Vrydag 19 Januarie 2018

My Vriend Pine


Image result for stephan joubert ekerk


Stephan Joubert van e-kerk vertel: My vriend Pine, oftewel Salmon Pienaar, soos wat sy geboortesertifikaat sê, het vroeër vir die Suid-Afrikaanse Lugmag gevlieg.

            Vandag vlieg hy as private vlieënier die hele Afrika vol.

            Sy grootste 'vliegtuigstorie' is wanneer hy vertel hoe sy lewe se koördinate dramaties verander het toe hy die Man van Nasaret trompop raakgeloop het. Almal wat die ou Pine geken het, was oorbluf oor Pine II, wie se lewe nie meer ontsier is deur daardie dinge wat 'tawwe manne' gewoonlik doen om hul manlikheid te bewys nie.

            Maar 'n mens bly ook maar net mens. Hier en daar steek dinge vas wat moeilik uit jou sisteem padgee. Daarom dat Pine so geskok was toe hy op 'n dag bewus raak van 'n innerlike oortuiging dat hy sy huiswerker, Maria Ma-tseke, se voete moet was.

            Hy, 'n eks-lugmagvlieënier, wat voete was?! Dit het nie te lekker afgegaan nie. Maar vir iemand wat so radikaal tot geloof gekom het, en wat nie met die gewig van godsdienstige vroomheid opgesaal sit nie, is só 'n oortuiging nie grappies nie. Nogtans was dit nie 'n maklike ding om te doen nie.

            Jy moet immers op jou knieë voor iemand staan as jy voete was.

            Pine het weke lank oor hierdie voetwassery-ding getob. Tot op 'n dag dat hy dit nie langer kon uithou nie. Hy het vir Maria nader geroep en vir haar gesê om haar skoene uit te trek. Terwyl dié waardige dame, wat al jare lank by Pine werk, hom groot-oog aangekyk het, het hy haar voete onbeholpe gewas. Hy, 'n man onder die manne, op sy knieë voor sy huiswerker met 'n skotteltjie water het skielik hardop uitgebasuin

waarvoor Jesus staan.

            Toe volg die eintlike skok 'n paar dae later. Maria het kom sê: 'Meneer Pine, jy moet asseblief Sondag in Mamelodi kom voete was!'

            'Hoekom?’ het Pine gevra.

            'Ek werk al jare lank vir jou, maar jy het nooit agtergekom van die artritis wat maak dat ek moeilik oor die weg kom nie.

            'Nou die dag, toe jy my voete gewas het, sou my laaste werkdag by jou gewees het. Ek wou bedank want ek kan nie meer die pyn uitstaan nie. Maar toe was jy my voete. Kyk, ek kan weer loop.

            'Die pyn is weg. Die HERE het my aangeraak. Die mense by my kerk in Mamelodi het hiervan gehoor. Hulle wag vir jou!'

Egte Goeie Nuus het daardie dag gewen. Pine se buite-die-boks-gehoorsaamheid was al wat nodig was om sy lewe in sesde rat te plaas.

Terloops, jy moet hierdie ou grote deesdae hoor. My vlieg-vriend loop deesdae saam met Jesus op water rond! En ek leer by hom. Want dis dáár waar ek ook die graagste wil wees.

Miskien het ek self te gewoond geraak aan heilige dinge. Ek is al só ge-kerk, be-preek, op-gepreek, ingelig, geleer, of self aan die leer dat min dinge aan die geestelike front my nog soos 'n klein kindjie verras. Eintlik het ek my geloof lankal in 'n veilige boksie verpak met etikette aan alles en almal daarbinne én daarbuite. Ek is vas oortuig van wat reg en verkeerd is, en saam met ander sing ek Sondae half valerig oor Jesus wat die Bron van my vreugde is.

Dalk het ek ook tussendeur Christenskap in 'n stel dooie reëls vervorm, in plaas van 'n lewende verhouding met Jesus.

Ja, ek veg vir die waarheid en staan dapper op vir my beginsels, maar verander dit mense se lewe ooit op die regte manier?

Daarom dat ek skielik so doodmoeg is vir dié geblikte, kort-raklewe-godsdiens waarvan die vervaldatum lankal verstryk het. Met dié dat ek vandag amptelik bedank by die kerklike klub van veilige heiliges waarvan ek die erevoorsitter is! Ek wil Jesus weer op verrassende maniere ontdek, soos wat Hy vir Maria en Pine verras het deur hulle in 'n lewende seën vir mekaar en ander te verander.

            Terwyl ons kerklik dink, praat en dreig oor hoe ons nog eendag die wêreld gaan verander, gebruik Jesus intussen doodgewone mense onder ons neuse om 'n paar sentimeter op 'n slag splinternuut te maak. Salmon Pienaar van Pretoria-Oos en Maria Matseke van Mamelodi het Jesus se vlag stil-stewig geplant deur mekaar te dien.

            Dit het die hemele geskud. Dink net wat sal gebeur as ons almal die kerklike servette van ons nekke afhaal en ons dit 'n slag oor ons arms gooi om self ook bediendes van Jesus te word!

Herlewing – Vryburg – 1940


Image result for 1940 people praying together


Daar is heelwat te leer uit die Herlewing van 1940 wat op Vryburg uitgebreek en verder versprei het. Ons bid nou in afwagting vir ‘n landwye Herlewing. Vryburg met sy bykans 50 000 inwoners is die grootste beesboer distrik in SA met die Bonsmara as grootste beesras. Die dorp is in 1882 gestig as die hoofstad van die Republiek Stelleland. ‘n Jaar later was daar reeds 400 plase. Dis vandag ook ‘n sterk nywerheidsdorp en staan bekend as die Texas van SA.

Oom Pieter Scholtz vertel:

Dankie, vir die geleentheid om te kan vertel van 'n wonderlike, Heilige Gees bewerkte Herlewing wat in 1940 in Vryburg dorp uitgebreek en daarna ver en wyd uitgekring het.

Ek wil dit graag in alle nederigheid doen, want aan God alleen kom toe al die eer en dank van ons harte! Aan elkeen wat vandag ernstig saambid vir Herlewing, wil ek net sê dat my gebed is dat, wat ek vandag daarvan vertel, vir jou ’n bemoediging, ’n versterking van jou geloof en verwagting en ook ’n uitdaging sal wees, om jou vertroue en verwagting op God te stel en nie langer ‘klein gebede’ op te stuur na 'n ‘grote, almagtige, onveranderlike en vrygewige God’ nie!

As enige mens iets wil sê van iets heerlik wat God bewerk het, moet hy dit doen met eerbied en ontsag! Die egtheid daarvan moet ook getoets word om seker te maak dat dit nie die een of ander valse vuur was wat ontbrand het nie. Ons moet dit ook meet aan die bloudruk waarmee God self ná die uitstorting van die Heilige Gees, veral in die Boek Handelinge, herlewing op Sy eie soewereine, unieke maniere laat gebeur het.

Om een preek op Pinksterdag, word 3 000 gered EN deur die genesing van ’n verlamde wat sy stand ingeneem het word daar nog 2 000 geredde siele bygevoeg! EN, deur nog ’n preek van Stéfanus toe hý 3,000 klippe gekry het i,p.v. 3 000 siele, maar daardie één siel wat daardie dag wel die kolskoot in sy hart gekry het, was Paulus!

En dan was daar Filippus, die Evangelis – wat 'n Herlewing in Samaria beleef het, maar toe gestuur is ‘op ’n eensame pad’ na één siel – die kamerling van Etiopië .... die sleutel tot Afrika!

Treffend dat die grootste sendeling ooit – Paulus – se ondervinding van Herlewing net bestaan het uit baie oproere en ’n hele aantal middelmatige ‘herlewings’. Maar deur sy harde werk en ongelooflike opoffering, ywer en volharding was die gevolge en vrug van sý herlewings tog díé wat tot vandag toe die meeste, die kosbaarste en mees blywende vrugte afgewerp het!

Ek sê net eers hierdie dinge om daardeur te sê dat ek absoluut daarvan oortuig is, dat dit wat 78 jr. gelede in Vryburg dorp en distrik begin gebeur het, niks anders was, as ’n magtige werking van die Heilige Gees nie! Dit het klein begin, maar wyd uitgekring, tot selfs in ander lande, en tot vandag toe vloei die seën daarvan voort soos ’n magtige, stille stroom.

Vir myself is dit, ná 78 jr. nog alles helder en onvergeetlik. Daarom vertel ek dit vandag nog met groot vrymoedigheid en blydskap!

Terwyl ek allereers aan God AL die eer gee, wil ek ook, selfs vandag nog, al is dit lank ná hulle heengaan, ook ‘my hoed afhaal’ vir die dapper en gewillige instrumente wat God gevind het, kon voorberei en gebruik, en hulle ook salueer! Want ons weet mos ook dat – wanneer God iemand soek om deur te werk en Sy Naam te verheerlik, dan ‘probeer’ Hy nie éérs getalle vol kry of te soek na iemand groot en slim en beroemd genoeg nie, maar Hý begin altyd met een, of enkele persone ... en dikwels met een of met hulle van wie ons dit die minste verwag, die kleinste en die nederige!

Ek sal graag effens later net my waarneming wil gee van die geheim wat ons ontdek het en die kenmerke van die persone wat God in daardie tyd daar by Vryburg so kragtig gebruik het.

My eerste herinneringe as mens was van ’n ossewa trek waarmee ek saam met ons ouers en twee ouers broers, in 1929 van die Transvaal na ’n baie verwaarloosde plaas in die Vryburg distrik, in die Noord-Kaap getrek het.

So kort na die Boere-oorlog en die Rebellie van 1914 was ons tydens die depressiejare van 1930-1933 baie arm. My oudste broer Jannie, was ses jaar ouer as ek en die tweede, Fransie 3 jaar. Ons het met harde werk grootgeword om ons ouers te help om die skuld op die plaas af te betaal. Tot by St. Ses was ons by ’n plaasskool op skool, daarna na ’n koshuis in Vryburg vir hoërskool.

Broer Jannie het gekies om die boer op die plaas te wees en as ek nou begin om iets meer van hom te vertel, is dit omdat hý die een was wat – soos die verlamde wat genees was en sy stand ingeneem het – wat ’n duidelike hoofrol in hierdie herlewing begin speel het.

As jongman was hy gesond en sterk, maar baie kort van draad, opvlieënd en opstandig - een wat vir geen duiwel gestuit het nie. Hy was roekeloos en het maklik gevloek, geswets baklei. Almal op die plaas was vir hom bang en baie het hom amper gehaat. Mettertyd het hy ontaard in ’n moeilike, moedswillige sondaar van formaat – versot op dans met gepaardgaande drankmisbruik en sonde.

Maar toe het die tyd aangebreek dat hy as 20- jarige na die dorp, ongeveer 58 km van ons plaas, vir 14 dae katkisasie klasse moes gaan loop om daar tydens die Nagmaal geleentheid as lidmaat van die N.G. kerk ‘aangeneem’ te word. Maar hy het geen erg aan die klasse of die Kerk gehad nie, hy het net daarna uitgesien om ‘die lewe in die dorp’ te geniet en het Pa daarvoor geld gevra. Ons tante het vir hom en ons niggie Miemie daar huis gehou.

In daardie tyd het God dit so beskik dat daar ’n reeks spesiale dienste in ’n saal gehou was. Ons tante het dit bygewoon en Jannie gesmeek om dit ook by te woon, want dit was vir haar tot groot seën, totdat hy ingestem het om dan– soos hy dit gestel het - maar een keer saam te gaan, net om van haar geneul ontslae te raak! ‘Godsdiens en kerk’ het hom net verveel!

Hierdie dienste is waargeneem deur twee  Evangeliste van ’n interkerklike beweging – die Afrika Evangeliese Bond - wat in 1924 gestig is. Dit was gehou met die toestemming en aanmoediging van ons NG Leraaar, ds. Liebenberg.

Daardie eerste aand het ou Jannie – vir die eerste keer in sy lewe, vasgenael gesit en luister – en – het hy God se stem duidelik in sy hart gehoor deur die prediking van ’n eenvoudige boodskap en boonop deur ’n vrou, maar ’n boodskap in die krag van die Heilige Gees!

Hy was daaraan gewoond om met net een oor te sit en teen sy sin te luister as Pa huisgodsdiens gehou het, maar daardie aand - vir die eerste keer in sy lewe - het hy iets gehoor, iets nuuts wat sy hart diep, soos met ’n vurige kool aangeraak het!

Die Heilige Gees het vir Jannie net daar arresteer, hom vasgegryp en oortuig van sy diep VERLORE toestand. Van daardie oomblik af het hy geen rus of duurte gehad nie, want vir hom was die keuse baie duidelik – die Hemel of hel!

Die duiwel het egter nie gerus nie en het hom probeer oortuig dat hy maar eers kan uitstel en toe later, dat hy ’n té groot sondaar was! Maar hy het ook geweet dat genade tyd vir hom kan verbygaan en daarvoor het hy geskrik!

Hy het weer gegaan en na een diens agtergebly en met een van die dames gaan praat. Sy het aan hom toe van God se liefde vertel, die weg tot saligheid en versekering aan hom op grond van ’n paar kosbare Bybeltekste verduidelik, en net daar, terwyl hy gekniel het om sy sonde te bely en Jesus aan te neem, het die lig van die hemel in sy siel deurgebreek en was die jong, opperste ‘Jannie-sondaar’ onmiddellik ’n kind van God ... ’n nuwe skepsel in Christus!

Hy het dadelik en met groot blydskap sy tannie en niggie daarvan gaan vertel! Hy sê dat hy toe van blydskap nie kon slaap nie en dat hy daardie nag trane van blydskap gestort het!

Die nuus van sy bekering het gou versprei. Ons gesin het dit ook verneem en ons eerste reaksie was met ontsteltenis, want ons het gemeen dat ons ouer broer nou onder die een of ander sektes verval het - iets gevaarlik en met sulke mense wou ons niks te doen hê nie.

Vandag weet ons van beter want, soos iemand eendag een van die dames gevra het: ‘Juffrou, van watter sekte is julle? Was die antwoord: ‘meneer, pasop as ons jou byt, gaan jy Hemel-toe!’

Dit was die eerste besoek van Evangeliste van die Afrika Evangeliese Bond aan Vryburg. Pa, wat toe op die kerkraad gedien het, het dit dadelik as sy plig beskou om die Ds. op te soek en te raadpleeg. Hy het hom geantwoord deur te sê, ‘ou Pieter, jy kan ook maar met ’n geruste hart gaan luister, want hulle Evangelie is soos die suiwerste reënwater – net soos wat ek dit preek’. Sy vrou wat ’n dierbare Christenmens was, was betrokke by hulle reëlings vir losies en hyself het die katkisante aangemoedig om die dienste by te woon.

Toe ons gesin uiteindelik die geleentheid kry – want ons was baie nuuskierig om Jannie self te sien omdat ons tot op hede nog nooit van iemand gehoor het, of iemand gesien het wat ‘tot bekering gekom’ of van Wedergeboorte getuig het nie – was ons stomverbaas!

Hy was nog sy gewone self, maar duidelik ook totaal anders – weg was sy nukke en grille en gejaag na plesier en sonde. Dadelik verlos van die drank en rook en die aggressie gewoonte, en nou vol vreugde.

Hy het nooit in die kerk sy mond oopgemaak om te sing nie, maar toe het jy net oral gehoor hoe hy daar sing! Hy kon nie ophou om die Bybel te lees en te bid nie.

Hy getuig hoe hy een dag agter die groot boontjie mied neergekniel en daar ’n volle oorgawe van sy hele lewe aan God gedoen het. Dáárdie dag het God hom met die Heilige Gees vervul en geroep tot voltydse diens!

Hierdie jong, onervare bekeerling het dadelik begin getuig en preek; sy perd opgesaal, sy getuienis oral gaan deel en ook sommer dadelik al sy wêreldse vriende daarvan vertel. Sommige het hom uitgelag en voorspel dat sy bekering van korte duur sou wees!

Plekke waarin hy opgetree het was dikwels volgepak van hoorders wat somtyds in trane was terwyl hy die Woord verkondig en sy getuienis daarby ingevleg het. Tot 15 en 25 km van ons plaas af het uitnodigings gekom en selfs vanuit die Vryburg dorp. Hy was alom bekend en baie kon dit eers nie glo dat hy so verander het nie, totdat hulle hom self gehoor en gesien het.

Sy hart was brandend met God se ‘eerste liefde’ in sy siel en sy boodskap en getuienis eg en vol vuur! God het so heerlik deur hom gewerk en siele gered dat hy dikwels laat in die nag, ná ’n diens wat hy waargeneem het en op pad huis toe was, weens God se heerlikheid brandend in sy hart, eers van sy perd moes afklim om op die grond neer te kniel en die HERE te dank en te loof!

Jakobus sê, ‘kyk, wat ’n klein vuurtjie steek ’n groot hoop hout aan die brand’ en ook in ons huis en groot familie was daar baie ‘droë en nat hout’– baie broers, susters, kinders, neefs, niggies – ’n groot opskudding en uitwerking! Selfs Oupa en Ouma, ons Ouers en ons hele gesin. Almal ‘godsdienstig, ordentlik, eerlik, godvresend, maar skielik het almal begin besef dat ‘vormgodsdiens’ nie genoeg is nie, maar dat dit die meesterstuk van die duiwel se oëverblindery is!

Dit het ons mense eers begin agterkom toe ons ‘vormgodsdiens op sy beste’ begin vergelyk het met die ‘egte artikel’ – die wonderwerk as God ’n verlore siel wonderbaarlik red en omskep! Toe hierdie vals versekering wat op mooi, eerlike en voorbeeldige lewes en goeie werke gegrond was, begin te verkrummel, het die een na die ander kragdadig tot bekering en tot wedergeboorte gekom!

Groot Pinksterdienste volg op ons plaas in die skuur – koud, reën, maar mense reis per perdekarre tot 20 km. en verder. Geharde sondaars en vooraanstaande godsdienstige en voorbeeldige mense is gered – baie emosie, dikwels trane van berou en daarna van blydskap! Nooit dramatiese uiterlike of uitspattige manifestasies nie, maar wel 'n sterk bewustheid van God se heilige teenwoordigheid, vurige maar eenvoudige boodskappe, ernstige gebede en lieflike, hemelse en vreugdevolle sang! In daardie diens in die skuur op ons plaas het ook ekself my hart en lewe onherroeplik aan God oorgegee!

Oral in distrik – in skure, op stoepe, in huise of sale – ORAL werk God en Hy samel Sy oes in! Selfs die swart mense word op ons plaas gered en hulle sing i.p.v. raas en baklei – George en Lizzie gaan self met die boodskap na hul eie mense. Toe George sterf gee hy die Bybel aan vir sy vrou Lizzie en sê vir haar – gaan voort met die wonderlike boodskap van hierdie Boek!

Wat het toe van broer Jannie geword? Alles verlaat – boerdery, rykmansdogter wat op hom verlief is, en word ’n eenvoudige Evangelis vir 42 jaar! Soms het hy tot 500 mense toegespreek en baie word gered – ander keer soos Filippus gestuur as jong pelgrim vir ‘n reeks. Mense teleurgesteld dat daar nie liewer ’n ouer werker, of goeie bekende prediker na hulle gekom het nie – maar Jannie het begin besoek – man wat draad span, volslae alkoholis aan wie geen salf te smeer was – word so kragdadig gered dat dit almal verbaas. Almal woon toe dienste by en word diep geseën!

Verreikende gevolge van die Herlewing – dans en drinkpartye sterf uit en bidure, dienste en kampe word almal se vreugdevolle ‘lewe’! Kenmerk van hierdie herlewing - bekeerlinge volhard, staan vas selfs toe vervolging uit onverwagte oorde begin kom. Sommige van wie nooit verwag nie, word vaardige siele wenners. Tenminste 16 jongmense in voltydse diens – predikante, sendelinge, evangeliste.

My eie Vader word 'n effektiewe sielewenner! Uit ons huis is vier ouer broers almal tot voltydse diens geroep - gesamentlik meer as 100 jr. diens! Maar nou het nog net ek alleen, op 90 agtergebly. Meeste bekeerlinge net getroue getuies wat dit tot die einde egalig stil, die heiligmaking uitgeleef het.

Wonderbaarlike antwoorde op gebed. Grootste wonderwerk as een kosbare siel gered word. Genesing - Ek self 2 keer van geweldige aanval en pyn van blindedermontsteking. Tant Ella vir Verwey Bewaring - Ouers belas en bid vir M. Venter.

Geheime tot daardie Herlewing: Daardie eerste Evangeliste van die AEB! Eerstes dames – nie lelike oujongnooiens wat opgeskeep is en nêrens inpas – maar pragtige, beeldskone en edele jong dames – eerbaar, welopgevoed, vriendelik, vol liefde, goeie maniere, spontaan en vol vreugde! Eenvoudig, maar eerlik en ernstig as hulle die Woord verkondig – ’n woord wat hulle elke keer vars uit God se hart ontvang het ...’n Woord wat harte warm gemaak en mý ook jaloers gemaak het om só te kan preek! Gebed hulle troefkaart--wapen, dikwels met trane. Hulle het voormiddag gestap en bedoek en di hele middag gebid en voorberei (Koot Hough)...

Self het ek die krag van gebed ondervind op Kuruman toe die HERE baie jongmense, o.a. vir Neil Verwey (Japanse Sending) gered het – hoed teen dak. Nooit het ons hulle gehoor klae nie, altyd net opreg dankbaar vir alles!

Opgeoffer – lewe uit ’n koffer, altyd by vreemdelinge tuis en geen gewaarborgde salaris. Nooit geld gevra nie, reis met perde en donkiekarre, stap met die voete tot 15 km per dag in warm son! (Oom Hans).

Nog ’n geheim agter daardie herlewing later: Mev. Liebenberg se getuienis en egpaar du Plessis.

Wat staan vandag in die weg tot herlewing:


1. Baie werk – geen gebrek aan organisasie, geleerdheid, godsdienstige bedrywigheid... maar waar is die seën? Werk en ywer in eie krag of die krag van die vlees, maar min of geen tyd of plek vir gebed. Daarom kragteloos, maak geen indruk op wêreld ('n Bidster se leuse was - ‘Do not tickle the mercy seat but lay hold of the throne’) – nooit meer word ‘deurgebid’ tot oorwinning!

2. Christene gemaksugtig en ‘sag’ geword! Nooit meer hoor jy van offers wat werklik iets gekos het. Het van ons dalk beter dae geken, maar ons eerste liefde nou verloor! Vergeet dat ‘bloed en trane’ die saadakker is van die Evangelie! Iemand wat ware herlewing gesien en gesmaak het roep uit: ‘I was born in the fire and I cannot live in the smoke!’

3. Vormgodsdiens – Satan sal sorg dat ons wel die ‘gedaante behou, maar die krag daarvan verloën’! 'n Louwarm kerk noodsaak vir God om hulle uit te spuug! As ons maar saam met Hom wil uitgaan tot buite laer en Sy smaad te dra – dis dáár waar dinge (vandag nog) gebeur!

4. Standaard, eerbied en Godsvrees verlore –vir die heilige God of vir die ewige, afgryslike verlorenheid en die oordeel van 'n heilige God! Maklike en oppervlakkige bekerings sonder ware, diepe en hartgrondige berou en gebrokenheid. Daarom het alles vandag in ‘kerkspeel’ verander - soos konserte ontaard waar mense ligsinnig 'n oppervlakkig meer lag as huil en probeer om God te dien met uiterlike manifestasies, tekens en wonders, maar jy sien nooit meer trane of mense wat gebroke voor God BUIG nie! Ontdek nie meer in Evangelies dat ALTYD waar mense eerlik word en ween en neerval, God ALTYD werk en dan dáár iets van Sy heiligheid en heerlikheid openbaar. Daar doen God dit keer op keer! (Uitsondering – man wat 10,000 talente geskuld het!)

5. Ons het opgehou om te waag en te gaan! Laaste belofte van Jesus van, ‘Ek is met julle ...’ maar voorafgegaan deur – ‘Gaan dan ...’ (‘daddie, I suppose its GO has broken!) (‘All the fittings are in place, but the power is not yet connected’ – Stanley Banks). Mag God ons genadig wees! – Pieter Scholtz

Maandag 15 Januarie 2018

Daar is ‘n Roepstem...


Image result for trop jakkalse


Het jy al ‘n jakkals gevang, of selfs probeer vang? Wel, Simson het 300 jakkalse gevang. Rigters 15:4 vertel nie hoe Simson so maklik 300 jakkalse kon vang nie.

Navorsing wys dat jakkalse destyds volop was en mense het hulle in hulle troppe met nette gevang.

            Dan het Simson die jakklse se sterte twee-twee aanmekaar gebind. By elke knoop het hy ‘n fakkel ingesteek, aan die brand gesteek en hulle gelos om in die vyand, die Filistyne, se ongesnyde graanlande in te beweeg en dit af te brand.

            Hy was ‘n man op ‘n missie. Hy het die vyand, soos klein Dawid, trompop geloop.

            Toe Simson hom kort daarna weer teen die Filistyne vasloop, gryp hy ‘n eselskakebeen en slaan 1 000 Filistyne dood. Dit moes ‘n ontsettende uitputtende veldslag gewees het.

            Simson gooi die kakebeen neer en noem die plek Kakebeenshoogte. Hy was uitgeput en is deur dors oorval. Dit was erg, Hy was sterwende van dors.

            “Daarop kry hy baie dors en (let op) roep die HERE aan en sê: U het deur die hand van U kneg hierdie groot verlossing gegee, en moet ek nou van dors sterwe en in die hand van die onbesnedenes val?

            “Toe kloof God die holte wat by Legi is, en daar kom water uit; en hy het gedrink, en (let op) sy gees het teruggekom, en hy het weer opgelewe. Daarom noem hulle dit Roepersfontein, wat vandag nog by Legi is.

            “En hy het Israel gerig in die dae van die Filistyne, twintig jaar lank.” Rig 15:18-20

            Vandag is daar in Suid-Afrika ‘n bediening met die naam Roepersfontein asook meer as een plaas met dieselfde naam.

            Jy mag jou huis ook Roepersfontein noem as dit is waar jy in grootse nood en doodsvrees na God geroep en antwoord verkry het. Jy mag jou huis ook so noem as die Roepstem van jou huis af na jou Gemeenskap en Suid-Afrika Roep!

            Daar is ook iets anders wat baie interessant is… ‘n baie ou lied met die naam “Die Roepstem.”

            Simson het na God geroep, maar God roep ook na ons.

            Dis ek en jy se taak om hierdie Roepstem reg deur Suid-Afrka te laat weerklink…

            Daar is ‘n Roepstem van Jesus na jou… julle moet kies want die paaie is twee… die een gaan na die Hemel, en die ander na die hel… julle moet kies, want die paaie is twee. – Sjibbolet




Dinsdag 02 Januarie 2018

Ons bid jou ‘n Geesvervulde Nuwe jaar toe

·   
Description: Description: Description: cid:image001.gif@01D376BE.C2C46130

Beleef die Glorie van God in 2018


“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die HERE aanskou, word ons van gedaante verander (let op) na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” 2 Kor 3:18

In die Heerlikheid, die Glorie, van God sal ons die bonatuurlike beleef. Jesus bid: “Ek het hulle (vir my en jou) die heerlikheid (die Glorie) gegee wat U aan my gegee het (waarom?), sodat hulle een kan wees… net soos Ons een is.” Joh 17:22

            Wat ‘n verstommende, byna revolusionêre, verklaring!

Die, HERE, God van die Hemel, die groot en gedugte God, gee sy glorie aan sy seun Jesus Christus en Christus gee dit op Sy beurt –  daardie Goddelike Glorie van die Almagtige God –  aan my en jou.

            Ons is geskep om in God se Glorie te leef!

            “Ek in hulle (in my en jou) en U in my (hoekom?) sodat hulle volkome een kan wees (hoekom?) sodat die wêreld kan weet dat U my gestuur het, en… hulle liefgehad het soos wat U my lief het.” Joh 17:23

            En waar is ons nou? Opverdeel in tussen sowat sewe duisend verskillende kerkgenootskappe. Dit sal nie deug nie en reeds is die Ekklesia (ware Gelowiges) besig van die kerk as instelling te skei.

            God het ons geskep om in Sy teenwoordigheid te wandel (hoekom?) sodat ons Sy hart kan verstaan en sy Goddelike wonderwerkende krag kan beleef (hoekom?) om ons lewens te transformeer.

            “Immers, Sy goddelike krag het ons (hoeveel?) alles, geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, (hoe?) deur die kennis van Hom wat ons geroep het (hoe?) deur Sy heerlikheid (Glorie) en deug,

            “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?) sodat  julle  daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?) wanneer julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

            “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer

·        by julle geloof voeg die deug, en

·        by die deug die kennis, en

·        by die kennis die selfbeheersing, en

·        by die selfbeheersing die lydsaamheid, en

·        by die lydsaamheid die godsvrug, en

·        by die godsvrug die broederliefde, en

·        by die broederliefde die naasteliefde.

            “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.

            “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.

            “Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige Koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” 2 Pet 1:3-11

            Ons en ons lewens is dus baie nou verweef met die  van Jesus en God. Dit is so nou verweef dat ons een is, dat ons nooit geskei kan word nie. Ons as Gelowiges verkeer in die mees belangrikste plek in hierdie ganse wêreld. Ons lewens is so dig verweef met Jesus dat selfs die wind nie tussen ons kan deurkom nie. Job 41:7

            Ons is op die vooraand van die einde van alles. Die grootste geestelike Herlewing – die laat reëns – is naby. Strome van seën van bowe, dit het Sy Liefde belowe. Die eerste druppels val reeds in Suid-Afrika en elders.

            Die heerlike druppels gaan stroompies word, dan riviere en dan ‘n magtige oseaan.

            God sê: “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

            “Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.

            “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle (wat sal ons doen?) sal My lof verkondig.” Jes 43:21

            Die Glorie van God, gaan die aarde oorspoel sodra ons besef dat ons en Jesus Een is en ons as Eenheid Sy lof en Glorie verkondig. Hierdie werklikheidsbesef het nog nie tot die meeste van ons deurgedring nie.

            Skrywer meen dat ons so naby aan die einde is dat ons moet besef Jesus is reeds op pad om sy Bruid op te haal... ‘n Bruid sonder vlek of rimpel. Efes 5:27

            Soos wat mens in die Heerlikheid van God inbeweeg verdwyn die aardse nietighede.

            Ons ontvang nie die Ewige Lewe wanneer ons hierdie aardse tentwoning verlaat nie, ons het reeds die Ewige Lewe. Hierdie is ‘n nuwe lewe vir ons as nuwe skepsels. 2 Kor 5:17.

            Hierdie nuwe lewe moet ons in die heerlikheid (Glorie) van God en Jesus beleef. Om in die Glorie van God te lewe is om van Sy teenwoordigheid bewus te wees, bewus te wees van Jesus Christus en die Heilige Gees en Heilige Engele Engele se teenwoordigheid.... ‘n lewe van teerheid, broosheid, liefde en oorwinning!

            “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid (Glorie) van die Here aanskou, (let op wat gebeur nou) word ons van gedaante verander (waarna?) na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid (van Glorie tot Glorie!), as deur die Here wat die Gees is.

            “Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie.” 2 Kor 3:18;4:1

            “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef (waar?) in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Gal 2:20

            Daar was ‘n afsnypunt van die oue na die nuwe: “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.” Heb 8:12

            “Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.

            “En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.

            “Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom, en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

            “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want (let op!) soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.” 1 Joh 4:13-17

            “Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.

            “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is (hoekom?), sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.” 1 Kor 2:11-12

            Glorie beteken onder meer blydskap. En as ons blydskap nie volkome is nie....“Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Joh 16:24

            “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke (baie meer werke) doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. (Wie van ons het al die werke gedoen wat Jesus gedoen het en boonop baie meer werke?)

            “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen (hoekom?), sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.” Joh 14:12-14

            As ons die Glorie van God belewe, sal ons ook die bonatuurlike belewe... groter werke as wat Jesus gedoen het.

            “U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid.

            “Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig.

            “Die weivelde is bekleed met troppe kleinvee, en die dale is bedek met koring; hulle juig, ook sing hulle.” Ps 65:12-14 – Sjibbolet

Laat jou Heerlikheid die pad verlig in 2018