Maandag 30 Julie 2018

Middel C sal ons op koers hou

Jesus praat met sy Vader YAWEH oor ons, oor my en jou. Hoor Sy verlange:


            “Vader, dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees (hoekom?), sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het (hoekom?), sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.

 

            “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.” Joh 17:21-23

            Is ons een... as daar 38 000 verskillende Christelike denominasies in die wêreld is? Het Hy waarlik gesterf sodat daar so baie kerkgenootskappe gestig moes word... en ai, elkeen boonop met sy vertolking van die Woord?

            As jy onkundig is oor musiek, let op, musici en veral klavierstemmers gebruik ‘n stemvurk om te verseker ‘n musiekinstrument is 100% korrek ingestel.

            Ons behoort elkeen vir ons ‘n stemvurk te koop en daagliks saam met ons te dra want ons gaan dit vorentoe al hoe meer benodig om te verseker, ons is in lyn met Middel C.

            Middel C verander nooit... gister, vandag more, oor duisende jare bly Middel C presies dieselfde.

            Christus is ons Middel C.  Hy verander nooit, dis ons wat ons lewens elke dag in lyn, nootvas, met Hom moet bring. As iemand jou omkrap... voordat jy reageer, kap jou stemvurk en luister.

            Skrywer het in twee van die grootste orkeste in Suid-Afrika gespeel. Middel C was die middelpunt van alle musiek... so was dit deur die eeue tot vandag toe en dit sal altyd so wees.

            Ons as Gelowiges gaan Christus al meer in ons lewe benodig. Ons het Middel C as ‘n stil plek in ons lewens nodig. Hy is ons onveranderbare Herder. Dis Hy wat die storms sal stilmaak,

            Volgens Dawid in Ps 23 is Christus ons Herder. Hy is ons Middel C.

            Let op: Straks begryp jy nou beter: Lloyd Douglas, die skrywer van The Robe en Magnificent Obsession, het elke dag by ’n afgetrede musiekprofessor ingeloer en vir hom gevra: “Wat is vandag se goeie nuus ?”

            Dan sou die ouman sy stemvurk optel en op sy rolstoel kap en sê: “Dis Middel C! Dit was Middel C gister; dit sal Middel  C môre wees; dit sal ook Middel C  in ’n duisend jaar van nou wees.

“Die klavier in die gang af is nie ingestem nie. Die tenoor hierbo sing heeltemal van die wysie af. Maar, my vriend, (terwyl hy op sy rolstoel tik) die antwoord bly Middel C

“Alles kan verander, maar God bly dieselfde! Daarom sê God in Hosea 11:9 “…want Ek is God, nie ’n mens nie !” of in Jer 31 :35 (lees dit).”

Die ou musiek Professor. aan ‘n rystoel gekluister, het ontdek, die enigste manier waarop hy vir die res van sy lewe kan vertrou is Middel C, Christus Jesus. Hy het gereeld met sy stemvurk teen die rystoel gekap en geluister, hpm verbly in die wete Christus is sy Middel C.

Die oomblik wat ons na die stemvurk luister, kom hierdie draaiende, kolkende, dwalende wêreld tot stilstand. Ons hoor Middle C, Christus, oor en oor,

            Alle instrumente moet altyd ingestel word om nootvas te wees, so moet ons ook daagliks ingestel word, gekalibreer word, om in Christus te bly. Kry vir jou ‘n stemvurk en gebruik dit om jou te help om in Christus te bly. Dis iets tasbaars en van onmeetbare betekenis. As jy ‘n besluit moet neem, luiter eers na Middel C.

            En wie het die Middel C in die wêreld ingestel? Dit was dan juis Hyself? Die HERE het aan die mens die verstand en wysheid gegee om al die musiekinstrumente in die wêreld te vervaardig om Hom meer te verheerlik.

            “Want hiertoe is julle (en en jy) geroep... lees 1 Petrus 2:21-25

            Feitlik alle instrumente is maklik om in te stem, behalwe die klavier, elke noot het sy eie snaar wat afsonderlik ingestem moet word, maar die stemmery begin elke keer by Middle C.

            Een duisend klaviere wat ingestem is, klink asof die een by die ander ingestel is. En duisend Gelowiges sing ‘n geestelik lied ook presies op Middel C gebaseer en klink soos voëltjies wat sing. Voëltjies is nooit van nooit af. Dis of hulle ‘n ingeboude Middel C het.

            Ons poog daagliks om in ooreenstemming te wees met die beeld van ons HERE en Verlosser. Soos ons in Sy voetspore volg, vind ons dat ons een met ons broers en susters in Christus is wat ook hul bes doen om die HERE in hulle gedagtes, woorde en dade te behaag. -- Sjibbolet

https://www.youtube.com/watch?v=F2emsPPCH4c



Vrydag 27 Julie 2018

So kom ons ook aan die oorkant!


‘n Hewige brand het een nag, 12 Mei 1860, in die Sailor’s Home in Liverpool, Engeland, uitgebreek. Die Sailor’s Home was ‘n oorslaap plek vir verby reisende seelui. Daar was sowat 200 manne per keer daar tuis.

            Die brandweer en baie van die omgewing se mense, was haastig op die toneel. Die gebou se brandtrap het nie tot by die boonste verdieping gegaan nie. Seemanne het deur die boonste verdieping se vensters uitgeleun en vreesagtig om hulp geskreeu. Die brandweermanne het ’n lang leer gebring en teen die gebou na die boonste vensters toe laat leun. Die leer was te kort. Dit was die langste beskikbare leer. Meer as 100 seelui sou ‘n aaklige vlammedood sterf.

.
Nadat dit destyds herbou is


’n Britse matroos wat tussen die skare gestaan het, het in alleryl vorentoe gestorm en die leer met mag en mening tot by die boonste sport beklouter. Terwyl die mense hul asems ophou van verbasing en skok, maak hy homself op die boonste sport van die leer staan. Hy klou aan ’n vensterbank vas en vorm ’n verlengstuk en oorbrugging tussen die venster en leer.

“Gou!,” skreeu hy vir die manne binnekant. “Klouter oor my en klim af teen die leer. Toe! Gou! Gou!”

Een vir een klim die vasgekeerde seemanne oor die matroos se liggaam en af met die leer grond toe. Hy hou uit totdat die laaste man verbygekom het, en toe klim hyself af na veiligheid toe.

Sy gesig was  blase gebrand, sy hare verskroei, sy hande en vingers velaf getrap, maar hy het al daai seemanne se lewens gered. Al die bemoediging en raad wat van die grond af vir hulle geskreeu is, het niks gehelp nie. Die jong matroos se eie liggaam het die brug gevorm.

 
            ’n Mens se fisiese, eie liggaamlike bemoeienis, is vir ’n mens die hoogste prys wat betaal kan word. Dit is hoe Jesus ons gered het. Hy het sy eie liggaam gegee.

            Nadat jy hier gelees het, sal die Nagmaal vir altyd vir jou nuwe betekenis hê.

Met nagmaal eet ons die brood waarvan Jesus gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” En hoe is Jesus nie geslaan, getrap en gekneus om ons redding te bewerk nie!

“Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap…hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom `n pers mantel om. Hulle vleg ’n doringkroon en sit dit op sy kop en sit ’n stok in sy regterhand…hulle bespot Hom… slaan Hom met die stok oor die kop…Hulle het Hom gekruisig.” Mat.26:6 en 7:29,30,35

Jesus se liggaam is vir ons, die oorbrugging oor die afgrond van verdelging, Hemel toe.

Het jy al die opdraande Lydingsweg uit Jerusalem tot op Golgota bewandel? Dis jammer die smouse lawaai so, mens sou dit net vir een keer in doodse stilte wou stap.

Wanneer die Heilige Gees ons hart bewus maak van Jesus se fisiese lyding vir ons, eis dit ook ons fisiese toe­wyding op.

Wanneer jy weer bid, sê vir Hom: “HERE, vandag is U gekruisigde liggaam vir my kosbaar.” Dis my enigste manier om oorkant die Jordaan te kom. – Sjibbolet


Maandag 23 Julie 2018

Die Woord wat nooit leeg sal terugkeer nie

Jacob Daniel DeShazer het na skool by die Amerikaanse weermag aangesluit, Hy was eendag besig om aartappels te skil toe hy verneem dat Japan Pearlhawe aangeval het. Hy het na daar besluit: “Hiervoor moet Japan boet!”

 
Jacob Daniel DeShazer

            Saam met talle ander het hy aangemeld om as vrywilliger aan ‘n spesiale sending deel te neem om Japan terug te slaan. Jacob is as bombardier opgelei met die rang van stafsersant. Hulle aanvalsmag is op 18 April 1942 onder leiding van Lt-Kol Jimmy Doolittle na Japan.

Hulle moes vanaf ‘n vliegdekskip opstyg of die aanval te loods. Hulle bombardeer Nagoya suksesvol maar sommige beland egter in moeilikheid en moes met valskerms na veiligheid spring. Van alle plekke op hierdie aarde val Jacob in ‘n begraafplaas en is beseer.

            Hy is deur die Japanese gevang en in die tronk ge­stop. Twee van sy makkers is deur ’n vuurpeleton doodgeskiet. ’n Ander een is deur stadige uithongering doodgemaak. Jacob DeShazer was ’n ongelowige; ’n uitgesproke ateïs.

Gedurende die lang maande van sy gevangeskap het hy begin peins oor die vraag: hoekom haat die Japanese hom so en hoekom haat hy die Japanese.

Dinge wat hy oor Christenskap gehoor het, het in sy gemoed begin terugkom. Hy het sy Japanese bewaarders vir ’n Bybel gevra. Eers het hulle hom uitbundig uitgelag asof dit ‘n grap is.  Toe word hulle kwaad.

Hulle het hom gewaarsku om sy onnodige lollery met ’n Bybel te staak. Hy het aanhou vra. Byna ’n jaar later, in Mei 1944, het ’n bewaarder in sy sel ingekom en vir hom ’n Bybel gegooi met die woorde: “Drie weke het jy hom. Drie weke, hoor, dan vat ek hom weer weg!”

Die be­waarder het woord gehou. Presies drie weke later het hy die Bybel by Jacob weggeneem. Jacob het vir die res van sy gevangeskap nie weer ’n Bybel te siene gekry nie.

In 1948, na die vrede, was Jacob Daniel DeShazer, sy vrou en seun op pad terug Japan toe – as sendelinge! Dit was die vrug van die Bybel wat die Japanese bewaarder vir drie weke aan Jacob gegee het!

            Die Skrif het groot krag. “Die hele Skrif kom van God af…”2 Tim.3:15. Die Heilige Gees vertolk die Skrif wat ons lees aan ons hart. In ons hart word dit ’n lewende, herskeppende krag.

“Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad: die Lewende en Ewige Woord van God… En hierdie woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.”1Pet.23,25

Liewe leser, jy het nie nodig om jou lewe te waag nie. Versprei net Bybels. God doen die res. Besoek een van ons medewerkers se webblad http://www.thesower.org.za/vol%20indeks%20blad.htm en begryp hoekom die Bybel steeds die grootste verkoper ter wêreld is. Doen dit vir Jesus en vir die verlorenes – Sjibbolet .

Woensdag 18 Julie 2018

Predikers verstrooi die skape




“En die Fariseërs en Sadduseërs het nader gekom om Hom te versoek en het Hom gevra om hulle 'n teken uit die Hemel te laat sien.

            “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi.
            “En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die Tekens van die Tye onderskei nie?
            “'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan.” Matt 16:1-4

            Wat is die teken van Jona? Hy was drie dae in die vis se ingewande...  omdat hy nie die Waarheid wou verkondig nie, omdat hy nie omgegee het vir verlorenes nie, omdat hy God ongehoorsaam was!,

Christus sou in die graf wees vir drie dae, maar Christus het die dood oorwin. Die Waarheid het geseëvier.

            Gebed tot die Vader in die naam van Jesus is gratis. Alles is vir ons aan die kruis betaal. Al wat ons hoef te doen is om te glo en te aanvaar en te gaan vertel.

            Die profeet Jeremia waarsku:

            “Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die HERE.

            “Daarom, so sê die HERE, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die HERE.

            “En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig.

            “En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die HERE.
            “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.
            “In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE, YAWEH, ONS GEREGTIGHEID.
            “Daarom kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat hulle nie meer sal sê: So waar as die HERE leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie,
            “maar: So waar as die HERE leef wat die geslag van die Huis (volk) van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land.”

            Predikers wat nie God se Woord te volle leer nie laat die skape honger ly en verdryf hulle uit die voerkrale na ander voerkrale. Almal wat julle gemeentes verlaat het, loop haal hulle, onverwyld.

            Die pad van God is smal en reguit. Kortpaaie om die skape, betekenislose rituele en kerklike dogmas en leringe om op makliker, eenvoudiger wyses die pad te stap, pleks van God se Raadsplan te handhaaf, sal veroorsaak dat meer mense verdwaal.

            Prediker, gaan kyk vanaf Openb 2 na die sewe gemeentes en besluit in watter gemeente jy is.

            Die gemeentes van Smirna en Filadelfia is die enigste wat lering gehad het wat deur Jesus self goedgekeur was.

            Leer jou kerk of gemeente enige van hierdie dinge? – Sjibbolet

Dinsdag 17 Julie 2018

Kom ons maak met blydskap die Getal vol


Image result for 1 Peter. 1:19


Klein Dawid, Simson, Noag, dink maar aan al die helde van die Bybelse tyd en ons gee lof en aanbidding aan God omdat Hy saam met hulle was.

            Twee duisend jaar gelede was daar ‘n klein groepie  in Jerusalem toe die Groot Opdrag kom om die wye wêreld in te beweeg en die Goeie Nuus te gaan verkondig. As jy daardie dag daar was, sou jy kans gesien het vir daai ontsettende groot opdrag?

            En dan sê Jesus Hy vertrek, ons moet dit alleen doen. Hy stuur die Heilige Gees om ons te help. ‘n Gees?

Wat sou daardie oomblik deur jou kop en wese gegaan het. Hy het die werk begin en drie jaar lank volgehou, nou moet ek en jy dit voltooi deur reg deur die wêreld die Evangelie van Jesus Christus te verkondig.

Twee duisend jaar gelede is ons in Jerusalem, ons weet nie eers waar die res van die wêreld is nie.

            As jy daai dag daar was in Jerusalem, wat sou jou reaksie gewees het... onmoontlik?

Daar was skuite en bote, donkies, perde en kamele, maar nie fietse nie, nie motors nie, nie motorfietse nie, geen teerpaaie of brûe nie, nie vliegtuie nie, geen telefone, geen teleks, geen Internet, geen selfone... geen niks nie. Daar was nie eers ‘n posdiens nie.

Nogtans... vandag is die Christendom loshande steeds die grootste beweging in die wêreld met die Bybel as die grootste verkoper. Dit kon alleen vermag word deur ons gewilligheid, die krag van God en die leiding van die Heilige Gees.

            En ek en jy? “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” Rom 8:31

            Ons is “medewerkers van God” 1 Kor 3:9. Ons moet Jesus se onvoltooide werk op aarde voltooi.

            Ons is nie alleen nie. Dieselfde geestelike dryfkrag is steeds teenwoordig. Ons taak is effens moeiliker... want... almal is skielik Christene... 34 miljoen in SA bv. vul op hul sensusvorms in dat hulle Christene is... is hulle werklik Christene? Ons weet dis nie waar nie, want ons behoort ‘n boom aan sy vrugte te ken... maar mens herken nie eers die bome nie.

•          Open. 5:9 – “Toe sing hulle (die Gelowiges) ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,”

•          1 Pet. 1:18 – “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,”

•          1 Pet. 1:19 – “maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”

Jesus het letterlik Sy bloed vir ons gegee. As kind van God het ek en jy ‘n bloed gekoopte reg tot:

•          ‘n Oorvloedige lewe. Joh 10:10 – “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”

•          ‘n Lewe van betekenis;

•          ‘n Lewe met ‘n doel;

•          Goddelike gesondheid (Jes. 53:4)

•          Dat God in al ons behoeftes sal voorsien. Fil 4:19 – “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”

Ons het en geniet al hierdie dinge:

•          Nie omdat ons dit ooit kan verdien nie;

•          Nie regtig oor een of ander daad wat ons gedoen het nie;

•          Of omdat ons so goed is nie; maar a.g.v. God se groot liefde vir my en jou en op grond van die bloed van Jesus wat Hy vir ons gegee het wat ons in geloof aangeneem het. Al hierdie seëninge omdat God vir ons is!

Om die HERE aan jou kant te hê; ‘n God wat vir jou is, is absoluut onbeskryflik wonderlik! Rom. 8:32 – “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”

          Ek en jy leef in afwagting van die Wederkoms. En die ander mense?

            “Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter;

“so sal my Woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

“Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap.

“Vir 'n doringboom sal 'n sipres opgaan; vir 'n distel sal 'n mirteboom opgaan; en dit sal vir die HERE wees tot 'n naam, tot 'n ewige teken wat nie uitgeroei sal word nie.

“So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want my heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.

“Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit geen kwaad doen nie.” Jes 55:10-13; 56:1-2

Ons is dus nie alleen in die uitdra van die Evangelie. Kom ons maakmet blydskap die Getal vol. – Sjibbolet



Sondag 15 Julie 2018

Moenie God se weldade vergeet nie


Pastoor Henry Porter vertel van ‘n denkbeeldige dag, toe die son nie opgekom het nie. Dié oggend word dit al sesuur, maar dagbreek bly weg.

Twaalfuur die middag is dit steeds middernag donker. Die son kom net nie op nie! Geen voël sing nie. Die agtermiddag breek met donker nagure aan. Groot ontsteltenis begin posvat.

Kerkklokke begin lui. Mense stroom na die kerke toe. Die aand breek donker aan, soos gewoonlik.

Niemand dink aan slaap nie. Oral huil en bid mense. Die hele nag deur gaan dit so.

Miljoene betraande gesigte is angstig Ooswaarts gekeer. Oë tuur angstig na die oosterkim. En toe verskyn die gewone eerste tinte van sonsopkoms en ‘n bietjie later kom die son, soos elke dag, op.

 

            ’n Groot gejuig gaan op – uitroepe van vreugde: “Loof die HERE, o, my siel!” Hoekom die groot blydskap? Dit is dan maar net dieselfde sonsopkoms, wat hulle almal al honderde kere gesien het, maar nooit op gelet het nie.

Pastoor Porter skryf: “God stort daagliks seëninge op ons uit, maar ons raak gewoon daaraan. God se seëninge is elke dag soos klokslag oor ons, maar waar is ons konstante dankbaarheid. Sy welwillendheid is nuut elke oggend en nuut elke aand, maar ons let selde daarop en gee Hom selde eer daarvoor.” One beleef eke dag Sy belofte van Sy goedheid en guns wat ons volg...

Ons maak soos kinders wat in ’n goedversorgde huis groot word – neem die goeie dinge as vanselfsprekend aan – sonder om selfs dankie te sê.

Hoe waardeer ons dit nie as iemand, veral ’n kind, kom dankie sê vir die normale goeie dinge, wat ons vir hulle doen nie. Het jy al ooit gehoor ‘n kind sê: “Dankie juffrou dat juffrou ons met vandag se leerwerk gehelp het.”

God het ook ’n behae in ’n dankbare hart en positiewe danksegging. “Luister, my volk… ek wil geen jong bul of bokke uit jou krale hê nie…Lof is die offer wat jy aan God moet bring…Die mens wat My eer, is die een wat lof as ’n offer bring…” Ps.50:7,9,14,23

            Kom ons bedink (Porter sê: Neem kennis van) al die goeie dinge wat God sonder onderbreking deurentyd vir ons gee, en ook deur die jaar wat verbygegaan het, ononderbroke vir ons gegee het, en waaraan ons so gewoond geraak het as iets alledaags, dat dit ons nie eens meer raak nie.

            Dan kniel ons en ons dank Hom vir al die goeie dinge. “…dit is ’n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.” Ps.147:1

            “Ek wil die HERE loof en nie een van sy weldade vergeet nie…wat…my die goeie in oorvloed laat geniet…” Ps 103:2,5 – Sjibbolet

Trane... wanneer jou siel ween

Ons sien dit op TV by die wêreld sokkerstryd... trane en nogmaals trane. Groot en klein huil bitterlik wanneer hul span verloor, selfs die spelers op die veld huil onbeskaamd. Ons wat nie so iets ken nie, verstom ons aan al die trane.
cid:image001.jpg@01D418FF.971E4EE0

Kyk baie mooi na hierdie foto. Dis trane by die Wedergeboorte...

As mense nou maar so wou huil oor die Ewige Lewe wat hulle nie het nie. En om te dink dat diegene wat gaan agterbly na die Wederkoms, ook so sal huil, bitterlik ween. Helaas.

Ons is op die rand van die laaste maar grootste Herlewing in die geskiedenis voordat Jesus kom. Ons wag daarvoor, ons loof die HERE daarvoor. Dit gaan groot wees. Ons het so iets nog nooit beleef nie. Die heerlikheid van God gaan ons verswelg.

As jy nie ook gereed is nie, luister intussen hierna:  https://www.youtube.com/watch?v=CkbhxAPadXQ  Die lied is geskryf deur die bekende pianis Charlotte Elliot net na haar Wedergeboorte. George Beverley Shea wat onlangs Huis toe is op ouderdom 104, het hierdie lied male sonder tal oor ‘n periode van 60 jaar by wyle Billy Graham se dienste gesing. Miljoene mense het tot redding gekom. Dit is Lied 203 in ons Hallelujaboek.

Hoekom is daar trane? Wat beweeg mens tot trane? Jy word diep ontroer... soms stort mens bitter trane weens swaarkry, weens smart en berou, weens teleurstelling. Daar is ook droë trane soos knaende berou hê, wanneer mens knaend treur.

Soms smeek jy: Droog tog my trane, iemand troos my... soms huil mens lang trane, wanneer jy baie spyt het oor wat hy gedoen het; soms swem mens in trane, wanneer jy baie, baie huil; soms gaan dit op die ou traan, dit gaan nog op die ou manier, soos altyd, en jy kom nie in die volheid van geestelike oorwinning nie... soms bly mens vol weemoed, In ‘n treurige gemoedstemming, melancholie en smart, en mistroostig.

Ook weemoed bring trane. Selfs heimwee en verlange bring trane... soos wanneer biologiese ouers en aanneemkinders na baie jare versoen; ook wanneer aangenome kinders na hul onbekende biologiese ouers verlang. Trane is wanneer die siel huil; wanneer die siel ween; God se goedertierenheid bring ook trane, trane van blydskap en vreugde, trane van oorwinning! Halleluja!

Dawid deurweek sy "bed met trane." Ps 6; en is dit sy "spys dag en nag." Ps 42. Jesaja se oog "is 'n fontein van trane." Jes 9; en Paulus "dien die HERE met baie trane." Hand 20

Jesus Christus het geween oor die sondes van Jerusalem. Oor die dood van sy vriend Lasarus het Hy gehuil. Aan die einde van Sy aardse lewe het al ons sondes vir Hom smarte en trane gebring.

Daar kom egter ‘n dag wat die trane verby sal wees. Johannes sê in Openb 7:  "God sal al die trane van hulle oë afdroog".  Johannes sien hier 'n menigte mense wat ... ja, nie huil nie ... maar jubel en juig. En die Engel berig dat die verlostes in die Hemel is. Openb 7:13-17

Trane en droefheid is ‘n beeld van lyding en smart ... van sonde en pyn. Trane is bestem vir hierdie lewe, nie vir die Hemel nie. Daarom sien Gelowiges met reikhalsende verlange uit na daardie dag. – Sjibbolet

https://www.youtube.com/watch?v=7Io4m6k9aRo









Dinsdag 10 Julie 2018

Peter Philpott getuig...

Johannes sê: “Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat…gehoor gee, sal lewe.” Joh 5:25

            En toe gebeur dit net so: Peter Wiley Philpott skryf in The Way Out, hy stap een Januarie aand, as jongman om ’n straathoek, is ’n groep Gelowiges van Die Heilsleër vas wat ’n opelugdiens hou.

            ’n Kort jongmeisie sing met ’n mooi, helder stem ’n lied. Hy gaan staan om te luister. Vir hom is alles nuut, want geestelike liedere, kerk of Sondagskool was ver buite sy lewensraamwerk. Die vrou sing:

When I survey the wondrous Cross

On which the Prince of Glory died

My richest gain I count but loss

And pour contempt on all my pride.

Na elke vers sing sy ’n refrein:

O Calvary! Dark Calvary!

Speak to some heart from Calvary.

Terwyl sy so sing, haar gesig opgehef na die Hemel, maak die Heilige Gees in hierdie luisterende, Peter, die kruis van Golgota ’n werklikheid: dit daag in sy hart, Jesus Christus het in sy plek aan die kruis gesterf.


Pastoor Peter Wiley Philpott

Hy het nie daar ’n vriend gehad om vir hom te sê wat besig was om met hom te gebeur nie. Hy skryf: “Later daardie aand, toe ek die Bybel begin lees besef ek wat Wedergeboorte en bekering beteken. Toe eers besef ek wat daar op die sypaadjie met my gebeur het.

“Ek het voor die kruis van Christus gestaan en my gewete het my aangekla en my sonde is vergewe. Dit was my sonde wat Sy bloed gestort het, wat Hom teen die kruis help vasspyker het.”

Daardie aand, vertel hy, doen hy iets wat hy nog nooit voorheen ge­doen het nie. Voor hy in die bed klim, kniel hy en hy bid. En tot sy groter verbasing en blydskap, spreek hy God aan as: “…my dierbare Hemelse Vader” en voeg hy: “Sedertdien is Hy die afgelope 58 jaar reeds soos ‘n Vader vir my.”

Die volgende dag het hy nog hulp gekry. ’n Man wat as ‘n Gelowige bekend was, het met hom ’n gesprek aangeknoop. Hy lees vir hom stadig Joh 5 vers 24: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die Ewige Lewe.

“Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”

Die man vra hom om dit self te lees. Hy kan die betekenis nie mooi gesnap nie. Die man vra hom om dit weer te lees en toe vra hy vir hom: “Weet jy wie dit sê?” Maar hy weet nie.

”Dit is Jesus self wat hierdie won­derlike woorde vir jou sê.” Die man laat hom die strofe weer lees en vra: “Wat sê Jesus hét jy nou?”

Hier is Philpott se eie woorde: “Jesus sê ek het die Ewige Lewe. Vir 58 jaar al het ek nooit hierdie glorieryke feit betwyfel nie: Inderdaad, ek het die Ewige Lewe.”

Luister, dis vir jou ook beskikbaar, volg Philpott se voorbeeld. – Sjibbolet

Laat die kleine Dawid in jou opstaan


Dawid was ‘n diep gelowige man. Waarom het hy dan nie net een klippie opgetel om Goliat te verslaan nie? Waarom het hy vyf klippies opgetel?

            Goliat had vier broers (Sam 21:19-22). Dawid het besef dat wanneer hy Goliat verslaan, die vier broers dalk op hom kon afstorm. Hy het hom dus deeglik voorberei.

 

            Toe Goliat egter val het die Filistyne almal op die vlug geslaan, Goliat se broers ook. En as die vier broers wel op Dawid sou afgestorm het? Die feit dat Dawid vir Goliat met net een so ‘n netjiese hou kon neervel, het vanselfsprekend beteken dat hy die ander vier ook een vir een sou uithaal. Dawid was nie alleen nie, God was aan sy kant. Nogtans was hy deeglik voorbereid.

            Dit is die verhaal van die oorlog wat gewen is nog voordat dit kon begin het.

            As daar ‘n Goliat in jou lewe is, dan is dit nie om jou te vernietig nie, maar om die klein Dawid in jou te laat opstaan en standpunt in te neem. Jy is mos ook deeglik voorbereid, jy ken die Skrifte en in jou tong is lewe en dood.

            Let op na hierdie gedugte voorbeeld: Hoekom langer ‘n wurmpie wees?

            Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob …. Ek maak van jou ‘n skerp dorsslee wat baie tande het. Jes. 41:14-16.

            Watter groter kontras kan daar wees tussen ‘n wurmpie en ‘n harde staal dorsslee nie?

            Die nietige wurmpie kan op velerlei wyses eensklaps vernietig word, terwyl die staalharde dorsslee vele dinge kan vernietig sonder om self vernietig te word.

            En die Almagtige GOD kan die een in die ander verander!

            Hy kan een persoon ‘n volk maak en albei dus deel van die geskiedenis, terwyl van die wurmpie nooit weer gesien of gehoor sal word nie.

            Wanneer GOD aan ons ‘n wil van staal gee, sny ons ‘n pad deur enige weerstand, deur enige wildernis.

“Ek maak jou…” sê Hy, en inderdaad, Hy wil en sal dit doen!

            GOD is besig om Sy Koninkryk te bou. Hiervoor gebruik Hy die gebroke dinge. Die mens wil alles aanpak alleen met die sterkes, die suksesvolles, die triomfantelikes, die ongebrokenes, die helde, om hul koninkryke mee te bou.

            GOD het nie Skrifgeleerdes, professore en doktore gebruik nie – nie dat hy hulle nie ook kan gebruik nie – maar eenvoudige ongeredde vistermanne, stamelaars, veewagters.

            Jesus sê Hy heel die gebroke harte. Die Hemel loop vol van die aarde se gebroke lewens. Maar daar is geen geknakte riet wat Hy sal verbreek nie.

            Hy neem die lewens gekneus van pyn, verwerping, verdriet en ellende en verander dit in Hemelse harmonieuse musiek vol lof. Hy kan die aarde se mislukking ophef na ‘n glorieryke Hemel.

            Die HERE sê Hy woon in die hoogte en in die Heilige Plek, maar Hy woon ook by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Jes. 56:15.

            Mens moet dus nie na jouself kyk as bloot ‘n wurmpie nie. Kyk na wat GOD van jou wil maak. –  Sjibbolet


Woensdag 04 Julie 2018

Kom, net soos jy is...


“Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Joh 6:37

            Die bekende Switserse Evangelis, dr. Caesar Malan, het net meer as honderd jaar gelede, Londen besoek, vertel Kingdom Evangel.

 

Hy woon ’n onthaal by waar ’n besonder talentvolle jong vrou die klavier te pragtig bespeel. Na haar treffende klavierspel, spreek Dr. Malan, saam met baie ander gaste, sy hartlike waardering uit en voeg by: “God het aan jou ’n buitengewone gawe gegee. Wy dit aan Hom toe.”

Sy het geen sin aan godsdiens gehad nie en hy kon sien sy verstaan nie wat hy vir haar probeer sê nie. Toe sê hy reguit vir haar: “Onthou, as jy nie jou hart vir die HERE gee nie, is jy ’n ongeredde sondaar.”

Net toe loop ’n verflenterde bedelaar by die deur verby. Hy wys na die bedelaar en sê: “Dan is jy net so verlore soos daardie arme mens.”

Sy vererg haar bloedig vir hom en draai kwaad van hom af weg. Sy kon die onthaal nie verder geniet nie. Vroegaand gaan sy huis toe.

            Sy wou gaan slaap, maar die slaap was weg. Net die godsman se ernstige woorde bly in haar gedagtegang terugkom. Die volgende dag is sy terug na Malan. Sy het gesê sy wil haar saak met God regmaak maar hoe raak sy van haar verlede en sondes ontslae?

            Malan het geantwoord: “Kom na Jesus toe net soos jy is, Moenie die knoop probeer losmaak nie,  dit sal te lank neem, sny die tou van die verlede eenvoudig af.”

            Sy het Jesus toe as haar persoonlike Saligmaker aangeneem

            Charlotte Elliot het geweet, Jesus Christus het in haar lewe ingekom en vrede het haar wese vervul. Sy staan op en skryf die lied wat ons nou nog sing:

            “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen U bloed gestort vir my; getrek tot U deurboorde sy – o Lam van God, ek kom! Net soos ek is, ek wag nie meer; ek kom, hoe vuil bevlek, o Heer, en werp my aan U voete neer – o Lam van God, ek kom!”

            Charlotte Eliot het in haar leeftyd 150 geestelike liedere geskryf. Hierdie lied is in baie tale vertaal. Een vertaler het geskryf: “Hierdie lied het ’n wonderlike geskiedenis gehad. Dit is waarlik soos ’n blaar van die boom van die lewe.”

            Wyle dr Billy Graham het die lied in elk van sy dienste laat sing deur die bekende George Beverley Shea.

            Charlotte het op ‘n keer teen die einde van haar lewe toe sy nie meer kerkdienste kon bywoon nie, geskryf: “My Bybel is my kerk. Dit is altyd oop en my Hoë Priester wag en ontvang my gereeld daar. Daarin is my belydenis, my danksegging, my lofpsalm  en my gemeente wat hierdie wêreld nie waardig is nie – profete, apostels, martelaars en belydenisse.. in kort, daar is alles daarin wat ek ooit sal nodig hê.”

            Kom, jy is ook welkom... kom net soos wat jy is. Jesus weet van jou en Hy wag vir jou. – Sjibbolet

Maandag 02 Julie 2018

Ware Liefde is Volmaak


Image result for love images


Net liefde kan ‘n herinnering skep. Net liefde kan ‘n oomblik vir altyd vasmaak, sing Nana Mouskouri. Sy sing van ware liefde.

Vergelyk dit met die situasie in jou eie huishouding: Vir jou kinders bedoel jy uit die ware liefde van jou hart, vrede en geluk en dit mag hulle dan ook heeltemal tereg, ryklik smaak, solank hulle gehoorsaam is.

Ouers wil graag in ware Liefde hulle kinders vervolmaak in elke goeie werk solank hulle die ouers se wil uitvoer. Ouers wil liefdevol hul eie talente, kennis, karakters en persoonlikhede vir hulle kinders beskikbaar stel om die kinders ten beste toe te rus vir die lewe wat nog voor hulle ooplê.

As kinders maar net wil luister en gehoorsaam wil wees, kan hulle hulself baie probleme, foute, ellende, verdriet, teleurstelling en ‘n gesukkel in die lewe bespaar.

Dit is ook in ‘n nog sterker graad die verhouding tussen Wedergeborenes en die Vader. Hy wil ons uit ware liefde vervolmaak in elke goeie werk om Sy wil te doen “deur in ons te werk” – as ons Hom net wil toelaat om in ons te werk!

Let op na die volgende verhaal:  'n Vrou is deur omstandighede gedwing om uit haar ouerhuis te vlug en trou toe met 'n man wat sy nie liefgehad het nie. Hy was 'n streng, veeleisende persoon, soms so onredelik, liefdeloos. Sy trots en hoogmoed het alles rondom hom vernietig.

Hy het haar gedwing om elke oggend vyfuur op te staan om sy ontbyt te berei en dit presies om sesuur aan hom te bedien. Sy moes hom volgens presiese, geskrewe reëls dien. Hy het haar lewe ongelukkig gemaak. Uiteindelik is hy dood. Na 'n paar jaar trou sy weer.

Hierdie keer trou sy met 'n man wat sy werklik liefhet. Sy was ook versekerd van die nuwe man se ware liefde. Hy het haar gereeld die hof gemaak, haar soos ‘n vrou laat voel. Jesus se liefde het geseëvier. Hy was ‘n ware Hooglied man, soos beskryf in Hooglied 2. Hy het sy Hooglied vrou bemin.

Sy was nou 'n gelukkige en ontspanne vrou, sonder vrees en angs in haar man se teenwoordigheid.

Op 'n dag maak sy die huis skoon en kom af op die lys van streng reëls wat haar vorige man vir haar uitgeskryf het en waarvolgens sy presies moes leef.

Sy lees dit: "Staan vyfuur op. Bedien ontbyt presies om sesuur." Aan en aan lees sy met beklemde hart.

Toe maak sy 'n wonderlike ontdekking en sy lag spontaan. Sy vervul steeds elkeen van daardie reëls in haar nuwe huwelik, maar sy het dit nie agtergekom nie, omdat sy haar nuwe man liefhet.

Daardie ware liefde is beskikbaar aan elke Wedergeborene deur die “God van Vrede!”

Alles was nie altyd wel tussen ons en God nie. Kol. 1:21 sê: “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke,” het Hy nou versoen.”

Ons was van nature ongehoorsaam en kinders van die toorn, aldus Efes. 2:2-3.

God het egter deur sy Seun, Jesus Christus vir ons vrede en redding bewerk, volgens Efes. 2:14-16. Deur die Wedergeboorte verkry ons nou die Ewige Lewe in Jesus Christus.

            Jy is nou ‘n “nuwe skepsel!” 2 Kor. 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

            Wie het dit gedoen? Strofes 18-19 “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.”

            Watse soort mense is ons nou? Strofe 20 “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” – Sjibbolet