Sondag 12 Maart 2017

As ons struikel, of selfs val


Image result for someone falling down

Wanneer mens as Christen struikel, en selfs te val, is ‘n ander Christen veronderstel om jou op te help, maar in Suid-Afrika en seker elders ook, moet jy nie durf struikel of val nie want ander sogenaamde Christene is gou by om jou te skop en te vertrap. Dit moet veral nie gebeur dat iemand van aansien, soos ‘n predikant, ‘n skoolhoof, sakeman, struikel en val nie.
            “Wat gebeur wanneer ‘n Christen sondig?” Die Bybel leer in 1 Joh 1:8-9 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
As Christene kan dit gebeur dat ons struikel en uiteindelik sondig. Wat ons verskillend maak van die tydperk voor ons Wedergeboorte, is dat ons nou ‘n nuwe natuur het. Dit grief ons om te sondig. Ons wil nie sondig nie. Ons wil ‘n lewe van geregtigheid lewe, maar wat gebeur wanneer ons tog sondig?
Moet ons nou weer gered word? Is dit wat die Bybel leer? As dit so is dan het ons geen sekuriteit nie, en in sommige gevalle sou ons erger daaraan toe wees as die wêreld. Ten minste word die wêreld nie gefolter deur ‘n sonde gewete nie.
As gelowiges is sonde nie ons fokus van belangstelling nie. Heb 10:2 lees dat deur die offer van Jesus die Gelowige  geen bewussyn meer van sondes moet hê nie. Met ander woorde, sonde moet nie die fokuspunt in ons lewens wees nie. God moet ons fokus wees.
            Rom 4:2 lees “Want as Abraham uit die werke geregverdig[regverdig verklaar is] is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie.”
As die saligheid gebaseer was op meriete, die dinge wat ons doen, dan sou ons kon spog. Ons sou kon sê, “HERE, ek waardeer werklik wat U aan die kruis gedoen het, maar onthou tog die dinge wat ek gedoen het!”
God het die saligheid op so ‘n wyse ingestel dat daar spogtery of glorie vir die mens sou wees nie. Die enigste spogtery en glorie is die van Jesus Christus, aldus Rom 3:27. Die geskenk van die Ewige Lewe is inderdaad ‘n geskenk en kan nie verdien word nie. Rom 6:23
            Rom 4:2 sê dat as Abraham deur sy eie aksies geregverdig sou word, dan sou hy rede had om te kon spog, maar dit is nie wat gebeur het nie.
Hoe sê die Skrif word iemand gered? Deur sy eie optrede, deur sy eie werke? Was dit oor dinge wat hy gedoen het of nie gedoen het nie, of is dit eenvoudig omdat hy geglo en vertrou het of God deur geloof?
Die Bybel sê in Rom 4:3 “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.” Wat is my behoud en verhoed dat ek vergaan, al sou daar ook kere wees dat ek faal? Dit is dat Jesus al my sonde op die kruis gedra het deur my geloof in Hom (en nie my eie werke nie) is ek geregverdig (Regverdig gemaak voor God)
            Rom 4:6 lees “Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke.” Dawid van die Ou Testament sê daar sal ‘n dag kom deur ‘n nuwe verbond wanneer God geregtigheid sal gee sonder dat die mens daarvoor gewerk het.
Dan sê hy in strofe 7 “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.” Dit is die sleutel: “Welgeluksalig is die man aan wie die HERE die sonde nie toereken nie.” Dit sê nie dat Hy dit dalk, of dalk wel nie toereken nie. Dit sê “Welgeluksalig is die man aan wie die HERE die sonde nie toereken nie.” Dit is wat in die Grieks genoem word as ‘n uitdruklike negatief. Let op: Dit sê God sal nooit, nooit ooit, sonde op ons rekening plaas nie. Dit is die Goeie Nuus van die Nuwe Verbond!
            Heb 10:16 lees “ Want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe.. en deel van die ooreenkoms is strofe 17 “en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” Wat laat jou standhou in geregtigheid en in die regte verhouding, al sou jy ook sondig en nie geleentheid kry om dit te bely nie? Jou geloof in Jesus Christus. Sy naam is Jesus en Hy red mense van hul sondes. Matt 1:21
“En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
“ Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!
“Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.
“Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.” Matt 7:3-6 (ook Matt 24:10; Rom 14:12-13)
“Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy 'n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.” Jak 3:2
Om ‘n Christen te wees, is om te groei in heiligmaking. Niemand skryf matriek sonder om by Graad R te begin nie. Uiteindelik is dit moontlik om nie meer te struikel nie: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” 2 Pet 1:10