Vrydag 19 Januarie 2018

Herlewing – Vryburg – 1940


Image result for 1940 people praying together


Daar is heelwat te leer uit die Herlewing van 1940 wat op Vryburg uitgebreek en verder versprei het. Ons bid nou in afwagting vir ‘n landwye Herlewing. Vryburg met sy bykans 50 000 inwoners is die grootste beesboer distrik in SA met die Bonsmara as grootste beesras. Die dorp is in 1882 gestig as die hoofstad van die Republiek Stelleland. ‘n Jaar later was daar reeds 400 plase. Dis vandag ook ‘n sterk nywerheidsdorp en staan bekend as die Texas van SA.

Oom Pieter Scholtz vertel:

Dankie, vir die geleentheid om te kan vertel van 'n wonderlike, Heilige Gees bewerkte Herlewing wat in 1940 in Vryburg dorp uitgebreek en daarna ver en wyd uitgekring het.

Ek wil dit graag in alle nederigheid doen, want aan God alleen kom toe al die eer en dank van ons harte! Aan elkeen wat vandag ernstig saambid vir Herlewing, wil ek net sê dat my gebed is dat, wat ek vandag daarvan vertel, vir jou ’n bemoediging, ’n versterking van jou geloof en verwagting en ook ’n uitdaging sal wees, om jou vertroue en verwagting op God te stel en nie langer ‘klein gebede’ op te stuur na 'n ‘grote, almagtige, onveranderlike en vrygewige God’ nie!

As enige mens iets wil sê van iets heerlik wat God bewerk het, moet hy dit doen met eerbied en ontsag! Die egtheid daarvan moet ook getoets word om seker te maak dat dit nie die een of ander valse vuur was wat ontbrand het nie. Ons moet dit ook meet aan die bloudruk waarmee God self ná die uitstorting van die Heilige Gees, veral in die Boek Handelinge, herlewing op Sy eie soewereine, unieke maniere laat gebeur het.

Om een preek op Pinksterdag, word 3 000 gered EN deur die genesing van ’n verlamde wat sy stand ingeneem het word daar nog 2 000 geredde siele bygevoeg! EN, deur nog ’n preek van Stéfanus toe hý 3,000 klippe gekry het i,p.v. 3 000 siele, maar daardie één siel wat daardie dag wel die kolskoot in sy hart gekry het, was Paulus!

En dan was daar Filippus, die Evangelis – wat 'n Herlewing in Samaria beleef het, maar toe gestuur is ‘op ’n eensame pad’ na één siel – die kamerling van Etiopië .... die sleutel tot Afrika!

Treffend dat die grootste sendeling ooit – Paulus – se ondervinding van Herlewing net bestaan het uit baie oproere en ’n hele aantal middelmatige ‘herlewings’. Maar deur sy harde werk en ongelooflike opoffering, ywer en volharding was die gevolge en vrug van sý herlewings tog díé wat tot vandag toe die meeste, die kosbaarste en mees blywende vrugte afgewerp het!

Ek sê net eers hierdie dinge om daardeur te sê dat ek absoluut daarvan oortuig is, dat dit wat 78 jr. gelede in Vryburg dorp en distrik begin gebeur het, niks anders was, as ’n magtige werking van die Heilige Gees nie! Dit het klein begin, maar wyd uitgekring, tot selfs in ander lande, en tot vandag toe vloei die seën daarvan voort soos ’n magtige, stille stroom.

Vir myself is dit, ná 78 jr. nog alles helder en onvergeetlik. Daarom vertel ek dit vandag nog met groot vrymoedigheid en blydskap!

Terwyl ek allereers aan God AL die eer gee, wil ek ook, selfs vandag nog, al is dit lank ná hulle heengaan, ook ‘my hoed afhaal’ vir die dapper en gewillige instrumente wat God gevind het, kon voorberei en gebruik, en hulle ook salueer! Want ons weet mos ook dat – wanneer God iemand soek om deur te werk en Sy Naam te verheerlik, dan ‘probeer’ Hy nie éérs getalle vol kry of te soek na iemand groot en slim en beroemd genoeg nie, maar Hý begin altyd met een, of enkele persone ... en dikwels met een of met hulle van wie ons dit die minste verwag, die kleinste en die nederige!

Ek sal graag effens later net my waarneming wil gee van die geheim wat ons ontdek het en die kenmerke van die persone wat God in daardie tyd daar by Vryburg so kragtig gebruik het.

My eerste herinneringe as mens was van ’n ossewa trek waarmee ek saam met ons ouers en twee ouers broers, in 1929 van die Transvaal na ’n baie verwaarloosde plaas in die Vryburg distrik, in die Noord-Kaap getrek het.

So kort na die Boere-oorlog en die Rebellie van 1914 was ons tydens die depressiejare van 1930-1933 baie arm. My oudste broer Jannie, was ses jaar ouer as ek en die tweede, Fransie 3 jaar. Ons het met harde werk grootgeword om ons ouers te help om die skuld op die plaas af te betaal. Tot by St. Ses was ons by ’n plaasskool op skool, daarna na ’n koshuis in Vryburg vir hoërskool.

Broer Jannie het gekies om die boer op die plaas te wees en as ek nou begin om iets meer van hom te vertel, is dit omdat hý die een was wat – soos die verlamde wat genees was en sy stand ingeneem het – wat ’n duidelike hoofrol in hierdie herlewing begin speel het.

As jongman was hy gesond en sterk, maar baie kort van draad, opvlieënd en opstandig - een wat vir geen duiwel gestuit het nie. Hy was roekeloos en het maklik gevloek, geswets baklei. Almal op die plaas was vir hom bang en baie het hom amper gehaat. Mettertyd het hy ontaard in ’n moeilike, moedswillige sondaar van formaat – versot op dans met gepaardgaande drankmisbruik en sonde.

Maar toe het die tyd aangebreek dat hy as 20- jarige na die dorp, ongeveer 58 km van ons plaas, vir 14 dae katkisasie klasse moes gaan loop om daar tydens die Nagmaal geleentheid as lidmaat van die N.G. kerk ‘aangeneem’ te word. Maar hy het geen erg aan die klasse of die Kerk gehad nie, hy het net daarna uitgesien om ‘die lewe in die dorp’ te geniet en het Pa daarvoor geld gevra. Ons tante het vir hom en ons niggie Miemie daar huis gehou.

In daardie tyd het God dit so beskik dat daar ’n reeks spesiale dienste in ’n saal gehou was. Ons tante het dit bygewoon en Jannie gesmeek om dit ook by te woon, want dit was vir haar tot groot seën, totdat hy ingestem het om dan– soos hy dit gestel het - maar een keer saam te gaan, net om van haar geneul ontslae te raak! ‘Godsdiens en kerk’ het hom net verveel!

Hierdie dienste is waargeneem deur twee  Evangeliste van ’n interkerklike beweging – die Afrika Evangeliese Bond - wat in 1924 gestig is. Dit was gehou met die toestemming en aanmoediging van ons NG Leraaar, ds. Liebenberg.

Daardie eerste aand het ou Jannie – vir die eerste keer in sy lewe, vasgenael gesit en luister – en – het hy God se stem duidelik in sy hart gehoor deur die prediking van ’n eenvoudige boodskap en boonop deur ’n vrou, maar ’n boodskap in die krag van die Heilige Gees!

Hy was daaraan gewoond om met net een oor te sit en teen sy sin te luister as Pa huisgodsdiens gehou het, maar daardie aand - vir die eerste keer in sy lewe - het hy iets gehoor, iets nuuts wat sy hart diep, soos met ’n vurige kool aangeraak het!

Die Heilige Gees het vir Jannie net daar arresteer, hom vasgegryp en oortuig van sy diep VERLORE toestand. Van daardie oomblik af het hy geen rus of duurte gehad nie, want vir hom was die keuse baie duidelik – die Hemel of hel!

Die duiwel het egter nie gerus nie en het hom probeer oortuig dat hy maar eers kan uitstel en toe later, dat hy ’n té groot sondaar was! Maar hy het ook geweet dat genade tyd vir hom kan verbygaan en daarvoor het hy geskrik!

Hy het weer gegaan en na een diens agtergebly en met een van die dames gaan praat. Sy het aan hom toe van God se liefde vertel, die weg tot saligheid en versekering aan hom op grond van ’n paar kosbare Bybeltekste verduidelik, en net daar, terwyl hy gekniel het om sy sonde te bely en Jesus aan te neem, het die lig van die hemel in sy siel deurgebreek en was die jong, opperste ‘Jannie-sondaar’ onmiddellik ’n kind van God ... ’n nuwe skepsel in Christus!

Hy het dadelik en met groot blydskap sy tannie en niggie daarvan gaan vertel! Hy sê dat hy toe van blydskap nie kon slaap nie en dat hy daardie nag trane van blydskap gestort het!

Die nuus van sy bekering het gou versprei. Ons gesin het dit ook verneem en ons eerste reaksie was met ontsteltenis, want ons het gemeen dat ons ouer broer nou onder die een of ander sektes verval het - iets gevaarlik en met sulke mense wou ons niks te doen hê nie.

Vandag weet ons van beter want, soos iemand eendag een van die dames gevra het: ‘Juffrou, van watter sekte is julle? Was die antwoord: ‘meneer, pasop as ons jou byt, gaan jy Hemel-toe!’

Dit was die eerste besoek van Evangeliste van die Afrika Evangeliese Bond aan Vryburg. Pa, wat toe op die kerkraad gedien het, het dit dadelik as sy plig beskou om die Ds. op te soek en te raadpleeg. Hy het hom geantwoord deur te sê, ‘ou Pieter, jy kan ook maar met ’n geruste hart gaan luister, want hulle Evangelie is soos die suiwerste reënwater – net soos wat ek dit preek’. Sy vrou wat ’n dierbare Christenmens was, was betrokke by hulle reëlings vir losies en hyself het die katkisante aangemoedig om die dienste by te woon.

Toe ons gesin uiteindelik die geleentheid kry – want ons was baie nuuskierig om Jannie self te sien omdat ons tot op hede nog nooit van iemand gehoor het, of iemand gesien het wat ‘tot bekering gekom’ of van Wedergeboorte getuig het nie – was ons stomverbaas!

Hy was nog sy gewone self, maar duidelik ook totaal anders – weg was sy nukke en grille en gejaag na plesier en sonde. Dadelik verlos van die drank en rook en die aggressie gewoonte, en nou vol vreugde.

Hy het nooit in die kerk sy mond oopgemaak om te sing nie, maar toe het jy net oral gehoor hoe hy daar sing! Hy kon nie ophou om die Bybel te lees en te bid nie.

Hy getuig hoe hy een dag agter die groot boontjie mied neergekniel en daar ’n volle oorgawe van sy hele lewe aan God gedoen het. Dáárdie dag het God hom met die Heilige Gees vervul en geroep tot voltydse diens!

Hierdie jong, onervare bekeerling het dadelik begin getuig en preek; sy perd opgesaal, sy getuienis oral gaan deel en ook sommer dadelik al sy wêreldse vriende daarvan vertel. Sommige het hom uitgelag en voorspel dat sy bekering van korte duur sou wees!

Plekke waarin hy opgetree het was dikwels volgepak van hoorders wat somtyds in trane was terwyl hy die Woord verkondig en sy getuienis daarby ingevleg het. Tot 15 en 25 km van ons plaas af het uitnodigings gekom en selfs vanuit die Vryburg dorp. Hy was alom bekend en baie kon dit eers nie glo dat hy so verander het nie, totdat hulle hom self gehoor en gesien het.

Sy hart was brandend met God se ‘eerste liefde’ in sy siel en sy boodskap en getuienis eg en vol vuur! God het so heerlik deur hom gewerk en siele gered dat hy dikwels laat in die nag, ná ’n diens wat hy waargeneem het en op pad huis toe was, weens God se heerlikheid brandend in sy hart, eers van sy perd moes afklim om op die grond neer te kniel en die HERE te dank en te loof!

Jakobus sê, ‘kyk, wat ’n klein vuurtjie steek ’n groot hoop hout aan die brand’ en ook in ons huis en groot familie was daar baie ‘droë en nat hout’– baie broers, susters, kinders, neefs, niggies – ’n groot opskudding en uitwerking! Selfs Oupa en Ouma, ons Ouers en ons hele gesin. Almal ‘godsdienstig, ordentlik, eerlik, godvresend, maar skielik het almal begin besef dat ‘vormgodsdiens’ nie genoeg is nie, maar dat dit die meesterstuk van die duiwel se oëverblindery is!

Dit het ons mense eers begin agterkom toe ons ‘vormgodsdiens op sy beste’ begin vergelyk het met die ‘egte artikel’ – die wonderwerk as God ’n verlore siel wonderbaarlik red en omskep! Toe hierdie vals versekering wat op mooi, eerlike en voorbeeldige lewes en goeie werke gegrond was, begin te verkrummel, het die een na die ander kragdadig tot bekering en tot wedergeboorte gekom!

Groot Pinksterdienste volg op ons plaas in die skuur – koud, reën, maar mense reis per perdekarre tot 20 km. en verder. Geharde sondaars en vooraanstaande godsdienstige en voorbeeldige mense is gered – baie emosie, dikwels trane van berou en daarna van blydskap! Nooit dramatiese uiterlike of uitspattige manifestasies nie, maar wel 'n sterk bewustheid van God se heilige teenwoordigheid, vurige maar eenvoudige boodskappe, ernstige gebede en lieflike, hemelse en vreugdevolle sang! In daardie diens in die skuur op ons plaas het ook ekself my hart en lewe onherroeplik aan God oorgegee!

Oral in distrik – in skure, op stoepe, in huise of sale – ORAL werk God en Hy samel Sy oes in! Selfs die swart mense word op ons plaas gered en hulle sing i.p.v. raas en baklei – George en Lizzie gaan self met die boodskap na hul eie mense. Toe George sterf gee hy die Bybel aan vir sy vrou Lizzie en sê vir haar – gaan voort met die wonderlike boodskap van hierdie Boek!

Wat het toe van broer Jannie geword? Alles verlaat – boerdery, rykmansdogter wat op hom verlief is, en word ’n eenvoudige Evangelis vir 42 jaar! Soms het hy tot 500 mense toegespreek en baie word gered – ander keer soos Filippus gestuur as jong pelgrim vir ‘n reeks. Mense teleurgesteld dat daar nie liewer ’n ouer werker, of goeie bekende prediker na hulle gekom het nie – maar Jannie het begin besoek – man wat draad span, volslae alkoholis aan wie geen salf te smeer was – word so kragdadig gered dat dit almal verbaas. Almal woon toe dienste by en word diep geseën!

Verreikende gevolge van die Herlewing – dans en drinkpartye sterf uit en bidure, dienste en kampe word almal se vreugdevolle ‘lewe’! Kenmerk van hierdie herlewing - bekeerlinge volhard, staan vas selfs toe vervolging uit onverwagte oorde begin kom. Sommige van wie nooit verwag nie, word vaardige siele wenners. Tenminste 16 jongmense in voltydse diens – predikante, sendelinge, evangeliste.

My eie Vader word 'n effektiewe sielewenner! Uit ons huis is vier ouer broers almal tot voltydse diens geroep - gesamentlik meer as 100 jr. diens! Maar nou het nog net ek alleen, op 90 agtergebly. Meeste bekeerlinge net getroue getuies wat dit tot die einde egalig stil, die heiligmaking uitgeleef het.

Wonderbaarlike antwoorde op gebed. Grootste wonderwerk as een kosbare siel gered word. Genesing - Ek self 2 keer van geweldige aanval en pyn van blindedermontsteking. Tant Ella vir Verwey Bewaring - Ouers belas en bid vir M. Venter.

Geheime tot daardie Herlewing: Daardie eerste Evangeliste van die AEB! Eerstes dames – nie lelike oujongnooiens wat opgeskeep is en nêrens inpas – maar pragtige, beeldskone en edele jong dames – eerbaar, welopgevoed, vriendelik, vol liefde, goeie maniere, spontaan en vol vreugde! Eenvoudig, maar eerlik en ernstig as hulle die Woord verkondig – ’n woord wat hulle elke keer vars uit God se hart ontvang het ...’n Woord wat harte warm gemaak en mý ook jaloers gemaak het om só te kan preek! Gebed hulle troefkaart--wapen, dikwels met trane. Hulle het voormiddag gestap en bedoek en di hele middag gebid en voorberei (Koot Hough)...

Self het ek die krag van gebed ondervind op Kuruman toe die HERE baie jongmense, o.a. vir Neil Verwey (Japanse Sending) gered het – hoed teen dak. Nooit het ons hulle gehoor klae nie, altyd net opreg dankbaar vir alles!

Opgeoffer – lewe uit ’n koffer, altyd by vreemdelinge tuis en geen gewaarborgde salaris. Nooit geld gevra nie, reis met perde en donkiekarre, stap met die voete tot 15 km per dag in warm son! (Oom Hans).

Nog ’n geheim agter daardie herlewing later: Mev. Liebenberg se getuienis en egpaar du Plessis.

Wat staan vandag in die weg tot herlewing:


1. Baie werk – geen gebrek aan organisasie, geleerdheid, godsdienstige bedrywigheid... maar waar is die seën? Werk en ywer in eie krag of die krag van die vlees, maar min of geen tyd of plek vir gebed. Daarom kragteloos, maak geen indruk op wêreld ('n Bidster se leuse was - ‘Do not tickle the mercy seat but lay hold of the throne’) – nooit meer word ‘deurgebid’ tot oorwinning!

2. Christene gemaksugtig en ‘sag’ geword! Nooit meer hoor jy van offers wat werklik iets gekos het. Het van ons dalk beter dae geken, maar ons eerste liefde nou verloor! Vergeet dat ‘bloed en trane’ die saadakker is van die Evangelie! Iemand wat ware herlewing gesien en gesmaak het roep uit: ‘I was born in the fire and I cannot live in the smoke!’

3. Vormgodsdiens – Satan sal sorg dat ons wel die ‘gedaante behou, maar die krag daarvan verloën’! 'n Louwarm kerk noodsaak vir God om hulle uit te spuug! As ons maar saam met Hom wil uitgaan tot buite laer en Sy smaad te dra – dis dáár waar dinge (vandag nog) gebeur!

4. Standaard, eerbied en Godsvrees verlore –vir die heilige God of vir die ewige, afgryslike verlorenheid en die oordeel van 'n heilige God! Maklike en oppervlakkige bekerings sonder ware, diepe en hartgrondige berou en gebrokenheid. Daarom het alles vandag in ‘kerkspeel’ verander - soos konserte ontaard waar mense ligsinnig 'n oppervlakkig meer lag as huil en probeer om God te dien met uiterlike manifestasies, tekens en wonders, maar jy sien nooit meer trane of mense wat gebroke voor God BUIG nie! Ontdek nie meer in Evangelies dat ALTYD waar mense eerlik word en ween en neerval, God ALTYD werk en dan dáár iets van Sy heiligheid en heerlikheid openbaar. Daar doen God dit keer op keer! (Uitsondering – man wat 10,000 talente geskuld het!)

5. Ons het opgehou om te waag en te gaan! Laaste belofte van Jesus van, ‘Ek is met julle ...’ maar voorafgegaan deur – ‘Gaan dan ...’ (‘daddie, I suppose its GO has broken!) (‘All the fittings are in place, but the power is not yet connected’ – Stanley Banks). Mag God ons genadig wees! – Pieter Scholtz