Woensdag 28 September 2016

Red wat te redde is....

Bring die reddingsboeie

‘n Lighuis sonder lig weens ‘n verraderlike nagstorm op see,  skep ‘n gevaarlike, soms dodelike situasie, veral ook as die skip se radar die gees gegee het, soos wat al gebeur het.



            Die Edmund Fitzgerald, ‘n vragskip wat yster vervoer het, het in 1975  hom te pletter geloop toe sy eie radar en die lighuis by Whitefish Point nie ‘n vernietigende storm kon weerstaan nie. Altesame 29 mense het gesterf.
            Ons beleef huidig Jes 60:2 “Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.”
            Dis my en jou taak om die Lig van die reddende Evangelie van Jesus Christus hoog en brandend te hou.
            “Julle (ek en jy) is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
            (en nou die opdrag) “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:14-16
            In 1914 het die RMS Empress  met 1 477 passasiers aan boord, vertrek vanaf Quebec na Liverpool, ‘n afstand van 4 500km. Die reis het net vier dae op die oop see geduur



Die RSAM Emperor was 185m lank (so 1¾ lengtes van ‘n rugbyveld) en 22m
breed. Dit had ‘n gemiddelde spoed van 20knope.

want die Empress het telkens vir die res van die reis van die veilige St Lawrence Rivier gebruik gemaak.
            Die Empress met ‘n opgeleide bemanning van 420 lede het in daardie stadium al 95 keer oor die Atlantiese oseaan gevaar.
            Aan boord was ook 171 lidmate van die Heilsleër op pad na ‘n konferensie in die Royal Albert Hall in Londen. Met die Empress se vertrek uit die hawe in Quebec het die groot orkes van die Heilsleër die lied gespeel: God sy met julle tot ons weer ontmoet.
            Die Empress had agt dekke en was toegerus met die nuutste radio netwerk. Die eerste nag was ‘n rustige reis. By Pointe-au-Père waar die rivier 50km wyd is, is die skeepskapteins, soos gewoonlik omgeruil.
            Die kaptein het ‘n ander skip sien aankom. Toe sak die mis met mening toe. Beide kapteins het hul posisie verklaar. Die Empress het tot stilstand gekom om seker te maak die aankomende skip vaar verby hom. Agt minute later was daar ‘n oorverdowende slag soos wat die aankomende Noorweegse SS Storstad die Empress tussen sy twee skoorstene aan stuurboordkant         getref het.
            Die gat in die Empress was sewe meter lank en vyf meter breed, die grootste gedeelte daarvan onder die waterlyn. Die Empress se elektriese krag, alle ligte en die radiostelsel was dood. Die Storstad was kort gelede met ‘n versterkte staalneus toegerus om deur swaar ys te kon beweeg.
            Daar was geen lighuis naby nie, ten spyte daarvan dat daardie deel van die rivier soms toe was met digte mis. Die Empress het binne 14 minute gesink... te min tyd om al die slapende passasiers en bemanning uit hul kajuite te bevry of om enige reddingsbote neer te laat. Altesame 1 012 mense het in ‘n watergraf gesterf, onder hulle 148 van die 171 lidmate van die Heilsleër.
            Meer passasiers het in hierdie ramp gesterf as met die Titanic, behalwe dat die Titanic ‘n veel groter bemanning gehad het.
            Terwyl sommige na die Storstad kon swem het die Storstad sy reddingsbote vinnig neergelaat en meer as 400 mense opgepik. Een man het al die pad tot op die strand geswem. Baie kinders is dood en in sommige gevalle het ‘n hele huisgesin omgekom.
            Dit was Kanada se grootste seeramp tot op datum.
            En op die lewenssee waar ons onsself bevind gaan miljoene dit nie maak tensy ons reddingsboeie na hulle uitgooi nie. Doen dit, red wat te redde is. Daar is haas meer tyd oor.
            Jesus Christus se laaste opdrag voor sy vertrek na die Hemel, was: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Matt 28:19
•    Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die Hemel en het Hy gaan sit aan die regterhand van God.” Mar 16:19
•    Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en
     die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.” Mar 16:20
•   En gaan preek en sê: Die Koninkryk van die Hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang,
     verniet moet julle dit gee.” Matt 10:7-8 – Sjibbolet
           

Maandag 26 September 2016

‘n Interessante Siening oor die Wegraping



Het jy al ‘n feitelike werklike prent in jou verbeelding probeer vorm oor die Wegraping. Dink net: Dié (Wedergeborenes) wat in Christus    gesterf het, gaan wêreldwyd eerste opstaan.
            “Want die Here HERE (Jahweh) doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.
            “Die Leeu (van Judah) het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE (Jahweh) het gespreek, wie sal nie profeteer nie?Amos 3:7-8
            Skrywer en sakeman Alton Ragan van Oklahoma, Amerika, het na jare lange studie van die Bybel hierdie openbaring oor die Wegraping gekry.


Alton Ragan

            Dit gaan geen geheime gebeurtenis wees nie.
            “Want (1) die Here self sal van die Hemel neerdaal,
2) met 'n geroep, met die stem van 'n Aartsengel;
en (3) met geklank van die basuin van God;
en (4) die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan;
(5) Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die HERE tegemoet in die lug;
en (6) so sal ons altyd by die Here wees.” 1 Thes 4:16-17
            Twee afsonderlike dinge gebeur hier: Diegene wat in Christus gesterf het staan op, en ons ander word daarna verander.
            Dit gaan drama wees. Ek  dink nie die grafte sal oopgaan nie want dis nie nodig nie. Die dooies staan op in ‘n hulle verheerlikte geestelike liggame.
Net daarna word ons wat leef se liggame omgeskakel in geestelike liggame.
            Met Jesus se sterwe het die grafte egter wel oopgegaan: “... en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná Sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die Heilige stad, Jerusalem, ingekom en aan baie verskyn.” Matt 27:52-53
            Gaan dit weer so gebeur, dat wanneer hulle opstaan – want opstaan gaan hulle vir seker – ook tussen ons wandel en aan sommige herkenbaar wees? Dit sal wonderlik wees, maar ons sal maar moet wag en sien. Alton  is egter oortuig die dooies in Christus staan op en beweeg tussen ons rond. En ons en hulle sal mekaar erken.
            Paulus sê: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.” 1 Thes 4:13-14
            En dan, weg is ons almal in ‘n oogwink.
            Mens kan nie in die vlees die Hemel binnestap nie. “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
            “Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.
            “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.
            “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
            “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? 1 Thes 4:50-55
Die skok en trauma van diegene wat agterbly, wil mens liewer nie eers aan dink in daardie stadium nie want, ons moet nou reeds dink aan al die ongereddes en in Goddelike liefde vir hulle by God intree. Maak nie saak wat hulle sê en wat hulle doen nie, wees geduldig en lief vir hulle want Jesus het hulle lief. Elkeen van ons is onder Goddelike verpligting om die oes in te bring.
Met die meeste van ons moes die HERE darem baie geduld gebruik. Waar is ons geduld?
            Let op: ‘n Drama vind plaas in drie bedrywe. Hier gaan ook drie bedrywe wees:
1)    Jesus kom met ‘n geroep, met die stem van ‘n Aartsengel en die Basuin van God.

2)    In die tweede bedryf staan die dooies wat in Christus was op,

3)    In die derde bedryf is ons almal wat leef omgeskakel in geestelike wesens en vertrek ons in ‘n oogwink.

‘n Drama eindig altyd in ‘n vraag, hierdie keer oor presies wat diegene sal moet deurmaak wat agterbly en hoe hulle nogtans gered kan word asof deur vuur heen? 1 Kor 3:15
            Wat gebeur voor die Eerste bedryf begin?
Die saal is volgepak van mense, hulle oë gevestig op die toe gordyne (van die Hemele) voor hulle. Hulle sit daar in afwagting vir die Engele om die groot gordyne oop te skuif.
En dan...die gordyne skuif oop: Jesus se roep en die basuin. Die ganse mensdom gaan dit hoor!
  Die wêreldlinge sal weet dat hulle weet dat ‘n Goddelike ingryping die aarde getref het.
In Amerika het sekere koerante bespiegel wat hul koerantopskrifte daarna sou wees.
Honderde duisende mense het verdwyn – Die Withuis blameer terroristegroepe, ens.
  Profesië en werklike gebeurtenisse oor die wêreld heen toon dat die Wegraping voor die deur is.
Daar is tans oorlog in 67 lande in die wêreld. In 50 lande word Christene wreed en grusaam vervolg, onthoof, doodgeskiet, word vroue en dogters van alle ouderdomme herhaaldelik verkrag en in die internasionale mensehandel aan die hoogste bod verkoop om meesal as seksslawe te dien. Dit word bereken dat 29 miljoen vroue en kinders reeds so verkoop is, aldus die VN.
Behalwe dat elke genoemde land sy eie leërmag het, is daar altesame 692 militêre guerrilla en separatiste groepe betrokke.
Alles wat Jesus byna 2 000 jaar gelede op die Olyfberg aan die Dissipels vertel het, is reeds aan die gebeur. Behalwe dat Christene vermoor word vir hulle geloof, mag Jesus se naam in talle lande nie meer in die openbaar gebruik word nie... dit gee kwansuis aanstoot. Die outydse Evangeliese opelugdienste sal jou vandag in die tronk laat beland. Valse profete is oral, veral in Amerika.
Die vervolging van Christene word wyd vertoon. Oral is video materiaal beskikbaar. Die miljoene mense wat oor die wêreld heen vlug gaan deur hel. Groot getalle sterf op die vlug. Mamma’s moet kindertjies soms tot drie maande land dra op die vlug. Moeders kraam selfs op die vlug, selfs is oorvol rubberbote. Matt 24:3-13
Die lys van onheil is nogal lank, soos aardbewings, vloede, tsunamis en ander. En wanneer dit so gaan, moet ons opkyk.
Dit maak nie saak of Alton reg of verkeerd is nie. Feit is die dooies gaan beslis opstaan en die Wegraping gaan beslis plaasvind…en… daar is nog tyd vir jou om saam te gaan. Skryf aan ons, ons help graag.
Leef in afwagting. “Maar daar kom 'n uur, en (let op) dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Joh 4:23-24
Diegene onder ons wat reeds in die Gees kan bid, beleef wonderbaarlike gesigte, soos om selfs Engele te kan waarneem.
En laastens: “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons (let op) op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en (let op) dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” Hebr 10: 23-25 – Sjibbolet

Vrydag 23 September 2016

Pa: Veel Meer as ’n Broodwinner


Image result for dad playing with his kids


Pa: Veel Meer as ’n Broodwinner
Deur dr. Kevin Smith


Tot baie onlangs het alle literatuur oor ouerskap die hele kwessie van moe­derskap geïdealiseer en vaderskap heeltemal oor die hoof gesien. Met die nuut­ste navorsing oor die gesin het daar ’n baie besliste skuif plaasgevind en die persepsie is nou dat vaders ’n baie groot bydrae t.o.v. sowel kinder- as volwasse-ontwikkeling kan lewer (Mary Pickard-verslag, 1998).

Die gemeenskap besef uiteindelik dat vaders net so ’n belangrike rol speel ten einde die gesonde ontwikkeling van hul kinders te verseker. Hul rol strek veel verder as bloot dié van tradisionele stereotipe broodwinner. Navorsing wys toenemend op die voordele van kinders met gesonde vader-kind-verhoudings. Volgens George Rekers, professor in Neuropsigiatrie en Gedragswetenskappe, Navorsingsdirekteur vir Kinder- en Adolessentpsigiatrie en voorsitter van die Fakulteit Sielkunde aan die University of South Carolina School of Medicine, is daar ’n definitiewe korrelasie tussen ’n positiewe en volhoubare verhou­ding met die vader en ’n goeie selfbeeld, hoë selfvertroue in persoonlike en sosiale interaksie, hoë morele volwassenheid, verminderde tienerswangerskappe, groter interne beheer en hoër loopbaanaspirasies.

Vaders wat liefdevol, sorgsaam en aktief betrokke is by die grootmaakproses se kans op goed-aangepaste kinders is veel groter as die wat nie betrokke by hul kinders is nie. Die vernietigende gevolge van ongesonde vader-kind-verhoudings is nét so goed gedokumenteer. Die afwesigheid van ’n vader lei by seuns tot toenemende aggressie en/of vroulikheid. Maritsa van Loggerenberg, ’n sosiale werker by St Albans Maksimum Veiligheidsgevangenis in Port Elizabeth, beraam dat ongeveer 90% van al die gevangenes met wie sy werk, sonder ’n vaderfiguur grootgeword het.

Alhoewel die media dikwels op die negatiewe fokus, het daar ook die afgelope paar dekades positiewe veran­deringe plaasgevind t.o.v. persepsies van die vader se rol. Die tradisionele beeld van die vader as ’n emosioneel-verwyderde broodwinner en streng dissiplinêre gesagsfiguur het plek gemaak vir ’n vaderfiguur wat ook ’n opvoedingsrol in die kinders se lewens speel. As Christene verwelkom ons hierdie positiewe verandering. Die Woord van God verminder vaderskap nooit tot ’n enkele funksie of metafoor nie, maar beklemtoon tog sommige van die belangrike rolle wat vaders behoort te aanvaar. Ek wil graag vyf hiervan noem.

Pa as pastorale begeleier
Theodore Hesburgh het eerste die woorde wat deesdae ’n beradingspreuk is, geui­ter: ‘Die belangrikste ding wat ’n pa vir sy kinders kan doen, is om hul ma lief te hê.’ So waar en belangrik as wat hierdie woorde is, is daar iets belangriker wat deur die Woord van God uitgelig word – Die belangrikste wat ’n pa vir sy kinders kan doen, is om die “Here jou God met jou hele hart lief te hê,” Deut 6:4-5 en “Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders.” Deut 6:7.

Indien ’n pa die leiding neem en God liefhet en dien, is dit hoogs waarskynlik dat die kinders sy voorbeeld sal volg. Navorsing deur die Christian Business Men’s Committee het gevind dat ’n pa wat ’n aktiewe gelowige is, se kinders ’n 75% groter kans het om ook aktiewe gelowiges te wees. Wanneer slegs die ma ’n gelowige is, is die kans dat die kinders die Here dien, slegs 15%. As Christen-pa’s is ons geroep om pastorale begeleiers in ons huise te wees – mans wat God passievol liefhet en dien en wat hul gesinne in aanbidding van die Here Jesus Christus kan lei.

Pa as lewensafrigter
Onderrig van veral seuns is ook Pa se verantwoordelikheid. Dit sluit die onderrig van die weë van God (Deut 6:4-9), maar ook die onderrig van praktiese lewensvaardighede – goeie maniere, werksetiek, morele waardes, verhoudings met vrouens, gesinsfinansies en sakevernuf in. (Spr 1-9). Vaders behoort lewensafrigters te wees. Die hedendaagse slaggat is om hierdie ‘afrigtings­rol’ aan die kerk, die skool of selfs die televisie oor te laat. Vaders voel hopeloos ontoereikend toegerus vir hierdie be­langrike taak as lewensafrigter en los dit dus veel eerder vir ‘opgeleide, professionele mense’.

Ons vergeet egter in die proses dat ons vir ons jong kinders amper soos God is. Jou dogter glo elke woord wat jy sê en jou seun klou vas aan absoluut alles wat jy sê en doen. Vir jou kinders is jou gesag feitlik net soos God s’n. God het dit so beskik, want hy het pa’s geroep as die ‘lewens­afrigters’ in hul kinders se lewens. Sommige pa’s, egter, verwar ‘afrigting’ met ‘kritiek’. Ek onthou die televisie-onderhoud wat ek eens met ’n wêreldgehalte sportman gekyk het. As kind het sy pa hom verskriklik gedryf om die hoogste sport te bereik. Na elke wedstryd sou sy pa hom na die park neem en elke iedere foutjie wat begaan is, uitwys en hom tot sononder dril om dit uit te skakel.

Hy onthou: ‘Die meeste seuns het voor die wedstryd ’n hol kol op die maag gekry; myne het altyd na die wedstryd gekom omdat ek geweet het wat wag.’ Hy het verder onthou dat dit vir hom baie erger en meer stresvol was om sy pa na die tyd in die oë te kyk as enige span waarteen hulle te staan sou kom. God roep vaders op om afrigters te wees, nie kritici nie, om op te bou en nie af te breek nie!

Pa as bemoediger
Elke seun verlang na sy pa se goedkeuring en versekering dat hy trots is op hom en ’n dogter verlang sy goedkeuring in alles. Ma s’n is verseker – dis maklik om haar goedkeuring en trots te kry. Pa s’n is egter heeltemal ’n ander storie. As seun was dit vir my uiters noodsaaklik dat my pa trots op my sou wees. Ek het tog geleef met die gevoel dat hy was – en dit het my met moed en selfvertroue gevul.

’n Baie goeie vriendin het ook daarna verlang dat haar pa haar sou vertel dat sy pragtig is en dat hy bly is dat sy sy dogter is. Sy het egter nooit sy onvoorwaardelike, heelhartige goedkeuring en aanvaarding ervaar nie – en haar hart smag nou nog daarna.

John Eldredge, skrywer van ‘Wild at Heart’ glo dat elke seun nodig het om van sy pa te hoor dat hy dit in hom het om ’n ware man te word en elke dogter moet van haar pa hoor dat sy pragtig is en werd is om bemin te word. Indien hulle nie hierdie bevestiging van hom kry nie, sal hulle dit op ander plekke gaan soek. Dit maak nie saak hoe oud ons is of hoe ver ons van ons pa’s af weggedryf het nie, ons verlang nog steeds na hul goedkeuring. ’n Spaanse pa se verhouding met sy seun het so gespanne ge­raak dat die seun weggeloop het. Sy pa het besluit om hom te gaan soek. Hy het maande lank gesoek – sonder enige sukses. Uiteindelik, in ’n laaste poging om sy seun te kry, het hy ’n advertensie in die Madrid-koerant geplaas. Dit het gelees: ‘Liewe Paco, ontmoet my Saterdag om 12-uur voor die koerantkantoor. Alles is vergewe. Ek is lief vir jou. Pa.’

Twaalfuur die betrokke Saterdag was 800 Paco’s daar om Pa se liefde en goedkeu­ring te ervaar! ’n Deel van God se opdrag aan pa’s is om hul kinders van hul heelhartige goedkeuring en steun te verseker. Ons seuns moet weet dat ons trots is op hulle – hulle moet weet dat hulle vir ons die beste seuns in die wêreld is en dat hulle dit beslis in hulle het om ware mans te word. Kom ons laat ons dogters voel dat hulle prinsesse is – pragtig en waardig om bemin te word.

Pa as wetstoepasser
Dissipline is ’n aspek van die pa se liefde wat ons moontlik nog in hierdie generasie kan verloor. My predikant het onlangs van die VK teruggekeer met ’n skokkende verslag oor die gebrek aan dissipline onder kinders. Die Bybel is baie duidelik: “Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer.” Spr 13:24.

As liefdevolle pa’s is dit ons plig om toe te sien dat die toepaslike reëls in die huis geld. Hoe dit ook al ons harte skeur – en dit behoort - sal dit net erger wees indien ons dit nie doen nie. Na jare se hantering van rebelse tieners, het die Houston Polisie die volgende saamgestel: Reëls om misdadige kinders groot te maak.

Begin al kleintyd – gee die kind alles wat sy/haar hart begeer. So word hulle groot en glo die wêreld skuld hulle alles.

Wanneer hulle vloekwoorde gebruik, lag daaroor. Dit sal hulle laat dink hulle is oulik. Dit sal hom/haar ook aanmoedig om ander woorde aan te leer wat jou later uit jou sinne sal skok.

Tel alles op wat hulle laat rondlê – boeke, skoene, klere. Doen alles moontlik vir hulle, so sal hulle leer om alle verantwoordelikheid te ontduik.

Laat hulle enigiets lees. Maak net seker jou eetgerei is skoon en kiemvry, maar laat hulle enige gemors waarop hulle hul hande kan lê, lees.

Kies die kind se kant teen bure, onder­wysers en selfs die polisie. Hulle is almal tog bevooroordeeld teenoor jou kind.

Ons moet wrede, roekelose, outoritêre dissipline verwerp, maar indien ons die regte dissipline ignoreer, faal ons om ons kinders op God se manier lief te hê. Kinders floreer indien hul pa’s hulle lief genoeg het om Goddelike grense te stel en toe te sien dat dit konsekwent en met sorg toegepas word.

Pa as kameraad
Indien hulle voor die keuse gestel word, sal ons kinders beslis tyd saam met Pa bo enige speelgoed kies. Hulle wil veel eerder ons tyd as ons geskenke hê. En laat ons nou maar nie onsself bluf nie: gehaltetyd beteken ook genoeg tyd! Gehalte-oom­blikke vind plaas indien ons genoeg tyd saam met ons kinders spandeer.

Charles Francis Adams, ’n politieke fi­guur en diplomaat uit die 19de Eeu, het dagboek gehou. Eendag het hy geskryf: ‘Het vandag saam met my seun gaan visvang – dag gemors.’ Sy seun, Brook, het ook dagboek gehou en op dieselfde dag die volgende inskrywing gemaak: ‘Vandag saam met Pa gaan visvang – die lek­kerste dag van my lewe!’ Tyd saam met ons kinders mag moontlik voel asof dit gemors is, maar slegs die ewigheid sal kan wys dat dit moontlik ’n belegging met die grootste opbrengs was.

Toekomsbelegging
Navorsing aan die Cornwall Universiteit het getoon dat gemiddelde pa’s ongeveer 38 sekondes per dag aan hul kinders afstaan waarin hulle onverdeelde aandag kry en ongeveer 20 minute per dag verdeelde aandag. Dieselfde kinders spandeer 54 uur per week voor die televisie. Verdere navor­sing het getoon dat die gemiddelde kerkgaande tiener ongeveer twee minute per dag in gesprek met hul pa’s spandeer. 25% van hierdie tieners verklaar dat hulle nog nooit ’n sinvolle gesprek met hul pa’s gehad het nie, m.a.w. ’n gesprek waar daar op hulle belange en behoeftes gefokus word nie. Ons kinders het ons nodig om daar vir hulle te wees – om na hulle te luister, om saam met hulle te lag, om net eenvoudig by hulle te wees.

Hulle wil graag hê ons moet vir hulle sê, deur die tyd wat ons aan hulle afstaan, dat hulle ons grootste prioriteit is, belangriker as die koerant, die tuin, rugby, die werk en selfs kerkaktiwiteite. Ek het hier slegs bo­langs aan die Bybelse rol van pa’s geraak. Ek kon nog baie ander fasette byvoeg – Pa as beskermer, voorsiener, gebedstryder – maar as ons as pa’s net bogenoemde vyf rolle aanvaar, wat ’n belegging sal dit nie wees in die lewens van ons kinders nie! God het hulle aan ons sorg toevertrou! – Die artikel het ‘n tyd gelede in die tydskrif “Juig” verskyn en word met Juig se toestemming  asook die toestemming van dr. Kevin Smith, verder versprei. http://www.juig.co.za/

Woensdag 21 September 2016

Kerk! Dis tyd vir Herlewing!


Image result for crowd of people

Tragies, dog ook ironies, soek die wêreld  na die HERE God YAWEH, maar die Christene sit aan die slaap in die kerkbanke, rustig in hul tradisie en botheid.
Volgens opnames   deur die Gordon-Conwell Teologiese Seminarie is daar sowat 43 000 soorte kerke in die wêreld. Die tempo waarteen dit groei gaan beteken dat daar in 2025 altesame 55 000 soorte kerke gaan wees.

Baie van hulle beskik natuurlik nie oor die Waarheid nie. Sommige is gestig weens tweespalt en skeuring.

Die wêreldling skud sy kop. So baie soorte kerke is vir hulle ‘n Babelse verwarring. Hoe kan so baie mense een boek, die Bybel, so deurmekaar verstaan... veral, wanneer die HERE sê dat ‘n kind dit sal verstaan.

Volgens tradisie is dit die predikant se werk om die siele in te bring. Hoe gouer hierdie klug nek-om gedraai word, hoe gouer gaan ons die getal volmaak vir die Wederkoms.
Herders versorg die skape, maar herders kry nie lammers nie. Dis die skape, ek en jy, wat moet lam. Met goeie sorg lam ons sommer twee- drie- en vierlinge... en word dit ons nommer een prioriteit in die lewe... om siele te wen.

Die wêreld vra en moet weet hoe kom mens by God uit. Die wêreldlinge kyk na ons leefstyl, hulle soek na modelle van gesaghebbende Christen leefwyses. Hulle wil God sien. Hulle wil God hoor.
Die wêreld het nie inligting oor God nie. Kan God hulle persoonlike probleme help oplos. En ook wêreldprobleme? “Geregtigheid verhoog 'n volk, maar die sonde is 'n skandvlek vir die nasies.” Spr 14:34
“Maar soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matt 6:33

Hoor 2 Kron 7:13-15 “As Ek die Hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die Hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”
En kyk wat voeg die HERE hier by: “Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek (Suid-Afrika).”
Wat baat dit om te beweer ons is Christene, maar die wêreld sien God nooit in aksie in ons lewens nie.”

Altesame 36 miljoen mense in SA het verklaar dat hulle Christene is. Waar is hulle? Hoekom is hier nie ‘n Christen regering nie? Hier is Christen politieke partye, maar die Christene steun dit nie. M.a.w., daar is ‘n oop deur, maar bitter min stap daardeur.

Ons toon geen honger na God nie, geen bekommernis oor die verlorenes nie. Weet jou buurman dat jy Wedergebore is en wat Wedergeboorte is? Bid jy vir jou bure?
Die wêreldlinge haas na ‘n afgrond en ons keer hulle nie. Ons durf nie passief net toekyk nie. Ons staan skuldig voor God. Eseg 3:17-21

Herlewing is om dit wat eens lewendig was en in ‘n geestelike slaap verval het, weer te laat herlewe. Eseg 1: 1-14 verleen ‘n skitterende woordbeeld van die toestand.
Jy het redes en verskonings hoekom jy nie vir die HERE kan presteer nie. Jy is soos die man met die verdorde hand. Dis boonop jou regterhand wat verdor is, sê Lukas. Jou rede en verskoning is nie perfek nie want die HERE staan voor jou en sê: “Steek jou hand uit.” As daai man nie sy hand uitgesteek het, was hy nooit genees nie, het hy vir homself, sy gemeenskap en die HERE, niks beteken nie.

Daar is kerkraadslede wat liewer nooit in ‘n kerkraad moet dien nie. Of hulle doen niks, of hulle manipuleer ander en selfs die predikant. Die kerkrade skiet ver te kort aan die uitleef en onderwerping van die Koninklike Wet (Jak 2:8)

Baie kerke sit vandag vol mense, maar mense wat leeg is. Hulle het ‘n selfgenoegsame gees, ‘n apatiese hart en ‘n dooie ongehoorsame leefstyl. Kan hierdie bene weer herleef? Mense kom kerk toe toe, maar beleef niks. Sulke mense is geestelike lyke, mense met verdroogde beendere, verdorde hande en verlamde knieë.

            Hierdie toestand word gekenmerk aan die volgende:
·       Daar is nie meer ‘n behoefte aan Bybelstudie en gebed nie

·       Geestelike gesprekke is vir jou ‘n verleentheid en jy vermy dit

·       Wanneer jy sonde begin rasionaliseer

·       Wanneer jy kerk bywoon en wel Skrif aanhaal, maar dit het geen uitwerking op jou leefstyl nie

·       Wanneer jou lewe oor geld gaan, oor aardse besittings

·       Wanneer dit  nou nie meer pla dat ander verarm en geestelik verlore is nie

·       Wanneer die aanbiddingsdiens jou nie meer opgewonde maak nie

·       Wanneer jy nie meer daardie blye versekering het nie

·       Wanneer jy jou oorgee aan klaagliedere pleks van lofliedere

En ons neem dit waar wanneer die gemeente:

·       Begin swaar trek weens die effek van die moderne samelewing

·       Wanneer die gemeentes versplinter, rondval en die eenheid kwyn

·       Wanneer ons skielik wonder waarheen baie van die lidmate is

·       Wanneer  gemeentelede in ‘n staat van hopeloosheid verval

·       Wanneer die probleme in die kerk so groot word dat ons nie weet waar en hoe om te begin om dit reg te ruk nie

·       Wanneer die predikant vir alles geblameer word

Esegiël het vir sulke mense, sulke dooie beendere gepreek en herlewing het uitgebreek.
“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Matt 4:4
            Herlewing kom deur gebed. 2 Kron 7:14
            Diegene wat die Wil van die HERE doen, wat die Koninklike Wet gehoorsaam (Jak 2:8) hoef nooit oor sukses te twyfel nie.
            Die dooie beendere het begin lewe toe Esegiël God se opdrag uitgevoer het. Alle dooie beendere kan herleef. God sê dit en dis geprofiteer.
            Erken die doodsheid in ons lewens. Bely alle sonde en verkeerdhede. Laat ons onsself verbly in ons Wedergeboorte en laat ons weer toetree tot ure van aanbidding.
            Lees Ps 32 op jou knieë. Doen dit... Herleef! Ons kan nie in hierdie toestand verkeer – vol vlekke en rimpels – wanneer Jesus kom nie.

            “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
            “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
            “Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.
            “Ek wil die oortreders U weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
            “Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
            “Here, open my lippe, dat my mond U lof kan verkondig.
            “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
            “Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Ps 51:12-19
            Herskep en hervestig geestelike gemeentes; Openb 3:15-21 en strofe 22: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”
            Net in Israel is daar al 271 Messiaanse gemeentes. Sulke gemeentes van geredde Jode kom wêreldwyd, ook in SA, voor. Die vyeboom bot nie net nie, dit dra reeds vrug! Ons leef in die Laaste Uur!
            Leef in oorwinning. Leef bo en nie onder die omstandighede nie!
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete (hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:12-15 – Sjibbolet    

Maandag 19 September 2016

Die Hysbakman


Image result for liftman 


’n Handelsreisiger moes uit die aard van sy werk dikwels in hotelle tuisgaan. Hy het dan gereeld vir die hysbakman gevra: ”Jy ry gedurig op en af, gaan jou laaste rit op aarde boontoe wees?” Dit het hom aanleiding gegee om met die man ’n gesprekkie oor sy ewige bestemming aan te knoop en vir Christus te getuig.
            Dit laat mens dink aan Paulus se woorde: “...  omdat ek slim was, het ek julle met lis gevang.” 2 Kor 12:16
            Op ’n dag vra hy dit vir ’n jongman wat in die hysbak diens doen. Die hysbakman antwoord: "Ek hoop dit sal boontoe wees.”
“As jy in die Here Jesus Christus glo, sál dit boontoe wees,” verseker die verkoopsman hom.
Die jongman kyk hom verbaas aan en sê: “Elke verstandige mens glo tog aan Christus Jesus.”
“Ja, maar nie almal glo in Hom nie,” vervolg die reisiger. Hierop antwoord die hysbakman: “Wel, ék sien geen verskil tussen aan Hom te glo of in Hom te glo nie.” Die hysbak het die vloer bereik waar die man se kamer was. Hy gee die jongman ’n drukkie op die skouer en stap sonder ’n verdere woord uit.
            Die middag wil hy weer die hysbak gebruik. Hy druk die hysbakknoppie en toe die hysbakdeur oopskuif, is dit dieselfde jongman van die oggend wat in die hysbak staan.
            “Gaan die hysbak af na die eetkamervloer toe?” vra die verkoopsman. “Verseker,” antwoord die jongman.
Die man bly buite staan en kyk na die vervaardiger se handelsnaam wat teen die hysbak se agterkant vertoon word, en sê: “Ek ken daardie firma. Ek glo aan hulle hysbakke, so ek dink ek sal die hysbak gebruik.”
Hy bly egter buite staan. Die hysbakman kyk verwonderd na hom en vra: “Wil u na die eetkamer toe gaan?"
"Ja, sekerlik. Ek moet mos net aan jou hysbak glo en dan sal ek by die eetkamer uitkom?” antwoord die man, maar bly steeds buite staan.
Effens ongeduldig sê die jongman: “Ek is eintlik bietjie haastig. Kom in asseblief.”
Die man kyk hom in die oë: “So? Om by die eetkamer te kom, moet ek aan jou hysbak glo, maar dit is nie genoeg nie, ek moet ook in die hysbak glo en inklim om die nut te ervaar?”
Die jongman knik met sy kop. Die man stap in en die hysbak begin ondertoe gly. Dan sê die jongman “Ek sien dit nou. Ek moet nie net aan Christus glo nie. Ek moet ook in Hom glo, dan sal ek gered word!”
Om in Christus te glo is om Hom aan te neem deur eenvoudige geloof. Glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het, dat Hy op die derde dag opgestaan het as jou Redder om jou dag na dag te dra en dat Hy terugkom om jou te haal.
Die Christendom is mense wat aan Christus glo, soos die Mohammedane mense is wat aan Mohammed glo en Boeddhiste mense is wat aan Boeddha glo. Maar ewige redding berus nie op net ’n verstandserkenning nie, maar redding berus op die persoonlike vertroue in die hart, en (let op) belydenis van die mond... dat Christus Jesus my Verlosser is wat ek aangeneem het en in Wie ek vertrou dat Hy my sondes aan die kruis gedra het en uit Wie se opstanding ek die ewige lewe ontvang het.
“As jy met (let op) jou mond bely dat Jesus die Here is, en (let weer op) met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: ‘Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” Rom.10:9,10
            “Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. ’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel.” Hebr 9:26-27 – Sjibbolet

Saterdag 17 September 2016

God verlang dat ons dit ken!


 Image result for verhouding met god    

Die verborgenhede van die Koninkryk van die Hemele


Dit gebeur met tye dat wanneer ons tot die HERE in ons Hemelse taal bid, dat verborgenhede aan ons openbaar word... aangeleenthede wat nie aan ons van nature bekend is nie. “Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.” 1 Kor 14:2
            “Want as ek in 'n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.” 1 Kor 14:14
            Let op: “Daarom moet hy wat in 'n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.” 1 Kor 14:13.
Dit was altyd die neiging om te dink dat ‘n uitleg uitsluitlik in die gemeente moet plaasvind.
            Is jou huis dat nie ook ‘n gemeente nie? Jy kan bid dat jy dit selfs in jou binnekamer uitlê.
            “Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.” 1 Kor 14:15
            Het jy al in die gees psalmgesing? Het jy al 4 000 mense in Hemelse tale hoor bid of 2 000 vroue in Hemelse tale hoor sing? Dit is verrukkend, besielend, Hemels!
            Let weer op: “Maar daar kom 'n uur (wanneer), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid (hoekom?); want die Vader soek ook mense wat Hom (juis) só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
            Het jy al in die Gees aanbid?
            Kan ons in die geesteswêreld insien, soos om Engele te kan sien? Ja ons kan. Dit het in die Bybelse tyd gebeur en gebeur steeds.
            Let op die volgende gebeurtenis:
            “En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ‘n leër met perde en strydwaens rondom die stad.
            “En sy dienaar sê vir hom: Ag my heer, hoe sal ons maak?
            “Maar hy antwoord hom: Vrees nie; want dié wat by ons is, is meer as die wat by hulle is!
            “En Elisa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë dat hy kan sien. En die Here het die oë van die dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa.” 11 Kon 6:15-17
            Die dienaar sien net die oormag van die vyand. Elisa sien ook die oormag, maar hy sien ook God se leërmag.
            Toe die dienaar se geestelike oë open, toe sien hy ook die legioene Engele.
            Lees die hele Kon 6 en sien hoe Elisa die vyand verslaan.
            Ons kan selfs in die Gees sien. Bid dat die HERE ons geestelike oë sal oopmaak. Ons kan Engele sien, ons kan gesigte sien. “En in die laaste dae (dis waar ons nou is), spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.
“En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.” Han 2:17-18
“Die Vader soek mense wat Hom in Gees en in waarheid sal aanbid.” Nie skrywer nie, nie ‘n kerk nie, maar God soek sulke mense.
            God verkeer met ons in Gees en in Waarheid. Daar’s nie meer ‘n brandende braambos nodig nie, net gees en die Gees is hier.
            God praat met ons in en oor verborgenhede.
            Weer ‘n keer, dis nie skrywer of ‘n kerk wat praat nie, maar God self wanneer Hy sê: “Omdat dit aan julle (let op) gegee is om die verborgenhede van die Koninkryk van die Hemele te ken...” Matt 13:11
            Dis aan ons as erfgename “gegee” om die verborgenhede van die Koninkryk van God te ken.
            En die herhaling in Lukas: “En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die Koninkryk van God te ken.” Luk 8:10
            En verder: “Laat niemand dan op mense roem nie, want alles (let op) behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge –  (let op) alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.
“So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars (van wat?) van die verborgenhede van God.” 1 Kor 3:21-23; 4:1
            Joshua 5:13 is ‘n weerspieëling van wat tydens die Yom Kippoer Oorlog in Israel gebeur het. God het daardie oorlog met Engele gevoer en die Joodse militêre offisiere het in onderhoude dit aan skrywer bevestig.
            “En terwyl Joshua by Jerigo was, slaan hy sy oë en kyk, en daar staan ‘n man teenoor hom met ‘n ontblote swaard in sy hand; en Joshua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort u by ons, of  by ons vyande?”
            Hierdie man met die ontblote swaard was nie vir Joshua identifiseerbaar nie. Daarom vra Joshua hom: Behoort u by ons, of by ons vyande?
            “En die man sê:  Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. (Ek het pas gearriveer).”
            Die man het geantwoord hy is die Hoof van die Leër van die HERE!
            Die gedagte verruk ‘n mens se sinne. Dis byna te groot vir die mens om te begryp.
            Ons sukkel met ons perspektiewe omdat ons nie in en deur die Gees van God wandel nie. Ons moet in Gees en Waarheid aanbid.
            “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
            “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
            Maak staat op die Heilige Gees in jou gebedslewe. “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge, wanneer ons in ons geestelike of Hemelse taal bid.
            “En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die Heiliges intree.” Rom  8:26-27  et
            Besef jy dat die sluise van die Hemel kan oopgaan om soos ‘n vloedgolf die bonatuurlike op die aarde uit te stort?
            God het my en jou gemaak. “Die Here het my voor my geboorte al geroep; toe ek nog in my moeder se liggaam was, het Hy my op die naam geroep.” Jes 49:1
            “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien, toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Ps 139:12-16
            “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.” Ps 70:6
            Die Koninkryk van God lyk nie soos ek en jy nie, maar die verbysterende is dat ek en jy kan verander om soos God se Koninkryk te lyk.
            Is dit moontlik? Vir seker! Let op hoe is ons deur Jesus self geleer, hoe ons moet bid:
            “Onse Vader wat in die Hemele is, laat u Naam geheilig word; laat U Koninkryk kom; laat U wil geskied, (let op) soos in die Hemel net so ook op die aarde.” Matt 6:9-10        
            Let op: Laat U Koninkryk kom... laat U wil geskied... soos in die Hemel... so ook op die aarde... hier waar ek en jy nou is.
            Ons sing: “Doen slegs U wil Heer - U wil met my, U, Pottebakker, met my, die klei. Vorm my en maak my, net soos U wil...”
            “Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel.” Jer 18:6
            Ons strewe moet wees om soos Jesus te wees. Ons doen dit deur te doen wat hy ons beveel het: Verkondig die Evangelie, doop die Wedergeborenes, genees die siekes, ens., ens. Ons begin in Gees en in Waarheid bid en leef.
            Ons moet die Hemel se werklikhede na die aarde bring. Wonderwerke moet ‘n integrale deel van ons lewenswyse wees.
            Jesus se laaste boodskap aan ons kort voor sy vertrek na die Hemel: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg (let wel, die tekens volg ons, ons volg nie die tekens nie): “In my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.
“Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die Hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.” Mark 16:17-19
            Ons hele wese moet vervul wees met die Hemelse werklikhede. Druppels moet strome word en strome moet riviere word. Dis God se begeerte. Dis hoekoms die Wederkoms vertraag word... sodat nog gered kan maak. 2 Pet 3:9)
            Beleef die Engele en hulle boodskappe en hulle hulp aan jou. Die Bybel is vol bonatuurlike gebeurtenisse. Dis ons wat alle bonatuurlike aktiwiteite op aarde in werking moet laat kom. Ons moet in verwagting en afwagting leef en in hoop, hoop soos in feite, toekomsfeite.
            Let op na die opdrag: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens (wie van ons het hierdie punt al in ons geestelike lewe bereik?).
            “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, (hoekom?) sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:1-2
            Begeer die beste gawes, daardie gawes wat nodig is in jou betrokke bediening, en beweeg en hou nie op om te beweeg nie, in die Gees te beweeg nie.
            Hoe bereik ‘n mens hierdie geestelike vlak? Deur vas en gebed. Wanneer jy jou afsonder om te gaan bid en te wag op die HERE, dan vas jy... dus, daardie betrokke dag.
            Hoekoms vas ‘n mens? Daar vind voortdurende opbouende en afbrekende prosesse in ons liggaam plaas... die metabolisme. Wanneer mens vas, vind daar meer afbrekende as opbouende prosesse plaas en basies sterf mens en wanneer jy sterf, kom jou gees na die oppervlak... vandaar die noue kontak tussen jou gees en die Heilige Gees.
            Jy mag water drink wanneer jy vas. ‘n Mens wat sonder kos gaan, smag na sy vas, eerste na water. Toe Jesus uit sy 40 dae vas uitkom, toe vra hy eerste om kos. Hy moes dus in daardie 40 dae genoeg water ingekry het want Hy was nie dors nie.
            Geniet die Lewende Waters. – Sjibbolet

Vrydag 16 September 2016

Wees soos ‘n Revolusionêr


Image result for revolution


Die profeet Sagaria profeteer oor die toekoms (Sag. 4:6) “Nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here van die leërskare.”
            Die klem val op ‘n nuwe revolusie. Christus was seker in ons taal die grootste revolusionêr van alle tye.  Kyk net wat het Hy nie alles gedoen en bereik nie.
            Nechayev, ‘n Marxis wat in die tronk dood is na die sluipmoord op Tsaar Alexander 11, het gesê:
            “Die revolusionêr is ‘n toegewyde persoon. Hy stel nie sy eie belange voorop nie, ook nie sy eie gevoelens nie, nog minder het hy belang by eiendom, selfs sy naam is nie vir hom belangrik nie. Vir die revolusionêr is alles saamgevat in die enkele eksklusiewe gedagte – die een-passie revolusie!”
            Maar hierdie toegewydheid was nie oorspronklik Kommunisties nie. Dit was Jesus Christus wat gesê het:
            “As enigeen ‘n begeerte het om My dissipel te wees, laat hy homself verloën (homself alles ontsê, van homself en sy eie belange vergeet), sy kruis opneem en My volg (word gelyk aan My voorbeeld wat ek stel in lewe, daad en dood).
            Joshua 5: 15-15 is ‘n weerspieëling van wat tydens die Yom Kippoer Oorlog in Israel in 1973 gebeur het.
            “En terwyl Joshua by Jerigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan ‘n man teenoor hom met ‘n ontblote swaard in sy hand; en Joshua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort u by ons of  by ons vyande?
            “En hy sê:  Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. (Ek het pas gearriveer).”
            Die Hoof van die Leër van die HERE!
            Die gedagte verruk ‘n mens se sinne. Dis byna te groot vir die mens om te begryp.
            Die harde feite is dat ons in hierdie stadium onsself in ‘n geestelike oorlog bevind.
            Die tweede wat hieraan gelykstaan is dat Jesus Christus die Hoof van ons Leërmag is. Aan Hom is “alle mag gegee in die Hemel en op Aarde.” Matt. 28:18.
            En hier is die mees verstommende aspek van die geestelike lewe wanneer Jesus in Lukas 10:19 sê:
            “Ek gee julle die mag om op slange en skerpioene (die okkultisme, towery, heksery en magte van die duisternis) te trap, en oor al die mag van die vyand, en niks sal julle ooit skade doen nie.”
            Eers is die mag aan Hom gegee, en toe gee Hy dit aan ons. Ek wat maak ons daarmee?
            Ons sukkel met ons perspektiewe omdat ons nie in en deur die Gees van God wandel nie.
            Saam met die Hoof van die Leërmag is etlike legioene Engele.
            Hulle was daar toe die Rooi See oopgekloof is, hulle het die mure van Jerigo  omgegooi, hulle was ook saam met Josafat toe die vyand skielik homself vernietig het, en met Jonathan toe hy die Filistyne bestorm het, saam met Dawid toe hy Goliat  verslaan het, saam met Daniël in die Leeukuil  en helaas, ook telkemale saam met  ons eie volk (in die verlede).
            Die sonde van ons tyd is wanpersepsies omdat ons toelaat dat ander invloede uitwerkings op ons het, in plaas daarvan om te bly in dit wat ons geleer was – die Waarheid en nogmaals die Waarheid soos vervat in die Bybel. Ons lewe onder die omstandighede in plaas van bo die omstandighede.
            God se Engele is oral. Hulle het nie visums en paspoorte nodig nie. Dit is ook hulle wat in Angola ons troepe keer op keer uit benoudhede gered het. Die getroue gebede aan die tuisfront, was nodig.
            Kom ons bid saam vir ‘n magtige Herlewing in SA en weet dat legioene Engele saam met ons beweeg want vir elke siel wat inkom, is daar ‘n Engelefees in die Hemel.
Onthou: "Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra." Ps 126:6  – Sjibbolet

Maandag 12 September 2016

Bly liewers stil


Image result for person keeping quiet


‘Ik houd liefs mijn smoel’


"Dieselfde gesindheid moet ook in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was...tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld". Fil 2:5-15
            "Bust-Me-Up" was 'n lomp en lelike ou sleepboot wat tussen Londen en Portsmouth gewerk het en gereeld by botsings betrokke was. Dit kon nooit in 'n hawe inkom sonder om teen een of ander boot of die kaai te stamp en skade te veroorsaak nie. Daarom was die boot se naam "Bust-Me-Up".
Een dag kom die boot pylreguit die hawe ingeseil en word netjies vasgemeer sonder om teen 'n enkele iets te stamp. 'n Matroos wat op die kaai staan, kan nie help om uit te roep: "Wat het met jou gebeur, Bust-Me-Up?"
Een van die boot se bemanning leun oor die reling en skreeu terug: "Nuwe kaptein gekry!" Dit was die geheim van die nuwe gedragspatroon.
            'n Mens kan baie onbedagsaam teenoor mense optree, selfs onbeskof wees en hulle seermaak. Dit kan opsetlik wees, as jou hart nog ver van die Here af is. Of dit kan ook gebeur dat, die dinge uitglip. Wanneer Christus die beheer in die lewe oorneem, verander 'n mens se gedrag.
Eie Ek,  is nie meer aan die stuur nie. Jesus het die kapteinskap oorgeneem en 'n mens se lewensgedrag verander al hoe meer na Jesus se voorbeeld.
            Iemand vertel eendag van ‘n vooraanstaande Suid-Afrikaanse sakeman se onchristelike gedrag. ‘n Toehoorder vra: Wanneer laas had jy met die sakeman te doen gehad?
            Die persoon sê toe dat dit maklik 15 jaar gelede was. Die toehoorder antwoord: Dan weet jy niks van sy Wedergeboorte nie. Daai man is vandag ‘n sieraad van God. ‘n Nederlander wat by die gesprek betrokke was, het opgemerk: Ik houd liefs mijn smoel.
            Iets van Jesus se nederigheid en vriendelikheid kom deur die werk van die Heilige Gees in so 'n lewe te voorskyn. "Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie." Rom 13:14 – Sjibbolet


Vrydag 09 September 2016

Blydskap, soos strome van lewende water...


Bruce Crozier, 'n sewejarige seuntjie, het van sy pa se jagkamp in die Arizona berge af weggedwaal. Hy het ses dae en nagte na sy pa gesoek. Die nagtemperature was onder vriespunt. Bruce het snags onder hope droë boomblare ingekruip om warm te bly.  Hy had water in die berge.

Bruce het 50km van koers af verdwaal toe hy een dag pootuit en gehawend by ander jagters se kamp aankom. Sy pa en ‘n perdekommando van honderd man was op soek na hom, maar in ‘n heel ander rigting. Die jagters het die seuntjie versorg, na sy storie geluister en toe eers sy ma en daarna se pa op kommando gekontak.

In daardie stadium was beide ouers oortuig dat die seuntjie dood sou wees. Wilde diere sou hom verskeur het. Toe sy ma hom omhels het sy gesê: “Dit is byna onmoontlik om te glo dat ek my seun teruggekry het.” Maar die oomblik was eenvoudig te groot en sy het flou neergeslaan.
Toe Bruce se pa op kommando die nuus kry, en boonop hoor dat sy seun ongedeerd is, het hy bewusteloos inmekaar gesak.

Mens kan die skok begryp  wanneer hulle agterna vertel hoe hulle oortuig was die seuntjie is dood en hulle soek eintlik  na ‘n verskeurde lykie.

            Die Here Jesus het gesê: "Daar is blydskap in die Hemel oor een sondaar wat hom bekeer..." Luk 15:7. Hy probeer vir ons daardie blydskap beskryf uit 'n liefde wat ons ook ken: die liefde van 'n pa vir sy seun.

In die gelykenis van die verlore seun sê Jesus: "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom… Hy sê vir sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie… hy was verlore en ons het hom teruggekry!'" (Luk 15:20-30).

            As die Hemel so jubel oor een bekeerling, wat doen ons? Kyk weer na die prys wat betaal is sodat ek en jy gered kon word. In ons dag vind ons dat families skeef opkyk wanneer iemand met ‘n getuienis van redding by die huis aankom. Niemand jubel nie, daar word nie fees gevier nie, eerder praatjies gemaak. As jy nie grootse blydskap beleef oor een siel wat gered is nie, bevraagteken dan jou eie Christenskap.

Die Kleinhans broers_

Die Kleinhans broers_

Daar moes oorweldigende blydskap in die Hemel gewees het die dag toe die drie Kleinhans-broers gered is. Ons het hulle hoog in die berge naby Glenconnor opgespoor.
            Net Martiens (met die byl) had effe skool en hy kon lees. Hy het elke dag vir hulle Bybel gelees.
            Die drie het mekaar aangevul en nooit gebedel nie. Deur God se Genade en Liefde het hulle die veld goed geken, kon selfs turksvystroop kook. Hulle had elkeen ‘n klein ongeskiktheidspensioen maar moes bitter ver berg en berg op loop om by ‘n algemene handelaar uit te kom. Hulle het geen drank of tabak gebruik nie.

            Hulle het mekaar se hare geknip en mekaar se tande getrek. Hulle het ‘n kluisenaarslewe gelei. “n Boer het toegelaat dat hulle op sy plaas woon. Hy en ander het die broers soms van kos voorsien.  

            Hulle had geen familie nie, net die HERE. Mens het hulle ook nooit lelik hoor praat nie. Heelwat later is een na die ander Huistoe.

            Hulle was nie eers arm nie, hulle het niks gehad nie. Tot die kruiwa het hulle self gemaak om hout vir vuurmaak te gaan soek. Kenmerkend van die drie was hulle blydskap, liefde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, soos verwoord in Gal 5:22

Die blydskap wat van ons verwag word, gaan nie oor sekere wonderlike omstandighede nie, maar oor ‘n innerlike borrelende fontein.
            Dit is ‘n geskenk uit die hand van God deur Sy seun Jesus Christus, en is een van die belangrikste gevolge van die ondervinding van die Wedergeboorte. As ons gered is, dan het ons hierdie besondere blydskap. Daar is niks wat ons kan doen of nie doen nie, om dit te verkry.
            Blydskap is sinoniem met die blymoedigheid van Matt 5:12 “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele.”
            Ook soos in Luk 1:14 “En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees.”
            Asook Ps 16:8-9 “Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon.”
             En Ps 33:21 “Ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.”
            Want Dawid sê van Hom: “Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop.” Hand 2:25-26
  
            So groot is die blydskap in Hand 2:46 dat selfs siele gered word: “En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.”

            Ook Hand 14:16-17 “Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die Hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.”
            Maria sê: “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker.” Luk 1:46
            Jesus Christus sê: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:38
               “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting.” Neh 8:11
            Hoe behou ons hierdie wonderlike blydskap? Dawid Wilkerson stel dit so:
            Eenvoudig gestel, net die blydskap van die Here voorsien ons met ware krag. Ons kan oor ons tien en twintig jaar wandel met Christus praat soveel as wat ons wil. Ons kan in ons mantel van geregtigheid pronk.
            Maar as ons nie toelaat dat die Heilige Gees die blydskap van die Here in ons harte volhou nie – as ons nie voordurend uitgehonger na sy woord bly nie –   verloor ons ons vurigheid. En ons sal nie gereed wees vir wat die wêreld in die laaste dae sal oorval nie.
            Ons behou die blydskap van die Here op dieselfde wyse as wat ons dit aan die begin verkry het: Eerstens, uitbundige liefde, eer en honger na God se Woord.
            Tweedens, volgehoue wandel in liefde en dankbaarheid vir die HERE.
            Derdens, dat ons, onsself van alle wêreldse invloede afsny. Dit is hoe die persoon van die Heilige Gees of kerk “Jesus blydskap” volhou – altyd vol blydskap, vol van blymoedigheid en vreugde.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete (hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. – Sjibbolet

Woensdag 07 September 2016

Nie deur Krag of Geweld nie…

·    

‘Die HERE kan ‘n koning se gedagtes verander soos water in ‘n leivoor’
Hier is die bewyse van Goddelike ingryping


Nie deur krag of geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare in Sag. 4:6.
          Die God van die Bybel, is presies dieselfde God wat ons vandag aanbid. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Omdat Hy Almagtig is, kan Hy die geskiedenis verander, Hy kan die lewe van enige volk, koning, president of mens op aarde omskep, ja, Hy kan selfs oorloë halt roep – in antwoord op gebed!
            Die Here is in beheer van die koning. Spr 21:1 lees: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome;  Hy lei dit waarheen Hy wil.”
            Die nuwe vertaling lees: “Die Here kan ‘n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!”
            Israel, ons voorsate, pleeg ‘n gruwelike sonde. Die HERE sê aan Moses: “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Let op: Moses gryp in: Maar Moses besluit om 40 dae lank op die berg te gaan bid.

Image result for Moses 40 dae op die berg in die bybel
            Dis nie lank nie. Selfs in ons dag bid mense so lank en selfs langer.
            Moses was bang vir die toorn en die grimmigheid van die HERE (Deut. 9:19), maar hy het God nie met rus gelaat nie.
            Dit is wat ons ‘n (magtige of vurige) gebedstryd noem, wanneer iemand bid asof sy lewe daarvan afhang. Jak 5:16
            Moses het nie nodig gehad om so vir sy volk in te tree nie. Sy saak met God was skoon. Hy het boonop God se belofte gehad: “Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak!”
            Hy is egter deeglik daarvan bewus wat die uiteinde gaan wees as God sy toorn teen die volk sou verhef. Hy tree vir sy volk in die bres, 40 dae lank. Hoeveel van ons bid ‘n uur lank? En ons kan nie verstaan hoekom niks gebeur nie.
            God is in beheer, maar ons is Sy medewerkers: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” 1 Kor 3:9
            Ons sal soos Moses ook moet ingryp deur middel van vurige gebed!
            Aan die Kruis op Golgota bid Jesus dat Sy moordenaars vergewe moet word.  Op die berg bid Moses: “Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde sou vergewe. En so nie, delg my dan maar uit U boek wat U geskryf het!”  Ex. 32:31,32.
            Moses het oorwin en so is die lot van ‘n volk bepaal. Is jy op oorwinningsgrond? Ons gebede is soveel werd as wat ons werd is. Die maat waarmee ons meet, sal ons mee gemeet word.
            Daar is Dawid se groot gebed toe Absalom in opstand gekom het en die koning in skaamte moes vlug. Dawid se saak het hopeloos gelyk. Daar sit die indringer in die hoofstad Jerusalem op Dawid se troon.
            Psalms sê Dawid was ‘n man van gebed. In Ps. 3 bid hy: “O HERE, hoe het my teenstanders vermenigvuldig! Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie…  Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef.
            “Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my vanaf Sy heilige berg. Ek het gaan lê en aan die slaap geraak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my. Ek sal nie vrees vir tienduisende mense wat rondom teen my gereed staan nie…  Die heil behoort aan die HERE; laat U seën wees oor u volk!  Sela.”
            Die oorwinning wat later op die slagveld behaal is, Absalom se tragiese einde en die herbevestiging van Dawid as koning, was reeds in die onsigbare area van gebed besleg.
            Christene sit soms maande by beraders in die hoop om gehelp te word met probleme wat oor hulle pad gekom het. Hulle het nog nie die geheim geleer dat selfs die lot van konings en volkere bepaal kan word deur die knie wat in die teenwoordigheid van God buig nie, tesame met die stem van belydenis en smeking wat die Troon van Genade bereik nie.
Image result for daniel in die leeukuil in die bybel

            Daniël se gebede het die groot Babiloniese en ook die Medo-Persiese ryke geskud. Hy het nie die koning se bevel gevrees nie en het geweier om die beeld te aanbid. Daniël kon dit doen, want hy het met ‘n skoon gewete voor God kon staan.  Dit is ook hoe hy geweet het dat God hom sou red.
            Dit baat nie ons wil ook 40 dae lank bid maar ons saak met God is nie reg nie.  God laat Hom nie bespot nie.
            Daniël se saak met God was reg en daarom kon hy die goddelose politieke kwaaddoeners wat sy ondergang gesoek het, trotseer.
            “En toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal per dag op sy knieë geval en gebid, en lofprysinge teenoor God gespreek.”
            So beland Daniël in die leeukuil. Sy oorwinning in die leeukuil was nie  toe hy heelhuids daar uitklim nie, maar juis toe hy daar ingegaan het. Hy het die leeukuil in oorwinning betree. Hy had ‘n vaste vertroue in sy God.
            Duisende het in afwagting gesit om te sien hoe die leeus Daniël verskeur. En toe gebeur daar niks. ‘n Engel het die leeus se bekke toegestop.
            “Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees!
“Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en Sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en Sy heerskappy duur tot die einde toe.
“Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die Hemel en op die aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.”

Image result for paul in jail in Bible
Paulus se middernagtelike gebed in die gevangenis van Filippi was een van die beslissingsoomblikke in die verloop van die mensdom. God sou hom daar uit laat stap om die boodskap van die Kruis in die ganse Europa verkondig, sou hy in ‘n gesig die man van Macedonië hoor sê: “Kom oor en help ons!’
“En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing.” Dan skud die fondamente van die gevangenis en die tronkbewaarder roep uit: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Nie ver daarvandaan nie was ‘n getroue groep gelowiges ook in gebed.
Daar is ‘n uitnodiging ook vandag aan die mensdom: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy moet My eer!”
In die Tuin van Getsémané vind ons Jesus Christus in gebed en word die ewige lotsbestemming van die ganse mensdom besleg. Die Verlosser had die sleutel in Sy hand.
Hy moes gekruisig word, Sy bloed moes vloei, ‘n lam ter slagting gelei. Nie langer hoef die mens ‘n bokkie te neem, sy sondes daarop af te bid en die bokkie te offer nie. Nee, die Lam van God is vir almal se sondes geslag, ‘n volmaakte werk.
Sy Getsémané-gebed was nie oor vrees vir die dood nie, maar dat Hy wat sonder sonde was, die wêreld se sondes op Hom moes neem. Die Seun van die Mens triomfeer egter ook hieroor.
Die mensdom met sy pyn en skande en dood, sal verlossing vind.
Waar is daar ‘n meer kritieke uur in die lewe van die Kerk as toe Graaf von Zinzendorf in 1714 in Herrnhut, Duitsland die naam van die HERE begin aanroep het.
Hy was diep neergeboë in ‘n siele-angs omdat hy gesien het wat aangaan onder Protestantse gelowiges van die verskillende evangeliese bewegings. Dit was ‘n tydperk van vurige vervolging.
Luther het sy taak voltooi. Calvyn het op ‘n magtige wyse gewerk. Huss was ‘n gewyde nagedagtenis. Zwingli het sy volgelinge gelei, maar daar was verwarring en steeds het die bloed van die Christen-martelare gevloei.
Sedert sy jeug was Graaf von Zinzendorf ‘n ywerige Christen asook ‘n man van aksie. Hy het sy deure van sy reuse landgoed vir die vervolgde Protestante van Europa oopgestel, sodat hulle iewers skuilplek teen die genadelose storm kon vind.
Toe het Von Zinzendorf se barenswee begin. Hy het gehoop op liefde en begrip: wat hy gehoor het was die stem van geskille – en ons hoor dit vandag weer.
Die geskille was oor tientalle sake, alles van minder belang. Von Zinzendorf het verlang om God se kinders verenig te sien, maar eindelose teologiese twispunte het die uitdra van die Evangelie verteer.
Von Zinzendorf het dae en nagte in gebed deurgebring. Ander sluit later by hom aan. Op 14 Augustus 1714 het die antwoord gekom. Von Zinzendorf het ‘n Nagmaalsdiens gehou waarheen almal genooi was.
Die heerlikheid was meer as wat vlees en bloed kon hanteer. Gelowiges het in die HERE se teenwoordigheid neergeval. Die Kruis met sy diepste betekenis is onthul. ‘n Goddelike metamorfose vind onder die aanwesiges plaas. Christus word vir almal alles.
Die Morawiese beweging kom op dreef. Hulle het ‘n 24-uurse gebedsiklus gevorm en groepe het dag en nag tien jaar lank gebid. Ja, jy lees reg: Tien jaar lank dag en nag.
Die gevolg daarvan was dat oor ‘n tydperk van 25 jaar 100 sendelinge na alle dele van die aardbol uitgereik het. Die Morawiërs het ‘n wêreldwye beweging op tou gesit wat uiteindelik Protestantisme van polemiek tot sending laat swaai het.
John Wesley, ‘n spruit van die Morawiërs, het na sy grootse ondervinding in Aldersgate na Herrnhut gegaan om die wonderwerk self te aanskou.
Hy skryf aan die gelowiges tuis: “Ek het ‘n kerk gevind waar mens die atmosfeer van die Hemel self inasem.”
Dit is wat Suid-Afrika nodig het: ‘n Goddelike ingryping! Wat baat dit ons om te verklaar dat ons Christene is en niemand sien God in aksie in ons lewens en in ons land nie.
Reg oor SA skakel Christene by gebedsgroepe in. Ons glo daar is ‘n Goddelike ingryping in wording, ‘n kragtige geestelike herlewing is aan die kom, nie net in SA nie, maar reg oor die wêreld.
Ons moet bid want: “Die Here kan ‘n koning (en die volk) se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!”
Nie deur krag of geweld nie, maar deur Sy Gees. – Sjibbolet