Donderdag 20 Augustus 2015

Ons het ‘n ganse SA om te besout

Image result for sout van die aarde

“Julle is die sout van die aarde.” Matt 5:13. Is jy?
Sonder sout is kos smaakloos. Gelowiges is die sout van die aarde en daarom moet ons altyd oral smaakgewend wees. Ons invloed moet soos die werking van sout wees… helend, vernuwend, vertroostend.
            Ons teenwoordigheid in watter omstandighede ook al, moet dit vir ander aangenamer maak, swak situasies omkeer. Sout maak ‘n verskil, ons ook.
            Sout is die nommer een geneesmiddel van die natuur. Sout reinig en ontsmet en maak gesond. Wanneer ons vir siekes die hande oplê beteken dit reiniging, genesing. Dis wat gebeur het toe Jesus dit gedoen het, en nou verwag Hy dat ons dit sal doen.
            Ons woorde kan ook reining en genees, solank dit sout is.
            Ons is die sout van die aarde. Daar moet ‘n heilsame invloed vanaf ons uitgaan… in ons huise, by die werk. Ons leefwyse moet skadelike invloede uit die weg ruim, die lug suiwer.
            Sout is wit en rein. Jesus sê ons, ek en jy, is die sout van die aarde. Dan moet ons wit en rein wees, in woord en in daad. Paulus sê vir Timotheus: “Hou jou rein.” 1 Tim 5:22.
            Jesus sê: “Salig is die wat rein van hart is want hulle sal God sien.” Matt 5:8.
            Ook ons gedagtes moet rein wees. “…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Efes 4:22-24
            Sout bewaar teen bederf. So beskerm ons, ons botter, ons vleis, biltong, droë wors, kouie vleise, vis, brood, ens. So moet die Gelowige ook ‘n invloed, ‘n krag ten goede hê. Daar moet ‘n bederfwerende heilsaamheid vanaf ons uitgaan.
            Moenie weer sê iemand is ‘n diep of ‘n groot Christen nie, sê eerder hy of sy is sout van die aarde. En bevraagteken jouself onmiddellik: Is jy sout?
            Straks was jy sout, maar nie meer nie. As sout laf geword het, dien dit geen doel meer nie. Laat die Woord gedurigdeur jou soutigheid bewerk. 
            Vir sout om sy doel te kan dien, moet dit oral deeglik gestrooi word. ‘n Dierevel sal  nie hou as dit nie deeglik van hoek tot kant besout is nie.
            Wat ongelukkig op plekke gebeur is dat mense die sout op hope skraap en kerknaamborde daarin steek. Ek is by hierdie hoop, jy is by daardie hoop. Dis die situasie vandag, maar dis nie hoe dit hoort nie, dis nie hoe dit werk nie.
            Elke mens in jou omgewing of dorp wat jou grief, is ‘n ongeredde siel wat teen jou getuig. Daar’s te min sout. Bring nog sout.
            “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.
“Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:13-016
Ons het ‘n ganse Suid-Afrika om te besout. – Sjibbolet