Sondag 10 September 2017

HOUVERBY – 'n Getuienis van LIEFDE!


HOUVERBY was eers in ander hande en die HERE moes hier verbyhou, maar toe beland dit in Gelowige hande en nou moet al wat moeilikheid is, hier VERBYHOU.
            Mev Jane Louw vertel: “My skool se kinders - dis 'n wonderlike verhaal van God se liefde! HOUVERBY waar die HERE nie verbygehou het nie. Satan kon nie Sy plan uitkanselleer met die naam nie.
            “Ek het dit drie jaar gelede begin met Kobus my man toe ons getroud is na die droom 'n werklikheid geword het. Die HERE het vir ons die wonderlikste medewerker gegee... Ciska, wat die kinders elke dag onderrig. Die eens klein geboutjie het uitgebrei na 'n hele groot plaashuis.
“En toe sluit Mike verlede maand by ons aan en die kinders leer nou musiek maak met marimbas en fluite. Ek leer hulle ballet! So ons het 'n kunsskool, 'n balletskool en 'n musiekskool aan die gang. Hulle kry elke dag kos. Daar is tans 20 kinders in die HOUVERBY Nasorgsentrum.
Verlede Saterdag was ‘n wonderwerk toe ons die kinders vir 'n uitstappie na Kaapstad kon neem waar hulle die museums, akwarium, 'n bootvaart en 'n balletkonsert beleef het. Die HERE het bonatuurlik al die fondse van R6 000 voorsien. Nuwe kleertjies is aangekoop en daar was meer as genoeg kos beskikbaar.
“Die HERE het ons beskerm op pad na Kaapstad en almal veilig tuisgebring.
“Die kinders was vir die eerste maal verder as hul dorpie Redelinghuys, en het alles nuut en vars beleef.
“Ek loof elke dag die HERE vir die wonderwerk wat ek sien afspeel voor my oë. Hy vermeerder en vergroot my grondgebied en die van die kinders.”
HOUVERBY Foto’s