Donderdag 18 April 2019

Kom, staan saam met Jesus op uit die graf



Waarheen is Jesus toe hy op Golgota aan die kruis gesterf het? Let op: “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring – Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; (en nou) in wie (die Gees) Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis.

Wie was hierdie geeste? “Hulle wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is.”

          Die siele in die gevangenis was die ongereddes wat al in die dae van Noag nie die HERE wou volg nie en lank reeds in die Doderyk was.

Die regverdige God het die Evangelie wat my en jou gered het, ook aan daardie mense in die Doderyk gaan gee sodat hulle ook geleentheid kon kry om weens die bloed van Jesus, gered te kon word.

Vandag het ons die Nagmaal waar die brood ons herinner aan Jesus se gestorwe liggaam en die wyn aan Sy bloed.

Ons het egter ook die doop: “Waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as 'n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God om 'n goeie gewete – deur die opstanding van Jesus Christus.”

Die doop en die wyn en brood kan ons nie red nie, maar is teëbeelde van wat gebeur het. Die doop is die teëbeeld van die begrafnis. Ons word begrawe en staan saam met Jesus op uit die graf.

Die volgende is ons letterlike heengaan na die Hemel: “Wat heengegaan het na die Hemel en aan die regterhand van God is, terwyl Engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is. “ 1 Pet 3:18-22. Ons wag met reikhalsende verlange op Sy terugkeer.

          Twee strofes wat die doop as teëbeeld van die Sy begrafnis en opstanding weergee, is: Kol 2:12 “Omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.”

          Asook Rom. 6:3-6 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

          “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.

“Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan Sy Opstanding;

“aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.”

Die Nagmaal gebruik ons by herhaling want dit is so voorgeskryf. Die doop pas ons net eenmalig toe. Die brood en die wyn het op Jesus betrekking, maar die opstanding het op my en jou betrekking.

“Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die Nuwe Testament in my bloed; doen dit, so (let op) dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

“Want so (let op) dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Messias totdat Hy kom.” 1 Kor 11:25-26

          Ons word egter nie “dikwels” gedoop nie want ons het opgestaan nadat ons die ou “ek” begrawe het. Dis ‘n triomfantelike oomblik!

          Christus leef en die Wedergeborenes leef en ons leef om Christus se werk op aarde voort te sit en die getal vol te maak. Die Messias is nie meer op die kruis of in die graf nie, maar sit as majesteit op sy Troon in die Hemel.

          Daar word te min gefokus op die Opstanding. Ons het hopeloos te min liedere daaroor. Dis ‘n triomfantelike gebeurtenis... self die Engele in die Hemel jubel.

          “As julle dan (let op) saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.

          “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

          “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

          “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Kol 3:1-4 – Wekroep