Sondag 26 Maart 2017

Verwagting:- Dit gaan weer gebeur!


Image result for Vrou raak aan Jesus se kleed en genees

In Mattheus word ‘n vrou genees nadat sy aan Jesus se kleed geraak het. Jesus self het erken dat sy genees is.

            Skriftuurlik was haar genesing nie moontlik nie. Sy kon op geen Bybelse strofe staatmaak nie. Daar het niks in die Skrif bestaan oor Jesus se kleed nie, en hoekom sou daar? ‘n Kleed is ‘n kleed. Dit het niks met genesing te doen nie. Daar staan wel geskryf: “... niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Matt 17:20; Matt 19:26
“Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.” Matt 9:22. Daar staan baie in die Skrif oor geloof, maar niks oor Jesus se kleed nie.
            En kyk hierna: “En daar is meer en meer Gelowiges in die HERE bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee wat op iemand van hulle sou val.
            Ons is op die vooraand van ‘n magtige Herlewing wat sal bestaan uit gevallenes wat na die HERE terugkeer, Wedergeboortes en wonderwerke.
“En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.” Hand 5:14-17
Dit moes darem maar erg gelyk het, byna soos ‘n oorlogsone: “… sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, (waarom?) met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee wat op iemand van hulle sou val.
            Die aanvaarbare manier vir genesing volgens die Skrif, is om die sieke te seën met olyfolie en die hande op te lê.
            Maar kyk nou hierna: “En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.”
            Voordat doeke en voorskote in hierdie geval in die prentjie gekom het, was daar geen Skrif of lering dat so iets gedoen kan word en of dit ooit moontlik kon wees nie.
            Op ‘n dag spuug Jesus in die grond en maak bietjie modder wat hy aan ‘n blinde man se oë smeer en hom stuur om sy oë in die Bad van Siloam te gaan was.
            As die blinde dit nie gedoen het nie, of as hy sy gesig op ‘n ander plek gaan was het, sou hy nie gesien het nie. Hy moes ook gehoorsaamheid leer.
            In Lukas is die verhaal van die blinde man van Jerigo. Hy het genesing versoek en Jesus het gesê: “Jy sien,” en toe sien hy.
            As die twee blindes mekaar eendag sou ontmoet het en die een het van sy modderstorie en die Bad van Siloam vertel, sou die ander sy storie vertel het en die twee sou waarskynlik aan die stry geraak het oor wie is deur wie genees, en net daar sou ons die eerste kerkskeuring beleef het.
            God is soewerein. Sy liefde oorheers alles. Hy sal help, altyd, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Al bestaan daar nie Skrif voor nie, God sê Hy kyk nie na wat ons doen nie, maar hy kyk na die motief van ons hart.
            Bid ernstig vir 22 April se massa Dag van Gebed om 2nm op die plaas “Wilde Als” digby Bloemfontein.
·       Dit word versoek dat alle kerke in die dorpe en stede daardie Saterdagmiddag sal oop wees sodat almal wat nie die
reis na Bloemfontein kan onderneem nie, presies om 2nm in hul kerke sal begin bid. Die hele volk word opgeroep.
“Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.
Die een geslag prys U werke by die ander, en hulle verkondig U magtige dade.
Ek wil spreek van die glans van U heerlike majesteit en van U wonderbare dade.” Ps 145:3-5
Charles Finney sê oor Oorwinnende gebed: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” Jak. 5: 16