Wys tans plasings met die etiket geloof in God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geloof in God. Wys alle plasings

Maandag 25 November 2019

Die Hoop beskaam nie, nooit nie

·       Op spesiale versoek kyk ons dieper na Habakuk se optrede.


Die Heilige Gees  is besig om oor die aarde en die nasies te beweeg. “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Hab 2:14

            Habakuk gee die toon aan. Hy sê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

            “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17-19

            Hy skilder ‘n prentjie soos ons daagliks van hoor in die huidige droogte en sê: “Al is alles tot niet...nogtans sal ek jubel in die HERE.”

            Hy sê nie dan “sal” hy jubel, of “weer” jubel nie, hy gebruik die woord “nogtans” (desnieteenstaande) sal hy jubel. M.a.w. hy jubel altyd in die HERE, of dit nou goed of sleg gaan. Daar is net te veel kere wat die HERE belowe om in te gryp. Mens kan of murmureer en sink of jy kan op God se beloftes staatmaak.

            Waarom die swaar smekende gebede vir uitkoms? Ons weet God SAL beslis uitkoms gee. Hoop, in die Bybel beteken nie “ek wens” nie. Dit beteken “toekomsfeit”. Daarom hoop ons op die HERE, ons hoop op die toekoms, ons hoop op die Wederkoms. Omdat ons weet dat ons weet dat ons God ons nie in die steek sal laat nie, sê  ons, vol van die geloof: “Die hoop beskaam nie, nooit nie.”

            Iemand bel. Dan antwoord jv so: “Ek wag vir die reën. Dit kom beslis. As ek dit nie geweet het nie dan was ek lank nie meer ‘n boer nie.  Soos Habakuk jubel ek voor die HERE. Ek is gereed vir die reën en ek is gereed  vir die Wederkoms, watter ook al eerste gebeur. Sorg dat jy en jou mense ook gereed is. Goedheid en guns.”

            Wat Habakuk beskryf, is ‘n ontsettende ramp, maar te midde van die ramp is hy vol hoop... so sterk dat hy selfs jubel voor die HERE.

            In die wêreld waarin ons leef maak dit nie sin nie. Habakuk het ‘n totale verlies gelei... maar dit is die wonder van geloof in God. Let ook op, ons blydskap moenie van omstandighede afhang nie.  Ons moet blydskap beleef wat ook al die omstandighede mag wees.

            Te midde van erge rampspoed het mens ‘n keuse: Of die ramp oorweldig jou tot in die afgrond, of jy jubel in die HERE. As jy toelaat dat die ramp jou oorweldig, dan sal alles net erger word en nie beter nie. Hoe gaan ons positief bly wanneer alles verkeerd loop?

            Ons gehoorsaam die opdrag:  Word VERNUWE in julle GEMOED (DENKE)! Rom. 12:2. Hierdie vernuwing is dringend noodsaaklik en is ons sleutel tot ‘n oorvloedige geseënde toekoms.

            Ons lewe beslis in die Eindtyd. Die rukkie wat oor is besef ons, ons kort ‘n nuwe gesindheid, een wat besef dat waarde lê in die toekoms en om dit te bereik moet ons s toekomsmense wees.

            Net nog twee dinge: Hy sê hy sal jubel voor die HERE, die God van sy “heil” (verlossing)     en

Hy sê: Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte (klein bokkies), en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente. Hy sing dit sommer spelende op snaarinstrumente. As jy nie so iets het, speel CD’s... en jubel.  Let op hoe interessant word dit nou: Laat ons dan (wanneer?) gedurig deur Hom aan God 'n lofoffer bring (wat is ‘n lofoffer?), dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.

“Vergeet die weldade en mededeelsaamheid nie, want God het 'n welbehae aan sulke offers.” Heb 13:15-16. Ons bring nie meer diere-offers nie, maar lofoffers met ons lippe asook weldade soos om boere in nood by te staan. – Wekroep  

Vrydag 26 Julie 2019

Die Bank van die Here


Gee... en jy sal beslis ontvang


Ons kry swaar... nadat ek 46 jaar gelede alles verloor het, geld, beleggings, polisse, huis,voertuie, alles. Al wat ons kon bekostig om in te woon was ‘n probeerslag een slaapkamer woonstelletjie in iemand se agterplaas... vas aan die motorhuis... waar mens menige nag erge geraas moes verduur.

            My nuwe lewe begin as Wedergeborene heel van vooraf... saam met my Wedergebore vrou en tweejarige dogtertjie... Een ding weet ek vir ‘n feit, ek is gered om die Koninkryk te help bou, dat alle Wedergeborenes gered is vir  dieselfde doel, maar meeste besef dit nie (of hulle wil dit nie besef nie).

            Dis al wat ek weet. Wat die res van my lewe betref, weet ek niks, dit sal maar van dag tot dag moet ontwikkel soos wat die HERE aandui.

            Ek gaan vir die eerste keer sedert my gedwonge kinderdae, kerk toe, maar ek soek honderde antwoorde.

            So besluit ek om – met die predikant se toestemming – my Sondae na kerk in ‘n bidkamer toe te sluit en die aangesig van die HERE te soek terwyl ek heel Sondag vas. Ek bid en boer in die Bybel en ek leer ontsaglike dinge uit die Woord.

            Dis of die Bybel skielik vir my oopgaan soos die heerlike verfrissende waterstrome uit die berge na die sneeu in die Boland.

            Ek kry ‘n plan. Alhoewel ek ‘n werk het, sal ek nooit weer finansieel bo kom as ek nie ‘n bykomende inkomste genereer nie.

So besluit ek om ‘n eie besigheid te begin opbou... ek gaan vars vis verkoop, van huis tot huis...Net soos ou Moerat in my kinderdae met sy  een perd kapwa in die Paarl verkoop het. Ek sal vir my ook ‘n Shofar kry om my koms in ‘n straat aan te kondig,

            In die hawe gesels ek met ‘n groot vismaatskappy en hulle sê dis reg, ek kan so veel vis soos wat ek benodig kontant en groothandel by hulle koop.

            Ek ry ‘n ou Mercedes 190. Ek durf nie vinniger as 90km per uur ry nie, dan val die dak in. Selfbejammering bestaan nie, net moed en geloof en durf.

            Vishouers, wat darem in die motor pas, en ‘n skaaltjie is aangeskaf en alles is gereed om die komende week my besigheid te begin.

            Die Sondagoggend sit ek in die kerk en die predikant praat oor die boufonds en doen ‘n beroep op almal om te bid en welke vermoëns ook al in te span om die boufonds en die opgehoopte rente ernstig aandag te gee.

            Die hele storie pla my min. Ek is opgewonde oor my groot planne en eie besigheid.

            Ek sien niks, maar skielik is hier iemand langs my in die bank en ek hoor die

Iemand sê vir my ek moet ‘n offer bring en alles wat ek met die vis verdien moet ek aan die boufonds oorbetaal. Ek mag ook geen onkoste wat ek aangaan uit die opbrengs onttrek nie. Dadelik weet ek dis die HERE wat praat.

            Toe kry ek myself baie jammer. Dis so onregverdig. Ek is ‘n gebreekte man, stukkend, flenters... ek probeer die stukkies optel om weer aan die gang te kom en nou moet ek my vis afgee.

Ek was die res van die dag doodstil, wou met niemand praat nie. Die hele saak lê soos ‘n onoorkombare berg voor my.

Die Maandagoggend gaan ek saam met predikant visvang. Al my hoop is nou op hom vir wyse raad, straks ‘n kompromie. Op pad na die viswaters vertel ek hom in detail van my penarie, van my visplan en die stem gisteroggend in die kerk.

Ek vertel hom, neem hom in my vertroue, want ek hoop hy sal vir my sê dis okei, ek hoef nie my visgeld vir die boufonds te gee nie, hulle sal regkom en dat ek die visgeld moet gebruik om my toekoms mee te bou. Daar was niks mee verkeerd om so te hoop nie, of was daar?

Hy sit doodstil hier langs my in die motor, aandagtig en luister, want ek lewer my storie soos ‘n pleidooi... Ag Here Jesus help tog asseblief.

En dan het ek my storie klaar vertel en ek koester ‘n blye hoop.

Ineens praat hy: “Broer, jy sal moet maak soos die HERE sê anders het jy groter probleme.”

En daar bars ek in trane uit terwyl ek bestuur. Maskas, kan ‘n predikant so wreed wees? Die man het geen empatie nie.

Daar is nie ‘n woord verder gepraat nie. Dis visvangery was onsuksesvol en ons is met leë mandjies huis toe.

Op pad om die eerste vis by die vismaatskappy in die hawe te gaan aankoop, kom ‘n blydskap oor my en skielik weet ek: Verkoop soveel vis soos wat jy kan, want dis vir die HERE en die HERE sal jou nooit teleurstel nie. Die seuntjie in die Bybel het sy vissies en broodjies gegee en kyk wat het daarvan geword?

Uiteindelik tog soek ek nie hulp nie, ek het wonderwerke nodig!

En so was dit... die vis was nie langer myne nie, maar die blydskap was.

Die satan het alles gevat wat ek gehad het en my niks teruggee nie. Die HERE vat nie net nie, Hy gee tienvoudig terug.

En so is dit nog my lewe lank, ek gee die 10% en die HERE gee die 90%. Hoe meer ek gee, hoe meer gee Hy.

“Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Ps 37:25

“En Ek sal julle vergoed vir die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het...” Joël 2:25

Dis hoe die Bank van die Hemel se ekonomie werk. – Wekroep 

Woensdag 05 Junie 2019

‘Watter reg het jy om bedruk te wees?’

Terwyl Martin Luther midde in die Hervorming was, het die Pous 'n hewige poging aangewend om hom terug te bring Roomse Kerk toe. Hy het 'n kardinaal gestuur om hom om te praat en 'n groot geskenk in goud saamgestuur.

Die kardinaal het vir die Pous teruggeskryf: "Die gek het geen smaak vir goud nie!"


Toe die kardinaal hom nie kon omkoop nie, het hy hom gedreig: "Wat dink jy gee die Pous om vir die opinies en uitsprake van'’n eenvoudige Duitse boer? Die Pous se pinkie is sterker as die hele Duitsland (Luther se geboorteland). Dink jy die Duitse prinse sal wapens opneem om jou – 'n ellendige wurm soos jy – te verdedig? Ek sê nou vir jou, nee, dit sal nooit gebeur nie!

“En dan, waar is jy dan?"

Luther het kalm geantwoord: "Presies waar ek nou is. In die hande van Almagtige God."

Luther het egter ook tye van vertwyfeling beleef. Eenkeer was hy so bedruk en bekommerd hy kon nie werk nie; wou nie eet nie; kon nie slaap nie. Een oggend, in daardie moeilike tyd, kom sy vrou in sy studeerkamer in, geklee in rouklere.

Luther skrik. "Wie is dood?" vra hy angstig. "Het jy gehoor nie?" antwoord sy ernstig, "God is mos dood." "Moenie laster nie," bestraf hy haar.

"Ek laster nie. Ek handel uit wat ek van jou gedrag aflei. As God lewe, watter reg het jy, Sy uitgesproke kneg, om so bedruk en bekommerd te wees?"

Luther het geluister en beskaamd op sy knieë gegaan en sy ongeloof bely en met nuwe moed en oorwinning opgestaan om die Here se werk te doen.

            Geloofsoorwinning en geloofsneerlaag kan mekaar afwissel in die hart van 'n kind van die HERE. Die HERE gee ons nie prys as ons begin twyfel nie, maar bly naby ons en stuur vir ons die versterking wat ons nodig het.

Selfs Paulus het aan bemoediging behoefte gehad. "Die gelowiges in Rome het van ons gehoor, en hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het Hy God gedank en moed geskep." Hand 28:15

                        "U is my toevlug en veilige vesting, my God op wie ek vertrou." Ps 91:1,2 -- Wekroep