Dinsdag 10 Julie 2018

Laat die kleine Dawid in jou opstaan


Dawid was ‘n diep gelowige man. Waarom het hy dan nie net een klippie opgetel om Goliat te verslaan nie? Waarom het hy vyf klippies opgetel?

            Goliat had vier broers (Sam 21:19-22). Dawid het besef dat wanneer hy Goliat verslaan, die vier broers dalk op hom kon afstorm. Hy het hom dus deeglik voorberei.

 

            Toe Goliat egter val het die Filistyne almal op die vlug geslaan, Goliat se broers ook. En as die vier broers wel op Dawid sou afgestorm het? Die feit dat Dawid vir Goliat met net een so ‘n netjiese hou kon neervel, het vanselfsprekend beteken dat hy die ander vier ook een vir een sou uithaal. Dawid was nie alleen nie, God was aan sy kant. Nogtans was hy deeglik voorbereid.

            Dit is die verhaal van die oorlog wat gewen is nog voordat dit kon begin het.

            As daar ‘n Goliat in jou lewe is, dan is dit nie om jou te vernietig nie, maar om die klein Dawid in jou te laat opstaan en standpunt in te neem. Jy is mos ook deeglik voorbereid, jy ken die Skrifte en in jou tong is lewe en dood.

            Let op na hierdie gedugte voorbeeld: Hoekom langer ‘n wurmpie wees?

            Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob …. Ek maak van jou ‘n skerp dorsslee wat baie tande het. Jes. 41:14-16.

            Watter groter kontras kan daar wees tussen ‘n wurmpie en ‘n harde staal dorsslee nie?

            Die nietige wurmpie kan op velerlei wyses eensklaps vernietig word, terwyl die staalharde dorsslee vele dinge kan vernietig sonder om self vernietig te word.

            En die Almagtige GOD kan die een in die ander verander!

            Hy kan een persoon ‘n volk maak en albei dus deel van die geskiedenis, terwyl van die wurmpie nooit weer gesien of gehoor sal word nie.

            Wanneer GOD aan ons ‘n wil van staal gee, sny ons ‘n pad deur enige weerstand, deur enige wildernis.

“Ek maak jou…” sê Hy, en inderdaad, Hy wil en sal dit doen!

            GOD is besig om Sy Koninkryk te bou. Hiervoor gebruik Hy die gebroke dinge. Die mens wil alles aanpak alleen met die sterkes, die suksesvolles, die triomfantelikes, die ongebrokenes, die helde, om hul koninkryke mee te bou.

            GOD het nie Skrifgeleerdes, professore en doktore gebruik nie – nie dat hy hulle nie ook kan gebruik nie – maar eenvoudige ongeredde vistermanne, stamelaars, veewagters.

            Jesus sê Hy heel die gebroke harte. Die Hemel loop vol van die aarde se gebroke lewens. Maar daar is geen geknakte riet wat Hy sal verbreek nie.

            Hy neem die lewens gekneus van pyn, verwerping, verdriet en ellende en verander dit in Hemelse harmonieuse musiek vol lof. Hy kan die aarde se mislukking ophef na ‘n glorieryke Hemel.

            Die HERE sê Hy woon in die hoogte en in die Heilige Plek, maar Hy woon ook by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Jes. 56:15.

            Mens moet dus nie na jouself kyk as bloot ‘n wurmpie nie. Kyk na wat GOD van jou wil maak. –  Sjibbolet