Sondag 26 Maart 2017

Gered deur een letter


Lady Huttington was 'n Christenvrou. Tydens 19e eeu  se Herlewing in Engeland, was sy 'n beroemde vrou. Een dag vra iemand haar, hoe het dit gekom, dat sy wat so 'n hooggeplaaste en bekende vrou is, tot bekering gekom het.

 

Haar antwoord: "Deur een letter." "Deur één letter! Hoe was dit?"

Sy glimlag. "Ja. In die Here se Woord, by 1 Kor 1:26, het ek gelees: 'Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie...'"

Die Engelse vertaling: "For see your calling, brethern, how that not many wise men after the flesh, not many mighty, not many noble, are called..."

Sy het verduidelik: "It says: 'Not many noble are called. That 'm' saved my soul; for if He had said: 'Not any noble,' I must have been damned. So God blessed the little letter 'm' before any to the salvation of my soul.'"

            Ja, dit sou 'n verdoemende woord gewees het as daar gestaan het, "not any", dit wil sê "geen" invloedrykes, is geroep nie. In geen posisie of toestand, of dit hoog of laag is, niemand word uitgesluit van die verlossingsboodskap van Christus nie.

            Richard Baxter het geskryf: "Ek is bly die HERE het gesê elkeen wat Hom aanneem sal gerede word. As Hy gesê het Richard Baxter, sou ek gedink het Hy verwys na ‘n ander Richard Baxter, maar wanneer sê elkeen, dan sluit dit my, die slegste van al die Baxters, ook in.”

            Niemand is te gering om by Jesus welkom te wees nie. Hy het almal ontvang. Hyself is laer as enige ander mens gebore. Gebore in 'n stal en Sy wiegie 'n krip. Hy het laer as enige ander mens gesterf. As misdadiger sterf Hy tussen twee rowers aan 'n kruis.

            Oor Homself het Hy gesê: "Ek is sagmoedig en nederig van hart." Matt 11:29. En tog is Hy ook Koning op Sy Hemelse troon.

            Iemand sê nou anderdag: “Jesus sal my nie wil hê nie, ek het te veel sonde.”

            “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Jes 1:18