Donderdag 12 Desember 2019

Die einde is te naby



Twee diere moet mens dadelik van ontslae raak: Die bobbejaan agter die bult en die ou koeie in die sloot. Party mense gaan haal ‘n bobbejaan agter die bult wanneer daar nie eers ‘n bobbejaan is nie.

            Dis ‘n sonde om ou koeie uit die sloot op te grawe. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. “ Ps 103:12,

            Noord en suid is 21 000km uitmekaar, maar die afstand tussen oos en wes is onmeetbaar. Hy werp ons sondes in die dieptes van die see. Miga 7:19

            As jy bely dat jy kind van God is, dan grawe jy nie ou koeie uit die sloot op nie, dan gaan haal jy geen bobbejaan agter die bult nie. Jy meng in met Christus se handewerk. Dis nie jou plek nie! Waar is jou plek dan?

            “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed (hoekom?), sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. “ Rom 12:2

“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.

“Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

“Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.

“Die volk wat Ek vir My geformeer het, (let op) hulle sal my lof verkondig.” Jes 43:18-21

Los die bobbejane en die ou koeie, verkondig eerder God se lof!

            “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie (hoekon?) “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Kol3:2-4

            Sommige het veel te sê oor pas gereddes: “Maar hy doen nog dit en sy maak nog dat...” Wat het dit met jou te doen? Jy sondig want jy meng jou in met God se handewerk, want daar staan geskrywe: “Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” Fil 1:6

            Werk jy maar jou eie heil uit met vrees en bewing. Fil 2:12. Dink sommer aan jou eie gedagtes en twyfel wat niemand kan sien nie en dus nie van weet nie... maar God weet alles.

            “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

            “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” Matt 7:7-8

            Soek beteken... soek totdat jy vind. Klop beteken... klop totdat oopgemaak word.

            As jy merk dat iets iewers nie reg is nie, dan bid jy vir daardie persoon of saak en jy bly verder stil... voordat dieselfde ding jou nie ook oorkom nie.

            “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.

“Dra mekaar se laste en vervul so die Wet van Christus.” Gal 6:1-2. Wat is die Wet van Christus?

“As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

Die Einde is te naby om jouself te besoedel en jouself te vernietig. – Wekroep

Die man steek die donker vol gate


Dis donkeraand. Die verlamde seuntjie sit voor sy slaapkamer se venster. Hy verkyk hom aan die man wat die lampe van paal tot paal in die straat aansteek.

            Toe sy ma hom gereed wou maak om te gaan slaap, vra sy: “Waarna staar jy so aandagtig deur die venster?” Hy antwoord: “Ek kyk na die man hier buite wat gate in die donker nag in steek.”

Die Diamantstad Kimberley had sy eerste elektriese straatligte in 1882 en was die eerste stad in Afrika met elektriese straatligte. In daardie stadium had London steeds gaslampies vir straatligte.

            In die dae voor elektriese straatligte, moes die gas- of paraffienlampe, met sononder een vir een, deur 'n lampaansteker aangesteek word, en die volgende oggend, weer gedoof word.

            Die Sunday School Times vertel van so 'n lampaansteker, 'n onverskillige jongman, wat een aand, op sy rondte om die lampe aan te steek, by die Heilsleër se opelugdiens verbyloop, die Evangelie hoor en tot bekering kom.

Sy geestelike lig is daardie aand deur Jesus aangesteek. Een van sy vriende, 'n ware drinkebroer, spot later met hom, omdat hy nou so godsdienstig geword het, dat hy nie meer met die 'manne' wil uitgaan en jolyt hou nie.

            "Jy weet wat my werk is," sê Jesus se nuwe volgeling vir sy vorige maat. "Soggens voor sonop, begin ek straatop gaan om lampe dood te maak. Dan lê die straat, soos ek vorder, donker agter my. Dit is hoe my lewe eers was, 'n donker verlede. Kyk ek vorentoe, sien ek 'n lang ry skynende ligte voor my. Dit is hoe my toekoms nou lyk, na ek Jesus in my lewe laat inkom het."

"Dis goed en wel," antwoord die vorige maat, "maar dis nie lank nie of jy maak die laaste lamp ook dood en dan is dit ook maar weer donker. Waar is jy dan met jou danige Jesus?"

"Dis waar," antwoord die lampwerker, "maar dan kom die son op en ek het nie meer lampe nodig om vir my lig te maak nie. Jesus is nou die lig in my lewe en na my laaste dag, op aarde, gaan ek na Hom toe in Sy ewige Hemel."

            Die Nuwe Testament beklemtoon hierdie bemoedigende waarheid. "Die volk wat in duisternis woon, het 'n groot lig gesien... vir hulle het die lig opgegaan." Matt 4:13-16.

"Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die HERE is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is." Efes 5:8

Dit is elke geredde mens se verwagting van die ewige Hemel: "Die stad het nie die son en maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig en die Lam is sy lamp." Openb 21:23

Op 'n dag doof elkeen van ons se lewenslig. Vir elkeen in wie se lewe die Here Jesus as Verlosser ingekom het, kom die son van Ewige Lig dan op.

  Intussen is daar ‘n getal om vol te maak. Is jy die Lampaansteker vir Jesus in jou lewensstraat?

Kyk hoe donker is hierdie land van ons. Daar is ‘n paar Gelowiges wat gate in die duisternis steek, maar vele meer is nodig. As jy bely dat jy kind van God is, dan word verwag dat jy ‘n lampaansteker sal wees.

“Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik. “

Komaan, steek die donker vol gate. – Wekroep



Donderdag 05 Desember 2019

Dawid se harp is terug…


“Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.” Ps 33:2

 
https://mk0breakingisralps2c.kinstacdn.com/wp-content/uploads/2018/08/Davids-Harp.png

Micah (links) en Shoshanna Harrari met die twee harp modelle wat hulle bou. (Foto: harrariharps.com)

Die Tempel van Salomo was gevul met die musiek van 4 000 harpe. Die Harrari-egpaar wei hulle lewens daaraan om die harp, die nasionale musiekinstrument van Israel, na die land terug te bring, betyds vir die bou van die nuwe Tempel.

“Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land.” Hooglied 2:12

Hulle het onlangs ‘n video vrygestel oor die vervulling van die  Psalm… ‘n Joodse kind wat terugkom in Israel en ‘n harp in ‘n wilgerboom vind waar haar voorvaders destyds tydens hul exodus dit opgehang het.

            Die verhaal van Micah and Shoshanna Harrari is ‘n kristallyn van die Joodse exodus. Hulle het hulle lewensverhaal aan Breaking Israel News vertel. Hulle het oor die aarde heen rondgedwaal opsoek na ‘n plek  wat hulle nooit kon kry nie. Vroeg in die 70’s was hulle in die VSA. Hulle het gebly net waar hulle kon plek kry en het soms onder die sterrehemel geslaap. Hulle was opsoek na wat hulle beskryf het as die “perfekte plek”.

Vir hulle sou die “perfekte plek” ‘n pragtige plek wees. Hulle het wel by pragtige plekke uitgekom maar hulle was altyd rusteloos.  Een keer beland hulle in ‘n woud in Colorado sonder krag en lopende water. Hulle ontspanning was die lees van boeke.

Toe kom die winter en ‘n massiewe sneeustorm begrawe hul tent sodat hulle vasgekeer was. Hulle had genoeg kos en water, maar hulle het reeds al die boeke klaar gelees.

Na drie dae  het hulle benoud begin raak. Uit pure desperaatheid begin hulle ‘n Bybel lees wat hulle altyd by hulle gehad het, maar nooit gelees het nie. “En daar was ons saam met Abraham en Sara, ons eie familie, in die tent,” vertel Shoshanna.

“ Dit was opwindend. Ons het die Bybel (Heilige Boek) elke dag gelees en ons was veral beïndruk met Hashem (God) se woorde. Toe ons by die profete kom het een boodskap die heeltyd uitgestaan: Hashem sou die Jode terugbring in hulle land en hulle sal nooit weer ontwrig word nie. Dit het ons verstom. Elke keer wat ons dit gelees het, het ons besef dit is ‘n uitnodiging om na die land van ons voorvaders te gaan, ons  vaderland.

 “Ons het niks van Israel af geweet nie, maar dit het soos die regte plek geklink. Ons het gedink ons kan  ‘n kar en ‘n donkie kry om soos Abraham en Sara rond te trek. Die boodskap was duidelik,  maar ons sou nog etlike jare lank ronddwaal.

“Ons het ‘n ruk in Vermont gebly. Een nag het ons albei skielik wawyd wakkeregeword en besef ons moet trek. Die volgende dag is ons oor die Atlantiese Oseaan. Ons is na Portugal. Weer was ons teen middernag gewek: Ons moes aanbeweeg.”

Hulle het in die rigting van Israel beweeg en in 1982 in Griekeland aangekom. Op ‘n voorgevoel is hulle na ‘m skeepsredery se kantore om te hoor van ‘n skip na Israel. Daar sou een oor ‘n uur vertrek. Hulle is holderstebolder aan boord.

            Hulle het ‘n paar dae later in Israel aan wal gestap. Al wat hulle had was die adres van ‘n vriend van ‘n vriend van ‘n vriend in Jerusalem. “Ons het aan die deur geklop en onsself voorgestel, nie wetende dat dit Rosh Hashanah die (Joodse Nuwejaar) is nie.”

Hulle het in Tiberias langs die See van Galilea gaan woon. Hulle was tuis.  Micah het ‘n skrynwerkers besigheid begin. Shoshanna wou altyd ‘n  harp hê en Micah het besluit hy maak eers vir haar ‘n harp. Micah is ‘n opgeleide luitmaker, iemand wat snaarinstrumente bou of restoureer. Weens hul nomadiese leefstyl het hy egter nooit daarby uitgekom nie.

Maar hoe sou Dawid se harp lyk? Hulle hoor toe van tekeninge wat ontdek is by Megiddo wat ouer as 3 000 jaar is. Niemand het egter die afgelope meer as 2 000 jaar so ‘n harp gebou nie.

Lang storie kort, Micah bou vandag net harpe en het groot bestellings van die Tempelinstituut ontvang om harpe vir die nuwe Tempel te bou. Hulle het ook besluit om ‘n video te vervaardig wat die rol van Dawid se harp in Geula, ‘n woonbuurt in Jerusalem, weerspieël soos geïnspireer in die Psalms.

            “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink.

            “Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons, ons siters opgehang.

            “Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van 'n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons 'n Sionslied.

            “Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in 'n vreemde land?” Ps 137:1-4  https://www.youtube.com/watch?v=y-U5rKY6vtc

            Soos wat die Jode moes vlug het hulle hul harpe 2 000 jaar gelede aan die wilgerbome gehang sodat hulle dit weer sou vind by hulle terugkeer. Wie het kon dink dat dit 2 000 jaar sou duur. Die harpe het intussen vergaan.  Nou het Shoshanna en Micah dit teruggebring. “Die hele doel was om weer met Hashem kontak te maak. Ons wou die harp en sy musiek terugbring in die wêreld,” het sy gesê.

            Die Harraro’s se webblad: https://www.harrariharps.com/?fbclid=IwAR0GFvI30e9p_T0POIzajQhKNsZ9gMGgp9Yd60QOZqej5iuD1Roe5tTMohk


Intussen het nog skrynwerkerondernemings oopgemaak en harpe word nou reg oor die wêreld heen verkoop. Die Harrari’s se webblad het al meer as 30 000 besoeke gehad.

            Die grootste en belangrikste tekens van die naderende Wegraping, is gebeure rondom die Jode. Hulle is reeds 70 jaar terug in Israel. Hulle keer steeds weekliks terug. Talle profesieë oor die Jode en Israel het reeds in vervulling gegaan. Nuutste gebeure is in lyn met Eseg 38 3n 39.

            Voorbereidings is aan die gang om die Tempel te herbou. Die rooi os is terug. Die gespikkelde skape is terug.  Nou is die harp terug en duisende harpe word vervaardig. Die shofar word steeds gereeld by seremonies gebruik en kan by Gelowiges se wonings reg oor die wêreld gehoor word. Van die mooiste shofars word van koedoehorings uit Suid-Afrika vervaardig.


            Maar Jesus het elke keer wanneer hy oor die Tekens gepraat het, afgesluit met: Maar totdat hy kom, moet ons dissipels wees en siele wen. Is jy betrokke? – Wekroep     

Preview YouTube video Jeff & Sheri Easter, Charlotte Ritchie - Rivers Of Babylon (Live)

Psalm 23



Dawid sê nie die HERE “is ‘n Herder,” of “die Herder,” nie. Dis vir hom ‘n persoonlike saak...”Die HERE is MY Herder.

            Dawid was ‘n skaapwagter. Hy het die intieme verhouding tussen skape en hulle herder skitterend begryp. Hy sien en beskryf die verhouding tussen ons as skape en die HERE die herder.

            Skape het die manier om af te dwaal, weg van die herder af. Ons ook. Jesaja (53:6) sê: “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”

            Wanneer skape afdwaal word hulle deur allerlei gevare berei...bv. as ‘n skaap op sy rug beland kan hy nie vanself weer op sy voete kom nie en sterf die skaap omdat sy pensgewig sy longe toedruk en hy nie kan asemhaal nie. Wat gewoonlik gebeur is dat die res van die trop onmiddellik instorm en die een op sy rug terug op sy pote help. Slaag hulle nie, help die herder, dws, as die herder dit sien.         As een van ons afdwaal en in probleme beland, moet die ander Gelowiges so iemand ook ophelp (pleks van beskinder). Bid vir mekaar. Jak 5:16. Dra mekaar se laste. Gel 6:2.

            Skape is basies hulpeloos en is afhanklik van hulle herder.  Skape kan nie hulself verdedig nie. Dawid het selfs sy lewe gewaag om y skape te verdedig:

            “Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.” 1 Sam 17:34-35

            Jesus het verklaar dat Hy ons Herder is en het sy lewe vir ons afgelê. Hy kyk na ons. Hy sê sy skape luister na Sy stem. Wanneer die skape luister en saamwerk gaan dit goed met hulle.

            Volgens Ps 23 word daar baie mooi na gehoorsames gekyk, maar let op wat sê die HERE in Ps 32 “U is 'n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding. Sela.

            “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.

            “Wees nie soos 'n perd, soos 'n muilesel wat geen verstand het nie, wat 'n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.

            “Die goddelose het baie smarte, maar hy wat op die HERE vertrou, met goedertierenheid sal Hy hom omring.

            “Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!”

            ‘n Herder moet altyd sy skape “lei” en nie aanjaag nie. Hulle ken Sy stem. Hulle volg hom.

            Let op, Dawid sê al gaan ek deur ‘n vallei van doodskaduwee... hy sê nie ons gaan deur ‘n vallei van die dood nie. Hy verwys telkens na krisisse, maar sy volle vertroue as getroue skaap is op sy Herder.

            Die boodskap is baie betekenisvol: Wanneer jy deur ‘n krisis gaan, lees Ps 23 en loop oor van vertroue op die Herder, onse HERE Jesus. – Wekroep

Sondag 01 Desember 2019

“Kyk op, julle verlossing is naby!”



 Die See van Galilea, met aan die oorkant die Golan Hoogtes. Dit loop diep na agter en beslaan 1 800vk km.

Hoe naby is die groot oorlog van Eseg 38 en 39? Kyk net oor die Israelse grens. Pleks van Sirië, is daar nou Rusland, Iran en Turkye.

            Sirië bestaan nog in naam, maar die nasie is tot niet. Die feit dat Rusland, Iran en Turkye nou daar is, is betekenisvol want dit berei ‘n nuwe tydvak voor wat 2 000 jaar gelede oor geprofiteer is... die Gog en Magog Oorlog.

             Esegiël het destyds geprofiteer dat geallieerde magte (Eseg 38:2-6) Israel vanuit die noorde gaan binneval. Dit sal ‘n ontsettende groot leërmag wees, gelei deur ‘n man met die naam Gog. Die nasies wat betrokke sal wees, is:


Rosh – Rusland

Magog – Kazakhstan, Uzbekistan, Turkmenistan, Tajikistan,  en  Afghanistan

Persië – Iran

Cush – Soedan

Put – Libië Meshech, Tubal, Gomer, and Beth-togarmah –  Turkye


            Die magtigste van hierdie nasies, is Rusland, Iran en Turkye. Dié drie is reeds in Sirië en gesetel op Israel se noordgrens, die Golan Hoogtes. Esegiël het juis gesê die inval kom uit die noorde. Eseg 38:15; Eseg 39:2

Nooit tevore was hierdie drie lande tegelykertyd op Israel se noordgrens saamgetrek nie. Nooit in die geskiedenis van die wêreld het hierdie drie lande ‘n geallieerde mag gevorm nie.

            Die afgelope 20 jaar is Rusland en Iran al bondgenote. In 1995 het die Russiese  ministerie van Atoom Energie, ‘n ooreenkoms met Iran gesluit om Iran se Bushehr Kernkrag Eenheid te voltooi. Dit is tydelik in 1979 gestaak weens die Islamitiese revolusie. Die twee volkere het egter voortgegaan om hegter ekonomiese en militêre bande te smee.

            Rusland en Iran is vandag besig om Pres Bashar Assad se regering te versterk. Al wat oorgebly het van Sirië is sy regering en die 110 terroristegroepe wat die Siriese regering omver wil werp. Rusland en Iran beveg hierdie terroristegroepe.

            En Turkye? Erdogan bring saam met hom die weermagte van 57 Moslem state, met die doel om Israel te vernietig, aldus Erdogan. In 2010 het Turkye en Rusland talle ooreenkomste onderteken, onder meer dat Rusland vir Turkye ‘n eie kernbasis sal vestig.

            Dit beteken die slagordes is opgestel vir die vervulling van Eseg38 en 39. Nou kan mens dophou hoe al hoe meer gebeure in plek sal begin val vir wat sommige noem: Die Derde Wêreldoorlog. Meer nasies sal ook nou in plek skuif.

            Daar is die verwagte vredesooreenkoms van Trump tussen Israel en sy vyande, ‘n verdrag wat van korte duur sal wees. Nogtans wil niemand die verdrag onderteken nie.

            Wanneer die groot inval plaasvind, sal geen land Israel kom help nie... maar God gaan! Eseg 38:18-23

            Daar is intussen ook ‘n interessante verwikkeling op die Iran en Irak grens aan die opbou... die VSA is in direkte konfrontasie met Iran. Iran wil Israel ook vanaf Irak aanval. Nou kan hulle nie. Die VSA het reeds twee nuwe basisse daar ingerig.

            Dit blyk dat Pres Trump se onlangse onttrekking van sy troepe aan Sirië, bloot ‘n set was om die ander rolspelers onder die wip in te trek. Alles dui op ‘n groot oorlog.

            Dit beteken die Wegraping is baie naby. Nogtans, ons mag die Tekens van die Tye interessant vind, maar God sê; “Kyk na julle eie harte. Maak seker dat julle my Woord met toewyding uitleef.” Paulus voeg by: “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. Rom 14:12

Dis jou goeie reg om hierdie Wekroep te ignoreer. Feit is en bly: “Jesus kom! Die Bruidegom is onderweg. Klee julleself en wees gereed om uit te gaan en Hom te ontmoet. Kyk op, julle verlossing is naby!” Luk 21:28 – Wekroep

Sy moes kies: Lewe of Dood

Die 12-jarige Lianna lê in die gras langs die pad en veg verbete om die lewe. Sy is brutaal vermink en verkrag deur twee mans en langs die pad gelaat vir dood.

Kort na die grusame aanval is ontdek dat sy swanger is. Toe dokters voorstel dat sy die swangerskap beëindig het hierdie dapper meisietjie dit geweier. Op 12-jarige ouderdom het sy begryp hoe waardevol ‘n lewe is.


Liana kus haar pragtge dogter. Foto Life Action News

Sy het die dokter net een vraag gevra: “Sal ‘n aborsie my pyn verlig en my help om van die verkragting te vergeet?” Die dokter het “nee” geantwoord.  Liana het geweet, sy sal die baba behou. Sy het gesê: “Die baba het my nodig en ek het die baba nodig,

Lianna se dogter is nou 23 jaar oud en ma en dogter is ontsettend lief vir mekaar. Hulle reis nou saam oor die wêreld heen  en tree op as motiveringsprekers en verkondig Lewe. Liana het ook haar eie organisasie genaamd:Lief vir Lewe. Hulle staan ook vroue by wat mishandel en misbruik is.


Sy het dit nie maklik gehad met die swangerskap nie. Die verkragting het bly spook. Nou sê sy: “Ek het my dogter se lewe gered en sy het my lewe gered. Sy het nuwe betekenis aan my lewe gegee.”

Waar iemand se lewe gebroke is soos ’n riet wat geknak is, sal Hy dit nie verbreek nie, en waar dit swak is soos ’n lamppit wat rook, sal Hy dit nie beskadig nie. Mat 12:20.

Die offerande wat U wil hê, is berou; o God, U sal nooit ’n mens verwerp wat opreg berou het en nederig is nie. Ps.51:19

Ma (links) na sy gewig verloor het, en dogter. Foto: LovingLife.org

Hy heel die gebroke harte en verbind hulle wonde. Ps 147:3. My naam is Die Heilige God. Ek woon in ’n hoë, heilige plek, maar Ek woon ook by mense wat hulle sonde erken en nederig is, want Ek gee sulke mense weer nuwe krag Jes 57:15,16

Die verdwaaldes sal Ek opsoek en die wat oraloor versprei was, sal Ek terugbring. Die wat seer gekry het, sal Ek verbind en die wat siek is, sal Ek weer gesond maak. Ek sal die wat sterk en gesond is ook oppas soos dit hoort Es 34:16. Hou moed, moenie bang wees nie, want julle God kom… julle red. Jes.35:4 – Wekroep