Saterdag 25 Mei 2019

Het jy ‘n Jona aan boord?



Die storms raak soms verwoed. Ons raak paniekerig en probeer ontslae raak van verkeerdhede in ons lewens.

            Soms gooi ons toerusting oorboord en selfs kosvoorrade, maar dis duidelik ons boot gaan sink. Iets is verkeerd en ons kan nie uitmaak wat skort nie.

            Hoe kan ons onsself red, die boot (projek) red. Raak net stil voor die HERE en kyk biertjie rond: Het jy straks ‘n Jona aan boord? Is dit waarom jou boot wil sink?

            As daar ‘n Jona aan boord is, is hy doodstil. Hy slaap heel onder in die boot ewe onskuldig. Jy kan nie toelaat dat hy jou boot laat sink nie, Dis tyd dat jy hom oor boord gooi, hoe wreed dit ook al mag klink.

            Meeste van ons ken di storie van Jona, Hy was ongehoorsaam aan die HERE se opdrag en het besluit om sy eie heil uit te werk.

            Jona moes Nineve gaan waarsku dat as hulle nie hulself bekeer en terugkeer na die HERE se weë nie, sal die HERE se oordele oor hulle kom.

            Let op: Die 120 000 inwoners van Nineve was Gelowiges. Jona was ‘n profeet. Die manne op die skip was ook Gelowiges.

            Die storm was erg. Mense sou onskuldig sterf. Jona het geweet hy is die oorsak van alles weens sy ongehoorsaamheid aan God se opdrag.

            Leer hierdie les en onthou dit: Wanneer God aan ‘n mens ‘n opdrag gee, dan mag jy nie weier nie, jy moet dit ten alle koste uitvoer.

            Die storm is verwoed. Die bemanning is bevrees. Almal bid. Niks gebeur wat die storm stil nie. Die HERE antwoord egter deur middel van die loting dat Jona die probleem is.

             Hulle konfronteer Jona sê vir hom: Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit watter volk is jy?

            En hy antwoord hulle: Ek is 'n Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die Hemel, wat die see en die droë land gemaak het.

            Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die HERE af wegvlug; want hy het hulle dit te kenne gegee.

            Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar? – want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword.

            En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.

            Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het.

            Toe roep hulle tot die HERE en sê: Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, HERE, het gedoen na U welbehae.

            En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword van sy onstuimigheid.

            Toe het die manne die HERE gevrees met 'n groot vrees en 'n slagoffer aan die HERE gebring en geloftes gedoen.

            Die bemanning kon niks doen om die storm te stil nie. Alles was Jona se skuld en die storm sou nie wyk voordat Jona nie gewyk het nie.

            Is daar ‘n Jona in jou boot... iemand wat jou terughou om jou doel vir die HERE te bereik? Is daar iemand wat ‘n negatiewe invloed op jou keuses in die lewe het. Iemand wat verhinder dat jy gehoorsaam aan die HERE kan wes? Iemand wat jy van jou boot af moet werp?

            Jona’s sal altyd probeer om jou in die proses sleg te laat voel. Jona het geweet hy is die oorsaak van alles, hoekom het hy nie net self oorboord gespring nie, pleks van te vra dat hulle hom oorboord moet gooi?

            Dis nie my en jou plig om almal tevrede te hou in die lewe nie. Ons het opdragte van die HERE om uit te voer. Jona het ewe vroom ’n kaartjie gekoop, sy passaat betaal, asof dit nou regverdiging vir hom sou wees om aan boord te wees.

            So sluip hulle by my en jou ook aan boord.

            Moet jou nie oor die Jona’s bekommer nie. Die HERE het nog baie walvisse om met hulle af te reken. Terwyl jy hier lees het sulke mense se name al by jou opgekom. Gooi hulle oorboord. Hulle beroof jou selfs van jou en die HERE se tyd.

            Mens vind hierdie Jona’s in die gemeentes, in die sendingorganisasies, maatskappye en skole se personeel, selfs in jou huis. Hulle doen of niks, of hulle praat net, of hulle oordeel gedurig... beterweters.

            Die oes in groot, die arbeiders is min, tyd loop uit en ons moet vermag wat ons kan. Ons word dan selfs aanbeveel: Koop die tyd uit! “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.”  Efes 5:15-16 – Wekroep