Woensdag 26 April 2017

Getuienis oor 22 April 2017

Dit was ook Hendrik en Marna se Tyd

Hendrik en Marna Nel van Koster het deur ‘n Goddelike wonderwerk die reuse nasionale Biddag in Bloemfontein bygewoon.
Sy getuig: “Wat 'n belewenis was dit nie? Ons het 'n groot getuienis.
Ons het teëspoed op die pad gekry. Het 12:30 Vrydagnag op die N! gestaan met ons kar, sewe km voor Bloemfontein. Drie wiele was los en my man moes dit eers vasdraai. Die motor was by ‘n motorherstel plek om die skokbrekers te vervang. Dit blyk dat drie van die wiele nooit reg vasgedraai was nie.



            Na my man dit vasgemaak het het ons verder probeer ry maar daar was 'n verskriklike geluid voor by die enjin. Ons het dadelik weer gestop en besef daar is nou baie groot fout. Ons sal ingesleep moet word.
            Maar dit is net na middernag en ons kén niemand daar wat ons kan bel om ons te kom help nie. Ons besluit toe om baie stadig te ry tot by die Ultra City. Maar dit klink verskriklik voor iewers in die enjin. Ons het net gebid om tot daar te kom. Ons het by Ultra City gekom en gedink ons sal die volgende oggend kyk wat ons kan doen.
            Ons was baie moeg en het reggemaak en in die motor geslaap. Vroeg Saterdagoggend is ons op. My man sê toe vir my, niks gaan ons weghou van die biddag af nie. Ons gaan die kar netso ry.
            Ek sê toe vir hom, jy besef seker dat as die ding breek, dan gaan ons groot skade hê. Maar hy sê “ons ry.” Én so ry ons toe met die aardigste geluid voor by die enjin.
Kom toe by die terrein aan en besluit ons gaan nie verder oor dit tob nie. Ons wou die gebeurtenis ten volle beleef.
Dit was 'n wonderlike belewenis. Ons het die Heilige Gees tasbaar ervaar en beleef. Ons was in trane.
Ons kom na sesuur die aand eers weer by ons kar uit. Pak alles in die kar en daar wil die enjin nie vat nie. Dit is al skerp skemer toe ons die kar uiteindelik aan die gang kry. Maar nou staan die karre buffer teen buffer. Honderde duisende !!!.
            Die geluid is steeds in die enjin en ons besluit om weer netso tot by Ultra City te ry en weer in die motor oor te slaap. Ons kom eers 9:30nm by Ultra City aan. Ons weier om ons te bekommer en besluit ons gaan die HERE vertrou.
            Ons het gebid en vir Hom dankie gesê vir die dag en wat Hy vir elkeen se lewe beplan. Vyfuur die volgende oggend, Sondagoggend, val ons in die pad terug huis toe. Die kar begin erg ruk en die geluid is nou baie harder. Ons bid kliphard saam en getuig van Sy grootheid en goedheid en vra dat die HERE asseblief Sy hand op elke meganiese deel van die kar sal hou en ons op die pad sal bewaar en sal beskerm. En ons ry.
            Die Heilige Gees sê toe vir my man om vinniger te ry. Hy ry toe 100 km per uur want op 80 ruk die kar verskriklik en dan is die vreemde geluid baie erg. Die HERE sê toe vir my man om nog vinniger te ry. En hy ry toe 120. Intussen bid ons kliphard en sê vir die HERE dankie dat ons kan weet ons kan op Hom vertrou ens. En soos ons bid raak die geluid sagter en word die geruk van die kar minder. Naderhand is alles stil.
            Na 'n lang ruk is die geluid weer terug en sê ons weer net dankie vir Sy beskerming en dadelik is die geluid weer stil. Ons het tot by die huis gery. Oor die 400km. Die kar is opgedomkrag, die wiele afgehaal en daar is geen fout nie!!! Hulle het alles nagegaan en geen fout gekry nie. Hulle kry absoluut niks fout nie!!! Ons kar makeer op die aarde niks!!! Maandagmore makeer die kar ook niks.
            Ons geloof is getoets. Tot die uiterste toe. Die vyand het geweet wat ons by Wilde Als gaan kry en hy het met alles in sy mag gekeer dat ons daar uitkom. Niks kon ons keer nie en Vader het gewys dat NIKS VIR HOM ONMOONTLIK IS AS ONS OP HOM VERTROU EN NIE BANG IS NIE.
            Ons het ons weer opnuut tot die HERE verbind. Ons geloof en huwelik is nou sterker as ooit vantevore. Ons had ‘n wonderlik huwelik maar was net baie, baie goeie vriende. Dit gaan nou verander. Ons het saam op Wilde Als hande geneem, gekniel en saam gebid, vir die land, maar ook vir ons en ons eie huwelik. Ons was in trane.
            Ons aangenome seuntjie het reg deur die groot gebeurtenis geslaap. My en my man se onverdeelde aandag het alles eerstehands beleef.
            Die Heilige Gees het baie mense aangeraak. Ek kan nie wag om al die getuienisse te hoor nie. En ek verwag 'n GROOT HERLEWING in ons land.”


Nou vir Groot Herlewing


Image result for 22 april 2017 bloemfontein

“Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal My
Gees op jou nageslag giet en My seën op jou nakomelinge.”  – Jes 44:3

Menige Suid-Afrikaner is beswaard oor die toestand waarin ons, ons bevind. Maar let op, ons het die mag en die gesag om die situasie om te keer. Daarom was daar Saterdag ‘n groot en suksesvolle nasionale biddag in Bloemfontein,
            Soos daar tye van verkwikking in die enkeling se lewe kom wanneer hy of sy na lange wag daarom gebid het omdat daar ‘n droogte in sy siel was, net so kom daar tye van kragtige Herlewing in die lewe van die Gelowiges na tye van verslapping en nadat die kinders van die HERE Sy aangesig aanhoudend gesoek het en gewillig was om die prys van selfopoffering te betaal.
            Nou moet ons almal landwyd bid vir ‘n Magtige Herlewing, een soos hier beskryf word deur ds FJ Liebenberg:
            In die jare vanaf 1859 ‘n baie kragtige werking van God se Gees in SA plaasgevind, wat die gevolg was van lang, maar ernstige gebedsvoorbereiding deur menige kind van God wat bekommerd gevoel het oor die lae geestelike toestand van sovele in die Kerk van Christus, omdat die Gees van God as’t ware direk tot die kinders van die HERE begin spreek het oor hul sondige toestand.
            Maar ook was die roering in Suid-Afrika tot ‘n mate die gevolg van berigte oor groot herlewings in Amerika en Brittanje in die jare 1857-1858.
            Die kenmerke van hierdie opwekking was dat mense sommer direk vanuit die Hemel deur God se Gees tot oortuiging van sonde gekom het. Die Gees het so kragtig gewerk  dat mense nie hulself kon verhelp om selfs in die openbaar tot God om genade te roep nie!
            In ander gevalle het verlorenes gesmeek: Help my, wat moet ek doen om gered te word?
            Liefde vir verloregaande siele was nog ‘n kenmerk van hierdie opwekking.
            Die herlewing het vinnig opgevlam en uitgebrei en dit het nie lank geduur nie, of die Gees van God het ook in Brittanje, Ierland en Wallis begin werk.
            Hierdie heerlike nuus het SA begin bereik en die kinders van die Here  het verlang na ‘n dergelike en nodige herlewing.
                        In die Kerkbode van Augustus 1859 kom ‘n oproep tot gebed onder leiding van di. Faure, Morgan en Cameron namens die Zuid-Afrikaansche Evangeliese Bond aan Evangelie-dienaars van alle kerkgenootskappe.
            Onder meer staan daar: Dat ‘n herlewing in die Godsdiens nodig en ernstig te begeer is, is ‘n feit wat niemand in twyfel sal trek nie, wat enigsins bekend is met die geestelike toestand van die kerke in hierdie hele kolonie. Dat sodanige opwekking teweeg gebring kan word alleen deur ‘n oorvloedige uitstorting van die Heilige Gees en dat die Gawe van die Heilige Gees beloof is in antwoord op gebed, is waarhede wat duidelik in die Skrif geleer word.
            Daar word besluit: Dat ‘n reeks preke gelewer word op agtereenvolgende Sondae oor die Goddelike persoonlikheid, die ampte en die werk van die Heilige Gees, dog, meer besonderhede van die groot behoefte wat daar teenswoordig bestaan aan die ernstige gebed in die binnekamer en in die openbaar om ‘n algemene uitstorting van die Gees op die siele van individuele Christene, op die gemeentes waar hulle aanbid, en op die belydende Kerk van Christus.
            Die redakteur van Die Kerkbode het ses artikels geskryf oor gebed, ‘n verwerking van biskop J.C. Ryle oor die onderwerp. Ook is geskryf oor die uitstorting van die Heilige Gees.
            In Oktober van daardie jaar, verskyn ‘n brief, deur 14 van ons ouere en mees bekende predikante waarin hulle melding maak van die merkwaardige Geestelike opwekking in Amerika en elders, asook: Onder onmiskenbare tekens word die Heilige Gees daar oor duisende uitgestort. Die verbasendste omkerings het plaasgevind.
            Die brief sluit met die volgende oproep:

·       “Ons bid u, pleit op die beloftes van God, grond u geloof en u verwagting daarop. Ons wek u ernstig op om gelowig en vuriglik elke week een uur, dit sy saam met andere of in die binnekamer, God te bid dat Hy ook ons land genadiglik mag besoek en ons die seën van die uitstorting van die Heilige Gees mag gee, soos Hy dit op die oomblik besig is om uit te stort op ander dele van die aarde.”

            “Om ‘n verslag te gee van die hele verloop van die herlewing in SA, sal te lank neem. Ons berig derhalwe net oor ‘n paar gemeentes om ‘n beeld te gee van hoe die Heilige Gees gewerk het.
            “Die opwekking het net na ‘n Worcester-konferensie met groot krag op Montagu, waar daar toe nie ‘n predikant was nie, uitgebreek. Sonder om dit te besef, was hierdie gemeente reeds vir ‘n jaar lank deur die HERE vir die opwekking voorberei. Hier was gewoonlik net drie mense in ‘n biduur.
            “Januarie is ‘n biduur begin wat vroeg op ‘n Sondag plaasgevind het. Die Sondagdienste wat vroeër swak bygewoon was, het dadelik begin verbeter en die belangstelling in die Woord het begin toeneem.
            “Daar was ‘n groter drang om te bid en ‘n groter liefde na God se Woord. Mense het begin stroom na die bidure. Bidvertrekke het spoedig te klein begin word. Daar is toe besluit op afsonderlike bidure vir mans, vroue, seuns en meisies.
            “Bidure is later daaglikse gehou, soms meer as een keer per dag. Daar was ‘n kragtige werking van God se Gees in so baie harte. Mense het in hulle nood uitgeroep:

·       Wat moet ek doen om gered te word!

“Beraders het dae aaneen gewerk sonder rus. Bejaardes en jongmense, Blank sowel as Bruin, was aangeraak. Daar was haas geen huis op die dorp wat nie betrokke was nie. Bevooroordeeldes is self ook deur die Gees aangegryp. Die hele samelewing het verander, en is letterlik omgekeer.
“Worcester het dit ook belewe. Dit het in die Breërivier en Goudini begin en deurgedring na die dorp en ander wyke van die gemeente. Soms in die eensaamheid en soms in die openbare bidure het daar van die kragtigste werkinge van die Gees geskied. Oud en jonk het gedring gevoel om na die bidure te gaan.
            “Oor wat op die dorp gebeur het, vind ons ‘n beskrywing van in die Kerkbode van 31 Augustus 1905:
            “Op ‘n Sondagaand was ons weer bymekaar, sowat 60 van ons. Ek het ‘n vers laat sing, ‘n gedeelte uit die Skrif voorgelees, ‘n gebed gedoen, en daarna soos ons gewoonte was, geleentheid gegee aan wie ook al ‘n vers wou voorlees en wou voorgaan in gebed.
            “’n Bruinmeisie van 15 jaar het agter in die saal opgestaan en wou weet of sy ‘n vers kon opgee.
            “Na huiwering het ek op aandrang van die Gees van die HERE haar toegelaat om dit te doen. Dit was Gesang 39 vers 4.
            “Daarna het sy haar hart in ‘n roerende gebed uitgestort.
“Onder die gebed was dit asof daar ‘n geruis in die verte hoorbaar was wat al luider geword het en al hoe nader gekom het, totdat dit wou voorkom asof die hele saal beweeg word.
            “Met enkele uitsonderings het almal wat aanwesig was begin bid. Dit was  ‘n oorverdowende ‘geraas’.
            “In daardie tyd was ds Andrew Murray predikant op Worcester. Dieselfde Sondagaand het hy ‘n diens by ‘n gemeente in Engels waargeneem. Ouderling Jan Rabie het by ons saal verbygekom en die “lawaai” gehoor. Hy het dadelik vir ds Murray gaan roep.
”Ds Murray het na vore gestap en my laat verstaan dat ek van my knieë af moes opstaan. Hy vra toe wat gebeur het, en het daarna ‘n ent in die saal tussen die mense ingeloop en so hard hy kon gebied:  Mense bly stil!
            “Maar die gebede het eenvoudig aangehou. Weer het hy hardop geroep: “Mense ek is julle predikant van God gestuur, bly tog stil!”
“Dog, daar was niks aan te doen nie. Die mense het hom nie gehoor nie. Hulle het aangehou met bid en om genade en ontferming geroep. Ds Murray sê toe ek moet ‘n vers laat sing: Help die siel wat radeloos Skrei,  maar dit het ook nie gehelp nie, die biddery het net aangehou.
“Ds Murray sê toe God is ‘n God van orde en hier is alles wanorde, en daarmee het hy die saal verlaat.
“Van toe af is die bidure elke aand gehou. Die bidure het soms tot drie-uur in die more geduur en dan was sommige nog traag om die saal te verlaat. Al singende het hulle dan deur die strate geloop.
“Die saaltjie het gou te klein geword en ons moes na die skoolgebou verhuis. Ook dit het te klein geword toe die mense van buite die dorp begin instroom om die bidure by te woon.
“Die eerste aand in die groter gebou was ds Murray voorsitter. Nadat hy gelees, ‘n paar opmerking gemaak en gebid het, het hy geleentheid vir gebed gegee. Onder die gebed het die gedreun in die verte weer hoorbaar geword en spoedig was die hele vergadering aan die bid.
“Ds Murray het weer onder die mense ingeloop om “orde” te probeer handhaaf…
“’n Vreemdeling wat by die deur alles gadegeslaan het, het saggies na ds Murray gestap en aan hom gesê: “Wees versigtig wat u doen; dit is die Gees van die HERE wat hier werk. Ek het so pas van Amerika af teruggekom en wat hier gebeur is presies wat ek daar met die herlewing gesien het.
“In ‘n ander deel van die gemeente op die plaas Aan De Doorns, het die Here ook so wonderlik gewerk.
“Daar was drie persone wat deur God gebruik was: Mnr Jan Naudé, seun van mnr Dawid Naudé, die eienaar van die plaas, mej. Van Blerk, ‘n susterskind van mnr Dawid Naudé, en ou Saul Pieterse, ‘n Bruinman wat bekend gestaan het as Saul die Profeet.
“Hierdie mense het vir ‘n baie lang tyd ernstig om herlewing gebid.
“Op ‘n sekere aand in hierdie tydperk het die Gees van die HERE sommer skielik op kragtige wyse onder die Bruinmense begin werk. Dit het so erg daaraan toegegaan dat mej. Van Blerk na buite gehardloop het om hulp te gaan soek.
“Sy moes hierna dorp toe weens haar fisiese afgematheid, maar na ‘n week was sy weer terug. Die Bruinmense het haar halfpad gaan ontmoet weens hulle dors na saligheid.
“Bidure was in die Naudé-woning elke maand volgens gewoonte gehou, maar toe begin die mense in die buurt die bidure toe te stroom en wat elders gebeur het, het ook hier gebeur. Die Gees het hom eenvoudig nie laat keer nie!
“Die biduurgangers was Blankes en Bruinmense. Daar was ‘n lieflike gees onder hulle. “Een aand het ds. Murray gekom en probeer om die mense tot “orde” te roep, maar net nadat hy gepraat en daar weer geleentheid vir gebed gegee was,  het die almal sommer oral in gebed en smeking om genade uitgebreek.
“Ou Saul spring toe op en sê aan ds Murray en mnr Naudé: Gooi nou die damwal as julle kan, waarmee hy honend bedoel het: Julle wil mos die Gees keer, doen dit nou as julle kan.
“Op die plaas het feitlik almal tot bekering gekom. Berigte van die Herlewing het versprei sodat mense met waens en motors van ander gemeentes na die plaas gekom het om dit te beleef het. En daar het menigeen vir die eerste keer die Lig gevind.
“Dit word vertel dat mense soms net wanneer hulle aan die deurknop geraak het, so deur God se Gees oortuig geraak het van sonde, dat hulle platgeval en uitgeroep het:

·       God, wees my arme sondaar genadig!

“Die boerdery moes drie maande lank gestaak word vanweë die toeloop van mense wat gehelp moes word. Hier het wyle ds Rabie ook vir God gevind en besluit om na die Kweekskool te gaan.
“Dit was wonderlike tye hierdie. Vrugte was wonderlik en blywend. Ander plekke waar die HERE ook lieflik gewerk het was Wellington en Calvinia. Lidmate van albei gemeentes wat in daardie stadium ook nie predikante gehad het nie, het die herlewing op  Montagu, besoek en so die herlewingsvuur na hul onderskeie dorpe teruggeneem.
“Waarlik, wanneer die HERE werk dan gebruik Hy diegene wat gewillig is om Hom geheel en al te vertrou en te gehoorsaam.
“Oor die herlewing op Graaff-Reinet, skryf Die Wekker van 1 Mei 1861: Kan u glo dat die opwekking werklik hier is en dat God se Gees waarlik uitgestort word op Graaff-Reinet? Ook hier was die kreet:

·       Wat moet ek doen om gered te word!

“Die Sondagaand na die Nagmaal het die HERE wonderlik gewerk. Spotters is deur die HERE getref toe hulle bloot uit nuuskierigheid daar aangekom het.
“Die biduur het vanaf Sondagaand  tot Dinsdag 12nm geduur en boere het die middag eers na hul plase teruggekeer.”
            Dan skrywe ds. Liebenberg: Dis is genoeg om u te laat verlang dat God in Sy teerste liefde ook vir ons in hierdie dae opnuut sal ontmoet op ‘n ewe kragtige wyse. En, o, hoe nodig is dit nie! Maar dan sal daar ‘n steeds groter wordende aantal bidders moet opstaan wat bereid sal wees om aan die voorwaardes te voldoen naamlik: Hulle sal moet opoffer en tyd maak vir gebed.
            Ons het ‘n soortgelykje herlewing vanaf 1970 to 1980 in Suid-Afrika beleef.
Die antwoord is om by bestaande gebedsvure aan te meld of om nuwes, ja, sommer in jou huis, te begin… vandag nog. Ons het ‘n Herlewing nodig, meer as ooit te vore. Hierdie keer gaan dit in SA begin en soos ‘n kragtige veldbrand deur die wêreld woed! Dit is wat Suid-Afrika so broodnodig het:  Verootmoediging, ‘n regmaak met God, en Herlewing!

Donderdag 20 April 2017

Die prys van ongehoorsaamheid.

Image result for die bybel

Ken jy vir Asa?

Van Asa moet jy eers gaan lees in 2 Kron hoofstukke 14 tot 16. Dis kort hoofstukke en dit lees maklik.
            Asa stap 35 jaar lank getrou en in grootse gehoorsaamheid die pad saam met God. Dis ‘n pad van enorme welslae.
Dan dop hy twee toetse na mekaar. Hy wend hom nie in gehoorsaamheid tot God nie, maar tot ander... en alles loop verkeerd.
            As Gelowige kan jy al die gawes hê, siele wen, suksesse een na die ander beleef... maar een ding, ongehoorsaamheid, sal jou beslis sink. Mens kom dit maklik agter tydens berading. Die persoon is in die moeilikheid juis oor ongehoorsaamheid.
            ‘n Gelowige kan nie sommer leef na eie keuses nie. Jesus sê: “Julle is my vriende as julle (let op) alles doen wat Ek julle beveel.” Joh 15:14        
            As mens werklik afsonder om die HERE se stem en opdragte te kan hoor en dit in volle gehoorsaamheid uitvoer, dan volg goedheid en guns ons.
            Die Bybel self is ook vol opdragte wat ons in gehoorsaamheid moet uitvoer, byvoorbeeld: “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.” Kol 3:19
            En: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die HERE welbehaaglik. Kol 3:20
            En: “Vaders, moenie julle kinders terg (moenie met hulle aanhou fout vind) nie, sodat hulle nie moedeloos word nie. Kol 3:21.
Daar is talle meer. Maak self die lys.
            Sal jy dit alles in volle gehoorsaamheid kan onderhou? Natuurlik want jy onderwerp jou aan die Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
            As mens tydens berading vra, dan sê mense nee, hulle ken nie vir Asa nie, weet niks van hom af nie. As mens vir hulle sê: “Wanneer ek so na jou storie luister, dan is jy ‘n Asa,” dan wil hulle gou alles oor Asa gaan lees... om in weemoed te erken: “Ja, ek is ongehoorsaam.”
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13

Liefde ongekend...


Image result for want so lief het god die wereld gehad

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” Joh 3:16-17
           Na alles volg Golgota.
           DIE vraag word allerweë gevra: Wie het Christus doodgemaak, die Romeine of die Jode?
          Christus gee self die antwoord in Joh. 10:17-18: “Daarom het die Vader my lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem.
          “Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit af uit Myself.  Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer op te neem.  Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.”
          Niemand sou die voorreg hê om Christus dood te maak nie.
          Lukas 23:46 lees:  “En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê :  “Vader, in U hande gee Ek my gees oor!  En toe Hy dit gesê het, blaas Hy sy laaste asem uit.”
          Mense het normaalweg 36 ure aan ‘n kruis gehang voordat hulle dood is.  Jesus het na ses ure besluit, Hy sterwe.
          So gaan 1 Kor. 15: 54-55 ook in vervulling: “Die dood is verslind in die oorwinning.  Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”
          Die Hoofman oor ‘n Honderd staan daardie oomblik voor Christus. Toe hy sien wat plaasvind bely hy :  “Waarlik, hierdie man is regverdig!”
          Saam hiermee word die waarheid oor die Ewige Lewe bevestig. Hemel of hel, daar is beslis ‘n Ewige Lewe. Oor waar mens die Ewigheid gaan deurbring is jou eie keuse.
          Paulus weet waar hy die Ewigheid gaan deurbring en sê in Rom. 8:38-39 “Wat ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of toekomstige dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel, my sal skei van die Liefde van God wat daar in Jesus Christus is nie!”
         As jy dit ook kan sê, loof ons die Here saam met jou.
         As jy dit nie kan sê nie, as jy nie daardie versekering het nie, dan moet jy dringend werk daarvan maak. Dit is jou lewe en jou toekoms.
         Die HERE sê in Joh. 1:9 “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, om ons nie net al ons sondes te vergewe nie, maar ons ook van alle ongeregtigheid te reinig.
         En jy wat reeds hierdie kragtige versekering het, bid saam met ons vir ‘n magtige Herlewing.
         As jy hierdie boodskap reeds tot by hierdie punt gelees het, dan moet jy besef dit is die Heilige Gees wat jou gedring het om tot hier te lees. Dan praat Hy met jou omdat hy jou lief het en dan verwag Hy reaksie van jou kant af!
        Jy moet jou saak met die HERE uitmaak want, die Liefde waarna aan die begin van hierdie skrywe verwys word, voltooi ‘n perfekte sirkel: Jesus sê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
       “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.” Joh 14:2-4          
       Hy stuur nie iemand nie, Hy kom ons self haal... binnekort.
       “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die HERE YAWEH!” Matt 23:39

Donderdag 13 April 2017

Die Werklikheid van die Pasga


Image result for pasga fees

“Daarna sê Hy vir Thomas: 'Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek hom in My sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.' En Thomas sê vir Hom: 'My HERE en my GOD!” Joh 20:27-28
            Thomas moes ontsettend geskrik het, nie vir gat in Jesus se sy nie, maar dat hy wat Thomas is dit ooit kon waag om aan Jesus te twyfel. Daarop roep hy uit: “My HERE en my GOD!”
            Die lieflike seëninge uit die hande van die lewende Heiland was nog nie die eiendom van Thomas nie.
Let op: Hy was 'n dissipel. Hy was 'n kind van God, 'n volgeling van Jesus, maar o weë,  sonder dat die blydskap en krag van die opgestane Jesus Christus deel van sy heilsbesit geword het.
Die werklikheid van Christus wat leef, het nog ontbreek. Daarom twyfel hy. Daarom sy swaarmoedigheid en ongeloof. So 'n dissipel kan vir Gods koninkryk maar min beteken. So 'n lewe mis die vreugde en die motivering wat spruit uit die vaste oortuiging: ek is tot alles in staat deur Jesus Christus wat my krag gee.
En jy? Hoe lank is jy al kind van God? En twyfel jy ook soos Thomas in Jesus en sy Genade en Liefde, in Sy groot omgee vir jou?
            Is jou lewe ‘n werklikheid. Jesus ken jou deur en deur, en jy, ken jy Hom? Het jy ‘n verhouding met Hom? Bely jy Jesus aan almal rondom jou?
            Die inspirerende vreugde van toewyding aan die triomferende Christus is onmisbaar vir 'n lewe van oorwinning. Lewe jy ONDER die omstandighede van hierdie lewe, of lewe jy Bo die omstandighede? Die vraag is absoluut relevant want ons is veronderstel om ‘n lewe van oorwinning te beleef.
Wat dikwels nog kortkom, is die belydenis: “My HERE en my GOD!”
Geen geloof wat by Goeie Vrydag vassteek, kan groei en tot diens wees nie. Die Pasga boodskap bring die voorwaartse mars, die uitgaan op die weë om genooides na die maaltyd van die hemelse Gasheer te bring.
Sonder die Paasboodskap was Thomas afwesig. Hy was uitgeskakel en onaktief. Hy ontbreek in die samekoms en vryheid van verlostes, want hy kon nog nie van harte sê: “My HERE en my GOD” nie. Leë kerkbanke getuig dat die Paasbesit ontbreek. Waar is die gemeente? By die see?
            Om te leef in die krag van Sy opstanding, te ly en te geniet, te volhard in die krag van Christus se triomf, om die intiem-persoonlike “My HERE en my GOD” te ken, te besit en uit te leef  –  dit is ware Christenskap!

Maandag 10 April 2017

Het jy ook jou Geloof in God Verloor?


Image result for Geloof

'n Seuntjie was op pad huis toe van die Sondagskool af. Hy was baie trots op die prentkaart, met die woorde: "Julle moet Geloof in God hê", wat hy by die Sondagskool gekry het. Op pad huis toe glip dié kosbare kaart uit sy hand uit en waai by die bus se oop venster uit.

            Ontsteld gil hy: "Ek het my Geloof in God verloor!" Die goeie busbestuurder stop dadelik die bus. Een van die groter seuns spring uit en gaan haal die kaart. Met 'n groot glimlag neem die seuntjie weer sy Geloof in God en hou dit styf vas.

            Hieroor het 'n persoon 'n waardevolle opmerking gemaak: "Iemand het dadelik geskreeu toe hy sy Geloof in God verloor het, 'n ander een het dadelik die bus gestop, en 'n derde een het dadelik opgetree om vir die eerste een sy Geloof in God terug te laat kry."

            So moedig Paulus ons ook aan om mekaar te ondersteun: "...as iemand in die een of ander sonde val, moet julle... so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp... Dra mekaar se laste..." Gal 1:1,2

            Die vinnig bewegende lewe, met allerlei dwarswinde, wat by allerlei oop vensters in waai, bedreig ons geloof in God. Het 2017 dalk al vir iemand se verhouding met God, skade gebring? Vra hulp, gee aandag, en help mekaar. Jesus het Sy dissipels gewaarsku: "Wees op julle hoede dat julle gees nie... deur die sorge van die lewe afgestomp word nie..." Luk 21:34

            "Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het." Hebr 10:23

Is jy Jesus...?


Image result for apples on a table

‘n Paar jaar gelede het ‘n groep verkoopsmanne ‘n streekskonferensie in Chicago bygewoon. Almal wou vroeg daardie Vrydagmiddag terug by die huis wees, betyds vir aandete saam met hul gesinne.
            In hulle haas by die lughawe om die vlug terug huis toe te haal, het hulle ‘n tafel raak geskop waarop die mooiste appels pragtig uitgestal was. Appels het die lughawe se vloer vol gerol.
            Hulle het nie gestop of teruggekyk nie, net gehol om nie die vliegtuig te verpas nie. Almal was betyds aan boord... almal behalwe een.
            Toe hy terugkyk, sien hy die meisie wat die appels verkoop se tafel lê onderstebo. Hy het vir kollegas gesê hulle moet maar vlieg, hy gaan eers terug om te sien wat hy aan die skade kan doen. Hulle moes net sy vrou bel en laat weet wat gebeur het. Hy sou met ‘n later vlug terugkeer.
            Die appels het oral deur die lughawe op die vloer gelê. Hy was bly toe hy by die 16-jarige meisie kom. Sy was blind. Sy het saggies gehuil. Trane het oor haar wangetjies gerol terwyl sy hulpeloos op die vloer mistas na appels. Die passasiers het deur die lughawe gestroom, maar niemand het haar gehelp nie, eerder die appels verder geskop.
            Die verkoopsman het op die vloer langs haar gekniel en appels bymekaar begin maak. In die proses sien hy baie van appels is te erg beskadig om weer te verkoop. Daardie appels het hy eenkant in ‘n ander mandjie gesit.        
            Toe alles opgetel was, het hy sy beursie uitgehaal en vir haar R500 gegee om te vergoed vir die skade. Hy wou weet of sy tevrede is en deur die trane het sy “ja” probeer sê. Hy het gesê: “Ai, ek hoop nie ons het jou dag te sleg gemaak nie,” omgedraai en gestap om ‘n vliegtuig te probeer haal.
            Toe hy begin wegstap roep die meisietjie agter hom aan: “Meneer!” Hy kyk vir ‘n tweede keer in haar verwilderde blinde ogies vol trane. Toe vra sy hom: “Is jy Jesus?”
            Hy het mooi met haar gepraat en gesê: “Nee, ek is glad nie soos Jesus nie. Jesus is liefdevol, Hy gee om, Hy is goed, Hy sou in die eerste plek nie jou tafel onderstebo geloop het nie.”
            Sy het haar koppie geknik en gesê: “Ek het maar net gevra want ek het gebid Jesus moet my asseblief kom help om die appels op te tel. Hy het vir oom gestuur omdat Jesus weet jy is nes Hy – net Jesus weet wie Sy wil sal uitvoer. Dankie dat oom Jesus se stem gehoor het.”
            Hy het gegroet en hierdie keer stadig weggestap, verdwaas. Op pad na vliegtuig en tydens die vlug, sny die vraag hom deur murg en been: “Is jy Jesus?”                                    Maak mense met my  en jou ook die “fout” om ons vir Jesus aan te sien? Die wêreld is blind vir Jesus se liefde, lewe en genade.
            As ons sê dat ons gered is, is ons soos Jesus? As ons Jesus regtig ken, dan sal ons soos Hy wees want ons is veronderstel om in Sy voetspore te volg.
            Dit baat nie ons ken Skriftuurplase  en ons is nie soos Hy nie. Ons is die appel van Sy oog, al is ons ook gekneus en stukkend van die val. Hy het ook gestop met wat Hy ook al mee besig was en ons as stukkende appels opgetel en op Golgota die prys daarvoor betaal.
            Is jy Jesus?

Donderdag 06 April 2017

Die HERE kan die regering se gedagtes verander…


Image result for April 22 its time angus


In Rigters 6:1 sê God aan Gideon: Maar, toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, het die HERE die kinders van Israel oorgegee in die hand van die Midianiete – sewe jaar lank!
            Sewe jaar lank! Dis mos nie nodig om langer vrae te vra nie. Ons eie situasie moet vir ons mos nou meer duidelik wees as ooit te vore.
            Dit lei geen twyfel nie dat die Skrif verwag dat die Christen hom moet onderwerp aan die Owerheid wat oor hom aangestel is.
            So, loof die HERE, bid vir die owerheid, dien die HERE. Alles is nog lank nie verlore nie. Dit lyk maar net so.
            Die prentjie word verder ingekleur wanneer God ons verbied om te vergeld. God sê dat Hy ‘n jaloerse God is en dat die wraak Hom (alleen) toekom.
            Met ander woorde, terwyl ons wraak wil neem met allerlei verset en optredes, staan God terug, want ons probeer doen wat God sê Sy eksklusiewe reg is. Die Christen moet sy verstand afskakel sodat hy kan hoor wat die Gees van God aan hom wil sê.
            Wanneer die HERE sê dat Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit ‘n opdrag wat eenvoudig uitgevoer moet(!) word, al lyk dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die land is nie, dan is dit heel waarskynlik omdat die Liggaam nie vir die regering bid nie.
            Daar is Christene wat die regering wil verkla by die Internasionale Menseregtekommissie, en by die VN en by ander internasionale liggame. Nie een van hierdie liggame is in beheer van die koning nie.
            In Bybelse dae had hulle nie regerings nie, maar konings. Wanneer die HERE dus ‘n koning aanspreek, spreek Hy ‘n regering aan. Die waarheid is dat die HERE enigiemand se gedagtes kan verander wanneer ons bid.
            Die HERE is in beheer van die koning. In Spreuke 21:1 lees ons: “Die koning (regering) se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil.”

·       Die nuwe vertaling lees: “Die HERE kan ‘n koning (regering) se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!
                  Die HERE het ook die gedagtes van John Newton, ‘n slawehandelaar, in die middel van die oseaan te midde van ‘n ontsettende stormsee verander.
                  Newton het die wedergeboorte deelagtig geword en sy skip vol slawe omgedraai en hulle in hul tuisland in Oos-Afrika gaan aflaai. Newton het later ‘n Presbiteriaanse predikant geword. Hy het teen die slawehandel begin preek en die Brtitse parlementslid William Wilberforce beïnvloed om die slawehandel in Brittanje en die kolonies af te skaf.
                  Newton het die lied “Amazing Grace” gekomponeer. Op sy sterfbed het hy gesê: “Ek is steeds in die land van die sterwendes, maar ek sal binnekort in die land van die lewendes wees.”
So, kom maar gerus jou plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer. Die waarheid is dat die Christendom in beheer van die wêreld is, en dit onder Leierskap van die Almagtige GOD.
            Luister wat sê Psalm 149 oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:
         
Halleluja! Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied,
Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
Laat Israel hom verheug in sy Maker;
Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
Laat hulle Sy naam loof in koordans,
Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
Want die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
Hy versier die ootmoediges met heil.
Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
Hoekom?
Om (sodoende) wraak uit te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
Hoekom?
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja!

“Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” Sag. 4:6. Jesus het aan die Kruis gebid: “Vader vergewe  hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dan bid ons ook so!
Dat die HERE op soek is na voorbidders maar hulle selde vind, word weerspieël in die pyn van Sy uitroep deur Jesaja:
            Die Vader het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussen bytree nie,”
            En sy teleurgestelde protes deur Esegiël:
            Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land…  maar Ek het niemand gevind nie.
Laat die Lofsange oor berg en dal aangerol kom!