Vrydag 06 November 2020

Soos die Verlore Seun

Die laaste uur 

Openb 3:20 is nie gerig aan ongereddes nie, dis gerig aan die kerk: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”

            Van binne sê die kerk: ‘Gaan weg, ons is besig met ‘n diens.’ Die kerk kom nie eers agter dat Jesus nie in die diens is nie. Lees maar die hele Openb 3... juis gerig aan die gemeente.

            Verstommend hoe die kerk en Christene in die algemeen, slagoffers van Covid19 is. Reuse gebedsaksies , sommige wêreldwyd, het tot dusver niks  uitgerig nie. Die kerke is selfs gesluit. En die mens besef nie hoe magteloos hy is nie, nie voordat hy in  die kake van die dood lê nie.

            Wêreldwyd word betoog teen inperkings en word inperkings verbreek. Die nuwe aanslag deur die virus is reeds in sommige  lande erger as toe dit begin het.

            God sê in Jes. 58:1: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin!  En verkondig aan my volk hulle oortredinge en aan die Huis (Volk) van Jakob (Israel) hulle sondes.”

            Die sonde van ons tyd word onder meer vervat in Kol. 3:5-6: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom.”

            Die volgende: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin!  En verkondig aan my volk hulle oortredinge en aan die Huis (Volk) van Jakob (Israel) hulle sondes,”  het wel op plekke vrug afgewerp en duisende mense is gered, of het teruggekeer na die HERE.

            Jeremia wil wegvlug van sy volk af, en wel om die volgende redes: “Ag het ek in die woestyn maar 'n herberg (gastehuis) vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek; want hulle is almal owerspelers (fisies en geestelik), 'n hoop ontroue mense.

           “En hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE.

            “Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.

            “En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.

            “Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die HERE.

            “Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want (let op) hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk?

            “Hulle tong is 'n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne.

            “Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie?” Jer 9:2-9

            Ons huisaltaar, die TV-afgod, asook ons selfone, beeldsaai video’s en rolprente oor geweld, hoerery, owerspel, verkragting en onnatuurlike seks.

            Ons bely dat ons glo in die Heilige Gees, aan ‘n Heilige Christelike Kerk, aan die gemeenskap van die Heiliges aan die vergewing van sondes, ens., maar, daar is geen teken onder ons dat ons aan die Heilige Gees glo nie want ons kan nie van leiding deur die Gees getuig nie.

            Ons is bekeerlinge, maar nie dissipels nie.

Daar is min tekens dat ons aan ‘n heilige Christelike Kerk glo want ons lewe nie heilig nie, ons lewe nie soos dissipels nie.

Ons glo die HERE vergewe ons sondes, maar dan vergewe ons nie onsself  en ons wil nie ons eie skuldenaars vergewe nie, nee, ons vertroetel eerder haat.

Wat ons bely, moet tog inderdaad ook in die praktyk sigbaar wees, anders lieg ons vir onsself en vir God.

Ons as Christene is verder onder ‘n verpligting want, die HERE sê in Eseg 3:18: “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy – kind van die Vader – waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die  goddelose vir sy godlose weg te waarsku nie,  dan sal die godlose deur sy  ongeregtigheid sterwe, maar… sy bloed sal van jou hand geëis word.” Hoe verskriklik tog!

Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou  siel gered.”

Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie.  Hy kom om te oordeel die lewendes en dooies.

Nuusblaaie dra daagliks berigte wat die resultate van allerlei onheile  weerspieël. Iemand vra:  Hoekom doen “hulle” nie iets daaraan nie?

Die vraag moet wees: `Hoekom doen ons as Christenvolk niks daaraan nie?  Hoekom staan ons nie saam teen hierdie euwels nie?  Is ons dan nie veronderstel om ‘n Godsvolk te wees wat die Wederkoms afwag nie?

Glo ons nie in die groot krag van vurige gebed nie. Jak 5:16

Hoekom maak ons nie hierdie begeertes dood nie? Kol  3:5-5 Hoekom begin ons nie die HERE opreg dien nie?  Hoekom is die Heilige Gees nie aktief betrokke in ons geestelike lewens nie?

Hoekom vernietig ons nie die TV-en die selfoon afgod en bring die huisaltaar (aandgodsdiens) terug in ons huise nie?

Hoe gouer ons, ons verootmoedig, die HERE weer opreg begin dien, die huisaltare weer instel, hoe gouer verkry ons, ons ware vryheid.

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die HERE sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

“Laat niemand 'n hoereerder wees nie, (geestelik of vleeslik) of 'n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.

“Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.” Hebr 12:17

Let op: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?1 Pet 4:17

Dit is waarom hy vroeg in Openb 2 briewe aan die sewe gemeentes skryf. Gaan lees die sewe briewe deur en kyk of jy die toets slaag. –  Wekroep