Sondag 31 Januarie 2016

Wat volg jou?



“Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.” Ps 23:6
            Dawid was bekend as ‘n man na God se hart. Hy was so gelukkig en tevrede dat hy geskryf het: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.” Ps 23:6
    
            Kan ek en jy dit ook sê?
            Dawid het in afwagting geleef. Hy het gesê God se guns volg hom oral en dat hy weet iets goeds gaan met hom gebeur. So volg God se goedheid en guns ons ook, maar ons is soms nie bewus daarvan nie want ons wandel nie deurentyd in die Gees nie.

            In sommige gevalle word ons gevolg deur ‘n gewete, deur skuld, deur mislukking, maar dit hoort nie so nie. Maak jou saak met die HERE reg sodat net goedheid en guns, God se goedheid en guns, jou kan volg.

            Dit word van ons verwag om in die Gees te lewe: ”Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.” Joh 4:23
  
            Die einde is naby. Ons gaan groot seëninge belewe, guns, bonatuurlike geleenthede, restourasie, Goddelike verbintenisse, Hemelse gesigte en vele meer.
            Dit is God se Wil dat Sy goedheid en guns ons volg, elke dag!

            Verwag goeie dinge uit die hand van die HERE, ook ‘n magtige Herlewing. – Sjibbolet

Vrydag 29 Januarie 2016

Toe hy gedink het sy voete gly...


       George Matheson
           1842 – 1906
 George Matheson was in die 2e helfte van die 19e eeu, een van Skotland se bekendste predikante. Hy het 'n vrugbare bediening gehad met ryke seën veral vir mense wat moeilike omstandighede beleef het.
George Matheson was blind. As jongman was hy op die punt om met 'n lieflike jongmeisie te trou, toe sy dokter op 'n dag vir hom sê: "Jy beter goed na jou vriende kyk, want binnekort gaan dit vir jou te donker word om hulle te kan sien."
Dit was die dokter se manier om vir Matheson te sê hy is besig om blind te word. Hy het sy toekomstige bruid vertel wat met hom gaan gebeur. Hy het haar die geleentheid gegee om die verlowing te verbreek. Sy het afskeid van hom geneem.
Sy toenemende blindheid en die eensaamheid wat sy teleurgestelde liefde gebring het, het sy toewyding aan die HERE verdiep. Hy het toe besluit om predikant te word en ander mense wat lewenspyn moet verduur, te help.
Sy drie susters het Latyn, Grieks en Hebreeus bestudeer om hom te help met sy studies. Hy had ‘n verstommende geheue. Hy kon groot gedeeltes van die Bybel foutloos aanhaal, soveel so dat baie mense nie besef het dat hy blind is nie.
In sy blinde toestand het hy ook verskeie geestelike liedere geskryf.
Uit eie ervaring skryf hy: “Daar kom 'n tyd dat ons roem juis in daardie ding sal bestaan wat nou pyn veroorsaak. Vir Jakob was dit droewig toe hy, met sy kop op 'n klip vir 'n kussing, op die harde aarde moes slaap. Dit was vir hom 'n tyd van eensaamheid en vrees.
“Dit was vir hom nag. God het ver van hom af gevoel. Tog was die HERE op daardie plek, en Jakob het ontdek dat die nag van sy beproewing die dagbreek van sy triomf was.
“So het Abraham dit op die berg Moria ondervind, toe hy gereed gemaak het om Isak te offer. Daardie gebeurtenis het sy innige verhouding met God ingelui, en hy het die plek genoem: Die Here sal Voorsien.
“Josef se roete deur die Egiptiese tronk het hom onderkoning van Egipte en redder van sy vader en broers laat word.
“Rut het afval koringare in Boas se land vir haar skoonma opgetel. Dit lei daartoe dat Boas met haar trou en sy in die geslagslyn van Christus se koms gekom het.
“Dawid se liedere het uit die nagte van sy verdrukking gekom.
“Johannes se grootste uur was op die eiland van sy verbanning, Patmos.
“Die uur van jou pyn sal jou kroon word. Die dag van jou bedruktheid sal jou feesdag word. Jou woestyn sal in sang uitbreek. Elkeen wat in 'n donker tyd ons troue God en Vader vertrou, reis 'n dag van lig en verheerliking tegemoet.”
"Toe ek gedink het my voete gly, het U troue liefde my regop gehou, HERE. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het U vertroosting my tot rus gebring." Ps 94:18-19
As jy gedink het jou voete gly, die HERE se troue liefde sal jou regop hou. Soos wat sy drie susters hom bygestaan het, moet ons ook ander bystaan. Die redding van ‘n siel is en bly die grootste wonderwerk op hierdie aarde.
Werk asseblief want die nag is op ons. – Sjibbolet


Dinsdag 26 Januarie 2016

Moet jou nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie


'n Groep toeriste sit eendag in die Yellowstone Park in Wyoming, Amerika en wag vir 'n dier, wat die skrik van die bosse genoem word, die grysbeer, om te verskyn, vertel Dale Carnegie in sy boek How to Stop Worrying and Start Living.
'n Hoop afvalkos, uit die hotel se kombuis, is naby neergesit, om die beer te lok. Nie lank nie of hy kom massief uit die donker bos te voorskyn.


Die wildbewaarder, maj. Mertindale, vertel vir die mense, die grysbeer is enige dier in die Westelike halfrond se moses, behalwe miskien die buffel en Kadiakbeer. Die dier vrees niemand en niks.
Die mannetjies word tot 318kg swaar en die wyfies sowat 180kg. Hulle hardloop met gemak 70km per uur.
Terwyl die toeriste so kyk, kom nog 'n dier uit die bos uit en begin saam met die grysbeer die lekker afvalkos vreet. Die grysbeer sou geen ander dier naby sy ete duld nie, maar nou laat hy hierdie een sy gang gaan. Dit is die stinkmuishond.
Die beer kon hom met een hou van sy geweldige voorpoot plat gevee het, maar die beer het al geleer: Lol met hom, en jy stink vir dae aaneen...
Die les wat ons hieruit leer: “Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie.” Matt 5:39
Daar is viervoetige muishonde, én daar is tweevoetige muishonde, sê Carnegie. Hy haal goeie raad aan uit 'n verslag van die Polisiekantoor in Milwaukee: “As selfsugtige mense probeer voordeel trek uit jou, skrap hulle van jou lys, maar moenie hulle probeer terug kry nie. Jy sal net seerder kry as hulle."
Dit is onverstandig om enige mens te probeer terug betaal, want dan gee ons hulle mag oor ons: mag oor ons slaap, ons eetlus, ons bloeddruk, ons gesondheid, ons welsyn, ons geluk.
Ons vyande sal opspring van vreugde as hulle kon weet hoe hulle ons kwel, kwes, ons laat ly, ons immobiliseer. Ons haat en wraakgedagtes maak hulle nie seer nie, maar dit omskep ons eie dae en nagte in donkerte... veroorsaak ‘n binding in ons gees.
            Jesus se woorde: "Julle moet julle vyand liefhê," dui die pad aan na gesondheid en geluk.
Toe Jesus vir Petrus gesê het: "Jy moet 70x7 keer vergewe," was Hy besig om ons te vertel hoe om gesondheidskwale te vermy. Hy het ook raad gegee hoe om ons voorkoms te verbeter. 'n Mens se gesig kan verrimpel en verhard raak deur haat en mismaak word deur wrok.
Niks kan gelaatskoonheid bewerk soos vergewensgesindheid, teerheid en liefde nie! Laat ons onsself so liefhê dat ons nie sal toelaat dat ander, met hulle slegte gesindheid, ons lewe bederf nie.
            “My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.” Deut 32:35
“Want die HERE sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.” Deut 32:36
            “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.  As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Rom 12:19-21
            “En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Mar 25:40
            Ongelukkig is haat en ergerlikheid sterker as onsself. Ons vlees neig na haat,  of 'n wrok, want die vlees is sterker as verstandige denke. Ons moet in die Gees lewe sodat ons die krag en heil van God kan ervaar. – Sjibbolet

Maandag 18 Januarie 2016

‘Moenie haastig iemand die hande oplê nie’



“Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met
die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” 1 Tim 5:22

Die Koninkryk van die Hemele het naby gekom. Maak siekes gesond,
reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet
ontvang, verniet moet julle dit gee.” Matt 10:7-8

Ingevolge Bybelse voorskrifte, lê ons, ons hande op iemand om hulle te seën, om hulle in die Bediening te verordineer, om hulle te genees, vir die doping in die Heilige Gees, ens. .
          Die een oomblik word die opdrag gegee dat ons mense die hande moet oplê om verskeie redes. Die volgende oomblik word ons gewaarsku om dit nie haastig te doen nie.
          As mens iemand te haastig die hande oplê mag mens dalk met daardie persoon se sondes gemeenskap hê, aldus die Skrif.
          En dan die opdrag: “Hou jou rein.”
          Handoplegging is ongetwyfeld Bybels. As die een wat die hande oplê, of die een vir wie die handoplegging gedoen word, egter sondes in hulle lewe het, dan kan ‘n verkeerde gees vanaf die een op die ander oorgedra word.
          Ons durf nie haastig die hande oplê nie.
          Hoe sal ons dan weet wanneer ons die hande moet oplê? Verskeie gawes is van toepassing in die gemeente, onder meer dié van die onderskeiding van geeste.
          “Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
          “aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
          “aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale.
          “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” 1 Kor 12:8-11
          Hoekom moet hierdie gawes ‘n integrale deel van elke gemeente vorm? Omdat Jesus Christus gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo –  die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Joh 14:12
          Nog redes waarom mens nie haastig die hande moet oplê nie:
          “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.

“Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie.
          “Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.” Ps 14:2-4
          En: Jes 58:7-10 “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?
          “Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.
          “Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.
          “En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.”
          Die Heilsleër wat deur Genl William Booth gestig is, het uitsluitlik gefokus op die gevallene, die verworpene, die uitvaagsels, boemelaars en straatvroue, die sogenaamde skuim van die aarde. Altesame 250 000 van hierdie mense wat gered en weer hul plek in die samelewing kon volstaan, het Booth se begrafnis in 1912 bygewoon.
          ‘n Vrou bel een aand en vra gebed vir haar siek kind. Toe twee predikers by die huis opdaag het die een met die gawe van die onderskeiding van geeste, dadelik bekendgemaak dat die HERE nie die kind kan genees nie want die vrou – in plaas van in totale oorgawe op God te vertrou – vertrou sy op die Sterre Voorspel en kaartlesings.
          In ander geval had ‘n vrou bloedkanker. Die gees van onderskeiding het aan haar gesê die HERE kan nie genees nie want sy leef met ‘n verterende haat teenoor haar naaste.
          In ‘n ander geval wou ‘n man genesing vir kanker hê maar hy het geweier om Christus Jesus as Saligmaker aan te neem.
          ‘n Man het gevra vir gebed vir sy rug, maar die gees van onderskeiding het aangedui dat geen genesing kan plaasvind nie want die man sit keer op keer onwaardig by die nagmaaltafel aan. Die onwaardigheid had te doen met ‘n oortreding.
          ‘n Ander man het gebed vir ‘n grootse probleem verlang. Die gees van onderskeiding het openbaar dat gebed nie sal help nie want die man sit met ‘n toordokter se toormiddel in sy sak. Toe dit aan die man openbaar word, het hy gesê hy sal God ‘n kans gee, maar as God nie gaan help nie gaan hy die toormiddel aanwend. Gal. 6:7 “God laat Hom nie bespot nie.”
          ‘n Skatryk vrou het van stad tot stad gery en by al wat bekende prediker is aangeklop vir gebed vir ‘n besondere saak. Uiteindelik het die gees van onderskeiding openbaar waarmee sy besig was. Sy is sonder gebed teruggestuur na haar tuisdorp en gesê om ‘n volle oorgawe aan God te maak en God op die eerste gebed te vertrou.
          ‘n Ander vrou het gevra dat gebid moet word vir haar man om op te hou met drink sodat hy kan ophou om sy vrou aan te rand. Wanneer hy nugter was, was hy glo ‘n liewe man.
          Die openbaring van gees van onderskeiding het daartoe gelei dat die vrou sonder gebed weggestuur is met die boodskap om haar prioriteite in orde te kry. Haar man was ‘n verlore sondaar, nie ‘n dronklap nie.
          Sy moes by die drank verby kyk en haar man met Goddelike liefde liefkry as ‘n verlore sondaar. Na sy redding sal die drankprobleem vanself opgelos wees.
          In ‘n ander geval het ‘n man ernstige gebed vir genesing verlang. Die gees van onderskeiding het openbaar dat die oorsaak van die man se probleem deur sy vrou veroorsaak word wat met ‘n toordokter deurmekaar was.
          Nog ‘n vrou het dringende gebed vir ‘n probleem verlang. Die gees van onderskeiding het openbaar dat gebed nie sal help nie omdat sy ‘n geheime verhouding met ‘n ander man het.
          In al hierdie en in honderde ander gevalle moes die struikelblokke eers uit die weggeruim word voordat daar hande opgelê, gebid en daar antwoord op gebed was.
          Nee, ons durf nie haastig die hande oplê nie. ‘n Veiliger weg om te volg is die van berading en selfs vas en gebed.
          “HERE, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water.
          “En ek het hom na U dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.
          “Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My.
          “Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af.
          “Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?
          “En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg (probleem) sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.
          “Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.” Matt 17:15-21.
          Let ook op na die volgende: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek,
          “slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Markus 16:17-18
          As ons glo, dan volg al hierdie wonderlike tekens ons. As ons nie glo nie, dan sal dit ons beslis nie volg nie.
          Die kruks is egter: Ons moet nie die tekens volg nie, die tekens sal ons volg... sou ons glo!
          Die vraag moet gevra word of massa genesingsdienste geregverdig kan word. Daar is te veel mense wat nie by sulke dienste genees nie en dan weens ‘n gebrek aan kennis in totale wanhoop en (groter)ongeloof verval.
          Ons sien op verskeie plekke dat Jesus Christus ook mense oor ‘n afstand genees het en nie altyd die hande opgelê het nie.
          Vir die een blinde sê Hy: Jy sien, en die man het gesien. Vir ander smeer hy modder aan sy oë met ‘n uitdruklike opdrag waar die man sy oë moes gaan was. As die blinde nie gehoorsaam was nie en sy oë by die eerste beste plek gaan was het, sou hy nie genees het nie.
          Om iemand haastig die hande op te lê kan baie probleme oplewer. ‘n Studie van die okkulte toon dat selfs demone op hierdie wyse van een persoon na ‘n ander kan beweeg, aldus die bekende teoloog Dr Derek Prince.
          Vas veroorsaak dat die metaboliese prosesse in die menslike liggaam hul ewewig verloor. Dan vind daar meer afbrekende as opbouende prosesse plaas en mens begin basies sterf.
          Wanneer mens begin sterf kom jou gees na die oppervlak en het mens die nouste kontak met die Heilige Gees denkbaar.
          Die oplê van die hande is nie net ‘n aanskoulike religieuse ritueel nie. Dr Prince sê dit is ‘n kragtige tydelike interaksie tussen twee persone, twee geeste. Meesal vloei die bonatuurlik krag vanaf die handoplêer na die een vir wie die hande opgelê word, maar soms kan dit in die teenoorgestelde rigting vloei.
          Krag wat deur handoplegging vloei kan goed of sleg wees afhangende van wie af dit uitgaan. Om hierdie rede het Paulus ‘n veiligheidsfaktor ingebring: Moenie haastig die hande oplê nie want jy kan dalk met die sondes van ‘n ander gemeenskap hê.
          Handoplegging moet in eerbied en gebed plaasvind. Wie ook al betrokke is moet in Paulus se woorde seker maak dat hy nie meedoen aan ‘n ander se sonde nie.
          Dit is ‘n fout om blindelings hande op mense te lê. ‘n Gelowige vertel hoe daar een aand in ‘n diens deur vyf mense vir hom hande opgelê was en dit in opdrag van die prediker. Die volgende oggend was sy siekte heelwat beter, maar toe ly hy aan artritis. Hy het onmiddellik besef iemand met artritis het vir hom hande opgelê.
          Vanweë sy kennis – ‘n volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis: Jes 5:13 & Hos 4:6 – het hy dadelik die gees van artritis bestraf en uit homself gedryf en binne minute was hy blakend gesond.
          Aan die een kant moet mens waak om nie paranoïes te wees nie, maar mens moet versigtig en gehoorsaam in eerbied met die Heilige Gees en geestelike sake omgaan.
          In die Ou Testament is hande op ‘n dier gelê om ‘n mens se sondes op die dier oor te dra (Lev 16:21-22; Lev 1:4; Ex 26:10-20). Die dier is dan op ‘n altaar geplaas en sy keel oopgesny. Soos wat die bloed (wat die sonde bevat het) in die
vuur van die altaar verteer, is die sonde vernietig en die sieke genees.
          Hande is ook opgelê om iemand te kon seën (Gen 48:14-20).
          Dit is ook gedoen om geestelike gesag oor te dra (Num 27:18-23) om geestelike wysheid oor te dra (Deur 34:9) en om die Leviete te verordineer (Num 8:19)
          In die Nuwe Testament is handoplegging gebruik vir genesing (Mark 16:15-18; Luk 4:40; Luk 13:13, Hand 9:17; Hand 28:8-9), om mense in verskeie bedieninge te verordineer (Hand 13:3; Hand 14:26-37), om leiers en diakens aan te stel (1 Tim 3:1-12; Titus 1:5-11, om die doping in die Heilige Gees te ontvang (Hand 8:14-24; Hand 9:10-17; Hand 19:6, Efes. 1:13; Gal 4:6) en om geestelike gawes te ontvang (1 Tim 4:14; 2 Tim 1:6; Rom 1:11; 1 Kor 12:11; Heb 2:4).              Handoplegging is vandag steeds van groot belang in die gemeente. Daar is egter belangrike beginsels wat gevolg moet word:

·       Hierdie bediening moet nie ligtelik en onverskillig beoefen word nie, maar altyd in ‘n gees van gebed en nederigheid;
·       Die leiding van die Heilige Gees moet te alle tye gesoek word – saam met wie om te bid, wanneer om te bid en hoe om te bid;
·       Die gelowige wat die hande oplê moet weet hoe om ten behoewe van sy eie gees die deurlopende reiniging en beskermende krag van die bloed van Jesus Christus te pleit;
·       Die gelowige wat die hande oplê moet so bekragtig wees deur die Heilige Gees dat hy in staat sal wees om enige geestelike invloed af te weer wat hom wil bereik.
       
          Hierdie beginsels is van kardinale belang. Ons moet begryp watter krag ons oor beskik wanneer ons hande op mense lê. Ons durf dit nie ligtelik opneem nie. Dit is iets ernstigs en mens moet dit ernstig en met eerbied hanteer.        
          Moenie dat enigiemand vir jou die hande oplê nie, sê Dr Prince en Evangelis Reinhard Bonnke. Jy sal weet wie vir jou die hande mag oplê en wie nie want jy sal ‘n swaarmoedigheid in jou gees ervaar.
          Natuurlik het ons krag en mag oor die vyand, maar dit beteken nie ons moet die vyand toelaat om ons te besmet nie. Hou jouself rein, absoluut! 1 Tim 5:22).
          Ons moet onsself beskerm. Toets die geeste: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” 1 Joh 4:1
          Ons moet die Heilige Gees en sy werkinge leer ken. Ons moet sensitief wees vir die Heilige Gees.
          Ons moet die geeste kan onderskei en gehoorsaam wees. Jy het die HERE vertrou vir jou wedergeboorte. Vertrou Hom nou ook vir die gawes.
          Moenie aan mense stoot of stamp wanneer jy hulle die hande oplê nie. Natuurlik slaan sommige neer onder die krag van die Heilige Gees, maar dit is die Heilige Gees se prerogatief.
          Enigiemand kan vir iemand die hande oplê solank dit op leiding van die Heilige Gees geskied.
          Hande speel ‘n baie belangrike rol in die Bybel. Hand of hande word 1 600 keer in die Bybel genoem.
          Hande speel ‘n positiewe en soms ook ‘n negatiewe rol.
          Wat die negatiewe betref kyk ons na Matt 26:23 “Hy wat sy hand saam met myne in die bak steeks, dis hy wat my gaan verraai.”
          Judas het skielik nie meer eerbied teenoor Jesus betoon nie. Wanneer Jesus sy hand in die bak gesteek het om brood te neem, het Judas sommer sy hand ook ingesteek.
          Wat die positiewe betref, seën ons die HERE En seën ons mekaar en ons kinders.
          Moet nooit ‘n kind met die oop hand slaan nie, ook nie ‘n hond nie. Neem ‘n neutrale voorwerp. Hulle sal respek vir jou verloor. Jou hande is daar om te seën om te genees.
          In Gal 2:9 lees ons dat die broers mekaar die regterhand van gemeenskap gegee het.
          Onthou: “3:17 En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Kol. 3:17 – Sjibbolet

Indien iemand geestelike berading of gebed benodig kontak my gerus by belindapaar@gmail.com

       

Dis noodsaaklik om ook met jou gawes te woeker



Ons vleeslike liggame, beskik oor talle ledemate. Die een vul die ander een aan. Dit stel ons in staat om te sien, en te hoor, te eet en te drink, te voel, te loop, te hardloop, ens.
            “Want soos ons (ek en jy), in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, (net so) is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.
“En ons (ek en jy) besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: (let op) is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie 'n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.
“Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.
“Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” Rom 12:4-18
Die Heilige Gees deel gawes aan gelowiges uit, nie om net met God in aanbidding besig te wees nie, maar in die besonder om ander mense binne en buite die gemeente daarmee te kan bedien.
Jesus Christus was drie jaar in die bediening. Hy het presies gewys wat God verlang gedoen moet word. Net voor sy vertrek na die Hemel, het Hy sy taak aan ons oorgegee:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
“En kyk, Ek is met julle (in gees) al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” Matt 28:19
Daar is diegene wat sê hulle het geen gawe ontvang nie, maar die Skrif leer anders: “Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.” 1 Pet 4:10. Elke Gelowige het dus ten minste een gawe.
As jy nie weet wat dit is nie, beter jy gou seker maak wat dit is en daarmee woeker. Ons praat hier van gawes, nie talente nie.
Gawes is spesiale vermoëns…
*  Gawes is Goddelike geskenke
*  Gawes is spesiale vermoëns wat aan ons geskenk word sodat ons ‘n unieke bydrae kan maak. 1 Kor 12:7.
…..uitgedeel deur die Heilige Gees…
*  Gawes word deur God gegee
*  God gee aan ons die gawes sodat ons sinvolle dienswerk kan verrig. 1 Kor 12:11.
...aan elke gelowige, in ooreenstemming met God se beplanning en ontwerp en uit genade alleen,
*  Elke gelowige het minstens een gawe.
*  Elke gelowige is ‘n dienaar 1 Pet 4:10.
tot gesamentlike voordeel van die liggaam van Christus.
*  Die gawes wat God aan ons skenk stel ons in staat om mekaar beter te dien.
*  Die grootste toets vir die gebruik van ons Gawes is:  Verheerlik dit God?  Is dit tot opbou van ander? 1 Kor 12:7 en 1 Kor 14:3-5; :12.

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Gal 5:22
Beide die Vrug van die Gees en Gawes behoort sigbaar teenwoordig te wees is die lewe van die gelowige Christen en binne en buite die gemeente.
Onthou, ons groot opdrag is om Christus se werk te voltooi en die Getal vol te maak. Ons het nie sleg gevaar sedert die Hemelvaart nie, want die Christendom is steeds die grootste beweging wêreldwyd en die Bybel steeds die grootste verkoper.
Maar wêreldwyd is daar ‘n slapheid, ook hier in Suid-Afrika. Dis ‘n gevaarlike (lou) toestand en dis waarom ons so gereeld herinner aan: “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13
Hoe sal jy weet of jy ‘n besondere gawe het? Maklik, begin net help waar daar nood is, soos om vir ‘n sieke te bid. Jy kan nie genees nie, net God kan, maar lê ten minste jou hande op daai sieke. Die onus om te genees bly op die HERE. Jou hande is bloot die verlengstuk van Jesus se hande.
Al die volgende gawes moet binne en buite jou gemeente voorkom: Herderskap, Profesie, Evangelisasie, Diensbaarheid, Apostelskap, Musiek, Lering, Wysheid, Wonderwerke, Bevryding, Geloof, Berading, Gasvryheid, Barmhartigheid, Genesing, Tale, Uitleg van Tale, Gees van Onderskeiding, Kennis, Intersessie.
Elke lidmaat het ten minste een van hierdie gawes, terwyl sommige Gelowiges meer as een van hier gawes kan hê.
Een van die lede van jou gemeente is Jesus Christus self, verwelkom Hom in elke diens en dank Hom dat Hy homself sal openbaar in die diens, al hou die diens soms drie ure lank aan.
Ons praat van aanbidding en lofliedere, maar die volheid daarvan begryp min van ons. As ons besef Jesus is in ons midde, sal ons hartliker sing...
Gebruik die bidure en ander byeenkomste om op die HERE te wag vir die openbaarmaking van die gawes. Almal het ten minste een gawe en niemand durf dit versaak nie.
Hoe meer jou hart in pas is met God se hart, hoe makliker sal dit vir jou wees om te hoor wanneer God jou gawes wil gebruik. Spandeer gereeld tyd saam met Hom en bou ‘n sterk intieme verhouding met Hom.
Wanneer jy in ‘n situasie kom waar die Heilige Gees deur jou iemand kan bedien, maak seker dat jy ingestel is op die HERE en dit wat hy vir jou wil sê op daardie oomblik. Dikwels mis ons kosbare bedieningsgeleenthede omdat ons net nie ingestel is op wat die Here op daardie oomblik wil doen nie.
Los die geselsery voor die dienste, kom in aanbidding, in die Gees, daar aan omdat jy graag wil gee en graag wil ontvang. Woon die dienste met afwagting by,
As die gawes en die bediening daarvan nou nog nie in jou gemeente aanwesig is nie, wees geduldig, dis ‘n leerproses, maar een wat deur elke Gelowige met ywer nagejaag moet word. Wees nederig en oop daarvoor om gekorrigeer te word.
Die gawes is daar tot opbou van die gemeente... en jouself. Jy by wie ‘n gawe of gawes reeds manifesteer, moenie op ander neersien nie, bid vir hulle help hulle, bemoedig hulle. Dit is en bly een liggaam, een Ekklesia.
Het jy met jou gawes laat slaplê: “Om hierdie rede herinner ek jou dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas.” 2 Tim 1:6
Elkeen het ten minste een gawe ontvang, maar berus nie daarin nie. Hou jouself oop want soos wat jy daardie gawe ontwikkel, gaan God jou nog en nog gawes gee. Wees so ingestel op die Heilige Gees dat jy die nuwe gawe sal herken.
Binne die dienste “Word aan elkeen die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
“Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale.
“Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” 1 Kor. 12:7-11
Belewe Christus Jesus in persoon, belewe die Heilige Gees in persoon. Beleef Engele in die Gees. “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet (noodwendig) in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:24
Of daar net vier of agt of 20 mense in ‘n huisgemeente is, alles geld presies so vir julle ook. – Sjibbolet

Vrydag 15 Januarie 2016

Die mees miskende doop – Die Lydingsdoop


Image result for person being baptised


Daar is vier dope in die Bybel: Die doop in die liggaam van Christus – Wedergeboorte, die doop in water, die doop met die Heilige Gees en die Lydingsdoop.
Ons aanvaar ons bevind ons in ‘n geestelike stryd. Ons aanvaar ook dat hierdie oorlog op ‘n ander vlak en met ander metodes geveg moet word.
          Voordat ons verder kan gaan, moet ons egter eers die sonde van ons tyd, wanpersepsies, aanspreek. Ons kyk hier weer na die menslike vlak en die geestelike vlak. Daar is ‘n reuse verskil.
          Die menslike vlak sê: Verset, weerstand, veg, ja, selfs oorlog. Die geestelike vlak bied egter ‘n heel ander prentjie.
          Die Nuwe Verbond in Christus, soos vervat in die Nuwe Testament, leer dat niemand die Christendom enige skade kan berokken nie. Die Christendom kan net homself skade berokken deur verkeerd op tree op aanvalle teen hom.
          Dit is Skriftuurlik dat die Christendom die gesag wat oor hom gestel is, sal erken en hom sal onderwerp aan daardie gesag.
          Die Liggaam se lojaliteit aan Christus word juis gekenmerk aan sy Skriftuurlike gehoorsaamheid om byvoorbeeld die gesag van die Staat te erken en hom as Liggaam aan daardie gesag te onderwerp, al sou daardie Staat selfs Kommunisties van aard wees!
          Kortom, dit gaan hier om een van die mees miskende dope van Die Bybel, die lydingsdoop.
          Onder die tussenhoof "Pligte van Christelike Diensknegte" in 1 Petrus 2:18, staan: “Diensknegte, wees julle HERE onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed doen  en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.”
          “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete, leed verdra, deur onregverdig te ly.
          “Want watter roem is daar wanneer julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly  –  dit is genade by God."
          “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle Sy voetstappe kan navolg."
          Strofe 20 sê duidelik dat dit 'n sonde is om nie die Owerheid se gesag te erken nie. En al sou die Owerheid verkeerd wees, en die Christen as gevolg daarvan skade ly, dan moet die Christen dit nogtans aanvaar en ly.” 1 Pet 2:18-22
          Die Christendom word juis gesuiwer deur middel van die lydingsdoop. Om die lydingsdoop deur te gaan is 'n roeping(!) want, sê die Skrif: “Hiertoe is julle geroep!”
          Vanaf strofe 21 lees ons dat Christus ook onregverdig gely het. Ons lees te meer nog dat Christus selfs (boonop) sonder sonde was. Ons wat dan sonde doen, hoeveel te meer moet ons nie die roeping van die lydingsdoop waardig wees nie? Die lydingsdoop bewerk ware verlossing, bevryding.
          In Suid-Afrika bevind ons onsself in 'n demokrasie waar vryheid van spraak deel van die Grondwet uitmaak. Dit is dus heeltemal binne orde om op Christelike toon, diplomaties en taktvol aan die Owerheid te sê dat ons met hom verskil en waarom.
          As die Owerheid egter voet by stuk hou en nogtans “ongewenste” wetgewing en optredes deurvoer, dan is ons geroep(!) om dit te aanvaar, al maak dit ook hoe seer.  Die Liggaam, ook genoem die Kerk, mag dus die Staat teregwys, vermaan, maar hy durf nie die Staat teengaan nie.
          Hierdie besondere roeping, die lydingsdoop, is ‘n voorbeeld wat Christus aan Sy Liggaam nagelaat het en God verwag van ons om in Christus se voetstappe te volg.
          Het die grootste seën in die wêreld – die verlossing en versoening bewerk deur Jesus Christus – dan nie gekom juis vanweë die grootste onregverdige lyding nie?
          Christus had selfs ‘n verraaier in Sy midde. Hy het geweet wie die verraaier is, maar Hy het die man nooit gekonfronteer nie.
          Inteendeel, Christus het die verraaier geignoreer, en Sy aandag by Sy eie missie – om die wil van Sy Vader te volbring – bepaal, en geslaag!
          Hy is sonder verset, sonder wraak, sonder teenstem, deur die lydingsdoop. En, wat 'n fantastiese oorwinning was dit nie! Die beker is nie by hom verby nie. Hy moes dit ledig.
          Die Christendom het ook 'n missie om die wil van die Vader te volbring. Dis waar ons aandag hoort.
          Lees maar die drie boeke van Johannes en sien self waar skiet ons te kort. Ons het nog nie eers die Liefde onder mekaar volbring nie.
          Die Christen, of dan die Liggaam, het sekere roepinge om op aarde te vervul: Die uitdra van die Evangelie van Jesus Christus en dit wat daarmee saamgaan soos byvoorbeeld barmhartigheidswerk, liefde, die dra van mekaar se laste, bid vir mekaar, ens., en ten tweede om die suiweringsproses, die lydingsdoop, deur te gaan, want, wanneer Christus kom, kom hy om Sy Bruid te haal, 'n Bruid wat sonder vlek of rimpel sal (moet) wees.
          Wanneer die HERE sê: “Ter wille van My naam sal julle vervolg word,” dan is dit nie 'n waarskuwing nie, maar 'n belofte!
          Dieselfde geld wanneer die HERE sê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê,” maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
          Die geestelike lewe, die lewe in Christus, is beslis die interessantste wat enigeen  ooit kan beleef.
          Hoor wat sê die HERE in Openb 8 -11: “En sal God nie Sy uitverkorenes wreek wat dag en nag na Hom roep nie?”
          Natuurlik! Let op hoe duidelik die Skrif dit stel wanneer die Staat, of watter gesag ookal, onregverdig teenoor die gelowiges optree.
          Dit is dan wanneer God aan die Staat, of watter gesag ookal vyandig teenoor die Liggaam van Christus staan, sê: "Vir sovele soos julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My." Matt. 25:45.
          En aan die een wat die lyding deurloop, sê die HERE: “Onthou, aan My kom die wraak toe. Ek sal vergeld."
          Verder sê die HERE: "Bid vir julle gesag sodat julle in vrede kan lewe. Hoop vurige kole op sy hoof op.” Rom: 12:20.
          Wanneer die Christen te na gekom word, of vervolg word, durf hy dit nooit in 'n negatiewe lig sien nie, maar eerder as 'n besondere seën, 'n toets van Bo, en ons moet sekermaak dat ons die toets slaag.
          Dit is seker die vernaamste wyse waarop die HERE sy Liggaam hier op aarde suiwer.
          “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys.” Tit 3:1-2
          'n Verdere interessantheid vind ons in Gen. 15:13 “Daarop sê God vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word, vier honderd jaar lank.”
          Dis God self wat so besluit het, al klink dit ook hoe verskriklik. Sou ons 400 jaar se verdrukking kon deurstaan, boonop deur diensbaar te wees en deur toe te laat dat ons verdruk word deur 'n vreemde owerheid?
          Maar strofe 14 is 'n juweel, wanneer die HERE sê: "Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie die volk diensbaar moet wees...."
          Die een oomblik stel die HERE 'n vyandige Volk oor Sy eie Volk aan, aan wie Sy Volk noodgedwonge diensbaar moet wees, maar die volgende oomblik sê die HERE aan die vyandige volk: Pasop hoe julle My Volk behandel, want  Ek sal daardie nasie wat Ek oor My Volk aangestel het, oordeel!
          Kan jy nou verstaan dat God deurentyd in beheer van sake is?
          Daarom, niemand kan die kind van God, God se Volk, enige skade berokken nie. Die Christen kan net homself skade berokken deur met die verkeerde reaksie  te kom op die aanvalle of verdrukking teen hom. Verstaan jy nou wat dit beteken om die ander wang te draai?
          In Rigters 6:1 sê God aan Gideon: “Maar, toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE die kinders van Israel OORGEGEE in die hand van die Midianiete – sewe jaar lank!”
          Sewe jaar lank! Dis mos nie nodig om langer vrae te vra nie. Ons eie situasie moet vir ons mos nou meer duidelik wees as ooit te vore.
          Dit lei geen twyfel nie. Die Christen moet hom onderwerp aan die Owerheid wat oor hom aangestel is.
          So, loof die HERE, bid vir die owerheid, dien die HERE. Alles is nog lank nie verlore nie. Dit lyk maar net so. Murmurering het nog nooit uitkoms gebring nie.
          Die prentjie word verder ingekleur wanneer God ons verbied om te vergeld. God sê dat Hy 'n jaloerse God is en dat die wraak Hom (alleen) toekom.
          Met ander woorde, terwyl ons wraak wil neem met allerlei verset en optredes, staan God terug, want ons probeer doen wat God sê sy eksklusiewe reg is. Die Christen moet sy verstand afskakel sodat hy kan hoor wat die Gees van God aan hom wil sê.
          Wanneer die HERE sê dat Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit 'n opdrag wat eenvoudig uitgevoer moet(!) word, al is dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die land is nie, dan is dit heelwaarskynlik omdat die Liggaam nie vir die regering bid nie.
          Hoe bid mens vir die regering, vra jy?
          Die HERE is in beheer van die koning. “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil.” Spr 21:1
          Die nuwe vertaling lees: “Die HERE kan 'n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in 'n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!
          Nou bring mens aan die HERE aanbidding en lofprisinge!
          So, kom maar gerus jou plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer.
          Lees weer wat sê Koning Dawid in Ps 149 oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:

          Halleluja! Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied,
          Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
          Laat Israel hom verheug in sy Maker;
          Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
         Laat hulle Sy naam loof in koordans,
          Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
          Want die HERE het ‘n welbehae in Sy volk;
          Hy versier die ootmoediges met heil.
          Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
          Laat hulle jubel op hul bedde.
          Lofverheffinge van God is in hulle keel,
          en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
          (Hoekom?)
          om wraak te oefen onder die heidene,
          strafgerigte onder die volke;
          om hulle konings met kettings te bind
          en hulle edeles met ysterboeie;
          om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
          aan hulle te voltrek.
          ‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
          Halleluja!
       
          Dus, nie deur krag of geweld nie, maar deur lofprysinge aan die God van ons heil. Lofprysinge is ‘n tweesnydende swaard: Terwyl ons God loof, oefen ons ook wraak uit onder die heidene, strafgerigte onder die volke, om hulle konings in kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie… Waarom? Om ‘n vonnis te voltrek wat reeds opgeskrywe is!
          Dit moet onthou word: Terwyl die Liggaam van Christus onregverdig ly, is die hoeksteen van God se heerskappy op aarde, juis Sy onbeperkte en onverskrokke geregtigheid.
          Die morele wet is so onveranderlik soos die natuurlike wette: Wat die mens saai sal hy maai. Gal. 6:7.
          Net soos die Wet op swaartekrag nie verbreek kan word nie, net so kan die wette, verordeninge en insettinge van God, ook nie verbreek word nie. Die een wat hier oortree, bring 'n oordeel oor homself. Onthou Sy waarskuwing: Dis vreeslik om te val in die hande van die Lewende God!
          Dit beteken, ons moet ook uiters versigtig wees hoe ons teenoor mekaar optree.
          Ons dink altyd verootmoediging gaan oor ons sondes teenoor die HERE, maar om dit te bely is nie genoeg nie. Ons moet ook ons misdade wat ons teen mekaar gepleeg het, bely. Kyk na die volgende: 1 Pet 3: 8-9.
          “Wees almal eensgesind, medelydend, VOL Broederliefde, en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad vir kwaad of skelwoord  met skelwoorde nie......   maar  INTEENDEEL... Seën mekaar!
          Waarom? Want hiertoe is julle G E R O E P!!!
          Hoekom? OM SEëN TE KAN BEëRWE!
          Ons mis ons ROEPING. Ons is GEROEP om mekaar te SEëN. Omdat ons ons roeping mis, daarom is ons nie eensgesind nie, nie medelydend nie, nie VOL  Broederliefde nie, ontferm ons, ons nie oor mekaar nie, is ons nie vriendelik nie. Bid ons nie vir mekaar nie, dra ons nie mekaar se laste nie.
          Inderdaad is ons gedurig besig om in een of ander vorm kwaad met kwaad te vergeld, en maak ons ons skuldig daaraan om skelwoord met skelwoorde te vergeld.
          Ons MIS ons ROEPING. Dis 'n SONDE. Dit vra om diepe verootmoediging teenoor God, maar groter nog, teenoor MEKAAR!
          Ons kan nie seën beërwe nie, want ons seën nie mekaar nie. Wanneer het een van ons ooit 'n ander geseën? Ons doen dit nie. Seën jy ooit as Hoë priester oor jou huis, jou vrou en kinders?
          Ons beroof onsself van seëninge. Ons beroof mekaar van eensgesindheid, van medelye, van ontferming, van volle broederliefde, van vriendelikheid. Ons is  slagoffers van ons eie optrede.
          Daarom, verootmoediging teenoor God moet geskied, maar ons moet ook ons saak met mekaar regmaak en dit reghou.
          Ons mis ons ROEPING!
          Ons mag nooit as kinders van die HERE in konflik teenoor mekaar staan nie. Die Liggaam en die Staat, die Christen en sy gesag, mag ook nooit in konflik teenoor mekaar staan nie.
          Die Christen vergeet so maklik, maar dit is noodsaaklik dat die Liggaam, bewus bly van die Vader se regverdigheid en geregtigheid, want so verseker 'n mens dat jy nooit in die versoeking kom om self te wil vergeld nie.
          Ons moet versigtig wees dat ons nie ten gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis nie.
          In plaas van vergelding, moet die Christen eerder bid: "Vader, vergewe hulle want hulle weet (tog) nie wat hulle doen nie." Dan gryp God in!
          Vir die Christene om teen die Staat op te tree, is dieselfde as om die Staat by die Satan aan te kla. Daar sal nie 'n verhoor wees nie.
         As die Christen God se hand in beweging wil sien kom, begin dan onder andere bid vir die Owerhede.
          Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mens. God sê aan die een wat Sy kind mishandel: Vir sovele soos wat hulle dit aan die geringste van My doen, doen hulle dit aan My, en onthou, My kom die wraak toe, Ek sal vergelde sê die HERE.
          Twyfel jy nog? Rom 13: vanaf strofe 1 lees:
          "Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.
          “…sodat hy wat hom teen die mag van God versit, die instelling van God weerstaan; en diegene wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.
          “want die Owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte....”
          As mens jou dus verset teen die owerhede wat oor jou aangestel is, dan sondig jy teen die HERE, want die HERE is in beheer van daardie owerheid.
          Laat ons dus voortgaan om die HERE te behaag deur alles wat ons sê en doen, Hom te verheerlik. Kom ons onderhou weer Sy insettinge, Sy verordeninge. Kom ons verbly die hart van die HERE.
          Ons staan op die drumpel van ‘n reuse oorwinning. Ons moet net ons saak met God en met mekaar regmaak.
          Ons sal onsself nie net voor God moet verootmoedig nie, maar ons sal ook moet terugkeer na ons eerste liefde:
          “Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel en met jou hele verstand en uit jou hele krag, en jou naaste (mekaar) soos jouself".
          Die liefde wat onder ons moet heers, is net nie langer daar nie. Ons eerste liefde het verflou. Ons het kragteloos geword, soos sout wat laf geword het.
          Die strafgerig is egter nie daar om ons te vernietig nie, maar juis om ons terug te kry op die plek waar ons hoort.
          Met menslike liefde sal ons nie kan slaag nie. Petrus kon ook nie.
          Toe Christus Goddelike (Agape) liefde bedoel het, het Petrus menslike (fileo) liefde verstaan. Daarom dat hy so maklik gesê het: “Ja HERE U weet ek het U lief.”
          Toe die toets kom, moes hy in trane na die gekraai van die haan luister.
          Daar is diegene wat redeneer dat ons nie geroep is om te ly nie, maar om te oorwin. Feit is dat ons in Christus Jesus reeds oorwin het. Deur onreg te ly is deel van die oorwinning.
          En as die regerende gesag ons sou verbied om die Bybel te lees en die Vader te aanbid, dan moet ons die Vader meer gehoorsaam wees as die mens. Dan gaan ons voort om die Bybel te lees en die Vader te aanbid, en, as ons as gevolg daarvan deur die regerende gesag gestraf sou word, dan is dit bloot deel van die lydingsdoop.
          Mag hierdie skrywe ‘n ewewig, 'n korrekte persepsie, 'n nuwe visie, nuwe moed, 'n nuwe ywer, in die midde van ons mense plaas.
          Laat die Liefde, die Koninklike Wet, heers! – Sjibbolet

Is jou mandjie leeg in 2016?


Image result for empty basket   

Gooi die net aan die anderkant van die skuit uit!


IS jou mandjie leeg? Is die mandjies in jou gemeente leeg? Wil jy graag al die mandjies vol sien? Wil jy sien dat daar brokstukke oorbly weens die oorvloed?
Dit is baie maklik, gehoorsaam net die opdrag: Gee julle vir hulle iets om te eet!
          Twaalf dissipels het 5 000 man en hul vroue en kinders met twee visse en vyf brode gevoed.
          As die dissipels hul kop geskud het en gesê het, hoe op dees aarde voed mens so baie mense met so ‘n bietjie kos, dan sou daar niks gebeur het nie.
          Toe die dissipels egter in die geloof vorentoe beweeg en buk om die eerste van die visse en brode uit te deel, toe het God se vermenigvuldigende krag in werking getree.
          Toe is van die vleeslike vlak na die geestelike vlak beweeg! En die geheim van die Lewe, tot ‘n ware Godvrugtige Lewe, die geestelike vlak. Dit is daar waar ons God se raadsplan vir ons lewens leer ken.
          Herders kry nie lammers nie, skape kry lammers. Herders se taak is om die skape op te pas en so te voed dat hulle selfs twee- en drielinge kan voortbring!
          Dit is dus nie die herder van die gemeente se taak om die siele in te bring nie, maar die skape.
          Jy werk te hard. Jy is te moeg om geestelike werk te doen. Jesus en die dissipels was ook. Hulle was juis na ‘n “verlate” plek op pad om te gaan rus.
          Die skare mense het daarvan uitgevind en hulle voorgespring en ingewag.
          Nogtans het Jesus hulle ontvang, die Koninkryk van God aan hulle verkondig en die siekes gesond gemaak.
          Toe sê die dissipels aan Jesus: Stuur die skare weg sodat hulle vir hulle voedsel kan gaan kry.
          Terwyl Jesus met die skare besig was, het die dissipels eenkant gesit en rus.  Dit is tog waarvoor hulle juis na dié verlate plek gekom het. Hulle het hulle mandjies leeg geëet.
          Hulle wou van die skare ontslae raak en vra dat Jesus die skare moet wegstuur, maar skielik gebeur die onverwagte, ‘n opdrag: Gee julle vir hulle iets om te eet!
          Die dissipels was reg met ‘n verskoning: Maar ons het nie meer as twee visse en vyf brode nie.
          En, om hulle verder uit die opdrag los te wikkel, voeg hulle by: Tensy ons vir hulle iets gaan koop. Dit sê hulle wel wetende dat dit onmoontlik vir hulle sou wees om vir meer as 10 000 mense kos te gaan koop.
          Dan die opdrag: Orde! Almal moet in groepe van 50 en 100 sit. Toe word die seën uitgespreek, daarna is die kos uitgedeel en almal is gevoed.
          Reg deur die Skrif gebruik God altyd die min om die baie mee te doen. En Hy sien om na die getroues, Hy maak hulle mandjies weer netjies vol.
          As jy vandag kind van God is, dan kom die opdrag ook aan jou: Gee jy vir hulle iets om te eet!
          Los maar die verskonings van moeg wees, van nie het om te gee nie, van nie genoeg kennis oor die Woord het nie, nie geleerd is nie, nie ‘n slag met mense het nie. Los dit!
          Jy is dan veronderstel om die groot gebod van Liefde na te kom. Begin beweeg en die Goddelike krag neem van jou besit.
          Jesus verwyt jou nie, watter verskonings jy ook al sou hê. Hy gee jou bloot die opdrag: Gee jy vir hulle iets om te eet!
          God belowe Hy voorsien aan ons in elke behoefte. Hy gee altyd in oorvloed:

·       Sy bloed wat aan die Kruis op Golgota gestort is, is genoeg om die ganse mensdom te red;
·       Aan mens, plant en dier gee hy saad in oorvloed om te kan voortplant;
·       Ons het selfs meer bloed in ons liggame as wat ons benodig en daarom kan ons bloed skenk.

Ons kan ons nooit doodwerk nie, daarvoor het ons meer as genoeg reserwekrag. God hou by Sy beloftes en gee aan ons alles en baie, baie meer – solank ons gehoorsaam is aan die opdrag: Gee julle vir hulle iets om te eet.
Jy hoef geen belydenis te doen en te sê HERE ek is jammer, ek het U gefaal nie. God is te groot en te positief daarvoor. Hy weet jou mandjie is leeg. Hy sê vir jou hoe om dit weer vol te kry: Gaan gee jy vir hulle iets om te eet!
Kyk na die skrikwekkende statistiek oor verkragting, moord, ens.  Daardie slagoffers het jou nodig.
Kom ons kyk weg van die misdaadtoneel na ons eie toneel:

·       Ons spandeer meer aan drank as aan behuising;
·       Meer aan tabak as aan die Evangelie;
·       Meer aan Lotto-kaartjies as aan die Evangelie;
·       Meer op perdewedrenne as aan volkswelsyn;
·       Meer tyd voor die TV en Internet as aan die armes.

Hou op om die net aan die kansel se kant van die skuit uit te gooi. Vaar uit na die diep waters en gooi die net aan die anderkant uit. Deur die net altyd aan die kansel se kant van die skuit uit te gooi, sal julle niks vang nie.
Eseg. 3:18 “As Ek aan die goddelose sê:  Jy sal sekerlik sterwe en jy (kind van God) waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku nie, dan sal die goddelose deur sy ongeregtigheid sterwe, maar, sy bloed sal van jou hand geëis word”
Daarby sê ‘n regverdige God: “Maar, as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.
Vaar dus uit na die diep waters en gooi die net aan die anderkant van die skuit uit en die nette sal tot barstens toe vol wees. Dit is vir seker!
En die HERE sal daagliks by die gemeente voeg, diegene wat gered is. – Sjibbolet  

Sondag 10 Januarie 2016

Komaan, kom ons sing ‘n Sionslied!


Image result for people singing worship song

Die Nuwe jaar is hier. Net een vraag is lewensbelangrik:  Wat gaan jy hierdie jaar vir God doen — ‘n opdrag wat jy nie durf ontduik nie.
God het in elke wedergeborene die gees van ‘n pionier geplaas — ’n eindelose revolusionêre geestelike onrus wat met ’n stormsee vergelyk kan word. Dis ’n honger na geregtigheid om die Groot Taak te volbring!
As jy jou daarop beroem dat jy ‘n Gelowige is, dan vereis die HERE dat jy Hom dien. Jy is een van die werkers wat die Koninkryk moet help bou.
            Te veel mense wat hulle op hulle Christenskap beroem wag vir die Wederkoms, vir beter dae, murmureer en is tevrede met die krummels wat van die tafel afval.
            Hulle sit en wag vir ‘n “nuwe openbaring” in plaas daarvan om ’n pad deur die duisternis oop te dwing met aggressiewe gebed, of Christus se kleed te gryp en nie te laat los nie, nie voordat hulle nie genees is en weer op oorwinningsgrond staan nie.
            Hulle wag vir ‘n geestelike Moses om op die toneel te verskyn. Ander wag vir Elia, in plaas daarvan om self tot die stryd toe te tree met ‘n salwing van doel en einddoel, met ‘n gees van eindelose revolusionêre geestelike onrus soos wat ons geestelike vaders had.
            Die Koninkryk van God word gekenmerk aan: Inval, oorwin, onderwerp, verander, verklaar, aankondig, herstel, bevestig, hervorm, vestig, verdeel, onthul, verkry en in besit neem...
            Te veel Christene lewe in die verlede. Hulle borduur gereeld aan ekstatiese oomblikke van die verlede en regverdig so hulle louheid.
            Hulle durf nie nuwe grondgebied aan deur God se teenwoordigheid en in gehoorsaamheid, ware onderwerping, geestelike groei en nuwe verhoudinge nie.
            Sommige van diegene wat dit op die vooruitstrewende pad waag, doen dit in huiwering en nie in oortuiging nie en let gedurig op by watter uitgange hulle moontlik hul pligte kan ontvlug.
“Ag, as U maar die Hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig –
“soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel – om u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe
“wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie – as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig!
“Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het 'n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.” Jes. 64:1-4.
            God soek na ’n geslag wat die liedere van Sion kan sing, ‘n geslag van pioniers. Pioniers dien nie God met gemiddeldheid nie, hulle dien Hom voluit. Hulle laat geen hindernis langs die pad hulle onderkry nie.
            Pioniers skep nie vir hulself ’n afgebakende gebied nie en hulle steur hulle nie aan die hol geklank van menslike murmurering wat vra: Waar is die belofte van sy verlossing nie?
            Pioniers sing nie liedere van treurmare en verdriet nie, hulle sing die liedere van Sion! Hulle is belas met ’n eindelose revolusionêre geestelike onrus, ’n onrus wat nie tot ruste sal kom voordat God se geregtigheid nie oor die aarde seëvier nie!
            “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink.
            “Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons, ons siters opgehang.
“Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van 'n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons 'n Sionslied.
“Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in 'n vreemde land?
“As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet!
“Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.” Ps. 137:1-6
            Dis tyd vir die Volk van God om op te staan want oor die aarde heen word ’n opmars van die duisternis beleef wat alles sal verswelg as ons nie in die bres gaan staan nie, en dit doen ons met die wete dat die Lig die duisternis sàl verdryf!
            Op die vlaktes van huiwering, is die beendere van ’n ontelbare menigte besig om te verbleik, omdat hulle op die drumpel van hulle oorwinning gaan sit het om te rus, en terwyl hulle gerus het, het hulle versleg en gesterf.  
            Een van die natuurwette is dat as mens nie gesond eet en genoeg oefening kry nie, dan sal jy ook inderdaad versleg en vroegtydig sterf.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Heb. 12:12-13.
            Dis tyd om op te staan! Ons is die geslag na vore moet tree met ’n nuwe lied, ’n brandende revolusionêre passie vir heiligheid om:

·       Die Blye Boodskap te bring aan die ootmoediges
·       Om die gebrokenes van hart te verbind
·       Om vir die gevangenis vrylating uit te roep
·       Om uit te roep ’n jaar van welbehae van die HERE en ’n dag van wraak van onse God
·       Om al die treurendes te troos
·       Om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word: Sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid en ’n Gewaad van lof vir ’n verslae gees sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ’n planting van die HERE, tot Sy verheerliking
·       Ons sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.

Laat die wedergeborenes opstaan en vorentoe beweeg met ’n juigkreet en gejubel. Laat ons die siele in ons huise, ons gemeenskappe en in ons dorpe en stede vir die Koninkryk opeis. Laat ons huwelike en gesinslewe weer vir die HERE ’n sieraad wees, die gemeentes ’n plek waar die verbryseldes verbind, getroos en vernuwe kan word.
“Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is! Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie;
“want die mot sal hulle opeet soos 'n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my heil van geslag tot geslag.
“Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die HERE! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster deurboor het nie?
“Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see 'n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie?
“So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg.
“Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? –
“dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?” Jes. 51:7-13.
Komaan, kom ons sing ‘n Sionslied! Bid vir ‘n magtige geestelike Herlewing.  – Sjibbolet


As jy geestelike berading of gebed benodig kontak my op belindapaar@gmail.com

Die vereelte hande…


Image result for oumens hande 


‘n Jong man het aansoek gedoen vir n bestuurspos by ‘n groot maatskappy. Hy het die eerste onderhoud suksesvol afgelê, en daar was ‘n opvolg onderhoud gereël sodat hy die besturende direkteur van die maatskappy kon ontmoet.

Deur sy CV het die direkteur gesien dan die jong man se akademiese prestasies van uitmuntende gehalte was.

Die direkteur het na die jong man gekyk en vir hom gevra: "Het jy enige beurse gehad waarmee jy gestudeer het?" en die jong man het geantwoord : "Nee"

"Was dit jou vader wat al jou studie geld betaal het"

"Nee," se die jong man weer, "My vader is oorlede toe ek een jaar oud was, dit was my moeder wat vir al my studies betaal het."

" Waar het jou moeder gewerk?"

"My moeder het ander mense se klere gewas "

Die direkteur vra toe die jong man om sy hande vir hom te wys. Die jong man het sy hande uitgesteek en verbaas na die direkteur gekyk.

Wat sou sy hande met die onderhoud te doen he. Die direkteur het na die jong man se hande gekyk, hulle was glad en perfek versorg.

" Het jy ooit jou moeder gehelp om die wasgoed te was?"

"Nooit, my moeder wou altyd he ek moet lees, en studeer, en buitendien kan my moeder wasgoed baie vinniger en skoner was as wat ek ooit kon droom om dit te doen."

Die direkteur sê toe vir die jong man, "Ek wil hê jy moet huis toe gaan vandag, en dan moet jy jou moeder se hande met room smeer, en dan sien ek jou weer moreoggend hier."

Die jong man het gevoel hy kan dalk die werk kry, en hy is huis toe om vir sy moeder te vertel van die onderhoud. Toe hy later by haar sit, sê hy vir sy moeder hy wil graag haar hande room smeer. Vir die moeder was dit n snaakse versoek, maar met gemengde gevoelens het sy die buisie room na hom toe uitgehou, en toe haar hande uitgesteek na hom
toe.

Die jong man het sy moeder se hande in syne geneem, en toe begin die trane oor haar hande rol, vir die eerste keer in sy lewe het hy gesien hoe vol plooie, en eelte sy moeder se hande was. Plek-plek was die hande oopgebars, en het sy ineengetrek toe hy dit saggies met room begin invryf.

Dit was die eerste keer dat die jong man besef het dat daardie paar hande wat soveel bondels wasgoed gewas het, vir sy studiegeld betaal het. In ysige winter koue, en stomende somer hitte, het sy onverpoosd gewerk. Daardie vereelte hande het sy toekoms rooskleurig geverf. Daardie stukkende hande het gesorg vir n uitstekende geleerdheid.

Na hy sy moeder se hande goed gesmeer het, het hy die volgende bondel wasgoed opgetel en stil-stil daarmee verdwyn om dit vir haar te gaan was.

Daardie aand het moeder en seun tot baie laat gesels.

Die volgende dag het die jong man weer by die direkteur aangemeld vir sy onderhoud.

Die direkteur het gesien die trane sit nog baie vlak in die jong man se oë. "Het jy toe gedoen wat ek vir jou gevra het?"

"Ja, ek het my moeder se hande met room gevryf, en toe het ek die res van die wasgoed vir haar gewas. Ek het nou eers besef dat ek nooit waardering gehad het, vir dit was sy al die jare vir my gedoen het nie. Sonder haar sou ek nie vandag vir hierdie pos kon aansoek doen nie. En toe ek gister daardie vreeslike bondel wasgoed was, toe voel dit asof my skouers wil afskeur. Toe besef ek eers hoe groot haar opoffering was al die jare.

"Die pos is joune, eers as iemand waardering en dankbaarheid kan betoon, is hy gereed vir so ‘n pos.

Kyk vandag om jou rond, daar is baie mense wat baie opgeoffer het in die lewe om ons te gee wat ons vandag het.

En dan is daar n Hemelse Vader wat alles opgeoffer het, sodat ek en jy nie nodig het om gestraf te word vir al ons verkeerde dade nie. Kyk na Sy Hande vandag, Hulle dra die merke van hoe Hy vir ons gely het, hoe Sy liefde ons straf gedra het.

Het ons al vir Hom die nodige dank en waardering gewys vir die merke in Sy Hande?

Kom ons maak hierdie dag anders. Kom ons wys waardering aan al ons geliefdes, en kom ons wys dankbaarheid en waardering aan ons Hemelse Vader wat so mooi na ons kyk. Sonder Sy opoffering sou ons lewens baie anders verloop het.

“As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8 – Sjibbolet

Indien u geestelike berading of gebed nodig het kontak my op belindapaar@gmail.com

Woensdag 06 Januarie 2016

Ons, ek en jy, kan die uitmergelende droogte breek...


Image result for rain


Die huidige droogte is uitmergelend en daar is geen teken wanneer die droogte gebreek gaan word nie. Mense raak mismoedig, selfs depressief, sommige pleeg selfs selfmoord. Oral kla, murmureer mense oor die ondraaglike hitte en droogte.   “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.
“Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Kor 10-12
            Ten spyte van alles moet ons soos Habakuk jubel.
            “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            “Die HERE God is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 17-19
            Ten spyte van wat ook al, jubel Habakuk. Hy was altyd bly.
            Altyd beteken presies wat dit sê soos in: Wees altyd bly.
Dog, hoe is mens bly en dankbaar wanneer daar fout is, wanneer dinge verkeerd loop, wanneer jy onrustig is, of seer het of hartseer is?
            Eenvoudig, ons is bly omdat ons weet dat wat ons omstandighede ook al is, die Almagtige God, ons God, het reeds die antwoord.
            “Wees altyddeur bly.
            “Bid sonder ophou.
            “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” 1 Thes 5:16-18
            Dalk moet alle gemeentes die preke vir ‘n tyd lank op Sondae stop en die hele diens gebruik in lofprysinge, aanbidding en gebed. Waar twe of drie in Sy naam vergader, daar is Hy. Verwelkom hom.
            Onthou, God besit alles, elke liewe ding. Daar is niks wat ons Hom kan gee as net lofprysinge en aanbidding nie. Doen dit!
            ‘n Biddag vir reën baat nie. Dan reën dit en dan gaan almal weer hulle eie weg. Onlangs was daar ‘n biddag vir reën. Steeds reën dit nie, maar pleks van jubel en blydskap, duur die murmureringe voort.
            Paulus had dit nooit maklik nie. Die Here stuur hom na Macedonië.
Met sy aankoms is daar ondervind hulle vriendelikheid, gasvryheid en siele word gered en gedoop.
            Al die tekens is daar om te bevestig ja, die HERE het hom gestuur.
            Die volgende dag open die poorte van die hel, of so het dit gelyk.
Hulle klere word van hul lywe afgeskeur en hulle word met stokke geslaan, omdat hulle dit gewaag het om Jesus Christus te verkondig.
Hulle word in die binneste gevangenis gewerp, ‘n bykomende gevangenis in die middel van die gewone gevangenis met hoër mure. Hulle voete is in ‘n blok vasgemaak. Niemand kom daaruit los nie.
Daar sit hulle in duisternis, bebloed, naak, in pyn en hulle kon begin murmureer het met smartvraat vrae soos: “Hoekom het die HERE dit toegelaat, ens.?”
            Dink maar of jy ooit in so ‘n benarde posisie was en dit boonop onskuldig!    Middernag, bebloed en in pyn, begin hulle lofliedere tot eer van God sing. So hard dat al die gevangenes daarna luister. Paulus en Silas het besef God is groter as die probleem en pleks van te kla en te murmureer oor die bloed en die koue en die pyn, kyk hulle by dit alles verby, reguit na God.
            “En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.
“En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.
“Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.
“En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.
“En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?
“Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
“En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.
“En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.
“Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.” Hand 16:26-32
Paulus en Silas het in groot blydskap die lofliedere begin sing omdat hulle geweet het, alhoewel hulle diep in die verknorsing was, had God reeds die antwoord.
Verstaan jy nou wat dit beteken om altyddeur bly te wees, altyd te jubel, wat jou omstandighede ook al is?
Die HERE wou die hele tronk red, vanaf die hoof van die tronk tot by die grootste krimineel. Die HERE het Paulus wel na Macedonië gestuur, maar Paulus sou nie die tronk besoek nie. Toe plaas die HERE vir hom en Silas in die tronk.
Aan die een kant is die hele tronk gered en aan die anderkant groei Paulus en Silas in geestelike wasdom.
En dan staan daar ook: “Bid sonder ophou.
Jesus sê: “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang (hoekom?), sodat julle blydskap volkome kan wees.” Joh 16:24
            Ons is veronderstel om in geestelike wasdom te groei. Paulus kon reeds die geestelike voordeel begryp om dankbaar te wees wanneer mens seer het.
            Lofliedere en gebede neem die fokus van jouself af en plaas dit waar dit hoort, op Jesus Christus.
            Paulus moes telkens storms op see aandurf ter wille van die Evangelie. Hy weet hoe dit voel om in ‘n stormsee met ‘n skip te strand. Maar hy kon baie vermag omdat hy so swaar op die Heilige Gees gesteun het.
            Hy het besef sy eie kragte gaan hom nie dra nie, maar die Heilige Gees kan en sal.
            So moet ons ook groei in geestelike wasdom, situasies kan opsom (gawe van onderskeiding) en met blydskap die stryd takel. Hou op met worstel en gee oor en vertrou op die Heilige Gees. Dan help God jou om die onmoontlike reg te kry. Dan behou jy jou blydskap in pyn en hartseer.
            Paulus en Silas was in baie groot moeilikheid, hulle kon nie sien hoe hulle ooit daaruit sou kom nie, maar hulle het geweet God het altyd ‘n antwoord.
Uiteindelik weet hulle, hulle moes daardeur sodat ‘n hele tronk en die personeel en selfs die hoof van die tronk en sy huisgesig, gered en gedoop kon word.
Ons kan die droogte breek as ons almal elke dag die lofliedere tot God sing en bid.
Let op, Jesus het sy lewe vir jou afgelê en oorwin. Wanneer lê jy jou lewe vir hom af?
Wanneer jy in pyn en verknorsing is, bid en bid en bid omdat jy weet God het die antwoord. Wees bly en bly en bly want jy weet God het die antwoord!
Moenie fokus op die grootheid van die probleem nie, fokus op die grootheid van God. Maak hierdie sin jou slagspreuk: My God is ver groter as die probleem!
My God is groiter as die weervoorspellings. Moenie eers daarna kyk nie. Hou die oë op Jesus.
            Jy sit al twee jaar sonder werk.  Jy het kanker.  Jy is ‘n diabeet.
Dan verbly jy jou... nie in jou werkloosheid nie, nie vir die kanker nie, nie vir die Diabetes nie... jy verbly jou in jou God wat die antwoord het!
Een van God se doelwitte met my en jou, is om te leer dat ons ten volle van Hom afhanklik moet wees.
Luister weer: Jy verbly jou nie in jou probleme nie, jy verbly jou in God se antwoord op die probleem. Jy smeek nie, jy kla nie, jy vertel vir niemand hoe swaar jy kry nie, jy sms niks, jy verbly jou in God se antwoord want jy weet Hy het die antwoord.
Keer die hele Facebook om in lofliedere en aanbidding...
Jy lewe bo en nie onder die omstandighede nie. Jy staan op oorwinningsgrond!
Die verraderlike see suig skrywer een keer diep in die donker waters in. Ek haal nie meer asem nie. My mond is oop en seewater vloei in en uit my. Ek besef die einde is hier. Ek sien my hele lewe voor my afspeel. Dis verby. Ek kan nie bid nie, nie praat nie, nie niks nie.
Dan gee ek oor en ek dink hoe wonderlik dit is om te sterf. Die wonderlike kalmte en heerlikheid wat oor mens spoel.
Dan kom die Engele en haal my uit daai donker dieptes uit... 56 jaar gelede... want die HERE had ‘n belangrike taak vir my.
Jare daarna, een donker nag, gebeur presies dieselfde, en weer haal die HERE my daar uit.
Nog later, een donker nag, is ek in ‘n skuit in die reën op die oop stormsee.  Weer red die HERE my.
En... ek was nie eers Wedergebore nie. Ek het myself net oorgegee aan die Ewigheid. In daardie stadium is jy ‘n niks en kan jy niks meer doen nie. Jy veg vir jou lewe en dan besef jy... jy kan nie meer nie.
Kort daarna was daar ‘n Damaskuspad ondervinding. My ouma, wat dig aan Jesus se sy gewandel het, had haar lysie vir wie sy dag en nag die HERE geloof het dat almal gered wou word. Ouma’s julle het ‘n vername rol om te speel.
            Vandag, as Gelowige, is dit veel makliker. Ek is altyd bly want ek weet, wat ook al oor my pad kom, God het reeds die antwoord, soos onlangs weer.
            Moenie ‘n smartvraat wees nie, moenie dat emosie die oorhand kry nie, laat liewer die blydskap seëvier.
            Jy bekommer jou oor jou kind wat die pad byster is. Gee hom oor in die hande van die HERE en wees bly, bly, bly. Jubel.
            Jou kommer, en vrees, emosies, twyfel en depressie gaan niks oplos nie. Wees altyd bly. Bid sonder ophou.
            Jesus sê ‘n paar keer vir sy eie dissipels: Moenie vrees nie, glo net.
            Jy het as Gelowige mag oor alle dinge. Gebed is die magtigste wapen in die wêreld, dis soos ‘n ballistiese missiel.  Niks kan standhou voor gebed nie.
            Daar is onberekenbare krag in God se Woord.
Wanneer dit goed gaan is ons mos minder intiem met die HERE (swak gewoonte), maar wanneer die “sleg” gaan, dan is Hy skielik ons beste Vriend.
Vervang die plakkers op jou yskas met die Lewende Woord: Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar. Sing lofliedere. Speel die DVD’s met lofliedere heeldag.
Doen soos die HERE sê: Wees altyd bly. – Sjibbolet

Sondag 03 Januarie 2016

‘Wys my hoe ek oor die rivier kan kom’ J.R. Gschwend


Image result for river in the mountains


KORT na my aankoms in Lesotho, die land met van die hoogste berge in Suid-Afrika, kom daar eendag ‘n Basotho te perd by my aan.
          Hy het gesoek na ‘n witman wat vir sy vader sou vertel “hoe hy oor die rivier kon kom.” Teen hierdie tyd het ek uit eie ondervinding al besef hoe moeilik dit is om ‘n rivier sonder ‘n brug of ‘n pont oor te steek.
          Tog het ek terselfdertyd besef dat hier geen sprake was van ‘n aardse rivier nie maar, dat dit stellig GOD was wat met die Basotho se vader gepraat het.
          Om hierdie rede het ek my perd opgesaal en saam met die Basotho na die anderkant van die berg gery.
Toe my gids uiteindelik voor ‘n klein kleihut stilhou en sê: “Hier woon my vader,” het ek van my perd afgeklim en die hut binne gegaan.
          Voor my het die swart gesig van ‘n ou man met ‘n sneeuwit hare gesien, asook sy vrou, net so oud soos hy, langs hom. Skaars het ek op die kleivloer plaasgeneem of die ou man het begin praat.
          “Nou weet ek dat ek reg gedroom het. Die witman wat vir my moet sê hoe ek oor die rivier kan kom, het gekom.”
          Nadat ek hom gevra het wat hy daarby bedoel het hy my begin vertel hoe hy die vorige nag gedroom het dat hy op ‘n breë pad, saam met medereisigers loop. Sommige was dronk, ander het baklei, ander het spelende en dansend ‘n lasterlike lewe gelei.
          “Ek het gesien hoe hierdie breë pad na ‘n verskriklike afgrond lei. Ek was moeg vir hierdie lewe en het gewens om tog eenmaal uit die ellende te kom.
          “Toe sien ek ‘n diep vallei waarin ‘n breë stroom vloei. Oorkant die rivier het ‘n skitterende stad gestaan soos wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie.
          “As ek maar daardie stad kon bereik, het ek gedink, sou ek tevrede wees en rus vir my siel vind.
          “Terwyl ek wens dat ek na daardie stad kon vlug, sien ek skielik ‘n smal voetpaadjie wat uit die breë pad uitdraai. Dadelik het ek daardie paadjie gevolg, af na die groot rivier.
          “Tot my teleurstelling moes ek ontdek dat dit onmoontlik was om oor die rivier te kom want, daar was geen brug of skuit of enige ander middel om my oor hierdie diep en donker stroom te neem nie.
          “Met traangevulde oë en ‘n diepe droefheid in my, het ek van hierdie verruklike stad voor my weggedraai om na die pad van verderf terug te keer.
          “Skielik het daar ‘n Engel verskyn en aan my gesê: ‘Gaan na die anderkant van die berg en daar sal jy ‘n witman kry wat vir jou sal vertel hoe jy oor die rivier kan kom.’
          “Ek het uit my slaap wakker geword en daar ek te swak was om self te gaan, het ek my seun gestuur om hierdie witman te soek en hom na my te bring sodat hy my kan vertel hoe ek oor die groot rivier kan kom.
          “Nou het die witman gekom en sal hy vir my vertel hoe ek oor die rivier kan kom.”
          Hoe heerlik was dit nie vir my om hom van die Jesus Christus, die Seun van GOD, te vertel nie. Van Hom wat uit die Hemel neergedaal het en gesê het: “Ek is die weg, die waarheid en die Ewige Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Ek is die deur, as iemand deur My ingaan sal hy gered word, en hy sal uitgaan en ingaan en weiding vind.”
          Ek het die ou man so eenvoudig moontlik vertel hoe Jesus die Seun van GOD, gekom het om vir ons deur Sy gestorte bloed die weg na die Hemel oop te maak; hoe Hy ons ook waarsku teen die breë pad wat tot die ewige verderf lei en dat Hy gesê het dat die smal pad tot die Ewige Lewe lei.
          Terwyl ek myself afvra hoeveel die ou man van alles kon begryp, kniel hy en sy vrou meteens neer en sê: “Dit is genoeg, ek sien die pad. Deur die bloed van Jesus het ek toegang tot GOD.”
          Saam met sy vrou gee hy hom toe oor aan die HERE, vind volle vergifnis en reiniging van hulle sondes en smaak hulle die vrede van GOD in hulle harte. Later is hy en sy vrou ook gedoop.
          Sowat ses maande later het ek ‘n lang sendingreis na die hoë berge onderneem. My weg het langs die ouman se kraaltjie verbygegaan.
Ons het daar by die blymoedige ouman en sy vrou – so oud, en tog sulke jong Christene – ‘n diens gehou, saam met hulle gebid en hulle op hul pelgrimsreis aangemoedig.
By die afskeid omklem hy my hande met albei sy hande, en terwyl die trane oor sy wange rol, sê hy: “Ek bedank u nogmaals uit die diepte van my hart, dat u gekom het om ons te wys hoe om oor die rivier te kom. In die geloof het ek reeds oorgegaan, maar weldra sal ek geheel-en-al oorgaan.”
Toe ek van daardie reis af terugkom, het ek verneem dat hy ‘n paar dae tevore met groot vreugde die Ewigheid ingegaan het na die heerlike stad, die Nuwe Jerusalem, waarna hy so uitgesien het.
          Vir my was hierdie ondervinding ‘n blywende aansporing om sendingwerk nie as ‘n swaar plig te beskou nie, maar as die grootste voorreg wat aan ons, en nie aan die Engele nie, geskenk is.
Soos in die geval van Cornelius, was dit nie ‘n Engel wat aan hom moes sê hoe om gered te word nie, maar ‘n man met die naam Petrus. So kon die Engel ook nie vir hierdie ou swartman sê hoe om oor die rivier te gaan nie, maar ‘n man, in hierdie geval ekself.
Die voorreg is aan ons as geredde mensekinders gegee om die Evangelie aan alle mensewesens te verkondig. Dit is nie ‘n swaar taak nie, maar ‘n dure plig, ‘n opdrag: “Gee júlle, vir hulle iets om te eet.”
Terselfdertyd is dit ook ‘n verantwoordelikheid om die Evangelie te verkondig. As ons dit nie doen nie, kan die siele ons by die oordeelsdag beskuldig dat ons hulle nie die blye nuus gebring het nie. – JR Gschwend het jare gelede na Suid-Afrika gekom as lid van die Switserse Pinstersending. Hy het later vanaf Lesotho na Pretoria verhuis waar hy  All Nations Gospel Publishing begin het.