Woensdag 19 Julie 2017

God eerste, altyd!


Die uitvinder van reuse grondverskuiwingsmasjinerie, Robert G. LeTourneau, het eintlik bekend geraak deur die reuse bedrae geld wat hy vir evangelisasie- en sendingwerk geskenk het.

Image result for robert g. letourneau

In King's Bussiness beskryf hy hoe sy kerk se jongmense gereeld een aand 'n week by 'n sendingkerk dienste gaan hou het. As jongman het hy altyd met hulle saamgegaan.
Een aand kon hy nie gaan nie. Daardie tyd was sy fabriek nog klein en hy moes die ontwerp van 'n nuwe masjien, waaroor hyself nog nie seker was nie en wat die volgende dag deur kontrakwerkers vervaardig sou word, voltooi. Hy kon nie sy werk doen en ook nog die diens by die sendingkerk gaan hou nie.
"Die HERE en ek was in ‘n taamlike worsteling terwyl ek moes besluit wat my te doen staan," skryf hy. Hy het nie geweet hoe hy die masjien nog die aand geteken gaan kry nie, maar hy het tog saam met die jongmense na die sendingdiens toe gegaan. Dit was 'n buitengewone geseënde aand.
Ongeveer tienuur die aand kom hy weer tuis. Moeg, maar vol vreugde na die aand se bedrywigheid by die sendingkerk, gaan hy by sy tekenbord sit.
Hy skryf: "Ek het by my tekenbord gaan sit en binne vyf minute was die uitleg en plan so duidelik as wat kan kom. Die klein stukkie masjienerie wat ek daarna nag ontwerp het, was die sleutel masjien wat ek my lewe lank gebou het. Dit loon ‘n mens om God eerste te stel.”
            Nog nooit het dit iemand berou om God se belange eerste te stel nie, al lyk dit vir die oomblik of dit 'n nadelige gevolg gaan hê.
Toe God Abraham gevra het om sy seun, Isak, te offer, het dit gelyk of hy sy seun gaan verloor. Hy het dadelik gehoorsaam, maar in plaas van sy seun te verloor, het hy 'n groot nageslag vir hom gewen. God het gesê: "Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het…in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam." Gen 22:17,18
Die slotsom van die Psalmskrywer is: "HERE, ek het besluit dit is vir my die belangrikste in die lewe om te maak soos U gesê het." Ps 119: 57
Wanneer ons God se belange ons eerste belang maak, sorg Hy vir ons. Vir seker!
            “Seun, gaan werk vandag in die wingerd." Matt 21:28