Maandag 19 Augustus 2019

Jy moet jou gawes aanwakker



Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande.
1 Tim 1:6

            Soms ontvang Gelowiges gawes direk van die HERE af, ander kere deur handoplegging. Hoe egter, sal mens weet of jy ‘n gawe of gawes het? Deur dit aan te wakker... Deur te begin om dit te beoefen.

            Wanneer dit deur handoplegging op jou afgebid is, aanvaar dat jy dit ontvang het en beoefen dit.

            Gawes kom uit die Hemel en kan nie deur studies verkry word nie. God gee dit en Hy wil dit gee want ons moet dit gebruik om die Evangelie te verkondig.

            Niemand anders kan jou gawe aktiveer nie, net jy kan.

Moenie die gawes van ander na-aap nie. Jy moet jou eie gawes aanwakker.

Sommige is jaloers op ander se gawes. Dis ‘n ernstige fout.  Gawes word vir jou gegee om die Hemel te bevolk, om die getal mee vol te maak.

            Die bekende Louis Armstrong, so word vertel, wou na ‘n musiekskool toe gaan. Hy was getoets en toe meegedeel dat hy dit nooit sal maak nie. Hy het gehuil van teleurstelling. Agterna het hy aan sy vriende gesê: “Ek weet daar is musiek in my. Hy het hard begin oefen, die bietjie wat hy had aangewakker en uiteindelik een van die wêreld se voorste jazz musikante geword.

Alhoewel ons almal as uniek gebore word, is daar sommige van ons wat ander wil naboots. Hulle beland in die groot uitdagende rot resies. As jy uiteindelik wen is jy maar net die hoof rot.

Met die gawes is jy in geen kompetisie nie. Jy wedywer teen niemand nie. Jy is in diens van die HERE en om die Hemel se ontwil.

            Gawes is nie daar om verdeeldheid (1 Kor 12:25) te saai nie, maar juis om mekaar te bedien.

            Due gawes is ook deel van ons erfporsie en speel ‘n belangrike rol in die uitdra van die Evangelie en die ophou van die Gelowiges.

            “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.” 1 Kor 12:28

            “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde HERE; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.

            “Maar (let op) aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.

            “Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale.

            “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” 1 Kor 12:4-11

            Ons weet dat ons dit ontvang het, deur dit te begin uitleef, dit aan te wakker. Soos wat ons dit doen word dit meer. So ook jou Hemelse taal gawe. Hoe meer jy daarin bid hoe meer brei dit uit. – Wekroep