Wys tans plasings met die etiket offer vir God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket offer vir God. Wys alle plasings

Maandag 08 April 2019

Ek sal offer wat U vra!

Ere sy die Lam van God!


Dit was middernag of daarna, die huis was stil, ons het almal geslaap, ek en my vrou en ons baba dogter, toe daar skielik ‘n verblindende lig in die kamer is. Die lig was soos brandende magnesium. Die helderheid onbeskrylik.

            Ek het in die lig gestaan met ons dogtertjie in my arms. Die HERE het duidelik tot my gespreek en gevra: Is ek bereid om my dogter aan hom te offer, dan neem Hy haar nou saam met Hom.

            Die lig was werklik oogverblindend Ek het was buite myself van skrik. My vrou het rustig voortgeslaap. Ek het besef ek beweeg in die Gees. Dit moet dieselfde lig wees wat vir Saulus op die pad na Damaskus in blindheid neergevel het.

            My antwoord was: “HERE wie is ek om aan U nee te sê. Ek sal nie eers waag om te soebat, HERE moenie my kind wegneem nie. As U haar wil neem, dan offer ek haar vrywilliglik.”

            Die volgende oomblik was die lig weg. Ek kon God nie sien nie, maar ek het Hom duidelik gehoor en ook myself in die gesprek met Hom gehoor.

            Die woonstel was dadelik weer in donker gehul. Ons dogtertjie het rustig geslaap en so ook my vrou. Ek daarenteen  het lank wakker gelê en besef, as God besluit Hy kom iemand haal, moet ons bereid wees om daardie persoon op te offer.  Ek het ook besef ons durf nie waag om iemand liewer te hê as vir Hom nie.

            Maar die gedagte dat ek byna nie meer ‘n kind gehad het nie, was tog ontstellend. Die skok was so geweldig dat ek die ander kinders net na hulle geboortes almal aan die HERE teruggegee het, net soos Hannah haar kind aan die HERE teruggegee het.

            Dit bring ons by Abraham wat sy wonderkind, Isak, moes gaan offer het. EK weet presies wat hy deurgemaak het. Hy het nie terug gepraat of enigsins teengestribbel nie. Hy het daardie oggend met die pakesel en met Isak na die berg begin stap.

            Abraham was ‘n ou man gewees. Isak was ‘n wonderwerk uit die hart van God... en nou wou God die kind terugneem. Woorde kan nie beskryf hoe jammer ek die arme Abraham gekry nie. Ek sou ook nie woorde gehad het om hom te troos nie.

            Die kruks van die twee verhale is eerbied en gehoorsaamheid.

            Daar is ‘n derde so ‘n verhaal... toe God die Vader sy seun Jesus geoffer het, en Jesus dit in gehoorsaamheid volbring het. En dit was juis vir my en vir jou gedoen sodat ons gered kon word.

            As jy dit nog nie gedoen het nie, offer jouself op aan God en neem Jesus aan as jou Verlosser. Offer daarna letterlik alles wat jy het, op aan Hom.  As jy geestelike hulp of gebed verlang. Stuur ‘n e-pos aan sjibbolet.buro@gmail.com