Vrydag 27 Julie 2018

So kom ons ook aan die oorkant!


‘n Hewige brand het een nag, 12 Mei 1860, in die Sailor’s Home in Liverpool, Engeland, uitgebreek. Die Sailor’s Home was ‘n oorslaap plek vir verby reisende seelui. Daar was sowat 200 manne per keer daar tuis.

            Die brandweer en baie van die omgewing se mense, was haastig op die toneel. Die gebou se brandtrap het nie tot by die boonste verdieping gegaan nie. Seemanne het deur die boonste verdieping se vensters uitgeleun en vreesagtig om hulp geskreeu. Die brandweermanne het ’n lang leer gebring en teen die gebou na die boonste vensters toe laat leun. Die leer was te kort. Dit was die langste beskikbare leer. Meer as 100 seelui sou ‘n aaklige vlammedood sterf.

.
Nadat dit destyds herbou is


’n Britse matroos wat tussen die skare gestaan het, het in alleryl vorentoe gestorm en die leer met mag en mening tot by die boonste sport beklouter. Terwyl die mense hul asems ophou van verbasing en skok, maak hy homself op die boonste sport van die leer staan. Hy klou aan ’n vensterbank vas en vorm ’n verlengstuk en oorbrugging tussen die venster en leer.

“Gou!,” skreeu hy vir die manne binnekant. “Klouter oor my en klim af teen die leer. Toe! Gou! Gou!”

Een vir een klim die vasgekeerde seemanne oor die matroos se liggaam en af met die leer grond toe. Hy hou uit totdat die laaste man verbygekom het, en toe klim hyself af na veiligheid toe.

Sy gesig was  blase gebrand, sy hare verskroei, sy hande en vingers velaf getrap, maar hy het al daai seemanne se lewens gered. Al die bemoediging en raad wat van die grond af vir hulle geskreeu is, het niks gehelp nie. Die jong matroos se eie liggaam het die brug gevorm.

 
            ’n Mens se fisiese, eie liggaamlike bemoeienis, is vir ’n mens die hoogste prys wat betaal kan word. Dit is hoe Jesus ons gered het. Hy het sy eie liggaam gegee.

            Nadat jy hier gelees het, sal die Nagmaal vir altyd vir jou nuwe betekenis hê.

Met nagmaal eet ons die brood waarvan Jesus gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” En hoe is Jesus nie geslaan, getrap en gekneus om ons redding te bewerk nie!

“Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap…hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom `n pers mantel om. Hulle vleg ’n doringkroon en sit dit op sy kop en sit ’n stok in sy regterhand…hulle bespot Hom… slaan Hom met die stok oor die kop…Hulle het Hom gekruisig.” Mat.26:6 en 7:29,30,35

Jesus se liggaam is vir ons, die oorbrugging oor die afgrond van verdelging, Hemel toe.

Het jy al die opdraande Lydingsweg uit Jerusalem tot op Golgota bewandel? Dis jammer die smouse lawaai so, mens sou dit net vir een keer in doodse stilte wou stap.

Wanneer die Heilige Gees ons hart bewus maak van Jesus se fisiese lyding vir ons, eis dit ook ons fisiese toe­wyding op.

Wanneer jy weer bid, sê vir Hom: “HERE, vandag is U gekruisigde liggaam vir my kosbaar.” Dis my enigste manier om oorkant die Jordaan te kom. – Sjibbolet