Vrydag 15 Januarie 2016

Is jou mandjie leeg in 2016?


Image result for empty basket   

Gooi die net aan die anderkant van die skuit uit!


IS jou mandjie leeg? Is die mandjies in jou gemeente leeg? Wil jy graag al die mandjies vol sien? Wil jy sien dat daar brokstukke oorbly weens die oorvloed?
Dit is baie maklik, gehoorsaam net die opdrag: Gee julle vir hulle iets om te eet!
          Twaalf dissipels het 5 000 man en hul vroue en kinders met twee visse en vyf brode gevoed.
          As die dissipels hul kop geskud het en gesê het, hoe op dees aarde voed mens so baie mense met so ‘n bietjie kos, dan sou daar niks gebeur het nie.
          Toe die dissipels egter in die geloof vorentoe beweeg en buk om die eerste van die visse en brode uit te deel, toe het God se vermenigvuldigende krag in werking getree.
          Toe is van die vleeslike vlak na die geestelike vlak beweeg! En die geheim van die Lewe, tot ‘n ware Godvrugtige Lewe, die geestelike vlak. Dit is daar waar ons God se raadsplan vir ons lewens leer ken.
          Herders kry nie lammers nie, skape kry lammers. Herders se taak is om die skape op te pas en so te voed dat hulle selfs twee- en drielinge kan voortbring!
          Dit is dus nie die herder van die gemeente se taak om die siele in te bring nie, maar die skape.
          Jy werk te hard. Jy is te moeg om geestelike werk te doen. Jesus en die dissipels was ook. Hulle was juis na ‘n “verlate” plek op pad om te gaan rus.
          Die skare mense het daarvan uitgevind en hulle voorgespring en ingewag.
          Nogtans het Jesus hulle ontvang, die Koninkryk van God aan hulle verkondig en die siekes gesond gemaak.
          Toe sê die dissipels aan Jesus: Stuur die skare weg sodat hulle vir hulle voedsel kan gaan kry.
          Terwyl Jesus met die skare besig was, het die dissipels eenkant gesit en rus.  Dit is tog waarvoor hulle juis na dié verlate plek gekom het. Hulle het hulle mandjies leeg geëet.
          Hulle wou van die skare ontslae raak en vra dat Jesus die skare moet wegstuur, maar skielik gebeur die onverwagte, ‘n opdrag: Gee julle vir hulle iets om te eet!
          Die dissipels was reg met ‘n verskoning: Maar ons het nie meer as twee visse en vyf brode nie.
          En, om hulle verder uit die opdrag los te wikkel, voeg hulle by: Tensy ons vir hulle iets gaan koop. Dit sê hulle wel wetende dat dit onmoontlik vir hulle sou wees om vir meer as 10 000 mense kos te gaan koop.
          Dan die opdrag: Orde! Almal moet in groepe van 50 en 100 sit. Toe word die seën uitgespreek, daarna is die kos uitgedeel en almal is gevoed.
          Reg deur die Skrif gebruik God altyd die min om die baie mee te doen. En Hy sien om na die getroues, Hy maak hulle mandjies weer netjies vol.
          As jy vandag kind van God is, dan kom die opdrag ook aan jou: Gee jy vir hulle iets om te eet!
          Los maar die verskonings van moeg wees, van nie het om te gee nie, van nie genoeg kennis oor die Woord het nie, nie geleerd is nie, nie ‘n slag met mense het nie. Los dit!
          Jy is dan veronderstel om die groot gebod van Liefde na te kom. Begin beweeg en die Goddelike krag neem van jou besit.
          Jesus verwyt jou nie, watter verskonings jy ook al sou hê. Hy gee jou bloot die opdrag: Gee jy vir hulle iets om te eet!
          God belowe Hy voorsien aan ons in elke behoefte. Hy gee altyd in oorvloed:

·       Sy bloed wat aan die Kruis op Golgota gestort is, is genoeg om die ganse mensdom te red;
·       Aan mens, plant en dier gee hy saad in oorvloed om te kan voortplant;
·       Ons het selfs meer bloed in ons liggame as wat ons benodig en daarom kan ons bloed skenk.

Ons kan ons nooit doodwerk nie, daarvoor het ons meer as genoeg reserwekrag. God hou by Sy beloftes en gee aan ons alles en baie, baie meer – solank ons gehoorsaam is aan die opdrag: Gee julle vir hulle iets om te eet.
Jy hoef geen belydenis te doen en te sê HERE ek is jammer, ek het U gefaal nie. God is te groot en te positief daarvoor. Hy weet jou mandjie is leeg. Hy sê vir jou hoe om dit weer vol te kry: Gaan gee jy vir hulle iets om te eet!
Kyk na die skrikwekkende statistiek oor verkragting, moord, ens.  Daardie slagoffers het jou nodig.
Kom ons kyk weg van die misdaadtoneel na ons eie toneel:

·       Ons spandeer meer aan drank as aan behuising;
·       Meer aan tabak as aan die Evangelie;
·       Meer aan Lotto-kaartjies as aan die Evangelie;
·       Meer op perdewedrenne as aan volkswelsyn;
·       Meer tyd voor die TV en Internet as aan die armes.

Hou op om die net aan die kansel se kant van die skuit uit te gooi. Vaar uit na die diep waters en gooi die net aan die anderkant uit. Deur die net altyd aan die kansel se kant van die skuit uit te gooi, sal julle niks vang nie.
Eseg. 3:18 “As Ek aan die goddelose sê:  Jy sal sekerlik sterwe en jy (kind van God) waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku nie, dan sal die goddelose deur sy ongeregtigheid sterwe, maar, sy bloed sal van jou hand geëis word”
Daarby sê ‘n regverdige God: “Maar, as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.
Vaar dus uit na die diep waters en gooi die net aan die anderkant van die skuit uit en die nette sal tot barstens toe vol wees. Dit is vir seker!
En die HERE sal daagliks by die gemeente voeg, diegene wat gered is. – Sjibbolet