Donderdag 12 Desember 2019

Die einde is te naby



Twee diere moet mens dadelik van ontslae raak: Die bobbejaan agter die bult en die ou koeie in die sloot. Party mense gaan haal ‘n bobbejaan agter die bult wanneer daar nie eers ‘n bobbejaan is nie.

            Dis ‘n sonde om ou koeie uit die sloot op te grawe. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. “ Ps 103:12,

            Noord en suid is 21 000km uitmekaar, maar die afstand tussen oos en wes is onmeetbaar. Hy werp ons sondes in die dieptes van die see. Miga 7:19

            As jy bely dat jy kind van God is, dan grawe jy nie ou koeie uit die sloot op nie, dan gaan haal jy geen bobbejaan agter die bult nie. Jy meng in met Christus se handewerk. Dis nie jou plek nie! Waar is jou plek dan?

            “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed (hoekom?), sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. “ Rom 12:2

“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.

“Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

“Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.

“Die volk wat Ek vir My geformeer het, (let op) hulle sal my lof verkondig.” Jes 43:18-21

Los die bobbejane en die ou koeie, verkondig eerder God se lof!

            “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie (hoekon?) “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Kol3:2-4

            Sommige het veel te sê oor pas gereddes: “Maar hy doen nog dit en sy maak nog dat...” Wat het dit met jou te doen? Jy sondig want jy meng jou in met God se handewerk, want daar staan geskrywe: “Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” Fil 1:6

            Werk jy maar jou eie heil uit met vrees en bewing. Fil 2:12. Dink sommer aan jou eie gedagtes en twyfel wat niemand kan sien nie en dus nie van weet nie... maar God weet alles.

            “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

            “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” Matt 7:7-8

            Soek beteken... soek totdat jy vind. Klop beteken... klop totdat oopgemaak word.

            As jy merk dat iets iewers nie reg is nie, dan bid jy vir daardie persoon of saak en jy bly verder stil... voordat dieselfde ding jou nie ook oorkom nie.

            “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.

“Dra mekaar se laste en vervul so die Wet van Christus.” Gal 6:1-2. Wat is die Wet van Christus?

“As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

Die Einde is te naby om jouself te besoedel en jouself te vernietig. – Wekroep