Dinsdag 02 April 2019

Die wandel saam met God

Loof en Prys Hom! 

Die HERE God JAWEH moet die belangrikste persoon in elke Gelowige se persoonlike lewe en huis wees. Jou hele dag moet om Hom draai... in alles wat jy doen en elke besluit wat jy neem.

As ons voortdurend seëninge uit die hand van die HERE wil ontvang dan moet ons voortdurend erkenning aan Hom gee. Herinner jou siel daaraan om God te aanbid, te loof en Sy naam groot te maak.

Memoriseer Ps 103. Die “o” soos in “O my siel” is eintlik ‘n uitroepteken en moet dus harder uitgespreek word.

            Hy vergewe ons, genees ons, Hy’t ons vrygekoop, Hy bekroon ons, gee aan ons vrede... sodat ons jeug hernuwe kan word.

            Ons moet die HERE meer aanbid, Sy naam groot maak... ere sy die Lam van God tot aan die hoogste Hemele!

            Hy het Sy ALLES vir ons gegee, dis tyd dat ons ook ons ALLES vir hom moet gee. Hy gee aan ons liefde, genade, goedheid en guns.

            Ps 103, wat ook bekendstaan as die Berg Everest van Psalms, word wêreldwyd die meeste aangewend om God te loof. Gelowiges as enkelinge of as groepe sing die Psalm en meesal op eie geskepte wysies. Luister hierna:

https://video.search.yahoo.com/search/video?fr=yhs-invalid&p=psalm+103#id=50&vid=a00d4f66d07dfaab1ac17247e9dc5357&action=view

            Sommige sing dit biddend, ander sing dit triomfantelik soos ‘n oorwinningslied. Ander lees dit hardop met musiek van hul eie keuse in die agtergrond. Hulle memoriseer dit en sing dit oral.... in die huis, by die werk, in die motor, by die viswaters. God is oral so hulle sing dit oral.

            Daar is ‘n vertaling wat lees: “Ek wil die HERE loof.” Die korrekte is “Loof die HERE...”

Ps 103 – 'n Psalm van Dawid

1. Loof die HERE, o my siel, en (letterlik) ALLES wat binne-in my is, Sy heilige Naam!

2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van Sy weldade nie!

3 Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees (Halleluja),

4 wat jou lewe verlos(!) van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,

5 wat jou siel versadig met die goeie, (hoekom?) sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend.

6 Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.

7 Hy het aan Moses Sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel Sy dade.

8 Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig (nie kort van draad soos ons soms is nie) en groot van goedertierenheid (ons moet ook aan almal net goed wil doen).

9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.

10 (let op): Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. (hoekom nie?)

11 Want so hoog as die Hemel is bo die aarde, so geweldig is Sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.

12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, (‘n onmeetbare afstand) so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

13 (let op): Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor diegene wat Hom vrees (respekteer, eer).

14 Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.

15 Die mens -  soos die gras is Sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy.

16 As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en Sy plek ken hom nie meer nie.

17 Maar(!) die goedertierenheid van die HERE is van Ewigheid tot Ewigheid oor die wat Hom vrees (respekteer, eer), en Sy geregtigheid vir kindskinders (jou kinders en hulle kinders),

18 (voorwaarde) vir die wat Sy verbond hou en aan Sy bevele dink om dié te doen.

19 Die HERE het Sy troon in die Hemel gevestig, en Sy koninkryk heers oor alles.

20 Loof die HERE, Sy Engele, kragtige helde (leer meer oor die rol van Engele in ons lewens) wat Sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van Sy woord!

21 Loof die HERE, al Sy leërskare, Sy dienaars (let op) wat Sy welbehae doen!

22 Loof die HERE, al Sy werke, op al die plekke van Sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!

PSALMS 150:1-6

Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk uitspansel!

Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid!

Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter;

loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit;

loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale!

Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!