Donderdag 06 April 2017

Wag – en weier om te Twyfel


Image result for moenie twyfel nie


Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed voort na
die einde en sal nie teleurstel nie. As dit dalk vertoef, wag daarvoor,
want alte seker sal dit kom en nie versuim nie. – Hab. 2:3

Op 22 April 2017 word ‘n Nasionale Biddag op die plaas Wilde Als digby Bloemfontein gehou. Die HERE gaan gevra word om in te gryp in Suid-Afrika en ‘n einde te maak aan die plaasaanvalle, die brutale moorde, verkragting, kindermishandeling en vele meer gruwels... om die land te normaliseer.
            Meer as ‘n miljoen Gelowiges word verwag, maar miljoene landwyd wat nie daar kan wees nie, sal ook saam bid van 12nm tot 2nm waar hulle ook al is.
            Vraag is: Sal die gebede beantwoord word? Ja beslis, maar daar is ook ‘n kans dat dit nie beantwoord sal word nie.
            In die boekie Expectation Corner van Adam Slowman wandel Slowman deur GOD se skatkamers.  Een van die skatkamers is die Vertraagde Seëninge Kantoor, waar GOD in Sy wysheid sekere dinge wat voor gebid word terughou tot op ‘n bestemde tyd.
            Dit neem baie van ons soms te lank om te besef dat vertraging nie weiering beteken nie.
            Baie van ons pluk ons seëninge nog groen in die mandjie, soms lank voordat dit ryp is.
            Jes. 30:18 …Welgeluksalig is almal wat op Hom wag
            Die HERE waak oor ons  struikelgang en Hy sal nooit toelaat dat ons bo ons kragte beproef word nie.
            Ons durf nie in Sy Liefde twyfel nie. Ons moet onsself ophef en Sy naam grootmaak in lofprysinge want die antwoorde en die oorvloed is beslis op pad.
            Jy was mos al op ‘n lughawe of treinstasie om ‘n kind of kennis op te haal en dan is daar ‘n vertraging van etlike ure en daai ure voel vir jou langer as ooit. Vandag is dit makliker wat hulle bel per selfoon en laat weet dit gaan goed en ons is beslis op pad. So kan ons vol vertroue op die HERE wag want vir seker gaan Hy antwoord. Ons hoef Hom nie te be; nie, glo net, dis al.
            Jes. 40:28-31 … Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
            En dan die aller belangrikste: Weier om te twyfel, want hy wat twyfel moenie dink dat (let op) hy iets van die HERE kan ontvang nie. Jak. 1:7. Twyfel sal enige gebed sink.
            Die werklikheid is dat die Christen geen keuse in ‘n aangeleentheid moet hê as suiwer om positief te bly en op God te vertrou nie.
            Die teenkant van die saak is dat as ons nie positief bly en God 100% vertrou nie, dan twyfel ons en dan kan ons niks – nie eers iets nie – van die HERE verwag nie.
            Ons bid dan en vra God se wil.  Hy kan nee sê of Hy mag ja sê.  Die belangrikste daarna is God se tyd skedule.  As dit Sy wil is sal Hy sy Woord gestand doen en die antwoord gee.  Vir seker!
            As ons egter intussen begin twyfel, dan gebeur niks want God laat hom nie bespot nie.  Of ons glo en vertrou Hom as ‘n waarmaker van sy Woord, of ons bevraagteken Hom of ons twyfel.
            Besluit nou en besluit finaal:  Ek gaan God vertrou, ek gaan nooit weer twyfel nie!