Donderdag 05 Desember 2019

Psalm 23



Dawid sê nie die HERE “is ‘n Herder,” of “die Herder,” nie. Dis vir hom ‘n persoonlike saak...”Die HERE is MY Herder.

            Dawid was ‘n skaapwagter. Hy het die intieme verhouding tussen skape en hulle herder skitterend begryp. Hy sien en beskryf die verhouding tussen ons as skape en die HERE die herder.

            Skape het die manier om af te dwaal, weg van die herder af. Ons ook. Jesaja (53:6) sê: “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”

            Wanneer skape afdwaal word hulle deur allerlei gevare berei...bv. as ‘n skaap op sy rug beland kan hy nie vanself weer op sy voete kom nie en sterf die skaap omdat sy pensgewig sy longe toedruk en hy nie kan asemhaal nie. Wat gewoonlik gebeur is dat die res van die trop onmiddellik instorm en die een op sy rug terug op sy pote help. Slaag hulle nie, help die herder, dws, as die herder dit sien.         As een van ons afdwaal en in probleme beland, moet die ander Gelowiges so iemand ook ophelp (pleks van beskinder). Bid vir mekaar. Jak 5:16. Dra mekaar se laste. Gel 6:2.

            Skape is basies hulpeloos en is afhanklik van hulle herder.  Skape kan nie hulself verdedig nie. Dawid het selfs sy lewe gewaag om y skape te verdedig:

            “Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.” 1 Sam 17:34-35

            Jesus het verklaar dat Hy ons Herder is en het sy lewe vir ons afgelê. Hy kyk na ons. Hy sê sy skape luister na Sy stem. Wanneer die skape luister en saamwerk gaan dit goed met hulle.

            Volgens Ps 23 word daar baie mooi na gehoorsames gekyk, maar let op wat sê die HERE in Ps 32 “U is 'n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding. Sela.

            “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.

            “Wees nie soos 'n perd, soos 'n muilesel wat geen verstand het nie, wat 'n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.

            “Die goddelose het baie smarte, maar hy wat op die HERE vertrou, met goedertierenheid sal Hy hom omring.

            “Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!”

            ‘n Herder moet altyd sy skape “lei” en nie aanjaag nie. Hulle ken Sy stem. Hulle volg hom.

            Let op, Dawid sê al gaan ek deur ‘n vallei van doodskaduwee... hy sê nie ons gaan deur ‘n vallei van die dood nie. Hy verwys telkens na krisisse, maar sy volle vertroue as getroue skaap is op sy Herder.

            Die boodskap is baie betekenisvol: Wanneer jy deur ‘n krisis gaan, lees Ps 23 en loop oor van vertroue op die Herder, onse HERE Jesus. – Wekroep