Woensdag 04 Julie 2018

Kom, net soos jy is...


“Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Joh 6:37

            Die bekende Switserse Evangelis, dr. Caesar Malan, het net meer as honderd jaar gelede, Londen besoek, vertel Kingdom Evangel.

 

Hy woon ’n onthaal by waar ’n besonder talentvolle jong vrou die klavier te pragtig bespeel. Na haar treffende klavierspel, spreek Dr. Malan, saam met baie ander gaste, sy hartlike waardering uit en voeg by: “God het aan jou ’n buitengewone gawe gegee. Wy dit aan Hom toe.”

Sy het geen sin aan godsdiens gehad nie en hy kon sien sy verstaan nie wat hy vir haar probeer sê nie. Toe sê hy reguit vir haar: “Onthou, as jy nie jou hart vir die HERE gee nie, is jy ’n ongeredde sondaar.”

Net toe loop ’n verflenterde bedelaar by die deur verby. Hy wys na die bedelaar en sê: “Dan is jy net so verlore soos daardie arme mens.”

Sy vererg haar bloedig vir hom en draai kwaad van hom af weg. Sy kon die onthaal nie verder geniet nie. Vroegaand gaan sy huis toe.

            Sy wou gaan slaap, maar die slaap was weg. Net die godsman se ernstige woorde bly in haar gedagtegang terugkom. Die volgende dag is sy terug na Malan. Sy het gesê sy wil haar saak met God regmaak maar hoe raak sy van haar verlede en sondes ontslae?

            Malan het geantwoord: “Kom na Jesus toe net soos jy is, Moenie die knoop probeer losmaak nie,  dit sal te lank neem, sny die tou van die verlede eenvoudig af.”

            Sy het Jesus toe as haar persoonlike Saligmaker aangeneem

            Charlotte Elliot het geweet, Jesus Christus het in haar lewe ingekom en vrede het haar wese vervul. Sy staan op en skryf die lied wat ons nou nog sing:

            “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen U bloed gestort vir my; getrek tot U deurboorde sy – o Lam van God, ek kom! Net soos ek is, ek wag nie meer; ek kom, hoe vuil bevlek, o Heer, en werp my aan U voete neer – o Lam van God, ek kom!”

            Charlotte Eliot het in haar leeftyd 150 geestelike liedere geskryf. Hierdie lied is in baie tale vertaal. Een vertaler het geskryf: “Hierdie lied het ’n wonderlike geskiedenis gehad. Dit is waarlik soos ’n blaar van die boom van die lewe.”

            Wyle dr Billy Graham het die lied in elk van sy dienste laat sing deur die bekende George Beverley Shea.

            Charlotte het op ‘n keer teen die einde van haar lewe toe sy nie meer kerkdienste kon bywoon nie, geskryf: “My Bybel is my kerk. Dit is altyd oop en my Hoë Priester wag en ontvang my gereeld daar. Daarin is my belydenis, my danksegging, my lofpsalm  en my gemeente wat hierdie wêreld nie waardig is nie – profete, apostels, martelaars en belydenisse.. in kort, daar is alles daarin wat ek ooit sal nodig hê.”

            Kom, jy is ook welkom... kom net soos wat jy is. Jesus weet van jou en Hy wag vir jou. – Sjibbolet