Wys tans plasings met die etiket Spiritual and Regional. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Spiritual and Regional. Wys alle plasings

Vrydag 19 Junie 2020

Onderwerp julle dan aan God!



Die man kom vir berading. Hy het ‘n probleem met die satan. Hy weerstaan die satan, maar die satan wil nie soos Jak 4:7 sê van hom af “wegvlug nie nie.”

            Die man se probleem is, hy sit met ‘n halwe waarheid opgeskeep. Dis nie wat Jak 4:7 sê nie. Jak 4:7 sê: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

            Die tweede helfte van die strofe kan nie in vervulling gaan sonder die aktivering van die eerste helfte se opdrag nie: “Onderwerp julle dan aan God.”

            Sê ‘n kennis nou anderdag: “Die HERE help net mense wat hulself help.” Hy kon sy stelling nie skriftuurlik staaf nie.

            In al die Nuwe Testament gevalle waar die woord “onderwerp” voorkom, beteken dit vanuit die Grieks “onderwerp en onderwerping.” Die woord se volle betekenis is  "om gehoorsaam te wees, onder, wees onderworpe aan, onderwerp jouself aan, onderwerp onder of onder gehoorsaamheid of gehoorsaam aan."

“Die woord is gebruik as 'n militêre term wat beteken "om die afdelings in op militêre wyse onder die bevel van 'n leier te bring. "Hierdie woord is 'n wonderlike definisie van wat dit beteken om  "in diens" aan God. Dit beteken om jouself onder bevel van die goddelike te plaas eerder as om te lewe volgens 'n mens se ou menslike lewenswyse. Dit is 'n proses waar ons, ons eie wil aan dié van ons Vader oorgee.

Die Skrif het 'n groot deel te sê oor die feit van onderwerping aan  "hoër magte." Dit verwys na die gemeenskaplike beginsels wat God in ons wêreld verordineer het – die regering en die leiers, in watter hoedanigheid ook al, dat God oor ons op hierdie aarde geplaas is. Gedeeltes wat hierdie beginsel leer is Rom 13:1-7; Heb 13:17; 1 Petrus 2:13-14; en Titus 3:1.

Die beginsel is dat ons, ons in gehoorsaamheid  onderwerp aan die outoriteit, wat ook al daardie gesag is, 'n tydelike seën in reële tyd hier en nou te bring en, vir die gelowige, wat later beloon sal word.

            Ons word ook aangesê om onsself aan God te onderwerp. Jak 4:7. In Efesiërs lees ons die vrou moet aan haar man onderdanig te wees soos aan die HERE. Efes 5:22-25

Die Apostel Petrus skryf ook oor onderwerping van die jonges. 1 Pet 5:5. (let egter op) Die tema hier is een van nederigheid. 'n Mens kan nie aan God onderwerp sonder nederigheid nie.

Gehoorsaamheid vereis nederigheid. God is teen hoogmoed gekant.

            Dit beteken dat ons as wedergebore gelowiges daagliks 'n keuse maak om onsself aan God te onderwerp vir die werk wat die Heilige Gees in ons doen. Rom 8:28-29

            Die wonder hiervan is: “Die HERE is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is. 2 Kor 17-18

            Verkeer elke oomblik met die HERE wat jy ook al besig is om te doen. As jy teen ‘n besluit te staan kom, vra die HERE, hoe nou? As jy meen jy het die antwoord, vra vir bevestiging. Geen skip kan ‘n hawe binnekom of ‘n vliegtuig by ‘n lughawe land sonder talle bevestigings nie.

            Die HERE sal ‘n saak so sterk aan jou uitwys, dat jy sal weet dat jy weet, ja, ek is op die regte pad. – Wekroep



Maandag 08 April 2019

Ek sal offer wat U vra!

Ere sy die Lam van God!


Dit was middernag of daarna, die huis was stil, ons het almal geslaap, ek en my vrou en ons baba dogter, toe daar skielik ‘n verblindende lig in die kamer is. Die lig was soos brandende magnesium. Die helderheid onbeskrylik.

            Ek het in die lig gestaan met ons dogtertjie in my arms. Die HERE het duidelik tot my gespreek en gevra: Is ek bereid om my dogter aan hom te offer, dan neem Hy haar nou saam met Hom.

            Die lig was werklik oogverblindend Ek het was buite myself van skrik. My vrou het rustig voortgeslaap. Ek het besef ek beweeg in die Gees. Dit moet dieselfde lig wees wat vir Saulus op die pad na Damaskus in blindheid neergevel het.

            My antwoord was: “HERE wie is ek om aan U nee te sê. Ek sal nie eers waag om te soebat, HERE moenie my kind wegneem nie. As U haar wil neem, dan offer ek haar vrywilliglik.”

            Die volgende oomblik was die lig weg. Ek kon God nie sien nie, maar ek het Hom duidelik gehoor en ook myself in die gesprek met Hom gehoor.

            Die woonstel was dadelik weer in donker gehul. Ons dogtertjie het rustig geslaap en so ook my vrou. Ek daarenteen  het lank wakker gelê en besef, as God besluit Hy kom iemand haal, moet ons bereid wees om daardie persoon op te offer.  Ek het ook besef ons durf nie waag om iemand liewer te hê as vir Hom nie.

            Maar die gedagte dat ek byna nie meer ‘n kind gehad het nie, was tog ontstellend. Die skok was so geweldig dat ek die ander kinders net na hulle geboortes almal aan die HERE teruggegee het, net soos Hannah haar kind aan die HERE teruggegee het.

            Dit bring ons by Abraham wat sy wonderkind, Isak, moes gaan offer het. EK weet presies wat hy deurgemaak het. Hy het nie terug gepraat of enigsins teengestribbel nie. Hy het daardie oggend met die pakesel en met Isak na die berg begin stap.

            Abraham was ‘n ou man gewees. Isak was ‘n wonderwerk uit die hart van God... en nou wou God die kind terugneem. Woorde kan nie beskryf hoe jammer ek die arme Abraham gekry nie. Ek sou ook nie woorde gehad het om hom te troos nie.

            Die kruks van die twee verhale is eerbied en gehoorsaamheid.

            Daar is ‘n derde so ‘n verhaal... toe God die Vader sy seun Jesus geoffer het, en Jesus dit in gehoorsaamheid volbring het. En dit was juis vir my en vir jou gedoen sodat ons gered kon word.

            As jy dit nog nie gedoen het nie, offer jouself op aan God en neem Jesus aan as jou Verlosser. Offer daarna letterlik alles wat jy het, op aan Hom.  As jy geestelike hulp of gebed verlang. Stuur ‘n e-pos aan sjibbolet.buro@gmail.com

Saterdag 02 Februarie 2019

God se Skeepskaptein

“Ek werp my Net oor die See van Galilea...”













Daniël Carmel

My naam is Daniël Carmei. Ek is in 1964 gebore. My moeder was ‘n jong ongetroude ortodokse Jodin. Ek is opgegee vir aanneming.

My aanneemouers was ‘n gewone liefdevolle Joodse familie wat in die noord-westelike  hawestad van Haifa gewoon het.

Ek was sedert my kinderdae gefassineer deur die see en ek wou altyd graag bevelvoerder van ‘n skip word... ‘n skeepskaptein.
            Na voltooiing van my verpligte militêre diens op ouderdom 21, het ek my droom om skeepskaptein te word, begin najaag. Op 24-karige ouderdom was ek in beheer van sleepbote in die Haifa hawe.

My aanneemouers het dit nie geheim gehou dat ek ‘n aangenome kind was nie. Na ‘n persoonlike krisis op ouderdom 28, het ek besluit om my biologiese moeder te soek. Toe ek my biologiese moeder ontmoet was dit die eerste keer dat ek my drie eie broers en suster ontmoet het. Almal het naby die See van Galilea gewoon. Ek trek toe ook daarheen.

Ek het verblyf en werk gekry op Kibboets Ginosar. My werk was om toeriste in bote heen en weer oor die See van Galilea te neem.
Daniël aan die stuur

Soos wat ek elke dag met toeriste heen en weer oor die see beweeg is ek deur prekende pastore en singende Christene blootgestel aan die Messias Yeshua.

            Ek was beïndruk deur hulle gebede en diep aangeraak deur hulle aanbiddingsliedere Ek het vyf jaar lank oor en oor die dinge bepeins wat ek elke dag gehoor het.

            Toeriste op die bote het my ook van Yeshua vertel en vir my gebid. Vyf jaar lank het dit so aangegaan.

Toe skielik word ek een oggend wakker met ‘n groot liefde vir Yeshua.  Dit was nie vir my ‘n verrassing nie want ek was ‘n geruime tyd al bewus van Sy werkinge in my hart.

            Met hierdie openbaring het my hele lewe verander. Ek het my werk op die bote nie langer as ‘n werk beskou nie, maar as ‘n bediening. Ek was baie lief vir die aanbiddingsliedere wat op die bote gesing word want dit het uiting gegee aan die aanbidding en liefde in my hart vir Yeshua.
            Soms het van die Gelowiges aan boord vir my CD’s van hulle musiek gestuur wat ek weer vir die toeriste aan boord gespeel het. Ons beleef onvergeetlike aanbiddingstye saam.

Daniël lei die passasiers in aanbidding op die See van Galilea

            Musiek was altyd ‘n groot deel van my lewe. Ek het van kleins af die tromme bespeel. Sedert my ontmoeting met Yeshua het my musiek uitgebrei. Ek sing en skryf ook nou aanbiddingsliedere, en ek komponeer dit selfs.

Sedert 2002 het ek my eie musiek bediening “Hebrew Worship Songs.” Ek vertaal ook bekende Engelse liedere na Hebreeus want ek wil graag dat Gelowiges hoor hoe klink hulle liedere in Yeshua se taal. Ook verlang ek dat Israelis hoor van Yeshua deur my musiek.

            Ek is deur die jare by ‘n ander bootmaatskappy aangestel. Toe hulle van my Wedergeboorte hoor, het hulle eers gedink dis dalk goeie besigheid vir hulle, maar soos wat ek gewild geword het, het hulle my as ‘n bedreiging begin beskou en my afgedank.

            Die groepe wat my leer ken het, het  my versoek in vir hulle in hul hotelkamers te sing. Hulle het my ook genooi om in 2006 ‘n die VSA Aanbiddingstoer mee te maak.


Oorkant die See van Galilea is die Golan Hoogtes. Daniël se FAITH is byna halfpad oor die see.
            Toe ek terugkom van daardie toer af het Yeshua my letterlik my eie boot geskenk. Dit was die begin van “Sea of Galilee Worship Boats.”
 In Oktober 2007 het ek my eerste boot ingeseën met die naam “FAITH” en toe ook die maatskappy “Sea of Galilee Worship Boats Ltd” amptelik geopen om tot seën te wees vir Gelowiges reg oor die wêreld en ook aan Israelis ter plaatse.
 My ander boot “Hope”.

            Ek loof die HERE God YAWEH vir al die gaste wat al saam met my oor die see gevaar het en aan my geskryf het hoe betekenisvol en spesiaal dit was om saam Yeshua op die See van Galilea te aanbid. Baie noem dit die hoogtepunt van hul Israelse toer.

            Dit is my gebed dat julle wat Israel nog gaan besoek om saam te reis om ook die teenwoordigheid en salwing van Yeshua op ons bote te belewe.”

Daniël beskryf Yeshua se bediening soos volg: “Daarna het Jesus na die oorkant van die See van Galiléa, dit is, van Tibérias, gegaan.” Joh 6:1

“En toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom; en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie.” Joh 6:19-20

“En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom.” Mark 4:39

            “Sea of Galilee Worship Boats” is die enigste redery wat besit en bedryf word deur Joodse Israel Gelowige in Yeshua. – Daniël Carmel

·       Die Vyeboom dra reeds veel vrug. Daar is nou 273 Messiaanse gemeentes in Israel.- Wekroep

Woensdag 03 Oktober 2018

Altyd voorentoe!

Voorwaarts…


As jy ploeg, moet dit pyl reguit vore wees. As dit vore skeef en krom is, skep jy erge probleme. Na die ploegtyd, kom die planter, en daarna die dorsmasjien en die goed kan nie soos ‘n dronk mens heen en weer tussen krom vore heen slinger nie.

Wanneeer mense die eerste keer met ‘n trekker ploeg, wil hulle aanhou omkyk om seker te maak die vore is reguit. Dis ‘n fout. Dis juis dan wat alles krom en skeef verloop.  Mens kry vir jou ‘n baken doer voor en ploeg reguit daarheen. Terugkyk is fataal.

            Baie van ons maak dieselfde fout op die lewenspad. Ons kyk terug…

            Hoor wat sê Paulus: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:14

            Onthou ook: Daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie.

            In die tyd waarin ons leef is dit veral van kardinale belang om reguit na voor te kyk. Ons maak klaar met die aarde. Ons is op pad na die Nuwe Jerusalem. Dis waar ons ware burgerskap is. Kyk op en leef in afwagting vir die koms van ons Redder.

            Intussen, trou en gehoorsaam aan ons opdrag,  bring ons soveel siele moontlik in.

            As enigiets jou aandag probeer aftrek van die pad voor jou, verwerp dit in Jesus se naam want wanneer mens wegkyk of omkyk, mis jy die geleenthede wat die HERE voor jou plaas.

            Langenhoven se berou: “Ek kon my weldade baie dikker gesaai het en hulle sou mekaar nog nie verdring het nie.  Nou staan hulle so yl dat my onkruid hulle byna verdruk.”  - Sjibbolet.buro@gmail.com

Saterdag 03 Februarie 2018

Herlewing... asseblief HERE?


Image result for Ps 33: 12


“Sal U ons nie weer lewend maak, sodat U volk in U bly kan wees nie? Laat ons U goedertierenheid sien, o HERE, en gee ons U Heil.” Ps 85:7-8

            “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.

            Die HERE kyk van die Hemel af; Hy sien al die mensekinders.

            Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke.

            'n Koning word nie verlos deur 'n groot leër, 'n held nie gered deur groot krag nie.

            Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.

            Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.

            Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild; want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.” Ps 33: 12-21

            “Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik. Die een geslag prys U werke by die ander, en hulle verkondig U magtige dade. Ek wil spreek van die glans van U heerlike majesteit en van u wonderbare dade.” Ps 145:3-5

            Charles Finney sê oor Oorwinnende gebed: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jak. 5: 16).

            Die twee middele wat noodsaaklik is om ‘n Herlewing te bevorder, is om mense te beïnvloed en om God te beïnvloed. Mense word deur die verkondiging van die waarheid beïnvloed en God deur gebed.

            Wanneer ek sê dat die Here beweeg word om iets te doen, dan bedoel ek nie dat gebed Hom van gedagte, ingesteldheid of karakter laat verander nie. Gebed bring egter ‘n verandering in óns te weeg wat dit gepas vir God maak om te doen wat andersins ook gepas sou wees.

Wanneer ‘n sondaar hom bekeer, maak die toestand van sy hart dit vir God gepas om hom te vergewe. Hy is altyd bereid om die ongelowige op hierdie voorwaarde te vergewe. Wanneer die ongelowige dus tot bekering kom, vereis dit geen verandering aan die kant van God om hom te vergewe nie.

            Op dieselfde wyse maak die toestand van Christene se harte dit vir God gepas om hulle te antwoord wanneer hulle oorwinnende gebede bid. Hy is altyd gereed om seëninge te gee op voorwaarde dat hulle harte reg is en hulle die regte gebede bid. Wanneer hierdie verandering in Christene plaasvind en hulle die regte gebede bid, dan kan God – sonder ‘n verandering in Homself – hulle antwoord.

            Ons effektiewe, vurige gebede vir ander maak dit dus vir God gepas om te antwoord wat andersins nie gepas sou wees nie.

            Gebed is ‘n noodsaaklike skakel in die ketting van oorsake wat na Herlewing lei, net soveel as wat die waarheid ook is. Sommige Christene maak geesdriftig van die waarheid gebruik om andere vir die Here te wen, maar gee min aandag aan gebed.

Met ywer preek en praat hulle en deel traktaatjies uit, en wonder dan waarom hulle so min sukses bereik. Hulle het vergeet om die ander middel te gebruik, naamlik gebed. Hulle het uit die oog verloor dat die waarheid alleen nooit resultate lewer sonder die Gees van God nie, en dat die Heilige Gees slegs gegee word in antwoord op ernstige gebed.

            Dikwels is hulle wat die besigste is om die waarheid te verkondig, nie die besigste as dit by gebed kom nie. Dit is jammer, want behalwe as hulle of iemand anders die gees van gebed het, sal die waarheid alleen niks bereik anders as om mense in hulle onbekeerlikheid te verhard nie.

Ek glo dat voor die troon van die HERE ons eendag sal vind dat niks ooit deur die waarheid alleen bereik is nie, al was dit ook met watter ywer verkondig, tensy gebed op een of ander wyse aan die aanbieding daarvan gekoppel was nie.”

Daar moet altyd ‘n Gebedsvuur brand...  voortdurend.

Bid asseblief sonder ophou vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA en loof die HERE vir die eerste reën wat reeds val.  – Sjibbolet

Woensdag 15 November 2017

Ons kan enige situasie omkeer


Paulus wat as Saulus ‘n terroris was, se storie ken meeste van ons teen hierdie tyd. In 1 Kor 15:1-11 vertel Paulus: ”…Christus het vir ons sondes gesterf…en (ek, Paulus) is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is.”1 Kor 15:1-11
Gedurende die Amerikaanse presidentsverkiesing, toe Willliam McKinley kandidaat vir die presidentskap was, het ’n vyandige koerant sy verslaggewer opdrag gegee, om op McKinley se spoor te bly en elke moontlike stukkie negatiewe nuus vir publikasie aan te stuur.
 

William Mckinley was die 25e President van Amerika en
het in sy 2e termyn in ‘n sluipmoordaanval gesterf. Visie
President Theodore Roosevelt het hom opgevolg.

Die koerantman het sy taak van beswaddering met groot doeltreffendheid gedoen. In ‘n stadium het die koerantman in dieselfde trein as McKinley gereis, juis om nie ‘n beweging of  woord wat hy teen McKinley kan gebruik, te mis nie.
McKinley het van die koerantman se taak geweet en alles wat hy al opgedis het geken.
Een bittere koue middag het die verslaggewer in die trein op sy sitplek aan die slaap geraak. Daar was nie verwarming in die reiswa nie en die man het van koue opgekrul op sy sitplek gelê en slaap.
McKinley het verbygekom en dit gesien. Hy gaan staan en trek sy lekker dik jas uit en gooi dit oor die man. Nadat die verslaggewer ’n ruk lank, lekker onder die dik jas gelê en slaap het, word hy wakker.
Beseffende van wat gebeur het, Hy het sonder versuim ’n telegram aan sy koerant gestuur en sy bedanking ingedien. Dit was vir hom onmoontlik om die man wat aan hom vriendskap bewys het, af te kraak.
Dit is hoe die Here Jesus vir Paulus so ’n onvermoeide volgeling van Hom gemaak het. Die gebeurtenis word in Hand by 9:5, 22,8 en 26:15 vertel.
Vol haat op pad Damaskus toe, om die mense van die Weg, soos Jesus se volgelinge genoem is, manne sowel as vroue, geboeid na Jerusalem te bring, ontmoet Jesus hom.
’n Lig het hom skielik van die hemel af omstraal en Paulus val op die grond. ’n Stem sê vir hom: “Saul, Saul, waar­om vervolg jy My?” en toe hy vra: “Wie is U, HEREe?” kom die wonderlike antwoord: “Ek is Jesus wat jy vervolg.”
“En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: HERE, wat wil U hê moet ek doen? En die HERE antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.”
Jesus antwoord Paulus se haat en venyn met liefde. En die besef hiervan het dit Paulus die onvermoeide dienskneg van die HERE gemaak. Dit is hoe ons almal gered word. Ons het sonde gedoen, maar die HERE het ons nie verwerp nie, maar ook vir ons gesterf en ewige lewe gegee.
In ons alledaagse lewe is dit ook ’n strategie wat selde misluk: om vyandskap met vriendskap te beantwoord. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen…” Gal.6:9,10
Die groot les is hier om nooit kwaad met kwaad te vergeld nie. Jy kan die lelikste situasie omkeer deur kwaad met goed te vergeld.

Ons is geroep om te Vertrou


Image result for Rom 4:20

Abraham kon in sy hoë ouderdom, sy eie liggaam so goed as dood  beskou het, maar hy was nie daardeur ontmoedig nie, omdat hy nie op homself nie, maar op die Almagtige vertrou het.
Sien, ons is  nie geroep om te verstaan nie, maar om te vertrou. Abraham is ryk, dit gaan goed met hom, vooruitstrewend. Dan God se onverwagse opdrag: Trek met jou alles deur die woestyn na ‘n plek wat Ek jou sal aanwys.
Abraham kon gesê het, maar dit kan nie van die HERE af kom nie... en ek met al my mense, kinders, babas, diere groot en klein, is goed versorg, dis mos ‘n risiko om met almal en alles deur ‘n woestyn te trek en ek weet nie eers waarheen nie.
Maar hy het vertrou. Trek jy op die oomblik deur ‘n woestyn en weet nie eers waarheen nie?
God se groot beloftes aan Abraham het hom nie laat wankel nie, maar het hom onder die geweldige gewig, van die hemelse seëninge, so onwrikbaar laat vasstaan; ook het hy nie in die geloof verswak nie, maar kragtiger geglo, en geestelik sterker geword, namate daar meer moeilikhede oor sy pad gekom het.
Hy het God in sy Algenoegsaamheid altyd meer en meer verheerlik. Die Grieks stel dit: hy was ten volle oortuig dat Hy, wat beloof het, nie bloot net daartoe in staat was nie, maar, soos die letterlike betekenis lui, oorvloedig, , daartoe in staat was, om dit, uit sy eindelose oorskot, alles na te kom.
Hy is die God van grenselose voorrade. Die enigste beperking is by ons. Ons vrae, ons denke, ons gebede, ons glo nie genoeg nie; ons verwagtinge skiet ver te kort.
Daar is geen perk gestel aan wat ons kan vra en kan verwag van onse HERE, JAWEH, die Almagtige nie. En vir sy seëninge word hier ‘n enkel maatstaf genoem, en die maatstaf is: “Volgens die krag wat in ons werk.”  Ef 3:20
Iemand het dit so gestel: Klim op na die skatkamer van seëninge, met die leer wat van Goddelike beloftes gemaak is. Ontsluit met die beloftesleutel, geloof, die deur van die rykdom, die genade en die guns van God.
St. Augustinus het gesê: “Geloof is die aanvaarding van wat ons nie sien nie, en die loon van hier­die geloof is: die aanskouing van wat ons geglo het.”
Staan jou dan ook vandag op en sê: “HERE, vandag wil ek deur U beloftes verder uitkyk oor u Hemelryk se seëninge.”
“Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die beloftes van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.” Rom 4:20-21

Wees ‘n Medewerker


“Ek versoek julle dan dringend…: Stry saam met my deur vir my te bid…” Rom 15: 30
            Moet nooit vir iemand sê jy bid vir hom of haar en jy doen dit nie. Hulle sal jou nie gevra het om vir hulle in te tree, as dit nie noodsaaklik was nie.
            ‘n Skare het op die breekwatermuur by Cornwall, Engeland vergader om magteloos toe te kyk hoe die stormagtige see ‘n seun meesleur.


Stormsee by Cornwall

’n Man het skielik deur die skare gebeur. Hy gee een kyk en gryp ‘n tou wat opgerol daar naby lê. Een punt knoop hy om sy bors onder sy arms vas en terwyl hy uitroep: “Hou die tou vas en trek ons in!” werp hy homself in die stormsee en swem met sterk hale deur die deinings na die seun toe.
Hy bereik die seun en gryp hom in sy sterk arms vas. Hy draai om en waai skreeuend: Trek!” Niks gebeur nie.
Niemand het die tou se punt vasgehou nie en die tou het ook in die water beland en was nou buite bereik van enigeen.
Met skuldgevoelens aanskou die mense hoe die drenkeling en sy redder deur die woeste see meegesleur word, die Ewigheid in.
            Iemand verkondig die Evangelie, ‘n leraar of sendeling, evangelis of vrywillige werker, maar voorbidders vir hom of haar is nodig om die drenkelinge te red. Die persoon wat die verkondiging van die Woord doen, se krag word aangevul deur sy voorbidders. Dis sy gebedsvuur tuis terwyl hy wie weet waar ook al deur die Gees gestuur word.
Deur vir ‘n draer van die Evangelie voorbidding te doen, kry ons deel in sy arbeid. Oorwinninge wat hy behaal, siele wat gered word, die uitbreiding van die HERE se Koninkryk, word werker en voorbidders se voordeel.
            1 Thes 5:25 is ‘n kort strofe. Vyf woorde: “Broers, bid vir ons.”
In sy volgende brief aan die gemeente van Tessalonisense sê Paulus waarvoor hulle moet bid: “Verder, broers, bid vir ons, sodat die Woord van die HERE vinnig mag versprei en oral oorwin soos by julle. Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie” 2 Thes.3:1
En vir die Hebreërs vra die apostel, dalk Paulus, vir voorbidding vir sy persoonlike vrymoedigheid in sy werk vir die HERE: “Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is.” Heb.13:18
Word ‘n medewerker (Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. 1 Kor 3:9) in die HERE se Koninkryk. Bid vir diegene wat die Evangelie verkondig. Gebed is ‘n vrug van die Heilige Gees. Sonder die Heilige Gees se werking in ons hart is ons biddeloos. Herlewing vereis ‘n toename in gelowiges se gebedslewe. – Sjibbolet

Woensdag 25 Oktober 2017

Vrymoedigheid


In die glorieryke dae van die Romeinse Ryk het die keiser 'n triomftog deur die hoofstraat van Rome gelei.
Sterk soldate moes aan weerskante van die straat, die jubelende skare van die keiser af weghou. 'n Platform is langs die straat opgerig, vanwaar die keiserlike gesin sonder ongerief die optog kon dophou.
Net toe die optog regoor die keiserlike platform kom, spring die keiser se sesjarige seuntjie op, storm die platform af en nael tussen die mense deur straat toe.



'n Soldaat kry hom uiteindelik beet. "Waarheen gaan jy? Dis die keiser. Bly weg daar!" skreeu hy vir die seuntjie.
"Dis nie! Dis my pa! Los my!" skreeu die seuntjie vir hom terug, ruk homself los en hardloop verder.
Die soldate en die skare het respek en vrees vir die man op die keiserlike koets gehad.
Die keiser se seuntjie het egter vrymoedigheid en liefde vir sy pa gehad. Hy weet dit is die keiser, maar vir hom is dit sy pa.
            Die Heilige Gees, die Gees van aanneming, wek in die hart van die mens wat in Jesus Christus as sy Verlosser glo, hierdie besondere vrymoedigheid.
“Maar aan almal wat Hom (Christus) aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Joh 1:12
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” 1 Joh 3:1
“En omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van Sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘'Abba!’ Dit beteken Vader!" Gal 4:6
Vrymoedigheid, ja, let op: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God....En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra.” 1 Joh 5:1,14
'n Kind vra, en 'n vader gee. “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra?” Matt 7:9-11
As enigiemand of enigiets jou wil verhinder om na jou Vader te gaan, dan weet jy wat om te doen... skreeu en ruk los!

Donderdag 12 Oktober 2017

‘Dit is waar!’


Image result for vrag steenkool

Gedurende ’n koue winter in een van die min­der gegoede dele van Europa, het ’n ryk man hom ontferm oor die armes en besluit om ’n paar vrag­te steenkool te bestel en ’n ¼-ton by elke huis in die agterbuurt te laat aflaai, aldus Die Spoorwegbode van November 1981.

            Die steenkoolwa hou by die eerste huis stil en die drywer klop aan die deur. ’n Man maak die deur oop. Die drywer sê vir hom hy het vir hom ‘n ¼-ton steenkool gebring, waar moet hy dit aflaai. “Van wie af kom dit?” vra die man. Die drywer trek sy skouers op. “Ek weet nie. Ek is net aangesê om dit hier te kom aflaai. “Vat dit weg. Dis nie vir my nie,” reageer die man. “Maar dis tog u adres? Kyk.” “Ja, maar dis ’n fout. So ’n geluk kom my nie oor nie. Nee, ek wil niks daarmee te doen hê nie.” Daarmee maak die man die deur toe en gaan terug na sy koue, dooie vuurherd toe.

            Die steenkoolwadrywer het van huis tot huis ge­ry, en ongelooflik, niemand wou van die aanbod gebruik maak nie. Hulle kon nie glo iemand sou dit  verniet vir hulle stuur nie.

Eindelik hou die drywer voor die huisie van ’n ou tannie stil en bied weer die steenkool aan. “Vir my?” vra sy vol verbasing. “Dit moet seker vir iemand anders wees.” “Nee, mevrou, hier is u nommer, duidelik genoeg – nr.8, ’n ¼-ton steenkool.” Die vrou lees dit in sy boekie, swart op wit.
“Dis waar!” roep sy. “Wel, dan het God dit vir my gestuur. Net Hy weet ek het nie ’n stukkie steenkool oor nie. Bring dit in, asseblief. Ek wil Hom dank!” “U moet,” antwoord die drywer.
By homself dink hy: “Sy is die enigste verstandige onder die klomp. Die ander is almal dwase om ’n geskenk wat swart op wit gegee word, sommer so af te dank.”

            Die steenkool is deur die gewer gekoop en betaal en aan behoeftige mense geskenk. Hulle weier die gawe wat vir hulle soveel aangenaamheid kon bring! Net so is ons verlossing ook gekoop en betaal met die kosbare bloed van die Seun van God, en tog weier mense hierdie groot gawe, wat vir hulle soveel geluksaligheid sou bring, en wat in die Bybel duidelik geskryf staan, aan te neem.

            Hoekom het die mense die geskenk so afgewys? Miskien trotsheid, miskien wantroue. Feit is egter: hulle het duidelik geantwoord: dit is nie vir my nie, dankie! Moenie self hierdie fout met die HERE Jesus se aanbod van sy groot redding maak nie. Neem dit. Sê: Dankie!

            “Kom… selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal… “ Jes.

Maandag 25 September 2017

Kinders beskerm hul skole in Hemelse Tale


Image result for 3 school walking around a school

Christie Schmidt van Bloemfontein vertel:

“So ‘n ent van die skool stap ‘n man en drie skoolkinders van verskillende skole. Toe ek stop om die hek oop te sluit, kom hulle verby en ek hoor hulle loop en bid in Hemelse tale.
            “Ek vra: Hoekom doen jul dit en hulle antwoord: ‘Want juffrou, satan is besig in al sy glorie om kinders aan te val en te vernietig. Daar is nie meer respek in huise vir ‘n ouer en God nie. Ons God word nie meer geëer nie. Dis hoekom ons loop en bid alom die Hoërskool,die Laerskool en julle Kleuterskool. Satan steel lewens - Dis hoekom ons intree.’
            “Lank na hulle weg is vee ek nog trane af oor die werklikheid van die gesprek.
            “Kinders loop en bid – en boonop in Hemelse tale – terwyl ons as volwassenes te bang is om Jesus se Naam in ons werkplek te noem of selfs te bid. So baie sê ons is ‘n Christelike instelling of Christelik georiënteerd.... maar waar word Jesus in die werkplek geëer en aanbid?
            “Jesus is die sleutel tot alles... en tog... is baie bereid om tevrede te wees met afgewaterde godsdiens en louheid.
            Satan loop soos ‘n brullende leeu.... en wat maak jy daarmee?”
            Christie se belewenis is vir die tyd waarin ons leef, heeltemal normaal.
          Die jongste syfer van die VN is dat 29 miljoen moeders en kinders oor die wêreld heen in mensehandel misbruik is, ook in Suid-Afrika. Geen vrou of kind is veilig nie – behalwe in Jesus hoede.
            Kort gelede is ‘n man in Gauteng gekaap. Hy het die hele tyd in sy Hemelse taal gebid. Die kapers het hom ongeskonde laat wegry.
            Maar skoolkinders van drie verskillende skole wat in die straat stap en in Hemelse tale bid... Dis ‘n wonderwerk in die tyd waarin ons leef. Dit dui die Einde van die Tyd aan: ‘Dis die laaste uur,’ soos wat Danie Botha ook sing.
            Let op: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.” Joël 2:28
            Wat beteken dit om met die verstand te bid? Dit is eenvoudig maar net wanneer jy in `n menslike taal soos Afrikaans of Engels bid. Hoekom? Jou verstand dra vrug.
En as jy met die gees bid dra jou gees die vrug.  1 Kor 14:14 leer ons dat om in ‘n Hemelse taal te bid is om met jou gees te bid. Hoekom is dit so belangrik om met die gees te bid? Jesus sê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Let op: “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.” Joh 4:23
Strofe 15  van 1 Kor 14 dui daarop dat ons eerstens met die gees moet bid en daarna met die verstand moet bid. Dit lees ook dat ons selfs psalms sal sing in ons Hemelse tale. Het jy al 2 000 mense in Rome in tale hoor sing?
Paulus sê onomwonde, “ook met die verstand”, nie sommer net “met die verstand” nie, maar “ook met die verstand…”
“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge (Hemelse taal). En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” Rom 8:26
‘n Hemelse taal ontvang mens by die doping met die Heilige Gees en net die Heilige Gees kan daardie taal verstaan. Wanneer jy in jou Hemelse taal bid is jou verstand onvrugbaar. Net die Heilige Gees kan jou verstaan.
Dit is alles dui op die naderende Wederkoms van Jesus Christus. Die nag is ver gevorder. Loof die HERE as jy in afwagting leef.

Maandag 04 September 2017

Die Testament van Jesus Christus lees...


Image result for Gal 3:15

Sy Goddelike Krag het ons Alles Geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien... en vele meer.
            “Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs 'n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.” Gal 3:15
            Dis presies so met Jesus se Testament. Niemand erf egter iets as hulle nie erfgename is nie en as hulle nie hul erfporsies opeis nie.
            Ter illustrasie: In Wes-Texas is daar 'n beroemde olieveld bekend as The Yates Pool. Gedurende die depressiejare was die olieveld Ira Yates se byna verlore skaapplaas. Met die depressie en ander druk kon Yates net nie langer voort boer nie.
            Toe hy op die punt was om sy plaas te verloor daag 'n oliemaatskappy se seismografiese span by sy huis op. Hulle vertel hom dat daar moontlik 'n oliebron op sy grond is. Hulle vra toestemming om vir olie te boor. Hy gee sy toestemming. Op 370 meter diepte boor hulle 'n oliebron raak wat 80 000 vate olie per dag lewer.
Omdat die grond nog aan Yates behoort het, behoort die mineraalregte toe ook aan hom. Hy leef op 'n staatstoelaag en wis nie hy is 'n multimiljoenêr nie!
Die skrywer van die verhaal in Parables stel dit so: "’ Multi-miljoenêr in totale armoede... wat was sy probleem? Hy het nie eers geweet dat daar olie is nie. Hy het die olie besit, maar nooit sy eie gemaak nie want hy wis nie van die olie nie.
Dit is soos baie Gelowiges vandag: Hulle is skatryk, maar weet dit nie. Hulle besef nie hulle is erfgename van Jesus se Testament nie.
            Hier is te veel Petrusse onder ons: Selfs na die wonderlike visvangs en baie ander openbaringe van Sy krag voor Petrus se oë, bv. die voeding van die skares, genesings, die opwekking van Lasarus, het Petrus in sy hart steeds blind gebly vir sy rykdom in Christus.
Dit was eers na Christus se kruisiging – want daardie dag nog het hy Jesus drie keer verloën: "Ek ken die man nie!" – dis eers na die uitstorting van die Heilige Gees, dat sy oë vir sy groot rykdom in Christus oopgegaan het.
In sy eerste sendbrief skryf hy aan die gelowiges: "Nou het ons 'n LEWENDE HOOP op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike Erfenis wat in die Hemel ook vir julle in bewaring gehou word." 1 Pet 1:4
            Kyk hoe ryk is ons... Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:

Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën met alle geestelike seëninge in die Hemele in Christus,” Efes. 1:4
Ons triomf berus op Lofprysinge (ontvang en dankie sê) want ons is reeds geseën.

Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32.
Weer berus ons triomf op dankbaarheid, ontvangs en Lofprysinge... want Hy skenk ons alles genadiglik.

Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godvrug lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die Goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste Erfgenaam. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in danksegging en Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op danksegging en Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.

Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op aanvaarding, danksegging en Lofprysinge want ons is reeds genees.
            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, neem dit aan in dankbaarheid en Lofprysinge.
            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Danksegging en Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van Sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13
            God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6
            Mens moet jouself met danksegging en Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.
Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17. – Sjibbolet