Maandag 05 September 2016

‘Die Evangelie nou die mees gehate dogma!’


Image result for bybel verse oor dankbaarheid

Nogtans, vertrou op ‘n magtige Herlewing!


Jesus Christus is skielik in die spervuur.  Weer skreeu die gepeupel:  Kruisig Hom!  Ook Sy volgelinge is in die spervuur.
Al hoe meer regerings, verwerp Jesus Christus en God se gesag. Christus is nou ook nie welkom in die nuwe grondwet van die Europese Unie nie en ook nie in die Suid-Afrikaanse grondwet nie... en dit ten spyte daarvan dat ver meer as die helfte van die bevolking verkjlaar dat hulle Christene is, altesame 36 miljoen van hulle.
Reg oor die wêreld word Jesus weggestoot en verstoot. Die staatskerk van Noorweë het pas meer as 25 000 lidmate in ’n maand verloor nadat hy ’n aanlyn registrasiestelsel ingestel het waar mense makliker kan aansluit of hul lidmaatskap beëindig.
Die Independent berig dat die Lutherse Kerk van Noorweë is die amptelike Noorse kerk en amper driekwart van die bevolking is geregistreerde lidmate.
Maar nou het 25 743 lidmate die kerk amptelik verlaat. Intussen het 1 177 die webwerf gebruik om aan te sluit.
“Die getal onttrekkings moet gesien word teen die agtergrond van die groot getal lidmate van die Noorse Kerk,” sê Helga Haugland Byfuglien, hoof van die Noorse Biskoppekonferensie.
Let nou op die volgende skoksyfers: ’n Jaarlikse peiling onder Noorweërs het bevind die meeste Noorweërs sê hulle glo nie in God nie. Altesame 39% van die bevolking het nee gesê op die vraag of hulle glo daar is ’n God, 37% het ja gesê en 23% het gesê hulle weet nie... en dit uit ‘n bevolking van vyf miljoen mense.
In die Verenigde Koninkryk noem slegs twee uit vyf mense hulself Christen.
In 1983 het net minder as ’n derde van Britte gesê hulle volg geen godsdiens nie. In 2014 het amper die helfte van Britte aangedui hulle is sonder godsdiens.
Die persentasie van mense in Suid-Afrika wat hulleself as godsdienstig beskryf het geval van 83% in 2005 tot 64% in 2012, volgens ’n peiling deur die Win-Gallup-groep.
Paige Patterson, president van die Suidwestelike Baptiste Teologiese Seminarie in Texas, sê: “Die mees gehate dogma in die wêreld vandag, is die eksklusiwiteit van Christus as Saligmaker.”
Patterson sê die Evangelieboodskap van redding is nie langer gewild onder koninklikes, baie predikers, akademici, filosowe en politici nie. “Dit is die mees gehate dogma in die wêreld vandag!”
Pastoor Voddie Baucham het vroeër tydens die Suidelike Baptiste Konvensie gesê predikers moet hulle gereed maak om “duur te betaal om die Evangelie te verkondig.” In Rusland moet mens nou betaal vir ‘n permit om die Evangelie te mag verkondig en ook net aan die groepie wat jy op jou aansoek aandui.
Soos Bauchan tereg gesê het, is dit reeds so dat predikers in die VSA reeds voor die keuse gestel word om ’n verwaterde Evangelie te verkondig en om die wette van die mens te gehoorsaam, of om die volle Evangelie te verkondig en die risiko te loop om in die tronke te beland, of selfs die doodstraf opgelê te word.
“Wat ook al gebeur, die Evangelie moet ten alle tye in Gees en Waarheid verkondig word,” het hy gesê.
Baucham het na Hand. 4 verwys waar Petrus en Johannes geweier het om op te hou om Jesus Christus te verkondig toe hulle gearresteer is. Hy het gesê die huidige kultuur mag nie neutraal staan wat betref die Bybelse Christendom nie.
Dit is geen opsie nie want ’n Bybelse Christendom pas nie in by die terme van ons huidige filosofiese denke nie. Dit is waarom ons in die media verkeerdelik voorgestel, verkeerdelik aangehaal en misverstaan sal word – want hulle opereer vanuit ‘n filosofiese denke wat nie kan begryp wat ons glo en waarom nie.  Neutraliteit is dus geen opsie nie,” het Baucham beklemtoon.          
In Europa is verskeie groepe en kerke, selfs die Pous, wat beswaar daarteen maak dat die nuwe grondwet nie verwys na Europa se Christelike wortels nie en geen erkenning aan God die Vader verleen nie. Daar word bloot gepraat van “Europa se kulturele, godsdienstige en humanistiese erfenis.”
Die regerings van Poland, Malta, Slowakye en die Tsjeggiese Republiek het saam met Italië en Portugal beswaar gemaak en gesê dat die kwessie rondom Christus vir hulle en miljoene ander Europeërs ’n prioriteit is.
Terwyl Italië en Portugal die bastions van Europese Roomse Katolisisme is, is dit die ander volkere wat die aandag trek, soos die voormalige godlose Sowjet Republieke van Poland, Lithuanië, Slowakye en die Tsjeggiese Republiek.
Hierdie lande was vir lank onderworpe aan ’n godlose sekulêre humanistiese regime, hulle weet waartoe ’n land in staat is wat geen verantwoordelikheid teenoor God het nie.
            Spanje het vroeër ook geëis dat God in die grondwet genoem word, maar het hulle nou by die sekulêre groep geskaar nadat al-Kaida gehelp het om die Sosialistiese regering aan bewind te bring na die vroeëere bombardement van ‘n trein in Madrid.
Frankryk, wat deur Duitsland en Brittanje ondersteun word om Christus uit die grondwet te laat, sê die grondwet akkommodeer alle mense van alle gelowe en as mens Christus in die grondwet sou inbring, dan ignoreer mens die Jode en die Moslems.
Hoe “vroom” hierdie sienswyse ook al klink, is en bly dit ’n valse begrip, ’n illusie waaraan Christene hulle nie mag onderwerp nie. Hulle word deur God geroep om standpunt in te neem vir die Evangelie van Jesus Christus.
Christene staan voor ‘n (finale) uitdaging: Om Christus te verloën of om Christus te bely! Geen kompromie is hoegenaamd aanvaarbaar nie.
Baucham is natuurlik korrek dat swaar tye op Christene wag wat die Waarheid enduit gaan verkondig. Christene sal vervolg word want dit sal gesê word dat hulle – met die Evangelie – inbreuk maak op die privaatheid van ander mense. Mense sal hulle agter hulle menseregte-illusies verskans, enigiets, solank hulle nie die Waarheid hoef te hoor nie.
            Berigte die afgelope tien dae uit Amerika toon ook ‘n skokkende afval vanuit die Christendom.
Vir die ware Gelowiges is hierdie verwikkelinge geensins ’n verassing nie, want die HERE het Sy volk lank reeds hierop voorberei: “En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam.” Matt. 10:22.
Nogtans moedig die HERE Sy volk aan om hulle deur geen mag ter wêreld te laat keer nie en voeg by: “Maar wie volhard tot die einde toe sal (beslis) gered word.”
Die HERE self gaan verder in Matt. 24:4-14 “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.
“Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
“Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.
“Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
“En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
“Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie Evangelie van die Koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
Feit is ook dat die Christendom as dominante en dinamiese mag in Europa aan die kwyn is, soveel so dat dit vandag niks meer as ‘n godsdienstige sekte soos Islam en Boeddhisme is nie, aldus die redakteur van die wêreldbekende Omega Nuusbrief.
Wat bly vir my en jou oor? Om te bid vir ‘n magtige Herlewing soos nog nooit tevore nie. En dit kom, wees verseker daarvan. – Sjibbolet