Maandag 06 Mei 2019

“Laat daar lig wees!”

...en toe was daar lig. Gen 1:3


“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
John 8:12

            God het nie die duisternis vervloek, gebind of bestraf nie. Hy het die Lig gebied en dit het die duisternis verdryf.

            Christene is geneig om met groot bohaai geestelik oorlog te voer en dan hoor mens van bind en vervloek, bestraf en uitdryf. Hoekom nie net Lig spreek nie? Ons het die gesag om Lig te spreek oral waar ons kom en in wie ook al se lewe of huishouding. So wen ons ‘n oorlog sonder om te veg.

            Om Lig te kan spreek moet ons (genoeg) olie in ons lampe hê! Met te min olie trap ons dieselfde stel af as die dwase lampdraers.

            Ons wag op die Bruidegom se koms. Het ons (genoeg) olie in ons lampe? Leef ons paraat en in afwagting?

            Kennis en wysheid uit die Woord bring die olie, so ook jou persoonlike wandel met Jesus, so ook jou liefde teenoor almal rondom jou.

“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” 1 Joh 1:7

            Eers het Jesus gesê Hy is die lig, maar toe Sy volgelinge begin aanwas, sê Hy: “Julle (ek en jy) is die lig van die wêreld.”

En Hy verduidelik: “'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie.”

En voeg Hy by: “...en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

Let  op: “Laat julle lig só skyn voor die mense, (hoekom?) dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:14-16

            Hoeveel van jou lig is onder ‘n emmer versteek?  Mens moet vra... “Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.” Mark 4:22.

            Komaan, spreek Lig. Wees Lig. Met genoeg Lig kan geen onheil teen jou of in jou teenwoordigheid standhou nie.

            En dink weer mooi na om ten duurste predikers te nooi om julle gemeente te help bou.  Spreek Lig: Lig binne die gemeente en lig buite die gemeente ook in die woonbuurte. Wees Lig en spreek lig en daar sal Lig wees.

Hier is nog groter perspektief: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

En dan, baie, baie belangrik: “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” Joh 15:5-6

Komaan, spreek Lig, daar’s ‘n oes om in te bring: – Wekroep