Vrydag 30 Augustus 2019

‘Heilig, heilig, heilig is die HERE van Hemel en Aarde’


Feitlik al die takke was opgesny en met die sny van die laaste tak, kry ek ’n snaakse gevoel in my linkerhand. Ek sien dat die hoekslypmasjien op die grond lê.

            Toe sien ek dat daar bloed in ’n dun straal by my pols uitspuit. En ek sien met ’n skok dat my hand afgesny is, vanaf my pols tot by my linkerhand se pinkie en dat my hand aan ’n stukkie vel by my pinkie hang.

            Die tuinier hardloop en gaan haal ’n handdoek by die wasgoeddraad. Ons rol dit soos ’n tou en draai dit styf om my pols. Bloed het egter steeds gevloei en ek sien dat my arm tussen my pols en elmboog sleg gesny is en dat die slagaar ook afgesny is.

Ek en die tuinier neem toe die handdoek en draai dit om my bo-arm. Ek gebruik die hoekslypmasjien se sleutel en wen die handdoek daarmee styf op totdat die bloed stop.

Ek hou die sleutel met my regterhand vas en vra die tuinier om my dogter te bel.

            Gelukkig antwoord sy dadelik en hy sê vir haar dat sy dadelik moet kom want die oubaas het baie seergekry en dat hy baie bloei. Na ongeveer vyf minute vra ek dat hy weer moet bel en moet sê dat hulle gou moet kom want ek bloei my dood en dat hulle nie eens by rooi verkeersligte moet stop nie.


            Ek het my hand in ’n plastieksak gesit en toe binne-in ’n swart plastieksak sodat hulle nie die motor of klere bemors nie. Toe hulle uiteindelik opdaag het daar ’n groot kol bloed en fyn stukkies been op die plaveisel gelê waar ek gesit en wag het.

            Hulle het met my na Medi Clinic gejaag en by ongevalle het my skoonseun ’n rolstoel gekry en met my na Ongevalle gehardloop. Die vrouedokter by ongevalle en ’n suster het my hand in

’n skottel gesit wat verskriklik gebrand het.

            My kinders het intussen my vrou gebel en vertel wat gebeur het en dat sy dadelik hospitaal toe moet kom omdat ek baie ernstig seergekry het. Intussen het die verpleegpersoneel masjiene aan my gekoppel. My klere het hulle sommer met ’n skêr afgeknip.

            Ek het gesien toe my vrou by ongevalle opdaag en ek was emosioneel en het baie erg gehuil. Sy was ongeveer twee meter weg van my en ek het vir haar gesê dat sy gou moet maak want dit word donker om my en dat sy my moet groet want ek gaan weg.

            Die laaste wat ek onthou is wat ek gehoor het toe die dokter roep: “Meneer Kruger, Meneer Kruger, o, God, sy hart het gaan staan!”

            Ek het van bo-af gesien hoe my vrou en my kinders huil en hoe die dokter en verpleegpersoneel rondhardloop. Skielik het ek ’n baie skerp lig gesien, maar mens kon in die lig kyk en dit was asof iets mens in die lig intrek. Ek is in die lig in en ek het by ’n rivier uitgekom. Die rivier het egter nie water in nie, maar dit skitter soos diamante.

            Aan die anderkant van die rivier het ek my pa en ma gesien. My pa is alreeds 38 jaar gelede weg en my moeder is in 2010 weg. My suster was ook daar, sy is in 2006 weg asook my Oupa en Ouma wat ek nooit geken het nie. Ek kon sien dat hulle baie gelukkig is.

            Daar het ’n wit wolk by die mense verbygekom en hulle het gekniel en vorentoe gebuig en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van Hemel en Aarde”. My pa het my nader gewink en gesê dat ek na hulle moet kom.

            My suster het met my gepraat oor haar kinders en haar man. Ek het beleef dat indien ek na hulle kant sou oorbeweeg ek nie weer sou kon terugkom nie. Ek het ook beleef dat die kleure wat ek gesien het veel mooier was as wat ek nog ooit gesien het.

            Skielik het ’n Engel voor my verskyn. Die Engel het ses vlerke gehad en as die wolk verby beweeg, het die Engel (ek weet nie of die Engel manlik of vroulik is nie) sy gesig bedek met die boonste twee vlerke en het hy sy voete bedek met die onderste twee vlerke en ook gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here van Hemel en Aarde.”

            Die Engel het my verder die rivier (wat nie water in het nie maar skitter soos diamante) afgeneem. Ons het by ’n plek gekom wat ek sal beskryf soos ’n baie groot poort en in die poort het Moses van die Bybel gestaan. In sy hand was daar ’n baie groot swaard. Die swaard het beweeg soos vuurvlamme.

            Die wolk het weer verbygekom en almal het gebuig en die Engel het sy gesig en voete bedek en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van Hemel en Aarde.”

            ’n Stem het uit die wolk gepraat en gesê­-vra: “Vir wie gaan ons stuur?” Die Engel het gesê: “Stuur hom” (dit is nou ek). Die Engel het vir my gesê dat ek Jesaja 6 moet lees en vir my gesê dat ek moet gaan verkondig wat ek gesien het.

            Die dokter by ongevalle het prof Marx gebel en gevra om te kom help. Die berader by die hospitaal het my vrou en kinders tee gegee en kort-kort gaan kyk hoe dit met my gaan. Hulle het my seun in Zeerust laat weet dat hy dadelik moet kom. Die berader het weer gaan kyk en vir my familie gesê dat hulle weer my hart aan die klop gekry het, maar dat hulle my nog nie kon sien nie aangesien die medici nog besig was en poog om my te stabiliseer.

            My hand is die volgende dag weer geheg en toe ek wakker word, was ek in die intensiewe sorgeenheid.

            Om aan die opdrag te voldoen is vir my moeilik. Hierdie is ’n poging om te vertel wat ek beleef het. Vir my was dit duidelik dat daar lewe na die dood is en dat ons verantwoording oor ons lewe sal doen. Ek kan dit wat ek beleef het uiteraard op geen manier bevestig nie, maar dit was vir my die werklikheid. Daar is geen manier hoe ek jou kan oortuig dat wat ek beleef het die waarheid is nie. Ek kan maar net getuig van wat ek beleef het.

            “Lees jou Bybel, want daarin het ek bevestiging ontvang van wat ek ervaar het. My boodskap aan jou is om jou saak met God reg te maak as dit nie is nie, want jy moet weet daar is ’n bestemming wat wag en vir God se kinders ’n bestemming van lewe in sy volheid.

ʼn Verdere pad saam met God

Ek was bevoorreg dat God ’n verdere pad met my gestap het. Maandagaand die 19de Augustus 2019 het my vrou Ursula so ongeveer 21:30 my bloeddruk- en slaappil gegee. Ons is so 22:00 bed toe. Die klein worshond slaap onder die komberse by ons voete en die yorkie bo-op die bed by ons voete. Die Engelse bulhond slaap aan my kant van die bed op haar kombers op die vloer en sy snork soos sy slaap.

            Ongeveer 2:00 Dinsdagoggend op 20/08/2019 word ek bewus van ’n ontsettende krag wat die kamer vul. Ek maak my oë oop en sien ’n man omring deur ’n helder lig by my voete op die bed sit en hy kyk nar my.

            Ek maak my vrou wakker en sê vir haar hier is ’n man in die kamer. Sy kyk en sê dat ek droom en ek moet verder slaap. Die honde slaap ook soos dooie goed. Ek word bang. “Moenie bang wees nie, my kind,” sê die man vir my. Skielik kan ek die krag en liefde sien en voel wat uit die man straal.

            Die man vra my uit oor my hand en ek sê dat ek die hand afgesny het en dat dit nou inmekaar getrek is. Hy antwoord dat hy dit weet. Die man sê toe: “Gee my jou hand, my kind,” en vat my hand baie saggies en teer en kyk na my met liefdevolle oë. Ek voel ’n klomp naalde en spelde in my hand. Hy sê dat ek my hand en vingers moet beweeg en daar beweeg my hand en vingers soos voor die ongeluk!

            Toe ek opkyk van my hand na die man, is hy weg. Ek het in verwondering in die sitkamer gaan sit. Toe besef ek dat dit die HERE self is wat daar by my in die kamer was en dat Hy my hand genees het!

            Elke oggend om 04:45 gaan stap ek met die Engelse bulhond, maar maak eers vir my vrou ’n koppie koffie. Toe ek 05:30 terugkom vertel ek haar en wys my hand vir haar. Sy kon dit nie glo nie. Ek het op my knieë gegaan en die Here gedank dat Hy so goed is vir my. Hy het ook gesê: Gaan verkondig wat jy gesien en beleef het.

            Waarlik die Here is waaragtig! —  Wekroep 

Die skade wat die Nuus aanrig



Vandag se nuus is nie goed vir ons gesondheid nie.  Dit lei onder meer tot vrees en aggressie, ‘n binding in ons gees en beïnvloed ons geestelike wandel met Jesus negatief.

            Ons dink nie meer diep en kreatief nie. Die oplossing? Hou op om die nuus te lees of te kyk of daarna te luister. Wat aan die gebeur is oor die wêreld kan ons niks aan verander nie.

            Sosiale media is ‘n nog groter euwel wat nuus betref. Meesal is dit nuus sonder feite. Toe telefone nog drade gehad het, was ons vry. Selfone het ‘n afgod geword.

            Die gees van die antichris is besig om die wêreld oor te neem. “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.”
1 Joh 2:18

            Ons is al so gebreinspoel dat ons eerder slegte as goeie nuus verwag. Dis waarom meeste hul selfone dag en nag aanhou, selfs in die kerkdienste... net vir geval van slegte nuus, sê hulle.

            Nuus het misleidend geword. Die rol van terrorisme word oorskat en die rol van verpleegsters onderskat.

            Alles is deurmekaar. Mense sê hulle is verkeerd aangehaal. Wat vandag waarheid was is more ‘n leuen.  Nuus het irrelevant geword. Noem een nuusberig wat jy vanjaar gelees het waarby jy kon baat.

            Nuus het die mondstuk van die antichris geword. Hoe meer mense dit lees, hoe meer mense verssprei dit op verskeie wyses en besoedel al hoe meer ander mense.         

            Mense raak paniekbevange as hulle nie nuus hoor nie. Kry hulle wel die nuus sukkel hulle om te onderskei tussen wat is nuut en wat is relevant. Sommige redeneer nuus bied aan hulle ‘n kompeterende voordeel, dit terwyl die nuus eintlik tot hul nadeel is.

            Nuus is niks anders as borrels op die oppervlak komende vanuit ‘n veel dieper wêreld van onheil nie.

            En as die nuus sommige irriteer, lees hulle die Sterre Voorspel want daar is soms iets “bemoedigend” dog alles is bloot ‘n wilde vlug van die verbeelding.

            Die sekulêre media is nie te blameer vir die nuus wat hulle aanbied nie want dis al nuus wat daar is. Nogtans, as meer inligting tot groter ekonomiese sukses sou lei, dan moet joernaliste mos al skatryk wees!

            Nuus is toksies vir ‘n mens se liggaam en verstand. Die nuus veroorsaak chroniese stres, asook newe effekte soos vrees, aggressie, tonnelvisie en maak mense onsensitief. Ons maak talle foute omdat ons verstrik raak tussen wat sin maak en die ware werklikheid. Solank iets net “sin” maak, bou ons daarop en kom die fout te laat agter.

Die nuus is soos virusse wat ons aandag steel of verdeel. Dit maak van ons vlak denkers. Ons kort- en langtermyn geheue raak verward. Ons begin al hoe minder verstaan wat gaande is. Dit maak ons onstabiel want die soort nuus van die dag laat ons konsentrasie verloor. .

Aanlynnuus het ’n veel erger impak. Reeds in 2001 is in Kanada bewys dat  dit ‘n veel erger invloed op ons denke en vermoë het. Aanlynnuus is aanhoudend en onvolledig en boonop meesal vals. Nuus gaan meesal oor dinge wat ek en jy niks aan kan verander nie. Dit maak ons passief. Dis maak ons pessimisties, sarkasties en fatalisties. Die nuus van vandag hulle.  vernietig kreatiwiteit. Mense wat wegbly van nuus af, presteer onder meer as skrywers, dokters, spesialiste, musikante, wetenskaplikes, ontwerpers, wiskundiges, argitekte, skilders en IT mense.

Kortom, vandag se nuus het geen goeie uitwerking om enige mens nie. Mense wat reeds die stryd teen die nuus verloor het, vind ‘n tuiste in twak praat, drank, dwelms en verloor uiteindelik belangstelling in alles opbouends.

Die enigste slegte nuus wat voordelig is, is oor gebeure in die Midde-Ooste met Jerusalem as barometer want dit dui op die Wederkoms van Jesus Christus op die wolke. Mense met ‘n belangstelling in daardie nuus, hef hul hoof n bowe en kyk uit vir Hom.

Vir die verloregaande wêreld  is die enigste waardevolle nuus: “Bring my die Ou-ou tyding, die Boodskap van God’s Heil.” https://www.youtube.com/watch?v=ccL50VndN44

Speel geestelike musiek in jou huis en in jou motor, wagtend op sy Koms. – Wekroep

https://www.youtube.com/watch?v=uOGt5T56hLQ

Maandag 26 Augustus 2019

Wat sou Jesus van jou sê?

As Jesus jou sien aankom, hoe sou hy jou aan ander voorstel?


In Joh 1:47 sien Jesus Natánael na Hom toe kom en sê van hom: “Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.”

En as dit ek of jy was wat aangestap gekom het, wat sou Jesus van ons gesê het?

As jy ongered is sou Jesus straks gesê Hy weet nie wie hier aankom nie, maar Hy is baie lief vir jou en Hy verlang dat jy deel van Sy kudde moet word.

En as jy wel deel van Sy kudde is, wat sou hy van jou sê….Sou Hy straks sê: “Dit is my seun/my dogter, in wie Ek ‘n welbehae het?

En as jy vir Jesus moet sê wie jy is?

·       Ek is GOD se kind want, ek is wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, (hoe?) deur die Lewende Woord van God wat tot in Ewigheid bly. 1 Pet. 1:23;

·       Ek is ‘n nuwe skepping, omdat ek nou in Christus is. 11 Kor. 5:17;

·       Ek is verlos van die mag van die duisternis en ek is oorgebring na die Koninkryk van die Seun  van Sy Liefde. Kol.1:13;

·       Ek is losgekoop deur Christus van die vloek van die Wet. Gal.3:13;

·       Ek is deur GOD uitverkies nog voor die grondlegging van die wêreld. (fes. 1:4;

·       Ek is verlos deur Jesus se bloed. Efes. 1:7;

·       Ek is ‘n geroepe Heilige. Rom. 1:7;

·       Ek deel in Sy erfenis. Kol. 1:12;

·       Ek is triomfantelik. Openb. 21:7;

·       Ek is dood vir die sonde. Rom. 6:2;

·       Ek is ‘n uitverkorene. Kol. 3:12;

·       Ek is bevestig tot die einde toe. 1 Kor. 1:8;

·       Ek is deur die Waarheid vrygemaak. Joh. 8: 31-33;

·       Ek is besny met ‘n besnydenis wat nie met die hande verrig is nie. Kol. 2:11; Det: 10:16; Filp. 3:3; Rom: 2:28-29;

·       Ek is met Christus gekruisig. Gal. 2:20;

·       Ek is gered deur die bloed van Jesus. 1:14;

·       Ek lewe saam met Christus. Efes. 2:5;

·       Ek is saam met Jesus opgewek. Rom. 2:12;

·       Ek is ‘n getroue navolger van Jesus Christus. Efes. 5:1;

·       Ek is die Lig van die wêreld. Matt. 1:14;

·       Ek is die sout van die aarde. Mat. 5:13;

·       Ek het ‘n heilige roeping. 2 Tim. 1:9;

·       Ek is meer as ‘n oorwinnaar. Rom. 8:37;

·       Ek is gewortel en opgebou in Hom en bestig in die geloof. Kol. 2:7;

·       Ek weet al my behoeftes is vervul. Phil. 4:19;

·       Ek het lewe en oorvloed. Joh. 10:10;

·       Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee. Fil. 4:13;

·       Ek jaag na die doel om die prys te verkry. Fil. 3:14.

As jy dit nie kan sê nie… dan moet jy jou afspraak met Jersus nakom. – Wekroep

Woensdag 21 Augustus 2019

‘Voor julle roep sal ek antwoord’


Sophia Ironside se man, John, het sy kort lewe grootliks aan die uitdra van die Evangelie  gewy. Hy het op straat, in parke, in sale, in teaters, net waar hy geleentheid kon kry die Evangelie verkondig.

Op 28-jarige ouderdom is hy aan maagkoors oorlede. Hy het Sophia en sy twee seuntjies, sonder enige inkomste van pensioen of 'n belegging agtergelaat.


Sophia het met naaldwerk die pot aan die kook gehou. Die een seuntjie, Harry, wat later die beroemde dr. Harry Ironside, pastoor van die Moody Memorial Church en uitnemende skrywer, sou word, het sy ma stip dopgehou.

Eendag sou hulle kuiermense vir ete kry. Sy het feitlik alles wat hulle gehad het, saamgeskraap en 'n ete voorberei. Na die besoekers vertrek het, kry sy onder een van die leë borde 'n $10-noot – in daardie dae baie geld. Met betraande oë het sy dadelik, met 'n arm om elke seuntjie, God daarvoor gedank.


Die een seun, Dr Harry Ironside

            Toe kom die dag dat die koskas regtig heeltemal leeg was. Sy roep haar twee kinders om by 'n leë tafel ontbyt te kom eet. Hulle het net water om te drink. Weer slaan sy haar arms om die twee: "My seuns, ons gaan dankie sê vir die water."

Hulle maak oë toe en sy bid: "Vader, U beloof in U Woord (sy haal Jes. 33:16 aan): 'So 'n mens se kos sal hy kry en sy water sal nie opraak nie'. Ons het die water en ons dank U. Maar nou vertrou ons U vir ons kos."

Net toe word aan die deur geklop. 'n Man staan voor die deur. Hy sê vir haar: "Ek voel eintlik baie skaam. Ons skuld jou al vir maande lank geld vir 'n rok wat jy vir my vrou gemaak het, maar ons het regtig nie geld gehad om te betaal nie. Ons is nou besig met die aartappeloes. Sal jy asseblief solank 'n sakkie of twee aartappels neem, totdat ons jou kan betaal?"

"Verseker!" roep Sophia uit. "Baie dankie." Binne minute na sy vertrek begin die vars aartappels in die braaipan sis en die seuns geniet 'n beantwoorde gebed se kos vir ontbyt.

            Wat het gebeur? "Voor hulle roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor." Jes 65:24

            Let op: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor  en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 1 Kor 2:9

            Hoe bereik mens hierdie vlak in jou geestelike lewe? “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” 1 Kor 13:13

·       By Harry se geboorte was verpleegpersoneel oortuig hy is doodgebore. Hulle het toe al hulle aandag aan sy ma gegee wat in ‘n bedenklike toestand was. Eers 40 minute later is ontdek Harry leef. Ons vertel sy verhaal ‘n volgende keer.

·       Sluit aan by miljoene en bid vir die Vrede van Jerusalem:  https://eagleswings.mykajabi.com/dayofprayerresources-11e9e9b6-6522-4107-8282-c18b7b96461d

Die merkwaardige Harry Ironside



Harry Ironside, die man wat as baba doodgebore is en as jongeling die Evangelie as onwedergeborene verkondig het.


Henry (Harry) Allen Ironside (14 Oktober 1876 – 15 Januarie 1951) was ‘n Kanadees-Amerikaanse leraar, dosent, teoloog en pastoor van die Moody Kerk in Chicago van af 1929 tot 1948 sonder dat hy ooit in ‘n klas was of enige eksamen afgelê het.

            Ironside is in Torontom Kanada gebore. Sy vader was John Ironside en sy moeder Sophia Stafford. Sy ouers het by die Plymouth Brethren aanbid. By geboorte was aangeneem dat Harry doodgebore is. Mediese personeel het al hulle aandag aan sy ma se bedenklike toestand verleen.

            Veertig minute later het ’n verpleegster lewe by Harry bespeur.  Hy is dadelik behandel en bygebring.

            Toe Harry twee jaar oud was is sy pa John, op 28-jarige ouderdom aan maagkoors oorlede. Harry was van ‘n klein seuntjie af baie geïnteresseerd in die verkondiging van die Evangelie. Hy  het geestelike boodskappe in dienste van die Heilsleër gebring. Later het hy by die Plymouth Brethren ingeskakel.

         

Die gesin het toe na Los Angeles, Kalifornië verhuis. Daar was nie ‘n Sondagskool nie en op 11-jarige ouderdom begin Harry sy eie Sondagskool. Hy en sy maatjies het ‘n spul goiingsakke aanmekaar gewerk en ‘n tent gebou wat 100 kinders kon huisves. Hy het weekliks vir sowat 60 kinders en ‘n paar grootmense gepreek.

            In 1888 woon hy dienste by van Evangelis Dwight L. Moody. Daar was 4 000 mense in die dienste en Harry hoop hy kan ook eendag vir so mense preek. ‘n Jaar later gesels hy persoonlik met Moody en kom toe agter dat hy wat Harry is, nie Wedergebore is nie.

Dr Ironside

            Hy het dadelik opgehou met preek en ses maande lank geworstel met die geestelike “probleem” van Wedergeboorte. Na ‘n aand van gebed in Februarie 1980 is hy op 13-jarige ouderdom Wedergebore. Hy het later so getuig: “Ek het op die Woord van God berus en Jesus Christus as my Saligmaker bely.” Na sy Wedergeboorte het hy weer begin preek en dadelik sy eerste siel vir die HERE ingebring. Op skool was hy bespot, maar niks sou hom laat afsien van sy ywer om siele te wen nie.

            Sy ma Sophia het later daardie jaar weer getrou met ene William D. Watson.

            Harry het die skool na St V111 verlaat en in sy vrye tyd ‘n skoenmaker gewees. Hy het besluit hy het genoeg van skool gehad en dit later berou. Nog later werk hy bedags in ‘n fotografiese ateljee en saans preek hy in dienste van die Heilsleër. Hy was bekend as die seun-prediker.

            Op 16-jarige ouderdom verlaat hy die fotografie en word hy voltydse prediker by die Heilsleër. Daar word hy ‘n luitenant en preek hy 500 preke per jaar. Dit het sy gesondheid aangetas en hy moes die prediking onderbreek om in ‘n hersteloord tuis te gaan.

            Op 20-jarige ouderdom in 1896 verhuis hy na San Francisco en werk hy weer saam met die Plymouth Brethren. Hy begin ook hand bysit by Evangelis Henry Varley se dienste en ontmoet Varley se pianiste Helen Schofield, die dogter van ‘n Presbiteriaanse prediker.

            Die twee is gou getroud. In 1898 sterf Harry se moeder. In dieselfde jaar word Harry en Helen se eersteling Edmund Henry gebore. In 1900 verhuis die gesinnetjie na Oakland.

In 1903 aanvaar hy sy eerste uitnodiging om op die Ooskus te preek. Met hulle terugkeer na hulle tuiste had hulle net genoeg geld om tot in Utah te reis. Hy het 10 dae lank op die strate gepreek en net toe die gesin se geld op was en hulle nie meer die hotel kon bekostig nie, gee ‘n vreemdeling hom ‘n koevert met $15 in. Daarmee kon hulle terugreis na hul tuiste in Oakland. Harry het nooit kollekte opgeneem of vir geld gevra nie. Hy het soos sy ma op die HERE vertrou.

In 1905 is hul tweede seun John Schofield gebore. Harry begin toe ook ‘n eie drukkersbesigheid en boekwinkel. Hier begin sy lewe as skrywer. Verskeie Bybelse kommentare word geskryf en gedruk. Sy bedryf heet: Western Book and Tract Company. Dit was ‘n groot sukses tot en met ressessie in laat 1920.

Steeds sonder enige formele teologiese opleiding preek hy vanaf 1916 tot 1929 bykans 7 000 preke aan meer as 1.25 miljoen mense.

In 1918 werk hy saam met Evangelis George McPherson; en in 1924, begin preek onder die toesig van die Moody Bybel Instituut.

In 1926, wys hy ‘n lektorpos na Dallas Teologiese Seminarie van die hand, alhoewel hy sedert 1925 en 1935 gereeld daar klas gegee het.

Na ‘n reeks preke by die Moody Kerk in Chicago, is hy in 1929 genooi om een jaar lank as pastorale prediker op te tee. Die volgende jaar is hy amptelike ingehuldig as pastoor en het daar tot en met sy aftrede in 1948 gepreek. In al hierdie tyd het hy weekliks vir sowat 4 000 mense gepreek.

In 1932 het hy ook oorsee begin preek en in 1938 lewer hy 142 preke in Engeland, Ierland en Skotland. Elke diens is deur sowat 2 000 mense bygewoon. In 1942 word hy ook president van die  Africa Inland Mission. In 1935 preek hy by die begrafnis van Billy Sunday in die Moody Kerk.

            In 1930 vereer Wheaton Kollege hom met ‘n eredoktorsgraad in die Lettere. In 1942 vereer Bob Jones Universiteit hom met ‘n eredoktorsgraad in Godgeleerdheid.

            Hy het nooit ‘n sent vir homself of sy werk gevra nie, maar hy was ‘n meester om geld vir ander geestelike organisasies in te samel.

            ‘n Paar maande na hul 50e troudag is Harry se vrou op 1 Mei 1948 Huis toe. Hy het as pastoor bedank en afgetree.

Op 9 Oktoberber 1949 trou hy met Annie Turner Hightower. Hy had swak sig, Na ‘n operasie wat sy sig herstel het, het hy op November 2, 1950 na Nieu-Seeland vertrek waar hy weer saam met die Plymouth Brethren gewerk het. Hy is egter met sy hand aan die spreekwoordelike ploeg op 17 Januarie 1952 Huis toe.

            Harry het nooit formele opleiding gehad nie. Hy had ‘n ontsettend verstandelike vermoë met sy fotografiese brein en ‘n onuitputlike liefde vir verlore siele.

            Hy was een van die grootste Christen veelskrywers van die 20e eeu. Meer as ‘n 100 van sy werke is gepubliseer. Sommige daarvan word steeds gepubliseer.

            Hy het ook verskeie liedere geskryf, onder meer sy geliefde “Overshadowed”. Oor sy Bybelse kommentare, het ‘n gesoute redakteur geskryf: “Dit het die toets van die tyd deurstaan.”

Ons hoef nie almal ‘n Ironside te wees nie, maar as Gelowiges is ons almal geroep om siele in te bring. – Wekroep

Maandag 19 Augustus 2019

Die Bybel gee mens Krag



"Soek julle krag in die HERE en in Sy groot mag. Efes 6:10

            In die Tweede Wêreldoorlog het 'n jong soldaat in die loopgraaf, 'n Nuwe Testament gesit en lees. Sy kaptein kom op hom af. "Wat maak jy met daardie boek hier?" vra hy bars. "Dit sal jou 'n ouvrou maak!"

Die soldaat kom flink op aandag. "Ek is bang, Kaptein," antwoord hy eerlik. "Dis al manier hoe ek dapper kan wees. Hierdie boek gee my moed. Dit neem die vrees vir die dood weg."

Terwyl hy praat, bars 'n bom naby hulle. Een van die kartetse verbrysel sy kop.

            Die offisier het die Bybeltjie eerbiedig opgetel en in sy sak gesteek. Hy het dit self begin lees. Dit het 'n groot invloed op hom gehad. Hy het moed geskep en die lewe het vir hom weer sin gemaak. Hy het gesorg elkeen van die manskappe onder sy bevel kry 'n Nuwe Testament.

            Die lees van die Bybel maak 'n mens nie week nie, maar sterk. Vir baie mense het die lees van die Bybel in tye van groot behoefte en neerslagtigheid, nuwe hoop en moed in hul hart ontsteek. Bybellees is nie 'n godsdienstige plig nie. Dit is 'n groot voorreg.

Dit bring lig en geloof in die siel. Dit stil die sielehonger. Verwaarlosing van die Bybel is die grootste onreg wat 'n mens homself kan aandoen. Hy ontsê homself 'n bron van krag en vreugde. Hy ontsê homself die voorreg om na God te luister.

            Bybellees bring ons hart met God se hart in aanraking, want dit is Sy Lewende Woord. Hy praat innig met ons. Die Heilige Gees gebruik God se Woord om die Here Jesus aan ons bekend te maak. Deur ons kennis van Christus en vertroue in Hom, vind ons vergifnis en vrede en gaan al die rykdomme van die hemel vir ons oop.

            Vir meer inligting oor die Bybel: http://www.thesower.org.za/ -- Wekroep

Jy moet jou gawes aanwakker



Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande.
1 Tim 1:6

            Soms ontvang Gelowiges gawes direk van die HERE af, ander kere deur handoplegging. Hoe egter, sal mens weet of jy ‘n gawe of gawes het? Deur dit aan te wakker... Deur te begin om dit te beoefen.

            Wanneer dit deur handoplegging op jou afgebid is, aanvaar dat jy dit ontvang het en beoefen dit.

            Gawes kom uit die Hemel en kan nie deur studies verkry word nie. God gee dit en Hy wil dit gee want ons moet dit gebruik om die Evangelie te verkondig.

            Niemand anders kan jou gawe aktiveer nie, net jy kan.

Moenie die gawes van ander na-aap nie. Jy moet jou eie gawes aanwakker.

Sommige is jaloers op ander se gawes. Dis ‘n ernstige fout.  Gawes word vir jou gegee om die Hemel te bevolk, om die getal mee vol te maak.

            Die bekende Louis Armstrong, so word vertel, wou na ‘n musiekskool toe gaan. Hy was getoets en toe meegedeel dat hy dit nooit sal maak nie. Hy het gehuil van teleurstelling. Agterna het hy aan sy vriende gesê: “Ek weet daar is musiek in my. Hy het hard begin oefen, die bietjie wat hy had aangewakker en uiteindelik een van die wêreld se voorste jazz musikante geword.

Alhoewel ons almal as uniek gebore word, is daar sommige van ons wat ander wil naboots. Hulle beland in die groot uitdagende rot resies. As jy uiteindelik wen is jy maar net die hoof rot.

Met die gawes is jy in geen kompetisie nie. Jy wedywer teen niemand nie. Jy is in diens van die HERE en om die Hemel se ontwil.

            Gawes is nie daar om verdeeldheid (1 Kor 12:25) te saai nie, maar juis om mekaar te bedien.

            Due gawes is ook deel van ons erfporsie en speel ‘n belangrike rol in die uitdra van die Evangelie en die ophou van die Gelowiges.

            “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.” 1 Kor 12:28

            “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde HERE; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.

            “Maar (let op) aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.

            “Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale.

            “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” 1 Kor 12:4-11

            Ons weet dat ons dit ontvang het, deur dit te begin uitleef, dit aan te wakker. Soos wat ons dit doen word dit meer. So ook jou Hemelse taal gawe. Hoe meer jy daarin bid hoe meer brei dit uit. – Wekroep

Ouers wat inmeng in kinders se huwelik


Wanneer die man se ouers , een of albei, in jou huwelik inmeng:

“En Hy antwoord hulle en sê:

Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het,

hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het:

Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder  verlaat

en sy vrou aankleef,

en hulle twee sal een vlees wees; (hoekom?)

sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees?

Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”Matt 19:4-6

Die boodskap geld vir die vrou se ouers ook.

...

Wanneer ons geestesoë verhelder



Paulus sê aan die gemeente in Efese: Wanneer hy in sy gebede aan hulle dink, bid hy dat die God van ons Here Jesus Christus…deur sy Gees…hulle geestesoë so verhelder dat hulle kan weet…watter rykdom…Hy vir die Gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in hulle wat glo. Efes 1:15-23

            In Leslie B. Flynn se boek, Negentig Gawes van die Gees, vertel hy, die bekende prediker, C. H. Spurgeon, besoek ’n bejaarde vrou in ’n tehuis vir armlastiges. ’n Geraamde, handgeskrewe dokument, met handtekening en al, teen die muur, trek sy aandag.

Hy vra daarna. Sy vertel hom sy het ’n bejaarde man versorg en net voor sy dood het hy die brief van waardering vir haar gegee. Kort daarna is hy dood. Dit was vir haar kosbaar en sy het dit geraam en teen die kamermuur opgehang.

Na baie oorreding laat sy Spurgeon toe om haar kosbare kleinnood vir ’n paar dae te leen. Spurgeon neem dit bank toe en dit veroorsaak ’n hele opskudding. Die bankbestuurder kom na hom toe en roep uit: ”Dankie! Ons kon net nie uitvind aan wie die ou heer al sy skatte bemaak het nie!”

Die arm vrou in die tehuis was eintlik skatryk, maar omdat sy haar dokument nie gelees en verstaan het nie, leef sy in armoede.

Wedergeborenes het ook ’n geskrewe dokument wat ons rykdom aan ons beskryf. Ons is erfgename van ’n groot, Ewige Erfenis, met baie huidige voordele, maar ons leef in die armoede van spanning en vrees en neerslagtigheid, omdat ons, ons dokument nie deeglik bestudeer en van ons voordele gebruik maak nie en ons in ons  erfporsie verbly nie.

Ons dokument word "Die Nuwe Testament" genoem. God se gawe aan sondaars in Christus Jesus se verlossing word ryklik daarin beskryf. In die Ou Testament staan dit in beeldende en profetiese taal. In die Nuwe Testament word dit duidelik, op die man af, beskryf: “…die Skrif kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die Waarheid te onderrig…” 2 Tim. 3: 15 en 16

Let nou op: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

“Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

“Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is… en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Rom 8:14-17

Maak ‘n studie van die hele Rom 8 en Efes 1. Soos met feitlik alle Testamente  is daar voorwaardes. As ons bv. dit wat ons erf, ons eie wil maak, moet ons na die Gees en nie na die vlees lewe nie. – Wekroep

Woensdag 07 Augustus 2019

Die Jerusalemgangers

Dit was die Jerusalemgangers wat aan Nylstroom (Modimolle)  sy naam gegee het, menende dit was ‘n sytak van die Nylrivier, die langste rivier in die wêreld.. Vandag is alle Gelowiges Jerusalemgangers, op pad na die Nuwe Jerusalem. Die enigste kwalifikasie om ‘n ware Jerusalemganger te word, is om Wedergebore te wees.

       Die Jerusalemgangers (ook bekend as die Enselin-groep) was ’n groep Voortrekkers in Transvaal wat oor land na Jerusalem in Palestina wou trek, veral omdat hulle wou ontsnap aan Britse heerskappy in Suider-Afrika. Hulle het in 1837 uit die omgewing van die huidige Tarkastad na Natal getrek en ná die Britse anneksasie in 1844 van daar na die Vrystaat en eindelik Transvaal.

       Hulle word soms as ’n eksentrieke, fanatiese en dweepsugtige sekte onder die Boere geteken. Dr. D.W. Krüger beskryf hulle as "seker die eienaardigste verskynsel wat hom voorgedoen het onder die lewe van die Transvalers van die (19de) eeu. Maar mede-Transvalers het hulle nie as iets eienaardigs beskou nie. Nog 'n beskouing is dat hulle uit die geledere gekom het van die Doppers wat die onbybelse idee gehad het dat hulle weens afstamming die uitverkore volk was". Die Jerusalemgangers het dan glo "gemeen hulle moet voortrek om Jerusalem te gaan herbou". Die groep het uit die samelewing verdwyn ná hul leier, kmdt. Johan Adam Enslin se dood. Al wat nog aan hulle herinner, is die naam Enselsberg in die distrik Zeerust en die naam Nylstroom.

Min is bekend oor die agtergrond en ontstaan van die Jerusalemgangers. Hul opvattings was 'n eienaardige vermenging van godsdiens en politiek. Hulle het Brittanje byvoorbeeld beskou as een van die horings van die dier in die Bybelboek Openbaring. Hul leier was Johan Adam Enslin (1800–1852), ’n eertydse smous in die Kaapkolonie, wat omstreeks 1846 in die omgewing van Winburg as "die profeet" bekend was. Van die ander lede van sy trekgeselskap was Jacob Erasmus, Stoffel de Wet, Paul Roos en Jurie Bekker.

Die NG predikant dr. William Robertson het reeds in 1836 in die Swartberge tussen die Groot- en Klein-Karoo met die groep mense in aanraking gekom wat oor land na Jerusalem wou trek. Van die families wat tot dié groep behoort het, byvoorbeeld die De Beers en De Klerks, kan in ’n mate met die Slagtersnek-rebellie (1815–'16) verbind word, een van die vernaamste aanleidende oorsake van die emigrasie of Groot Trek uit die Kaapkolonie.

Luidens ’n berig in De Zuid-Afrikaan van 17 November 1837 het die Enselin-geselskap omstreeks 1837 getrek uit die latere distrik Tarkastad, waar die Slagtersnek-opstand sowat 20 jaar vantevore plaasgevind het. Dié groep het hulle in Natal gaan vestig waar een van hulle, Lourens Erasmus van Winburg, hom as Volksraadslid onderskei het wat nie maklik tevrede gestel kon word. Hy was moontlik die vader van Hans en Jacob Erasmus wat in 1849 met ds. Andrew Murray van die NG Kerk en in 1853 met ds. Dirk van der Hoff van die Hervormde Kerk gebots het.

In ds. Murray se geval het twee hewige openbare rusies van 'n ossewa af plaasgevind wat daartoe gelei het dat heelparty van die Jerusalemgangers die groep die rus toegekeer het terwyl ander hom wou stenig omdat hy volgens hulle 'n predikant in diens van die "Antichris" (Engeland) was. Omstreeks 1851 het ds. J.H. Neethling ook kwaai weerstand ervaar teen sy pogings om die trekkers te bedien.

Die Jerusalemganger Zacharias J. de Beer, later 'n bekende Gereformeerde ouderling van Waterberg, was daar reeds in die dae van eerw. Erasmus Smit en ds. Daniel Lindley "gedurig ergernis wegens de gezangen", een van die oorsake van die stigting van die Gereformeerde Kerk in 1859. Daarom het, volgens De Beer, 'n "groot gedeelte der Emigranten" afsydig teenoor die kerklike lewe gestaan, Nederduits-Gereformeerd sowel as Hervormd.

Dr. Bouke Spoelstra meen "hierdie bewering pas nie by die houding van die toonaangewende latere Gereformeerdes teenoor die Kaapse bedieningskommissies nie. Casper Kruger was (trouens) ds. (Andrew) Murray se gids tydens sy ontmoeting met die Marico-party." Volgens De Beer het die groep in 1844 uit Natal getrek "wegens de annexatie". Hierop grond dr. Spoelstra sy aanname: "Dit het dus niks met 'n Jerusalemtrek te doen nie, maar wel met 'n radikale afkeer van enige Engelse heerskappy."

De Beer het aangevoer die Jerusalemgangers was goed op die hoogte met die verhouding van die Kaapse Kerk tot die Britse owerheid. Jacob Erasmus is uit die Kolonie ingelig dat di. P.E. Faure (van die NG gemeente Wynberg) en dr. William Robertson (indertyd leraar van die NG gemeente Swellendam) "in oorleg met die Britse regering" 'n besoek aan Transvaal sou bring. Daarom wou 'n deel van die Voortrekkers, wat die Kaapkolonie juis verlaat het om aan die Britse oorheersing te ontsnap, niks met hulle te doen hê nie. De Beer het selfs beweer die inwoners van Lydenburg was afsydig "omdat wy tegen de Gezangen waren". So het hy die politieke beswaar sonder meer met die sing van Gesange vereenselwig. Dr. Bouke meen dit "openbaar 'n gees van beswaardheid teen die Kaapse Kerk".

Jacob Erasmus was bewus van goewerneur sir Harry Smith se dreigement om „de Emigranten door het Zwaard des Geestes onder haar gezag" te bring. Predikante soos ds. Murray, ’n lojale Britse onderdaan, se besoeke het die Jerusalemgangers in die lig van dié dreigement gesien. Daarom het Jacob Erasmus saam met Jan Enslin, Paul Roos, Stoffel de Wet en Mietjie Gous in 1849 opgeruk om hulle teen ds. Murray te verset. Dr. Bouke meen dis verstaanbaar dat hul redenering vir ds. Murray sou klink na sektariese "verdraaiing der Heilige Schrift" en van Wilhemus á Brakel, ’n vername verteenwoordiger van die "Nadere Reformartie" in Nederland. Hulle het hom geskok met die bewering dat die saligheid nie van eie godsvrug nie, maar van die uitverkiesing afhanklik is. Iets wat hulle gemeen gehad het met die Gereformeerdes wat in 1859 van die Hervormde en NG Kerk sou afstig.

Omdat hulle hulleself met die uitverkore Israel op reis na Jerusalem vereenselwig het, het hulle die naam "Jerusalemgangers" gekry, maar ds. Frans Lion Cachet van die NG Kerk was daarvan oortuig die uitstaande motief van dié mense was om 'Engelands overmacht' te ontvlug. Daarom meen dr. Spoelstra dis "'n ope vraag of die naam 'Jerusalemgangers' aan hulle laat reg geskied. Die feit dat hulle met (ds.) Murray 'n woordestryd aangeknoop het omdat hy vir hulle 'n Engelse gevaar verpersoonlik, toon juis dat hulle nie tot 'n verdere trek na Jerusalem gedwing wou wees nie.

Dit was destyds beeldspraak onder Voortrekkers, van wie baie net die Statebybel as leesstof gehad het, om 'n eie vrye politieke heenkome voor te stel met die land Kanaän of stad Jerusalem. Selfs Andries Pretorius het op ’n keer gesê: "Soo wy niet eensgezind en voll liefde blijven, sullende wy nim(m)er den aartschen nog Heemelschen Canan of Jerusalem beryken, maar meer als veertig jaren sullen om loopen."

Voorts het hul medeburgers hulle nie as 'n godsdienstige sekte beskou nie, so nie sou J.A. Enslin nie in 1851 die benoeming tot kommandant-generaal ontvang het nie. En hul afkeer van 'n predikant uit die Kaapse staatskerk het ook by ander Voortrekkers voorgekom. Volgens dr. Spoelstra sou 'n sektariese groep ook nie so natuurlik in die Gereformeerde Kerk kon oplos nie.

Ds. J.H. Neethling wat op sy grootworddorp, Prins Albert, met die Jerusalemgangers te doen moes gekry het en die Voortrekkers in die vroeë jare van Transvaal in Marico besoek het, het hulle beskryf as 'n "fanatiese godsdienstige sekte onder die invloed van 'n profetes" (die weduwee Maria Elizabeth Gou(w)s).[16][17] Die besonderse kenmerk van die Enslin-groep was nie godsdienstig van aard nie, maar hul radikale afkeer van alles wat Engels was, aldus dr. Spoelstra. Enslin het byvoorbeeld na Engeland verwys as die “verdrukker waar wey voor gevlug heb" met verwysing na die Britse anneksasie van Natal en, nadat hulle uit die Tuinkolonie weggetrek het, van die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier in 1848. Dit het hulle laat besluit om na 'n ver weg van Britse invloed te trek.

Hy het hom vereenselwig met die “onderdaanen” van die Volksraad en op godsdienstige gronde gepleit dat reg moet geskied. Van ’n verdere trekplan na Jerusalem het hy nie melding gemaak nie, hoewel hulle gemeen het hulle sou Jerusalem maklik oorland kon bereik met die "Nyl" langs. Die Jerusalemgangers was oortuig die beloofde land kon nie te ver wees nie aangesien hulle Arabiese perde in die besit van inboorlingstamme waargeneem het.

In die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek skryf J.P. Claasen die Jerusalemgangers het wel voorbereidings vir die tog na Jerusalem getref. Mietjie Gouws het byvoorbeeld begin beskuit bak en biltong droog en lede van die groep het rondvertel haar rate sou die trekkers teen siektes en kwale kon beskerm. Hulle het die Nederlandse bemiddelaar tussen die Boerefaksies in Transvaal H.T. Bührmann (1822–1890) uitgevra hoe ver Jerusalem van Marico was. Hulle het gemeen die trek sou nie langer as ses weke of twee maande met die ossewa duur as alles goed sou gaan nie. Die Nederlander het hulle probeer duidelik maak dat Jerusalem omtrent sewe of agt maal sover as Kaapstad van Rustenburg af was, dat daar onoorkomelike moeilikhede in die weg was, dat hulle geen Moses het nie en dat Palestina indertyd 'n halfwoestyn en rowersnes was.

Aan hierdie waarskuwings het die Jerusalemhgangers hulle nie gesteur nie. Vir hulle was Palestina die land van die druiwetros van die Bybelse Josua en Kaleb, en Bybelse uitdrukkings soos "melk en honig" en "balsem, Gileads" het hierdie wanindruk selfs verder versterk. Baie van hulle wou aanvanklik glad nie glo dat die trek onuitvoerbaar was nie. Hulle het gemeen daar sou wel middels wees om die ondeurwaadbare riviere te deurkruis, by die Rooi See sou hulle wel skuite kry en die roofsugtige Arabiere in Palestina sou hulle gou-gou met die Sanna op hul plek sit. Eers die dood van Enslin het die voorgenome trek in duie laat stort, want in die somer van 1851-'52 het 'n malaria-epidemie hom en talle van sy volgelinge se lewe geëis.

'n Aantal voornemende trekkers het daarna so gou moontlik ter wille van oorlewing uit Marico weggevlug. Party het in die distrik Waterberg aangekom waar hulle die breë biesiesomsoomde rivier (wat noordwaarts vloei) die Nyl genoem en die dorpie Nylstroom tot stand gebring het. Hulle het Kranskop vir 'n piramide aangesien.

Die Enslin-groep was in Marico nie geliefd nie, veral omdat hulle so vurig teen die betreklik verligte Andries Pretorius gekant was. Hulle het hom veral gewantrou omdat hy aanvanklik in die Britse anneksasie van Natal berus het. Toe hy met die Engelse by Sandrivier onderhandel, het hulle gemeen dat hy hulle aan die Engelse uitverkoop. Enslin was op die punt om met 'n gewapende demonstrasie sy afkeur te betuig, toe die geelkoors hom met 'n groot deel van sy volgelinge afgemaai het.

Die res van die Voortrekkers het gevra Pretorius moet vir hulle 'n ander kommandant aanwys omdat hulle nie bereid was om onder Enslin te dien nie. 'n Geskil met Pretorius het tot 'n hofgeding aanleiding gegee. Hy is dan ook plegtig gebrandmerk as die draak van Openbaring 12:4. Die groep het geweier om die staatsgesag te aanvaar tensy Enslin hul kommandant was. Die Volksraad het die probleem in 1851 probeer oplos deur Enslin as kommandant net van sy eie groep aan te stel.

Ná sy dood in April 1852, het Johannes J. Erasmus sy plek as kommandant ingeneem en die party het Stefanus Schoeman of Piet Potgieter bo 'n Pretorius as kommandant-generaal verkies. Uit die versoekskrifte blyk die party het bestaan uit 'n aantal families De Beer, Prinsloo, Erasmus, Enslin, De Klerk, Swanepoel, Roos, Smit en andere. Hulle het spoedig in die distrikte Marico, Magaliesberg en Waterberg versprei en veral in laasgenoemde distrik in onbemiddelde omstandighede geraak.

Dr. Spoelstra meen die duidelike Enslin-groep kan glad nie met die “Doppers” (uit wie se geledere ’n groot gedeelte van die oorspronklike lidmate van die Gereformeerde Kerk gekom het) of met die Magaliesbergers (onder wie pres. Paul Kruger se familie) vereenselwig word nie. Tog het Jurie Bekker uit Marico ook na ds. Dirk Postma gekom as woordvoerder van sowat 60 mense wat 15 jaar, dus sedert die anneksasie van Natal, beswaard was. Ds. Postma het 'n kind van Enslin wat 10 jaar oud was, van sy seun twee, van wie die oudste ses jaar was en van sy dogter drie tussen ses en twee jaar gedoop.

Dieselfde het gebeur met families Combrinck en De Jager, terwyl 'n seun van Stoffel Meyer selfs 17 jaar oud was. So het die Gereformeerde Kerk met sy stigting in 1859 aan hierdie politieke en kerklike ekstremiste, wat voorheen geweier het om eredienste saam met hul mede-Voortrekkers by te woon,[26] 'n geestelike heenkome gebied en hulle uit die woestyn gebring waarheen hulle self getrek het. Uit hul geledere het deelnemers aan die Dorslandtrek (1874–'80), soos Jurie Bekker, gekom. In die lidmaatregister van die Gereformeerde kerk Humpata verskyn die name van onder andere drie Enslins.

Die dorp Nylstroom (nou Modimolle) is aan hom gegee deur die Jerusalemgangers wat weens hul gebrekkige kennis van aardykskunde tot die gevolgtrekking laat kom het dat hulle in Noord-Transvaal op 'n tak van die Nyl afgekom het; vandaar die naam Nylstroom wat verkort is tot Nyl vir die riviertjie, die Mogalakwena wat juis toe sterk gestroom het ná oorvloedige reëns, en wat hulle gemeen het by die Nyl aansluit omdat die water noordwaarts gevloei het.

Ds. Frans Lion Cachet doen aan die hand hulle sou verder noordwaarts na Palestina getrek het, as die tsetsevlieg hulle nie teruggedwing het nie.[29] Hoewel die gedagte aan 'n trek na Jerusalem nie dadelik uitgesterf het nie, het die verlange daarna ná Enslin se dood mettertyd verdwyn.

https://af.wikipedia.org/wiki/Jerusalemgangers

Maandag 05 Augustus 2019

Emosionele Mishandeling


Is jy ook ‘n slagoffer van ‘n Skêrmens?


Van die konsert  van die lewe kry niemand ‘n program nie… en van die huishoudelike politiek nog minder.

            Oor die wandel saam met Koning Jesus, het ons ‘n handboek en Engele as bystand.

            Geen voël kan egter met geknipte vlerke vlieg nie.  Hou moed: “Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
Jes 40:31. Wees net geduldig...

            Ons kan opvaar met vleuels soos die arende. ‘n Sonde is egter besig om die volk te vernietig: Die mishandeling, van veral vroue en kinders.

Die mishandeling geskied in die vorm van voortdurende beledigings, skeltaal, vernedering, verkleinering, valse beskuldigings. iemand kry die skuld vir alles wat verkeerd is.

            Hierdie mondelinge mishandeling vind later selfs In ander se teenwoordigheid plaas. Die slagoffers voel hulle kan later niks meer reg doen nie. Met alles word fout gevind.

            Vroue sit bv daagliks in spanning en vrees hul mans se tuiskoms met: “Wat het ek vandag weer verkeerd gedoen?”

            Hierdie verbale mishandeling vernietig die lewe van die slagoffer. Baie hou uit en verduur. Hierdie optrede verbreek ook die huweliksbande.  ‘n Gepaste benaming vir die skuldiges, is Skêrmense. Hulle knip ander se vlerke so erg dat hulle later nie meer  kan vlieg nie.

            Van ware liefde is daar later geen sprake meer nie. Die kinders begin daar onder ly en nie lank nie of alles val uitmekaar…

Die onskuldiges vlug na egskeiding of selfmoord, drank en dwelmmiddels… Sommige vlug terug na hul ouerhuise. Dit alles is ‘n uitweg, maar nie ‘n oplossing nie. In berading roep hulle uit: HERE, ek het niks meer om voor te lewe nie. Soos in ‘n landwye droogte word hulle soos lewende dooies.

            Veral vroue word gevangenes in hul eie huise. Trane loop in strome. Mense is stukkend. Ons moet ons oor vroue in hierdie tronke ontferm.

            Die Skêrmens het een of ander behae daarin om ander so te pynig. Hy of sy knip die ander se vlerke.
            Daar is baie skêrmense, mense wat gedurig ander se vlerke knip wat maak dat hulle nie vry kan vlieg nie. Geknipte vlerke is traumaties. Dit beperk  die slagoffer se vermoëns.

Die slagoffers verdien dit nie. Gebedsgroepe moet soos ware intersessors by die Hemel ingryp vir hierdie slagoffers.  Die lewe is te kort, ons durf dit nie duld nie.

Loof die HERE tot in die Hoogste Hemele  sodat hierdie slagoffers weer volvlerk kan vlieg tot eer en verheerliking van die HERE en sy Koninkryk….dat hulle soos arende kan vlieg.   

"Aan Hom wat deur Sy krag... magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink..." Efes 3:21

Van hierdie slagoffers sit in die kerkbanke, maar ons ander is nie geestelik ingestel sodat die Heiige Gees die pyn en lyding aan ons kan uitwys nie. Wanneer alles uitmekaar spat dan bely ons: “Ons het dit nie sien kom nie.”

            Pleit by die HERE dat hierdie kettings verbreek word sodat  Sy volk vry kan uitgaan om Hom te aanbid en te dien. Doen dit in trane as dit nodig is en dra hierdie alles vernietigende las wat soos ‘n pandemie oor die land en die wêreld heen versprei. – Wekroep

Vrydag 02 Augustus 2019

Ons oordeel is verby


'n Predikant was op 'n skip wat by The Bay of Biscay verby geseil het... die verraderlikste see in die wêreld, veel erger as die Kaap van Storms. Met angs kyk hy, na wat hy dink, 'n naderende orkaan is. Bewende wend hy hom tot een van die matrose.



"Dink julle die skip sal deurkom?" vra hy. "Deur wat kom?" vra die matroos. "Daardie vreeslike orkaan wat aankom," antwoord hy. Die ou matroos glimlag. "Daardie storm sal nooit wéér hierlangs kom nie," antwoord hy rustig. "Dit wás reeds hier en is verby."

            Die indruk wat dié insident op die prediker gemaak het, gee Kings Business met hierdie woorde weer: "So, in regard to the believer, judgment as to the penalty of our sins is past. We were tried, condemned and executed in the person of our Surety, our Lord Jesus Christ, on Calvary."

Die orkaan is verby

            Vir die persoon wat in Jesus Christus vertrou vir die vergifnis van sy sonde en die redding van sy siel, het die onbeskryflike orkaan van God se toorn oor sonde, verbygegaan. Dit is Goeie Vrydag se boodskap.

So iemand het erfgenaam geword van vrede, vergifnis en die Ewige Lewe. Vir die beangste misdadiger aan die kruis, wat hom op die laaste tippie tot Jesus, langs hom, gewend het, het Jesus gesê: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees." Luk 23:23

Met die steniging van Stefanus, deur die Joodse Raad, lees ons, "Maar Stefanus, (let op) vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die Hemel... 'Kyk,' het hy gesê, “ek sien die Hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.'" Hand 7:54

"Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie." Rom 8:1 – Wekroep

Jesus wag vir ons daar buite



Die boemelaar sluip die kerk binne en gaan sit in ‘n leë bank agter in die kerk. Na ‘n ruk kom ‘n ouderling na hom toe ek sê: “Jy kan nie hier wees nie, jy ontstel die kerkgangers.”

            Boemelaar: “Ek sal nie steur nie, ek wil net die HERE aanbid.”

            Ouderling: “Jy moet liewer gaan.” En die boemelaar verlaat die kerkgebou.

            Voor die kerkgebou het hy in sy vodde op die trappies gaan sit en bitterlik begin huil. Toe vat ‘n sterk hand aan sy skouer.

            Hy kyk op en dis Jesus en Jesus sê vir hom: “Moenie so ontsteld wees nie. Ek probeer al vir baie jare in hierdie kerk inkom.”

            Dit was die rede waarom Eerw William Booth as predikant van die Metodistekerk bedank het om die Evangelie aan die boemelaars, die prostitute, die bedelaars, die mense met stukkende harte, en ander, in die strate te bring.

“Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die Heilige plek en (waar nog?) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15

Booth het na jare se straatwerk die Heilsleër in 1865 gestig en dit bestaan vandag nog.

            Booth se begrafnis in 1912 in Londen, is bygewoon deur 250 000 van sy volgelinge.

Die 250 000 en honderde duisende meer is gered weens die werk van Booth se volgelinge. Hulle het gewerk op die basis van wyle ds Dawie Pyper  se strategie:” “Each One Reach One.”

Dis wat Wedergeborenes vandag nog moet doen: Elkeen moet ‘n volgende een bereik.

Hoeveel siele het jy al vir Jesus bereik?

“Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” Matt 18:29

Is Jesus in jou gemeente. Beleef jy Sy aanwesigheid daar?

Hy wil graag daar wees. Verwelkom Hom in julle midde. –  Wekroep

Hier is ‘n video van Booth se begrafnis. Die orkeste en kore wat agter die kis aanstap is die 10 000 afgevaardigdes van reg oor die wêreld  wat die begrafnis bygewoon het. Die 250 000 aan weerskante, is siele wat onder Booth se leiding gered is.

‘n Gedagte wat mens aan die hart ruk, is die feit dat niemand van die mense in die video vandag meer die aarde bewandel nie, Hulle wag vir ons in die Hemel.

https://video.search.yahoo.com/search/video?fr=yhs-invalid&p=funeral+of+Gen+william+booth#id=1&vid=e48c5a559c63d1f3e25e44ea0d16f73f&action=click