Maandag 25 November 2019

Die Hoop beskaam nie, nooit nie

·       Op spesiale versoek kyk ons dieper na Habakuk se optrede.


Die Heilige Gees  is besig om oor die aarde en die nasies te beweeg. “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Hab 2:14

            Habakuk gee die toon aan. Hy sê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

            “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17-19

            Hy skilder ‘n prentjie soos ons daagliks van hoor in die huidige droogte en sê: “Al is alles tot niet...nogtans sal ek jubel in die HERE.”

            Hy sê nie dan “sal” hy jubel, of “weer” jubel nie, hy gebruik die woord “nogtans” (desnieteenstaande) sal hy jubel. M.a.w. hy jubel altyd in die HERE, of dit nou goed of sleg gaan. Daar is net te veel kere wat die HERE belowe om in te gryp. Mens kan of murmureer en sink of jy kan op God se beloftes staatmaak.

            Waarom die swaar smekende gebede vir uitkoms? Ons weet God SAL beslis uitkoms gee. Hoop, in die Bybel beteken nie “ek wens” nie. Dit beteken “toekomsfeit”. Daarom hoop ons op die HERE, ons hoop op die toekoms, ons hoop op die Wederkoms. Omdat ons weet dat ons weet dat ons God ons nie in die steek sal laat nie, sê  ons, vol van die geloof: “Die hoop beskaam nie, nooit nie.”

            Iemand bel. Dan antwoord jv so: “Ek wag vir die reën. Dit kom beslis. As ek dit nie geweet het nie dan was ek lank nie meer ‘n boer nie.  Soos Habakuk jubel ek voor die HERE. Ek is gereed vir die reën en ek is gereed  vir die Wederkoms, watter ook al eerste gebeur. Sorg dat jy en jou mense ook gereed is. Goedheid en guns.”

            Wat Habakuk beskryf, is ‘n ontsettende ramp, maar te midde van die ramp is hy vol hoop... so sterk dat hy selfs jubel voor die HERE.

            In die wêreld waarin ons leef maak dit nie sin nie. Habakuk het ‘n totale verlies gelei... maar dit is die wonder van geloof in God. Let ook op, ons blydskap moenie van omstandighede afhang nie.  Ons moet blydskap beleef wat ook al die omstandighede mag wees.

            Te midde van erge rampspoed het mens ‘n keuse: Of die ramp oorweldig jou tot in die afgrond, of jy jubel in die HERE. As jy toelaat dat die ramp jou oorweldig, dan sal alles net erger word en nie beter nie. Hoe gaan ons positief bly wanneer alles verkeerd loop?

            Ons gehoorsaam die opdrag:  Word VERNUWE in julle GEMOED (DENKE)! Rom. 12:2. Hierdie vernuwing is dringend noodsaaklik en is ons sleutel tot ‘n oorvloedige geseënde toekoms.

            Ons lewe beslis in die Eindtyd. Die rukkie wat oor is besef ons, ons kort ‘n nuwe gesindheid, een wat besef dat waarde lê in die toekoms en om dit te bereik moet ons s toekomsmense wees.

            Net nog twee dinge: Hy sê hy sal jubel voor die HERE, die God van sy “heil” (verlossing)     en

Hy sê: Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte (klein bokkies), en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente. Hy sing dit sommer spelende op snaarinstrumente. As jy nie so iets het, speel CD’s... en jubel.  Let op hoe interessant word dit nou: Laat ons dan (wanneer?) gedurig deur Hom aan God 'n lofoffer bring (wat is ‘n lofoffer?), dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.

“Vergeet die weldade en mededeelsaamheid nie, want God het 'n welbehae aan sulke offers.” Heb 13:15-16. Ons bring nie meer diere-offers nie, maar lofoffers met ons lippe asook weldade soos om boere in nood by te staan. – Wekroep  

Die HERE het jou nodig... meld aan


Ons kan nie langer in die kerkbanke sit en ons verbeel ons dien die HERE nie. Elke man, vrou en jongmense word benodig in die grootste en omvangrykste Herlewing van alle tye waarin ons triomfantelik die laatoes moet inbring.

Sedert die skepping van die mens het die Almagtige God deur die eeue bewys gelewer oor watter waarde Hy heg aan ‘n enkele persoon, EEN MAN, EEN VROU op hierdie aarde.

            God werk deur mense. Daar is altyd ‘n persoon betrokke. Het Hy al deur jou gewerk?

            Aan EEN man, Adam, word die mag gegee om al die diere van die aarde te noem soos hy wil. Die invloed van die val van dieselfde Adam word vandag nog oor die ganse aarde deur die ganse mensdom gevoel.

            EEN man, Noag, word verkies om die ark te bou, om sodoende ‘n spruit vir die menslike geslag aan die lewe te hou.

            EEN man, Abraham, word geroep uit Ur van die Galdeërs om die vader  van  alle gelowiges te word en die vader van die geslag waaruit Jesus Christus gebore sou word. So is Abraham ons voorvader en al sy seëninge behoort vandag ook aan ons.

            En let op, Abraham en Sara en Sagaria en Elizabeth moes beide op hoë ouderdom vir die HERE ‘n taak verrig.  Die HERE gebruik selfs oumense.

            EEN man, die hakkelende Moses, word geroep om die hele volk Israel, uit Egipte uit te lei en vir veertig jaar deur die woestyn te neem. Hy tree op as skakel tussen God en die volk.

            “En ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie verwoes nie, maar Ek het niemand gevind nie.” – Eseg. 22-30

            Toe God die volk wou verdelg, tree Moses  –  EEN MAN  –  op as voorbidder dat die  volk gespaar sou word.

            Na hom volg weer  EEN  man, Josua, en dan elkeen van die Rigters op hul beurt, die profete  Nehemia, Daniël  en andere  wat  as  EENLINGE opgetree het tussen God en die volk, en wat het hulle nie alles uitgerig nie!

            Die Nuwe Testament begin met Maria. God het haar nodig gehad om Jesus voort te bring. Dan is daar die optrede van Johannes die doper, as voorloper van Christus.

            Toe was daar Jesus Christus, die grootste leraar, prediker, profeet en hervormer wat die wêreld ooit geken het, en dit bo en behalwe Sy liefdevolle Middelaars- en Versoeningswerk.

            Na Jesus volg die apostels waaronder Petrus a toe weer Paulus  –  EEN man na die ander.

            En verder deur die geskiedenis van die Kerk het God van tyd tot tyd die EEN man gebruik om Sy doel te bereik. Daar was manne soos Luther, Calvyn,  Wesley, Murray, Moody, Hudson Taylor, Billy Graham, George Fuller,   Torrey,  Finney, John Lake  en andere wat as EENLINGE opgetree het en uitgeblink het in die werk van God en wonderlike getuienisse vir Hom op aarde geskep het.

            Maar, wat van die behoefte in hierdie tyd waarin ons, ons bevind? Ons het nou, soos seker nog nooit tevore nie, die hulp en beskerming van die Allerhoogste aan alle kante nodig.

            Wat van jou, jy wat nou hier lees? Al gewonder waarom jy juis hierdie boodskap nou moet lees?  Is dit blote toeval dat jy hierdie artikel lees? God soek ‘n man! Toevallig – toe val die lig – ook ‘n VROU. Vroue het ook groot rolle in die bou van die Christelike Kerk vertolk. Gemeentes is in hulle huise gestig. Meer as 180 vroue het leidende rolle in die Bybel vertolk, meer as 30 van hulle in die Nuwe Testament.

            Van hulle was en is vroue soos Marilyn Hicks, Paula White, Patricia King, Kathryn Kuhlman, Cathrine Booth, Joyce Meyer, Jennifer LeClair, Rachel Oakes en talle ander

            Dit is nodig dat manne en vroue VANDAG na die stem van die HERE luister en sonder verdere versuim na vore tree en aanmeld vir diens –  heldediens – waardeur hierdie volk gered en vrygekoop sal word!

            Christene is besig om in toenemende maat by die geledere van verskeie  gebedsforums en verootmoediging byeenkomste in te skakel. Hulle reageer op die stem van EEN, die Heilige gees.

            Hulle het Sy stem gehoor. Hulle het reageer. Hulle is nou voorbidders vir die volk. Hulle tree in vir die volk, vir ons kinders, vir ons toekoms, vir die bou van die Koninkryk van God en die uitbreiding daarvan.

            God soek gereeld manne en vroue wat ‘n bres vir Hom kan slaan, ‘n bres vir die Volk kan slaan. Manne en vroue met durf en daad, wat soos Koning Dawid sal sê: “Met my God spring ek oor ‘n muur.”

            God het manne en vroue nodig in die tronke, in die hospitale onder die armes, die boemelaars, by jou bure, by die skole, die ouetehuise.

            Bemoedig mense, lê vir hulle hande op, bid vir hulle. Gee kos en klere.

            Sal God so ‘n man, so ‘n vrou, ook in jou vind? Sal jy gehoorsaam wees aan Sy roepstem? Die Heilige Engele staan ons in alles by.

            Nee, dis nie die werk van die predikante (herders) nie. Herders kry nie lammers nie, net skape kry lammers. Herders se taak is om die skape so goed te voed (op te lei) dat hulle selfs twee-, drie- en vierlinge aanbring!

            Moenie dink aan hoe ver jy tekort skiet nie. Abraham het ‘n voorspoedige en vol lewe gelei toe die HERE hom die opdrag gegee het dat hy moes oppak en trek, en dit boonop deur die woestyn, die vreemde in.

            Waar hy en sy mense gewoon het, het dit baie goed met hulle gegaan. En toe die opdrag, om met alles – vroue, kinders, babas, diere, groot en klein, deur die woestyn te trek sonder dat hy geweet het waarheen.

            Abraham het gladnie geweet waarheen by moes trek nie, maar hy het  geweet saam met Wie hy trek!

            Jy sal nie in jou eie krag optree nie. God sal jou  toerus met krag. Hy het dit met almal voor jou gedoen en Hy gaan dit weer met almal van ons doen.

            “Nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, sê die HERE van die leërskare.” –  Mal. 4:6

            God soek ‘n MAN en ‘n VROU wat die muur van gebed sal bou  “wat gedurig die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie… en Hom nie met rus sal laat nie, tot Hy Jerusalem (Sy gemeente)  bevestig en maak tot ‘n lofoffer op die aarde.” – Jes. 62:6,7, “want die Here – Sy oë deurloop die aarde(hoekom?) om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…..”2 Kron. 16:9

            God soek na ‘n Man, ‘n Vrou.  Is jy bereid om aan te meld? Sê vandag nog vir die HERE: “Ek meld aan vir diens. Laat U wil geskied.” – Wekroep

Maandag 18 November 2019

Nog ses maande, dan hongersnood...


Suid-Afrika is deel van 16 Suider Afrikalande  wat onder ‘n alles vernietigende droogte deurloop. By 400 Noord-Kaapse boere sit die wolf reeds voor die deur. Die droogte is by verre groter as wat vermoed was. Mens en dier kan nie sonder kos en water oorleef nie.


            Elise Tempelhoff van NETWERK24 berig: Altesame  45 miljoen mense in Suider-Afrika sal binne die volgende ses maande honger ly.

            Dít word toegeskryf aan die veranderende klimaat. So het die VN se Voedsel-en-landbou¬organisasie (FAO) en die Wêreldvoedselprogram (WFP) drie weke gelede gister in ’n gesamentlike verklaring gesê.

So wag die wolf voor die deur. Dis baie laat...

Volgens die FAO gaan ’n rekordgetal mense in die 16 lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap binnekort “ernstige kostekort” ervaar.

“Daar is nou sowat 11 miljoen mense in nege lande in hierdie streek wat honger ly en ’n krisis ervaar met toegang tot kos. Dié mense woon in Angola, Zimbabwe, Mosambiek, Zambië, Madagaskar, Malawi, Namibië, eSwatini (voorheen Swaziland) en Lesotho.

Die organisasies het ’n dringende beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om finansiering beskikbaar te stel en te help om “klimaatskokke” in dié streek die hoof te bied en gemeenskappe te help om dit te weerstaan.

Margaret Malu, die WFP se waarnemende streekdirekteur vir Suider-Afrika, sê dié streek ervaar nou die ergste droogte in 35 jaar terwyl die plantseisoen reeds begin het.

“Ons moet die honger van miljoene mense probeer afweer, maar ook in gemeenskappe belê om weerstand te kan bied teen meer en erger droogtes, vloede en storms,” sê sy.

Sy wys daarop dat klimaatsverandering chaos veroorsaak in ’n streek waar groot en kleiner boere geheel en al van reën afhanklik is. Die groeiende probleem met honger, wat sowel stedelike as landelike gemeenskappe ervaar, word vererger deur stygende kospryse, grootskaalse verliese aan vee en toenemende werkloosheid.

Die VN sê in die verklaring die FAO en die WFP het hul pogings om in te gryp verskerp en beplan om 11 miljoen mense met kos, asook beter boerderymetodes en water- en grondgebruik by te staan. Die organisasie is tans ook besig om boere se vee teen siektes in te ent.

“Die reën wat te laat kom, lang droogtes, twee massiewe siklone en ekonomiese uitdagings is ’n resep vir ’n ramp,” sê Alain Onibon, die FAO se koördineerder in Suider-Afrika.

Volgens hom sal dit boerderygemeenskappe minstens twee tot drie goeie groeiseisoene neem om weer op die been te kom.

Luidens die verklaring styg Suider-Afrika se temperature tans twee keer vinniger as die internasionale gemiddelde en die lande wat die hardste getref gaan word, is die Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe.

Waar lê die oplossing. Hoegemaak dat dit begin reën soos in vanmelewe se tyd: Tien dae sonder ophou?

Ons murmureer, ons bid so swaarmoedig.        Alles ten spyt moet ons soos Habakuk maak en jubel.  Habakuk sê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

            “Die HERE God is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 17-19

            Ten spyte van wat ook al, jubel Habakuk. Hy was altyd bly. Hy het nooit murmureer nie.

            Altyd beteken presies wat dit sê soos in: Wees altyd bly.

Dog, hoe is mens bly en dankbaar wanneer daar fout is, wanneer dinge verkeerd loop, wanneer jy onrustig is, of seer het of hartseer is? Kyk verby al hierdie seer. Waarde lê in die toekoms.

            Eenvoudig, ons is bly omdat ons weet dat wat ons omstandighede ook al is, die Almagtige God, ons God, het reeds die antwoord.

            “Wees altyddeur bly.

            “Bid en Jubel sonder ophou.

            “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”
1 Thes 5:16-18

            Dalk moet alle gemeentes die preke vir ‘n tyd lank op Sondae stop en die hele diens gebruik in lofprysinge, aanbidding en gebed, dalk ook sommer daar op die dorre plase.  Waar twee of drie in Sy naam vergader, daar is Hy. Verwelkom Hom met ‘n vreugdekreet en jubelende sang vergesel deur musiekinstrumente. – Wekroep

Volharding bring oorwinning


Daar waar jy werk is jou opleidingskool vir dit wat die HERE jou voor voorberei.

            Rondom jou is baie leermeesters. Sommige leer jou van liefde en vooruitgang. Ander toets jou geduld, jou uithouvermoë, jou bereidheid om geleer en  geskaaf te word. Jy sien baie se optredes teenoor jou as onregverdig, vermetel, vernietigend, vernederend. Party dae maak niks sin nie.

            Jy bid al hoe lank vir ‘n ander werk. Wat laat jou dink dat dit daar “beter” sal gaan? Wat is dan aan die gang? Hoekom moet jy so swaar trek, roep jy benoud? En die HERE antwoord:

            “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” Ps 32:8

            Hoekom? En die HERE antwoord: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.”

            Wanneer dinge volgens jou verkeerd loop. Herinner jouself net daaraan jy is in ‘n opleidingskamp. Die HERE is besig met jou en berei jou voor vir jou veel groter taak. Een persoon sê nou anderdag: Voel my soms ek gaan deur ‘n vallei van doodskaduwee.

            Jy gaan nie deur die dood nie, net deur die skaduwee. Watter hond se skaduwee het jou al ooit gebyt? Volhard, die antwoord is straks veel nader as wat jy dink.

            Opleiding gaan gepaard met die soet en die suur. Wanneer wie ook al hoe in daardie kamp teenoor jou reageer, bly kalm en sê: “Dankie Jesus, u berei my voor vir my taak. Dankie vir al die mense wat U in die proses gebruik. Sommige weet nie eers hulle is werktuie in U hand nie.”

“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

“Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” Spr 3:5-6


Pastoor Nick Nilson van die bekende Lakewood Kerk in Amerka met sy 52 000 lidmate, was eens op ‘n tyd ‘n beroeps sokkerspeler. Hy had pas ‘n nuwe kontrak geteken, toe sy kuitspier skeur... sy eerste besering ooit.

            Na ‘n operasie sit hy eendag langs die veld en herstel toe hy die drang beleef om die Evangelie te verkondig. Hy het dadelik die miljoene van die sokker verruil vir die prediking van die Evangelie.

Hy sê as dit nie vir die ernstige besering was nie, sou hy nie die stem van die HERE gehoor het nie.

Pastor Nick Nilson - Lawood-Capture 


            Sy verhaal laat mens ook aan die volgende verhaal dink:

            Die  enigste oorlewende van ‘n skeepsramp het op ‘n klein en verlate eiland uitgespoel.      Hy het ernstig gebid dat die HERE hom moet red en elke dag het hy die horison dopgehou vir ‘n moontlike verbygaande skip, maar daar was niks.

            Uitgeput het hy uiteindelik vir hom ‘n hut gebou. Kos was skaars. Hy het stadigaan bymekaar gemaak wat hy kon. Wie weet hoe lank hy daar sou moes bly.

            Een dag toe hy weer na kos gaan soek het, het hy by sy terugkeer gesien dat sy hut aan die brand is. Hy kon die brand nie blus nie. Alles wat hy bymekaar het, is vernietig. Nodeloos om te sê die man was moedeloos. “God, hoe kon U dit aan my doen,” het hy geskreeu.

            Ure later het die dreunende motore van ‘n skip hom wakker gemaak. Die bemanning het hom kom red.

            “Hoe het julle geweet ek was hier,” wou hy van die bemanning weet.

            “O’ ons het jou rooksein gesien,” het hulle geantwoord.

            Dis maklik om mismoedig te word. Maar (uiters belangrik) as Christen is ons veronderstel om altyd bo die omstandighede te lewe en nooit onder die omstandighede nie. Ons moet God so goed leer ken dat ons sal besef dat wat ook al gebeur, God het ‘n plan daarmee, al word mens soos Josef ook onder in ‘n put gegooi.

            God is aan die werk in ons lewens, selfs te midde van pyn en lyding. Onthou, volgende keer wanneer jou hut tot op die grond afbrand, dan is dit dalk bloot ‘n rooksein wat roep na God se Genade en antwoord. Kyk uit, Jesus is straks op pad.

            Vir al die negatiewe dinge wat in ons lewens gebeur, het God ‘n positiewe antwoord. Dan besef os nooit was enigiets ooit negatief nie.

·       Wanneer jy sê iets is onmoontlik, dan sê God: Alle dinge is moontlik. Luk 18:27

·       Wanner jy moeg is, bied God jou rus aan. Matt 11:28-30

·       Wanneer jy meen niemand het jou lief nie, sê God Hy is beslis lief vir jou. Joh. 3:16

·       Wanneer jy meen jy kan nie meer voortgaan nie, dan sê God Sy Genade is vir jou genoeg. 11 Kor 12:9

·       Wanneer jy meen jy weet nie meer herwaarts of derwaarts nie, dan sê Hy, hy sal vir jou die rigting aandui. Spr 3:5-6

·       Wanneer jy sê jy kan dit nie doen nie, dan sê God jy kan wel. Phil  4:13

·       Jy sê dis nie die moeite werd nie, maar God sê dit is. Rom  8:28

·       Jy meen jy kan nie kop bo water hou nie, maar God sê Hy sal in al jou nood voorsien. Phil  4:19

·       Jy is vol van vrees, maar God sê Hy het jou nie ‘n gees van vrees gegee nie. 11 Tim 1:7

·       Jy sê jy het nie geloof nie, maar God sê Hy het aan ons elkeen ‘n mate van geloof gegee. Rom 12:3

·       Wanneer jy meen jy is nie skerp genoeg nie, sê God Hy het aan jou wysheid gegee. 1 Kor 1:30

·       Wanneer jy meen dat jy eensaam is, sê God Hy sal jou nooit verlaat nie. Heb 13:5



Soms moet ‘n mens se hut (dalk ‘n afgod in jou lewe) afbrand, sodat jy weer die genade van God kan smaak. Bestudeer gerus Romeine agt. – Wekroep 

Woensdag 13 November 2019

Kom Huis toe...



Sommige mense beleef ‘n misverstand oor wat berou is. Berou is nie perfeksie nie, maar ‘n verandering van rigting.

Ons gaan praat oor die gelykenis van die Verlore Seun. Jesus vertel ‘n storie wat perfek illustreer wat dit beteken vir ‘n individu om berouvol te wees. In Luk 15:11-12 sê Jesus “Hy het ook gesê: 'n Man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel.”

            Die Vader het die seun sy sin gegee en kort voor lank het die seun alles vermors. Toe hy tot besinning kom besef hy sy vader se slawe het genoeg kos en hier is hy besig om te sterf van honger.

            Hy neem ‘n besluit, hy had berou. Berou is ‘n verandering van gedagte, ‘n verandering van hart wat veroorsaak dat ‘n persoon omdraai en ‘n nuwe rigting inslaan.

In strofe 16-19, sê hy “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die Hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.”

Berou is meer as ‘n verandering van houding, van gedagte, van hart; dit lei ‘n persoon in dit wat hy glo, om, om te draai, of terug te keer en ‘n nuwe rigting in te slaan.

Ons het almal van God die Vader af weggedraai, en van die Hemel, ons tuiste. Die Bybel sê in Jes 53:6 “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”

            Die storie gaan verder in strofes 20-24 “En hy het opgestaan en na sy vader gegaan.” Een aand het ek hierdie storie aan ‘n man vertel wat dit nog nooit gehoor het nie, en hy het net geweet dat wanneer die seun terugkeer, die vader sou sê “Seun, kyk wat het jy gedoen. Jy het al my rykdom vermors, alles wat in my lewe bymekaar gemaak het. Wees een van my slawe.”

Maar, let op na die reaksie van die vader “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel (liefde het vanuit die Vader se hart gestraal vir sy seun) en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.

“En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die Hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.

“Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.” Hulle het ‘n fees gehou.

            ‘n Man het een keer tydens berading gesê: “Ek sien wat Jesus sê. As ek net na die Hemelse Vader terugkeer vir genade, en sê ‘Vader ek het teen U gesondig en ek is nie werd om U seun te wees nie,’ dan sal Hy my ontvang.”

“Ons Hemelse Vader sal ‘n herehuis hê en Hy sal jou nie ‘n slaaf maak nie. Hy sal jou tot jou volle seunskap herstel. God wag. “

Het jy weggedraai? Waarom draai jy nie dadelik terug na God, jou Vader, toe nie, en na die Hemel, jou huis... Inderdaad moet jy omdraai en reguit paaie vir jou voete maak want die Wegraping van die Gelowiges is baie naby. – Wekroep

Dinsdag 12 November 2019

Gered uit Genade deur die Geloof



“Want uit genade is julle gered (hoe?), deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Baie mense dink foutiewelik die saligheid kom net deur genade – dat vir ons om die saligheid te ontvang, is alles net in die hande van die HERE.

Ander weer meen die saligheid is alleen aan geloof te wyte – en dus ons verantwoordelikheid. Hierdie strofe sê ons word nie net deur genade nie, en ook nie net deur geloof nie; eerder  dat ons gered is uit genade deur die geloof. Dis ‘n samevoeging van die twee.

Genade is God se onverdiende guns. Jy ontvang vryelik dit wat jy nie verdien nie. Mens kan nie God se genade verdien nie. Dis totaal onafhanklik van ons optrede. Geloof egter, is ‘n positiewe reaksie op dit wat God reeds gedoen het.

Geloof probeer nie God beweeg om iets te doen of aan jou iets te gee nie; geloof ontvang bloot dit wat God aanbied.

Ons word gered uit genade deur die geloof. Ons verduidelik graag soos volg: Wat sal jy doen as ek voor jou staan, my motorsleutels na jou toe uithou en sê “Hier, dis ‘n geskenk aan jou.“

As jy wys is sal jy jou hand uitsteek en die sleutels neem en baie dankie sê. Genade is ek wat die sleutels vir jou aanbied – geloof is jy wat die sleutels neem. Dit is hoe die saligheid plaasvind. “Uit genade is jy gered deur geloof...”

God het deur Jesus die saligheid vryelik aan elke persoon aangebied. Tit 2:11. Die geskenk  word verleen deur  “genade”. Dit beteken dat dit nie gebaseer is op hoe heilig jy leef nie, of jy kerk toe gaan, jou Bybel lees of ander “goeie” dinge doen nie.

Die saligheid word ons aangebied deur God se onverdiende guns. Christelikheid gaan oor alles wat Jesus vir ons gedoen het (verlede tyd) en nie wat ons in die hede doen nie. Rom 5:8 gee aan ons die definisie van genade: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Die geskenk was gegee toe ons niks gehad het om vir God aan te bied nie, toe ons op ons laagste vlak was – sondaars. Laat my ‘n vraag vra: Hoeveel het jy gebid en na God gesoek voordat jy Wedergebore is? Hoeveel keer het jy jou Bybel gelees en kerk toe gegaan? Die meeste van ons het nie reg gelewe voordat ons gered is nie, en min van ons was dit werd om dit te kon ontvang.

Maar God was nogtans lief vir ons en het aan ons die grootste geskenk ooit, Jesus Christus, gegee, nie omdat ons lieflik is nie, maar omdat Hy liefde is. 1 Joh 4:8. Genade groot!

God bied aan ons sy genade vir saligheid. Dit is totaal onafhanklik van ons prestasies en goedheid. Titus 2:11 lees “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.” God se genade is aan elke persoon beskikbaar op presies dieselfde manier.

“Die HERE vertraag nie die belofte  (van sy Wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 2 Pet 3:9 God se wens is dat alle mense tot belydenis kom en gered word. Hy wil nie dat enigiemand sou vergaan nie en nogtans vergaan mense daagliks.

Dit wys daarop dat God se wil nie outomaties werk nie. God dwing nie die saligheid op enigiemand af nie en nogtans bied Hy dit vryelik aan elkeen. Die geskenk word nie deur elkeen geniet nie want nie elkeen aanvaar dit nie. Die saligheid is ‘n vrye geskenk wat God vryelik deur genade aan ons bied, maar dit moet deur geloof ontvang word.

            “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Efes 2:8-9 Die saligheid is nie uit jouself nie.

Dis nie iets waarvoor jy kan werk of dit verdien nie, dis ‘n geskenk van God af. As jy dit kon verdien, kon jy daaroor gespog het – maar al die glorie gaan aan Jesus wat ‘n volmaakte werk gedoen het, sodat ons dit nie kon doen nie. Die waarheid is dat jy nooit genoeg sou kon doen om enigiets van God te verdien of Hom tevrede te stel nie.

“Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste” Rom 4:4

“En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie.  En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.” Rom 11:6

            Jy word of deur genade gered, of jy probeer dit deur werke te verdien – wat nooit werk nie. Kom ons stel voor dat jy  onbeperkte  skuld het, ‘n skuld so groot dat jy dit nie kan betaal nie. Genade is ek wat aan jou ‘n debietkaart gee met onbeperkte fondse sodat jy jou skuld kan betaal en te koop wat jy ook al nodig het – alles teen my koste bereken.

Jy het nie vir my gewerk nie en jy het niks gedoen om dit te kon verdien nie. Dit sou die hele gedagte agter my geskenk verpletter. Per definisie is ‘n geskenk iets wat vryelik en vrywillig gegee word sonder om betaling daarvoor te verwag.

Dit word gegee om guns aan iemand te bewys, ‘n handeling van gee, iets wat die ontvanger verkry sonder enige besondere aksie deur die ontvanger of dat dit verdien is.

Die oomblik dat mens vir ’n geskenk moet werk, dan is dit nie meer ’n geskenk nie. Sodra mens vir genade begin werk dan is dit nie meer genade nie. Dit is soos om jou debietkaart te neem en in plaas daarvan om jou onbeperkte skuld te vereffen, vind jy ‘n betrekking om die onbeperkte skuld te kan terugbetaal – ten spyte daarvan dat jy dit nooit sal regkry nie. Dit is baie dom.

Tog is dit wat meeste Christene doen. Ons is gered deur God se groot genade, onverdiend, vryelik geskenk, onverdiende guns, deur geloof. Al wat ons moet doen is om te ontvang.

Na alles: Sonder die Wedergeboorte sal jy Nooit die Ewige Lewe sien nie. Jesus wag vir jou. – Wekroep

Donderdag 07 November 2019

Wat is jou vertraging?


In Lukas 8 lees ons van hoe Jesus die storm op die See van Galilea stil. Wanneer Hy anderkant aan wal stap, ontmoet hy ‘n man wat nakend tussen die grafte woon en deurtrek is van demone.

            Jesus het die man vrygemaak en die man het die wonderwerk wyd gaan verkondig. Jesus het toe ook verskeie ander wonderwerke verrig.

Die storm op die see was om Jesus te verhoed om al daardie mense te kon vrymaak, genees en uit die dood uit op te wek.

In Dan 10:12-13 word Engel op pad na Daniël vir 21 dae vertraag en ‘n ander Engel daardie een moes kom help om vry te kom. Daar is ten minste nog 18 plekke in die Bybel oor vertragings.

Weet een ding: Die vyand bring vertragings oor ons pad om ons te verhinder om sy saak skade te berokken.  Soms sal nuwe deure vir jou oopgaan, ‘n nuwe werk, ‘n groter bediening. Die vyand weet dit en probeer keer. Vrees niks, tree op met die gesag waaroor jy in Jesus se Naam beskik.

Wanneer iets gebeur om jou te vertraag, dan is dit omdat God iets met jou beplan.

Lisa Osteen Comes is ‘n hulpprediker by die bekende Lakewood Kerk in Houston, Texas, die grootste kerk in Amerika. Haar pa was die bekende John Osteen. Vandag is haar broer Joel Osteen die hoofprediker.

Lisa is gebore met ‘n probleem gelykstaande aan verstandelike vertraagdheid. Sy sou basies niks vir haarself kon doen nie, maar deur die jare het haar toestand deur gebed en bemoediging so verbeter dat sy later die gemeente se posstukke kon hanteer het.

Eendag was daar ’n pypbom in ‘n pakkie. Toe sy die pakkie niksvermoedend oopmaak het sy haar een been in die ontploffing verloor. Na ‘n lang pad van herstel, het sy gesê: ”Die bom was in die pakkie, nou is ek die bom.”

Sy het haar teologiese graad aan Oral Roberts Universiteit behaal en begin preek. Sy preek steeds, ook oor Televisie wêreldwyd. Sy en haar man, Kevin, en hul drie kinders, Catherine, Caroline, and Christopher, woon in Houston.     



            Die HERE het Lisa geroep as prediker, soos wat Hy al die vroue in die Bybel geroep het, elkeen vir ‘n spesifieke doel, selfs as predikers. Die vyand het dit probeer keer met verstandelike vertraagdheid. Toe dit nie slaag nie, wou hy haar met ‘n bom doodmaak.

            ‘n Bomkenner het gesê dat as sy die pakkie dwars op haar skoot gehad het, het sy beslis gesterf.

Met die vertragingsaksie in plek, was Lisa soos ‘n voëltjie in ‘n hokkie vasgekeer. Toe die hokkie oopgaan, het sy geblom.

Wat hou jou terug in jou lewe? Vind uit en tree op. Ons is elkeen op die aarde geplaas met ‘n spesifieke doel. Weet jy wat joune is... raak dan ontslae van die struikelblokke. Ons durf nie lewens lei van water-oor-Gods-akker nie. Die oes is groot en die arbeiders te min. – Wekroep