Sondag 26 Maart 2017

Gees se gawes laat vrug van Gees groei


Image result for gawes van die heilige gees

Genadiglik het elke Christengelowige verskillende en afsonderlike genadegawes van die Heilige Gees ontvang.
            Die klem lê op die genade van die gawes. Soms ontvang een persoon meer, of minder, gawes as ’n ander.

            Baie kere beskik baie van ons oor dieselfde gawes – alles geskenke uit die hand van God. Gawes wat strek van wysheid, die mate van geloof, onderskeidingsvermoë, tot die vermoë om in tale te kan praat en om dit uit te lê, om wonders te kan doen.

            Gawes wat deur die Heilige Gees aan ons uitgedeel is soos wat Hy (die Heilige Gees) dit goedgedink het. Gawes wat Hý aan ons individueel en afsonderlik gegee het om geestelik reg te kan funksioneer.

            Tog moet ons nie die gawes met die vrug van die Gees verwar nie. Dit wat vanuit hierdie verskeidenheid gawes uitvloei, is die vrug van die Gees.

            Waar die gawes onder gelowiges verdeel word, is al nege aspekte wat die vrug vorm – die een kan nie sonder die ander nie – deel van elke Christengelowige. Hoe meer ons die gawes gebruik, hoe groter en ryper en voller sal die vrug wees.

            ’n Lewe vol van die Heilige Gees vertoon die vrug van die Gees waar liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing sigbaar uitgeleef word.

            Daarom gebruik die Heilige Gees ons gawes om die vrug te laat groei. Dit is as’t ware die oes op die gawes.

            Laat elkeen dan ons gawes gebruik om die vrug te dra, want ’n boom sal aan sy vrug(te) geken word . . . – Ds Johannes de Bruyn, GK, Harrismith