Sondag 12 Maart 2017

Die volgende Wêreldwye Herlewing begin straks in Suid-Afrika


Dag Hammerskjold, voormalige Sekretaris-generaal van die VN, het kort voordat hy op 18 September 1961 in ‘n vliegramp in die Kongo gesterf het, gesê:
            “Ek sien geen hoop vir die wêreld nie. Ons het so hard probeer en so tragies misluk. Tensy die wêreld in die volgende paar jaar ‘n geestelike hergeboorte ondergaan, is ons verlore.”
            Daardie hergeboorte waarvan Hammerskjold na verwys het, is net in en deur Jesus Christus te vinde! Bid ernstig vir Herlewing.
 
         
Dag Hammerskjold, voormalige Sekretaris-generaal van die VN

Een oggend, vroeg in 1970 in WIlmore, Kentucky, sonder enige vooraf waarskuwing het ‘n geestelike wolkbreuk vanuit die Hemel die kampus van Asbury Kollege getref.
            Dit sou die gewone kapeldiens om 10vm gewees het. Die diens wat normaalweg 50min duur, het dag en nag dwarsdeur vir 185 uur aangehou. Uiteindelik het dit daarvandaan deur die VSA versprei en verder en verder tot in Suid-Afrika.
            Dis vanjaar 47 jaar gelede wat daardie magtige Charismatiese Herlewing uitgebreek het. Dit het tien later ten einde geloop. ‘n Nuwe Herlewing, wat waarskynlik die laaste gaan wees voor die Wegraping, is op hande. Die eerste druppels val al. Oral in SA word mense gered.
            Die laaste Herlewing, die grootste in die geskiedenis van die wêreld, kan maklik in SA ontstaan en hiervandaan wêreldwyd versprei. Die nuwe Herlewing gaan veel groter wees as die een van 1970. Koffiefontein in die Vrystaat beleef ook reeds die eerste druppels. Dit het met vier mense begin en nou 2½ jaar later is meer as 300 mense gered.
            Nou, 47 jaar later het die lewe soos ons dit geken het, dramaties en ook traumaties verander. Al die tekens is daar dat die Koms van die HERE voor die deur is. Ons staan  op die vooraand van die groot geestelike Herlewing in menseheugenis. Dit word ook genoem die Laatreëns.
            ‘n Terroriste revolusie spoel oor die aarde met Christene wat op grusame wyses vermoor word. Die wêreld word gekenmerk aan revolusie. Daar is oorlog in 67 lande van die wêreld, met altesame 747 gorilla-. terroriste- en militêre magte wat daaraan deelneem. Christene word wreed vervolg in 50 lande van die wêreld.
            Ons sit vrolik in die kerkbanke terwyl die wêreld brand. Die wêreld dreig om te disintegreer. Op talle plekke het dit reeds gedisintegreer… daar is geen sedelike norme meer nie, geen dissipline meer nie.
            Miljoene Christene en ander vlug voor die geweld oor die wêreld heen. Talle lande sit met kernwapens, genoeg om die wêreld drie keer te vernietig.        
Die kenmerke van ‘n Revolusionêr is, hy is toegewyd. Sy eie belange, alle besittings en gevoelens bestaan nie. Sy hele wêreld is vasgevang in ‘n enkele eksklusiewe belang, in een gedagte en een passie – die revolusie! Hy sal sterf vir die revolusie.
            Hierdie kwaliteit van toewyding het nie by die kommunis of die Islamitiese Staat ontstaan nie. Dit was Jesus Christus wat gesê het: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.
            “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” Matt 16:24-25
            Al wat die Islamitiese Staat doen is om Jesus se revolusionêre beleid vir hul eie ideologie aan te wend. Hulle hang dus ‘n vals godsdiens aan.
            Die revolusie wat Jesus begin het, is vandag nog steeds die grootste en omvangrykste, met die Bybel steeds die grootste verkoper.
            Ons het vasgevang geraak in aardse besittings, eie belang... so erg dat die Bybel in hierdie dae praat van die groot afval as een van die eind tekens voor die Wederkoms. Die vakuum wat ons optrede laat ontstaan het, word nou gevul deur die ideologie, die valse ideologie, van ander revolusionêre.
            Rondom ons is ‘n wêreld wat oorloop van stukkende mense, stukkend weens onkunde. Ons loop verby die tronke en die hospitale en die boemelaars.
            Sommige van ons het sy ryk geword, ons leef asof vir altyd hier gaan wees. Dis nie so nie. Elkeen van ons het ‘n finale afspraak.
            Die jaar 2017 het begin. Wat jy ook al vir 2017 beplan het, by een lewensbelangrike vraag kan jy nie verbykom nie: Wat gaan jy in 2017 vir God doen —  ‘n opdrag wat jy nie durf ontduik nie.
            God het in elke Wedergeborene die gees van ‘n pionier geplaas — ‘n eindelose revolusionêre geestelike onrus wat met ‘n stormsee vergelyk kan word.
            Dis ‘n honger na geregtigheid om die Groot Taak te volbring!
            As jy jou daarop beroem dat jy ‘n Christen is, dan vereis die HERE dat jy Hom dien. Jy is een van die werkers wat die Koninkryk moet help bou.
            Te veel mense wat hulle op hulle Christenskap beroem wag vir die Wederkoms, vir beter dae, murmureer en is tevrede met die krummels wat van die tafel afval.
            Hulle sit en wag vir ‘n “nuwe openbaring” in plaas daarvan om lampe op te steek, ‘n pad deur die duisternis oop te dwing met aggressiewe gebed, of Christus se kleed te gryp en nie te laat los nie, nie voordat hulle nie genees is en weer op oorwinningsgrond staan nie.
            Hulle wag vir ‘n geestelike Moses om op die toneel te verskyn. Ander wag vir Elia, in plaas daarvan om self tot die stryd toe te tree met ‘n salwing van doel en einddoel, met ‘n gees van eindelose revolusionêre geestelike onrus soos wat ons geestelike vaders had.
            Die Koninkryk van God word gekenmerk aan: Inval, oorwin, onderwerp, verander, verklaar, aankondig, herstel, bevestig, hervorm, vestig, verdeel, onthul, verkry en in besit neem. Oorwinning!
            Te veel Christene lewe in die verlede. Hulle borduur gereeld aan ekstatiese oomblikke van die verlede en regverdig so hulle louheid.
            Hulle durf nie nuwe grondgebied aan deur God se teenwoordigheid en in gehoorsaamheid, ware onderwerping, geestelike groei en nuwe verhoudinge nie. Hulle het lou geword.
            Sommige van diegene wat dit op die vooruitstrewende pad waag, doen dit in huiwering en nie in oortuiging nie en let gedurig op by watter uitgange hulle moontlik hul pligte kan ontvlug.
“Ag, as U maar die Hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor U aangesig – soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel – om u Naam aan U teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor U aangesig kan bewe wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie – as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig!
“Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.” Jes. 64:1-4.
            God soek na ‘n geslag wat die liedere van Sion kan sing, ‘n geslag van pioniers. Pioniers dien nie God met bemiddeldheid nie, hulle dien Hom voluit. Hulle laat geen hindernis langs die pad hulle onderkry nie.
            Pioniers skep nie vir hulself ‘n afgebakende gebied nie en hulle steur hulle nie aan die hol geklank van menslike murmurering wat vra: Waar is die belofte van sy verlossing nie?
            Pioniers sing nie liedere van treurmare en verdriet nie, hulle sing die liedere van Sion! Hulle is belas met ‘n eindelose revolusionêre geestelike onrus, ‘n onrus wat nie tot ruste sal kom voordat God se geregtigheid nie oor die aarde seëvier nie!
            “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink.
            “Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons, ons siters opgehang.
“Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ‘n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons ‘n Sionslied.
“Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in ‘n vreemde land?
“As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet!
“Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.” Ps. 137:1-6
            Dis tyd vir die Volk van God om op te staan want oor die aarde heen word ‘n opmars van die duisternis beleef wat alles sal verswelg as ons nie in die bres gaan staan nie, en dit doen ons met die wete dat die Lig die duisternis sàl verdryf!
            Op die vlaktes van huiwering, is die beendere van ‘n ontelbare menigte besig om te verbleik, omdat hulle op die drumpel van hulle oorwinning, gaan sit het om te rus, en terwyl hulle gerus het, het hulle versleg en gesterf.        
            Een van die natuurwette is dat as mens nie gesond eet en genoeg oefening kry nie, dan sal jy ook inderdaad versleg en vroegtydig sterf.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Heb. 12:12-13.
            Dis tyd om op te staan! Ons is die geslag wat na vore moet tree met ‘n nuwe lied, ‘n brandende revolusionêre passie vir heiligheid om:

•          Die Blye Boodskap te bring aan die ootmoediges
•          Om die gebrokenes van hart te verbind
•          Om vir die gevangenis vrylating uit te roep
•          Om uit te roep ‘n jaar van welbehae van die HERE en ‘n dag van wraak van onse God
•          Om al die treurendes te troos
•          Om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word: Sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid en ‘n Gewaad van lof vir ‘n verslae gees sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot Sy verheerliking
•          Ons sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.

Laat die Wedergeborenes opstaan en vorentoe beweeg met ‘n juigkreet en gejubel soos in Voorwaarts Christenstryders. Laat ons die siele in ons huise, ons gemeenskappe en in ons dorpe en stede vir die Koninkryk opeis. Laat ons huwelike en gesinslewe weer vir die HERE ‘n sieraad wees, die gemeentes ‘n plek waar die verbryseldes verbind, getroos en vernuwe kan word.
“Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is, wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie; want die mot sal hulle opeet soos ‘n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my heil van geslag tot geslag.
            “Ontwaak, ontwaak, beklee U met sterkte, arm van die HERE! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie U wat Rahab neergekap, wat die seemonster deurboor het nie?
            “Is dit nie U wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see ‘n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie?
“So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg. Jes. 51:7-12.
Werk...  want die nag is op ons.
Bid ook vir die groot Christen Volksaamtrek op  22 April 2017 by Bloemfontein.