Wys tans plasings met die etiket Afrikaans; Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaans; Jesus. Wys alle plasings

Maandag 08 April 2019

Ek sal offer wat U vra!

Ere sy die Lam van God!


Dit was middernag of daarna, die huis was stil, ons het almal geslaap, ek en my vrou en ons baba dogter, toe daar skielik ‘n verblindende lig in die kamer is. Die lig was soos brandende magnesium. Die helderheid onbeskrylik.

            Ek het in die lig gestaan met ons dogtertjie in my arms. Die HERE het duidelik tot my gespreek en gevra: Is ek bereid om my dogter aan hom te offer, dan neem Hy haar nou saam met Hom.

            Die lig was werklik oogverblindend Ek het was buite myself van skrik. My vrou het rustig voortgeslaap. Ek het besef ek beweeg in die Gees. Dit moet dieselfde lig wees wat vir Saulus op die pad na Damaskus in blindheid neergevel het.

            My antwoord was: “HERE wie is ek om aan U nee te sê. Ek sal nie eers waag om te soebat, HERE moenie my kind wegneem nie. As U haar wil neem, dan offer ek haar vrywilliglik.”

            Die volgende oomblik was die lig weg. Ek kon God nie sien nie, maar ek het Hom duidelik gehoor en ook myself in die gesprek met Hom gehoor.

            Die woonstel was dadelik weer in donker gehul. Ons dogtertjie het rustig geslaap en so ook my vrou. Ek daarenteen  het lank wakker gelê en besef, as God besluit Hy kom iemand haal, moet ons bereid wees om daardie persoon op te offer.  Ek het ook besef ons durf nie waag om iemand liewer te hê as vir Hom nie.

            Maar die gedagte dat ek byna nie meer ‘n kind gehad het nie, was tog ontstellend. Die skok was so geweldig dat ek die ander kinders net na hulle geboortes almal aan die HERE teruggegee het, net soos Hannah haar kind aan die HERE teruggegee het.

            Dit bring ons by Abraham wat sy wonderkind, Isak, moes gaan offer het. EK weet presies wat hy deurgemaak het. Hy het nie terug gepraat of enigsins teengestribbel nie. Hy het daardie oggend met die pakesel en met Isak na die berg begin stap.

            Abraham was ‘n ou man gewees. Isak was ‘n wonderwerk uit die hart van God... en nou wou God die kind terugneem. Woorde kan nie beskryf hoe jammer ek die arme Abraham gekry nie. Ek sou ook nie woorde gehad het om hom te troos nie.

            Die kruks van die twee verhale is eerbied en gehoorsaamheid.

            Daar is ‘n derde so ‘n verhaal... toe God die Vader sy seun Jesus geoffer het, en Jesus dit in gehoorsaamheid volbring het. En dit was juis vir my en vir jou gedoen sodat ons gered kon word.

            As jy dit nog nie gedoen het nie, offer jouself op aan God en neem Jesus aan as jou Verlosser. Offer daarna letterlik alles wat jy het, op aan Hom.  As jy geestelike hulp of gebed verlang. Stuur ‘n e-pos aan sjibbolet.buro@gmail.com

Dinsdag 29 Januarie 2019

Jy en jou kinders


Matt 19:14


n Man had `n pragtige koringland. `n Vernietigende haelstorm het die koring net voor oestyd verwoes. Die man en sy seuntjie het ná die haelstorm na die land gaan kyk.

            Die seuntjie het doodstil gestaan en gewag vir sy pa se reaksie. Die pa begin saggies sing: “Ewige Rots geklief vir my, laat my skuiling in U kry…”

Jare later, toe die seun ‘n volwasse man was, het hy gesê: “Dit was die grootste preek wat ek ooit in my lewe gehoor het.”

Dit was die geloofkeerpunt in die seun se lewe. Die man het `n land vol koring verloor, maar hy het sy kind gewin!

Hoe anders was dit met die seuntjie wie se pa die Sondagoggend in die gemakstoel sy Sondagkoerant sit en lees. “Toe, toe,” sê hy vir die seuntjie. “Sit nou neer jou strokiesprente. Maak reg. Jy gaan laat wees vir Sondagskool.” Die seuntjie kyk verleë na sy pa. “Kom Pa nie saam kerk toe nie?” “Nee,” brom die pa, “ek gaan nie kerk toe nie, maar ek wil hê jy moet gaan. Toe, maak nou reg.”

“Het Pa Sondagskool toe gegaan toe Pa so groot soos ek was?” vra die outjie weer.” “Natuurlik het ek gegaan. Elke Sondag. Toe, toe, maak gou.”

Traag staan die seuntjie op en sê: “Dan sal dit my tog nie help nie. Ek sal nes Pa word.”

Ouers wat die basiese Christelike handelinge, soos kerk toe gaan, Bybellees, bid, offergawes gee, sorgeloos hanteer, leer hulle kinders die HERE se dinge is nietig en onbelangrik en dat die HERE ook min­derwaardig is.

Hierdie kinders kan nie vir HERE eerbied hê nie. Dit kan gebeur dat kinders wie se ouers toegewyd geleef het, afvallig raak. Maar daardie kinders weet altyd: my ouers was reg; hulle het iets kosbaars besit.

Dikwels is dít die herinneringe wat kinders weer na die HERE laat terugkeer.

            Die belangrikste invloed op kinders is die ouers se gedrag. Tweedens belangrik: voorbidding vir die kinders. Dán kom die plant van die Woord, in `n goed voorbereide hart, aan die beurt.

            Ons weet van kinders wat op 5-jarige ouderdom gered en Jesus getrou gedien het en steeds dien. Hulle gee al Tiendes vandat hulle gered is. Hulle het selfs spaar rekeninge en maandeliks verdeel hulle hul sakgeld onder Tiendes, spaar, nodige aankope en snoeperye.

            Daardie kinders is vandag volwassenes wat steeds die pad getrou stap en dis so mooi om te sien hoe hulle kinders in hul ouers se voetspore volg.

            Kinders verdien meer aandag.

Woensdag 03 Oktober 2018

Altyd voorentoe!

Voorwaarts…


As jy ploeg, moet dit pyl reguit vore wees. As dit vore skeef en krom is, skep jy erge probleme. Na die ploegtyd, kom die planter, en daarna die dorsmasjien en die goed kan nie soos ‘n dronk mens heen en weer tussen krom vore heen slinger nie.

Wanneeer mense die eerste keer met ‘n trekker ploeg, wil hulle aanhou omkyk om seker te maak die vore is reguit. Dis ‘n fout. Dis juis dan wat alles krom en skeef verloop.  Mens kry vir jou ‘n baken doer voor en ploeg reguit daarheen. Terugkyk is fataal.

            Baie van ons maak dieselfde fout op die lewenspad. Ons kyk terug…

            Hoor wat sê Paulus: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:14

            Onthou ook: Daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie.

            In die tyd waarin ons leef is dit veral van kardinale belang om reguit na voor te kyk. Ons maak klaar met die aarde. Ons is op pad na die Nuwe Jerusalem. Dis waar ons ware burgerskap is. Kyk op en leef in afwagting vir die koms van ons Redder.

            Intussen, trou en gehoorsaam aan ons opdrag,  bring ons soveel siele moontlik in.

            As enigiets jou aandag probeer aftrek van die pad voor jou, verwerp dit in Jesus se naam want wanneer mens wegkyk of omkyk, mis jy die geleenthede wat die HERE voor jou plaas.

            Langenhoven se berou: “Ek kon my weldade baie dikker gesaai het en hulle sou mekaar nog nie verdring het nie.  Nou staan hulle so yl dat my onkruid hulle byna verdruk.”  - Sjibbolet.buro@gmail.com

Woensdag 04 Julie 2018

Kom, net soos jy is...


“Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Joh 6:37

            Die bekende Switserse Evangelis, dr. Caesar Malan, het net meer as honderd jaar gelede, Londen besoek, vertel Kingdom Evangel.

 

Hy woon ’n onthaal by waar ’n besonder talentvolle jong vrou die klavier te pragtig bespeel. Na haar treffende klavierspel, spreek Dr. Malan, saam met baie ander gaste, sy hartlike waardering uit en voeg by: “God het aan jou ’n buitengewone gawe gegee. Wy dit aan Hom toe.”

Sy het geen sin aan godsdiens gehad nie en hy kon sien sy verstaan nie wat hy vir haar probeer sê nie. Toe sê hy reguit vir haar: “Onthou, as jy nie jou hart vir die HERE gee nie, is jy ’n ongeredde sondaar.”

Net toe loop ’n verflenterde bedelaar by die deur verby. Hy wys na die bedelaar en sê: “Dan is jy net so verlore soos daardie arme mens.”

Sy vererg haar bloedig vir hom en draai kwaad van hom af weg. Sy kon die onthaal nie verder geniet nie. Vroegaand gaan sy huis toe.

            Sy wou gaan slaap, maar die slaap was weg. Net die godsman se ernstige woorde bly in haar gedagtegang terugkom. Die volgende dag is sy terug na Malan. Sy het gesê sy wil haar saak met God regmaak maar hoe raak sy van haar verlede en sondes ontslae?

            Malan het geantwoord: “Kom na Jesus toe net soos jy is, Moenie die knoop probeer losmaak nie,  dit sal te lank neem, sny die tou van die verlede eenvoudig af.”

            Sy het Jesus toe as haar persoonlike Saligmaker aangeneem

            Charlotte Elliot het geweet, Jesus Christus het in haar lewe ingekom en vrede het haar wese vervul. Sy staan op en skryf die lied wat ons nou nog sing:

            “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen U bloed gestort vir my; getrek tot U deurboorde sy – o Lam van God, ek kom! Net soos ek is, ek wag nie meer; ek kom, hoe vuil bevlek, o Heer, en werp my aan U voete neer – o Lam van God, ek kom!”

            Charlotte Eliot het in haar leeftyd 150 geestelike liedere geskryf. Hierdie lied is in baie tale vertaal. Een vertaler het geskryf: “Hierdie lied het ’n wonderlike geskiedenis gehad. Dit is waarlik soos ’n blaar van die boom van die lewe.”

            Wyle dr Billy Graham het die lied in elk van sy dienste laat sing deur die bekende George Beverley Shea.

            Charlotte het op ‘n keer teen die einde van haar lewe toe sy nie meer kerkdienste kon bywoon nie, geskryf: “My Bybel is my kerk. Dit is altyd oop en my Hoë Priester wag en ontvang my gereeld daar. Daarin is my belydenis, my danksegging, my lofpsalm  en my gemeente wat hierdie wêreld nie waardig is nie – profete, apostels, martelaars en belydenisse.. in kort, daar is alles daarin wat ek ooit sal nodig hê.”

            Kom, jy is ook welkom... kom net soos wat jy is. Jesus weet van jou en Hy wag vir jou. – Sjibbolet

Maandag 04 September 2017

Die Testament van Jesus Christus lees...


Image result for Gal 3:15

Sy Goddelike Krag het ons Alles Geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien... en vele meer.
            “Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs 'n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.” Gal 3:15
            Dis presies so met Jesus se Testament. Niemand erf egter iets as hulle nie erfgename is nie en as hulle nie hul erfporsies opeis nie.
            Ter illustrasie: In Wes-Texas is daar 'n beroemde olieveld bekend as The Yates Pool. Gedurende die depressiejare was die olieveld Ira Yates se byna verlore skaapplaas. Met die depressie en ander druk kon Yates net nie langer voort boer nie.
            Toe hy op die punt was om sy plaas te verloor daag 'n oliemaatskappy se seismografiese span by sy huis op. Hulle vertel hom dat daar moontlik 'n oliebron op sy grond is. Hulle vra toestemming om vir olie te boor. Hy gee sy toestemming. Op 370 meter diepte boor hulle 'n oliebron raak wat 80 000 vate olie per dag lewer.
Omdat die grond nog aan Yates behoort het, behoort die mineraalregte toe ook aan hom. Hy leef op 'n staatstoelaag en wis nie hy is 'n multimiljoenêr nie!
Die skrywer van die verhaal in Parables stel dit so: "’ Multi-miljoenêr in totale armoede... wat was sy probleem? Hy het nie eers geweet dat daar olie is nie. Hy het die olie besit, maar nooit sy eie gemaak nie want hy wis nie van die olie nie.
Dit is soos baie Gelowiges vandag: Hulle is skatryk, maar weet dit nie. Hulle besef nie hulle is erfgename van Jesus se Testament nie.
            Hier is te veel Petrusse onder ons: Selfs na die wonderlike visvangs en baie ander openbaringe van Sy krag voor Petrus se oë, bv. die voeding van die skares, genesings, die opwekking van Lasarus, het Petrus in sy hart steeds blind gebly vir sy rykdom in Christus.
Dit was eers na Christus se kruisiging – want daardie dag nog het hy Jesus drie keer verloën: "Ek ken die man nie!" – dis eers na die uitstorting van die Heilige Gees, dat sy oë vir sy groot rykdom in Christus oopgegaan het.
In sy eerste sendbrief skryf hy aan die gelowiges: "Nou het ons 'n LEWENDE HOOP op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike Erfenis wat in die Hemel ook vir julle in bewaring gehou word." 1 Pet 1:4
            Kyk hoe ryk is ons... Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:

Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën met alle geestelike seëninge in die Hemele in Christus,” Efes. 1:4
Ons triomf berus op Lofprysinge (ontvang en dankie sê) want ons is reeds geseën.

Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32.
Weer berus ons triomf op dankbaarheid, ontvangs en Lofprysinge... want Hy skenk ons alles genadiglik.

Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godvrug lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die Goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste Erfgenaam. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in danksegging en Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op danksegging en Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.

Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op aanvaarding, danksegging en Lofprysinge want ons is reeds genees.
            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, neem dit aan in dankbaarheid en Lofprysinge.
            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Danksegging en Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van Sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13
            God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6
            Mens moet jouself met danksegging en Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.
Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17. – Sjibbolet

Jesus keer ‘Pearl Harbour’ om


Image result for pearl harbour

Mitsuo Fuchida was in bevel van die 860 vliegtuie, van die Japanese Lugmag, wat op 7 Desember 1941 Pearl Harbor in die VSA  aangeval het, vertel Robert J. Morgan in sy boek From This Verse.

Lees Fuchida se hartroerende, maar Goddelike verhaal hier: https://www.biblebelievers.com/fuchida1.html
Jacob DeShazer, van die Amerikaanse lugmag, het op 18 April 1942, as deel van ‘n gewaagde wraakaanval, met sy B-25 bomwerper, met die naam “Bat Out of Hell”, sy bomme op Nagoya gegooi, en in ‘n digte mis probeer wegkom.
Hy het in die mis koers verloor en sy brandstof het opgeraak. Hy het oor Japanese gebied uitgespring. Hy is gevange geneem, gemartel en met ‘n spoedige teregstelling gedreig. Vir amper twee jaar moes DeShazer honger, koue en voortdurende buikloop verduur. In Mei 1944 het sy bewaarder met ‘n Bybel sy sel binnegekom. “Jy kan dit vir drie weke hou,” het hy bars gesê. DeShazer het die Bybel gegryp, teen hom vasgedruk en dadelik by Genesis begin lees. Sy verhaal: https://en.wikipedia.org/wiki/Jacob_DeShazer
            Hy het feitlik dag en nag gelees en die Bybel 'n paar keer deurgelees. Sleutelgedeeltes het hy uit die kop geleer, met die gedagte, as die Bybel teruggeneem word, sal hy die tekse wat hy uit sy kop geleer het, behou.
Op 8 Junie lees hy Rom 10:9. Hy lees dit weer. En daar in sy sel kniel hy en bid en neem Jesus Christus as Verlosser aan. Nou het Matt 5:44 vir hom 'n probleem geword: "Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg..."
Hy besluit hy gaan by sy Japanese bewaarders begin. Sy vyandigheid teen hulle verander in vriendelikheid. Elke oggend groet hy hulle hartlik. Hy begin vir hulle bid en getuig teenoor hulle van Jesus Christus. Toe begin hulle houding teenoor hom ook verander. Elke nou en dan bring hulle vir hom beter kos en ander benodigdhede. Na die oorlog het DeShazer na Japan teruggekeer – nou as sendeling. Hy het in Nagoya, die stad wat hy gebombardeer het, 'n kerk gestig.
            Sy getuienis, in traktaatjievorm, “I Was a Prisoner of the Japanese”, is wyd en syd in Japan versprei en baie wou die man ontmoet wat sy vyande kon vergewe. Een man veral was baie gretig om hom te ontmoet.
DeShazer se getuienis het hom diep getref en Glen Wagner van die Pocket Testament League het dié man na Christus toe gelei. Dit was Mitsuo Fuchida, wat die aanval op Pearl Harbor gelei het.
Hy het DeShazer by sy huis gaan besoek en hulle twee het vriende geword. Fuchida het 'n evangelis geword en dwarsoor Japan en ook in die buiteland gepreek en die verhaal van God se groter krag in Christus, om die duiwel se vernietigingswerk deur sonde in redding te omskep, verkondig.
            "As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons en ons word gered." Rom 10:9-10
            Jy wat op skei staan, of geskei is... die HERE kan julle lewens en julle huwelik ook omkeer.

Woensdag 23 Augustus 2017

Herstel die Huisaltare – ‘n onverbiddelike Mag


Image result for isaiah 58:1


God sê in Jes. 58:1: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortredinge en aan die Huis van Jakob hulle sondes.”
            Die sonde van ons tyd word onder meer vervat in Kol. 3:5-6.
            Ons huisaltaar, die TV-afgod, beeldsaai video’s en rolprente oor geweld, hoerery, owerspel, verkragting asook geesvernietigende sepies. Meer tyd word aan hierdie dinge spandeer is aan God en sy Woord.
            “Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie? Luk 12:56-57
            Die tyd het gekom dat ons duidelik tussen die tydelike en die Ewige onderskei en ons besig hou met die dinge van die Ewigheid.
            “Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is (let op) altyd daar.” Joh 7:6
            “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en (let op) koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Efes 5:15-16
            Mens kan feitlik aan alles in die lewe iets doen, behalwe aan tyd. Wanneer jy hier klaar gelees het is hierdie tydjie ook vir altyd verby. Ten minste het jy dit vrugbaar benut.
            Let op hoeveel tyd ons aan selfone en dergelike spandeer, tyd wat vir altyd verby is.
            Ons bely ons glo in die Heilige Gees, aan ‘n heilige Christelike Kerk, aan die gemeenskap van die Heiliges aan die vergewing van sondes, ens., maar, daar is geen teken onder ons dat ons aan die Heilige Gees glo nie want ons kan nie van leiding deur die Gees getuig nie.
            Daar is min tekens dat ons aan ‘n heilige Christelike Kerk glo want ons lewe nie heilig nie.
            Ons glo die HERE vergewe ons sondes, maar dan vergewe ons nie onsself nie en ons wil nie ons eie skuldenaars vergewe nie, nee, ons vertroetel eerder haat.
            Wat ons bely, moet tog inderdaad ook in die praktyk sigbaar wees, anders lieg ons vir onsself en vir God.
            Ons as Christene is verder onder ‘n verpligting want, die HERE sê in Eseg 3:18: “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy – kind van die Vader – waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die  goddelose vir sy godlose weg te waarsku nie,  dan sal die godlose deur sy  ongeregtigheid sterwe, maar… sy bloed sal van jou hand geëis word.” Hoe verskriklik tog!  ‘
            Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.”
            Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie. Hy kom om te oordeel die lewendes en dooies.
            Nuusblaaie dra daagliks berigte wat die resultate van allerlei onheile  weerspieël. Iemand vra: Hoekom doen “hulle” nie iets daaraan nie?
            Die vraag moet wees: Hoekom doen ons as Christenvolk niks daaraan nie? Hoekom staan 34-miljoen selfverklaarde Christene, nie saam teen hierdie euwels nie? Is ons dan nie veronderstel om ‘n Godsvolk te wees wat die Wederkoms afwag nie?
            Dis tog ons geroepe plig om die oes in te bring, die Getal vol te maak vir die Wederkoms.
            Hoekom maak ons nie hierdie begeertes dood nie Kol. 3:5-5? Hoekom begin ons nie die HERE opreg dien nie? Hoekom is die Heilige Gees nie aktief betrokke in ons geestelike lewens nie?
Hoekom vernietig ons nie die TV-afgod en bring die huisaltaar terug in ons huise nie?
Hoe gouer ons, ons verootmoedig, die Here weer opreg begin dien, die huisaltare weer instel, hoe gouer verkry ons, ons ware vryheid.
Wat behels die huisaltaar? Saam bid, saam Bybel lees, saam sing, vir mekaar die hande oplê, mekaar dra in die gebed, mekaar seën en saam brood breek. Saam bid vir die redding van familielede.
“Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.” Efes 5:19-21
“Een verjaag ‘n 1 000, maar twee (in eendrag) verjaag 10 000.” Deur 32:30. Hoeveel sou ‘n gesin van 3, of 4, of 5, of meer dan nie verjaag nie?
Gesinsgemeentes kan ‘n onverbiddelike mag wees!
Christelike Boekwinkels beskik oor groot voorrade materiaal wat mens kan aankoop vir sulke gesinsbyeenkomste. Herstel onverwyld die Huisaltaar!

Dinsdag 20 Junie 2017

Bou voort op 22 April 2017 se Bloemfontein Aksie


Image result for iemand wat bid       

Gebed stop ‘n Oorlog!

“Ons trek op na die slagveld en ek is so seker van die oorwinning as van die daeraad.  As jy weet dat jy geloof vir ’n saak het, sal jy nie daarmee aangaan totdat jy dit in besit neem nie? Ek wil hê dat dit oor die wêreld heen moet weerklink: ‘Die HERE, Hy is God!’”
            So het die prediker Rees Howells Christene oor die wêreld heen opgekommandeer om eendragtig te bid vir ’n Goddelike ingryping om ’n einde aan Hitler se tirannie te bring.
            Soos wat die oorlog uitgebrei het, het meer en meer Christene tot die geestelike stryd toegetree.  Toe kom die “Slag van Brittanje” toe Goering sy groot poging aangewend het om in die lug die oorhand te kry ter voorbereiding van sy inval van Engeland.
            Howells het niks aan die noodlot oorgelaat of toegelaat dat Christene op ’n mog-het-troffe wyse bid nie.
            Alles is in die teenwoordigheid van die HERE noukeuring ondersoek en motiewe is gesif, totdat die Heilige Gees op verstandige wyse dit aan sy dienskneg kon tuisbring dat daar ’n onweerlegbare eis kon wees vir die beantwoording van gebed.
            Op 2 September 1940, sê Howells: “Ek wil vasstel of ons ’n eis kan instel om vry te wees van bekommernis wanneer hierdie vliegtuie in die omtrek is. Ons het ons gehaas om in die bresse te tree vir die Joodse kinders toe Hitler hulle uitgegooi het.
            “Kan ons nou beskerming vra vir al die sendelinge se kinders? Tensy my geloof gelykstaan aan die behoefte vir beskerming, sou ek al die kinders vanaand na die skuiling bring, en sou ek self daar saam met hulle wees.
            “Moet ons vrees omdat andere vrees? As ek die HERE vertrou het om hierdie eiendomme ons s’n te maak, dan gaan ek Hom ook vertrou om dit te beskerm.
            “Ek wil hê u moet ’n fondament vir hierdie vetroue vind.  Ons het ’n baie hegte fondament vir ons geloof nodig, ingeval hierdie lugaanvalle maandelank sou aanhou. Kan ons God vir die onmoontlike hierin vetrou, net soos in die geval van ons finansies?
            “Al waarvoor ek vrees, is dat ek God se Wil sou misloop.
            “Baie mense vrees die gevolge.  Ek moet op hierdie punt baie duidelik wees, want die HERE sê: ‘As dit die gevolge is wat jy vrees, hioef jy na My toe te kom vir beskerming nie’
            Daar is ’n wêreldse verskil tussen ’n selfsugtige vrees vir die gevolge, en ’n begeerte na God se beskerming omdat jy ’n taak het om vir Hom te verrig. Het ons werklik die oorwinning?
            Die teologiese kollege en die skuiling waar 300 kinders versteek is, is ongeskonde deur die oorlog.
            Die oorlog was verwoed. Groot skade is op verskeie plekke aangerig. Howells het gesê: “Se nou miljoene mense het gebid, maar niemand het geglo nie?”
            Dit was egter nie die geval nie. “Die Heilige Gees het geloof gevind in ooreenstemming met wat Hy wil doen.  Dra sorg dat u glo.  Om te glo is die delikaatste ding waaraan u kan dink. U kan dit maklik misloop.
            “Die oorwinning is gisteroggend behaal!
            “Van nou af aan kan God die geveg bestuur, maar Hy kon dit voorheen nie doen nie want daar was nie geloof nie.
            “Na Sondag se oorwinning is daar groot vrymoedigheid om te bid dat die HERE ’n einde aan die Nazi’s sou maak.  Ons gebed vir Engeland was dat die HERE  nou die gety sal laat draai sodat mense gered kan word.
            “So baie plekke in Londen en die suide van Engeland is gebombardeer, self Buckingham Paleis het deurgeloop.
            “Gisteraand het ons gebid dat die vyand nie sou deurbreek en Londen vat nie en die HERE het ons gebed beantwoord. Ons het ook besef dat tensy die HERE hierdie satansmag bind, is niemand veilig nie.
            “As ons vir die beskerming van ons eie eiendomme kon bid, waarom dan nie vir die hele land nie!”
            Sir Winston Churchill het 15 September  aangegee as die draaipunt in die lugstryd. Hy vertel in sy “War Memoirs” hoe hy daardie dag die Koninklike Lugmag se Opskamer besoek het en gesien het hoe die vyandelike eskadrieljes oorspoel en hoe Koninklike Lugmag opstyg om hulle te ontmoet.
            Churchill het aan die Lugmaarskalk gevra: “Watter ander reserwes het ons?”  Daar was geen reserwes nie.
            Nog vyf minute het verbygetik en “dit het gelyk asof die vyand huiswaarts gekeer het”. Geen nuwe aanval is gelood nie en daar was geen verduideliking waarom die Luftwaffe huiswaarts gekeer het nie juis op die oomblik toe die oorwinning vir hulle in sig was. “Maar ons het geweet, God het ons gebede beantwoord,” het Howells gesê.
            Na die oorlog het Lugmaarskalk Heer Dowding die volgende betekenisvolle kommentaar gelewer: “Selfs gedurende die geveg het ’n mens daaglik agtergekom hoeveel eksterne ondersteuning ingekom het.
            “Aan die einde van die slag het mens die gevoel gekry dat daar ander spesiale Goddelike tussentrede voorgekom het om die opeenvolging van gebeurtenisse wat anders sou plaasgevind het, te verander.”
            Reg deur die oorlogsjare het die Christene elke aand vanaf 19:00 tot 24:00 bymekaargekom om te bid. Hulle het nie een aand oorgeslaan nie. Hulle het elke oggend ook ‘n uurlank gebid en soms ook deur die dag.
            Daar was ook enkele dae waar Christene die hele dag gevas en gebid het.
            Oor die oorwinning in Dunkirk, het Howelss gesê:  “Die HERE sal nie ‘n greintjie meer deur jou doen as waarvoor jy geloof het nie. Gisteraand se oorwinning het daarin gelê dat ons gesien het dat dit nie saak maak hoe naby die vyand kom nie, die Heilige Gees is die sterker faktor.
            “Julle is vandag meer verantwoordelik vir hierdie oorwinning as diegene op die slagveld.
            “Dis nie jy wat stry nie, maar die HERE doen die werk en jy kom tot die besef van wat Hy doen. Die vyand was soos ‘n brullende leeu, ons moes die HERE bid om die vyand in toom te hou.”
            Howell het bygevoeg dat die Christene teen  Hitler opgetrek het soos wat Dawid teen Goliat opgetrek het.
Hitler is by Dunkirk tot ‘n halt geroep. Hoe? God het tussenbeide getree in antwoord op gebed.
Volgens ‘n berig in die Britse Weermag se amptelike blad “The Officers’ Christian Union” het die Britse soldate ‘n  gebedskring gevorm om hulle dank te betuig.
Daar staan geskrywe: “Roep My aan in die dag van benoudheid:  Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” Ps. 50:15. 

Woensdag 03 Mei 2017

Ons vlieg na die einde toe – Koop die Tyd uit!


Image result for church bells


Kerkklokke


Wel, dis hoe dit beskryf word in Ps 90:10 “Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”
            Strofe 9 noem dat ons jare soos ‘n gedagte verbygaan.
            Op Steynsrust in die Vrystaat is ‘n kerkklok met die eerste strofe van ‘n gedig deur A.G. Visser daarop gegraveer:

Na korte Dag -
Die lange Nag.
Na weinig Tyd -
Die Ewigheid.

            Die tweede strofe wat nie op die kerklok gegraveer is nie, lees soos volg:
   
Vas staan en sterk
Gods Heiligdom:
Waak, bid en werk
Totdat Hy kom.

In ons snelle vaart na die einde van 2017 toe, is ons opnuut bewus van hoe kort die tyd is en hoe vinnig dit verbygaan. 'n Grysaard het een keer gese: “My lewe het soos 'n droom verby gegaan. Ek wou nog leef, toe is dit verby."
'n Hooggeplaasde man, prokureur en politikus, begaafd, in al sy onderneminge suksesvol, het skielik siek geword en onverwags by sy einde gekom.
Om hom op te beur, deur hom oor sy prestasies te laat praat, vra 'n vriend hom, hoe hy oor sy lewe voel, as hy oor sy briljante loopbaan terugkyk?
Sy antwoord, as komende van 'n denkende man, in die volle aangesig van die Ewigheid, was treffend en onvergeetlik: "My suksesse ten spyt, voel ek nou dat my lewe 'n mislukking was. Ek het nie een van die groot doeleindes waarvoor die lewe eintlik gegee is, bereik nie. Nou is dit te laat."
Ongelukkig het hy nie gesê oor watter lewenswaardes hy toe gedink het nie. Maar wat hy gesê het, kom hierop neer: 'n Lewe net op die aardse bestaan gefokus, is 'n lewe misgelewe. Dis 'n droewige verhaal, met ‘n droewige einde.
            Jesus het gesê: "...wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?" Mar 8:36
Elke mens maak sy eie lewenskeuse en die keuse van sy lewenseinde en ewigheidsbestemming. Gelukkig is dit nooit te laat om 'n koersverandering te maak nie.
Vir die misdadiger aan die kruis was dit 'n laat uur, maar gelukkig het hy met sy vuil, mislukte verlede langs Jesus gehang. En gelukkig het hy volle gebruik van sy goeie kans gemaak.
"Jesus, dink aan my wanneer U in u Koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees." Luk 23:42,43
Jesus voeg by: "…Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie." Joh 6:37
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;  en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;  en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:12-15
            “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;  en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Efes 5:15-16