Sondag 02 Augustus 2020

Die ellende van Ongehoorsaamheid

Daar is twee skepe in ’n krisis op die stormsee. Op die een is net een man reg en die res verkeerd. Op die ander is net een man verkeerd en die res van die bemanning reg.

            Wie was dan nou reg en wie verkeerd? Vir die kinders van die HERE gaan dit nooit oor die meerderheidstem nie. Dit gaan elke keer oor die Heilige Gees.

            Op die een skip is een man, Jesus Christus, reg en die meerderheid op die skip verkeerd, almal vasgevang in ongeloof.

            Op die ander skip is een man, Jona, verkeerd, en die meerderheid oortuig van die onheil op die skip.

            In die geloofslewe werk ons nie op die meerderheidstem nie.

            In die eerste plek gee Jesus Christus in Mark 4:35 opdrag: “Laat ons oorvaar na die anderkant.”

            Die opdrag was binne almal se vermoë. Dis ‘n eenvoudige en bekende opdrag: “Laat ons oorvaar na die anderkant.”

            En toe is daar die geweldige stormwind wat die See van Galilea in brutale verraderlikheid omskep het.

            Jesus Christus het rustig gelê en slaap. Geen storm kon hom ontstel nie, nie eers die latere lewenstorm van die Lydingsweg en Golgota nie.

            Vrees pak die dissipels aan boord.

            Hulle het Jesus Christus teen daardie tyd baie goed geken. Ten minste een van hulle moes die res tot bedaring gebring het en gesê het: “Moenie vrees nie, Hy is met ons. Hy het gesê ons gaan oorkant toe en as Hy so iets sê dan word dit vervul. Wees kalm, ons sal wel oorkant aankom.”

            Maar daar was nie so iemand nie.

            Vreesbevange het hulle Jesus Christus wakker gemaak en vir Hom gesê: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?”

            Strofé 39: En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: “Swyg, wees stil!” en daar het ‘n groot stilte gekom.

            Net so eenvoudig soos die opdrag om oorkant toe te vaar, net so eenvoudig was die opdrag aan die storm: “Swyg, wees stil!”

            Ons sing: “As die lewenstorme woedend om jou slaan, en jy gans ontmoedig, vrees om te vergaan – tel jou seëninge een vir een, en jy sal verbaas wees oor wat GOD verleen.

            “As jy ooit gebuk gaan onder sorg en pyn, as die kruis te swaar word en jou krag te klein – tel jou seëninge, dan vlug twyfel heen, en jy sien GOD’s goedheid laat jou nooit alleen.

            “As jy let op ander met hul goud en eer, dink dan GOD beloof jou nog oneindig meer; tel jou seëninge, weet dat prag en praal, nooit die minste van die Hemel kan behaal.

            “Laat dan al die stryd, die kruis, die bange nood, jou tog nie ontmoedig, GOD’s trou is so groot; tel jou seëninge; Engele staan jou by, bied jou hulp en leiding na die ander sy.”

            Ons sing dit, ons glo dit, ons weet dit, maar telkens wanneer ‘n lewenstorm ons tref, pak die vrees ons.

            Dan sê Jesus Christus aan ons, soos wat Hy aan die dissipels gesê het: “Waarom is julle so bang? Het julle dan geen geloof nie.”

            Geloof is ‘n gawe wat jy by die Wedergeboorte ontvang het. Deur die Woord in jou hart te bêre en as lamp vir jou voet te gebruik, bou jy jou geloof uit soos ‘n gewigopteller sy spiere.

            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Heb. 12:12-13.

            Die ander skip op die stormsee, vertel sy eie verhaal.

            Jona, nogal ‘n profeet, was deur die Vader ‘n opdrag gegee was, maar besluit toe hy sal nie die Vader se opdrag uitvoer nie.

            Die optrede van die Vader tydens ons oomblikke van ons ongehoorsaamheid, is dan ook juis die hooftema van dié verhaal.

            Jona se verhaal is die verhaal van elke gelowige, want ook ons het ‘n soortgelyke opdrag as Jona ontvang: dat ons die Evangelie aan die ganse mensdom moet verkondig.

Ook ons moet “oorkant toe vaar.” Ons mense moet waarsku dat as hulle, hulle nie gaan bekeer en GOD dien nie,  GOD sy oordele oor hulle sal laat kom.

            Jona se opdrag was: “Maak jou klaar, gaan na die groot stad Ninevé, en spreek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor My aangesig.”

            Daar is drie werkwoorde in die opdrag:

 

·       Maak jou klaar – dit beteken, ons kan nie onbepaald in die kerkbanke sit en na preke luister nie, al is die preke ook hoe interessant.

·       Gaan – dit beteken, daar is ‘n wêreld daarbuite waarheen ons moet gaan.

·       Spreek – wat beteken dat ons mondelinge getuies moet wees.

 

Die woord “maar” is seker die mees besonderse woord in die hele verhaal, Strofe 3 begin met “Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsus te gaan…

En verderaan verskyn die woord “maar” weer ‘n keer: Maar die Vader het ‘n sterk wind…

Wanneer ons na die 3e hoofstuk gaan, vind ons ‘n parallel wat betref Jona se latere gehoorsaamheid: Toe maak Jona hom klaar en gaan na Ninevé… en verder:  En die manne van Ninevé het geglo…

Met ander woorde, toe Jona “maar” gesê het, het die Vader ook sy eie “maar” gereed gehad. Toe Jona egter “ja” sê, was die Vader gereed met Sy eie “ja” en toe stroom die seëninge in.

Die derde strofe van hoofstuk 1 leer aan ons die eerste beginsel wat betref die werking van GOD se voorsienigheid in menslike ongehoorsaamheid.

Dit word uitgebeeld in die herhaling van die woord  “af”. Jona het “afgegaan” na Jafo en in ‘n skip geklim. Toe die storm opkom het hy na die onderste dele van die skip “afgeklim”.

Hy is daarna oorboord, afgegooi, in die see.

Om af te gaan, na benede te gaan, en selfs onder te gaan, is eenvoudig die onvermydelike pad wat almal loop wat van die Here GOD af wegvlug.

Hierdie afganery is ‘n reël waarvolgens GOD in gevalle van ongehoorsaamheid optree.

Nog ‘n reël oor die voorsienigheid van GOD vind ons op humoristiese wyse daarin dat Jona, toe hy by die skip kom, sy eie reisgeld moes betaal.

Maar hy het nooit by Tarsus uitgekom nie. Hy is lank voor daardie tyd oorboord afgegooi. Hy is nooit die ongebruikte deel van sy reiskaartjie terugbetaal nie.

Hier sien ons ‘n groot beginsel in werking. Dit is die volgende: Wanneer mens van GOD af wegvlug dan kom jy nooit uit waarheen jy vlug nie en jy betaal al jou rekeninge self, soms ten duurste.

Maar wanneer mens GOD se weg volg, bereik jy elke keer jou bestemming en die Here GOD betaal die rekeninge.

Mens kan nie nalaat om op hierdie punt die Amerikaanse prediker Bob Mumford aan te haal nie. Hy het gese: “GOD puts you into a fix to fix you, but if you fix the fix before you’re fixed, He has to fix another fix to fix you!”

Jona is beslis ‘n illustrasie van Mumford se woorde.

Onthou jy die verhaal van Moses in die mandjie? As sy moeder aan hom vasgehou het, was hy ook vermoor.

Kort daarna word sy Moses se pleegmoeder, maar, nie voordat Farao se dogter Moses ontdek en aan sy sussie Miriam sê: “Ek sal jou loon betaal”.

Moses se moeder het gekry wat sy die graagste wou hê en GOD het boonop die loon, die koste, die rekening, om die kindjie Moses groot te maak, betaal!

Maar Jona was op pad weg van GOD af, buite GOD se Wil, en hy moes sy eie kostes betaal

As mens dus van GOD af wegbeweeg sal jy nooit jou bestemming bereik nie en jy gaan elke keer self die kostes moet betaal.

As die pad wat jy bewandel egter GOD se pad is, dan het jy boonop ‘n waarborg dat jy beslis jou bestemming sal bereik en GOD sal die kostes betaal.

Dit is die les wat GOD aan Jona begin leer het toe Jona aanboord van die skip gegaan het. GOD het op ‘n bonatuurlik wyse ingetree om dit wat Hy in die eerste plek gedoen wou gehad het, wel te laat plaasvind.

Laat ons almal maar die les hieruit leer: GOD sal Sy doelwitte bereik, selfs al is ons ongehoorsaam, of soos in die geval van die ander skip “ongelowig”.

Hy kan dit doen deur oordele oor ons te laat kom weens ons ongeloof  en ongehoorsaamheid, of Hy kan dit doen deur middel van seëninge weens ons geloof en gehoorsaamheid. Maar optree, gaan Hy optree.

Wanneer GOD praat moet ons luister. Selfs Saulus moes op ‘n traumatiese wyse sy les leer toe hy nie wou luister nie. 

As GOD verlang dat ons ‘n besondere taak moet verrig, dan het ons nie ‘n keuse nie.

So is die opdrag aan al die kinders van GOD om die Koninkryk van GOD reg oor die wêreld te verkondig, siele in te bring, hulle te doop en hulle te onderrig in die Woord.

Totdat hierdie opdrag vervul is, sal diegene wat nie die opdrag  uitvoer nie, van probleem tot probleem lewe en ‘n onsekere bestaan voer.

Jy het geen professionele opleiding nodig om jou getuienis uit te dra nie, en jy mag nie weier om dit uit te dra nie.

Jesus sê self: As julle My voor die mense bely, dan sal Ek julle voor die Vader bely.

Bely ons dus nie Jesus Christus voor die mense nie, dan bely Hy ons nie voor die Vader nie, met die geval dat ons onsself beroof  van seëninge.

Dink weer aan die beeld van die gemeentes wat warm, lou en koud is en let op dat daar op ‘n manier voorsiening gemaak is vir die wat koud is, maar daar is geen voorsiening vir diegene wat lou is nie – diesulkes sal Hy uit Sy mond uitspuug!

Besluit nou self: Gaan jy die opdrag van die HERE uitvoer, of gaan jy spreekwoordelik in ‘n groot vis se ingewande of in ‘n stormsee van die lewe beland? Die vraag is so eenvoudig soos die opdrag. —  Wekroep