Vrydag 09 September 2016

Blydskap, soos strome van lewende water...


Bruce Crozier, 'n sewejarige seuntjie, het van sy pa se jagkamp in die Arizona berge af weggedwaal. Hy het ses dae en nagte na sy pa gesoek. Die nagtemperature was onder vriespunt. Bruce het snags onder hope droë boomblare ingekruip om warm te bly.  Hy had water in die berge.

Bruce het 50km van koers af verdwaal toe hy een dag pootuit en gehawend by ander jagters se kamp aankom. Sy pa en ‘n perdekommando van honderd man was op soek na hom, maar in ‘n heel ander rigting. Die jagters het die seuntjie versorg, na sy storie geluister en toe eers sy ma en daarna se pa op kommando gekontak.

In daardie stadium was beide ouers oortuig dat die seuntjie dood sou wees. Wilde diere sou hom verskeur het. Toe sy ma hom omhels het sy gesê: “Dit is byna onmoontlik om te glo dat ek my seun teruggekry het.” Maar die oomblik was eenvoudig te groot en sy het flou neergeslaan.
Toe Bruce se pa op kommando die nuus kry, en boonop hoor dat sy seun ongedeerd is, het hy bewusteloos inmekaar gesak.

Mens kan die skok begryp  wanneer hulle agterna vertel hoe hulle oortuig was die seuntjie is dood en hulle soek eintlik  na ‘n verskeurde lykie.

            Die Here Jesus het gesê: "Daar is blydskap in die Hemel oor een sondaar wat hom bekeer..." Luk 15:7. Hy probeer vir ons daardie blydskap beskryf uit 'n liefde wat ons ook ken: die liefde van 'n pa vir sy seun.

In die gelykenis van die verlore seun sê Jesus: "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom… Hy sê vir sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie… hy was verlore en ons het hom teruggekry!'" (Luk 15:20-30).

            As die Hemel so jubel oor een bekeerling, wat doen ons? Kyk weer na die prys wat betaal is sodat ek en jy gered kon word. In ons dag vind ons dat families skeef opkyk wanneer iemand met ‘n getuienis van redding by die huis aankom. Niemand jubel nie, daar word nie fees gevier nie, eerder praatjies gemaak. As jy nie grootse blydskap beleef oor een siel wat gered is nie, bevraagteken dan jou eie Christenskap.

Die Kleinhans broers_

Die Kleinhans broers_

Daar moes oorweldigende blydskap in die Hemel gewees het die dag toe die drie Kleinhans-broers gered is. Ons het hulle hoog in die berge naby Glenconnor opgespoor.
            Net Martiens (met die byl) had effe skool en hy kon lees. Hy het elke dag vir hulle Bybel gelees.
            Die drie het mekaar aangevul en nooit gebedel nie. Deur God se Genade en Liefde het hulle die veld goed geken, kon selfs turksvystroop kook. Hulle had elkeen ‘n klein ongeskiktheidspensioen maar moes bitter ver berg en berg op loop om by ‘n algemene handelaar uit te kom. Hulle het geen drank of tabak gebruik nie.

            Hulle het mekaar se hare geknip en mekaar se tande getrek. Hulle het ‘n kluisenaarslewe gelei. “n Boer het toegelaat dat hulle op sy plaas woon. Hy en ander het die broers soms van kos voorsien.  

            Hulle had geen familie nie, net die HERE. Mens het hulle ook nooit lelik hoor praat nie. Heelwat later is een na die ander Huistoe.

            Hulle was nie eers arm nie, hulle het niks gehad nie. Tot die kruiwa het hulle self gemaak om hout vir vuurmaak te gaan soek. Kenmerkend van die drie was hulle blydskap, liefde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, soos verwoord in Gal 5:22

Die blydskap wat van ons verwag word, gaan nie oor sekere wonderlike omstandighede nie, maar oor ‘n innerlike borrelende fontein.
            Dit is ‘n geskenk uit die hand van God deur Sy seun Jesus Christus, en is een van die belangrikste gevolge van die ondervinding van die Wedergeboorte. As ons gered is, dan het ons hierdie besondere blydskap. Daar is niks wat ons kan doen of nie doen nie, om dit te verkry.
            Blydskap is sinoniem met die blymoedigheid van Matt 5:12 “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele.”
            Ook soos in Luk 1:14 “En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees.”
            Asook Ps 16:8-9 “Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon.”
             En Ps 33:21 “Ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.”
            Want Dawid sê van Hom: “Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop.” Hand 2:25-26
  
            So groot is die blydskap in Hand 2:46 dat selfs siele gered word: “En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.”

            Ook Hand 14:16-17 “Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die Hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.”
            Maria sê: “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker.” Luk 1:46
            Jesus Christus sê: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:38
               “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting.” Neh 8:11
            Hoe behou ons hierdie wonderlike blydskap? Dawid Wilkerson stel dit so:
            Eenvoudig gestel, net die blydskap van die Here voorsien ons met ware krag. Ons kan oor ons tien en twintig jaar wandel met Christus praat soveel as wat ons wil. Ons kan in ons mantel van geregtigheid pronk.
            Maar as ons nie toelaat dat die Heilige Gees die blydskap van die Here in ons harte volhou nie – as ons nie voordurend uitgehonger na sy woord bly nie –   verloor ons ons vurigheid. En ons sal nie gereed wees vir wat die wêreld in die laaste dae sal oorval nie.
            Ons behou die blydskap van die Here op dieselfde wyse as wat ons dit aan die begin verkry het: Eerstens, uitbundige liefde, eer en honger na God se Woord.
            Tweedens, volgehoue wandel in liefde en dankbaarheid vir die HERE.
            Derdens, dat ons, onsself van alle wêreldse invloede afsny. Dit is hoe die persoon van die Heilige Gees of kerk “Jesus blydskap” volhou – altyd vol blydskap, vol van blymoedigheid en vreugde.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete (hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. – Sjibbolet