Woensdag 30 November 2016

Uit die Doderyk na die Lewe



Mense vra: Waar was Jesus heen toe hy dan die Kruis op Golgota gesterf het?
Kyk wat sê Johannes waar was Hy:
          “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.
            “Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.
            “En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
            “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” Joh 5:25-29
            Almal diegene wat teen daardie tyd reeds gesterf het, het die Evangelie eerstehands by Jesus in die Doderyk gehoor. Dis hoe regverdig God is. Almal kry ‘n gelyke kans om die Nuwe Lewe in Christus aan te neem.
            So kry almal wat nou in die lewe is, ook geleentheid om Jesus as Saligmaker aan te neem. Vir hulle wat dit nie doen nie, is daar geen tweede kans na hul afsterwe nie.
            Die HERE praat elke dag met siele en op verskillende wyses. Geen twee getuienisse is dieselfde nie.



 Peter Wiley Philpott
            PW Philpott getuig hoe hy een aand as 18-jarige in 'n klein Kanadese dorpie, op 'n straathoek, by 'n groep mense – die Heilsleër –  verbyloop wat besig is om 'n opelugdiens te hou. 'n Vrou sing met 'n mooi, helder stem 'n lied. Hy gaan staan om te luister. Vir hom is alles nuut, want geestelike liedere, kerk of Sondagskool was ver buite sy belangstellingsveld. Die vrou sing:

1. AS EK DIE KRUISHOUT GADESLAAN,
   WAARAAN DIE HEMELKONING HANG,
   IS AL MY POGINGS ENKEL WAAN,
   VERFOEI EK TROTS EN SELFBELANG.

2. VERHOED DAT EK SAL ROEM, O HEER,
   DAN SLEGS IN U VERGOTE BLOED!
   DIE YDELHEDE VAN WELEER
   Lê EK GEWILLIG AAN U VOET.

3. KYK HOE SY HAND, SY HOOF, SY VOET
   SY SMART EN LIEFDE SAAM VERTOON;
   HOE LIEFDE EN SMART MEKAAR ONTMOET,
   HOE DORINGVLEGSELS HOM DAAR KROON!

4. DIE HELE WêRELD SOU VOORWAAR
   DAARVOOR 'N NIETIGE OFFER WEES!
  'N LIEFD' SO GOD'LIK, WONDERBAAR,
   EIS ALLES-LIGGAAM, SIEL EN GEES!

            Na elke strofe sing sy ‘n refrain: Golgota, donker Golgota, praat tog met ‘n hart vanaf Golgota.
            Terwyl sy so sing, haar gesig opgehef na die Hemel, maak die Heilige Gees in hierdie luisterende wêreldse jongman, die kruis van Golgota 'n werklikheid.
Vir die eerste keer daag dit in sy hart dat Jesus Christus in sy plek aan die kruis gesterf het. Hy het nie geestelike kennis of 'n raadgewer gehad om vir hom te sê wat besig was om met hom te gebeur nie.
Hy skryf: “Toe ek die Bybel begin lees en die woorde gered en wedergeboorte sien, toe besef ek, maar dis wat daar op die straathoek met my gebeur het. Ek is waar Wedergebore.
            Toe hy daardie aand by die huis kom, doen hy iets wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie. Voor hy in die bed klim, kniel hy en hy bid. En tot sy groter verbasing en blydskap, spreek hy God aan as: “My Liewe Hemelse Vader.”
            Die volgende dag stuur die HERE verdure hulp. 'n Man wat as 'n Christen bekend was, het van feilit uit die biet met hom 'n gesprek aangeknoop. Die man het hom dalk daardie aand by die opelugdiens opgemerk.
Die man maak sy sakbybeltjie oop en lees vir hom stadig Joh 5:24 “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die Ewige Lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”
Die man vra hom om dit self te lees. Hy kan die betekenis nie mooi snap nie. Die man vra hom om dit weer te lees. Toe vra hy vir hom: “Weet jy wie dit sê?” Maar hy weet nie.
Die man antwoord: "Dit is Jesus Self wat hierdie wonderlike woorde vir jou sê.” Die man laat hom die strofe weer lees en vra: “Wat sê Hy hét jy nou?”
Philpott: “Die HERE sê ek het die Ewige Lewe!”
“Nou 58 jaar later het ek nooit getwyfel nie. Dis ‘n glorieryke feit: Ek het die Ewige Lewe.”



   Philpott het dadelik begin Evangeliseer. Hy het hierdie saaltjie gehuur as sy eerste kerk. Later het hy predikant in Die Heilsleër geword.
            Die saaltjie was gou te klein en die gemeente moet kort-kort na ‘n groter gebou skuif, totdat hulle uiteindelik hier geeindig het:



Buite en Binne:



  Deur die Heilige Gees word geloof in ons hart gewek en ons word as kinders van God Wedergebore: “Julle is Wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” 1 Pet 1:23
            Daarom saai die saad want dis onverganglik en sal vir seker opkom. Maar ons moet saai en help waar ons kan om die getal vol te maak.



Maandag 28 November 2016

Is jy ‘n stukkende horlosie…


Image result for broken watch


Is jy ‘n stukkende horlosie… ‘n horlosie wat gaan staan het? Ander Gelowiges beweeg saam met die tyd van die Bybel. Hulle werk soos goed geoliede horlosies.
            Jy is ook ‘n horlosie, lyk ook nes een, maar jy is stukkend.
            “Maar die dag en die uur (van die dag en die uur van die Wederkoms) weet niemand nie, ook die Engele van die hemele nie,  maar net my Vader alleen. En net soos die dae van Noag was,  so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” Nogtans is daar ‘n spesifieke tyd aan gekoppel.
            Tyd is die mees belangrikste faktor in ons lewens en dis besig om uit te loop soos die sand in ‘n uurglas.
            Deesdae hoor mens byna daagliks: “Die tyd vlieg.” “Ek het nie tyd nie.” “As ek maar net kon maak.”
            Aan menige ding in hierdie lewe kan ons iets doen deur dit reg te maak of met ‘n nuwe te vervang, maar aan tyd wat meedoënloos verby tik kan ons niks doen nie. Wanneer jy hier klaar gelees het is sowat 2 tot 3 min vir altyd verby. Jy kan dit nooit weer terugkry nie. Wat jy wel kan bekom is die Ewige Lewe waar tyd nie meer sal bestaan nie.
            Sommige wens hulle kan die HERE vra om die tyd te laat stilstaan want hulle het agtergeraak en hulle wil graag inhaal.
            Die HERE werk op tyd en alles wat hy geskep het werk met en op tyd. Dink maar aan die maan en die son en die totale sterrehemel, die seisoene, ens. So is Jesus se Koms na die aarde, ‘n gebeurtenis wat uit en uit gaan plaasvind, maar niemand weet die dag of die uur nie. Daar is egter ‘n spesifieke tyd aan verbonde.
            Nie een van ons kan sonder tyd lewe nie, daarom dra ons almal horlosies, het ons horlosies in ons voertuie en in ons huise en kantore. Tyd is vir ons belangrik.
            Tyd help ons om baie dinge te bepaal soos om afsprake betyds na te kom.
            In die gang van die lewe is ons elkeen ook ‘n horlosie. Ons pols is ‘n horlosie. Elke sel in ons liggame bestaan uit ‘n magnetiese veld. Ons moet die regte kossoorte inneem om ons hele bestaan gesond en glad te laat verloop.
            Sommige se geestelike horlosies het gaan staan en hulle bring nie hulle kant vir God en Volk nie. Wat hulle help om hulle toestand te regverdig is dat hulle darem soos ‘n horlosie lyk en erger: ‘n Stukkende horlosie is darem twee keer in elke 24 uur op tyd.
            Reg oor die wêreld is kundiges wat die geestelike horlosie ken en dophou en almal is dit eens, dis 3min voor middernag.
            Tyd is nou aan niemand se kant nie. Ons leef in die laaste uur.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:12-15

Vrydag 25 November 2016

Is jy al ‘n Dissipel?


Image result for discipleship


In een van die jaarlikse, geestelike Keswick konferensies in Engeland, getuig ‘n man het van die groot geestelike seën wat hy by die konferensie ontvang het.
Die leier van die getuienisdiens wou hê die man moet meer spesifiek wees en sê hoedanige seën hy ontvang het.

Hierop het die man dit soos volg verduidelik: "Ek was reeds 'n Christen voor ek na Keswick toe gekom het. Christus was my koning. Maar Hy was net 'n konstitusionele koning en ek was steeds die eerste minister in my lewe. Ek het besluit wat ek doen en hoe ek lewe. Christus was die koning op die agtergrond en moes net Sy stempel van seën op my doen en late plaas.

“Hier het ek na die predikers geluister wat, soos die Nuwe Testament dit leer, oor volkome oorgawe aan Christus gepreek het. Ek het 'n nuwe ontmoeting met die HERE gehad. Deur die krag van die Heilige Gees het ek Hom nou absolute koning in my lewe gemaak. Hy regeer nou oor my en ek dien Hom. Dít is die seën wat in my lewe ingekom het.”

            In Markus 12 wys Jesus die skrifgeleerdes daarop dat koning Dawid die Messias, Christus, HERE noem. Dawid het Christus se gesag bo sy eie koningskap verhef. As gelowiges behoort ons aan die HERE en ons glo in Hom en dien Hom.

Luister mooi: Daar is egter 'n Christenskap wat dieper loop as net geloof. Dit is oorgawe aan die HERE. So 'n Christenskap word dissipelskap genoem. In Calvary Church News word 'n onderskeiding tussen gelowig wees en dissipel wees, gemaak:

            Om 'n gelowige te wees, kos niks. Om 'n dissipel te wees is duur.

“’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle: ‘Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie My dissipel wees nie.’” Luk 14:25-27.

Christenskap beteken geloof in Christus, maar dissipelskap is die uitleef van hierdie geloof.
Ek glo in Christus se verlossingswerk aan die kruis vir my, maar dissipelskap is die resultaat van Sy verlossing in my lewe.

            Gelowiges stel hulleself eerste, dissipels stel Christus eerste.
Gelowiges word aan hulle woorde geken, dissipels word aan hulle vrugte geken.
Geloof red my siel, maar dissipelskap verheerlik Christus.

Gelowiges word soms weens hulle gedrag en taal nie as Christene geken nie, maar dissipels is as Christene bekend.

Gelowiges gaan Hemel toe; dissipels ontvang daar beloning. “Julle moet baie versigtig wees sodat julle die hele beloning kan ontvang wat God beloof het.”  2 Joh 8
Dissipels wen siele vir die Koninkryk.

Mens gee nooit op nie…


Image result for soldier hiking


Jare gelede het 'n Roger Simms wat pas klaar was met diensplig, huis toe geryloop. 'n Mnr. Hanover laai hom in sy duur Cadillac op. Hulle stel hulleself aan mekaar bekend. Hanover sê hy is op pad na Chicago. Hy het ‘n sakeonderneming daar.

Roger vertel dat terwyl hulle ry, voel hy 'n drang in sy hart om vir die vreemdeling te vertel hoe hy tot bekering gekom het, en die man dan na sy eie verhouding met Christus te vra.

Hy deins terug, want al het hy in die kamp, tussen die dienspligmanne, nooit geskroom om vir Christus uit te staan nie, voel hy te beskeie om met so 'n vreemde en sigbaar welgestelde man oor sy siel te praat. Die aandrang in sy hart om die man vir Christus te probeer wen is egter so groot dat hy, steunend op die krag van die Heilige Gees, sy vrees oorwin en oor sy eie bekering praat en vir die man vra of hy nie verlang om ook Christus aan te neem nie.

Mnr. Hanover se reaksie was so geweldig dat Roger skrik. Hanover trek van die pad af en bring sy motor dadelik tot stilstand, laat sy kop op die stuurwiel sak en begin huil. Met Roger se hulp neem hy Jesus Christus aan as persoonlike Verlosser.

“Hierdie is die wonderlikste ding wat nog ooit met my gebeur het,”" sê hy met vreugde vir die oorblufde Roger. Kort daarna laai hy Roger naby sy huis af en ry verder na sy eie bestemming.

            ‘n Paar jaar later, terwyl Roger voorberei vir 'n sakereis, kom hy af op mnr. Hanover se visitekaartjie. Mnr. Hanover se kantoor is op sy sakeroete en hy besluit om Hanover by sy reisprogram in te sluit. Die kantoor is in een van die hoë wolkekrabbers in Chicago se middestad.
‘n Ontvangsdame sê hy kan nie met mnr. Hanover praat nie, maar sy neem hom na mev. Hanover toe. “Het u my man geken?” vra mev. Hanover. Roger vertel haar die storie en hoe mnr. Hanover sy hart vir Christus gegee het.

“Wanneer het dit gebeur?” vra sy met 'n skielike belangstelling. Roger onthou: “Die 7e Mei, vyf jaar gelede, toe ek my diensplig voltooi het.”

Sy bars in trane uit. Nadat sy haar selfbeheersing herwin het, sê sy: “Ek het jare lank vir die redding van my man gebid, maar ek het gedink God het my en my lewe en gebede verwerp en ek het vyf jaar gelede opgehou om vir Hom te leef. En kyk net hoe wonderlik het God my verhoor. Daardie dag, dit moet wees net na my man jou afgelaai het, is hy in 'n kop-aan-kop botsing dood.”

Roger moes weer help en mev. Hanover het haar saak met die HERE reggemaak.

            Met God gee mens nooit op nie want Hy is en bly ‘n Waarmaker van sy Woord. Al neem dit hoeveel jare voor die antwoord kom, hou net aan met klop want vir seker sal Hy oopmaak. Onthou altyd, die saad wat jy saai is lewendig en gesond en dit sal vir seker opkom.

Vrydag 18 November 2016

Soos in die Hemel, so ook op die aarde


Image result for Soos in die hemel so ook op die aarde


Ons grootste impak as Christene is nie vanweë ons fokus op enigiets op aarde nie, maar wanneer ons besef wie ons in Christus is, wanneer ons deur geloof en gebed besef dat ons Jesus se onvoltooide werk op aarde moet voltooi... die getal moet volmaak.
            En verder dat ons geroep is om deur Christus om God se Koninkryk en krag en glorie en seëninge vanaf die Hemel na die aarde te bring... Soos in die Hemel, so ook op aarde. Matt 6:10
            “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge (waar?) daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.
            “Bedink die dinge wat (waar is?) daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Kol 3:1-2
            Dis ons wat gered is, wat die geloof moet openbaar om die gemeenskap te verander. Lees weer die verhaal van die verlamde man in Mark 2:4. Dit was die geloof van die manne wat hom deur die dak laat sak het wat die verlamde laat loop het.
So is ons gemeenskappe geestelik verlam en dis ons geloof, myne en joune, wat hulle gaan laat opstaan in en vir Christus.
Ons as Gelowiges moet die HERE daaraan herinner dat Sy liefde, krag, ondersteuning, sy teenwoordigheid welkom en nodig op die aarde is om ‘n verandering mee te bring.
Hierdie verandering vind plaas deur die Heilige Gees en die proklamering en gebed van die Geesvervulde Gelowiges. Ja, ons neem deel aan verkiesings, ens., maar ons durf nie ons geestelike vlak verlaag vanaf die Koninklike/Hemelse na die aardse vlak nie.
Ons as Gelowiges durf nie toelaat dat enigiets ons verdeel nie. Jesus se laaste gebed en begeerte was dat ons met Hom EEN sal wees.
Ons lees verder waarom ons dinge wat daarbo is moet bedink, waarom ons oë op Jesus gevestig moet bly: “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
“Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.
“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,  waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,  waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het.
“Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.
“Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.
“Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
“En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.
“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar (hoe?) met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
“En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
“Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.
“Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.
“Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.
“Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.
“Diensknegte, julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees.
“En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,  omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.” Kol 3.


Woensdag 16 November 2016

Die Grootste van alles... is die Liefde!


Image result for people hugging


Niks onder die volke van die wêreld sal regkom sonder liefde nie. Ons is haastig om onsself  as Christene te verklaar, maar ons dade teenoor mekaar getuig nie daarvan nie.
Plaas ons die fokus in die Skrif op die liefde, dan sien ons duidelik waar ons grootste probleem lê.




·       God is liefde (1 Joh. 4:16)
·       Sy liefde kan in ons volmaak word. 1 Joh. 2:5
·       Hy is net so lief vir ons as wat Hy vir sy eie Seun is. Joh. 3:3,5
·       Ons kan in Sy liefde bly. Joh. 15:10
·       Sonder liefde ken jy nie God nie. 1 Joph. 4-8
·       God weet wanneer jy nie die liefde het nie. Joh. 5:42
·       Ons kan in liefde met God wandel. 1 Joh. 4:16
·       Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en met al jou              krag. Mark. 12:30 & Matt. 22:37)
·       Jy mag nie jou eerste liefde verlaat nie. Openb. 2:4-5
·       Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. 1 Joh. 4:19
·       Hy wat God liefhet, het sy broer ook lief. 1 Joh. 4:21
·       Ons mag nie vader of moeder bo God liefhê nie. Matt. 10:36-38
·       Mans moet hulle vroue liefhê, so lief soos God Sy gemeente het. Efes. 5:25
·       Elke man moet sy eie vrou liefhê net soos homself. Efes. 5:33
·       Wandel in die liefde. Efes.  5:2
·       ‘n Nuwe verbond gee ek julle, om mekaar lief te hê. Joh. 13:34; 15-17
·       ‘n Verrassing wag op hulle wat God liefhet. 1 Kor. 2:9
·       Ons moet selfs ons vyande liefhê. Matt. 5:44
·       Liefde en haat gaan nie saam nie. 1 Joh. 2:9-10
·       Die wêreld sal weet dat ons Sy dissipels is, as ons mekaar liefhet. Joh. 13:35
·       Sonder liefde is jy ‘n klinkende simbaal. 1 Kor. 13:1-3
·       Liefde beteken ons onderhou Sy gebooie. 1 Joh. 5:2
·       Die grootste demonstrasie van die liefde, vind ons in Joh. 15:12-13 & 1 Joh. 3:16
·       Ons moet mekaar liefhê soos  wat God ons liefhet. 1 Joh. 4:11
·       Ons moet ons naaste liefhê. Matt. 19:19
·       Daar is geen vrees in liefde nie. 1 Joh. 4:17-19
·       Ons moet heilig en sonder gebrek vir Hom wees.  Efes. 1:4
·       Jaag na die liefde. 1 Tim. 6:11
·       Ons moet die liefde van Christus ken. Efes. 3:16-20
·       Ons moet ons naaste liefhê soos onsself. Matt. 19:19
·       Daar is geen vrees in liefde nie. 1 Joh. 4:17-19
·       Ons moet heilig en sonder gebrek vir Hom wees.  Efes. 1:4
·       Jaag na die liefde. 1 Tim. 6:11
·       Ons moet die liefde van Christus ken. Efes. 3:16-20
·       Ons mag nie die wêreld liefhê nie. 1 Joh. 2:15
·       ‘n Analise van die liefde vind ons in 1 Kor. 13:1-13
·       Niks kan ons van Sy liefde skei nie. Rom. 8:35:39
·       Die heilige Gees bring Sy liefde in ons harte. Rom. 5:5
·       Die liefde is nie ‘n gawe nie, maar ‘n vrug. Gal. 5:22
·       Die liefde bedek oortredings. Spr 17:9

Dit is duidelik dat die liefde, (agapé – Goddelike liefde) die oplossing vir al die probleme van die wêreld en die mensdom is.  Dit is ook die Groot Gebod wat Christus kort voor Sy vertrek aan ons nagelaat het.
Menslike liefde (fileo) is ontoereikend, daarom faal dit telkens. Die skeihowe sit elke week vol, reg oor die land. Menslike liefde (fileo) en seksuele liefde (eros) faal.
Die meeste redes vir die egskeiding word aangevoer as: Die huwelik het onherstelbaar verbrokkel. Al die huwelike wat verniel word en die arme onskuldige kinders wat daaronder ly, kan genees en herstel wanneer Goddelike liefde in ons huise en lewens toegelaat word.
Dit is waar Petrus ook die fout begaan het. Drie keer vra die HERE hom:  Het jy My lief en elke keer sê hy ja, maar Petrus het van menslike liefde gepraat terwyl Jesus van Goddelike liefde gepraat het.
Daarna verraai Petrus die HERE drie keer, maar sy diepe berou het tot vergifnis gelei en later beskou God hom as ‘n rots in die Koninkryk.
Ons dag en tyd vra ook om diepe berou. Moenie oor die volgende persoon bekommer nie, begin die saak in jou eie lewe en huis regstel. Dit is waar die herlewing sal begin, by jou en jou huisgesin!
Ons wil altyd hê die HERE moet ons gebede beantwoord, vir ons deure oopmaak, komaan, begin deur eers jou eie huis se deur vir Jesus oop te maak!
Luister baie mooi: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.
“Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf.” Jak 2:8-9

Maandag 14 November 2016

Die gevreesde 666


·Image result for 666   

Wie se Merk dra jy?

Die instelling van die Merk van die Dier is so ‘n gegewe as wat die geboorte van Jesus Christus was, as wat Sy sterwe was, en ook Sy opstanding en ook Sy Hemelvaart en beslis ook Sy Wederkoms.  Dit is op pad!
            Wat gaan gebeur as jy die Merk van die Dier aanvaar?
            Openb. 14: 9-11 sê:  “As iemand die Dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang sal hy self ook drink van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van Sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige Engele en voor die Lam.
            “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die Dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van Sy naam ontvang.”
            Ons is op die vooraand van die instelling van die Merk van die Dier.  Let op die snelle tegnologiese ontwikkeling in die digitale wêreld.  ‘n Magdom inligting kan op ‘n skyfie so groot soos ‘n speldekop geberg word.
            Merke, soos jou handtekening, wat onsigbaar is vir die oog, maar sigbaar onder sekere beligting, is lank reeds moontlik.  Daar is geen twyfel oor die beskikbaarheid van die Merk nie.
            Wat wel saak maak, is wie die merk gaan ontvang. Die Bybel sê die mense sal die Merk ontvang.  Daaruit wil mens aflei dat elkeen ‘n keuse sal hê of hy die Merk wil ontvang al dan nie.
            Omstandighede gaan miljoene mense dwing om die Merk te ontvang:  Aan die een kant omdat hulle nie die gevaar daarvan sal besef nie, en aan die anderkant omdat niemand sonder die Merk sal kan handel dryf nie – Openb. 13: 16  “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die Merk of die naam van die Dier of die getal van sy naam het.”
            Finansiële instellings wil in toenemende maat nie meer tjeks uitskryf nie.  Jy moet ‘n bankrekening hê. Geldverwisseling begin al hoe meer aanlyn geskied.  Sonder jou strepieskode ID-boekie is jy deesdae verlore.  Die poskantoor wil nie eers jou eie pakkie aan jou oorhandig as jy nie oor die nuwe strepieskode boekie beskik nie.
            Alles wat jou lewe beheer werk met ‘n nommer, vanaf jou ID-nommer tot by jou mediese fonds, al die koopkaarte, alles.  Die moontlikheid om kontant te hanteer verklein by die dag.
            Bedrog in die finansiële wêreld gaan maak dat kontant, tjeks en koopkaarte verdwyn.  Die Merk, of dan nommer, sal op jou voorkop en/of jou hand verskyn.
            Dis hier wat jy sal moet vasskop en waar jou pad op aarde finaal gaan skei van diegene wat die Merk ontvang.  Al wat vir jou sal oorbly is ruilhandel en daarvan weet ons mense niks, maar ons sal vinnig moet leer.
            Iemand wat onlangs afgetree het, het vir homself R1 miljoen se klein goue munte gekoop.  Hy meen hy sal goue munte vir al sy aankope kan verruil.  Wat het ek en jy om te verruil?
            Ons sal iets moet hê om in ruil te gee vir ‘n nuwe bril, nuwe kunstande, vir medisyne, vir motoronderdele, vir kos, vir brandstof, ens.
            Waar gaan ons woon? Want ons sal nie ons water- en kragrekenings kan betaal nie. Maak maar jou eie skrikwekkende lysie.
            Een ding is seker, omstandighede gaan die ware gelowiges nader aan mekaar dwing. Die talle dinge wat nou skeiding onder ons veroorsaak, sal (moet) verdwyn.  Ons gaan mekaar absoluut nodig kry.
 Daar sal nie langer kerke wees nie, ons sal Christus se gemeente, Sy Bruid, wees.
Ons sal ‘n nuwe dispensasie binnegaan wat drasties van die huidige gaan verskil. Selfs ons hoogmoed en inhibisies gaan verdwyn. Ons sal ‘n totale metamorfose deurmaak, want die Here Jesus sê Hy kom haal sy Bruid en sy sal sonder vlek of rimpel (moet) wees. Efes. 5:27
            Daar is mense wat meen dat wanneer die Merk van die Dier ingestel word, die ware gelowiges weggeraap gaan word. Dit lyk egter nie so volgens Openb. 14: 12 nie:  “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus Christus bewaar.” Wat beteken dit?
            Dit is ‘n woord van bemoediging en vertroosting aan die gelowiges. In die dag van oordeel mag hulle nie verskrik raak nie, maar moet hulle standvastig bly in die geloof (Openb. 13:10 en 5:8).
Die volharding kom daarin tot uitdrukking dat hulle in die dae van nood en stryd vasstaan in die gebooie van God (Openb. 12:17;  1 Joh. 3:23, en in die geloof in Jesus Christus (Open. 14:4), teenoor diegene wat die Dier aanbid.
            Wie se Merk gaan jy dra, die merk van die Dier, of die merk dat jy verseël is deur die Bloed van die Lam.
            Hoe sterk staan jy as gelowige? Gaan jy daardie dag kapituleer, of gaan jy volhard en vasstaan? Jou besluit sal onherroeplik finaal wees.
Kyk hoe min van ons mense het vandag ‘n woord van eer. Ons mense verbreek hulle woord na willekeur, so erg dat ons al onder mekaar sê:  Ons kan niemand meer vertrou nie.
Mense gee hulle hand en hulle woord vir mekaar in die huwelik en in twee uit elke drie huwelike verbreek hulle dit vir elke rede denkbaar. Hulle het beloftes aan God gemaak oor kinders, beloftes wat hulle ook nie nakom nie. Kyk net  na die kinders sonder morele waardes.
Ons mense het nie meer ‘n woord van eer nie, nie teenoor mekaar nie en ook nie teenoor God nie.
Daardie dag sal jy nie langer so kan maak nie. Jou woord, jou besluit, is finaal.
Hoe gereed is jy vir daardie dag? Dien jy die HERE,  groei jy? En wat van bid en Bybelstudie? Leef jy volgens die voorskrifte van die HERE? Bely jy Christus? Jy sal nou reeds moet leer om sterk te staan.
Jy moet jou voorberei vir die gewigtigste besluit in jou hele bestaan.
            So seker soos wat die Merk van die Dier ingestel gaan word, so seker is die sewe jaar van verdrukking. Sommige redeneer gelowiges spring die verdrukking vry, ander meen ons sal die helfte van die tyd moet deurmaak en nog ander meen ons sal die hele sewe jaar tydperk moet deurloop. Almal het Skrifgronde vir hulle aannames.
            Maar wat maak dit saak, ek en jy het geen beheer daaroor nie. Dis in God se hande. Wat wel waar is, is dat Jesus Christus kom om Sy Bruid (ek en jy) te haal en ons sal “sonder vlek of rimpel” wees.
            Iets moet dus gebeur wat ons waarlik Bruid sal maak, wat ons vir die huwelik en die huweliksmaal moet voorberei, as ons dit nie self doen nie. Om die Merk van die Dier te weier en die verdrukking deur te gaan, lyk mos na die wyse waarop hierdie voorbereiding mag geskied!
            Let op hoe drasties die wêreldtoneel verander wees die toename in losbandigheid, misdaad en terrorisme. Polisiemagte wêreldwyd sukkel om die status quo te handhaaf, veral weens die toename in misdaad in eie geledere. Het jy al gedink wat gaan gebeur wanneer die polisiemagte nie meer weerstand kan bied nie?
            Vir diegene wat die Merk ontvang het, sal daar geen verdrukking wees nie. Hulle is dan deel van die stelsel. ‘n Sondaar kan nie sondig nie want hy is sondig.  Sonde gaan die wêreld in totaliteit oorheers.
Pornografie het byvoorbeeld reeds ‘n aanvaarde norm geword, selfs op  die TV en die Internet in jou huis. Naakte sekstonele en wellus is nou die norm.
            Maar hulle tyd kom wanneer die gelowiges Christus tegemoet gaan in die lug. Dan eers sal diegene met die Merk drink van die wyn van die grimmigheid van God …. (Openb. 14: 9-11).
            Hoe gaan die Merk van die Dier lyk? Wat maak dit saak? Dit sal die Merk van die Dier (onheil) en nie die merk van God wees nie. Dit sal na verwagting ‘n nommer wees.
            Mens kan vandag jou pinkode in syfers of alfabeties insyfer. Jou selfoon kan in syfer en in alfabet kommunikeer. Dit gaan nie oor hoe die Merk gaan lyk nie, maar of jy dit gaan aanvaar al dan nie.
            Moenie redeneer dat jy gaan wag vir die dag van die instelling van die Merk en dan sal jy Christus kies nie. Jy sal vir seker die toets dop. Jy sal nie die geestelike en Goddelike stukrag wat dit gaan vra om vas te staan nie.
            In daardie stadium gaan die misleiding en verleiding op sy hoogste vlak fungeer want die Dier gaan geweldige mag uitoefen, groot tekens doen, sodat hy selfs vuur uit die hemele laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. Openb. 13: 11-18).
            Jy sal daardie dag die dood in die oë staar want Openb. 13:15 sê hy gaan diegene wat die Merk nie wil aanvaar nie, ook doodmaak! Dit sal gaan soos nou met5 ISIS: Of jy versaak Christus of jy word op die plek onthoof. Net veel erger.
            Die ware gelowige sal die dood nie vrees nie, want hy het reeds geleer om nie diegene te vrees wat die liggaam kan doodmaak nie. In daardie dae sal mense ook weens vrees aan hulle harte beswyk.
            Wyse maagde hou hulle lampe vol olie.  Dwase maagde het nie genoeg olie nie. Wat dan van jou wat geen olie het nie?