Dinsdag 17 Julie 2018

Kom ons maak met blydskap die Getal vol


Image result for 1 Peter. 1:19


Klein Dawid, Simson, Noag, dink maar aan al die helde van die Bybelse tyd en ons gee lof en aanbidding aan God omdat Hy saam met hulle was.

            Twee duisend jaar gelede was daar ‘n klein groepie  in Jerusalem toe die Groot Opdrag kom om die wye wêreld in te beweeg en die Goeie Nuus te gaan verkondig. As jy daardie dag daar was, sou jy kans gesien het vir daai ontsettende groot opdrag?

            En dan sê Jesus Hy vertrek, ons moet dit alleen doen. Hy stuur die Heilige Gees om ons te help. ‘n Gees?

Wat sou daardie oomblik deur jou kop en wese gegaan het. Hy het die werk begin en drie jaar lank volgehou, nou moet ek en jy dit voltooi deur reg deur die wêreld die Evangelie van Jesus Christus te verkondig.

Twee duisend jaar gelede is ons in Jerusalem, ons weet nie eers waar die res van die wêreld is nie.

            As jy daai dag daar was in Jerusalem, wat sou jou reaksie gewees het... onmoontlik?

Daar was skuite en bote, donkies, perde en kamele, maar nie fietse nie, nie motors nie, nie motorfietse nie, geen teerpaaie of brûe nie, nie vliegtuie nie, geen telefone, geen teleks, geen Internet, geen selfone... geen niks nie. Daar was nie eers ‘n posdiens nie.

Nogtans... vandag is die Christendom loshande steeds die grootste beweging in die wêreld met die Bybel as die grootste verkoper. Dit kon alleen vermag word deur ons gewilligheid, die krag van God en die leiding van die Heilige Gees.

            En ek en jy? “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” Rom 8:31

            Ons is “medewerkers van God” 1 Kor 3:9. Ons moet Jesus se onvoltooide werk op aarde voltooi.

            Ons is nie alleen nie. Dieselfde geestelike dryfkrag is steeds teenwoordig. Ons taak is effens moeiliker... want... almal is skielik Christene... 34 miljoen in SA bv. vul op hul sensusvorms in dat hulle Christene is... is hulle werklik Christene? Ons weet dis nie waar nie, want ons behoort ‘n boom aan sy vrugte te ken... maar mens herken nie eers die bome nie.

•          Open. 5:9 – “Toe sing hulle (die Gelowiges) ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,”

•          1 Pet. 1:18 – “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,”

•          1 Pet. 1:19 – “maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”

Jesus het letterlik Sy bloed vir ons gegee. As kind van God het ek en jy ‘n bloed gekoopte reg tot:

•          ‘n Oorvloedige lewe. Joh 10:10 – “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”

•          ‘n Lewe van betekenis;

•          ‘n Lewe met ‘n doel;

•          Goddelike gesondheid (Jes. 53:4)

•          Dat God in al ons behoeftes sal voorsien. Fil 4:19 – “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”

Ons het en geniet al hierdie dinge:

•          Nie omdat ons dit ooit kan verdien nie;

•          Nie regtig oor een of ander daad wat ons gedoen het nie;

•          Of omdat ons so goed is nie; maar a.g.v. God se groot liefde vir my en jou en op grond van die bloed van Jesus wat Hy vir ons gegee het wat ons in geloof aangeneem het. Al hierdie seëninge omdat God vir ons is!

Om die HERE aan jou kant te hê; ‘n God wat vir jou is, is absoluut onbeskryflik wonderlik! Rom. 8:32 – “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”

          Ek en jy leef in afwagting van die Wederkoms. En die ander mense?

            “Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter;

“so sal my Woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

“Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap.

“Vir 'n doringboom sal 'n sipres opgaan; vir 'n distel sal 'n mirteboom opgaan; en dit sal vir die HERE wees tot 'n naam, tot 'n ewige teken wat nie uitgeroei sal word nie.

“So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want my heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.

“Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit geen kwaad doen nie.” Jes 55:10-13; 56:1-2

Ons is dus nie alleen in die uitdra van die Evangelie. Kom ons maakmet blydskap die Getal vol. – Sjibbolet