al die Heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, (hoekom?) sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.” Efes 3:16-19
            Bely dit,  glo dit, verheug hierin,want dit is die Waarheid, en nie die twyfel en onwaarhede wat die satan ons mense mee teister nie.
            Onthou, wanneer mens naby die deurbraak is, sal die druk altyd toeneem. Teenspoed lyk maar soos teenspoed. Hoe harder die stryd hoe groter die oorwinning, want in Christus Jesus is ons meer as Oorwinnaars!
            Lees ook Psalm 149 (sommer gereeld) en let veral op wat gebeur vanaf  strofe 6... hoekom ek en jy ‘n tweesnydende swaard in ons hande het!
Dit gebeur wanneer ons met daardie geloofskrag wat in ons is, die HERE begin loof: Lofverheffinge is ‘n tweesnydende swaard. Aan die een kant verbly ons die hart van God, aan die ander kant vernietig ons die vyand, wie en wat hy ook al mag wees !
            Hoekom snoei mens ‘n wingerd?  So dat dit meer en beter vrug kan dra. Om dieselfde rede oefen atlete en ander sportlui – te kan wen. Ander oefen op musiekinstrumente om beter te kan speel.
            Dis dieselfde met ons geloof.  Ons moet dit beoefen – in die werkplek, by die huis, in die gemeente, teenoor ander rondom jou – al doen jy niks verder nie as suiwer om te bid vir Herlewing. Jy durf nie niks doen nie, jy moet jou geloof uitbou!
            Dit word vertel van ‘n sieklike man wat gereeld vir 30 dorpe en gemeenskappe om Herlewing gebid het.  Hy het gereeld aantekeninge in sy dagboek gemaak van sy gebede.  Nadat hy die Ewigheid in is, het Herlewing op elkeen van die dertig plekke uitgebreek.
            Die geheim, die sleutel, is geloof.  Geloof neem jou veilig werk toe.  Geloof neem jou veilig op vakansie en bring jou veilig terug.  Geloof laat jou huwelik slaag.
            Geloof laat ‘n boer voor die storm in sy koringlande op sy knieë neerval en in geloofskrag uitroep:  “HERE, asseblief, spaar my oes!”  En die storm trek verby.
Geloof laat jou vir jou siek kind of ‘n gemeentelid bid.  Geloof laat jou kinders presteer.  Geloof laat jou op ‘n stoel gaan sit sonder om te kyk of die ding nie intussen dalk gebreek is nie.
Geloof laat jou die Bybel bestudeer om nader aan God te kom sodat jy siele vir die Koninkryk kan wen. Bou jou geloof uit! – Sjibbolet

Donderdag 27 Julie 2017

In die Laaste Dae ‘Sal ek my Gees uitstort op alle vlees...’


Image result for holy spirit

“En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.” Hand 2:17-18

Oral in Suid-Afrika  word die Heilige Gees uitgestort. Berigte kom van oral af in soos wat die eerste druppels oral val.
            Die dag van Pinkster was die begin van ‘n nuwe era vir die ganse wêreld, ‘n nuwe krag van regverdigmaking en geregtigheid, ‘n nuwe missie van verlossing en ‘n nuwe basis van gemeenskap. Nou ervaar ons dit ook oral op die Platteland, op dorpe wat dit nie verwag was nie..
            Die Gees van God was van die begin af bedrywig oor die ganse aarde. Hy is die kreatiewe “Agent”, die Behoeder en die Vernuwer van die Wêreldnatuur.
            Hy is die HERE God, die Gewer van Lewe!
            Daar is minstens drie elemente waarom die krag van die Heilige Gees in besonder in die Nuwe Testament aan ons gegee is:

·       Sodat ons kan sien, begryp en die eenheid in Christus kan beleef. Joh. 14:20;
·       Om met alle krag bekragtig te word volgens die mag van Sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, waarvoor ons die Vader dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig.  Kol. 1:11-12;
·       Sodat ons kragtig kan word in die HERE (Efes. 6:10) en in die krag van Sy sterkte.

Die Gees van God het in die Ou Testament onder andere oor mense soos Moses, Simson, Gideon, Samuel en die profete vaardig geraak.
In die Nuwe Testament word hierdie manifestasie deur elke Christen beleef wat met die Heilige Gees vervul is.
Profete soos Jesaja en Joel het getuig van die dag wat sou kom waar die volheid van die Heilige Gees ‘n steeds toenemende gawe van verlossing en genade sou wees.  Daardie dag het op Pinksterdag aangebreek.
In die Nuwe Testament is die Heilige Gees die “Agent” wat die Wedergeboorte bewerk. In die Evangelies was Hy nog nie betrokke nie.
Jesus se missie moes eers voltooi word om die vuur op die aarde te bring Luk. 12:49 en verder.  Die Gees was op die aarde, maar nog nie uitgegee nie. Joh. 7:39
Die volheid van die Gees is op Pinksterdag uitgestort. Van toe af was die Heilige Gees betrokke in ‘n steeds toenemende maat. Hy was die geskenk van God aan Sy Seun, en Sy Seun se geskenk aan ons.
Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie. Vrede is vir almal beskikbaar as hulle dit maar net wil aanvaar.
Die Christendom groei tot die grootste godsdiens in die wêreld. Die Bybel word en is steeds die mees gedrukte en gelese boek in die wêreld.
Elke dag nog word by die gemeentes gevoeg wat gered is en steeds word nuwe gemeentes gestig.
Die dood het geen angel meer nie. Christene gaan nie dood nie, hulle het die Ewige Lewe!
Blindes sien, dowes hoor, kreupeles loop, ja, selfs dooies word opgewek.
In Suid-Afrika weet ons van drie gevalle waar dooies opgewek is: Die geval van die Hatfield-broers, eerw. Van Zyl wat in die Paarl vir ‘n dooie man gebid en wyle prof. Jac Muller wat vir ‘n afgestorwe seuntjie gebid het.
Prof Muller het in ‘n onderhoud vertel dat hy gevra is om vir die siek seuntjie in die hospitaal te gaan bid. Toe hy daar kom was die seuntjie reeds oorlede en ‘n laken oor hom getrek. Hy staan toe maar by die lewelose liggaampie en bid. Toe hy by die huis kom bel die saalsuster en vertel opgewonde, die seuntjie het opgestaan.
Vele gevalle van kliniese dood en opstanding is deur medici in talle boeke vermeld.
Of die genesing deur gebed kom, deur medikasie, fisioterapie of deur chirurgie, dit is en bly die kragtige werking van die Heilige Gees.
Daar is ook ‘n miskenning van die krag van die Heilige Gees onder ons mense, vandaar die geestelike en morele verval.
Dit is waarom dit so dringend noodsaaklik geword het dat mense hulle voor God sal verootmoedig. Dit is waarom die eerste tekens van ‘n geestelike Herlewing oral sigbaar word.
Dit is waarom jy by ‘n Christen Netwerk moet inskakel of ‘n gebedskring moet begin. Wat baat dit om te sê ons is kinders van ‘n Lewende God, maar ons sien nie Sy Gees vaardig in ons lewens en in ons gemeenskappe nie.
Die Herlewingslied, net soos God dit beloof het: https://www.youtube.com/watch?v=CCoq4BY42OQ

Maandag 24 Julie 2017

Uitgespreek – word ‘n Seën eers ‘n Seën


Image result for Hebr 11:21 


Dis heerlik om die weg van seëninge met mekaar loop: Seën is ‘n werkwoord. Dit beteken omgee, bemoediging, liefde. “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle (let op) geseëndes van my Vader, beërf die Koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” Matt 25:34
            “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; (let op) seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg…” Matt 5:44… m.a.w. seën hulle oor en oor.
Die kindertjies: “En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.” Mar 10:14. Seën jy jou kinders?
            “…en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!” Luk 1:42. Het jy al die vrug van jou vrou se skoot geseën en jou vrou geseën? Het jy al jou hande op ‘n vrou gelê en gebid vir ‘n swangerskap?
Let op: “Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.” Luk 6:28… en “Seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie.” Rom 12:14
            “Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die Hemel, (let op) seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit.” Luk 9:16. As Hy dit nie geseën het nie, sou dit nooit vermeerder het nie.
            “…  die beker van danksegging wat (let op) ONS  met danksegging seën,” 1 Kor 10:16
            Hoe bid jy aan tafel. Dank jy die Vader vir die voedsel en seën jy dit.. soos bv: “Vader, ek (jy as hoë priester van jou huis) dank U vir hierdie voedsel en ek (dis jy) seën dit in die naam van Jesus Christus. Amen”
            Om iemand te seën, kom van die dae van Abraham af: “Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.” Gal 3:9
            Kyk na hierdie grootsheid: “Geseënd is die God en Vader van onse HERE Jesus Christus (hoekom?) wat ons geseën het met (wat?) alle geestelike seëninge in die Hemele in Christus,” Efes 1:3. Het jy ooit dankie gesê daarvoor en die HERE geseën   … seëninge aan God tot in die hoogste Hemele?
En boonop: In die Heerlikheid, die Glorie, van God sal ons die bonatuurlike beleef. Jesus bid: “Ek het hulle (vir my en jou) die heerlikheid (die Glorie) gegee wat U aan my gegee het (waarom?), sodat hulle een kan wees… net soos Ons een is.” Joh 17:22. Het ons daar glorie al ontvasng en dakie gesê en die HERE daarvoor geseën… Ere sy die Lam van God, geseënd is Hy!
Wat ‘n verstommende, byna revolusionêre, verklaring! Die, HERE, God van die Hemel, die grote en gedugte God, gee sy glorie aan sy seun Jesus Christus en Christus gee dit op Sy beurt –  daardie Goddelike Glorie van die Almagtige God –  aan my en jou.
Hoekom/ Soda tons EEN kan wees! Is ons?
Ons is geskep om in God se Glorie te leef! Dis hoe geseënd ons is.
            “Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën… ” Hebr 11:21. Het jy al jou seuns en dogters geseën? Oupa, het jy al jou kleinkinders geseën?
          Verkondig God se goedheid. Begin om seën oor jouself, jou  gesinslede, familie, vriende, mede-gelowiges uit te spreek. Belangrik: ‘n Seën is nie ‘n seën totdat dit uitgespreek is nie.
            As jy begin om jouself te seën en mense rondom jou seën sal God jou alles voorsien wat jy nodig het, vir ‘n lewe van oorvloed wat Hy vir jou bestem het. “Ek het gekom, dat hulle (let op) lewe en oorvloed kan hê.” Joh 10:10b
Seën jouse;lf, jou handewerk, jou talente, seë jou vrou en jou kinders, dat hulle geslaagd sal wees in alles wat hulle doen.
Spreek so die seën uit: Ek seën jou met God se bonatuurlike wysheid en dat jou lewe ‘n duidelike rigting het.
Ek seën jou met skeppende vermoë, moed, bevoegdheid en oorvloed.
Ek seën jou met ‘n sterk wil, selfdissipline en selfbeheersing, geseën is jy met ‘n wonderlike gesin, goeie vriende en gesondheid, en met geloof guns en vervulling.
Ek seën jou met sukses, bonatuurlike krag, bevordering en Goddelike beskerming.
Geseënd is jy met ‘n gehoorsame hart en ‘n positiewe lewensbeskouing.
Enige vloek wat ooit oor jou uitgespreek is, enige negatiewe bose woord wat teenoor jou geuiter is, word net hier op hierdie oomblik in die naam van Jesus vernietig.
Geseënd is jy in die stad en in die natuur. Jy is geseënd waar jy ingaan en geseënd waar jy uitgaan. Geseënd is alles wat jy aanpak dat dit sal slaag en voorspoedig sal wees die toekoms in.
  ‘n  Groot treknet om vis mee te vang, sleepnet, word ook ‘n seën genoem. Seën beteken ook  geluk, voorspoed, ‘n skenking van geluk, voorspoed en welvaart deur God.
Mens gee jou seën aan iets, om dit goed te keur, te steun. Om te seën is nie soos om te hoop nie, seën beteken om inderdaad te seën, die heil van God toebid. As jy geseënd wil wees, seën dan iemand anders.
Mens kan ook seën deur tasbaars iets te gee, te skenk, maar selfs daarmee, gebruik die woord seën en spreek dit uit soos in: “Ek wil jou vandasg graag seën met…” M.a.w., wat ek jou mee seën kom uit die hand van God.
Die HERE seën my en jou elke dag met sy wonderlike belofte:: “Net goedheid en guns volg jou in hierdie dag.”

Woensdag 19 Julie 2017

God eerste, altyd!


Die uitvinder van reuse grondverskuiwingsmasjinerie, Robert G. LeTourneau, het eintlik bekend geraak deur die reuse bedrae geld wat hy vir evangelisasie- en sendingwerk geskenk het.

Image result for robert g. letourneau

In King's Bussiness beskryf hy hoe sy kerk se jongmense gereeld een aand 'n week by 'n sendingkerk dienste gaan hou het. As jongman het hy altyd met hulle saamgegaan.
Een aand kon hy nie gaan nie. Daardie tyd was sy fabriek nog klein en hy moes die ontwerp van 'n nuwe masjien, waaroor hyself nog nie seker was nie en wat die volgende dag deur kontrakwerkers vervaardig sou word, voltooi. Hy kon nie sy werk doen en ook nog die diens by die sendingkerk gaan hou nie.
"Die HERE en ek was in ‘n taamlike worsteling terwyl ek moes besluit wat my te doen staan," skryf hy. Hy het nie geweet hoe hy die masjien nog die aand geteken gaan kry nie, maar hy het tog saam met die jongmense na die sendingdiens toe gegaan. Dit was 'n buitengewone geseënde aand.
Ongeveer tienuur die aand kom hy weer tuis. Moeg, maar vol vreugde na die aand se bedrywigheid by die sendingkerk, gaan hy by sy tekenbord sit.
Hy skryf: "Ek het by my tekenbord gaan sit en binne vyf minute was die uitleg en plan so duidelik as wat kan kom. Die klein stukkie masjienerie wat ek daarna nag ontwerp het, was die sleutel masjien wat ek my lewe lank gebou het. Dit loon ‘n mens om God eerste te stel.”
            Nog nooit het dit iemand berou om God se belange eerste te stel nie, al lyk dit vir die oomblik of dit 'n nadelige gevolg gaan hê.
Toe God Abraham gevra het om sy seun, Isak, te offer, het dit gelyk of hy sy seun gaan verloor. Hy het dadelik gehoorsaam, maar in plaas van sy seun te verloor, het hy 'n groot nageslag vir hom gewen. God het gesê: "Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het…in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam." Gen 22:17,18
Die slotsom van die Psalmskrywer is: "HERE, ek het besluit dit is vir my die belangrikste in die lewe om te maak soos U gesê het." Ps 119: 57
Wanneer ons God se belange ons eerste belang maak, sorg Hy vir ons. Vir seker!
            “Seun, gaan werk vandag in die wingerd." Matt 21:28

Dinsdag 18 Julie 2017

Die regte Voorkeure


Dr. William L. Stidger “Bill” vertel in sy boek, There are Sermons in Stories, van die meisie, Sadie Smithson, wat eintlik arm groot geword het in Johnsons Falls, Wes Virginia. Haar pa was in beheer van 'n perdestal en syself het met naaldwerk 'n inkomste probeer maak. Hulle het net bo die armlastige vlak geleef.



Sy wou graag met die hoër klas van die dorp meng. Haar plan om dit reg te kry, was om lid te word van die Laurel Literary Society, 'n organisasie wat die sosiale glans van haar dorp weerspieël het. Na sy klaar was met hoërskool het sy aansoek gedoen vir lidmaatskap. Haar aansoek is afgekeur.
Wel, het sy gedink, miskien sal hulle meer van haar dink as sy deur Europa gereis het. Sy het geld gespaar en gedroom hoe die sagte handskoenhande sal klap, as sy haar lesing van My Toer deur Europa gelewer het.
Na jare se spaar het sy haar droom verwesenlik en saam met 'n professor en sy vrou die toer aangepak.
Juis toe breek die Wêreldoorlog uit. Sadie was met die aanvang van die oorlog in België, maar slaag daarin om 'n rit na Parys toe te kry. Die bestuurder raak egter sy koers kwyt en skielik ry hulle oor 'n slagveld.
Sadie kyk af op 'n gewonde soldaat wat reg langs hulle voertuig lê. "Water!" skreeu hy. "In hemelsnaam, water!"
Sadie spring uit die bussie uit en hardloop met 'n beker na 'n nabygeleë fontein en bring vir hom water. Toe roep nog een vir water. Weer hardloop sy fontein toe.
Die bussie vertrek sonder haar. Heel nag hardloop sy heen en weer tussen die fontein en gewonde soldate. Sy skeur haar rok repe en probeer hulle wonde toebind. Sy skryf sterwende manne se boodskappe aan hulle dierbares neer. By elke man bid sy.
Dit is 'n nag van verskrikking en donkerte, en gekerm van gewonde soldate. 'n Ambulans met 'n dokter en verpleërs kom aan. Hulle is verstom om die arm jongvrou van West Virginia tussen die bloed en verwoesting van die oorlog te vind.
In William Stidger se woorde roep die dokter uit: "Who are you? What in thunder are you doing here?"
"I'm Sadie Smithson," she said, "and I've been holding hell back all night."
"Well miss Sadie Smithson," said the young doctor, "I'm glad you held some of it back, for everybody else in the world was letting it loose last night."
Terug huis toe, op die skip, vertel sy haar storie vir 'n medepassasier. "Ek het self nie kinders gehad nie, maar daardie nag was al daardie manne my kinders. Daardie nag kon ek my lewe vir hulle gee," voeg sy by.
Die passasier antwoord: "Wel, ek dink die Laurel Literary Society sal nou bly wees om jou hulle lid te maak."
Sadie antwoord, in Stidger se woorde: "Nee, ek was van aangesig tot aangesig met oorlog, dood, die hel en God, klein dingetjies soos die Laurel Literary Society maak nie meer vir my saak nie.”
"Wat maak dan wel saak,” vra die vriend.”
"Niks, het Sadie geantwoord. "Niks behalwe God en liefde en om te doen aan ander na wie Hy my stuur nie.”
Iets van die HERE Jesus se gesindheid het daardie nag in Sadie se hart wakker geword, sodat klein wêreldse weeldes en eer vir haar niksseggende waarde gekry het.
Jesus het in die donker van die nag na 'n sterwende mensdom toe gekom. Hy het ons liefgehad en Homself vir ons gegee. As Hy in ons hart kom woon, verander ons perspektief van die lewe.
  "Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? ...maar julle...wie, sê julle, is Ek?" Matt 16: 14

Maandag 17 Julie 2017

Geloof en die Werke gaan hand aan hand


Demosthenes, die groot Atheense patriot – toe dit geblyk het dat sy landgenote te verward en verdeeld was om die Masedoniese aanslag teen te staan – het hy luidkeels uitgeroep: “In die naam van God, ek smeek julle: Dink!
            Vir ‘n geruime tyd daarna het die Athene, Demosthenes bespot. Dit was te begrype want Masedonië was nogal ver en daar was baie tyd.
            Hulle kon nie dink dat hulle oormore sou moes boedel oorgee nie.
            So is dit met ons Christene vandag. Ons is te traag om te dink. Ons kon lankal besef het ons gaan uitlewer word. Daar is 36 miljoen selfverklaarde Christene in Suid-Afrika.
Dink!
Hoekom is die Christendom in SA so verlam? Hoe kan daar 36 miljoen selfverklaarde Christen in die land wees en daar is nie ‘n Christenregering nie en Christen provinsiale regerings nie?
            ‘n Gelowige sonder beginsels, is ‘n beginsellose mens. ‘n Volk sonder beginsels, is ‘n onbeskaafde volk.
            As ‘n Christenvolk sy beginsels vergeet, oorboord begin gooi, dan verval hy in barbarisme, het die geskiedenis getoon.
            As ‘n volk gesonde beginsels verwerp, word hy ‘n dweepsieke volk.
            Die denkende Christen moes 30 jaar gelede sy gesonde beginsels op twee fronte verdedig het. Vandag het hy weer geleentheid om dit te doen:
            Die eerste is teen die verwaarlosing van alle beginsels wat ly tot sosiale en persoonlike agteruitgang.
            Die ander is die aanname van vals beginsels wat die wêreld in anargie dompel.
            Die gevaar op die oomblik is dat ‘n groot deel van ons volk vergeet het dat ons Christen- en politieke beginsels ooit bestaan.
            Die allerantwoord is ‘n magtige Herlewing... hou net an met bid en werk, die eerste druppels val reeds.
            Ons moet dus onsself verdedig deur vernuwing van ons bewuste ware geestelike, morele, politieke en ekonomiese beginsels. Ons moet dit ook onverwyld in elke sektor van ons volks-, gemeenskaps- en gesinslewe toepas.
Dit is die Christen se identiteit in Christus wat uitgeleef moet word. Maar as die Christen nie langer met sy eie identiteit bekend is nie, het ook hy net ‘n klinkende simbaal geword.
Die Gelowiges is gered om ‘n verskil te maak, maar gebeur dit? Is ons werklik anders? Ons behoort te wees! Die Lig het geen gemeenskap met die duisternis nie.  Die Lig moet die duisternis verdryf deur die Koninkryk van God uit te bou.
            Loof die HERE, ons mense in besig om hulself bymekaar te maak, hul ware identiteit in Christus gaan aanneem en dit uit te leef?
            Dit baat nie 36 miljoen Suid-Afrikaners bely hulle is Christene en daar is geen vrug nie... nie eers ‘n Christenregering nie.  “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?” Jak 2:14
            Op ‘n ander terrein gaan dit veel beter daaraan toe.
            In Krugersdorp verlede week het twee mense wat mekaar glad nie geken het nie, byeen gekom, saam gebid en gesê hulle gaan die Evangelie, tesame met kos aan die armes verkondig. Die afgelope naweek was dit toe so... en met ongekende welslae.


            Die getal wat wou saamwerk het eenvoudig toeneem. Gelowiges wat van die plan verneem het, het van oral af kos gebring.. Ander het die kos voorberei. Een vroutjie vertel: Ek het ‘n vrag hoenders in my vrieskas en baie daarvan uitgehaal en gaargemaak. Toe ek later weer in die vrieskas kyk, toe was dit weer vol... sodat ek hardop gevra het: En wie het dit nou gedoen?
            Daar was 80 mense wat betrek is. Een was kreupel en is 100% genees. ‘n Vrou het haar besondere groot erf aangebied en almal het daar byeen gekom. Intussen het ‘n groot kerk ook hulle kompleks gratis vanaf Augustus aangebied.
            Iemand het vyf groot bosse rose kom aflewer en daar was ‘n roos vir elke vrou by die geleentheid. Nog iemand het genoeg sjokolade kom aflewer sodat almal kon kry. Mense kon kos ook huis toe neem. Vir die kinders was daar lekkergoedpakkies.
Daar was ‘n kort boodskap en getuienisse en mense is gered en genees. Dit was ‘n fees.
            ‘n Gemeente in Kaapstad stuur elke Sondag 50% van die gelowiges in die oggenddienste uit op die strate. Meer en meer gemeentes begin uitreik na die verworpene, die verstotelinge, die boemelaars, straatvroue en lei hulle die Koninkryk binne.
            In gemeentes vind restourasie tussen gemeentelede plaas. Dis oral soos die eerste druppels van die Herlewing in die lied Strome van Seën van Bowe.
            Ons kry berigte van oral oor die land. Die gebeur in die stede, op dorpe, in woonbuurte. As jy jaloers is op wat gebeur, begin dan presies dieselfde doen: Reik uit... vaar uit na die diep kant toe en gooi die nette aan die anderkant van die skuite uit.

https://www.youtube.com/watch?v=V9UoDI7IJgU

Woensdag 12 Julie 2017

Die Groot Leerskool


Image result for big tree

Alice Fisher, 'n afgetrede onderwyseres, het op 'n netjiese kleinhoewe gewoon. Op die grens tussen haar en die bure, maar aan haar kant, het 'n pragtige, groot inheemse boom gestaan.

'n Nuwe buurman het aangebied om die boom af te kap en dan deel hulle die vuurmaakhout.
Alice het geweier. Sy was lief vir die boom en die boom was 'n sieraad vir die omgewing. Op 'n keer was sy vir 'n paar weke weg van die huis af. In haar afwesigheid het die buurman die boom afgekap. By haar terugkeer was die hout reeds opgekap en veilig in die buurman se pakkamer weggepak.
Alice was woedend en vir 'n paar dae lank het sy allerlei wraakgedagtes gekoester.
Alice was 'n kind van die HERE en die krag van die Heilige Gees in haar, het Christus se liefde, oor haar natuurlike toorn, laat seëvier.

Sy het 'n koek gebak en die helfte vir die bure geneem. Die deur is in haar gesig toegemaak. Weer het daar vir 'n paar dae 'n stryd in haar hart gewoed. Weer het Christus se gesindheid oorwin. Sy het klein koekies gebak en vir die bure 'n bord vol geneem. Hierdie keer is die deur op 'n skrefie oopgehou en iemand het, "Nee dankie," gemompel.

Ai, twee dae later het sy weer gegaan. Hierdie keer met 'n bos blomme uit haar eie tuin. Dit is huiwerig aangeneem, maar sy is nie ingenooi nie.

'n Week later is die buurman aan 'n hartaanval dood. Die vrou het haar tot Alice gewend om hulp. Die dae daarop het Alice vir die gesin gesorg en al die reëlings vir die begrafnis en boedelafhandeling getref.
Hoe dankbaar was Alice nou dat sy die leiding van die Heilige Gees gevolg het en liefde betoon het, toe haar natuurlike drang na vergelding gehunker het.

Sy het 'n wesenlike teenwoordigheid van die HERE ervaar. Jesus se woorde aan die kruis: "Vader, vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie", was vir haar soet woorde, want sy het geweet sy het in Sy voetspore gevolg.

Alice was nou nader aan die HERE as ooit tevore. Sondige wraak is soet vir die oomblik, maar laat 'n bitter leegheid in die hart agter. Om kwaad met liefde te antwoord, kos 'n prys, maar agterna is die hart vol vrede en vreugde.

"Moenie julle wreek nie, geliefde, maar gee plek vir die toorn... oorwin die kwaad deur die goeie." Rom 12:29

In ons sondige natuur is diepgesetelde kwaad. Die HERE gebruik omstandighede om ons geestelike lewe te verdiep en vir ons deur Sy Gees 'n oorwinningslewe te gee. So groei ons in Heiligmaking.
"Ons bid ook dat julle so sal lewe dat alles wat julle doen vir Hom vreugde sal gee. Dan sal julle lewe nuttig wees. Julle sal baie kan doen wat goed is en julle sal God al beter leer ken." Kol 1:10

Hoe pragtig is die volgende: "As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees … bruikbaar vir enige goeie diens." 2 Tim 2:21

Dinsdag 11 Julie 2017

God se vermenigvuldende krag

O’ Goedheid God’s hier nooit volprese....

Baie jare gelede in die stad Philadelphia in Pennsilvanië, Amerika was daar ‘n meisietjie wat voor n klein kerkie gestaan en bitterlik gehuil het Sy wou so graag Sondagskool toe gaan, maar sy is weggewys omdat daar geen plek meer was vir nog iemand nie.
Die pastoor van die gemeente het daar verby gestap, en gesien die ou meisietjie staan so eenkant en huil. Op sy vraag wat fout was het sy gesnik: "Ek kan nie Sondagskool toe gaan nie want dit is te vol." Die Pastoor het na haar verwaarloosde kleertjies gekyk en die toestand van die haartjies, en hy het geraai dat dit dalk een van die redes was dat hulle vir haar gesê het die Sondagskool is oorvol.
Hy het haar by die hand geneem, en saam met haar ingestap en vir haar plek gekry waar sy kon sit.


Die Tempel-kompleks vandag

Die meisietjie was so aangeraak oor wat daardie dag gebeur het, dat sy daardie aand nie kon slaap nie, sy het bly dink aan al die kinders wat nie kan Sondagskool toe gaan omdat daar nie vir hulle genoeg plek was in die Huis van Aanbidding nie.
Twee jaar later het die ouers die Pastoor laat roep omdat hulle dogtertjie altyd van die Pastoor gepraat het. Hulle dogtertjie het gesterf, en hulle het hom gevra om asseblief die begrafnis waar te neem.
Toe hulle haar liggaampie opgetel het, het hulle onder haar ‘n verflenterde beursie gekry, wat lyk soos iets wat van ‘n vuilgoedhoop gered is. In die beursie was ‘n Sondagskool offerhande koevertjie met 57c daarin, en ‘n handgeskrewe nota wat deur haar geskryf is wat lees: "Hierdie is ‘n bydrae om die kerk groter te bou sodat meer kinders die Sondagskool kan bywoon."
Dit het haar twee jaar geneem om die 57c bymekaar te maak. Dit was ‘n liefdesoffer. Toe die Pastoor die nota die dag met haar begrafnis lees, het trane oor sy wange gerol, hy het almal die verhaal van haar toewyding en liefde vertel. En hy het vir die gemeenteleiers gesê, hier is 57c, ‘n meisietjie se totale besittings, en hy het hulle daardie dag uitgedaag om fondse in te samel sodat die kerk vergroot kon word, ter nagedagtenis aan ‘n baie pligsgetroue meisietjie se wens.
Die gemeente het begin werk en fondse insamel en offergawes het van oral oor begin instroom. Binne vyf jaar het hierdie meisietjie se 57c gegroei tot ‘n bedrag van $250,000, ‘n baie, baie groot bedrag in die 1900s.
‘n Arm dogtertjie se 57c het gegroei en die gemeente het begin bou. As jy ooit in die stad Philadelphia kom, gaan soek Temple Baptist Church. Dit het sitplek vir 3 300 siele. Daar is ook die Temple Universiteit waar honderde studente opgelei word, en ook die Good Samaritan Hospitaal was alles gebou uit n arm, verwaarloosde meisietjie se 57c.
Daar is ook ‘n Sondagskool kompleks opgerig wat plek het vir honderde Sondagskool kinders sodat geen kind in daardie area ooit weer nodig het om buite te staan en huil omdat daar nie plek binne is nie.


Hatti Mary Wiatt

In een van die vertrekke van die gebou is daar ‘n vergroting van ‘n pragtige meisietjie, Hatti Mary Miatt, wat met bloed en sweet 57c bymekaar gemaak het, sodat so ‘n massiewe kompleks opgerig kon word, En langs haar foto is ‘n foto van haar Pastoor, Dr Russel H Conwell, skrywer van die boek 'Acres of Diamonds".


Dr Russel H Cornwell

Sy was klein, sy was arm en sy was verwaarloos, maar sy het ‘n brandende begeerte gehad om iets vir haar God en medemens te doen, en ek en jy dink miskien dat 57c geen waarde het nie, maar in die Hande van ons Skepper word 57c, ‘n aanbiddingsentrum wat 3 300 siele sitplek gee, en dit word n Universiteit, en dit word n hospitaal, en n Sondagskool kompleks soos sy van gedroom het.


Temple Universiteit (Foto: Ryan Brandenberg)

Die verhaal neem ons terug na die seuntjie met die broodjies en vissies wat 5 000 man, hul vroue en hul kinders gevoed het... en boonop het 12 mandjies brokstukke oorgebly
Neem wat jy het, enigiets...selfs tyd, gee dit vir God, Hy sal die res doen.

Vrydag 07 Julie 2017

Die lewe in die GEES is die allerantwoord

Image result for John 3:30
Ons is siel, gees en liggaam. Ons sielslewe is:
·       die gebruik van ons natuurlike vermoëns
·       om hardkoppig, eiesinnig en ongehoorsaam aan die HERE te wees
·       voor te gee dat ons wys is met ons baie meninge en planne, en
·       deur te soek na geestelike ondervinding deur middel van gevoel.
Dit is omdat:
·       die sielslewe self is die natuurlike vermoë en die orgaan van die siel is verdeel in
·       die wil
·       die denke en
·       emosie.
Omdat die siel hoofsaaklik bestaan uit die gedagtes, die emosie en die wil, is die ondervindinge wat Gelowiges beleef verskillend en selfs in kontras met mekaar.
Sommige is op hulle gedagtes aangewese, ander leuen oor na die emosie en sommige staan sterk op hul eie wil.
Alhoewel hierdie aspekte van leef totaal verskil, is en bly dit ‘n sielslewe.
‘n Gelowige wat oorwegend verstandelik is, mag na ‘n ander Gelowige wat op emosie fokus, as ‘n sielslewe verwys en natuurlik omgekeerd, maar eintlik is beide hierdie Gelowiges sielewesens.    
Die mees belangrike vir Gelowiges is om die Lig van God in hul lewens toe te pas, sodat die Lig hulle vry kan maak, pleks daarvan om hulle kennis as meetinstrument te gebruik.
As kinders van die HERE bereid is om God se Lig te gebruik om hul lewens te verlig, sal hulle ‘n heel ander geestelike lewe openbaar as tans.
Diegene wat op hul verstandelike deel van ontvang en verspreiding van waarheid vertrou, beleef die hoof manifestasies van die sielslewe.
Selfs die mees geestelike ondervinding en die grootste waarheid, word gewone verwerking van die verstandelike, die gedagtes.
  Alhoewel mens se lewe nie onaangeraak is nie, is sy oorspronklike doel om sy gedagtes tevrede te stel.
Kyk as voorbeeld na die moeders wat hul ongehude babas laat aanneem het, later getrou het, maar nooit aan hul man en kinders iets van daardie aangenome baba openbaar het nie. Die arme moeder probeer dit geheim hou en bedink alle selfregverdiging solank haar gedagtes stilgehou kan word.
Ja, sy is Wedergebore, kind van God, sal beslis die Ewigheid as geredde siel ingaan, maar intussen kan sy nie geestelik vorder nie weens  die binding in haar gees. Baie lewe eintlik in vrees dat iemand van hul verlede kan uitvind.
Wanneer Gelowiges in sielsverband beheer word deur hulle verstand... hulle gedagtegang. Dan is hulle verstand gewoonlik vol geestelike begeertes want hulle wil so graag oor dir drumpel van siel na gees beweeg, maar hulle vertrou meer op hulle denke as op God se openbaringe. Wat hulle met hulle denke beplan is groter as hulle gebedslewe en afhanklikheid van God.
“Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
Gelowiges moet dus die punt bereik waar hulle van sielslewe oorskakel na die geesteslewe. Dis oproep van die Vader self.
Soms word geestelike ondervindinge misverstaan en beskou as geestelike emosie. Sommige Gelowige  sielsgesindes neig na emosie in hul soeke na gevoelens. Hulle wil graag die teenwoordigheid van God in hulle harte en liggame ervaar, iets soos ’n liedesvuur.
Die opregte geestelike Gelowiges beleef soms ook gevoelens, maar hulle maak nie staat op sulke gevoelens vir byvoorbeeld blydskap nie.
Die emosionele Gelowige kan die HERE net dien wanneer hy of sy hierdie gevoelens beleef. As hulle nie gevoelens beleef nie, dan beweeg hulle ook nie verder vorentoe nie.
Die wil van die mens is ‘n gewone manifestasie van die sielslewe. Die wil is selfregering, ook genoem die eie-ek. Hulle wil alles verstandelik verstaan. As hy gevoelens beleef dan is dit vir sy eie genot. Hy handel volgens sy eie denke en planne. Hy loof homself en sy fokus is op homself.
  So iemand maak baie planne, werk baie hard, is gedurig besig, rusteloos en verward.
Wanneer hul emosie betrokke raak, is hy of sy opgewonde, maar sodra die emosie verdwyn, is hulle verbysterd, verwese in hulle wil en denke. Dis ‘n lewe ver weg van die geestelike lewe van die HERE. So iemand kan nooit geestelike vrugte lewer nie.
Wedergebore? Ja, sekerlik. Die probleem ontstaan by die bekering. Wedergeboorte en bekering vind saam plaas. Jy word gered en bekeer jou van jou ou weë.
Maar nou is jy eers in Graad 2 van jou geestelike lewe. Soos wat die Heilige Gees vir jou nog en nog dinge in jou lewe uitwys wat in jou pad van vordering staan, bekeer jy jou ook daarvan. Dit word ook genoem, “Die pad na Heiligmaking.”
Die pad vanaf Graad 2 word deur jouself bepaal. Jy besluit hoe ernstig jy met God en jou lewe is, en jy grawe jou in sy Woord in. Jy leer deur die Woord en jou foute.
Jy moet leer om te wag op die HERE... doodstil net te wag. Speel geestelik musiek sag in die agtergrond. En spandeer meer tyd in gebed. Ander gelowiges verwys na die geestelike Gelowiges as “diep gelowige mense.” Jy moet ook een word.
In die Geestelike lewe beleef jy die Lewende Jesus, die Engele, opanbaringe, ontvang jy gawes. Jy moet soos Jesus word. Joh 3:30
Daar word ook verwys na die verstandelike Gelowiges as vleeslike Gelowiges. Hiervan moet jy wegkom. Jy skakel jou verstand af. Jy wil die Gees van God beleef en daarvolgens handel.
Vleeslik verloor jy jou humeur. Jy sê lelike dinge, goed wat nooit uit jou mond moes kom nie. Jy is selfs onredelik. Die eie-ek neem eenvoudig oor. Dis soos ‘n hellevuur by die huis en in die gemeente.
Die geestelike Christen wend hom tot sy knieë en wag op die fluisterstem van die Heilige Gees en handel daarvolgens.

Sondag 02 Julie 2017

Eendragtige Gebed ‘n Dringende Noodsaak


Image result for Groep mense wat saam bid

Daar is geen groepie te gering of ‘n plekkie te klein vir Gelowiges om die HERE te dien ver bo hulle eie vermoëns nie.
“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” Matt. 18:20.
Dit is nie die grootte of sterkte van ons vermoëns wat tel nie, maar God se onbeperkte krag en genade wat ons as indiwidue, ons gesinne, ons gemeentes en ons werkplek kan transformeer tot eer van sy Koninkryk.
            Die Kerk van Christus was in ‘n stadium vol van die geloof, vol van die Heilige Gees en vol van God se krag. Daardie klein eendragtige gemeentetjie het ‘n ongeredde wêreld omgekeer sodat dit vandag die grootste beweging in die wêreld is.
            Daardie gemeentetjie se handboek, die Bybel, die Lewende Woord van God, is vandag steeds die grootste verkoper van alle boeke in die wêreld.
            Die klein gemeentetjie van destyds het in Jerusalem ontstaan. Dit was in dieselfde dorpie waar Jesus Christus net twee maande tevore gekruisig was. Volgens Hand. 1:15 was hulle net 120 mense.
            Daar was egter ‘n uitstaande kenmerk onder hulle aanwesig: Hulle was Eendragtig!
            Hulle Eendragtigheid, asook hulle geloof en liefde het daartoe gelei dat die getal van 120 op een dag toegeneem het tot 3 120!
            Hulle het almal van Galilea af gekom. Hand. 1:11; 2:7. Daar was niks geestelik belangriks van hierdie mense verwag nie. Hulle was gewone mense wat Gelowiges geword het.
            ‘n Ander uitstaande kenmerk was dat die diens in die vorm van gebede was. Al die lidmate was Eendragtig in die gebed en hulle het almal die krag van God in en om hulle beleef.
            Die waarheid en krag van Eendragtigheid is die grootste en kragtigste waarheid op hierdie aarde.
            Inderdaad was daardie gebedsdiens ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak.  Nie dat gebed as sodanig magtig is nie, maar onse God is!
            Dis die soort gebed en die soort reaksie wat Suid-Afrika nodig het.
            Jesus Christus het belowe: “Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die Hemele is.
            “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde. Matt. 18:19-20.
            Hoeveel mense in jou dorp of woonbuurt bid daagliks as gesin Eendragtig saam?
Die belangrikste byeenkoms van Christene, die bidure, word net deur enkeles bygewoon.
            Predikante moet dit straks oorweeg om die bidure ‘n tyd lank af te skaf en die oggend- en aanddienste op Sondae in gebedsdienste te omskep, waar daar nie gepreek word nie, net gebid word, waar daar Eendragtig tot God geroep word.
            Doen dit.  Julle word uitgedaag, doen dit!
            As ons die egskeidings wil stop, die gesinsprobleme wil oplos, die gemeente wil laat groei, die sinnelose moorde en verkragtings, asook die geweld wil stop, die broodnodige Herlewing wil aanvoer, laat ons dan in Eendrag begin saam bid sodat God se onmeetbare vermenigvuldende krag in ons gemeentes en gesinslewens in werking kan kom.
“Ag, hoe het die getroue vesting 'n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag — en nou moordenaars!” Jes. 1:21.
            Ons kan die situasie omkeer deur by onsself te begin. As Sondag na Sondag se prediking niks oplewer nie, begin dan bid en nogmaals bid.
            Begin deur te verootmoedig:

·        Ps 69:5   o God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.
·        Ps 90:8  U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.
·        Ps 32:5  My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.
·        Ps 106:6  Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het verkeerd gedoen, goddeloos gehandel.
·        Ps 25:7  Get. Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!
·        Ps 25:18  Resj. Aanskou my ellende en my moeite, en vergeef al my sondes.
·        Ps 38:21  Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!
·        Ps 38:22   Maak tog gou om my te help, Here, my heil!
·        Ps 19:13  Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding.
·        Ps 34:13   Noen. Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie.
·        Ps 34:14   Samek. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.
·        Ps 38:18   Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.
·        Ps 41:4   Ék het gesê: o HERE, wees my genadig! Genees my, want ek het teen U gesondig.
·        Ps 51:2   Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
·        Ps 51:3   Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
·        Ps 51:4   Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
·        Ps 51:9   Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
·        Ps 79:9  Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.
·        1 Joh. 1:9-10  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
·        Ps 85:2   U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela.
·        Ps 91:10  Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;
·        Ps 103:10  Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
·        Ps 119:11  Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
·        Open. 5:13b  : Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!

“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
“As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.
“Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.” Jes. 1:18-20.
“Onthou julle van elke vorm van kwaad.
“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die Wederkoms van onse HERE Jesus Christus!
“Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” 1 Thes 22-24