Donderdag 04 April 2019

‘n Moedige Evangelis en Volgeling van die Messias in Israel

My naam is Jakob Damkani, en ek is in 1952 naby die See van Galilea gebore in ᾿n godsdienstige Joodse familie van die stam van Juda.

Deur die genade van God is ek in 1977 Wedergebore en eers daarna het ek my ware, godgegewe identiteit verstaan en ervaar wat dit werklik beteken om ᾿n ware Jood te wees.

Sedert die wonderlike dag van my Wedergeboorte het ek alles uit my verlede as verwerplik beskou. Deur die genade van die Here, en met Sy hulp, wil ek niks weet nie behalwe Hom wat gekruisig is, vir wie God uit die dood opgewek het.

            “Trumpet of Salvation to Israel is in 1984 as ᾿n evangelisasiebeweging gestig met die doel om Jeshua teen enige koste te verkondig aan die verlore skape van die huis van Israel. Deur God se genade en krag wat in ons werk, is ons nie skaam vir die Evangelie nie, en vrees ons ook geen weerstand teen die Evangelie nie, “want dit is ᾿n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” Rom 1:16


Ons regering weet nie hoe om te definieer wie almal Jode genoem moet word nie. Ons wat uit die Gees van God gebore is, weet egter vir seker dat buiten Jeshua niemand regtig weet waaroor ware, Bybelse Judaïsme gaan nie.

            My roem is in die God van my vaders van wie alle seëninge kom. Alle heerlikheid, eer, lof en bewondering behoort net aan Hom, en Hy het in my die bereidwilligheid gewerk om my lewe af te lê. Net vir Hom alleen sal ek myself verloën, my kruis opneem, Hom navolg, en die vrees in die hart van die kerk in Israel verbreek.

Ek het nie te veel aan die gevare gedink wat aan Evangelisasie in Israel verbonde is nie. Ek weet dat God my geroep het om Hom te volg en die opgestane Here Jesus aan sy verbondsvolk te verkondig. Ek het net geweet dat ek dit moes doen, en was seker dat Hy my krag sou gee vir my diens aan Hom.

            Nadat ek na Israel teruggekeer het (ek was agt jaar lank in Amerika) het ek in my ouerhuis in Holon gewoon saam met my jonger suster, Carmella. My ander broers en susters was toe reeds getroud en het in hulle eie huise gewoon.

My geliefde moeder was 69 jaar oud en het nog steeds as skoonmaker in verskeie huise gewerk. Een nag is sy skielik Hemel terwyl sy gewerk het.

My geliefde pa wat vir meer as 50 jaar lank met my ma getroud was en agt kinders onder uiters moeilike omstandighede saam met haar grootgemaak het, het skielik sy vrou verloor vir wie hy baie lief was. Van daardie oomblik af was hy nie meer homself nie.

In sy gebrokenheid is hy skielik deur een of ander demoniese mag oorgeneem wat teen my te velde getrek het. Hy het begin om my te vloek en vir my ma se dood te beskuldig. Hy het ook die Here gelaster en gedreig om my Nuwe Testamente en ander boeke, asook evangeliese literatuur wat ek versprei het, te verbrand.

Na ᾿n paar lang weke waarin ek hierdie hewige aanvalle verduur het, het ek besluit om te trek. Ek het my pa se huis verlaat omdat ek nie langer sy godslastering en aanhoudende dreigemente om my boeke te verbrand, kon vat nie.

Ek het baie goed geweet dat dit nie my pa was wat gevloek en die Here se naam belaster het nie, maar Satan self wat my werk in Israel probeer stop het.

Al die aanvalle, geweld, aanrandings en bloedvergieting wat ek in die strate van Israel verduur het, het my nie gekeer om die Evangelie met andere te deel nie, en ek het met my hoë roeping voortgegaan, maar nou het die duiwel desperaat probeer om my te stop deur my ma se dood te gebruik, asook my pa se intense verbittering teenoor my.

Ek het nie teen vlees en bloed geveg nie, en al my gebede en vas het nie die toestand verander nie.

Ek het hierna in verskillende huise geslaap. Sekere broeders in die Here het my graag gehuisves; Ilan Zamir het my in hierdie tyd so geseën, asook my suster Frieda en andere.

Ek het aangehou om vir my liewe pa te bid en het hom dikwels in Holon besoek. Ek het besef dat hy baie probleme ervaar. My liefde vir hom, en ook my bekommernis oor hom, het toegeneem maar ek het nie geweet hoe om hom te help nie.

            In hierdie tyd het die Here op ᾿n wonderbaarlike manier aan my die geld voorsien om ᾿n huis te koop. Dit is in Jaffa geleë, slegs drie minute se stap van waar Petrus sy gesig gehad het.

Hierdie visioen het daartoe gelei dat Petrus vir die eerste keer die Evangelie aan nie-Jode gaan verkondig het – aan ᾿n man met die naam van Cornelius.

Dit was 2000 jaar gelede toe die apostels in verwondering was oor die bekering van heidene. Hoe is dit dat die situasie intussen omgekeer is, want nou is dit die kerk wat in verwondering is wanneer ᾿n Jood vir Jeshua aanneem?

            Van Jaffa af het die Evangelie na die heidenwêreld uitgegaan en nou, na 2000 jaar, wil die Here van Jaffa af die Evangelie na sy eie Joodse volk terugbring. Hierdie huis het ᾿n basis geword vir die ontwerp en voorbereiding van traktaatjies, boeke en video-kassette in Hebreeus, waarin Jeshua in sy Joodse verband voorgestel word deur van die Ou Testament af na die Nuwe te beweeg. Ons verskaf al ons gedrukte materiaal gratis aan die hele liggaam van Christus in Israel.

            Deur die genade van God het Trumpet of Salvation daarin geslaag om 200 000 kopieë van die boek Lama Davka Ani? (Why Me?) te druk en te versprei. Soos wat ons begroting dit toelaat, plaas ons artikels in Israel se nasionale koerante waarin Jeshua in sy Joodse verband vanuit die Ou Testament verkondig word. Die reaksie is oorweldigend; mense bel en skryf om vir Nuwe Testamente en ander materiaal aan te vra.

            Trumpet of Salvation to Israel is soos ᾿n spoorwegstasie; ᾿n groot aantal mense uit verskillende rigtings kom besoek ons om oor die Here te praat, en ook oor wat dit vir Jode beteken om in Jeshua te glo. Hier by Trumpet of Salvation maak ons seker dat voordat mense ᾿n oorgawe maak, hulle besef wat die kosteberekening vir ᾿n ware geloof is. Baie Israeli’s kom tot die geloof, en wat ᾿n voorreg is dit om hulle as dissipels te onderrig totdat hulle die druk deur hulle families en die breër samelewing kan weerstaan.

Daarna plaas ons hulle uit in die liggaam van ons Here ooreenkomstig hulle plekke van herkoms.

            Aan God al die eer! Aan Hom alleen behoort die heerlikheid! In elke gemeente in Israel is daar Israeli’s wat tot geloof gekom het as gevolg van die werk van Trumpet of Salvation to Israel. Glo jy dat as jy Wedergebore is jy ook ᾿n roeping het?

Dit is ons plig, geliefdes, om te reageer op die liefde van God wat ons van die kruis van sy Seun af roep. As jy net sal begin om Hom te volg en jou lewe te lei volgens die eise van Jeshua en sy koninkryk, sal jy die mees opwindende en kleurvolle lewe lei waarin geen trane, smarte of pyn jou daarvan sal weerhou om die Koning na te volg nie, want Hy het waarlik jou siel lief.

            Dink aan hierdie wonderlike waarheid: die Here het aan sy dissipels die opdrag gegee om die Evangelie tot aan die eindes van die aarde uit te dra. Noudat die Evangelie die vier hoeke van die aarde bereik het, bring God sy verbondsvolk soos droë bene na die Beloofde Land toe terug. Die Joodse volk is nog steeds dood in hulle sondes en God is besig om hulle, soos in die tyd van die rigters, in ᾿n hoek te dryf.

Hierdie keer doen Hy dit egter nie deur middel van die Ammoniete, Edomiete of Moabiete nie, maar deur hulle Moslem bure. In werklikheid is die hele wêreld teen Israel, hulle voel verstote, moedeloos en is besig om hoop te verloor.

Israel kom aan die einde van hulleself, en dit mag wees dat God nie nou vir Gideon, Debóra of Simson as segspersone gebruik nie, maar lede van nie-Joodse nasies wat die opdrag het om Israel jaloers te maak.

                        Dit lyk of Israel as ᾿n volk altyd by ᾿n kruispad te staan kom. Solank as wat hulle aanhou om hulle rug op Jeshua te keer, sal hulle aanhou om in die verkeerde rigting te draai. God het nie meer vir Moses, Samuel, Jeremia, Paulus, Petrus of Johannes om sy werk op aarde te doen nie, maar Hy het vir jou, wat deur sy Gees gebore is, wie of waar jy ook al mag wees.

            Vir meer as 20 jaar het die Here Trumpet of Salvation to Israel gebruik om Joodse en nie-Joodse gelowiges op te lei, te bemoedig uit te daag en te mobiliseer om die Joodse Evangelie op ᾿n Joodse manier aan Jode te verkondig.

Deur God se genade maak ons dissipels van baie Israeli’s wat tot  die geloof gekom het, leer hulle die basiese beginsels van hulle nuutgevonde geloof en bevestig hulle in die waarheid van God.

Ons help hulle om te verstaan dat hulle lewe nou oor God en sy koninkryk moet gaan. Ons bemoedig hulle en help hulle om teenkanting deur hulle families, en ook deur die godsdienstig ortodokse Jode, te kan weerstaan. Ons help hulle om ᾿n Messiaanse gemeente te vind waarby hulle maklik kan inskakel, en lewer so ᾿n bydrae om die Messiaanse Joodse gemeenskap in Israel op te bou.

         

·       Vir nuusbriewe en meer inligting oor, tree met hulle in verbinding by: trumpsal@netvision.net.il