Maandag 04 September 2017

Die Wondersement


Image result for Jakobus 2:8

'n Ou man het met klein dosies wondersement gesmous. Hy het belowe dat hierdie sement enige krakie kon regmaak, en enige twee dele aanmekaar kon heg.
            Baie het gelag. Tog het hulle nuuskierig, teen die paar sent wat dit gekos het, van die dosies wondersement gekoop. Binnekant was daar net 'n strokie sierpapier met een woordjie daarop: "Liefde."
Wat die ou man oor sy wondersement gesê het, was waar. Wie ook al wil waag om dié wondersement te gebruik, sal uitvind dit maak regtig enige krakie heel – in die huis of in die hart!
            Mense wat liefhet is gelukkige mense en mense wat weet hulle ontvang liefde is gelukkige mense.
Die betekenis van God se Wet, die Koninklike Wet, is liefde. “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
God is liefde, Hy gee liefde, Hy verwag liefde vir Homself en van een mens vir die ander. Liefde maak hierdie veeleisende lewe waarin ons ons bevind vir mekaar makliker:  "…liefde bedek alles wat aanstoot gee… wie 'n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge…" Spr 10:12, 17:9).
"Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie." Rom 13:10. Om lief te hê, beteken om geduldig en vriendelik te wees… die liefde word nie gou kwaad nie en hou nie boek van die onreg wat ander doen nie…  die liefde kan stilbly oor ander se foute." 1 Kor 13:4-7
            Dit is die natuurlike aard van die mens om te haat, te baklei, te heers. Die teendeel is om lief te hê en daarom is dit so 'n aantreklike lewe. Dit is die soort lewe wat die HERE Jesus van Sy dissipels verwag.
Uit Homself gee Hy deur die Heilige Gees Sy liefde in ons hart om weer liefde aan ander te kan gee... "Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief… julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet." Joh 15:9-12
Namate die Heilige Gees 'n oorhand oor ons natuurlike geaardheid kry, kom Christus se liefde in ons op die voorgrond: "…lewe soos volgelinge van  Jesus Christus en (moet) nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.  Rom 13:14).
"…laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie." Gal 5:16
            "Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde." 1 Joh 4:7,8