Dinsdag 21 Mei 2019

Die lappieskombers sindroom



Kompromie is halwe waarhede en is dus leuens. Deur te komprimeer lieg mens vir jouself, gaan jy met halwe waarhede, leuens, deur die lewe. Niks is eg nie. Dis soos om met ‘n diamantring van geslypte glas te spog en te sê dis ‘n egte diamant.

          Kompromie, soos ook ander euwels, werk deur soos goeie suurdeeg. Jou hele lewe is later vals, maar ‘n vals wat later as nuwe waarheid dien en vir jou al hoe meer reg lyk.

          Jy wou ‘n nuwe saak aanpak. Jy had fantastiese Skrif as bevestiging. Jy het ook ’n sterk lys van beginsels saamgestel want jou ondervinding het jou baie wyshede geleer. Jy wil nie weer dieselfde foute beleef nie... want jy weet: “Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” Spr 14:1

          Met die wegspring lyk alles nog in orde. Dan begin die feite deurskemer...maar jy weier om dit te aanvaar en begin met regverdiging.

Die waarheid word verwater en morele waardes daal. Dan kom die verskonings: “Dis darem nie so erg nie.”  “Mens moenie so eng lewe nie.” “Ek sal maar toegee.” “Dis nie hoe dit moet wees nie, maar ek sal daarmee kan saam lewe.” Later word die toegee al hoe meer en groter,  nog later ook slim stories oor tiendes en standaarde.

Jou hele lewe word soos ‘n lappieskombers. Jy hekel telkens net n nuwe mooi blokkie aan om die waarheid te verdoesel en die leuen al te pragtig as waarheid te vertoon. Jy het, soos baie van ons, nie geduld met God beoefen en gewag vir bevestiging langs die pad nie.

          Die volle raad van die Woord van God word verontagsaam. Sulke mense begin vir jou goed vertel wat die Bybel sou sê oor watter onderwerp ook al, terwyl dit nie in die Bybel voorkom nie of hulle haal alles buite konteks aan want alles moet by hulle “nuwe waarheid” inpas. Kyk dan hoe pragtig vertoon die lappieskombers al.

          Op skool, op universiteit en in die werkplek is kompromie fataal. In die gemeente veroorsaak dit onderstrominge met hartseer resultate. Verhoudings sukkel gou op krom kieries aan.

          Kort voor lank hou mense vas aan die gedagte dat hulle die reg het om die Woord op hulle manier te verstaan en hoe dit behandel en hanteer moet word. Hoe later hoe kwater en mense begin hul eie idees by die Woord voeg en nog later vind die skeuring plaas.

          In sommige gevalle begin wysbegeerte (filosofie) en die Bybel vermeng. Dit word ‘n gevaarlike situasie soos wat hierdie dwaling van kompromie, die lewens van ander onskuldiges oorneem, veral by jongmense.... soos kinders wat alles glo wat hulle ouers sê.

          Bybelse waarhede word oor- of onderbeklemtoon. Dit open weer die deure van sielkundige idees soos humanisme, relativisme en ander dwalinge.

          Jesus sê: “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.

          “Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.” Joh 3:20-21

          Ons volg in Jesus se voetspore. Hy het nooit enige kompromie aangegaan nie. Sy lewe had geen grys areas nie. Diegene wat hulle skuldig maak aan kompromie, sal  nie hulself voor die Regterstoel van God kan verdedig nie.

          “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.  (Hy soek juis nie diegene wat komprimeer nie)

“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”  Joh 4:23-24

          Diegene wat skuldig is aan kompromie sal noodgedwonge hul saak by God moet bely en in nederigheid die pad van die Waarheid moet begin stap. Ons is te naby aan die Einde om soos geestelike pierewaaiers te lewe.

          Paulus waarsku: “Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.” 1 Kor 1:10

          Dieselfde gesindheid en om verenig te wees, is nie moontlik te midde van kompromie nie.

          As jy in hierdie netwerk vasgevang is, kom dadelik daaruit en laat jou nooit weer met ‘n slap riem vang nie. - Wekroep