Vrydag 08 September 2017

Die deure is toe, maar die Hemel was oop


Image result for hemel

Eerw. F.H.Pickering vertel van 'n man wat so deur angs en bekommernis oorweldig is, dat hy verlam is.
Snags kon hy nie slaap nie. Op 'n keer vra 'n Christenvriend of hy ooit oor sy probleme bid. Hy het in jare nie gebid nie, antwoord hy. Het hy 'n Bybel? Ja, iewers in sy huis moet daar 'n Bybel wees.
Die vriend skryf 'n teksvers op 'n strokie papier. "Gaan lees dit en doen dan so," sê sy vriend.
Moeg na siel en liggaam was hy gereed vir enige raad. Hy het sy Bybel gekry, die stof afgeskud en die teksvers, Hebr 4:14-16, opgespoor: "Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word."
Hierdie Hoëpriester na wie verwys word, is dieselfde Vredevors wat nou anderdag op ‘n esel se rug Jerusalem binnegery het,
Hy het by sy bed gaan kniel en eers sukkelend, maar later met vrymoedigheid, sy probleme vir die HERE vertel.
Terwyl hy bid het hy aan die slaap geraak. Ure later het hy wakker geword. Verkwik in sy gees, het hy geweet hy het sielsgenesing gevind.
Sy vriend het hom gehelp om Christus as sy Verlosser te leer ken. Sy dokter was verstom oor die verandering wat in hom gekom het. "Ek vertel nou al my bekommernisse vir Jesus en laat dit in Sy hande," verduidelik hy.
Die dokter antwoord: "As meer van my pasiënte dit wou doen, sal ek gou sonder werk sit."
Let op na Hanna: Dit was Haar geheim toe sy met haar hartseer tempel toe gegaan het. 1 Sam 1
Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die HERE gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. Vir priester Eli sê sy: 'Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is... Ek het my hart uitgestort voor die HERE... dit is oor my groot leed dat ek so lank bly praat het...' en sy was nie meer bedruk nie.
Die HERE Jesus het vir ons die weg oopgemaak na ons Hemelse Vader toe. God self het ons lief en ken ons sake. Ons kan met groot vrymoedigheid en verwagting al ons probleme vir Hom vertel.
Die Heilige Gees help ons om te bid: "Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is..." Rom 8:26
Inderdaad, as al die deure toe is, staan die Hemel oop.
Die dag kom egter vining nader dat die Hemel ook toe sal wees, so maak gereed. Sorg dat jy genoeg olie het… en strykdeur moet jy weet dat jy weet: Jesus is bitterlik lief vir jou!