Wys tans plasings met die etiket all directories. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket all directories. Wys alle plasings

Vrydag 19 Junie 2020

Die verskil tussen Mag en Gesag

In heelwat lande van die wêreld is politieke leiers onbevoeg om met gesag (outoriteit) te regeer en regeer hulle met mag. Hulle staan bekend as diktators.

            Diktators kry mens oral... in die werkplekke, in die kerke, selfs tot in ons huise.

            Mag behels nie gesag nie, maar gesag behels mag. “En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees.”
Luk 9:1

            Met mag alleen sou hulle sending nie slaag nie, maar met “gesag” – wat ook “mag” behels – sou hulle slaag... en hulle het ook.

            In die werkplek slaag die leier wat met gesag sy pligte uitvoer en delegeer. Sulke leiers, wat as gevolg van hul leierskap en gesag ook mag het, vaar 100% beter as daardie leiers wat uitsluitlik met mag hul leierskap wil laat geld.

            In die Weermagte van die wêreld het soldate die hoogste agting vir ‘n leier met gesag. Hulle wil ook graag sy bevele uitvoer.

Diegene van ons wie se lewenspad daarlangs geloop het, kon altyd onderskei tussen, wat ons genoem het “ware” leiers en magsbehepte leiers.

So vind mens ook veral pa’s wat hul gesinne met “mag” pleks van met “gesag” hanteer, meesal bloot omdat hulle nie van beter weet nie.  Daarom skaar ons, ons by diegene wat geslagsonderrig op skole wil vervang met gesinsonderrig.

As ‘n beduiwelde renoster ‘n pragtige restaurant binne storm, gaan hy baie skade aanrig, maar hy sal uiteindelik die pad moet vat want hy het geen gesag in die restaurant nie.

Meeste mense, weens ‘n gebrek aan opleiding, verwar die gesag van mag met die mag van gesag.

Richard Nixon had na Watergate nog vir ‘n kort rukkie, politieke mag as President van Amerika, maar sy gesag was daarmee heen.

Abraham Lincoln had enorme gesag, maar hy het telkens gefaal wanneer hy die mag wat sy pos behels het, moes toepas.

Die magsbehepte leier se onderdane steun hom, bly selfs getrou aan hom, maar uit vrees. Hulle kan maklik hulle pos kwyt wees of selfs met hulle lewe boet.

Die leier wat met gesag regeer se onderdane steun hom en bly getrou aan hom weens die agting wat hulle vir die leier en sy  gesag het. Hulle is trots op hulle leier, staan by hom, verdedig hom en help net waar hulle kan om sy taak ligter te maak.

Hierdie leier openbaar ook ‘n liefdevolle sagte kant. Sy onderdane leer hom ken as iemand wat omgee, wat liefde vir sy mense openbaar.

Jesus Christus het herhaaldelik sy eie spesiale graad van mag van gesag, openbaar. Hy het niks op iemand afgedwing nie, maar sy gesag so beoefen dat mense graag op sy voorstelle wou reageer, graag intense volgelinge wou wees.

Wanneer Jesus ‘n onreine gees in ‘n sinagoge uit ‘n man uitdryf, aanskou almal die mag van die oomblik... en dan vra hulle: “Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met ‘gesag’ ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? Mark 1:27

Die leier met gesag is ‘n sterk voorstander van reg en geregtigheid, nogtans openbaar hy ‘n Jesus-omgee. Die vrou wat betrap is  in ‘n daad van owerspel, moet gestenig word. Dis wat die wet gesê het en die manne met die mag, wou die wet uitvoer.

Dan kom die man met die gesag en sê; As enige van julle sonder sonde is, werp die eerste klip. Hulle het almal weggegaan.

En Jesus sê aan haar, jou sonde is jou vergewe, gaan, en sondig nie weer nie.

Ek en jy het die gesag en opdrag van Jesus ontvang: “Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” Matt 10:8

Diegene wat nie belangstel nie, dit sal hulle fout wees, maar as ek en jy die opdrag nie uitvoer nie, dan sal dit ons fout wees. Eseg 3:18-20

Die Wegraping is hopeloos te naby om foute te maak. Gryp die oomblik aan. Hy kom om sy Bruid te kom haal. Maak seker ons lampe is vol olie. – Wekroep

Maandag 18 November 2019

Nog ses maande, dan hongersnood...


Suid-Afrika is deel van 16 Suider Afrikalande  wat onder ‘n alles vernietigende droogte deurloop. By 400 Noord-Kaapse boere sit die wolf reeds voor die deur. Die droogte is by verre groter as wat vermoed was. Mens en dier kan nie sonder kos en water oorleef nie.


            Elise Tempelhoff van NETWERK24 berig: Altesame  45 miljoen mense in Suider-Afrika sal binne die volgende ses maande honger ly.

            Dít word toegeskryf aan die veranderende klimaat. So het die VN se Voedsel-en-landbou¬organisasie (FAO) en die Wêreldvoedselprogram (WFP) drie weke gelede gister in ’n gesamentlike verklaring gesê.

So wag die wolf voor die deur. Dis baie laat...

Volgens die FAO gaan ’n rekordgetal mense in die 16 lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap binnekort “ernstige kostekort” ervaar.

“Daar is nou sowat 11 miljoen mense in nege lande in hierdie streek wat honger ly en ’n krisis ervaar met toegang tot kos. Dié mense woon in Angola, Zimbabwe, Mosambiek, Zambië, Madagaskar, Malawi, Namibië, eSwatini (voorheen Swaziland) en Lesotho.

Die organisasies het ’n dringende beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om finansiering beskikbaar te stel en te help om “klimaatskokke” in dié streek die hoof te bied en gemeenskappe te help om dit te weerstaan.

Margaret Malu, die WFP se waarnemende streekdirekteur vir Suider-Afrika, sê dié streek ervaar nou die ergste droogte in 35 jaar terwyl die plantseisoen reeds begin het.

“Ons moet die honger van miljoene mense probeer afweer, maar ook in gemeenskappe belê om weerstand te kan bied teen meer en erger droogtes, vloede en storms,” sê sy.

Sy wys daarop dat klimaatsverandering chaos veroorsaak in ’n streek waar groot en kleiner boere geheel en al van reën afhanklik is. Die groeiende probleem met honger, wat sowel stedelike as landelike gemeenskappe ervaar, word vererger deur stygende kospryse, grootskaalse verliese aan vee en toenemende werkloosheid.

Die VN sê in die verklaring die FAO en die WFP het hul pogings om in te gryp verskerp en beplan om 11 miljoen mense met kos, asook beter boerderymetodes en water- en grondgebruik by te staan. Die organisasie is tans ook besig om boere se vee teen siektes in te ent.

“Die reën wat te laat kom, lang droogtes, twee massiewe siklone en ekonomiese uitdagings is ’n resep vir ’n ramp,” sê Alain Onibon, die FAO se koördineerder in Suider-Afrika.

Volgens hom sal dit boerderygemeenskappe minstens twee tot drie goeie groeiseisoene neem om weer op die been te kom.

Luidens die verklaring styg Suider-Afrika se temperature tans twee keer vinniger as die internasionale gemiddelde en die lande wat die hardste getref gaan word, is die Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe.

Waar lê die oplossing. Hoegemaak dat dit begin reën soos in vanmelewe se tyd: Tien dae sonder ophou?

Ons murmureer, ons bid so swaarmoedig.        Alles ten spyt moet ons soos Habakuk maak en jubel.  Habakuk sê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

            “Die HERE God is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 17-19

            Ten spyte van wat ook al, jubel Habakuk. Hy was altyd bly. Hy het nooit murmureer nie.

            Altyd beteken presies wat dit sê soos in: Wees altyd bly.

Dog, hoe is mens bly en dankbaar wanneer daar fout is, wanneer dinge verkeerd loop, wanneer jy onrustig is, of seer het of hartseer is? Kyk verby al hierdie seer. Waarde lê in die toekoms.

            Eenvoudig, ons is bly omdat ons weet dat wat ons omstandighede ook al is, die Almagtige God, ons God, het reeds die antwoord.

            “Wees altyddeur bly.

            “Bid en Jubel sonder ophou.

            “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”
1 Thes 5:16-18

            Dalk moet alle gemeentes die preke vir ‘n tyd lank op Sondae stop en die hele diens gebruik in lofprysinge, aanbidding en gebed, dalk ook sommer daar op die dorre plase.  Waar twee of drie in Sy naam vergader, daar is Hy. Verwelkom Hom met ‘n vreugdekreet en jubelende sang vergesel deur musiekinstrumente. – Wekroep

Donderdag 31 Oktober 2019

Massa doopdiens ‘n rekord vir Thailandse Herlewing –

516 nuwe Huiskerke gestig


Op 6 Oktober 2019 is 630 nuwe Gelowiges tydens ‘n enkele diens in Thailand gedoop. Die doopseremonie is deel van ‘n kerkplanting na 13 432 Wedergeboortes. Daar was dusver altesame 5 204 Gelowiges gedoop en 516 nuwe Huisgemeentes gestig.

Dit vestig opnuut die aandag op Huiskerke.

Die wêreldbekende Evangelis, Billy Graham het tydens ‘n groot diens in 1965 gesê: “Multitudes of Christians within the church are moving toward the point where they may reject the institution that we call the church. They are beginning to turn to more simplified forms of worship. They are hungry for a personal and vital experience with Jesus Christ. They want a heartwarming personal faith. Unless the church quickly recovers its authoritative Biblical message, we may witness the spectacle of millions of Christians going outside the institutional church to find spiritual food.”

            Graham is verlede jaar op 99-jarige ouderdom na die Hemel. Sy profesie het reeds waar gekom… huiskerke het reg oor die wêreld, ook in Suid-Afrika, soos blombeddings ontstaan. Hier is selfs groot getalle Sjinese huiskerke in Suid-Afrika.

            In Julie 2014 dra NETWERK24 ‘n berig: Huisgemeentes floreer wêreldwyd. Ene George Lewis se brief hierop lees: “’n oorweldigende suiwering waar God in gees en waarheid aanbid word, is besig om plaas te vind. Huisgemeentes is besig om wêreldwyd te floreer – weg van formalistiese rituele waar die mense se eer pleks van God se eer gesoek word.

Te lank is die Woord van God gemanipuleer om magsbasisse vir mense en regerings te skep. Die enigste ware leermeester is die Heilige Gees en sy handboek is die onvervalste Woord van God. En dit is vir almal, op enige plek, toeganklik.”

            Brief aan Filemon: “Die gemeente wat in jou huis is." Fil strofe 2. Hierdie brief het vir ons bewaar gebly uit die private korrespondensie van Paulus. Dis 'n persoonlike brief wat die lieflike verhouding van Paulus teenoor Filemon verbeeld.

            “Die gemeente in jou huis.” Dit beteken dat Filemon 'n Christen was en dat sy huis 'n Christelike huis was. Die Christelike lewe in sy huis was sodanig dat daar na 'n gemeente in sy huis verwys was. Sy hele huis en moontlike besoekers was volgelinge van Christus lede van hierdie huisgemeente. Huiskerke of -gemeentes was die norm in die Bybel se tye.

            Die hoof van die gesin is pa, maar as hoof van die gemeente is hy God se Hoë Priester. Die HERE hou hom verantwoordelik vir elke lid van die gesin. Die huiskerk moet God lief hê met hul hele hart, gees en siel en hul naaste soos hulself.

Die huiskerk aanbid in Gees en in Waarheid en gemeentes kruis bestuif mekaar. Huiskerke gebruik gereeld Nagmaal… “Want so (Let op) dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Messias totdat Hy kom. “ 1 Kor 11:26

            So is daar ook vroue wat die leiding neem: “Die gemeentes van Asië groet julle. Aquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die HERE.” 1 Kor 11:26. Dan is daar: “Groet die broeders in Laodicéa en Nimfas en die gemeente wat in sy huis is.” Kol 4:15. Ook die gemeente in die huis van Lidia. Hand 16:40

            En wanneer hulle saamkom is daar hande in die lug lofsange en aanbidding.“Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het (Let op) elkeen, van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging (getuienisse) – laat alles tot stigting geskied.” 1Kor 14:26

            Almal wat musiekinstrumente kan bespeel, speel en die huisgemeente sing te heerlik saam. Soms word ‘n ander huisgemeente oorgenooi waar daar dan ook Koinonia gehou word… saam geëet word… ‘n ware Christusfees.

            Besluitneming berus op konsensus… almal stem saam oor ‘n saak. Daar word nooit gestem nie. Die wagwoord is eensgesindheid. Die klem al op verlore siele.

            Die huiskerk beweging groei die vinnigste in Sjina boonop te midde van wrede vervolging. Hoeveel huiskerke daar is, is moeilik om te bepaal weens die erge vervolging, maar dit word bereken op 120 miljoen huisgemeentes. Die groei egter wêreldwyd.

            Die Internet  speel ‘n belangrike rol in kruisbestuiwing, die aflaai van boodskappe en veral musiek.

            Lede is ook ywerig besig om die Evangelie op verskillende wyses te versprei, naastediens te verrig, Bybels te versprei, klere en skoene en kos.

            Pa’s sal vorentoe ‘n al hoe belangriker rol in hul gesinslewe moet inneem. – Wekroep

Preview YouTube video FJCCA Baptism Video - Oct 6, 2019

https://www.youtube.com/watch?v=xBzke9wnaHM&feature=youtu.be




Woensdag 18 September 2019

Die liefde van Jesus is ongekend.

'n Seun, in 'n Christen huisgesin, het namate hy ouer word, eiesinnig en spandabelrige gewoontes aangekweek. Hy het met sy besadigde pa baklei omdat hy hom nie die geld, wat hy wou hê, wou gee nie.

Hy het die huis stormagtig verlaat en hom oorgegee aan 'n roekelose lewe. Soos die Verlore Seun in Jesus se gelykenis, het hy 'n verdorwe rondloper geword. ‘n Tipiese nikswerd.

Die dag het aangebreek dat hy totaal platsak en wanhopig was. Toe dink hy aan sy pa en sy huis, maar ongelukkig níé soos die Verlore Seun nie.

"My pa skuld my 'n bestaan," redeneer hy met homself. "Ek sal dit self vat." Hy hou die huis dop en een aand, toe die hele gesin uit is, breek hy in. Hy het die huis en die veiligheidstelsel goed geken. Die inbraak was vir hom maklik. Hy het ook geweet waar al die waardevolle goed, ook die brandkluis se sleutel, se bêreplekke is.

In die nagstilte soek hy geld. Tussen ander waardevolle dokumente kry hy sy pa se Testament. Met nuuskierige oë lees hy die Testament. Dit weerspieël 'n groot boedel.

Sy naam staan tussen dié van ander erfgename, met 'n groot erflating by sy naam. As sy pa sou sterf, gaan hy 'n rykman wees. 'n Moordgedagte kom in hom op. Hy skrik vir homself. Hy lees die Testament weer en 'n stilte kom in sy gemoed.

Die pa met wie hy so getwis het, wie hy gevloek en verwens het, teen wie hy so verbitterd was, het nie sy naam uit die Testament geskrap nie.

"Kan dit wees," vra hy homself af, "dat my pa my nog liefhet? Wil hy my, na al die skande en smart wat ek oor hom gebring het, nog as seun hê?" Hy is verbysterd.

Herinneringe oor die aangename jare wat hy as kind en gehoorsame seun in sy ouerhuis gehad het, spoel oor sy gemoed. Hy sien in sy gedagtes die goeie jare wat vir hom kan voorlê, in sy huis by sy ouers.

Hy sak in een van die groot gemakstoele neer, druk sy sakdoek teen sy gesig en begin huil. Later die nag kry sy ouers hom in die stoel, sakdoek nog oor sy gesig, aan die slaap. Op sy knieë lê die Testament, sy vinger by sy naam.

Sy pa en ma weet met diepe liefde en ongekende blydskap, hulle kind het huis toe gekom.

Jesus het die verhaal van die Verlore Seun vertel om sélf te illustreer hoe God die mens, wat sy rug op Hom gedraai het, Hom verag en gesmaad het, steeds liefhet en as kind wil verwelkom. Ons erflating in God se Testament, die Ewige Lewe, is met Christus se bloed geskryf. Die Heilige Gees bring deur die Evangelie die wete van 'n erfenis by God, na ons toe. Hy werk in ons hart die sondebesef en gebrokenheid, wat ons na God toe laat keer.

            In Suid-Afrika het menige ouers met sulke seuns en dogters gesukkel. Dit was vir hulle ‘n sware las, maar by hulle laaste stilhouplek, het die kind na Jesus teruggekeer.

            So is ‘n alkoholis op sy knieë by sy bed gekry met sy oop Bybel voor hom. HERE, wat ‘n deurbraak.

            In ander geval het ‘n ouerpaar deur groot trauma met hul seun gegaan. Hy is een nag in sy slaap Huis toe. Skrywer het kort daarna na ‘n bandopname van die seun geluister. Hy het in trane Jesus se lof besing.         

By so ‘n begrafnis moet geen swart en rou wees nie... liewer ‘n wit kar, ‘n wit kis en oorwinningsliedere.

Gaan lees weer self die lewensverhaal van Petrus en hoe ook hy teruggekom het. God se Genade is onmeetbaar.

Is jy flenters? Jesus heel die gebroke harte: "So is ons dan deur Sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die Ewige Lewe wat ons verwag." Titus 3:7

Jou naam staan in die Boek van die Lewe en jy is en bly ‘n erfgenaam... dis jou beurt om terug te kom. – Wekroep

Vrydag 30 Augustus 2019

Die skade wat die Nuus aanrig



Vandag se nuus is nie goed vir ons gesondheid nie.  Dit lei onder meer tot vrees en aggressie, ‘n binding in ons gees en beïnvloed ons geestelike wandel met Jesus negatief.

            Ons dink nie meer diep en kreatief nie. Die oplossing? Hou op om die nuus te lees of te kyk of daarna te luister. Wat aan die gebeur is oor die wêreld kan ons niks aan verander nie.

            Sosiale media is ‘n nog groter euwel wat nuus betref. Meesal is dit nuus sonder feite. Toe telefone nog drade gehad het, was ons vry. Selfone het ‘n afgod geword.

            Die gees van die antichris is besig om die wêreld oor te neem. “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.”
1 Joh 2:18

            Ons is al so gebreinspoel dat ons eerder slegte as goeie nuus verwag. Dis waarom meeste hul selfone dag en nag aanhou, selfs in die kerkdienste... net vir geval van slegte nuus, sê hulle.

            Nuus het misleidend geword. Die rol van terrorisme word oorskat en die rol van verpleegsters onderskat.

            Alles is deurmekaar. Mense sê hulle is verkeerd aangehaal. Wat vandag waarheid was is more ‘n leuen.  Nuus het irrelevant geword. Noem een nuusberig wat jy vanjaar gelees het waarby jy kon baat.

            Nuus het die mondstuk van die antichris geword. Hoe meer mense dit lees, hoe meer mense verssprei dit op verskeie wyses en besoedel al hoe meer ander mense.         

            Mense raak paniekbevange as hulle nie nuus hoor nie. Kry hulle wel die nuus sukkel hulle om te onderskei tussen wat is nuut en wat is relevant. Sommige redeneer nuus bied aan hulle ‘n kompeterende voordeel, dit terwyl die nuus eintlik tot hul nadeel is.

            Nuus is niks anders as borrels op die oppervlak komende vanuit ‘n veel dieper wêreld van onheil nie.

            En as die nuus sommige irriteer, lees hulle die Sterre Voorspel want daar is soms iets “bemoedigend” dog alles is bloot ‘n wilde vlug van die verbeelding.

            Die sekulêre media is nie te blameer vir die nuus wat hulle aanbied nie want dis al nuus wat daar is. Nogtans, as meer inligting tot groter ekonomiese sukses sou lei, dan moet joernaliste mos al skatryk wees!

            Nuus is toksies vir ‘n mens se liggaam en verstand. Die nuus veroorsaak chroniese stres, asook newe effekte soos vrees, aggressie, tonnelvisie en maak mense onsensitief. Ons maak talle foute omdat ons verstrik raak tussen wat sin maak en die ware werklikheid. Solank iets net “sin” maak, bou ons daarop en kom die fout te laat agter.

Die nuus is soos virusse wat ons aandag steel of verdeel. Dit maak van ons vlak denkers. Ons kort- en langtermyn geheue raak verward. Ons begin al hoe minder verstaan wat gaande is. Dit maak ons onstabiel want die soort nuus van die dag laat ons konsentrasie verloor. .

Aanlynnuus het ’n veel erger impak. Reeds in 2001 is in Kanada bewys dat  dit ‘n veel erger invloed op ons denke en vermoë het. Aanlynnuus is aanhoudend en onvolledig en boonop meesal vals. Nuus gaan meesal oor dinge wat ek en jy niks aan kan verander nie. Dit maak ons passief. Dis maak ons pessimisties, sarkasties en fatalisties. Die nuus van vandag hulle.  vernietig kreatiwiteit. Mense wat wegbly van nuus af, presteer onder meer as skrywers, dokters, spesialiste, musikante, wetenskaplikes, ontwerpers, wiskundiges, argitekte, skilders en IT mense.

Kortom, vandag se nuus het geen goeie uitwerking om enige mens nie. Mense wat reeds die stryd teen die nuus verloor het, vind ‘n tuiste in twak praat, drank, dwelms en verloor uiteindelik belangstelling in alles opbouends.

Die enigste slegte nuus wat voordelig is, is oor gebeure in die Midde-Ooste met Jerusalem as barometer want dit dui op die Wederkoms van Jesus Christus op die wolke. Mense met ‘n belangstelling in daardie nuus, hef hul hoof n bowe en kyk uit vir Hom.

Vir die verloregaande wêreld  is die enigste waardevolle nuus: “Bring my die Ou-ou tyding, die Boodskap van God’s Heil.” https://www.youtube.com/watch?v=ccL50VndN44

Speel geestelike musiek in jou huis en in jou motor, wagtend op sy Koms. – Wekroep

https://www.youtube.com/watch?v=uOGt5T56hLQ

Maandag 19 Augustus 2019

Wanneer ons geestesoë verhelder



Paulus sê aan die gemeente in Efese: Wanneer hy in sy gebede aan hulle dink, bid hy dat die God van ons Here Jesus Christus…deur sy Gees…hulle geestesoë so verhelder dat hulle kan weet…watter rykdom…Hy vir die Gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in hulle wat glo. Efes 1:15-23

            In Leslie B. Flynn se boek, Negentig Gawes van die Gees, vertel hy, die bekende prediker, C. H. Spurgeon, besoek ’n bejaarde vrou in ’n tehuis vir armlastiges. ’n Geraamde, handgeskrewe dokument, met handtekening en al, teen die muur, trek sy aandag.

Hy vra daarna. Sy vertel hom sy het ’n bejaarde man versorg en net voor sy dood het hy die brief van waardering vir haar gegee. Kort daarna is hy dood. Dit was vir haar kosbaar en sy het dit geraam en teen die kamermuur opgehang.

Na baie oorreding laat sy Spurgeon toe om haar kosbare kleinnood vir ’n paar dae te leen. Spurgeon neem dit bank toe en dit veroorsaak ’n hele opskudding. Die bankbestuurder kom na hom toe en roep uit: ”Dankie! Ons kon net nie uitvind aan wie die ou heer al sy skatte bemaak het nie!”

Die arm vrou in die tehuis was eintlik skatryk, maar omdat sy haar dokument nie gelees en verstaan het nie, leef sy in armoede.

Wedergeborenes het ook ’n geskrewe dokument wat ons rykdom aan ons beskryf. Ons is erfgename van ’n groot, Ewige Erfenis, met baie huidige voordele, maar ons leef in die armoede van spanning en vrees en neerslagtigheid, omdat ons, ons dokument nie deeglik bestudeer en van ons voordele gebruik maak nie en ons in ons  erfporsie verbly nie.

Ons dokument word "Die Nuwe Testament" genoem. God se gawe aan sondaars in Christus Jesus se verlossing word ryklik daarin beskryf. In die Ou Testament staan dit in beeldende en profetiese taal. In die Nuwe Testament word dit duidelik, op die man af, beskryf: “…die Skrif kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die Waarheid te onderrig…” 2 Tim. 3: 15 en 16

Let nou op: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

“Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

“Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is… en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Rom 8:14-17

Maak ‘n studie van die hele Rom 8 en Efes 1. Soos met feitlik alle Testamente  is daar voorwaardes. As ons bv. dit wat ons erf, ons eie wil maak, moet ons na die Gees en nie na die vlees lewe nie. – Wekroep

Vrydag 26 Julie 2019

Die Bank van die Here


Gee... en jy sal beslis ontvang


Ons kry swaar... nadat ek 46 jaar gelede alles verloor het, geld, beleggings, polisse, huis,voertuie, alles. Al wat ons kon bekostig om in te woon was ‘n probeerslag een slaapkamer woonstelletjie in iemand se agterplaas... vas aan die motorhuis... waar mens menige nag erge geraas moes verduur.

            My nuwe lewe begin as Wedergeborene heel van vooraf... saam met my Wedergebore vrou en tweejarige dogtertjie... Een ding weet ek vir ‘n feit, ek is gered om die Koninkryk te help bou, dat alle Wedergeborenes gered is vir  dieselfde doel, maar meeste besef dit nie (of hulle wil dit nie besef nie).

            Dis al wat ek weet. Wat die res van my lewe betref, weet ek niks, dit sal maar van dag tot dag moet ontwikkel soos wat die HERE aandui.

            Ek gaan vir die eerste keer sedert my gedwonge kinderdae, kerk toe, maar ek soek honderde antwoorde.

            So besluit ek om – met die predikant se toestemming – my Sondae na kerk in ‘n bidkamer toe te sluit en die aangesig van die HERE te soek terwyl ek heel Sondag vas. Ek bid en boer in die Bybel en ek leer ontsaglike dinge uit die Woord.

            Dis of die Bybel skielik vir my oopgaan soos die heerlike verfrissende waterstrome uit die berge na die sneeu in die Boland.

            Ek kry ‘n plan. Alhoewel ek ‘n werk het, sal ek nooit weer finansieel bo kom as ek nie ‘n bykomende inkomste genereer nie.

So besluit ek om ‘n eie besigheid te begin opbou... ek gaan vars vis verkoop, van huis tot huis...Net soos ou Moerat in my kinderdae met sy  een perd kapwa in die Paarl verkoop het. Ek sal vir my ook ‘n Shofar kry om my koms in ‘n straat aan te kondig,

            In die hawe gesels ek met ‘n groot vismaatskappy en hulle sê dis reg, ek kan so veel vis soos wat ek benodig kontant en groothandel by hulle koop.

            Ek ry ‘n ou Mercedes 190. Ek durf nie vinniger as 90km per uur ry nie, dan val die dak in. Selfbejammering bestaan nie, net moed en geloof en durf.

            Vishouers, wat darem in die motor pas, en ‘n skaaltjie is aangeskaf en alles is gereed om die komende week my besigheid te begin.

            Die Sondagoggend sit ek in die kerk en die predikant praat oor die boufonds en doen ‘n beroep op almal om te bid en welke vermoëns ook al in te span om die boufonds en die opgehoopte rente ernstig aandag te gee.

            Die hele storie pla my min. Ek is opgewonde oor my groot planne en eie besigheid.

            Ek sien niks, maar skielik is hier iemand langs my in die bank en ek hoor die

Iemand sê vir my ek moet ‘n offer bring en alles wat ek met die vis verdien moet ek aan die boufonds oorbetaal. Ek mag ook geen onkoste wat ek aangaan uit die opbrengs onttrek nie. Dadelik weet ek dis die HERE wat praat.

            Toe kry ek myself baie jammer. Dis so onregverdig. Ek is ‘n gebreekte man, stukkend, flenters... ek probeer die stukkies optel om weer aan die gang te kom en nou moet ek my vis afgee.

Ek was die res van die dag doodstil, wou met niemand praat nie. Die hele saak lê soos ‘n onoorkombare berg voor my.

Die Maandagoggend gaan ek saam met predikant visvang. Al my hoop is nou op hom vir wyse raad, straks ‘n kompromie. Op pad na die viswaters vertel ek hom in detail van my penarie, van my visplan en die stem gisteroggend in die kerk.

Ek vertel hom, neem hom in my vertroue, want ek hoop hy sal vir my sê dis okei, ek hoef nie my visgeld vir die boufonds te gee nie, hulle sal regkom en dat ek die visgeld moet gebruik om my toekoms mee te bou. Daar was niks mee verkeerd om so te hoop nie, of was daar?

Hy sit doodstil hier langs my in die motor, aandagtig en luister, want ek lewer my storie soos ‘n pleidooi... Ag Here Jesus help tog asseblief.

En dan het ek my storie klaar vertel en ek koester ‘n blye hoop.

Ineens praat hy: “Broer, jy sal moet maak soos die HERE sê anders het jy groter probleme.”

En daar bars ek in trane uit terwyl ek bestuur. Maskas, kan ‘n predikant so wreed wees? Die man het geen empatie nie.

Daar is nie ‘n woord verder gepraat nie. Dis visvangery was onsuksesvol en ons is met leë mandjies huis toe.

Op pad om die eerste vis by die vismaatskappy in die hawe te gaan aankoop, kom ‘n blydskap oor my en skielik weet ek: Verkoop soveel vis soos wat jy kan, want dis vir die HERE en die HERE sal jou nooit teleurstel nie. Die seuntjie in die Bybel het sy vissies en broodjies gegee en kyk wat het daarvan geword?

Uiteindelik tog soek ek nie hulp nie, ek het wonderwerke nodig!

En so was dit... die vis was nie langer myne nie, maar die blydskap was.

Die satan het alles gevat wat ek gehad het en my niks teruggee nie. Die HERE vat nie net nie, Hy gee tienvoudig terug.

En so is dit nog my lewe lank, ek gee die 10% en die HERE gee die 90%. Hoe meer ek gee, hoe meer gee Hy.

“Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Ps 37:25

“En Ek sal julle vergoed vir die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het...” Joël 2:25

Dis hoe die Bank van die Hemel se ekonomie werk. – Wekroep 

Woensdag 24 Julie 2019

Jou Gesindheid



'n Jong bruid uit die Ooste, vergesel haar man na 'n VSA-weermagkamp, geleë aan die rand van die woestyn in Kalifornië. 'n Moeilike leefwyse, bedags snikheet en 'n gedurige wind, wat alles met sand bestrooi, breek vir haar aan.

Die dae was lank en vervelig. Geen bure met wie sy gemeenskaplike belange kon deel nie. En toe vertrek haar man boonop na die gevegsfront. Uit moedeloosheid skryf sy aan haar ma sy kom huis toe. Alles het vir haar net te veel geword.

            Haar wyse moeder skryf terug: "Twee manne kyk deur die tralies van hul tronkselle; die een sien die modder, die ander een, sterre." Die jong bruid lees die brief van haar ma oor en oor en sy bid die HERE om 'n verandering in gesindheid in haar te wek.

Sy neem 'n positiewe houding teenoor haar omgewing in. Sy begin die woestyn bestudeer. Nie lank nie, of sy kom agter die voorheen onherbergsame, afgesonderde woonplek, verander na 'n wonderwêreld. Sy bestudeer die kaktusplante en versamel skulpe, wat daar was toe die sand nog deel van die seebodem was! Die kennis wat sy opdoen, maak haar 'n kenner op dié gebied en sy skryf 'n boek daaroor.

            Wat het by haar verander? Die woestyn, hitte, sand, wind én die mense was steeds daar. Die verskil is, God het haar gesindheid verander. Deur die tralies van haar selfgemaakte selvenster, het sy nou sterre begin waarneem!

            Met geloof in God, is daar 'n buitengewone verandering van krag, wat alle omstandighede kan hanteer. Die blydskap van dié wat geleer het om in Hom te vertrou, is groot!

            "Die HERE is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil Hom loof, met my lied."
Ps 28:.7 – Wekroep

Maandag 15 Julie 2019

Wie karig saai, sal karig oes


Dit is ‘n Skriftuurlike waarheid: "Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes…want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…" 2 Kor 9:6-8

            Daar is alewig debat oor: Hoeveel tiende moet ek gee, van al my inkomste of net van die deel na aftrekkings? Daar is nog talle argumente. Laat dit wees soos dit wil: Die meetinstrument... God se meetinstrument gaan oor karig saai...

            Twee studente, wat aan die Leland Stanford Universiteit studeer het, moes werk vir hulle studiegelde. Hulle fondse het gedaal en hulle moes 'n plan beraam vir groter inkomste. Hulle kry die plan om 'n konsert aan te bied waarin die Poolse pianis, Ignace Paderewski, 'n klavieruitvoering sou gee.

Die beroemde kunstenaar se bestuurder het 'n waarborg van $2 000 (R30 000) gevra. Die twee studente het voortgegaan en die konsert aangebied. Die aand se opbrengs was $1 600. Hulle het hulle saak aan Paderewski gestel, die volle $1 600 aan hom oorhandig en vir hom 'n skuldbewys van $400 gegee.

"Nee, manne," het Paderewski geantwoord, "dit sal nie werk nie." Hy het die skuldbewys opgeskeur en die $1 600 aan hulle teruggegee. "Trek julle onkoste af en gee vir julle elkeen 10% van die bedrag en laat ek die balans kry."

Die jare het verby gerol en die Tweede Wêreldoorlog het uitgebreek. Paderewski het hard gewerk om sy honger, sterwende Poolse landgenote te help voed. Paderewski het planne beraam om iemand in die buiteland om hulp te nader.

Voor hy sy plan kon uitvoer, begin duisende ton voedsel instroom om die hongeres te voed. Na al die reëlings getref is om die voedsel reg uit te deel, het Paderewski Parys toe gegaan om Herbert Hoover, die skenker, persoonlik te gaan bedank vir sy wonderlike hulp."

Dis alles reg, mnr. Paderewski" het Hoover geantwoord. "Ek het besef die nood is groot en ek is gelukkig in 'n posisie om te help. Buitendien, u sal dit seker nie onthou nie, maar u het eenkeer toe ek en 'n studentemaat in die moeilikheid was, ons uit ons ellende gehelp."

Wat ons vir 'n ander doen, lyk soms vir ons gering, maar God, wat 'n goeie gewer liefhet, sal vir ons sorg as ons die dag in nood verkeer. "Gee, en vir julle sal gegee word: ’'n goeie maat, ingestamp, propvol…" Luk 6:37-42. Dit is God wat ons help, maar Hy gebruik 'n menslike instrument om dit te doen. – Wekroep


Sondag 14 Julie 2019

Hou moed: Die HERE ken die dae van die Opregtes



“Maar weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom  —  2  Tim. 3:1, skryf Paulus aan  Timotheus, en noem dan in die daarop volgende strofes verskeie voorbeelde van hoe die swaar tye daar sal uitsien.

            Die nuutste is dat daar nou oorlog in 69 lande van die wêreld is. Altesame 824 militante guerrilla groepe tesame met terroriste, anargiste en  separatiste groepe is by die oorloë betrokke. Dit sluit dreigende kernoorloë uit. Die oorloë en en die deelnemers brei steeds uit.

            Hierdie swaar tye gaan gepaard met spanning wat in ons tyd in meeste gevalle aan uiterstes grens.

            Hierdie spanning vernietig gesinne, huwelike, gemeenskappe, en dwing van die grootste maatskappye in die wêreld om spesiale maatreëls te tref om hul werknemers te beskerm en daarvoor te laat behandel.

            Die steeds toenemende spanning van uiterstes raak meer mense se lewens as pandemies soos VIGS. Hospitale en mediese spreekkamers loop oor van mense wat aan  spanning-verwante siektes soos depressie ly.

            In sommige opsigte reeds, is strofe 12 ook besig om in vervulling te gaan:  En almal wat ook Godvrugtig wil lewe, sal vervolg word!

            Vervolging in watter vorm ook al, bring sy eie soort spanning en meesal ook erge spanning.  Spertye bring spanning.  Perfeksionisme bring spanning.  Om iemand geestelik te dra bring spanning.  Ondraaglike werksituasies bring spanning. So ook ondraaglike huwelike.

            In 2 Kor. 11:27-28 praat Paulus oor spanning wat hy persoonlik beleef het en verwys hy onder meer na slapelose nagte en daaglikse bekommernis.

            Ons het almal al dae van druk en uitsonderlike hoë druk beleef, maar Paulus gaan voort en vertel dat hy vasgestaan het en GOD hom daarvan verlos het:

            Bemoediging: 2 Tim. 3:11 lees: “Watter vervolginge het ek nie al almal verdra nie!  En die HERE het my uit almal verlos!”

            As Paulus kon vasgestaan het, dan kan ons ook.  Maar dit sal dieselfde onwankelbare geloof van ons vereis as wat ons by Paulus sien —  aldus  2 Tim. 4:7 lees: Ek het die Goeie Stryd gestry....

            Deurbrake kom nie altyd maklik nie, maar wanneer mens vol vertroue aanhou vertrou, aanhou met klop, dan kom die deurbraak wel die een of ander tyd. Dit sal beslis kom want God self het gesê dat as ons aanhou klop dat sal daar vir ons oopgemaak word.

            Dit bring ook (onnodige) spanning wanneer ons meen dat ons nie genoeg het nie.  Ons vrees tekorte.

Ons gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis en dit omdat ons nie moeite maak om ons Bybels te bestudeer nie.

            As ons wel die kennis opdoen, dan is die volgende aan uit Ps 37:18-19, 25 baie betekenisvol:

            Bemoediging: “Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.  Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word.  Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien nie, of dat sy nageslag brood soek nie.”

            Koning Dawid sou nie die bogenoemde geskrywe het, as hy nie self getuie daarvan was nie.

            GOD sal ons nie verlaat nie.  Hy sal Hom ook nie aan ons onttrek nie.  Sy Liefde, Genade en Guns, skenk Hy aan ons.

            Een keer was Dawid onseker oor sy verhouding met GOD en toe vra hy in Ps 8:5: “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”

            Dis ‘n vraag wat ons ook kan vra:  Wie is ons as nietige mens, as gras van die veld, dat die Almagtige GOD  aan ons sou dink?

            1 Pet 5:7 lees: “Werp al julle bekommernisse op Hom (hoekom?) want Hy sorg vir julle!”

            Bemoediging: Asook Ps 55:23: “Werp jou sorg op die HERE en Hy sal jou onderhou;  (let op) Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”

            En dat is daar Ps 9:10: “So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”

            En strofe 11: En hulle wat U Naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ HERE!”

            GOD behoed en bewaar ons.  Hy dra ons, wat die omstandighede ook al mag wees.  Al wat dit vra is dat ons dit sal erken, bely en glo en Hom daarvoor eer  —  in Gees en in Waarheid aanbid, Sy Naam grootmaak!

            Dan maak dit nie saak hoe hoog die prys van wat ook al word nie,  GOD sal die inkomste voorsien.  Hy sal ons nooit verlaat nie.

            Wat sê onse GOD vandag aan ons?  Eenvoudig:  Moet julle nie bekommer nie. Ek die HERE GOD is in beheer. Bly julle eenvoudig opreg. – Wekroep

Saterdag 06 Julie 2019

Ook hulle het my en jou nodig

Ons noem hulle boemelaars of swerwers. Hulle lewe meesal in groepe saam. Bedags split hulle op en elkeen kyk hoeveel geld hy kan bedel.

            Vanaand word die geld getel, word ‘n bottel Old Brown en ‘n bottel brandewyn gekoop en met die res van die dag se geldjies word watter kos ook al gekoop.

            Een vertel: Niemand gee eintlik vir hulle om nie…mense gee hulle wel geld maar meer om van hulle ontslae te raak. Hulle word beskou as dronklappe, vuil, as bosslapers, uitvaagsels. Die enigste liefde wat hulle ken is hulle omgee vir mekaar.

            Ons sal verbaas wees om te weet hoeveel gegradueerdes vandag boemelaars is. Een was bv op skool hoofseun, eerste rugbyspan kaptein. Altyd met lof geslaag. Op varsity het hy skitterend presteer.

            As sakeman  was hy met nog groter sukses begroet, had sy eie geboue,eie straler, eie vlugersoneel, ens. Dan neem drank en dwelms en ‘n loslewe oor. Iemand loop hom gruwelik in. hy verloor alles en hy beland op moedverlore se vlakte. Hy was vyf jaar lank ‘n boemelaar in Kaapstad.

             Dit neem hom 20 dae om Bloemfontein te bereik. Hy maak sy saak met de HERE reg, met sy verlore dogter en ontmoet en trou met die meisie wat hy in matriek trou aan beloof het. Hy het weer ‘n besigheid en tree ook op as motiveringspreker. Hy en sy vrou dien die HERE getrou.

            'n Boemelaar wat onder 'n boom in 'n klein dorpie gesit het, het 'n verlede gehad wat so seer was vir hom dat hy dit wou vergeet, maar nie kon nie.

Die inwoners wou hom wegjaag maar die 'minister' van die dorpie het hom in sy huis geneem en vir hom skoon klere en kos gegee.

 Die boemelaar kon nooit verstaan hoekom die man so vriendelik was terwyl al die ander op hom neergesien het nie,maar die 'minister' en die boemelaar het meer in gemeen gehad as wat hy gedink het aangesien die 'minister' ook eens op 'n tyd sy lewe aan drank oorgegee het.

'n Hele rukkie het verbygegaan.  Dit het goed gegaan met die boemelaar.

Hy het werk gekry en het die apteek uitgehelp deur die medisyne te verpak

Een aand het hy saam met die apteker laat gewerk toe hulle 'n verskriklike slag hoor. Een van die grootste ongelukke.

Omdat dit so 'n klein dorpie was is sulke noodgevalle met helikopters na die naaste groot hospitaal gevlieg,maar daardie aand was daar 'n groot storm.

Die apteker het na die boemelaar gedraai en gesê:"Ek weet wie jy is en jy is die enigste een wat hierdie mense se lewens kan red.”

Trane het oor die boemelaar se wange gerol. "Ek kan nie" het hy gesê. “'n Seuntjie is dood omdat ek te veel gebewe het en nie kans gehad het om gou 'n slukkie drank te vat om te kalmeer voordat ek begin opereer het nie.”

Die boemelaar het begin hardloop. In die donker nattigheid het hy voor 'n geboutjie neergeval en hardop uitgeskreeu: "HERE,hoe gaan ek ooit oor hierdie ding kom? Ek kan nooit ooit weer opereer nie!”

Toe hy sy oë oopmaak staan daar op 'n klip voor die klein geboutjie geskrywe: Jy is tot alles in staat deur die HERE wat jou krag gee!

            Die boemelaar het vir sy sondes jammer gesê,sy hart vir die HERE gegee en homself vergewe.

Daardie aand was dit nie net die twee mense in die ongeluk wat gered was nie,maar die boemelaar dokter ook!

Moet nooit dink jy is beter as ander nie.  Jy weet nie wat hulle situasie of omstandighede is nie. Vir die HERE is daar nie 'n sonde te groot wat Hy nie sal vergewe nie.

Solank jy jammer is oor dit wat jy gedoen het en jouself ook vergewe,sal jy altyd toegevou word in die arms van die HERE en sal jy rus vind in Hom!

Boemelaars vertrou nie iemand maklik nie, maar gaan kuier by hulle, leer hulle ken, wen hulle vertroue en bring hulle in na die heerlikheid van Jesus. Hulle het ons so nodig. – Wekroep

Dinsdag 25 Junie 2019

Wanneer gevaar van alle kante af dreig



In ‘n woud is ‘n dragtige  bokkie besig om te lam. Sy raak rustig op ‘n lappie gras langs ‘n sterk vloeiende rivier. Vir haar lyk dit soos ‘n veilige plek.

            Skielik begin die geboortepyne. Terselfdertyd begin daar weerlig uit die donker wolke bo die woud uitslaan. Die aarde dreun van die donder.

            Die weerlig veroorsaak ‘n veldbrand. Die vlamme skiet gou hoog in die digte bome in. Die geboorte is in volle swang. Op ‘n afstand merk sy ‘n jagter met pyl en boog. Hy wil haar skiet.

            Sy merk aan haar regterkant ‘n honger leeu op pad na haar. Sy is vasgekeer... die vlammemuur aan die en kant, die jagter aan die anderkant, regs kom die leeu kruipend nader en aan haar ander kant is die snel vloeiende rivier.

            Die geboorte gaan voort en die arme bokkie staar die dood in die gesig, lammetjie en al.

            Met gevare alkant is die geboorte byna verby. Sal sy en die lammetjie oorleef?

            Sy fokus op die geboorte van ‘n nuwe lewe.


Dan gebeur alles tegelyk te midde van reën, weerlig en donderslae:

·        Die weerlig verblind die  jagter;

·        Die pyl uit die jagter se boog swiep by die bokkie verby en tref die naderende leeu;

·        Dit begin baie hard reën en stadig maar seker word die naderende vuur geblus;

·        Die bokkie skenk geboorte aan ‘n volmaakte lammetjie. Kyk weer na die gebeure  hierbo en vra dan: Had die bokkie enige invloed op die gebeure? Geensins.

            In ons lewens gebeur dit ook dat ons keuses moet maak want gevare dreig van alle kante af. Ons antwoord berus daarin dat ons nie vir ‘n oomblik afwyk van ons doel voor oë nie. Bly gefokus.

            Soms kan gedagtes baie kragtig wees en ons oorweldig. Die bokkie leer ons ‘n les. Sy het gefokus gebly op die skenking aan nuwe lewe. Die res was in elk geval nie in haar hande nie.

            Waar is ons fokus? Waar is ons geloof en hoop? Te midde van watter storm ook al, behou jou geloof in die HERE want Hy sal jou nooit teleurstel nie. Nooit! – Wekroep

Donderdag 20 Junie 2019

“Jesus, help my, help my...'

‘n Vrou het by ‘n familiebyeenkoms vir Kim Meeder gesê: “Ek is so jammer, maar ek het slegte nuus vir jou: Jou pappa het so pas jou mamma vermoor en toe sy eie lewe geneem.”

Die 9-jarige Kim het geskreeu: “Jy lieg, jy lieg” en uit die huis gehardloop. Sy het so ver gehardloop dat sy uiteindelik pootuit in die stof neergeval het, soekende na haar asem.

Toe skielik hoor sy hoe haar kinderstem uitroep: “Jesus help my, help my, ek het U nou nodig.”

Sy vertel: “Ek het nie eers geweet wie Jesus s nie. Ek was nog net twee keer in my lewe in ‘n kerk en daar het ek van Jesus gehoor. “

“Die volgende oomblik het Jesus voor my gestaan. Hy het my hand geneem en dit nog nooit gelos nie.

“Ons kan God nie altyd verstaan nie, maar ons moet Hom vertrou. Hy verlang dat ons deurentyd in Sy teenwoordigheid moet wandel.

“ Die Heilige Gees is soos ‘n sterk magtige rivier. Ons kan nie vir die rivier sê waarheen dit moet vloei nie... en moet dit ook nie probeer doen nie. Spring net in en laat die stroom jou neem waar die Gees jou wil neem.”

Dit is presies wat op die oomblik wêreldwyd gebeur. Herlewingsvure begin oraloor brand. Mense vergeet van kerklike dogma en tradisies. Die Heilige Gees neem alles oor.

Gelowiges leef oornag in oorwinning.  Niemand is langer ‘n prooi nie, maar eerder ‘n onverskrokke stryder.

Nog ‘n tendens is soos in die vorige Herlewing waar selfs kinders en leke die Evangelie uitdra en vir mense hande oplê ten aanskoue van verstommende wonderwerke.

Uit talle oorde kom die getuienis: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter (meer) werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.

“En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Joh 14:12-14















Kim by een van haar perde.

Kim Meeder en haar man Troy het in 1993 in Oregon, Amerika grond gekoop waar hulle hawelose en mishandelde kinders en perde versorg.

Een dag het ‘n jong perd se been gebreek. Kim en vier vroue het met die jong perd huis toe aangesukkel waar hulle die perd gemaklik gemaak het, Die een been was agterstevoor gedraai in die breek.

Sy het die veearts gaan bel om die jong perd te kom uitsit. Nadat sy gebel het, het sy bitterlik begin huil en gesê: “HERE, ek gaan nou ‘n lewe neem en dis so onregverdig, kyk net hoe jonk is die perd.”

Sy en haar werkers het toe vir die perd gaan bid. Met die vroue veearts se koms was die perd se been heeltemal genees en die perd het rondgeloop asof niks verkeerd was nie.

Die veearts het gegroet en na haar motor gestap.  Skielik sê die Heilige Gees vir Kim: “Keer die veearts, hierdie situasie is nie oor die perd nie, maar oor die veearts.”

Sy het dadelik die veearts agterna geloop en gekeer. Toe Kim liefdevol met haar begin praat, het sy ‘n halfuur lank bitterlik gehuil.

Sy vertel dat sy ‘n gemors van haar lewe gemaak het en op die punt was om selfmoord te pleeg, toe Kim gebel het. Die rewolwer was reeds teen die veearts se kop, gereed om die sneller te trek.

Albei vroue het besef, dit was toe nie oor die neem van ‘n lewe nie, maar die redding van ‘n lewe. Toe die veearts tot bedaring kom, het sy Jesus aangeneem, is sy Wedergebore.

Sulke getuienisse kom van oral. Gelowiges word  uiters sensitief vir die Heilige Gees.  Gelowiges in Suid-Afrika moet ophou murmureer en God vir wonderwerke begin vertrou. Eseg 37 gaan in vervulling. – Wekroep

Vrydag 31 Mei 2019

‘n Engel staan Wag



Ek dank die HERE dat my huis na 51 jaar nog staan, maar so byna nie. Na vier jaar was my huwelik in die skeihof... toe red die HERE my siel een middernag toe ‘n Engel my keer waar ek selfmoord wou pleeg.

            Ek was alleen in ons huis wat reeds verkoop was. My vrou en tweejarige kind het geloop. Vriende het net skielik weggebly. Ek was lank alleen, ek en die drank,  dwelms en my rookgoed... soos beste maats.

            Een laatmiddag stap ek weer oudergewoonte na die Sjinese winkeltjie op die hoek om sigarette te koop. Op pad hoor ek ‘n stem by my regterskouer: “As die wingerdstok nie vrug dra nie, word hy uitgekap en verbrand.”

            Ek het geskrik en bang-bang verder geloop. Ek wou nie na regs kyk nie, bang dat ek in die HERE sou vaskyk want ek het besef, dis Hy wat praat. Ek sou later besef dit was my eerste ondervinding, en ook nie die laaste keer nie,  dat die HERE, soos na Sy opstanding, met mens in die gees kan praat.

By die winkeltjie het ek steeds verwilderd die sigarette gekoop en so gou moontlik huis toe geloop.   Ek het op die stoep gaan staan om te rook want ek het nooit in my huis gerook nie. Ek het merkbaar gebewe en die as het vanself van die sigaret afgeval.

            Terug in die studeerkamer het ek in ‘n stoel gaan sit, heeltemal verdwaas. Ek het nie eers aan aandete, drank, dwelms of niks gebruik nie. Die stem oor my regterskouer vroeër, het my geskud.

            Buite het dit donker geword. Die enigste lig in die huis was die liggie op my lessenaar. Ek is totaal nugter, ook ontsteld omdat ek die huis, al my beleggings, polisse, alles, behalwe my werk verloor het.

            Selfmoord was vir my die enigste oplossing. Ek het alles fyn beplan en opgestaan om dit ten uitvoer te bring, maar ek kon nie by die studeerkamer se deur uitkom nie. ‘n Reuse Engel het die hele oop deur toegestaan. Daar was geen manier wat ek by hom verby sou kom nie.

            Ek het dadelik weg beweeg, terug in die studeerkamer in en gebewe soos ‘n riet, nogtans, te meer oortuig hier is nie meer plek vir my op hierdie aarde nie. ‘n Tweede en later ‘n derde keer het ek om die deur geloer, maar die Engel was steeds daar.

            Ek was nie bang vir die Engel nie, maar sy grootte het my verstom. As jy ooit sou bid dat Engele jou moet beskerm, glo dit, want niks en niemand kan by hulle verby kom nie. Dit sou ek ook in 1973 in die Yom Kippoer Oorlog in Israel ervaar.

            ‘n Ander soort vrees het my egter beetgepak. Ek het begin bewe van angs en trane het net oor my wange gestroom. Duidelik was ek vasgekeer en ek was bewus van ‘n groter mag wat ‘n tweestryd met my wil voer. Ek wou nie, ek wou by die Engel verby en daar was geen manier nie.

            Ek onthou van ‘n klein advertensie in ‘n weekblad. Miskien moet ek die nommer daar bel want iemand moet kom help. Ek moet hier uitkom.

            Ek kry die advertensie: “As u gebed of geestelike hulp verlang, skakel...” Net dit. Dit was ‘n Pretoria nommer, en ek skakel.

            Dis middernag. ‘n Vrou antwoord, wil weet of sy kon help. Ek vertel haar ek wil selfmoord pleeg ek wil wegkom van alles, maar ‘n reuse man, ek dink dis ‘n Engel, staan die hele oop deur toe dat ek nie daar kan uit om myself om die lewe te bring nie.

            Die vrou het sonder om ‘n woord te sê begin bid. Ek het nie geweet ‘n vrou kan so bid nie. Dis of sy binne die Hemel voor die Troon van God gestaan en pleit het. Terwyl sy vurig soos iemand in storm en drang bid, kom daar meer lig in die studeerkamer en alles raak stil in my. Die vreemde vrou praat toe vir die eerste keer met my.

            Sy vra hoe dit nou met my gaan en ek sê ek is rustig, maar baie hartseer. Sy sê ek is welkom om ter eniger tyd te bel. Hulle plaas my op hulle gebedlys en hulle begin dadelik vir my intree by die HERE.

            Ek het dankie gesê en die foon neergesit. Weer loer ek om die deur en die Engel is weg. Ek loop uit die studeerkamer, maar nie na die motorhuis toe nie, na my slaapkamer toe.

            Daar tel ek die Bybel op, iets wat in baie, baie jare nie gedoen het nie. Ek maak sommer oop en dit val oop by die verhaal van die blinde man van Jerigo. Eers wil ek weg blaai want ek onthou dié verhaal van jare gelede, maar skielik kyk ek regdeur die Bybel en ek sien ‘n blinde langs ‘n weg sit, nie waar voertuie beweeg nie, net mense, donkies en kamele loop.

            Ek sien dit alles in kleur. Die blinde se kleed is vuil. Hy is blind, hy weet nie dit is vuil nie. Daar kom ‘n groep mense aangestap. Ek hoor hulle. Hy tel sy kop op en draai sy oor. Hy luister, en hoor Jesus is tussen hulle. Hy het van Jesus gehoor en van die wonderkerke wat Hy doen. Hy wou Jesus ook ontmoet, maar hoe?  Hy weet nooit waar om Jesus te kry nie en hy kry niemand om hom na Jesus toe te neem nie.

            Beseffende hier is dalk sy enigste en laaste kans, roep hy: “Jesus, Jesus, seun van Dawid wees my barmhartig!” Maar diegene wat voorgeloop het maak hom stil. Ek sien hulle en hoor hulle. Ek beleef alles.

            Die blinde besef hy kry dalk nooit weer so ‘n geleentheid nie en hy skreeu harder: “Jesus, Jesus, seun van Dawid, wees my barmhartig.”

            Jesus roep die blinde man. Die blinde staan op, gooi sy vuil kleed af en Jesus vra: “Wat kan ek vir jou doen?” Almal kom tot stilstand.

            Die blinde antwoord: “Dat ek kan sien.” En Jesus sê: “Jy sien.” En die blinde het gesien en gejuig en die HERE gedank.

            Die gesig wat ek sien afspeel het, was weg en ek  was op my knieë by my bed em ek begin in trane: “HERE, HERE seun van Dawid, wees my barmhartig... en ‘n duisternis val oor my en vrae: “Wat dink jy doen jy? Jy weet jy kan nie ophou drink en dwelms gebruik nie. Die newe effekte en onttrekkingsome is onmenslik, en nog...”

            En ek besef, ek moet uit hierdie woestyn uitbreek en ek skreeu hard soos wat ek kon: “HERE, HERE, seun van Dawid, wees my barmhartig!”

            Toe was die duisternis weg en ek bid verder, smekend en in trane: “HERE, en nou vra U vir my... wat kan U vir my doen?” EN ek sê: “HERE, dat ek kan sien.” Ek het nog verder gebid, maar kan nie alles onthou nie. Ek het aan die slaap geraak want ek was uitgeput.

            Die volgende oggend het ek besef ek is stoksielalleen deur ‘n nag van doodskaduwee, maar ek was inderdaad Wedergebore, nie mooi geweet hoe alles werk nie, maar met die duidelike besef ek is ‘n Nuwe Skepsel. Ek het so skoon en vry gevoel.

            Tog was ek nie alleen nie. Laatmiddag het Jesus langs my gestap, toe die Engel, toe vreemde die vrou oor die telefoon... en toe Liefde en Genade ongekend.

            Die son het helderder geskyn, die voëltjies het mooier as ooit gesing. ‘n groot las was weg. Ek het nie weer lus gekry vir rook, dwelms en drank nie. Ek had ook geen onttrekkingsimptome nie.

            Ek het my vrou haastig voor haar werktyd besoek. Sy het my weggejaag. Ek het gepleit: “Ek wil net iets kort vir jou sê.”

            Die woede is steeds daar, maar sy gun my ‘n oomblik, en ek sê: “Ek is Wedergebore.” Toe draai ek om en verdwyn.

            Ek was nie bewus daarvan nie, maar sy het my drie maande lank laat dophou om seker te maak of daar verandering is. Sy het net positiewe rapporte ontvang. Die skeisaak is teruggetrek en ons is vier maande later versoen.

Ek en my vrou het drie dogters. Hulle is almal op 6 na 7 jaar gered en al drie se mans is gered en die kleinkinders kom een na die ander in.

Ek het oud geword. My hand is steeds aan die ploeg.

Wat jou probleem ook al sou wees, Jesus wag vir jou.  - Wekroep

Saterdag 25 Mei 2019

Het jy ‘n Jona aan boord?



Die storms raak soms verwoed. Ons raak paniekerig en probeer ontslae raak van verkeerdhede in ons lewens.

            Soms gooi ons toerusting oorboord en selfs kosvoorrade, maar dis duidelik ons boot gaan sink. Iets is verkeerd en ons kan nie uitmaak wat skort nie.

            Hoe kan ons onsself red, die boot (projek) red. Raak net stil voor die HERE en kyk biertjie rond: Het jy straks ‘n Jona aan boord? Is dit waarom jou boot wil sink?

            As daar ‘n Jona aan boord is, is hy doodstil. Hy slaap heel onder in die boot ewe onskuldig. Jy kan nie toelaat dat hy jou boot laat sink nie, Dis tyd dat jy hom oor boord gooi, hoe wreed dit ook al mag klink.

            Meeste van ons ken di storie van Jona, Hy was ongehoorsaam aan die HERE se opdrag en het besluit om sy eie heil uit te werk.

            Jona moes Nineve gaan waarsku dat as hulle nie hulself bekeer en terugkeer na die HERE se weë nie, sal die HERE se oordele oor hulle kom.

            Let op: Die 120 000 inwoners van Nineve was Gelowiges. Jona was ‘n profeet. Die manne op die skip was ook Gelowiges.

            Die storm was erg. Mense sou onskuldig sterf. Jona het geweet hy is die oorsak van alles weens sy ongehoorsaamheid aan God se opdrag.

            Leer hierdie les en onthou dit: Wanneer God aan ‘n mens ‘n opdrag gee, dan mag jy nie weier nie, jy moet dit ten alle koste uitvoer.

            Die storm is verwoed. Die bemanning is bevrees. Almal bid. Niks gebeur wat die storm stil nie. Die HERE antwoord egter deur middel van die loting dat Jona die probleem is.

             Hulle konfronteer Jona sê vir hom: Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit watter volk is jy?

            En hy antwoord hulle: Ek is 'n Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die Hemel, wat die see en die droë land gemaak het.

            Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die HERE af wegvlug; want hy het hulle dit te kenne gegee.

            Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar? – want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword.

            En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.

            Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het.

            Toe roep hulle tot die HERE en sê: Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, HERE, het gedoen na U welbehae.

            En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword van sy onstuimigheid.

            Toe het die manne die HERE gevrees met 'n groot vrees en 'n slagoffer aan die HERE gebring en geloftes gedoen.

            Die bemanning kon niks doen om die storm te stil nie. Alles was Jona se skuld en die storm sou nie wyk voordat Jona nie gewyk het nie.

            Is daar ‘n Jona in jou boot... iemand wat jou terughou om jou doel vir die HERE te bereik? Is daar iemand wat ‘n negatiewe invloed op jou keuses in die lewe het. Iemand wat verhinder dat jy gehoorsaam aan die HERE kan wes? Iemand wat jy van jou boot af moet werp?

            Jona’s sal altyd probeer om jou in die proses sleg te laat voel. Jona het geweet hy is die oorsaak van alles, hoekom het hy nie net self oorboord gespring nie, pleks van te vra dat hulle hom oorboord moet gooi?

            Dis nie my en jou plig om almal tevrede te hou in die lewe nie. Ons het opdragte van die HERE om uit te voer. Jona het ewe vroom ’n kaartjie gekoop, sy passaat betaal, asof dit nou regverdiging vir hom sou wees om aan boord te wees.

            So sluip hulle by my en jou ook aan boord.

            Moet jou nie oor die Jona’s bekommer nie. Die HERE het nog baie walvisse om met hulle af te reken. Terwyl jy hier lees het sulke mense se name al by jou opgekom. Gooi hulle oorboord. Hulle beroof jou selfs van jou en die HERE se tyd.

            Mens vind hierdie Jona’s in die gemeentes, in die sendingorganisasies, maatskappye en skole se personeel, selfs in jou huis. Hulle doen of niks, of hulle praat net, of hulle oordeel gedurig... beterweters.

            Die oes in groot, die arbeiders is min, tyd loop uit en ons moet vermag wat ons kan. Ons word dan selfs aanbeveel: Koop die tyd uit! “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.”  Efes 5:15-16 – Wekroep

Dinsdag 21 Mei 2019

Die lappieskombers sindroom



Kompromie is halwe waarhede en is dus leuens. Deur te komprimeer lieg mens vir jouself, gaan jy met halwe waarhede, leuens, deur die lewe. Niks is eg nie. Dis soos om met ‘n diamantring van geslypte glas te spog en te sê dis ‘n egte diamant.

          Kompromie, soos ook ander euwels, werk deur soos goeie suurdeeg. Jou hele lewe is later vals, maar ‘n vals wat later as nuwe waarheid dien en vir jou al hoe meer reg lyk.

          Jy wou ‘n nuwe saak aanpak. Jy had fantastiese Skrif as bevestiging. Jy het ook ’n sterk lys van beginsels saamgestel want jou ondervinding het jou baie wyshede geleer. Jy wil nie weer dieselfde foute beleef nie... want jy weet: “Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” Spr 14:1

          Met die wegspring lyk alles nog in orde. Dan begin die feite deurskemer...maar jy weier om dit te aanvaar en begin met regverdiging.

Die waarheid word verwater en morele waardes daal. Dan kom die verskonings: “Dis darem nie so erg nie.”  “Mens moenie so eng lewe nie.” “Ek sal maar toegee.” “Dis nie hoe dit moet wees nie, maar ek sal daarmee kan saam lewe.” Later word die toegee al hoe meer en groter,  nog later ook slim stories oor tiendes en standaarde.

Jou hele lewe word soos ‘n lappieskombers. Jy hekel telkens net n nuwe mooi blokkie aan om die waarheid te verdoesel en die leuen al te pragtig as waarheid te vertoon. Jy het, soos baie van ons, nie geduld met God beoefen en gewag vir bevestiging langs die pad nie.

          Die volle raad van die Woord van God word verontagsaam. Sulke mense begin vir jou goed vertel wat die Bybel sou sê oor watter onderwerp ook al, terwyl dit nie in die Bybel voorkom nie of hulle haal alles buite konteks aan want alles moet by hulle “nuwe waarheid” inpas. Kyk dan hoe pragtig vertoon die lappieskombers al.

          Op skool, op universiteit en in die werkplek is kompromie fataal. In die gemeente veroorsaak dit onderstrominge met hartseer resultate. Verhoudings sukkel gou op krom kieries aan.

          Kort voor lank hou mense vas aan die gedagte dat hulle die reg het om die Woord op hulle manier te verstaan en hoe dit behandel en hanteer moet word. Hoe later hoe kwater en mense begin hul eie idees by die Woord voeg en nog later vind die skeuring plaas.

          In sommige gevalle begin wysbegeerte (filosofie) en die Bybel vermeng. Dit word ‘n gevaarlike situasie soos wat hierdie dwaling van kompromie, die lewens van ander onskuldiges oorneem, veral by jongmense.... soos kinders wat alles glo wat hulle ouers sê.

          Bybelse waarhede word oor- of onderbeklemtoon. Dit open weer die deure van sielkundige idees soos humanisme, relativisme en ander dwalinge.

          Jesus sê: “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.

          “Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.” Joh 3:20-21

          Ons volg in Jesus se voetspore. Hy het nooit enige kompromie aangegaan nie. Sy lewe had geen grys areas nie. Diegene wat hulle skuldig maak aan kompromie, sal  nie hulself voor die Regterstoel van God kan verdedig nie.

          “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.  (Hy soek juis nie diegene wat komprimeer nie)

“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”  Joh 4:23-24

          Diegene wat skuldig is aan kompromie sal noodgedwonge hul saak by God moet bely en in nederigheid die pad van die Waarheid moet begin stap. Ons is te naby aan die Einde om soos geestelike pierewaaiers te lewe.

          Paulus waarsku: “Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.” 1 Kor 1:10

          Dieselfde gesindheid en om verenig te wees, is nie moontlik te midde van kompromie nie.

          As jy in hierdie netwerk vasgevang is, kom dadelik daaruit en laat jou nooit weer met ‘n slap riem vang nie. - Wekroep


Nie so nie..

.

Daar was ‘n tyd wat mense aanvaar het, hulle sal in die Hemel kom deur middel van ‘n Christelike begrafnis.

            Die volgende word vir die waarheid vertel, maar ons kon nie bewyse daarvoor kry nie.

Die plaaslike leraar kry ‘n versoek om iemand te begrawe. Die oorledene was kerklik egter glad nie betrokke nie. ‘n Gesprek met die lidmaat wat kom vra het vir die kerklike begrafnis vind toe plaas.

            Leraar : Sê my, het die oorledene gebid terwyl hy geleef het?

            Lidmaat : Nee, hy het nooit gebid nie.

            Leraar : Goed dan bid ons ook nie by sy begrafnis nie. Het hy darem Bybel gelees?

            Lidmaat : Nee, hy het nooit Bybel gelees nie.

            Leraar : Nou goed, dan sal ons maar ook nie Bybel lees by die begrafnis nie! En sê my, het hy darem gehou daarvan om saam met die gemeente te sing?

            Lidmaat : Nee, hy het nooit saam met die gemeente kom sing nie.

            Leraar : Ek verstaan. Nou ja dan gaan ons ook maar nie sing by sy begrafnis nie! Laat ek net seker maak, het hy hoegenaamd sy voete in die kerk gesit?

            Lidmaat : Nee, hy het nooit kerk toe gekom nie.

            Leraar : Reg, as hy dan soos ‘n hond geleef het, begrawe hom dan soos ‘n hond…

            Die volgende Sondag was daar nie plek vir geen mens in die kerk nie. Die plek was oorvol, die mense het selfs buite saamgedrom

            Vandag sal hierdie taktiek nie werk nie want mense loop met allerlei dwaallere en wanopvattinge rond. Daar is net een pad Hemel toe, deur die Wedergeboorte. Dit behels die volgende:



1. Ek moet besef dat ek ‘n sondaar is.

“ALMAL het gesondig, en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” – Rom. 3:23.

“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself.” – (1 Joh. 1:8,1;  Kon. 8:46;  Jer. 17:9-10).



2. Ek moet besef dat die loon van die sonde die dood is. (Rom. 6:23).

“Hulle sal straf ondergaan, ‘n EWIGE VERDERF….” –  (11 Thes. 1:9.

“Hy wat in die vlees saai, sal…. VERDERF MAAI….” –  (Gal. 6:8).



3. Ek moet besef dat ek magteloos is om myself te red.

“UIT DIE WERKE VAN DIE WET sal GEEN VLEES voor GOD GEREG-VERDIG word nie….” –  (Rom. 3:20).

“NIEMAND kan ooit ‘n BROEDER LOSKOOP nie, hy kan aan GOD SY LOSPRYS NIE GEE NIE….” –  (Ps. 49:8,9;  Jak. 2:10).



4. Ek moet besef dat Jesus Christus die enigste Verlosser is.

“Ek is DIE WEG, die WAARHEID en die LEWE:  Niemand kom na die Vader BEHALWE deur MY nie….” –  (Joh. 14:6).



5. Ek moet berou hê oor my sondaarskap en dit voor God bely.

“Kom dan tot INKEER en BEKEER julle….” – (Hand. 4:12;  25:18)

“As ons, ons sondes BELY….  Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe en ons van al ons ongeregtighede te REINIG.” – (Joh. 1:9).



6. Ek moet Christus deur die Geloof aanneem as my persoonlike Verlosser.

“Almal wat Hom AANGENEEM het….  Het hy mag gegee om kinders van God te word….” – (Joh. 1:12;  Joh. 3:16,30;  Hand. 13:38,39;  Rom. 10: 9,10).



As ek gered is – Wat Dan?



1. Dan is ek ‘n Nuwe Skepsel.

“As iemand in Christus is, is hy ‘n NUWE SKEPSEL….  Ou dinge het verby gegaan….  Het alles NUUT GEWORD.” –  (1Kor. 5:17).



2. Dan het ek die Ewige Lewe.

“Hy wat in die Seun glo, het die EWIGE LEWE….” – (Joh.  3:36;  6:47;  1 Joh. 5:12)



3. Dan het ek Sekerheid van my Verlossing en my Ewige Behoud.

“Die GEES self GETUIG saam met ons gees dat ONS KINDERS VAN GOD IS.” – (Rom. 8:8).

“Ek gee hulle die Ewige Lewe en hulle sal NOOIT VERLORE GAAN  tot in Ewigheid nie….” – (Joh. 10:29; Filip. 1:6; Joh. 5:10-13;  Jes. 43:1 – 8.



4. Dan moet my Geestelike Lewe Altyddeur groei.

“Julle moet TOENEEM in die GENADE en KENNIS van onse Here ….” – (11 Pet. 3:18).

“Word met die GEES VERVUL.” – (Efes. 5: 18b).

“Jaag die HEILIGMAKING na….” (Heb. 12: 14;  1 Pet. 1:15-16.

Hiervoor is GEREELDE GEMEENSKAP met die HEILIGES, DAAGLIKSE BYBELSTUDIE en INNIGE GEBEDSGEMEENSKAP MET GOD, onontbeerlik.



5. Dan moet ek God en my Naaste Dien.

Deur my GEDRAG -- (1Kor. 6: 19,20;  Filip. 2:15).

Deur my gawes – (1Pet. 4: 10; Tit. 2:14;  Tit. 3: 8; Efes. 2: 10;

Jak. 2:20).

Deur my GETUIENIS –  (Hand. 2: 4, 11; Eseg. 3: 17,18).

Want ek is gered om VRUG TE DRA (Joh. 15:  16) om te VERKONDIG  (1 Pet. 2: 9), om TE GETUIG (Hand. 1: 8).



6. Dan moet ek My Ganse Lewe God Verheerlik.

(1 Kor. 6: 20; 1 Kor. 10: 31 ; Kol. 3: 23.



As ek ongered bly – Wat Dan?



1. Dan is ek nog in sonde.

“As julle nie glo nie….  Sal julle in julle sonde sterwe.” – (Joh. 8: 24;  1 Kor. 15: 17).



2. Dan sal ek die Ewige Lewe nooit sien nie.

“Maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die Lewe nie sien nie en die toorn van God bly op Hom.”  -- (Joh. 3:36;  Hebr. 10:26-31.



3. Dan leef ek voort in ‘n bange onsekerheid, ‘n knaende onrus en ‘n verskriklike verwagting.

“Geen vrede sê my God, vir die goddelose nie…. Maar ‘n verskriklike

verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teenstanders sal verteer.

– (Jes. 57:21; Heb. 10:27).



4. Dan sal ek geestelike nooit groei nie en is my siel geleidelik besig om te verhard en te sterwe.

“Daarop het Nabal se hart in sy binneste gesterwe en hy was soos ‘n klip. – (1 Sam. 25:37; Rom. 6: 23).



5. Dan beteken ek vir God en my naaste niks; ek is onvrugbaar en maak onvrugbaar.

“Kap hom uit, waarvoor maak jy die grond onvrugbaar?” – Luk. 13:7;  Joh. 15: 2 en 6).



6. Dan is my ganse lewe tot oneer van God en ek verwerp sy plan vir my lewe.

“Ek wou…. Maar julle wou nie.” – (Matt. 23: 36; Jes. 65: 2). – Wekroep


Woensdag 15 Mei 2019

‘Die wat siele win, is wys’



“Die vrug van die regverdige is 'n boom van die lewe, en.” Spr 11:30



IN 2 Konings 5:1-27 vind ons die verhaal van Naaman. Naaman was ‘n groot en vername man. Hy was:


·       geëer deur sy meester,

·       geseën deur die Vader, en

·       beskou as ‘n man vol dapperheid



`           Een ding het egter teen hom getel. Hy was melaats en melaatsheid is:



·       ‘n soort sonde,

·       dit is vuil, afstootlik, grusaam,

·       dit skei mense en ly tot skeiding tussen gelowiges en die Vader, en

·       dit veroorsaak ‘n skeiding in die gemeenskap.



Daar is baie mense vandag wat as “goed” bestempel word, terwyl hulle eintlik nog sondaars is. Hulle is:



·       getroue kerkgangers,

·       betaal hul tiendes getrou,

·       doen baie vir die minderbevoorregtes,

·       hulle is goed, maar nie goed genoeg nie, en

·       hulle is vol geregtigheid, maar kort God se geregtigheid.



Die meisietjie wat gevange geneem was, het persoonlike berading gedoen. Sy:



·       kon gesê het “ek kan niks doen nie. Ek is ‘n gevangene”,

·       kon gesê het  “ek wens ek kan vir Jesus werk”,

·       kon gewonder het waarom sy nie ‘n roeping van die Vader ontvang het nie,

·       kon gesê het dat sy in verkeerde geselskap is,

·       kon gemeen het dat sy die verkeerde werk het,

·       kon gemeen het dat sy ‘n mislukking is weens haar omstandighede, en

·       nogtans het sy teenoor haar vyande getuig.



En dan vra mens jouself af: waar beweeg ek en wat doen ek in die omstandighede waarin ek myself bevind, want:



·       Is ons bereid om vir ‘n vyand te bid,

·       vir ‘n vyand die hande op te lê,

·       gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag om die Evangelie uit te dra,

·       te getuig in die omstandighede waarin ons, ons daagliks bevind, en

·       te getuig ten spyte van kerkverband en kultuurgrense?



Die meisietjie het haar taak getrou volvoer, Sy het:



·       veroorsaak dat ‘n hoofstuk in ‘n Bybelboek geskryf is,

·       sy het geweier om ontmoedig te word deur haar omstandighede,

·       sy het haar plig gedoen, alhoewel niemand toegekyk het nie,

·       sy het geweier om haarself te bejammer,

·       sy het geglo haar getuienis of taak sou beloon word,

·       sy het nie besef haar getuienis sou die ore van ‘n koning bereik nie,

·       sy het bewys dat ‘n mens se getuienis resultate oplewer, en

·       sy het geglo en ook gesien dat die Vader se Woord nie leeg terugkeer nie.



Naaman was die enigste melaatse wat in die land genees is:



·       maar, dit was nie die Vader se skuld dat ander nie ook vertel was nie,

·       die Vader se Wil was en is vandag nog, dat elke gelowige die meisietjie se voorbeeld sal navolg,

·       ander het dus nie hul lig laat skyn nie,

·       sommige het toegelaat dat omstandighede hul geestelike lewe oorheers,

·       baie meer mense kon genees gewees het, as meer gelowiges getuig het oor die Vader se wonderwerkende krag, en

·       vir sommiges was gesê dat siekte seëninge is.



Ongeestelike metodes is gebruik om genesing te bewerkstellig. Die koning van Sirië:



·       het ‘n amptelike brief aan die koning van Israel gestuur,

·       hy wou God aan tradisie vasbind,

·       hy het geld gestuur om Naaman se genesing te koop,

·       hy het boonop die verkeerde man gestuur,

·       hy het nie geweet dat die Geestelike dinge deur die Gees bewerkstellig word nie,

·       Sy hart was nie reg teenoor God nie (Handelinge 8:21), en

·       hy was in ‘n dal van bitterheid en in die bande van ongeregtigheid (Handelinge 8:23).



Naaman wou met alle mag sy genesing bekom:



·       hy het gedink Elisa sal sy hande op sy kop lê en hom genees,

·       hy het gedink hy kon vir sy genesing betaal,

·       hy wou sy genesing deur geregtigheid verdien, en

·       hy het gemeen sy naam en stand in die lewe verdien ‘n spesiale diens.



Naaman was baie teleurgesteld en word toe krities. Hy:



·       openbaar  ‘n kritiese gees,

·       dat hy nie die aangename man is wat so baie mense gedink het hy is nie,

·       hy het gemeen dat hy mishandel was, dat daar teen hom gediskrimineer is,

·       hy het heelwaarskynlik ook gemeen Elisa se optrede het hom van kosbare werkstyd beroof, en

·       Naaman was gewoond daaraan om voorkeur te geniet want sy tyd was kosbaar.



Naaman sou heelwaarskynlik voor sy tyd gesterf het, as hy nie betyds geleer het:



·       dat God nie altyd op die grondslag van tradisie werk nie,

·       dat God bereid was om Hom op ‘n besondere manier te genees, en

·       dat hy eers sy hart met God moes regkry.



Naaman het eers sy genesing gekry:



·       toe hy besef dit baat nie om op sy eie werke en geregtigheid te steun nie,

·       toe hy besef dat hy op God moet vertrou en nie op sy eie goeie naam nie,

·       toe hy besef dat dit God se krag was wat die werk moes doen en dat hy niks in eie krag kan vermag nie,

·       toe hy besef dat God hom nie om sy goeie werke, reputasie, goeie naam of roem nie, en

·       toe hy besef dat kinderlike geloof hom sou deurdra.



Wanneer ons kyk na die maniere waarop mense in Bybelse tye genees is, dan vind ons:



·       dat 90% sonder handoplegging genees is,

·       dat 95% sonder aanwending van olie genees is,

·       dat hulle sonder lang gebede genees is, en in die meeste gevalle onmiddellik,

·       dat tradisie en rituele vebreek is,

·       dat genesing gekom het op maniere wat die mense dit hoegenaamd nie verwag het nie, en

·       die Gees van God was nooit deur ‘n besondere metode of patroon gebind nie.



Soms moet meer as een gawe in werking tree om genesing te bewerkstellig:



·       ‘n bediener van die Woord het soms die gawe van wysheid nodig om die gawe van kennis te kan toepas,

·       die gawe van geloof moet eers in werking wees voordat die gawe van gesondmaking in werking kan tree,

·       Petrus had die gawe van onderskeiding in die geval van die towenaar Simon, wat genesing verlang het,

·       in Naaman se geval het Elisha die woord of gawe van onderskeiding en wysheid openbaar, en

·       Naaman kon ook net genees word as hy gehoorsaam was.



Elisha was gehoorsaam aan die Stem van God. Hy het geweet:



·       Dat as Naaman ses keer in die rivier sou doop, hy nie sou genees nie. Dit moes sewe keer gedoen word,

·       Dat as Naaman sewe keer in ‘n ander rivier homself gaan doop het, hy ook nie sou genees nie,

·       God se Wil is nie die van die mens nie. Die mens wik, maar inderdaad, God beskik,

·       volle gehoorsaamheid was al wat Naaman kon genees, en

·       Naaman se trots moes eers in nederigheid omskep word voordat hy genees kon word.



God kyk in die mens se hart. God het geweet:



·       Dat hy wat God is, nie die eer sou kry as Elisha sy hande op Naaman gelê het nie,

·       Baie mense sal sou ewe maklik na ‘n toordokter as na ‘n bedienaar van die Woord gaan,

·       Naaman moes op die genade van God, en nie die genade van die mens vertrou nie,

·       God sal nooit die eer wat Hom toekom met ‘n ander deel nie,

·       Naaman wou genees word soos dit met ander mense gebeur, en

·       dit kos meestal meer as net die vra om gebedsgenesing om genesing te verkry, en

·       God is alwys.



Mense wat Naaman se optrede openbaar, beweeg op die vleeslike in plaas van die geestelike vlak:



·       met die verstand probeer hulle Goddelike genesing en God se wonderwerkende krag uitwerk,

·       hulle sou redeneer dat as water kan red en genees, dan kan ek dit in my eie kerk laat doen,

·       hulle wil hulself leer hoe om die dinge van God te gebruik,

·       hulle wil hul eie kerk se norme en rituele handhaaf, eerder as die van die Vader,

·       hulle beweer hulle moet in olie, handoplegging, ens. Glo,

·       hulle moet agter genesingsdienste of ‘n genesingsdoekie aangaan, en

·       hulle meen hulle moet hul eie pad  deurwerk op en eie meriete staatmaak.



Hoe sal ons dan weet wat die Vader se wil vir ons is?

Wel, dis eintlik maklik. Vertrou op die Vader vir die antwoord en kort voor lank sal mens weet dat jy weet!

Soos ‘n skip wat ‘n hawe in ‘n donker nag moet binnevaar, so sal al die liggies aankom en mens sal weet dat jy weet dat jy in Sy wil is.

Ons eie denke moet ons uit die pad uitkry, ons sake met die Vader en met ons naaste in orde kry en die Vader vertrou. Hy is en bly ‘n waarmaker van Sy Woord.



Naaman het sy volmaakte genesing ontvang toe hy ontdek dat:



·       hy eers soos ‘n kind moet word,

·       dat hy gehoorsaam moet wees en wel in die betrokke rivier nie meer en nie minder nie as sewe keer homself moes doop,

·       toe hy insien dat hy nie genesing kon koop nie, hy kon dit nie verdien nie, nie daarvoor werk nie, hy kon dit ook nie op meriete bekom nie,

·       toe hy insien dat hy hulpeloos voor God staan,

·       toe hy soos ‘n kind die eenvoudige dinge begin glo en aanvaar,

·       toe hy insien dat God  sy medewerkers gebruik om aan ander opdragte te gee, en

·       dat mens nie God se weë met die verstand beredeneer nie.



Mense wat genesing vir hul gees en liggaam verlang, moet besef dat:



·       God is almagtig en baie groter as ‘n genesingsdiens,

·       God se hande baie verder ryk as die van ‘n prediker,

·       God kan duisend mense net so maklik soos een mens genees, en

·       Mense moenie wag om elkeen afsonderlik voor gebid te word nie. – Wekroep