Sondag 17 September 2017

Vind die ongeslypte diamante


Image result for ongeslypte diamante

Vind die ongeslypte diamante... die Groot Steensnyer doen die res.
Die “Ster van Suid-Afrika”, is `n diamant van 83.5 karaat, d.w.s. 16.7 gram, wat in 1869 op die plaas Sandfontein, in die Hopetown distrik, naby die Oranjerivier deur `n Griekwa skaapwagtertjie, Swartbooi, opgetel is.
Schalk van Niekerk, die boer aan wie die skaapwagtertjie die groot diamant gaan gee het, se optrede was in lyn met die Koninklike Wet: As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
Schalk het die klip dadelik as `n diamant herken. Die diamant was natuurlik nog dof en ongeslyp, maar dit het anders as die ander klippe gelyk.
Hy kon die skaapwagtertjie twee of drie skape gegee het, en hy sou dood gelukkig gewees het oor die groot beloning wat hy kry. Schalk van Niekerk het egter sy kraal leeg gemaak en vir hom 500 skape, 10 beeste en `n perd gegee. Self het hy die diamant later vir elf duisend pond aan Lilienfeld Brothers op  Hope Town verkoop. Dit het gou sy weg oorsee gevind/
Die “Ster van Suid-Afrika”, soos die Griekwaseuntjie hom opgetel en vir Schalk gegee het, was wel reeds baie kosbaar, maar nog nie kroongehalte nie. Die diamant wat kroon toe gegaan het, moes eers vrygemaak word van die dowwe dopsteen wat van nature om `n diamant is.
‘n Diamant kom nie skitterende uit die grond nie. Die dowwe omhulsel moet eers afgekap of weggeslyp word voor dit die glansende, skitterende juweel is wat ons in verloofringe, borsspelde en krone ken.
Die diamant wat kroon toe sou gaan, is weke lank deur die steensnyer, bestudeer, totdat hy al die nate van die steen geken het. Toe sit hy dit in sy kapinstrument en gee dit een hou.
Die dofsteen het afgespring en die skitterende diamant het te voorskyn gekom. Na dit nog geslyp en gepoleer is, is dit in die kroon gemonteer.
            Die bekeerde mens is reeds vir God `n kosbare juweel, `n kosbare diamant. Die mens se sondige natuur is, soos die diamant se natuurlike dofrots, om `n mens se kosbare siel gevou.
Dis hierdie sondige aard, die menslike dofrots, wat die Christen van sy glans beroof. Die Here Jesus is die steensnyer wat elke naat van ons natuur ken. Hy weet hoe Hy die hou, deur sy Woord, of `n beproewing wat ons tref,  reg sal laat meewerk meewerk om die glinsterende diamant te voorskyn te bring... om van ons kroongehalte diamante te maak.
Soms sê Christene iemand is gered, maar hy of sy is nog ‘n ongeslypte diamant. Maar hou jou hand en veral jou tong terug van so iemand. Dit is God se eiendom en Hy sien om na daardie diamant (hoekom?) want Hy sê:
“Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” Fil 1:6
“En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” 1 Pet 5:10
Al wat ons moet doen is om saam met die Engele in die Hemel bly te wees vir ‘n nuwe siel en te kyk waar kan ons die volgende persoon met die Evangelie bereik.