Woensdag 26 Augustus 2015

Tussen Glo en Ontvang, daar steek ons vas...


 Image result for bybel


Ons bid en ons sê ons glo, maar daar gebeur niks. Die hoofrede is omdat ons nie in afwagting bid nie.
          Ons glo byvoorbeeld dat die Wederkoms gaan plaasvind, maar ons leef nie in afwagting dat dit enige oomblik kan gebeur nie.
          “Want voorwaar, ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg (probleem) sê: hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.
          “Daarom sê Ek vir julle: alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang (glo dat julle dit reeds ontvang het), en julle sal dit verkry.” Mark. 11:23-24.
          Kom ons maak ‘n draai by Tiberias langs die See van Galilea in Israel. Jesus Christus het na Tiberias gegaan en ‘n groot menigte het hom gevolg.
“Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat ‘n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?
“Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen.
“Filippus antwoord Hom: Brood vir twee honderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ‘n stukkie kan kry nie.
“Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom:
“Hier is ‘n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense?
“En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyf duisend in getal.

“En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan dié wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê.
“En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie.
“Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het.” Joh. 6:5-13 en Lk. 9:10-17.
          Ons lees dat Jesus Christus die skare jammer kry. Hy kon hulle wegstuur, maar:

·        Hy ontvang hulle
·        Verkondig die Koninkryk van GOD aan hulle
·        Gee vir hulle iets om te eet
·        Maak die siekes gesond

Die dissipels het gesê Hy moet die skare wegstuur. Dit was te begrype dat hulle so iets sou sê want hulle het pas van ‘n lang sendingreis af teruggekeer. Hulle was moeg. Hulle het elk ‘n mandjie kos by hulle gehad en hulle wou rus. Hulle moes intussen al die kos opgeëet het, want daar was niks om vir die skare te gee nie.

Dan gebeur die onverwagte wanneer Jesus Christus aan hulle sê: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”
Filippus sê: Twee honderd pennings is te min om vir hulle brood te koop.
Natuurlik was 200 pennings te min want daar was 5 000 man en hulle vroue en kinders. Daar was maklik 20 000 mense.
Dan gebeur die onmoontlike, en hier sien ons die begin van massa-evangelisasie. Jesus is die geestelike gesag in hierdie geval. Die situasie verskuif van ‘n verstandelike vlak na ‘n geestelike vlak. Hy begin bevele gee.
Dit is nodig dat daar orde sal wees anders gaan 20 000 mense mekaar vertrap om kos te bekom.
Jesus gee bevel dat die mense in groepe van 50 en 100 moet sit.
Die visse en die brode kon nie soos vandag se visse en brode gewees het nie want dan sou die seuntjie dit nie kon dra nie. Mens moet eerder praat van vissies en broodjies.
Jesus het die broodjies en die vissies geneem, en nadat hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels.
Ongelooflik, sou jy sê, maar daar staan 12 dissipels met twee vissies en vyf broodjies tussen hulle verdeel. Hoeveel sou elkeen op daardie oomblik in sy hande had? Bra min.
Hulle kon met hierdie stukkies in hulle hande bly staan het en gesê het – soos baie van ons sou sê – hoe op dees aarde gee mens hierdie massa mense kos met dié flentertjies?
As dit ons was, sou ons maar bedremmeld daaruit gesien het. Ons sou half onnosel gevoel het. Onthou, bykans 20 000 mense sit vir hulle en kyk. Sommige van ons se geloof sou daar dalk ‘n finale knak gekry het. Ons sou gesê het: Nee wat, hierdie soort godsdiens is nie vir my nie, ek gaan liewer na ‘n ander kerk toe waar hulle nie so ‘n swaap van ‘n mens maak nie.
Sien dit in jou geestesoog: Daar sit die bykans 20 000 mense en hier staan ek en jy. Dis ‘n krisis.
Tussen die dissipels en die mense is ‘n hele paar treë. Hulle moet nou die paar treë soos hulpeloses stap na die voorste ry mense.
Die dissipels egter, getrou aan hulle gehoorsaamheid en onderdanigheid aan die HERE, stap daardie paar treë na die voorste ry mense en begin uitdeel.
Daardie oomblik het GOD se vermenigvuldende krag in werking gekom en almal is gevoed – en daar was nog 12 mandjies vol brokstukke oor.
Tussen glo en ontvang, dis waar ons turf gewoonlik sit. Wat baat dit om te glo, maar jy ontvang nie.
Al lyk dit wat jy ontvang na niks, al is dit niks wat jou oog kan sien nie, ontvang dit, maak dit jou eie.
Lees weer wat sê Jesus Christus: “Daarom sê Ek vir julle: alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang (reeds ontvang het), en julle sal dit verkry.” Mark. 11:23-24.
Ek en jy moet die Koninkryk van GOD bou. Ons is nie gered om Hemel toe te gaan nie, nee, ons is gered om GOD te dien.
Hoeveel het jy in jou hande om uit te deel? Byna niks? Begin dit net uitdeel en kyk hoe dit sal vermenigvuldig.
Sommige Christene raak angsbevange as iemand hulle oor die HERE vra.
Meeste sê gewoonlik: Jong, ek weet nie, maar jy moet my dominee vra.
Onthou, herders kry nie lammers nie. Skape kry lammers. Herders voed hulle skape met stukkies en brood en stukkies vis, en dis ek en jy wat daai stukkies moet gaan uitdeel.
Ons moet stap na die massas toe. Ons moet hulle gaan voed met dit wat ons het. GOD in sy Almag sal die vermenigvuldiging daarvan doen en ek en jy sal groot seën daaruit ontvang.
Nêrens in die Bybel staan bou kerke en nooi die ongereddes daarheen nie. Oral staan GAAN! Gaan na die verlore siele en gaan voed hulle. Jy en ek moet dit doen, al lyk ons ook hoe bekreukeld. Die krag lê nie in my en jou nie, die krag is in die Woord.
GOD se Woord, sy Nuwe Testament, is soos jou testament wat jy gaan nalaat. Niemand kan sê jy is dood en jou testament het geen krag nie. Jou testament het soveel krag dat dit die toets van die hoogste hof kan deurstaan.
Neem daardie min wat jy het en begin gee. Niemand gee sonder om ooit te ontvang nie.

“Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” Luk. 6:38.

Laat jou wekroep wees: Glo, Gee, Ontvang.
Stel altyd die Koninkryk van GOD eerste. “Soek eers die Koninkryk van GOD, en al hierdie dinge sal vir julle gegee word.” Matt. 6:25-34.  —  Sjibbolet

Wat gaan dit jou aan? Volg jy My!



Wat  gaan  dit  jou  aan ….

… wat  gaan  dit  jou  aan?  Volg  jy  My!   Joh. 21:21-22

HERE, toe ek getuig dat ek gered is, toe sê sommige hulle sal sien hoe lank ek die pad sal volhou en hulle spot met my.


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!

HERE, ander Christene sê rook en die gebruik van sterk drank is nie ‘n sonde nie.


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!

HERE, daar is Christene in die gemeente wat agter my rug dinge oor my sê.


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!

HERE, ek wil strewe na volmaaktheid en heiligmaking, maar nou sê ander ek lewe heeltemal te eng.


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!

HERE, die predikant en die kerkraad het my nie eers bedank vir my aandeel in die boufonds en die bou van die kerk nie.


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!

HERE,  daar word leuens oor my versprei. Wat moet ek daaraan doen?


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!

HERE, diegene wat beloftes aan my gemaak het hulle woord van eer verbreek.


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!

HERE,  daardie twee woon saam en hulle is nie getroud nie!




HERE, dis onmoontlik om met my vrou saam te lewe. Sy’s altyd dwars.


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!


Here,  my familie twis en ook aanvaar hulle my nie.


Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!


Here, ek word in my werkplek dik beskinder.
Wat gaan dit jou aan?  Volg jy My!

HY wat ‘n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig

tot op die dag van Jesus Christus. Fil. 1:6.

Let op:  HY het die werk in elkeen van ons begin en HY sal dit voleindig!

Daar is Geen ander Evangelie nie!


Image result for bybel


Is jou volgende bestemming die poorte van die Hemel — of die verdoemenis van die hel? Die besluit is joune oor waarheen jy sal gaan!
          ‘n Amptelike opname in Amerika het bevind dat twee-derdes van alle Amerikaners “dink” dat hulle Hemel toe sal gaan, terwyl ‘n paar meen dat die hel vir seker hulle lotsbestemming sal wees.
          Die oor groter meerderheid van Amerikaners glo dat daar lewe na die dood is en dat die Hemel en die hel wel bestaan, aldus die Barna Navorsingsgroep van Oxford wat sedert 1984 deurentyd navorsing oor die Christelike geloof doen.
          “Ons is optimiste in ons denke,” het Robert Johnston, professor in Teologie aan die Fuller Teologiese Seminarie in Pasedena gesê.  
          “As mense werklik aan die bestaan van die hel glo, sal hulle sekerlik daar wil beland nie. Per definisie is hel ‘n verloëning van die goedheid van God.
          Altesame 76% van Amerikaners glo aan die bestaan van die Hemel. Daar is 71% wat glo aan die bestaan van die hel. Dit is 7% meer as 10 jaar gelede het toe 64% aan die hel geglo het.
          Altesame 46% van Amerikaners wat aan die bestaan van die Hemel glo, beskryf dit as ‘n “plek van ewigheidsbestaan in die teenwoordigheid van God, en 30% het gesê die Hemel is ‘n “plek van rus en waarheen siele na die dood gaan om beloon te word.”
          Veertien persent het gesê die Hemel is net ‘n “simboliek” en dat daar geen lewe na die dood is nie. Vyf persent het gesê hulle is onseker.
          Die navorsing het twee gewilde perspektiewe oor die hel opgelewer. Altesame 39% van diegene wat aan die bestaan van die hel glo, het gesê “dit is ‘n stadium van ewige verwydering vanaf God se teenwoordigheid,” terwyl 32% gesê het “dis ‘n plek van kastyding en lyding waarheen siele na die dood heen gaan.”
          Dertien persent het gesê die hel is net ‘n “simboliek” van ‘n “onbekende gevolg na die dood.”
          Die peiling is gedoen op een duisend mense in elke Amerikaanse staat behalwe Hawai en Alaska. Drie persent van die monsters was bedorwe.
          “Miljoene Amerikaners vermeng verskeie godsdienstige menings om hulle
persoonlike geloofsoortuigings te skep,” sê David Kinneman, vise president van die Barna Navorsingsgroep.
          Hy het bygevoeg dat Amerikaners nie omgee om teensprake te vertroetel nie. Hulle geloofsoortuigings bestaan uit ‘n vermenging van slotsomme waartoe hulle weens TV-uitsending, rolprente en gesprekke met vriende.
          Hulle staan nie vas by een betrokke standpunt en volg dan die Bybel se riglyne en lering daaromtrent nie. Amerikaners sê: “Luister, ek kan waarskynlik vir myself ‘n eie filosofie bepaal wat net akkuraat mag wees as ‘n betrokke geloofsrigting aandui.”
          Verskil Suid-Afrika se 34 miljoen “Christene” veel hiervan? Sekerlik nie. Die bovermelde feite klink bekend onder ons eie mense. Vraag is: Is dit dan nie afgodediens wanneer mense hulle eie geloofsoortuigings “skep” nie?
          George Barna, voormalige predikant wat die navorsingsgroep gestig het, sê dat een uit elke 10 wedergebore Christene – hulle wat glo dat toegang tot die Hemel suiwer gegrond is op belydenis van sonde en geloof in Jesus Christus – ook in reïnkarnasie glo — iets wat die ware Christelike geloof skend en ontheilig.
          Onder die wedergeborenes het een uit elke drie gesê dit is moontlik om met die dooies kontak te maak. Die helfte glo mens kan jou verlossing bekom deur middel van goeie dade sonder om Christus as Saligmaker aan te neem.
          Baie wat hulself as ateïsties of agnosties beskryf het, het ‘n spul teensprake in hulle denke. So byvoorbeeld het die helfte van hulle gesê dat mense wel ‘n siel het en dat die Hemel en die hel bestaan en selfs dat daar lewe na die dood is.
          Een uit agt van hulle het gesê as mens Jesus as Saligmaker aanneem is daar ‘n moontlikheid dat lewe na die dood na bestaan.
         Die deurmekaarspul van ateïstiese en agnostiese etikette bied aan mens geen werklike insig oor hulle geloofsoortuigings nie.
          “Die gees van modernisme is eintlik ‘n beweging in die rigting van spiritualiteit, en nie weg daarvan nie,” het Johnston gesê, en bygevoeg: “Terwyl mense hulself met die modder van die lewe besmeer, klou elkeen tog aan ‘n spiritualisties behoudendheid vas.”
          Hierdie tendense loop ook wyd in Suid-Afrika. In sommige gevalle is dit predikante wat mense met allerlei onbybelse aannames in verskeie opportunistiese rigtings lei, terwyl Christene weer nie hulle lewens volgens die Bybel inrig nie.
          Bybels lê in die huise en stof opgaar terwyl diegene wat beweer dat hulle Christene is, die pad saam met klieks loop — mens kan darem nou nie anders as jou vriendekring  wees nie...
          God vereis dat ons Hom in Gees en in Waarheid moet dien en aanbid.
          Paulus skryf aan die Galasiërs: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig geword het... (Gal. 1:6). As mens nie God in Gees en Waarheid dien en aanbid nie, dan het jy inderdaad “afvallig” geword.
          En dan strofe 7: “Daar is geen ander Evangelie, behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die Evangelie van Jesus Christus wil verdraai.”
          In strofe 8 spreek Paulus ‘n oordeel uit op mense wat dit probeer doen wanneer hy sê: “Maar al sou ons of ‘n Engel uit die Hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
          Hoe sal mens dan nou maak om toegang tot die Hemel te verkry?
          “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
“want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Rom. 10:9-10.

          Saam met die Wedergeboorte ontvang jy ‘n erfporsie:
“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,
“waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle (juis!) die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”
Nou vereis die HERE dat jy die erfporsie (talente) moet gebruik, daarmee moet woeker:
“En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,
“en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,
“en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.
“Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;

“want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.
“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.
“Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die Ewige Koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. 2 Petrus 1:1-11.
Dit, liewe leser, is die Evangelie. Daar is geen ander Evangelie nie!
          “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
          “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”Hebr 12:12-15 – Sjibbolet

Groot blydskap in die Hemel oor een bekeerde sondaar


Image result for hemel


Bruce Crozier, 'n sewejarige seuntjie, het van sy pa se jagkamp in die Arizona berge af weggedwaal. Hy het ses dae en nagte na sy pa gesoek. Die nagtemperature was onder vriespunt. Bruce het snags onder hope droë boomblare ingekruip om warm te bly.  Hy had water in die berge.
Bruce het 50km van koers af verdwaal toe hy een dag pootuit en gehawend by ander jagters se kamp aankom. Sy pa en ‘n perdekommando van honderd man was op soek na hom, maar in ‘n heel ander rigting. Die jagters het die seuntjie versorg, na sy storie geluister en toe eers sy ma en daarna se pa op kommando gekontak.
In daardie stadium was beide ouers oortuig dat die seuntjie dood sou wees. Wilde diere sou hom verskeur het. Toe sy ma hom omhels het sy gesê: “Dit is byna onmoontlik om te glo dat ek my seun teruggekry het.” Maar die oomblik was eenvoudig te groot en sy het haar bewussyn verloor.
Toe Bruce se pa op kommando die nuus kry, en boonop hoor dat sy seun ongedeerd is, het ook hy bewusteloos inmekaar gesak.
Mens kan die skok begryp  wanneer hulle agterna vertel hoe hulle oortuig was die seuntjie is dood en hulle soek eintlik  na ‘n verskeurde lykie.
            Die Here Jesus het gesê: "Daar is blydskap in die Hemel oor een sondaar wat hom bekeer..." Luk 15”7. Hy probeer vir ons daardie blydskap beskryf uit 'n liefde wat ons ook ken: die liefde van 'n pa vir sy seun.
In die gelykenis van die verlore seun sê Jesus: "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom….Hy sê vir sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie… hy was verlore en ons het hom teruggekry!'" (Luk 15:20-30).
            As die Hemel so jubel oor een bekeerling, wat doen ons? Kyk weer na die prys wat betaal is sodat ek en jy gered kon word. In ons dag vind ons dat families skeef opkyk wanneer iemand met ‘n getuienis van redding by die huis aankom. Niemand jubel nie, daar word nie fees gevier nie, eerder praatjies gemaak. As jy nie grootste blydskap beleef oor een siel wat gered is nie, bevraagteken dan jou eie Christenskap.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag (nie hoop nie, jaag) die vrede na met almal, en die heiligmaking (hoekom?) waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15 – Sjibbolet

Saterdag 22 Augustus 2015

Jesus Christus Is Oppad!


 Image result for wegraping en wederkoms  


Ons beleef reeds 'n Sodom en Gomorra...

“...voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland.” Gen 13:10

          Dan verwoes die inwoners die land met erge sondes.

          “Die HERE het gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar.” Gen 18:20

          Daar was net 10 regverdiges in die land.

          “En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die Hemel, en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.” Gen 19:24-25

          “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees.

          “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” Openb 21:7-8

          “Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue; wat sê: Laat Hy gou maak, laat Hy sy werk verhaas, dat ons dit kan sien! En laat die raad van die Heilige van Israel naby wees en kom, dat ons dit kan ken!

          “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.

          “Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.

          “Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng; wat vir 'n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem.

          “Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle uitspruitsel soos stof opstuiwe; omdat hulle die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.” Jes 5:18-24

          Die aarde sal met vuur en rookdamp vergaan.

          Hoe naby is die Einde? As mens Sodom en Gomorra as meetinstrument gebruik, dan is ons by die Einde.

          “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie,” lees Matt. 24:44.

          Die Bybel leer dat Jesus Christus weer kom. Jesus het self ook so gesê.

Oor die Wederkoms van Jesus Christus is daar geen twyfel nie.

          Baie Christene sê hulle glo dat Jesus weer kom, nogtans is hulle nie gereed vir die Wederkoms nie.

       

·        Lees maar self die volgende beloftes oor die Wederkoms na:  Joh,. 14:3;  Hand. 1:8-11;  Hoofstukke 1 en 2 van Tessalonisense;  1 Thes. 4:16-18.



In die gemelde Skriftuurplase onthul Jesus sy Wederkoms, wanneer Hy gaan kom om Sy eie te kom haal.  Let op dat daar in hierdie geval geen melding gemaak word van die verlorenes nie.

Die gemelde Skrif praat selfs van die dooies wat in Christus gesterf het. Die verlore dooies sal vir meer as duisend jaar in hulle grafte agterbly. Eers daarna word hulle opgewek.

Die gemelde Skrif noem dat die Christene wat in die lewe sal wees, asook die dooies wat in Christus gesterwe het, Jesus tegemoet sal gaan in die lug.

Die verlore lewendes sal ‘n periode van sewe jaar se verdrukking binnegaan terwyl hulle onder die heerskappy van die antichris sal staan.

Sekere tekens sal die Wederkoms voorafgaan.  Die dag en die uur van die Wederkoms sal ons nie weet nie want Jesus weet dit self nie, net die Vader.  Nogtans word vir ons ‘n sterk aanduiding gegee van wanneer ons dit kan verwag.

Ons gaan die tyd van die groot afval beleef, ‘Christene’ wat afvallig raak van die geloof soos verwoord in 11 Thes. 2:3.

En ons belewe nou daardie tyd.  Die kerke loop leeg, gemeentes moet saamsmelt, ander sluit hulle deure en die geboue word verkoop.  By ander gemeentes het hulle vir hulle leraars aangestel om hulle gehoor te streel,  predikante wat valslik leer dat almal Verbondskinders is en nie verlore sal gaan nie, gemeentes waar ‘n meer sosiale evangelie verkondig word.

“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy Koninkryk:
“verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
“want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
“en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
“Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.” 2 Tim. 4:1-5
Die afval strek wyer.  Predikante verwerp die fundamentele waarhede van die Bybel. ‘n Nuwe historiese Christus word voorgehou, die wedergeboorte en die gawes word verwerp, ook Christus se maagdelike geboorte.

          1 Tim. 4:1 verwys spesifiek na die wegbeweeg van die geloof af. Mense gee hulle oor aan allerlei verleidende geeste, die oproep van die geeste van die dooies, die navolg van valse leerstellinge en selfs die raadpleging van demoniese magte en die satan self.

          Baie wil graag van die dooies hoor. Waarom? Omdat hulle die dood vrees?

          Miljoene wat eens op ‘n tyd belydenis van geloof afgelê het, het besluit om die smal weg vir die breë weg te verruil.

          “Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Matt. 7:14
          Hulle aanvaar nie langer die gesonde leer nie (11 Tim. 4:3-4) en loop agter hul eie begeerlikhede aan, verruil selfs die natuurlike weg van die man of die vrou en verval in onnatuurlike verhoudings wat selfs deur sommige regerings goedgekeur word.

          Sommige Pinkster- en charismatiese kerke het verval in ‘n mengsel van sielkunde en die emosionele met ‘n verwatering van die waarheid en ‘n verval in die sogenaamde rykdom-bediening.

Reg oor die wêreld trek hierdie bediening groot skares, maar uiteindelik is dit maar net weer kerke wat geld van die armes vat, in plaas geld vir die armes te gee.

Die ‘Promise Keepers’ beweging groei veral sterk in Amerika.  Baie ‘Christene’ wat die dooie modernistiese kerkbewegings verlaat, maak hulle tuis by die ‘Promise Keepers’ en die emosionele charismata.

          Die Christen sielkunde-beweging lok ook baie ‘Christene’ vanuit die dooie konserwatiewe kerke, maar beweeg ook weg van die waarheid en verval in emosie.  

          Hierdie kerke het meer as genoeg geld en betaal hulle predikante  derduisende meer aan salarisse as wat die tradisionele kerke ooit kon vermag.  Hulle saai uit op radio en TV en publiseer menige glans tydskrifte wat selfs gratis versprei word  –  ‘n skyn van Godsaligheid wat die krag daarvan lank reeds verloën het.

          Deesdae in Suid-Afrika is daar tradisionele kerke wat hulle heil in palmtakke, brandende kerse en allerlei rituele soek, eerder as om die doping in die Heilige Gees deelagtig te word.

          Oorsee word Moeder Maria nou in die tradisionele kerke ingebring. Ook sy moet vereer word, solank die Heilige Gees buite op straat bly.

          Wat is aan die gang, wat sê die Bybel hieroor?

“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
“Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
“sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
“verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
“mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
“Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word,
“wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.
“En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof.
“Maar hulle sal nie verder voortgaan nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos ook dié van daardie manne geword het.
“Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid,
“vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Antiochíë, in Ikónium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos.
“En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. (Dis ‘n belofte, nie ‘n waarskuwing nie).
“Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”

Dit klink alles so verskriklik.  Wat staan my en jou as kinders van God dan te doen. Timotheus gaan verder:

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het...” 2 Tim. 3:1-13

          Enigiemand wat hierdie Skrifte lees en die Gees van God het, verstaan dat Jesus Christus op pad is. Die tekens van die tye toon dit duidelik.

          Die getalle van ongehoorsame kinders neem daagliks toe. Dissipline het verdwyn en plek gemaak vir toenemende losbandigheid.

          Sielkundiges is die nuwe afgod wat sê dis verkeerd om ‘n kind te straf. Dit sal die kinders se selfrespek skade berokken.

          Liefdelose moeders wat hulle kinders deur middel van aborsie vermoor neem by die dag toe. Liefdeloosheid is die euwel van ons dag. Ouers wat geen gesag oor hulle kinders voer nie is liefdeloos.

          Mans en vroue wat die natuurlike weg verlaat het, is liefdelose mense. Talle gesinne word hierdie opgebreek. Die wêreld het absoluut pervers geword.

          Mense is inderdaad meer liefhebbers van plesier as liefhebbers van God. In alles wat die mens doen moet God 2e, of 3e, of 10e kom, solank Hy net nie eerste is nie.

          Tipies soos wat voorspel is vir die laaste dae het vorm godsdiens die plek van ware aanbidding ingeneem.

          Mense wat hierdie dinge uitwys, word as pessimiste gebrandmerk terwyl hulle inderwaarheid realiste is.

          Lees ook die profesieë in Eseg, 36-37; Eseg. 36:24 en Eseg. 38-39 oor Israel se terugkeer na sy tuisland. Wat nie reeds gebeur het nie, is besig om te gebeur.

          Daar is nog talle profesieë in die Bybel oor die herstel van Israel. Wat sedert 1948 gebeur is eeue gelede al voorspel.

          Die vestiging van die Ekumeniese Hoer Eenwêreld Kerk van Openb. 17 is reeds aan die gang. Daar sal ‘n Eenwêreld Regering, ‘n Eenwêreld Godsdiens en ‘n wêreld-mensras wees, net soos in die dae van die Toring van Babel.

          Dit sal na die Wegraping in totale vervulling gaan, maar die aanlope daartoe is reeds in volle gang.

          Die Eenwêreld Regering word as ‘n vrou voorgestel in Openb. 17:3-5. “En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.
          “En die vrou was beklee met purper en skarlaken en versier met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery;
          “en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.
                “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.”
          Hierdie Ekumeniese Hoer Kerk sal bestaan uit die Roomse Katolieke Kerk – nie die Roomse kerk soos ons haar nou ken nie, maar dit wat sy in gaan verander in die volgende paar jaar – en haar afvallige Protestantse dogters.
          Die Protestantse liberales, die Katolieke kerk en die “Promise Keepers” propageer dit. Liberale Baptiste beweeg ook in daardie rigting.
          As dit vir jou moeilik is om te aanvaar dat Protestantse Kerke hierdie pad loop, lees dan self TIME van Maart 21, 2005 se verslag daaroor:
          Should Mary be venerated by Protestants? That question frames the March 21, 2005 cover story for TIME magazine. David Van Biema has written an expansive and insightful report on contemporary developments among Protestants — developments that may influence some evangelicals.
Van Biema begins by introducing Reverend Brian Maguire, pastor of Westminster Presbyterian Church in Xenia, Ohio. Pastor Maguire has decided to combine his church’s Good Friday observance with a Marian Festival, calling this move “a beautiful, poetic opportunity.” As Van Biema notes, this kind of attention to Mary, the mother of Jesus, would have been controversial just a few years ago.
Nevertheless, the situation has changed so much that TIME’s cover carries this explanation: “Catholics have long revered her, but now Protestants are finding their own reasons to celebrate the mother of Jesus.” What’s going on here?
Die berig is te lank om in sy geheel hier te herhaal, maar: Hoe sal ons dan voorberei vir die Wederkoms?


Ons moet Weergebore wees

Die vyf dwase maagde van Mat. 25 was nie gereed nie. Hulle het geen olie in hulle lampe gehad nie. Olie stel die Heilige Gees voor. As jy nie deur die Gees van God gelei word nie, is jy nie ‘n kind van God nie!
“Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.
“Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,
“omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
“En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
“julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.
“Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid.

“En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
“Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie;
“want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.
“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” Rom. 8:5-14
Die vyf dwase maagde het geslaap in plaas daarvan dat hulle hulself op die Wederkoms voorberei het. So is mense vandag geestelik aan die slaap en kyk hulle glad nie uit vir die Wederkoms nie.
Die dwase maagde het gedink hulle kan olie leen vir hulle lampe. Baie mans dink vandag dat omdat hulle vroue geestelike is, dit hulle ook sal deurdra, en omgekeerd.
Wanneer vir baie vra of hulle wedergebore is, dan trek hulle los met lang stories dat hulle in ‘n Christelike huis grootgeword het, dat hulle ouers se wonderlike Christene is en dat hulle aan ‘n kerk behoort. Sulke mense probeer die Hemel op geleende olie haal.
Die vyf dwases het gedink hulle kon olie op die laaste oomblik bekom. So dink mense dat hulle baie tyd het. Sommige besluit selfs hulle sal in die skadu’s van die dood die HERE aanneem —  maar meeste sal in die hel eindig.
Ander is natuurlik slimmer, hulle redeneer God is ‘n God van liefde, Hy sal nooit toelaat dat hulle in die hel bekend nie. Ander redeneer weer daar is geen hel nie. Hierdie mense is dwaas en nogmaals dwaas.
Intussen oortree hulle die Koninklike Wet. Jak 2:8
Die vyf dwase maagde het gedink hulle kon die olie bekom wanneer hulle dit daarna verlang, maar min het hulle besef mens kan glad nie na die HERE toe kom sonder die krag van die Heilige Gees nie.
Nou begin mens verstaan wat Jesus Christus in Matt. 7:19:24 sê: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
“So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die Koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

“Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
“En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.”
Wanneer die Bruidegom kom sal dit wees soos in die tyd van Noag (Matt. 24:37-39). Mense het tyd vir alles, maar geen tyd vir God nie. Hulle berei nie voor nie.
Lot se vrou (Luk. 17:32) stel ook diegene voor wat nie gereed gaan wees nie. Sy was blootgestel aan die geloof van Abraham, maar dit het haar nie verander nie. Sy had min liefde vir HERE, haar liefde het in Sodom gelê. Om met ware Christene goeie verhoudinge te hê, help jou niks.  Jy sal nie gereed wees nie – nie vir die Wederkoms nie en ook nie vir jou onverwagte afsterwe nie.


Ons moet sonder vlek of rimpel wees

Sommige sal in sonde lewe wanneer die Wederkoms plaasvind. “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.
“Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.
“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Luk. 21:34-36
          Sommige gaan kanse vat. “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom —
“en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink,
“dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie;
“en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.” Matt. 24:47-51.
Dit maak nie saak wat mense bedink en doen op hierdie aarde nie, alles staan reeds in die Heilige Skrifte opgeteken. Niks het gebeur en gaan vorentoe gebeur, wat nie ook reeds opgeskrywe is nie. Mens kan nie waag om God te ontduik nie.  Jy sal nie daarin slaag nie.
          Die Wederkoms is ons reinigende hoop. Lees maar die hele 1 Joh. 3 maar let veral op na strofes 2 en 3. Sien ook 1 Thes. 3:13. Ons is veronderstel om ‘n heilige volk te wees.

          Sommige is skaam, selfbewus oor die Wederkoms. 1 Joh. 2:28 sê: “...bly in Hom (hoekom?) sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggestuur word by sy Wederkoms nie...”

          Elkeen van ons het ‘n taak om vir die HERE op aarde te vervul. Ons werk moet voltooid wees by die Wederkoms.
“Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;
“en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.
“Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.

“Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” Efes. 5:15:18
          Wanneer daar gewaarsku word dat ons werk voltooid moet wees, is Mark. 13:34-37 van toepassing: “Dit is soos ‘n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak.
“Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;
“dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.
“En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!”
Die HERE Jesus het die Christendom opdrag gegee om SY werk op aarde voort te sit.

          “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die Hemel en op Aarde.
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” Matt. 28:18-20
As ons nie deel is van die Christendom en die Evangelie uitdra nie, dan is ons nie gereed vir die Wederkoms nie.

Lees Matt. 25:24-26 oor die kwessie van die talente en die een wat sy talent gaan begrawe het. Feit is, Christene wat nie hulle geld, en goed en tyd en geleenthede en hulle Godgegewe talent vir die Godsaak aanwend nie, is nie gereed vir die Wederkoms van Jesus Christus nie.
As jy ooit nie jou huiswerk op skool gedoen het nie, het jy geweet jy en die onderwyser gaan ’n onaangenaamheid besleg. Jy het ook besef dat deur nie huiswerk te doen nie, jy ook nie jou standerds sal slaag nie.
Hoe kan jy dan vir die Wederkoms gereed wees as jy nie jou huiswerk gedoen het nie? Hallelujalied 234 is van toepassing: “Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my HEER ontmoet? Nie een siel gelei na Jesus, niks te offer aan Sy voet.”
En strofe 4: “O God’s kinders, wees tog wakker, haas u, werk, dit is nog dag! Smeek en stry vir kosb’re siele — eerlank is dit ewig nag!.
          Hoe kan jy gereed wees vir die Wederkoms as jou huisgesin nog nie wedergebore is nie?

          Noag (Heb. 11:7) het ’n ark gebou om sy gesin te red: “Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.”
          Wat nou van jou huisgesin? Jou onwedergebore gesinslede sal hulle oë in die hel oopmaak as jy hulle nie bearbei, vir hulle bid en na die HERE lei nie.
          Lot het nie na sy familie uitgereik nie. Hy het sy vrou en dogters en sy skoonseuns verloor, en dit ten spyte daarvan dat hy ’n gelowige was. 2 Pet. 2:708.

          “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.

“Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
“Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.” Matt. 24:40-42.

Wedergeborenes het soms die treurige ondervinding dat hulle ’n gelowige geliefde vroegtydig verloor. Die waarheid is dat die skeiding nie vir ewig is nie. Die ewige skeiding kom tussen die wat wedergebore is en diegene wat nie wedergebore is nie.      

Ten spyte van hierdie werklikhede is daar mense vir wie dit geen saak maak of hulle geliefdes wedergebore is al dan nie.

Sommige sê hulle weet nie hoe en wat om vir hulle geliefdes te sê nie. Maar wat dan as jy by hulle huis verby sou ry en die huis is in ligte laaie. Gaan jy nie stilhou om te kyk of jy hulle kan red nie?

As jy gaan probeer om hulle te red, onthou, jy het geen opleiding of ondervinding nie. Dis die eerste keer dat jy so iets doen. As jy hulle uit ’n brandende huis wil red, hoekom dan nie uit die hel ook nie?

Waarom verkondig jy nie die Evangelie nie, is jy skaam daarvoor?  Paulus sê: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie (hoekom nie?), want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” Rom. 1:16

Nie jou krag nie, “’n krag van God” tot redding.  Jy kan niemand red nie, maar jy is onder verpligting om die Evangelie te verkondig. Nie jou predikant nie, jy!

          As jou gemeente nie die fondament van kennis en lering vir jou gelê het om die Woord te verkondig nie, gaan dan na ‘n gemeente waar dit wel gedoen word en as jy van geen gemeente weet waar dit gedoen word nie, grawe jou in elk geval in die Woord van God in.

“En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars (hoekom?),

“om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus (tot wanneer?),
“totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus (hoekom?);
“sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;
“maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,
“uit wie die hele liggaam —  goed saamgevoeg en saam verbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.
“Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie —
“mense wat verduister is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart;
“wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.
“Maar julle het Christus nie so leer ken nie,
“as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus:
“dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,
“en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed
“en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
“Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.” Efes. 4:11-49

Wys my die gemeentes waar daar apostels, profete, evangeliste en leraars is, en ek wys jou die Liggaam van Christus in sy volheid.  In sy ‘n gemeente heers ook die Liefde en die gawe van die Heilige Gees. So gemeente is gereed vir die Wederkoms! Lewende water vloei uit so ‘n gemeente. Dis ‘n boom wat goeie vrugte dra.

Toe die diep gelowige Lord Oliver Cromwell, in die 1650’s heerser oor Engeland was, is ‘n jong soldaat ter dood veroordeel.

Die doodstraf sou die volgende dag toegepas word wanneer die klokke in die groot katedraal se kloktoring begin beier. Toe die beiaardier die tou begin trek vir die reuse klok om te beier, was daar net elke keer ‘n doef geluid.  Hy klim toe met die leer tot bo in die kloktoring om ondersoek in te stel.

Daar het hy ‘n pragtige meisie met arms en bene vir lewe en dood om die reuse klepel van die groot klok sien klou.  Sy was ernstig beseer en bebloed.

Nadat hy en ander haar daar afgehelp het, is vasgestel dat sy die vriendin van die ter dood veroordeelde soldaat was.  Cromwell was so aangedaan dat hy die jong soldaat begenadig het.

Vandag het ons mense nodig wat selfs ten bloede toe vir die heil van hulle geliefdes sal ingryp! —  Sjibbolet

Donderdag 20 Augustus 2015

Ons het ‘n ganse SA om te besout

Image result for sout van die aarde

“Julle is die sout van die aarde.” Matt 5:13. Is jy?
Sonder sout is kos smaakloos. Gelowiges is die sout van die aarde en daarom moet ons altyd oral smaakgewend wees. Ons invloed moet soos die werking van sout wees… helend, vernuwend, vertroostend.
            Ons teenwoordigheid in watter omstandighede ook al, moet dit vir ander aangenamer maak, swak situasies omkeer. Sout maak ‘n verskil, ons ook.
            Sout is die nommer een geneesmiddel van die natuur. Sout reinig en ontsmet en maak gesond. Wanneer ons vir siekes die hande oplê beteken dit reiniging, genesing. Dis wat gebeur het toe Jesus dit gedoen het, en nou verwag Hy dat ons dit sal doen.
            Ons woorde kan ook reining en genees, solank dit sout is.
            Ons is die sout van die aarde. Daar moet ‘n heilsame invloed vanaf ons uitgaan… in ons huise, by die werk. Ons leefwyse moet skadelike invloede uit die weg ruim, die lug suiwer.
            Sout is wit en rein. Jesus sê ons, ek en jy, is die sout van die aarde. Dan moet ons wit en rein wees, in woord en in daad. Paulus sê vir Timotheus: “Hou jou rein.” 1 Tim 5:22.
            Jesus sê: “Salig is die wat rein van hart is want hulle sal God sien.” Matt 5:8.
            Ook ons gedagtes moet rein wees. “…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Efes 4:22-24
            Sout bewaar teen bederf. So beskerm ons, ons botter, ons vleis, biltong, droë wors, kouie vleise, vis, brood, ens. So moet die Gelowige ook ‘n invloed, ‘n krag ten goede hê. Daar moet ‘n bederfwerende heilsaamheid vanaf ons uitgaan.
            Moenie weer sê iemand is ‘n diep of ‘n groot Christen nie, sê eerder hy of sy is sout van die aarde. En bevraagteken jouself onmiddellik: Is jy sout?
            Straks was jy sout, maar nie meer nie. As sout laf geword het, dien dit geen doel meer nie. Laat die Woord gedurigdeur jou soutigheid bewerk. 
            Vir sout om sy doel te kan dien, moet dit oral deeglik gestrooi word. ‘n Dierevel sal  nie hou as dit nie deeglik van hoek tot kant besout is nie.
            Wat ongelukkig op plekke gebeur is dat mense die sout op hope skraap en kerknaamborde daarin steek. Ek is by hierdie hoop, jy is by daardie hoop. Dis die situasie vandag, maar dis nie hoe dit hoort nie, dis nie hoe dit werk nie.
            Elke mens in jou omgewing of dorp wat jou grief, is ‘n ongeredde siel wat teen jou getuig. Daar’s te min sout. Bring nog sout.
            “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.
“Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:13-016
Ons het ‘n ganse Suid-Afrika om te besout. – Sjibbolet 

Wat maak ons met al die mag en gesag wat aan ons gegee is?




Ons beleef almal van tyd tot tyd hopelose situasies, of, dis hoe dit lyk. Ons word so depressief dat ons vergeet dat die kragte van die Hemel in ons enige situasie kan keer.
            Ons vergeet dat ons erfgename is Rom 8:16-17. Om ‘n erfporsie joune te maak moet jy dit gaan opeis.
            Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:

Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge (ontvang en sê dankie) want ons is reeds geseën.

Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge (ontvang en sê dankie) want Hy skenk ons alles genadiglik.

Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en ek en jy, die bloed-gewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge (ontvang en sê dankie) vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge (ontvang en sê dankie) en dan kom die opbrengs en die toename.

Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge (ontvang en sê dankie) want ons is reeds genees.

Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge ontvang en sê dankie) is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.

“Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons. Ons ontvang en sê dankie deur middel van lofprysinge,
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13
            God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6
            Mens moet jouself met Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.
            Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17
            Let op watter mag en gesag God ons ook gegee het:
            “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Efes 6:12
            Dit beteken dat ons as Christene by totale oorlogvoering betrokke is teen verskeie onsigbare leërinstellings...  wesens sonder fisiese liggame. Hulle ontvang hul opdragte vanaf ‘n hoofkwartier wat in die ruimte gevestig is. Hulle doel is ‘n globale oorname.
            Gebeure die afgelope jare en ‘n toename van belangstelling in die okkulte en die geestelike werkinge het Christene genoop om inligting en raad te kry oor geestelike oorlogvoering.
            Alhoewel die klem in die verlede op die bedrywighede van demone geval het, begin al hoe meer Christene besef dat demone nie die hoof kragte is wat ons bedreig nie.
            Omdat ons oorlogvoering op ‘n geestelike vlak afspeel, het God aan ons wapens voorsien om in hierdie besondere oorlog te kan optree.
            “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.” 2 Kor 10:3-5
            Hierdie wapens is dus nie fisies nie, maar geestelik, en “kragtig deur God om (satan se) vestings neer te werp” asook “om planne te verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.”
            Alhoewel dit die magtigste wapens is, sê die HERE in Sag. 4:6 “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”
            Kyk weer: “Om elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God... “Dit kom vanaf die satan se geestelike koninkryk in die ‘lug’”.
            Daar is net twee magte op die aarde aan die werk, die mag van God en die mag van die satan. Die twee staan lynreg teenoor mekaar. Satan wil God se koninkryk vernietig en ons is die soldate wat die mag het om die aanslag af te weer en die satan se werke te vernietig.
            Ons, die ware gelowiges, is die enigste mense op aarde wat die mag het om hierdie wapens op te neem en die sataniese koninkryk te vernietig.
            Die mees belangrikste aspek van hierdie oorlog egter, is om te onthou dat God deur Jesus Christus reeds die werke  van satan totaal vernietig het. Ons moet dus op ‘n vlak van oorwinning lewe.
            In Kol. 2:15 staan dat God die “vyandskap” van die satan “tot niet gemaak het” deur sy “vrede” wat hy tussen Christus en ons bewerk het sodat ons en Christus nou een is.
            Dit word herhaal in 1 Kor. 2:14 “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.” ‘n Triomf is nie net die eintlike oorwinning wat behaal word nie, maar die feesvieringe van die oorwinning wat reeds behaal is.
            Net terloops: Ons weet dat die volk ten gronde gaan weens ‘n gebrek aan kennis, maar daardie kennis moet deur ons versprei word want 1 Kor. 2:14 sê God wil die reuk van Sy kennis deur ons versprei.
            Christus het die oorwinning oor satan namens ons behaal, maar Christus het die verantwoordelikheid aan ons opgedra om die oorwinning te bevestig en dit te administreer namens Hom.
            Daarvoor moet ons in oorlogsdrag geklee wees, aldus Efes. 6:13. Dit bestaan uit ses dinge:

Ons lende omgord met die Waarheid
·       Met die borswapen van geregtigheid
·       Skoene aan ons voete (die bereidheid vir die Evangelie van vrede)
·       Die skild van die geloof
·       Die helm van Verlossing
·       En die swaard van die Gees.

            In hierdie oorlog tree ons op “met alle gebed en smeking en by elke geleentheid te bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.”
            Hierdie ses dinge is egter alles ter verdediging, behalwe die Swaard wat gebruik word om aan te val. Dis hoekom ons die Woord (Swaard) moet ken.
            Met ‘n swaard kan mens egter maar net armlengte veg, maar in die gebed (op die geestelike vlak) is daar geen beperkinge nie.
            Bid... in die Gees... Efes 6:18 ontbloot dat hierdie wapen se effektiwiteit nie beperk kan word deur spasie of tyd nie. “... terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees.”
            Gebed is die magtigste en verrykendste geestelike wapen wat aan gelowiges gegee is. Dis byna soos ‘n interkontinentale ballistiese missiel... Inderdaad is gebed ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak.  Nie dat gebed as sodanig magtig is nie, maar onse God is!
            Ons wapenarsenaal bestaan onder meer uit:
            Die Woord van God, die naam van Jesus Christus en die Bloed van Jesus.
·       Al drie wapens word deur dieselfde kanaal gelanseer: Die mond.
·       Die mond doen dit deur gebed, lofprysinge, getuienis en prediking.

            Wat hier uitstaan is gebed, spesifiek twee tipes aggressiewe gebed:

Bind en ontbind

Die eerste is die gebed van bind en ontbind. Jesus sê aan Petrus is Matt. 16:19 “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
            Deur hierdie woorde het God aan Petrus ‘n enorme geestelike gesag toegeken – gesag wat op die aarde uitgeoefen kan word, terwyl dit ook in die Hemel van krag is.
            Dit is duidelik dat God aan Petrus hierdie mag gegee het omdat Petrus dit sou nodig kry.  Dit beteken dat ons dit ook nodig het. Hoe weet ons dit?
            In Matt. 18:18-20 sê Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.
            “Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.
            “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”
            Die woord “saamstem” heet “sumphoneo” in die Grieks en beteken simfonie in Afrikaans. Dit beteken dus nie net saamstem op intellektuele gebied nie, maar soos in  musikale harmonie.
            Met ander woorde: As twee van julle kan harmoniseer oor enige saak wat julle mag vra, dan sal dit julle ten deel val.
            Dit is harmonie in die Gees, nie net ‘n besluit deur die verstand rakende ‘n gebedslysie nie. Ons neem baie besluite oor gebed sonder dat dit in harmonie is. Die Godsaak gaan nie oor besluite of stemme vir en teen nie, dit moet elke keer gaan oor almal saam in harmonie.
            Jesus gaan dan verder:  “...waar twee of drie in my Naam vergader....” Die Grieks lees: “Waar twee of drie gelei is om saam te vergader.” Om gelei te kan word vra om ‘n leier. Die Heilige Gees is die leier.
            “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” Rom. 8:14
            Jesus praat dus van gelowiges wat deur die Heilige Gees bymekaar gebring is, gefokus om die persoon van Jesus Christus en dus verteenwoordig deur Sy Naam.
            Hy sê dus: “Wanneer julle gelei is deur My Gees om saam te kom en julle is in  harmonie, dan kan julle reken op My teenwoordigheid.
            Die uitoefening van hierdie gesag hang dus af van die leiding van die Heilige Gees en waar ons in harmonie saam is met ons mede-gelowiges.
            Wanneer Jesus sê “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees,” dan dui dit nie op twee aksies nie, maar een.
            Inderdaad kom dit daarop neer dat wat ons bind of losmaak, is reeds in die Hemel gebind of losgemaak.
            In die aardse gebeurtenis dui dit op die gelowige se verantwoordelikheid en in die Hemelse gebeurtenis dui dit op God se soewereiniteit. Dit wat plaasvind is onherroepbaar.
            Alles wat ons op die aarde bind is in die Hemel gebonde. Wat ons op die aarde losmaak, is in die Hemel losgemaak. Wat ons besluit is ‘n reeds gedane saak.
            Nogtans plaas dit ‘n verantwoordelikheid op ons want die effektiwiteit van die bind en die losmaak vind eers plaas wanneer ons bid.
            Sien dit ook soos volg: Ons almal is reeds gered, maar dit vind in effek eers plaas wanneer ons tot aksie oorgaan en Christus as Saligmaker aanneem in gebed. Christus het gesterf sodat ons almal gered kan word. Dis inderdaad ook Sy gebed dat ons en Hy almal een moet wees.
            Die HERE sê Hy ken ons nog voordat ons die moederskoot ingegaan het, maar ons het in effek eers mens geword toe twee selle met mekaar verbind het.
            Ons bid: “HERE, laat U wil geskied, soos in die Hemel en so ook op die aarde.” Die werklikheid is dat alles reeds in die Hemel plaasgevind het, maar dis ons verantwoordelikheid om dit op die aarde te implementeer. Dis byna verbysterend, dog feit!
            Ons neem so maklik die houding aan om te wag dat God moet reageer, maar talle kere wag God op ons. Hy wag al baie lank op ons.
            Dis ons wat dit wat ruimskoots aan ons geskenk is, in werking moet stel.
            Ons almal, alle gelowiges, het ‘n geweldige verantwoordelikheid om Jesus se onvoltooide werk op aarde voort te sit!
            Kyk weer: Wanneer julle deur die Heilige Gees gelei in harmonie in die naam van Jesus Christus bymekaarkom dan dui dit ook op die korrekte verhouding tussen ons – gelowiges wat in die regte verhouding met mekaar en met God staan. Solank gelowiges nie in ‘n eerbare korrekte verhouding met mekaar lewe nie, kan daar geen antwoord op gebed wees nie.
            God het ons genooi om Sy troon met Hom te deel: “Uit genade is julle gered – en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. Efes 2:5-6 Nogtans kan ons nie daar sit sonder om aan ‘n paar voorwaardes te voldoen nie.
            Om te bind en om los te maak sluit feitlik elke moontlike situasie in
·       As onheilsmagte  aan die werk is, kan ons hulle bind
·       So kan ons ook voorrade en voorsiening losmaak
·       As mense in een of ander vorm van binding is dan kan ons hulle losmaak

            Jesus gaan verder: “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.”
            In die twee genoemde strofes is ingesluit al die gesag wat ons ooit nodig sal hê in gebed.
         
Die bind van die sterk man

In Matt 12:28-29 lees ons: “Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom. Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.”
            ‘n Strofe wat hiermee saamloop is Luk. 11:20-22 “Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.
            “Wanneer ‘n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid.
            “Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit.”
            Ten eerste dui dit op Jesus en die satan. Die satan was die sterk man in sy paleis en niemand kon hom teenstaan nie. Die wêreld was onder sy beheer. Jesus het die satan egter oorweldig en sy mondering waarop hy vertrou het, van hom af weggeneem.
            Dit is in ooreenstemming met Kol. 2:15 “...nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar ten toon gestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.”
            Neem kennis daarvan dat die satan ongewapend is. Dis ons wat bewapen is. Nadat Jesus oor die satan triomfeer het “deel Hy sy buit uit.” Hy wys na alles wat satan in sy paleis gehad het en sê aan ons “help julleself”.
            Maar ons het ‘n belangrike verantwoordelikheid – dit is ons verantwoordelikheid om Jesus se triomf oor die satan te administreer.
            Ons deel dus in die bind van die sterk man soos wat Mattheus dit verduidelik: “Hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie?”
            Dit wil,voorkom dat die Heilige Gees aandui dat meeste van ons aktiwiteite oneffektief in meeste situasies sal wees as ons nie eers die sterk man gebind het nie.
            Ons wil sy goed van hom af wegneem, maar ons het hom nog nie gebind nie. Die gevolg is dat ons baie van ons tyd en kragte misbruik deur sy aanvalle te probeer afkeer. Dit verhinder ons om sy goed te vernietig of sy gevangenes vry te stel. Ons mag dalk effe resultate kry, maar glad nie in vergelyking met die triomf wat ons sal behaal as ons hom eers bind nie.
            Die vrou vra eendag: “Bid asseblief dat my man sal ophou drink. Hy drink erg en rand my gedurig aan.”
            Ons het nie gebid nie, maar haar teruggestuur huis toe juis met die opdrag dat wanneer haar man daardie nag slaap, sy haar hand op hom moet lê en die sterk man in sy tempelhuis moet bind en uitdryf en die Heilige Gees vra om haar man te beset sodat hy gered kan word.
            Die man is geen dronklap nie, hy is ‘n verlore sondaar. Dit gaan nie oor die drank nie, maar oor sy siel. Wanneer sy siel gered is, verdwyn die drankprobleem vanself, want die mag van die drank word verbreek.
            Sien egter ook Lukas11:24-6  “Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.”
            Dit is waarom mens ewewigtige lering moet gee. Die mens uit wie die onheil verdryf is, moet sy lewe nou volmaak met die Heilige Gees en die Woord sodat wanneer die onreine gees terugkeer hy die huis beset sal vind. Dit geld vir individue maar ook vir groepe en gemeentes.
            Aanvaar dit, ons het ‘n verantwoordelikheid dat, in watter situasie God ons ook al plaas, ons ‘n bediening ontvang het, deel daarvan om die sterk man te bind en sy werke te vernietig in die naam van Jesus Christus.
            Kyk na die voorbeeld in Daniël 10. Voordat Daniël antwoord op sy gebed vir Israel kon kry, moes hy eers die magte van die prins van Persië oorwin. Die prins was die besondere sterk man wat satan se belange daar verteenwoordig het en die volk Israel in daardie tyd onderdruk het.
            Laat ons die sterk man in die manne en vroue rondom ons bind. Daar is baie van hulle in satan se koninkryk, op baie vlakke van gesag selfs. Hulle kom voor op alle vlakke van die samelewing en selfs in ons eie families en gesinne. Dis ons verantwoordelik om in harmonie saam te staan in gebed en die sterk manne in hierdie mense se lewens te bind in die naam van Jesus Christus.
            Ons kan onsself baie harde werk en tyd spaar as ons, ons verantwoordelikheid besef en met die sterk man afreken. Dis die een manier van bid.
         
Ons het die mag. Dis aan ons gegee.

“En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.” Matt 10:1
            “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Mark 16:17-18
            “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” Luk 10:19
            “Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” Matt 10:8
            “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.” Joh 12:31
            “... en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.” Joh 16:11
            “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Joh 16:33
            En ook Efes 1:17-23 “Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,
            “verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;
            “en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte
            “wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele,
            “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.
            “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
            En ook Heb. 2:14-15 “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.”
            Nou begin ons Jak. 4:7 verstaan: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (want ons het die mag, die gesag om dit te doen).
            “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.” 1 Pet 5:8-9 (en weer, want ons het die mag en die gesag om dit te kan en moet doen).
            “Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.” 1 Joh 2:14b
            “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” 1 Joh 3:8b
            So sien ons keer op keer dat die satan reeds verslaan is, maar dis ons verantwoordelikheid om dit op aarde te verwesenlik. Ons het ‘n keuse: Ons kan of onder die satan se heerskappy staan, of ons kan in oorwinning aan God se kant kom staan en oor die satan en sy magte heers.
            “Julle is uit God, my kinders, en het hulle (die vyand) oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” 1 Joh 4:4
            “Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” Openb 1:17-18
            “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” Openb 12:11

Heilige Gees-gedrewe gebed

Die ander manier van bid is spesifieke, doelgerigte aanhoudende gebede soos ingegee deur die Heilige Gees. Daar is twee voorbeelde in die Ou testament:
            In Josua 8 is die kinders van Israel besig om ‘n stad in te neem toe God te midde van die oorlog aan Josua iets sê wat geen militêre betekenis hoegenaamd gehad het nie.
            “En die HERE het vir Josua gesê: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee. Daarop steek Josua die spies wat in sy hand was, na die stad uit.” Jos 8:18
            Die uitgesteekte spies het geen militêre waarde gehad nie, maar wel geestelik waarde.
            In strofes wat volg word vertel hoe dat die Israeliete die stad oorgeneem en vernietig het. In strofe 26 volg dan die volgende: “En Josua het sy hand met die uitgestrekte spies nie teruggetrek voordat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het nie.”
            Josua het sy arm met die spies uitgesteek toe die oorlog begin het en dit in daardie posisie gehou, spesifiek gerig teen Ai, totdat die totale oorwinning behaal is.
            Die spies het militêr niks uitgerig nie, maar op die geestelike vlak het Josua God se belofte oor Ai aangegryp en dit opgeeis tot op die oomblik van die oorwinning.
            Dit dui op God-gegewe, deurdringende, onwankelbare, doelgerigte gebed, soos ook in Luk 5-10. As die man wat die brode in die nag kom vra het, opgehou het om te klop, het hy nooit die brode ontvang nie. Dit was juis sy doelgerigte aanhoudende (irriterende) geklop wat hom die brode besorg het. En dan Jesus se belofte: As jy klop dan sal daar (beslis) vir jou oopgemaak word.
            Sommige mense beweeg die spies die wêreld vol in plaas daarvan om gefokus, doelgerig, spesifiek te bly.
            Dawid beklemtoon, veral in die Psalms die vernietiging van die vyande sodat hulle nie eers geleentheid het om op te staan nie. Hy sê in Ps 18:43 “Toe het ek hulle vermaal soos stof voor die wind; ek het hulle uitgegooi soos modder van die strate.”
            God is ontevrede met ‘n gedeeltelike oorwinning. Baie keer bereik Christene ‘n gedeeltelike oorwinning en dan laat sak hulle die spies. God gaan nooit ‘n kompromie aan nie. Hy leef nie in grys areas nie.
            In 2 Kon 13:15-19 is Elisa op sy sterfbed wanneer hy aan Joas ‘n opdrag gee. Israel is uit die ooste bedreig deur Sirië en Elisa wou voorsiening maak om die bedreiging af te weer.
            “En toe Elísa siek was aan die siekte waaraan hy sou sterwe, het Joas, die koning van Israel, afgekom na hom en oor hom geween en gesê: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!
            “Daarop sê Elísa vir hom: Neem ‘n boog en pyle. En hy het vir hom ‘n boog en pyle geneem.
            “En hy sê vir die koning van Israel: Sit jou hand aan die boog. En hy het sy hand aan die boog gesit; en Elísa het sy hande op die hande van die koning gelê.
            “Verder sê hy: Maak oop die venster na die ooste toe! En hy het dit oopgemaak. En Elísa sê: Skiet! En hy het geskiet. Toe sê hy: ‘n Pyl van oorwinning van die HERE en ‘n pyl van oorwinning op Aram: jy moet die Arameërs volkome verslaan in Afek.
            “Verder sê hy: Neem die pyle. En hy het dit geneem. Toe sê hy vir die koning van Israel: Slaan teen die grond! En hy het drie maal geslaan en opgehou.
            “Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan.”
            Hier sien ons weer ‘n pragtige beeld van Gees-gerigte en Gees-bekragtigde gebed.
            Die venster het na die ooste oopgemaak. Dit wys op rigting. Die Siriërs sou vanuit die ooste aanval. Die pyl is deur daardie venster in daardie rigting gerig. Wat is die betekenis van die koning wat sy hand op die boog plaas en die profeet wat sy hand op die koning sin plaas? Dit dui aan dat die bron van die profeet se gesag – die Heilige Gees – besig was om die koning te bekragtig toe hy die pyl in die rigting van Sirië afgevuur het. Dit dui ook op harmonie en eendragtigheid.
            Maar, omdat hy net drie maal in plaas van vyf maal geslaan het, was die oorwinning beperk. Die verslag moes later herhaal word soos wat ons lees in Matt 13:25 “En Joas, die seun van Jóahas, het weer die stede uit die hand van Bénhadad, die seun van Hásael, teruggeneem wat hy aan sy vader Jóahas in die oorlog ontruk het; Joas het hom drie maal verslaan en die stede van Israel herower.”
            Dit beteken dat sukses op die natuurlike vlak is afhanklik van geestelike kragte. As mens die oorwinning op die geestelike vlak behaal, dan sal dit die deurslag gee op die militêre, die politieke, die sosiale of ekonomiese vlak.
            Die geestelike vlak is deurslaggewend en ons vernaamste wapen is en bly Gees-gerigte, Gees-bekragtigde, deurdringende gebed. Joas het misluk omdat hy nie genoegsame vasberadenheid op die geestelike vlak toegepas het nie. Aan die ander kan het Joshua sy spies gerig gehou totdat die oorwinning volkome was.
            Wanneer die Here sê dat Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit ‘n opdrag wat eenvoudig uitgevoer moet(!) word, al is dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die land is nie, dan is dit heel waarskynlik omdat die Liggaam nie vir die regering bid nie.
            Die Here is in beheer van die koning. In Spr 21:1 lees ons: “Die koning se hart  is in die hand van die Here soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil.”
            Die nuwe vertaling lees: “Die Here kan ‘n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!
            So, kom maar gerus jou plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer.
            Luister wat sê Psalm 149 oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:
         
            Halleluja! Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied,
            Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
            Laat Israel hom verheug in sy Maker;
            Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
           Laat hulle Sy naam loof in koordans,
            Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
            (Hoekom?)
            Want die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
            Hy versier die ootmoediges met heil.
            Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
(Hoekom?)
om wraak te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
(Hoekom?)
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja!
         
            Dus, nie deur krag of geweld nie, maar deur lofprysinge aan die God van ons heil. Lofprysinge is ‘n tweesnydende swaard: Terwyl ons God loof, oefen ons ook wraak uit onder die heidene, strafgerigte onder die volke, om hulle konings in kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie…… Waarom? Om ‘n vonnis te voltrek wat reeds opgeskrywe is! – Sjibbolet